toegedaan was. Dit is interessant om op te merk dat die ou Gedenkskool seker in sy doel nie te kort geskiet het nie as 'n mens van die uitslae mag oordeel. Op dieselfde skoolbanke met dr. Visser het ook destyds gesit Totius (dr. J.D. du Toit), dr. D.F. Malherbe (Bloemfontein), dr. A.I. Perold, dr. D.F. du Toit Malherbe, ds. J.G. Perold, prof. P.J. du Toit (U.K.) en nog ander manne wat in later lewe in hulle geboorteland die publieke aandag getrek het. Die skrywer het later in Edinburg in die medisyne gepromoveer, en het die geleentheid van sy studiejare waargeneem om byna al die groot lande van Europa te besoek en van naby kennis te maak met die kuns en letterkunde van ons tyd - ook, tegelykertyd, met die verskillende bevolkings soos oortuigend blyk uit die gediggie ‘Eheu fugaces’! Kort na sy huwelik met mej. Lettie Conradie, van Murraysburg, is dr. Visser in Heidelberg as geneeskundige gevestig. Hier is hom die grootste ramp te beurt geval - na 'n seer kort getroude lewe - wat 'n mens in sulke omstandighede kan oorkom. Die vreeslike treurspel vind onwillekeurig weerklank in sommige van sy gediggies, en die meeste lesers sal instem dat waarskynlik juis dié gediggies die mees aandoenlike is uit sy genie gebore.
Oor die gediggies self sal nie uitgewei word nie. Vir hulleself spreek hulle en die leser oordeel self of hier iets in Afrikaans gesê word wat die moeite werd was om van die vergeetlikheid te red. Wat ook al die kritici mag sê, een feit bly gewis: die hoogste toets van die werklike waarde van 'n gedig - soos van enige kunswerk - bestaat hierin dat die leser, aanskouer, toehoorder na dieselfde werk teruggedwing word - en wat gedigte spesiaal betref, dat hulle gelees, geleer en geresiteer word, nie omdat iemand hulle aanbeveel nie, maar vanweë die genot wat die leser self daaruit skep. As dit die finale toets is, kan dr. Visser homself gerusstel dat hy alreeds die meeste bereik het waarna 'n digter kan verlang. Sy gediggies en liedjies word orals in Suid-Afrika gelees en geresiteer. Dr. Visser m.i. sê dinge in Afrikaans wat nog nie tevore gesê is nie - seker nie op die wyse waarop hy dit sê nie. Keuse is iets wat die smaak aangaat, en daaroor is nie te redeneer nie, sodat dit onwenslik sou wees om enige keuse hier aan te dui. Sonder groot gevaar van teëspraak mag egter beweer word dat die ‘Tuin’-serie iets weergee waarin Afrikaanse letterkunde tot nog toe baie armoedig was. Nie alleen die melodie van woorde en ritme sal byval vind nie. In wat (oppervlakkig beskou) die geringste en eenvoudigste van die gediggies mag lyk, is altyd iets diepers, wat gestadig ontvou. In ‘Sachsen-gruss’ byvoorbeeld sal die gewone leser by eerste kennismaking die merkwaardige ontwerp lig misloop, en sonder om dit raak te sien, gaan die meeste van die prag en skoonheid van die gediggie verlore.