Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Moederliefde Ave! Mater dolorosa. Salve, mater renidosa. Langs die blou pad van die stilte, In 'n wydgewiekte vlug, Met die eeue op haar vlerke Klief 'n Engelin die lug; Oor saffiere-hooggebergtes Deur d' onmetelike ruim, Tot die witte wolkkolomme Wegdein tot klein vlokkies skuim; Aldeur stygend tot sy aanland Voor 'n poort van ametis, Waar daar ruis 'n duister-skone Himne van geheimenis, In die Skemerland van Sluimer Waar die kleine sieltjies wag Op die stonde van ontwaking, Op die eerste lewensdag. [pagina 56] [p. 56] Oor die bronaar van die lewe Dreun 'n rune van alruin Van verborge wordingswonder Tussen suile van arduin. Luidloos weef die skikgodinne Onherroeplik elke draad Van oorerwing en omgewing Voorbestemming, goed en kwaad. Met 'n teerheid onuitspreeklik Met 'n soete siddering Spreek sy: ‘Ek heet Moederliefde, Welkom kleine vreemdeling! In paleise, in hoë halle, Wat met prag en sieraad pryk, In die vrede van die hutjie - Maak ek almal ewe ryk! Kom met my, ek voer jou veilig Deur die grenselose ruim Tot die marmer-wolkestapels Opdoem soos wit vlokke skuim. Swewend oor die persblou berge, Oor die groenblou oseaan, Na 'n vrindelike huisie Waar 'n wiegie ledig staan; En 'n moedertjie, vergetend Al haar pyn en al haar smart - Dure moeder-offerande - Jou sal vasklem aan haar hart; Waghou oor jou eerste skrede, Jou sal troetel op haar skoot En oor jou geluk besorg wees In die ure van haar dood! [pagina 57] [p. 57] Al haar hoop en al haar liefde, Al haar warmste hartebloed Is jou erfdeel vir die lewe, Gaan dit kwalik, gaan dit goed. Slegs haar eindelose erbarming Is genoeg, in vreugde en smart, Vir die eindelose weedom Van die arme mensehart.’ Priesteresse sy - vestale - Wat die heilige vuur bewaar Van wat waar en skoon en goed is Op die haard en huisaltaar. Blye sonskyn op die velde - Sonskyn in twee harte bly - Want 'n kindjie is gebore En 'n huis gebenedy! Vorige Volgende