Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Humoresk (Heine-sk) Nox serena sideribus in lustris. Langsaam daal die skemerduister, Uit die weste wyk die luister Wyl die aandwind streel en fluister: ‘Moeë aardryk, rus!’ Onder my die barre rots, Rondom dowwe golfgeklots, Waar die branding breek en bots Teen die suiderkus. 'k Hoor die naam van my beminde In die suise van die winde - Die gewiekte, die geswinde - Landwaarts oor die meer; In die oseaangesang, Ewig, eind'loos aan die gang, Met 'n onweerstaanb're drang Wiegend' heen en weer. In my hart ontbrand verlange, Want haar beeld uit die vergange - Deur geen ander ooit vervange - Lag my liefd'rik aan. [pagina 63] [p. 63] Luidloos is die nag gekom Met haar sterremantel om, - Donker kleed met lig geblom - Op haar bors die maan. Kon ek maar, uit die parterre Van die hemelruimtes verre, Sou ek met die skoonste sterre - Skynend' skitterskrif - Uitfestoen haar naam omhoog Glansend aan die hemelboog Name voor my geestesoog Op my hart gegrif! - Aan die trans vlam na sononder Saans die ligtelaaie wonder Weergespieël in waters onder Klaar en kristallyn. Heel die skepping sal aanskou Hulde aan skoonheid, liefde en trou. Aan die adel van 'n vrou Tot geen ster meer skyn! Vorige Volgende