Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 64]
| |
'n Windjie kom van oor die baai,
'n Windjie wat al singend waai
En soos 'n moeder sus.
Tot by die slaper styg die vloedjies,
En spoel al om sy blote voetjies,
En fluister in sy oor so soetjies:
‘Lief knapie, slaap gerus.’
‘Lief Landkind, jy hoort aan die see -
Ek het jou lief, ek sal jou gee
Al wat jou hart verlang!
Ek sal jou al my skatte wys:
My wonderskoon kristal-paleis.’
Soos golwe-deining daal en rys
Die soet meermin-gesang.
‘Daar op die bodem van die see
Daar staan die burg ANEMONE
In groen-blou maneskyn;
Van diamante is die vloer,
Die dak van reinste perlemoer,
Die mure met smarag gesnoer,
Die deure van robyn.
Omring van al haar prag en praal
Op 'n verhoog van wit koraal
Troon daar die koningin’ -
Die knapie hoor 'n dof gesuis;
Dit groei asof die stormwind ruis,
Dit is die oseaan wat bruis -
Die golwe sleep hom in!
'n Moeder dwaal al langs die strand,
‘O wrede wind, O valse sand,
O trouelose meer!’
So kerm en klaag sy nag en noen;
En hy? Sou hom die meermin soen
In seepaleis met skulp-festoen?
Wie weet? Hy kom nooit weer!
| |
[pagina 65]
| |
Geheimnisvolle oseaan,
Wat meen jou ewig kom-en-gaan?
Jou rustelose gees?
Ek vrees jou weergalose krag,
Jou wee-geklaag by sterrenag,
Die bloue wonder van jou lag,
Jou liefde ... allermees.
|
|