die eerste maal as 'n versameling uitgegee. Dr. Visser het op my versoek die handskrif nagelees en persklaar gemaak en dit was by hierdie geleentheid dat ek vir eers verneem het dat hy self 'n paar gediggies in Afrikaans geskrywe had. Daar was skaars 'n halfdosyn en sommige was nooit geheel afgewerk nie! Maar hierdie brokkies het 'n diep indruk op my gemaak.
Ek ten minste het van die begin geen twyfel gehad nie dat hier 'n Afrikaner-digter is wie se skoenriem ek onwaardig was om te ontbind. Maar dr. Visser self wou dit nie insien nie. Die blote aan-die-hand-gewing dat hy die vergete gediggies sou voltooi ... en ander skrywe ... en publiseer, het hy uitgelag. Die gediggies-skrywe was by hom altyd net 'n grappie vir die vermaking van slegs sy eie familie en onmiddellike vriendekring. Hy wou eenvoudig nie glo dat hy 'n digter is nie. Dit het veel oorreding gekos om hom oor te haal om een gedig aan my vir publikasie te oorhandig. Ek het dit na die redaksie van 'n bekende Afrikaanse tydskrif opgestuur, wat die skrywer dadelik herken het as 'n digter van uitstaande talent. Die gediggie is in groot letters op 'n enkele bladsy gedruk en ek herinner my nog goed die verbasing en opgewondenheid waarmee dr. Visser sy eerste verskyning in druk begroet het. Hy kon dit nie glo dat die redaksie so ingenome was met sy versies nie. Van toe af het die gediggies taamlik vinnig gekom. In die begin is alles aan my oorhandig en deur my aan verskillende tydskrifte aangebied.
Dr. Visser was destyds altyd twyfelagtig oor sy tegniek en ons het verskillende vertalings uit Engels, Frans en Duits as oefening saamgemaak. Een of twee van ons verskillende vertalings van dieselfde gedig is destyds in Die Huisgenoot langs mekaar gepubliseer. Met die vertalings en oorsettings het dr. Visser - as oefening - vir 'n tyd voortgegaan. Sommige van die eksperimentele werkies was sulke pragstukkies dat hulle op my raad in sy versameling opgeneem is. Ongelukkig is daar verskillendes wat oorspronklik sonder erkenning verskyn het en so in die versameling opgeneem is. Dat dit gebeur het, is aan my onoplettendheid in die eerste instansie alleen toe te skrywe.
Dat dr. Visser sy verskyning as 'n Afrikaanse digter gemaak het, is in die eerste plaas te danke aan die persoonlike bemoeiing van die heer Van Schaik. Hy sou na alle waarskynlikheid daarby gebly het om nou en dan 'n oorspronklike gediggie in 'n Afrikaanse tydskrif te publiseer, of vir sy eie genot 'n vertaling of oorsetting te maak. Maar die toeval het dit teweeggebring dat mnr. Van Schaik met dr. Visser in aanraking gekom het tydens 'n besoek aan my in Heidelberg. Hoe min tyd dr. Visser tot op die moment aan poësie gewy het, spreek uit die feit dat mnr. Van Schaik nouliks van hom gehoor had en huiwerig was om te glo dat daar 'n onbekende digter in