| |
| |
| |
Die plek van die héle Visser in die Afrikaanse poësie
In 1978 is, op redelik beskeie skaal, die Visser-eeufees gevier. Dit was toe naamlik 'n honderd jaar sedert Andries Gerhardus Visser, seun van 'n Carnarvonse boer en parlementslid met dieselfde naam, op 1 Maart 1878 gebore is op die plaas Saaifontein, in die distrik Fraserburg, waar sy vader destyds met sy vee gestaan het.
Met die oog op hierdie eeufees het F.I.J. van Rensburg, op versoek van die uitgewer Van Schaik, 'n bloemlesing saamgestel: Roos en lanset. 'n Keur uit A.G. Visser. Die voorwoord is 'n kort verantwoording, nie alleen van die keuse van gedigte vir die kleinerige bloemlesing nie, maar ook van die feit dat daar met 'n bloemlesing volstaan word by die feestelike geleentheid.
Totius het sy Versamelde werke vir sy honderdste verjaardag gekry, Leipoldt kry in 1980 sy Versamelde gedigte vir syne. Waarom hierdie verjaardagpret van Visser weerhou? Immers, Visser ‘spreek so vanself’, hy is so die digter na aller hart en vir alle verstand dat hy destyds dadelik ‘die grootste en ruimste populariteit verkry wat enige digter nog ooit in Suid-Afrika by die breë volksmassa gekry het, waarskynlik meer selfs as Jan Celliers’. (Aldus W.E.G. Louw in sy oorsig oor die Afrikaanse poësie in 1950 vir die Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, deel III.)
Van Rensburg verduidelik taamlik uitvoerig. Hy het dit in die proses o.m. oor die proses wat ‘tot die natuurlikhede van die literêre geskiedenis behoort ... te wete 'n geleidelike intuimeling van al meer en meer werke in die spreekwoordelike stroom van die vergetelheid omdat hulle nie die duur-toets kon deurstaan nie’. Maar hierdie geleidelike wegval van die minderwaardige, gaan hy voort, is maar één van die dinge wat in die loop van die tyd met die werk van 'n skrywer kan gebeur: ‘Dit gebeur immers meermale dat die verbygaan van die tyd aan 'n skrywer se werk 'n gróter aktualiteit gee. Soms versink 'n bepaalde deel daarvan in die vergetelheid, terwyl 'n ander deel juis al sterker na vore tree. Paradoksale dinge is in laasgenoemde geval moontlik: die dinge wat in die skrywer se eie lewe die hoogste aansien geniet het, kan juis dié wees wat in die loop van die tyd die sterkste in diskrediet raak (tydgenootlike populariteit was nog nooit 'n betroubare literêre norm nie); terwyl daardie dinge wat in sy eie lewe gering geskat is, 'n verrassende groei in waardering kan beleef.’
Al hierdie dinge, sê Van Rensburg, het met Visser se werk gebeur. En nou kom dit: ‘'n Deel daarvan kon die fort nie hou nie (daarom sou 'n “Ver- | |
| |
samelde werke” op hierdie tydstip onvanpas wees); 'n deel was die slagoffer van 'n grondige smaakverandering by die literêre publiek (veral die liefdesen vaderlandse gedigte); terwyl die res òf hul waarde behou het (die kindergedigte) òf 'n toegenome waardering beleef het wat 'n mens byna fenomenaal kan noem (die geestige verse).’
Dit was nou Visser 1978. In 1930 was Visser se rang-skikking volgens een beoordelaar soos volg: ‘Moeilik is dit nie om sy poësie onder verskillende afdelings tuis te bring nie. Die volgende indeling gee 'n mens die geleentheid om sy kuns geleidelik op te werk tot die hoogtepunte wat hy bereik het: (a) Vertalings, (b) Liedjies, (c) Kinderpoësie, (d) Geestige poësie, (e) Godsdienstige poësie, (f) Naturelle-onderwerpe, (g) Historiese poësie, (h) Vaderlandse poësie, (i) Puntdigte en (j) Minnegedigte en liefdespoësie.’ (M.S.B. Kritzinger: Letterkundige kragte: beskouings oor ons Afrikaanse skrywers, Pretoria 1932, bl. 71.)
Kritzinger se gebruik van die alfabet versluier die menslike feit dat hy o.m. tot by tien getel het. Dis opmerkenswaardig dat hy die puntdigte losgetel het van die geestige gedigte, dat laasgenoemde dit maar net tot by vier bring terwyl die puntdigte net 'n enkele kerf onder die destydse hoogwatermerk lê. Die opvatting destyds van Visser se poësie was op 'n ongewone wyse geskakeerder as wat 'n mens uit hedendaagse veralgemenings kan aflei.
Teen Van Rensburg se rang-skikking, sy trek van die literêr-historiese waarderingskurwe, is daar intussen weinig aan te merk - dit is trouens heden ten dage algemene kennis en oortuiging. Ek het dit wél, en hier begin die diskussie, teen wat Van Rensburg en ook die ander kritici/literatuurhistorici onvermeld laat: die wyse waarop Visser se gedigte - en nou het ek dit oor ál die kategorieë gedigte wat Van Rensburg vermeld - bly voortbestaan het in ons literatuur. Weliswaar verskuild, onder die oppervlak, so verborge tewens dat die sg. ‘literêre publiek’ nie bewus daarvan was nie.
Dis niemand se skuld nie - dis nou maar eenmaal die literêr-historiese beloop van sake. Die hedendaagse sg. ‘resepsie-estetiek’ het dit by monde van Hans Robert Jauss mooi verduidelik: ‘The impact of even the greatest literary work of the past cannot be compared either with an event which communicates itself automatically with an emanation: the tradition of art presupposes a dialogue between the present and the past, according to which a past work cannot answer and speak to us until a present observer has posed the question which retrieves it from its retirement.’ (‘Literary history as a challenge to literary theory’, in Ralph Cohen (red.): New directions in literary history, Londen 1974, bl. 24; Jauss se artikel verskyn vir
| |
| |
die eerste keer op sy Duits - Literaturgeschichte als Provokation der Literaturwissenschaft - te Konstanz in 1967.)
In die paragrawe wat volg, wil ek die ‘geskiedenis’ van Visser se poësie beknop rekonstrueer aan die hand van raak ‘vrae’ wat deur ‘present observers’ gestel is. En dan veral ‘vrae’ aan gedigte uit Visser se eerste bundel, nl. Gedigte. Ek sal hierdie ‘vrae’ aanvul deur ‘vrae’ wat m.i. ten onregte nié aan Visser se werk gestel is nie. Dit is naamlik die antwoord op laasgenoemde ‘vrae’ wat volgens my daarop dui dat die ‘tydstip’ vir die versameling van die héle Visser nie alleen tans aangebreek het nie, maar dat die tyd daarvoor reeds in die eeufeesjaar ryp was.
Vooraf 'n klein ‘apologia pro domo’. Ek het die woord ‘vrae’ in die vorige paragraaf telkens tussen aanhalingstekens geplaas. Dit was net vir die wis en die onwis - dit spreek eintlik vanself dat ons vrae meestal raakloop in die gedaantes van die antwoorde waarin hulle maskeradeer. Antwoorde is meestal vrypostiger en gewilder as vrae. Waar dit nodig sal blyk, sal ek die vraag in die antwoord probeer opjaag en daarmee onvermydelik 'n gesprek aktiveer. Dit verklaar die volgehoue gespreksvorm van hierdie opstel - daar sit geen polemiese opset agter nie.
| |
I
Die eerste werklike bestekopname van Visser se werk is in 1955 gemaak deur wyle P. du P. Grobler in 'n opstel getitel ‘Visser vyf-en-twintig jaar’ (later gebundel in Verkenning, Kaapstad 1962, bl. 64-73). En Grobler vra vrae, 'n hele paar van hulle: ‘Het hy (Visser) vandag nog literêre betekenis vir die diskriminerende leser? Spreek hy nog tot ons, al is dit dan met meer gedempte stem as in 1929? En bowenal: Watter dinge in Visser se werk spreek vandag die duidelikste tot ons?’ (bl. 64). ‘In feitlik elke bespreking van Visser se werk wat ek onder oë gehad het, val die aksent op sy minneliriek. 'n Mens vra jou af: waarom? Glo ons kritici werklik dat Visser se liefdesgedigte intrinsiek soveel aandag verdien? Of is dit omdat Visser biografies soveel vatplek bied vir die kritikus wat hom nie in eerste instansie besig hou met die gedigte self nie, maar met dinge om die gedigte heen? Is dit miskien ook die rede waarom Rose van herinnering, wat vir my sy beste werk bevat, feitlik algemeen beskou word as benede die peil van Gedigte?’ (bl. 65). ‘Ek is daarvan oortuig dat as ons Visser se werk met kritiese aandag lees - sonder om te veel te dink aan sy persoonlike lewe, aan sy beminlikheid as mens - dat ons dan sy eintlike, miskien enigste bydrae in sy humoristiese verse sal vind.’ (bl. 65)
| |
| |
Grobler wys daarop dat Visser sowel deur sy krag (sy rymvindingrykheid) as deur ‘(e)en van die grootste swakhede van (sy) ernstige verse’ (prosodiese wetmatigheid) toegerus is vir die geestige vers: ‘vir die presiese, gepoleerde spotvers is rym m.i. bykans onontbeerlik’, en: die prosodiese wetmatigheid (Grobler wil sê: prosodiese wetsgehoorsaamheid) ‘word juis die krag van sy humoristiese verse met hulle intellektuele spel waarvoor die strakke vorm met 'n beperkte ritmiese variasie m.i. noodsaaklik is.’ (bl. 67)
Visser se humoristiese gedigte sy eintlike, miskien sy enigste bydrae? Nogal drasties, maar 'n hipotese, 'n ‘teorie’ wat Grobler selfs in hierdie kort opstel baie aanneemlik maak. Drasties, gedurf, en dit is soos dit hoort. Want hoewel 'n gedurfde teorie, wat ons heelwat verder as 'n makke sal voer as hy korrek ‘bewys’ word, dikwels en selfs meestal verkeerd bewys word, is die benadering die juiste: ‘the wrong view of science’, verklaar Popper, ‘betrays itself in the craving to be right.’ (The logic of scientific discovery3, Londen 1972, bl. 281.)
Reeds in 1958, sonder dat hy origens na Grobler se opstel verwys, beantwoord Van Wyk Louw Grobler se vraag met 'n onomwonde ‘ja!’. In 'n reeks artikels in Die Burger (later as die opstel ‘Geestigheid in die poësie’ opgeneem in Opstelle oor ons ouer digters, Kaapstad 1972, bl. 105-135) kies Louw nie alleen geesdriftig kant vir die geestige Visser nie, maar gooi hy die ‘ernstige’ Visser feitlik totaal oorboord. Immers, ná sy kritiek op Opperman se ‘verwaarlosing’ van Visser in Groot Verseboek - waarop ek sal terugkom - en nadat hy ‘Die Roos’ (wat wél deur Opperman opgeneem is) gereduseer het tot ‘die redenering van iemand wat oor die smart in algemeen-bekende beelde en rustige metrum-tikkende stemming 'n versie maak’, ná dit alles konstateer Louw: ‘En nou is die saak só: Dr. Opperman het in sy bloemlesing nog 'n laaste ressie van Visser se “ernstige” verse probeer red: presies sestien reëls, welgeteld. En ook die sestien kan vir 'n mens nie meer heeltemal bevredig nie. En dan begryp u miskien waarom Visser in diskrediet geraak het: omdat daar vroeër so nadruk op die gevoelspoësie, op sy liefdespoësie en vaderlandse verse gelê is.’ (Opstelle oor ons ouer digters, bl. 115, 116.)
Aan die ander kant gaan Louw in sy waardering van die geestige Visser taamlik ver. Hy onderskei twee manifestasies van die geestige: die satire en die parodie. Vir die satire, sê Louw, het Visser nie die ‘indignatio’ (Grobler praat van die ‘saeva indignatio’), die felheid wat die ‘streng’ (Grobler: ‘groot’) satirikus kenmerk nie. Maar: met die gedig ‘Lotos-land’ het Visser ‘die mooiste parodie in ons taal - en een van die geestigstes wat ek ken - gelewer’ (bl. 124). En n.a.v. dieselfde gedig praat hy van ‘die geraf- | |
| |
fineerde woordespel... wat die bewondering wek soos by ander groot taalgebruik’ (bl. 125). Met as spesifieke voorbeelde ‘so 'n vonds van 'n rympaar’ soos ‘Gods ou Volk’ met ‘Rouvolk’, plus dan die woordespel van: ‘Die rooibokke wei by die tente / Net so mak soos die bok van 'n wa!’
Ek kom later op hierdie hoë noot (‘groot taalgebruik’) terug. Met die oog op die rigting wat 'n aansienlike deel van my betoog gaan inslaan - ek gaan naamlik verhoudingsgewys heelwat aandag bestee aan ‘verbande’ tussen Visser en Louw - wil ek in hierdie stadium nadruklik wys op die gesindheid waarmee Louw sy ‘herwaardering’ van Visser aanpak. Hy self stel dit trouens ook voorop en wel in die heel eerste paragraaf van sy betoog: ‘Die afgelope tyd het ek weer A.G. Visser se poësie gelees: en ek moet hier erken: hoe ouer ek word, hoe groter die plesier waarmee ek hom lees. Eintlik is ek bly dat ek hierdie kans kry om ... hoe sal ek sê?: verskoning te vra? of: om 'n misverstand reg te sit?’ (Opstelle oor ons ouer digters, bl. 105.)
Hy wil naamlik vergoed, sê Louw, vir ‘'n taamlik bose sinnetjie’ wat hy ‘jare gelede’ geskrywe het ‘teen die verkeerde ophemeling van hierdie digter’. Die betrokke sinnetjie staan in die opstelbundel Lojale verset van 1939 en dit lui: ‘Ek wil dit nie wreed sê nie, maar verbeel jou die volk wat 'n literatuur van A.G. Vissers het, of waarin A.G. Visser een van die hoogtepunte is.’
Maar, rasionaliseer Louw in 1958, hy het dit, soos ook ander destyds, gehad teen die ‘verkeerde ophemeling’ van Visser: ‘Laat ek maar dadelik sê: die kritiek op Visser was grotendeels geregverdig, meen ek. Die verse waarmee hy aan ons volk as groot digter voorgehou is, is volgens geen standaard goed nie: dinge soos die bekende “Laetitia”, of “Voorslag”, of “Die Wapad is my Woning” - verse wat destyds in die bekendste bloemlesings as Visser se beste werk, én as goeie poësie, aangebied is. Maar dan ook: 'n hele stuk van hierdie kritiek moet beskou word as gerig teen die kritici en bloemlesers wat juis daardie werk van Visser aangeprys het - sy tegnies gladde, maar taamlik meganiese ritmes, sy sentimentele ... ek wil sê: “goedkoop” romantiekerige kant. Kritiek, dus, wat gerig was teen die kritici, én teen Visser se werklike swakhede.’ (bl. 105)
Maar ek vrees dat hierdie ‘rasionalisering’ minder oortuigend is as die (weliswaar ietwat tentatiewe) verskoning wat sy hand uitsteek in Louw se eerste paragraaf. Want in Lojale verset is die ‘bose sinnetjie’ die hele tweede, deur asteriske geïsoleerde paragraaf van 'n hooggestemde opstel gewy aan ‘Die idee van groot kuns’, 'n opstel waarin daar met geen enkele woord weer na Visser verwys word nie. Daar is nòg hier, nòg elders by Louw selfs maar 'n enkele woord uit dié tyd wat die geringskatting van
| |
| |
Visser kwalifiseer; of wat op sy minste 'n aanduiding gee watter Visser dan wél ‘ophemeling’ of selfs maar gewone goedkeuring waardig was. Trouens, ek dink die ‘verkeerde ophemeling’ is 'n vonds wat Louw onbewus aan Grobler te danke het. Die motto onder Grobler se artikel is naamlik: ‘The last temptation is the greatest treason: / To do the right deed for the wrong reason.’ (T.S. Eliot: Murder in the cathedral.)
Met die aanduiding van parallelle tussen Grobler en Louw se opstelle wil ek intussen geensins direkte afhanklikheid aan die kant van Louw konstateer nie. Dis duidelik dat Louw Grobler se opstel gelees het en hy kón dit vermeld het, maar sy artikels gaan so duidelik hulle eie gang dat sy selfstandigheid van oordeel volkome vanselfsprekend is. Louw beskou bv. ‘Lotos-land’ as Visser se hoogtepunt, Grobler se keuse val op ‘Toe die wêreld nog jonk was’. Die waarskynlike is dat die ‘nuwe’ waardering vir die geestige Visser destyds so ‘in die lug was’ dat Van Wyk Louw hom hoegenaamd nie verplig gevoel het om Grobler as voorloper te erken nie. Intussen het ek Grobler wel as die eerste vernuwende ‘vraagsteller’ aan die woord gestel omdat hy die eerste was wat die relevante vraag swart op wit gestel het.
Louw het, soos ek reeds genoem het, Opperman se Groot Verseboek onder skoot gekry omdat hy Visser daarin sou ‘verwaarloos’ het. Opperman verweer hom skerp en oortuigend teen die aanval, en kom na die beskouing van 'n aantal konkrete gevalle tot die gevolgtrekking dat Louw ‘nou weer die geestigheid in Visser oorbeklemtoon’ (‘Die poësie van A.G. Visser - Van Wyk Louw beantwoord’, opgeneem in Naaldekoker, 1974, bl. 17).
Opperman het grotendeels gelyk, en sy belangwekkende opstel moet, net soos trouens dié van Van Wyk Louw, in sy geheel bestudeer word. Ek sal later, wanneer ek finaal terugkom op die plek van die ‘geestige’ in die poësie van Visser, probeer aantoon dat Opperman self - en as reaksie is dit verstaanbaar - onbillik is teenoor Visser. Veral waar hy Visser in sy slotparagrawe afspeel teenoor Toon van den Heever, met o.m. dié voorlaaste paragrafie: ‘Toe Visser nog grappies gemaak het, het Toon van den Heever verkenningswerk gedoen vir die digter van Dertig ...’ (bl. 18). Voordat ek oortuigend hierop kan antwoord, sal ek o.m. moet aantoon dat Visser nie net maar grappies gemaak het nie, dat sy geestige poësie inderdaad sy ‘eintlike’ maar geensins sy enigste bydrae was nie. Daarom die fokus, in die volgende paragrawe, op Visser se ‘ernstige’ poësie.
| |
| |
| |
II
Hierbo is aangevoer dat F.I.J. van Rensburg se samevatting van die Visserwaardering deur die ‘literêre publiek’ nie die hele geskiedenis kan vertel nie. En wel omdat die vraag na die ‘voortbestaan’ en die wyse van voortbestaan van Visser se werk in ons literatuur nie gestel is nie. En met hierdie vraag word nie die holrugkwessie van ‘invloede’ aan die orde gestel nie. Dit gaan hier oor werklike kontakpunte tussen Visser se werk en dié van veral diegene wat ná hom gekom het. (Waarby ek die ‘gesprek’ tussen Visser en sy voorgangers en tydgenote ongelukkig om ruimteoorwegings sal verwaarloos.) Was daar m.a.w. in Visser se werk iets, miskien selfs 'n groeipunt, wat hom op die een of ander wyse aanwesig gehou het in belangrike werk wat ná hom gekom het?
Volgens my is dit inderdaad die geval, en dan op merkwaardige wyse. Visser was nie een van die Twintigers wat hom in sy eie tydgenootlikheid doodgeloop het nie. En tog sou ek terselfdertyd in hoë mate kon onderskryf wat Dekker oor sy ‘plek’ in die ontwikkelingsgang van ons poësie sê: ‘Visser is geen forse figuur, geen digter met 'n hewig bewoë sielelewe nie. Hy staan nie in die dinamiese ontwikkelingsgang wat gaan van Marais oor die Driemanskap en Toon van den Heever na Van Wyk Louw en Opperman nie, hoewel sy lied wel invloed gehad het op die jong Dertigers.’ (Afrikaanse literatuurgeskiedenis12, Kaapstad s.j., bl. 112.)
Hoe dit kan dat Visser voortbestaan sonder dat hy in die stroombedding van die Afrikaanse poësie lê? Dit kan volgens my omdat hy, en dis ironies, 'n gedurige prikkel vir o.m. juis die jong Van Wyk Louw was, en dan nie alleen vir die jeugwerk en debuutwerk nie: Visser slaan nog uit in Die dieper reg van 1938. En sowel die woord ‘prikkel’ as ‘uitslaan’ is van toepassing. Want Louw se reaksie op Visser is byna stryk dié van geprikkelde ‘irritasie deur’ wat onder omstandighede byna komies uitslaan as ‘inspirasie deur’. Van Wyk Louw het - toegegee - van nature veel meer die driftiger aanslag van 'n Toon van den Heever. Maar om die een of ander rede - die sielkundiges sal maar moet help verklaar - is dit soms eerder spesifieke gedigte van Visser wat dien as direkte prikkel vir Van Wyk Louw. Dit gebeur klokslag dat Louw in uitgesproke verset reageer op Visser: hy gaan vir Visser wys hoe dit wél gedoen moet word.
Sodat 'n mens iets van die paradoks van 'n negatief-vormende invloed het: die instrument word in verset gestem aan dié van 'n kleiner voorganger. Dit lyk my waarskynlik dat hierdie paradoksale, ironiese toedrag van sake ten dele verantwoordelik is vir die ‘haat-liefde’-reaksie van Louw op Visser: eers, soos ek in die volgende paragrawe sal probeer aan- | |
| |
toon, in sy poësie. Later, soos ek reeds aangetoon het, deur die reaksie van die kritikus Louw op die werk van Visser.
In ‘Gij, eersteling, hebt neergezien ...’, 'n opstel uit 1974 (opgeneem in Die teken as teiken, Kaapstad 1978, bl. 17 vlg.), het ek o.m. probeer aantoon hoe die jong Van Wyk Louw Visser uit sy ‘sisteem’ probeer kry, hoedat hy sy eie instrument as 't ware stem in verset teen die liefdespoësie van Visser. Ek sal deel van my argumentasie hier moet herhaal, maar dit word dan 'n grondiger en beter gekontroleerde peiling as die meer terloopse demonstrasie in 1974.
‘Waarmee, lief,’ vra die jong Van Wyk Louw in sy eerstelingbundel, Alleenspraak, ‘sal 'k jou vergelyk?’. En die antwoord kom dadelik, en hy is nogal onverwags:
die roos, of die aandblom
Dis nie soseer dat die digter onmiddellik weier om te vergelyk nie - hy het die vergelyking met die titel en die eerste reëls immers in vooruitsig gestel - dis eerder dat hy sekere vergelykingsmateriaal summier verwerp. En dit laat die vraag ontstaan: waarom so negatief afsit en waarom juis die ‘blomme’ by voorbaat gaan verwerp? Veral nadat hy, by wyse van vraag, aan die geliefde die poëtiese ruiker van die vergelyking voorgehou het!
Die antwoord hierop, het ek in 1974 betoog, verstrek 'n klein stukkie literatuurgeskiedenis. En ek het die stukkie literatuurgeskiedenis destyds soos volg vertel:
Die jong Van Wyk Louw kon destyds - die betrokke gedig is geskryf in die periode 1923-1928 - in 'n bundel van 'n gewilde Afrikaanse digter al om die ander bladsy versreëls soos die volgende teëkom:
Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!
Of:
Verlange woon in harte rein,
Madonna blank met rosegloed!
Die rose pryk in sonneskyn:
Sing sag, my hart, 'n soet refrein.
| |
| |
Of:
En Visser vra ook:
Is dit nou verwonderlik dat Van Wyk Louw, self minnedigter - en terloops iemand wat Visser uit sy ‘sisteem’ moes kry - is dit verwonderlik dat hy die blomme as vergelykingsmateriaal verwerp?
Maar, het ek destyds voortgegaan, hierdie gedig van hom was nie alleen 'n negatiewe reaksie op die blomme en die mate van verliteratuurdheid wat 'n vorige geslag digters die poësie aangedoen het nie. Die roos en die aandblom self gaan in sy poësie, ook in hierdie gedig, nie verlore nie. Die roos en die aandblom wat in die aangehaalde strofe as vergelykingsmateriaal verwerp is, maak wel hulle opwagting in die gedig. Maar nou nie vergelykenderwys, ‘taalsgewys’ nie. Daar is werklik 'n roos in die wêreld van die gedig:
Louw maak van die poëtiese roos weer die ding roos, 'n ding wat geur en een met 'n spesifieke kleur. En ook die aandblomme verskyn en, al is hulle betrokke in 'n vergelyking - ‘en stil in die nag, / soos iemand wat aandblomme / pluk in die skemerte’ - is dit nie die aandblomme wat vergelykenderwys ter sprake gebring word nie: die soos het betrekking op die iemand wat pluk, die iemand wat die weg berei vir die ek:
soos iemand wat aandblomme
Waarmee die digter die blomme dus tog in sy gedig toegelaat het, maar nie ter vergelyking nie, wél as metafoor - ‘wit blomme van drome’. Welis- | |
| |
waar 'n metafoor wat deels gefatsoeneer word met behulp van die soms maar alte gerieflike ‘van’-koppeling, maar nogtans: metafoor. En die metafoor laat die een én die ander wat mekaar in hom deurdring, in veel hoër mate in hulle eie reg - alhoewel op ander wyse as wat die simbool dit vermag. Die afstand wat Van Wyk Louw in hierdie eenvoudige gediggie van 'n bepaalde cliché-agtige aanwending van vergelykingsmateriaal doen, is m.i. implisiet proklamering van 'n nuwe of altans anders georiënteerde digterlike idioom. Tot sover dan die stukkie literatuurgeskiedenis wat ek in 1974 uit die betrokke gedigte gerekonstrueer het.
Die trant van die voorafgaande betoog is m.i. nog steeds basies in orde: dit is duidelik dat daar kontak, en 'n vrugbare een daarby, tussen Van Wyk Louw en Visser se poësie was (en bly!). Want die belangrike is nie dat Van Wyk Louw vir Visser verwerp nie, maar dat sy negatiewe reaksie konstruktief aangewend word vir die vorming van 'n nuwe poëtiese idioom. Visser word sodoende een van die voorlopers, selfs 'n vormer van 'n sentrale faset van die poësie van die grootste Dertiger. Maar, en nou kom die korreksie op en die aanvulling by die storie van 1974, hy word dit op nog ingrypender wyse as wat ek dit destyds aanneemlik probeer maak het.
Laat my die her-stelling begin deur aan te toon dat ek slordig aan Visser gelees het en hom deur 'n slordige aanhaling (bygesê, natuurlik, met die ewige verskoning: nie met opset nie) makliker oorreed het om bewysvoering vir my betoog te word. Ek het Visser naamlik laat ‘vra’:
Visser het nooit gevra nie, hy het beweer, dit selfs uitgeroep. In die credogedig waaruit hierdie versreëls kom - ‘Was ek 'n sanger’ - het Visser naamlik geskryf:
Om te sing van rose in volle blom was vir Visser dus geen vraag nie. Dit was die konstatering van 'n feit. (En, terloops maar op sigself belangrik, ek het Visser se reël ‘In volle blom’ in 1974 nie met sy hoofletter-aanvang aangehaal nie, en daarmee nog 'n verskil tussen Visser en Louw verdoesel: die verandering by Louw van die spelling om by die sintaktiese geleding,
| |
| |
nie die versgeleding nie aan te pas, is 'n veelseggende bewys van die bewuswording van die twee ordes wat daar in die gedig heers: dié van die versreël en dié van die sin. Met hierdie bewuswording word dit moontlik om die spanning tussen die twee selfs bewustelik te benut.)
Om die betoog te hervat: die sing van die rose in volle blom was vir Visser geen vraag nie, maar die uitroep van 'n feit, 'n ‘geloofsbelydenis’. En as ek die hele storie destyds sou aangehaal het, sou dit ook duidelik geword het dat Visser in nog belangriker mate voorloper vir Van Wyk Louw was as wat ek uit die gefragmenteerde strofe wou aflei. Die hele strofe lui naamlik:
Die verwikkeling, die komplikasie waaroor ek so vlot heengelees het, is dat die digter, die sanger juis in die winter van rose in volle blom sal sing. En dat hy dit motiveer, en daarmee sy gedig verdiep: dis immers nie net die lente, sê die digter, wat skoonheid bring nie. Ook die winter het sy skoonheid, en die aandblom bring die herinnering: eers in die winter van die lewe gloei - herfstig - ‘Jou hart van goud!’ En die kursief is Visser s'n.
Van Wyk Louw het die komplikasie van die rose wat juis in die winter besing sal word, nié, soos ek, misgelees nie. En hy het ook nie Visser se ‘op sy plek sit’ van die wondermooie lente misgelees nie. Hy sou trouens daarop reageer, kreatief reageer. Want hierdie eenvoudige versreëls van Visser stel vir Louw weer eens 'n teiken! Ook hierop gaan hy ‘antwoord’, en ook hier gaan hy vir Visser wys wat 'n groter digter met basies dieselfde gegewe kan aanvang. Van Wyk Louw se ‘antwoord’ op ‘Was ek 'n sanger’ is een van die grootste sonnettereekse in ons taal: die ‘Vier gebede by jaargetye in die Boland’. Die onmiddellike aansluiting by Visser se
| |
| |
begrip van die waardevolle in die winter is dié reëls, uit die sonnet ‘Winter’:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
Invloed? Ag, nee: dis 'n ‘gesprek’, en 'n verrykende een. En weer eens is Van Wyk Louw se gedig in groot mate 'n verwerping van sy voorganger s'n. ‘Was ek 'n sanger’ is naamlik ook 'n seisoengedig: die vier strofes besing agtereenvolgens die lente, die somer, die najaarsrykdom en dan die winter. Van Wyk Louw konsentreer net op die twee ‘suiwerende’ seisoene: die herfs en die winter. Opperman, in sy ‘Grondstowwe by die Siklus van Seisoene’ (Komas uit 'n bamboesstok), sou met 'n veelseggende omkering van die volgorde van die seisoene (dit pas by die verloop van sy siekte van die verval af tot herstelde bloei!) skryf oor agtereenvolgens ‘Herfs’, ‘Winter’, ‘Lente’ en ‘Somer’. Louw se volgorde is: ‘Vroegherfs’, ‘Uit hierdie Ligte Herfs’, ‘Winter’, ‘Eerste Sneeu’. Louw het enkel gereageer op Visser se herfs en sy winter, dus op die dele waarin selfs die optimistiese Visser moes reageer op die ingeboude simboliek van die twee seisoene: immers, herfs en winter het bowendien die cliché-waarde van verval en ouderdom en sterfte.
Die heel merkwaardigste is dat die hoë en vreugdevolle noot waarop Louw in ‘Eerste Sneeu’ afsluit, sal teruggryp na die blombeeld waarteen hy hom so verset het:
Die blydskap het oornag soos nuwe sneeu
die laagste hellings van my vroeë smart
tot skoonheid omgeskep waar elke skreeu
soos 'n sweep in die blink lig van die klowe hard
en helder klink. Die ronde aarde staan
wit oopgekelk en suiwer soos 'n blom -
Die kleur is nie dié van ‘donkerrooi rose’ nie, dis die gesuiwerde ‘wit’. Dis hier nie net die afstand tussen Visser en Van Wyk Louw wat opval nie, maar ook tussen die Louw van Die halwe kring en die een van Alleenspraak. In Alleenspraak het die digter nog net ‘wit blomme van drome’ gepluk. In vergelyking met Die halwe kring se blomvergelyking klink Alleenspraak se blommetafoor byna Visseriaans. Die ryper Van Wyk Louw vermag in ‘Eerste Sneeu’ m.a.w. meer met 'n vergelyking as in Alleenspraak met 'n metafoor!
| |
| |
By Van Wyk Louw dus veel meer as net die waardering van die winter by wyse van ‘(h)erinnering!’ Maar: die vrugbare, stimulerende kontak tussen Visser en die begaafder leerjonge word daardeur nie ongedaan gemaak nie. Dis deel van Louw se grootsheid dat hy nie deur die groot voorbeelde alleen - dié was daar natuurlik ook, en Opperman wys op party van hulle in Digters van Dertig - sy verdiepte resonans kry nie: hy transponeer en transfigureer die eenvoudige, sogenaamd ongekompliseerde modelle van 'n A.G. Visser.
Maar die kontak tussen Visser en Van Wyk Louw reik nog verder as wat ek hierbo aanneemlik wou maak, en ek gaan my in die demonstrasie hiervan net bepaal tot twee temas: die vaderlandse vers en die godsdienstige vers.
Dit is, soos ek aangedui het, nie alleen Visser se liefdespoësie wat dit volgens die kritici op die duur nie in ons literatuur by ons ‘literêre publiek’ kon volhou nie, maar ook sy vaderlandse verse en sy ‘ernstige’ werk oor die algemeen. In hulle inleiding tot Digters op die toring (Pretoria, 1970), 'n keuse uit die werk van die Twintigers, skryf Pirow Bekker en H.J. Schutte in die bekende trant en gees oor die onsuiwerhede waardeur die ‘intrinsieke waarde’ van Toon van den Heever en Visser se werk geskaad word. Maar dan: ‘Aan die kredietsy moet t.o.v. Toon van den Heever, en in 'n mindere mate Visser, ook gemeld word dat hulle 'n diversiteit in hulle poësie geopenbaar het wat die kenmerk van belangrike digters is. Dit het meegebring dat latere geslagte digters op hulle voortgebou het. In die geval van Toon van den Heever is sommer al dadelik by sy durwende vermoë aangesluit, waardeur Visser op die agtergrond geskuif is aangesien sy sg. ernstige poësie, nl. sy liefdes- en volksverse, die Dertigers nie tevrede gestel het nie. Dit het as oppervlakkig aangedoen. Eers heelwat later is die geestige poësie werklik na waarde geskat. Hierdie nuwe waardering daarvan het gekom nadat die ernstige poësie so 'n geweldige hoogtepunt bereik het, 'n versadigingspunt selfs, en toe besef is dat geestigheid 'n sekere weerbaarheid, 'n dimensie van balans aan erns verleen. Die verwerking hiervan het in die jare vyftig (Peter Blum) al hoe sterker begin word, tot met Tristia van Van Wyk Louw as die hoogtepunt waar spel, geestigheid en erns 'n onverbreekbare verbintenis aangegaan het. 'n Mens wil hiervan sê: nadat lewe en wêreld jare lank tragies bejeën is, is die ruimtelike (? M.S.) moontlikhede (tot die ironiese toe) wat die lag inhou, in 'n groter mate verwesenlik. Toon van den Heever en Visser se werk was in geen geringe mate nie
die beginpunte tot hierdie ontwikkeling. Wat in baie opsigte nog onvolgroeid was, het nou tot groter volheid gekom, 'n sintese as 't ware van Toon van den Heever en Visser.’ (bl. 2-3)
| |
| |
Die twee, Schutte en Bekker, het ongetwyfeld globaal so ongeveer gelyk, maar mens moet daarby dadelik sê dat hulle die afstand tussen Twintig en Tristia met literêr-historiese sewemylslaarse afgelê het. Ek vrees hulle is aan die leser iets meer van die ‘besonderhede en verdriet’ verskuldig van hierdie digterlike verloop van sake oor 'n stuk of vier dekades heen. Die vlugtige wyse waarop die kruisbestuiwing tussen die ernstige en die geestige hier gehanteer word, laat die resultaat darem alte veel na voëlent lyk.
Die Visser-leser wat so maklik erns en luim by Visser onderskei, om dan vervolgens die een neer te haal en die ander op te hemel, kan met vrug let op die onderskrif van een van die afdelings van Gedigte: dit heet nié ‘Erns en luim’ nie - hierdie spreekwoordelike verbintenis word deur die gevatte Visser om-gespeel tot ‘Erns in luim’.
Ek sal, nes Bekker en Schutte dit vir die lê van hulle historiese verbintenisse gedoen het, vir 'n oomblik afsien van die intrinsieke waarde van enkele Visser-gedigte en probeer aantoon hoe Visser op sy eie 'n diversiteit vertoon het wat hom navolgenswaardig gemaak het. En nie sommer deur die eerste die beste nie: ek wil naamlik sonder veel omhaal en sonder te uitvoerige argumentasie aantoon hoe Visser op sy eie, dus sonder die (origens baie belangrike) bystand van Toon van den Heever, met sy ‘ernstige’ werk 'n voorloper van Van Wyk Louw is.
Een van Van Wyk Louw se vroegste uitsprake, een waarvan Opperman dankbaar en meermale gebruik maak in sy Digters van Dertig, was: ‘Die gebed is een van die skoonste vorms in die poësie.’
Ek wil met twee gedigte van Visser, en twee ‘parallelle’ by Van Wyk Louw, probeer aantoon dat Visser, met permissie gesê, vir Louw ‘in die gebed voorgegaan’ het.
L.W.: ek sê nie dat Louw nie ander digterlike voor-bidders gehad het nie - ek herhaal: lees maar Digters van Dertig. Maar ek het dit vir die oomblik te doen met die (onwaarskynlike) Visser as voorbidder. En, soos ek gesê het: twee voorbeelde: een waarin Visser Van Wyk Louw voorgaan met 'n persoonlike gebed, en 'n tweede waarin Visser Van Wyk Louw voorgaan in die veel groter, samegestelde gebed wat Die dieper reg volgens my wesenlik is.
Oor die eerste een sal ek kort gaan. Die raakpunte is min, maar hulle is daar. Die verskille is groot, en hulle is belangrik. Van Wyk Louw sal, deels in verset teen Visser, en mede aangevuur deur groter modelle, totaal ander dimensies skep.
Maar Visser gaan nietemin met sy gebed ver genoeg om te mag en om te móét praat van 'n (literatuurhistoriese relevante) kontak tussen die
| |
| |
twee digters. Ek haal net enkele strofes van Visser se gedig aan. Dit het in Die Huisgenoot van Desember 1925 verskyn en haal die tweede uitgawe van Gedigte. Die titel is veelseggend:
| |
Bede
En ik zag eenen nieuwen hemel en eene nieuwe aarde. Openbaring van Johannes
Hoe sal verduur die bron van lig
'n Arme kind van duister stof,
Waar Vorste van die hemelhof,
Staan met bedekte aangesig?
Gee aan Profeet en Martelaar
Die duur verdiende oorwinnaarskroon
Waar Serafs skitter, Magte troon -
Te midde van U Engelskaar -
Maar my - vergun U goede Gees
- Ek smeek U dit, ek durf nie meer -
'n Plekkie op die aarde weer,
U nuwe aarde wat sal wees.
Hier word gebid, hier word direk tot God gespreek by monde van die apostel en profeet, en hier word - sy dit dan nog met skroom - sekere beskeie eise aan God gestel. Reeds in die laaste verse van die derde strofe begin die opgeruimdheid, die ‘oppervlakkigheid’ van die onbedwingbare Visser egter die oorhand kry - dié eienskap wat die arme ernstige Van Melle, op wie ek nog sal terugkom, so dwars teen die bors gestuit het: die profeet vra vir hom 'n ou ‘(p)lekkie op die aarde’ - baie menslik en baie huislik. Op die ou end, in die laaste strofe, is die hoë erns van Johannes op Patmos totaal daarmee heen. Daar word toenemend op vrolikheid en ekstase in die nuwe hemel en op die nuwe aarde aangedring:
Laat lag en lied soas weleer
'n Hemelhuis vir Liefde maak
- Dit het ek reeds op aard' gesmaak -
Skenk ons die liewe Aarde weer!
| |
| |
Eintlik ongelooflik, en nie bietjie goddeloos nie. In die laaste twee reëls speel Visser lustig, eers met die segswyse ‘'n hemel op aarde hê’, daarna met die uitroep (van dikwels milde verbasing): ‘liewe aarde’.
Dit mag na estetiese heiligskennis klink, maar ek stel - sonder kommentaar - hiernaas die aanvang van ‘Die Profeet’ uit Die halwe kring:
U het nie woord gehou met my, o Heer:
hier teen die helfte van my dae
staan ek verblind in U fel brand se lig,
Natuurlik. Lees, en dan bowendien in die eerste plek, soos Opperman op bl. 199 van Digters van Dertig, naas ‘Die Profeet’ 'n gedig in die Nietzsche-Rilke tradisie soos Kurt Kölsch se ‘Gott’. Maar lees dan ook nóg 'n gedig van Visser, een wat reeds in Desember 1923 in Die Huisgenoot gestaan het, dus nog voor die Visser-wonderjaar 1924 toe springfonteine poësie plotseling oral begin vloei het. Schutte en Bekker neem hierdie gedig in hulle Twintigerbloemlesing op, maar uit niks wat hulle sê, blyk dat hulle besef wat hulle beethet nie. Die gedig waarna ek verwys, is die aanvangsgedig in die afdeling ‘Van volk en vaderland’ in Gedigte:
Vry!
(Sonnet)
Op swarte agtergrond van al wat ons moet ly
Blink as 'n ster in duist're nag die een woord: VRY!
U het, O Heer, ons volk met eie hand
Gelei, opdat hul rein U woord bewaar,
Van Noord tot Suid langs weë wonderbaar
En onder vreemde sterre hier geplant.
‘Om vryheidswil, verlaat die Suiderstrand,
Trek Noord en deins terug vir geen gevaar!’
't Was U bevel. Van Kaap tot Ewenaar
Lê nog ons bloedspoor deur die donker land!
Om weer - die vadererf verwoes, verbrand -
Na naamloos' leed die onderspit te delf
In ongelyke stryd teen dwinglandy!
Ai, my! Ons ken geen ander vaderland.
Die drang na vryheid kom tog van U self;
Maak, Heer, ons volk, U Benjamin, weer vry!
| |
| |
Met die nodige respekte gesê, die uitsprake oor Die dieper reg was oor die algemeen nogal hooggestemd en bitter geleerd. Groot begrippe soos vitalisme en irrasionalisme en eksistensiële regsopvatting het die literêre ronde gedoen. Vir die elementêre doeleindes van my betoog is F.I.J. van Rensburg se ‘herwaardering’ in Sublieme ambag (Kaapstad 1975, bl. 209-216) meer as genoeg. Al wat ek naamlik wil aantoon, is dat hierdie sonnet van Visser letterlik byna vers vir vers sy weerklanke het in Die dieper reg. (Vgl. ook die slotgedeelte van die laaste strofe van ‘In die Voortrekkerkerkie, Pietermaritzburg’ in Die purper iris.)
Die kernwoord, die kernbegrip in die sonnet, van die titel tot die allerlaaste woord, is ‘vry’. Ook in die motto word dit deur verskillende maatreëls sentraal gestel: die een bepaling na die ander stuur af op hierdie een finale woord, in kapitale geskryf, deur die uitroepteken gemelodieer en deur die vergelyking blink gemaak soos 'n ster: ‘vry’. Trouens, hierdie motto is feitlik 'n toneelaanwysing: ‘Op swarte agtergrond ... blink as 'n ster in duist're nag die een woord: VRY!’ Net maar, die ‘Aanwysings by die opvoer’ van die koorspel Die dieper reg skryf 'n ander maar eweneens eenvoudige kleurskema voor: ‘Die toneel moet uiters eenvoudig wees, met gordyne (ou-goud) as agtergrond.’
Ek gaan nie die woord, die begrip ‘vryheid’ en sy semantiese maats (bv. ‘verkneg’) in Die dieper reg voluit op die voet volg nie. Soos te begrype is, is dit deurgaans die Voorspraak vir die Voortrekkers wat die begrip ter verdediging, ter motivering van die Voortrekkers se ‘reg’ aanvoer.
Ek haal aan uit opeenvolgende bladsye, meermale uit opeenvolgende spreekbeurte van die Voorspraak: ‘En deur dié land het hul gegaan / steeds verder in die vreemde in ... / en rusteloos getrek, gesoek / of êrens nog kon ruimte wees / en vryheid in die wildernis.’ En: ‘As jy 'n trotse volk verkneg, / word ópstand teen die reg sy reg.’ En: ‘Grond om vry te wees!’ en: ‘Nie wins, maar slegs hul bloed se stem! / Hul het gevolg waar die vryheid lei ...’ En: ‘ons het / die hoogste offer wat die vryheid vra, / gebring -’. En 'n bietjie later, want die Voorspraak se pleidooi is byna afgelope, neem die driftige Man die woord, en nou het hý die woord ‘vryheid’ beet en word Die dieper reg die pure Visser: ‘Die stem van die vryheid was U stem / wat ons moet volg’, aldus die Man. By Visser word God inderdaad in die direkte rede aan die woord gestel oor die onderwerp:
‘Om vryheidswil, verlaat die Suiderstrand,
Trek Noord en deins terug vir geen gevaar!’
| |
| |
En, byna ten slotte:
Die drang na vryheid kom tog van U self:
Hierdie sonnet van Visser, weer eens 'n gebed, begin soos ‘Die Profeet’ met die direkte aanspreking van die Heer: ‘U het, O Heer ...’ En hierdie keer word die bidder nie skroomvallig of skugter en veral nie ‘oppervlakkig’ nie; hy bly aandring by God, hy herhaal, hy laat nie los nie. En die hoë, selfs driftige erns bly!
Die sentrale argument ten gunste van die Voortrekkers, soos verwoord deur die Voorspraak en die Man, dié kon Louw nét so by Visser lees.
En ook vir ander verse van ‘Vry!’ is daar maats in Die dieper reg. Ek noem 'n paar: 'n mens sien party van hulle as 't ware met 'n oogopslag raak.
Ek groepeer die ooreenstemmende dele paragraafsgewys.
‘U het, O Heer, ons volk met eie hand / Gelei, opdat hul rein U woord bewaar, / Van Noord tot Suid langs weë wonderbaar ...’ Naas, dis weer die Man wat aan die woord is: ‘Ek weet U lei langs vreemde paaie.’
U het, o Heer, sê die stem in ‘Vry!’, ons gelei langs weë wonderbaar ‘En onder vreemde sterre hier geplant. / 'Om vryheidswil, verlaat die Suiderstrand ...’ Van die mooiste en bekendste verse in Die dieper reg klink soos 'n verre eggo uit hierdie reëls op: ‘O wye en droewe land, alleen / onder die groot suidersterre.’
Kleiner, onbelangriker, nogtans aanvullend, bevestigend: ‘Van Kaap tot Ewenaar / Lê nog ons bloedspoor deur die donker land!’ Naas: ‘en deur dié land van son en wind / sal ewiglik die waspoor lê.’
Die Aanklaer in Die dieper reg laat selfs nie die motto van ‘Vry!’ met rus nie. In die motto word die woord ‘vry’ immers vergelyk met iets wat in die buite- en bo-wêreldse omgewing waarin die geding in Die dieper reg hom afspeel, bekend en ‘relevant’ moet klink: 'n ster. Die Aanklaer moet hierdie ‘digterlike’ argument (die vergelyking) ontsenu. Hy doen dit op sy beurt ook met 'n vergelyking, maar dan een wat die Voortrekkers se vastigheid, die ster, met 'n ‘onweerlegbare’ vergelyking wil laat wankel: hy gaan die ster naamlik vergelyk met die Ewige self: ‘Ek eis van U Geregtigheid, / wat ewig en flikkerloos / brand, o God, vaster / as die verganklike sterre en stelsels: / gee hul aan my, / dat ek hulle slinger /ál langs die vergetelheid, / die donker steiltes ...’ Die Aanklaer hou terdeë rekening met Visser se Voortrekkers!
Een argument het Van Wyk Louw beslis nie by Visser aangetref nie: dis die argument, o.m. triomfantelik uitgespreek deur die Vrou, waarvolgens
| |
| |
'n volk onsterflik bly bestaan ‘solank hy daardie bloed wil suiwer hou’. Visser se Trekkers het volstaan deur ‘rein U woord (te) bewaar’. Die bloed-oorweging, die ‘Blut und Boden’, was o.m. 'n erfenis uit die dertigerjare met sy Derde Ryk.
Van Rensburg het daarop gewys dat Van Wyk Louw heelwat van die diepsinnige troebelhede van die kritici oor Die dieper reg self geteel het met die ‘Inhoud’ wat hy vooraf verskaf het. Ek dink die kritici sou beter gevaar het as Louw Visser se ‘Vry!’ ter inleiding of selfs as motto aan Die dieper reg laat voorafgaan het.
Maar Louw doen dit natuurlik nie, skryf wel die volgende jaar sy taamlik bose sinnetjie. Sodat ek die versoeking net nie kan weerstaan nie. Ek gaan hierdie klein betoog oor Visser en Louw afsluit met een van Visser se titels: ‘Is dit dan reg?’
| |
III
Daar is dikwels al gewys op die merkwaardige verskynsel dat Visser se digterlike oeuvre in minder as vier jaar voltooi is. Sy vriend en aanmoediger sê dit in die ‘in memoriam’ wat aan die latere uitgawes van Gedigte voorafgaan: ‘In werklikheid was dit die arbeid van veel minder as vier jaar wat aan die naam en nagedagtenis van dr. Visser hierdie mate van onsterflikheid geskenk het. Die meeste van sy gedigte is in minder as een jaar geskrywe.’
Die deur Marais benadrukte ‘minder as een jaar’ is deur kritici met 'n mate van skeptisisme bejeën. Die publikasiedatums van Visser se gedigte in koerante en tydskrifte, wat in die bylaes tot hierdie uitgawe verskyn, gee hulle gelyk. Visser het feitlik alles wat eventueel gebundel is - sy kindergedigte vorm hier grotendeels 'n uitsondering - eers in koerante en tydskrifte laat verskyn. Hoewel die publikasiedatums uiteraard geen volstrek betroubare bewys lewer nie, maak hulle tog 'n baie aanneemlike saak daarvoor uit dat by verre die meeste van Visser se gedigte ná 1924 verskyn het. Dit word trouens in 'n mate bevestig deur die 24 gedigte wat aan die tweede uitgawe van Gedigte toegevoeg word, 'n toename van byna 60%.
Tog glo ek dat Marais gelyk gehad het met wat hy destyds waarskynlik bedoel het: dat die meeste van Visser se beste en bekendste gedigte - in elk geval na die oordeel van destyds - binne een jaar geskryf is. Ek wil hieraan toevoeg: die mees verteenwoordigende gedigte en ook die topgedigte van Gedigte staan reeds in die eerste druk van hierdie bundel, wat volgens my nog steeds Visser se beste is. En die meeste van hierdie gedigte is, te
| |
| |
oordeel na die publikasiedatums, inderdaad in minder as 'n jaar geskrywe.
'n Gesprek oor die relatiewe meriete van die Visserbundels kan sinvol wees omdat dit ons o.m. voluit konfronteer met die vraag na Visser se ontwikkeling, sy ‘groei’ as digter in die weliswaar minder as vier jaar. En dan is die voor-die-hand-liggende gespreksgenoot Flip Grobler wat, in 'n uitspraak wat hierbo reeds aangehaal is, beweer dat Rose van herinnering volgens hom Visser se beste werk bevat. Hoewel hy daarmee nie noodsaaklikerwyse impliseer dat Rose van herinnering die beste bundel is nie, wil dit tog so voorkom as hy dit nog in dieselfde sin klaarblyklik betreur dat hierdie bundel ‘as benede die peil van Gedigte’ beskou word.
Grobler se voorkeur vir Rose van herinnering is, vanuit die perspektief van sy uitgesproke en gemotiveerde voorkeur vir die geestige Visser, volkome begryplik. Hierdie bundel bevat heelwat van die bekendste hekeldigte (o.m. die bekende ‘Borsbeeldjies’) en, belangriker, dit bevat die gedig wat Grobler as Visser se toppunt beskou, sy ‘meesterstuk’ waarin ‘sy beste talente ... verenig’ is: ‘Hoe lank Visser gewerk het aan “Toe die Wêreld nog Jonk was”, weet ek nie, maar ek is daar oortuig van dat dit hom veel meer dinkwerk en selfkritiek gekos het as enige ander gedig wat hy die lig laat sien het. 'n Vers soos dié skryf 'n mens nie sommer - soos iemand vertel het van “Rosa Rosarum” - terwyl jy water in jou motor se verkoeler laat gooi nie. “Rosa Rosarum” is, by alle bekoorlikheid, die soort vers wat 'n vlot rymelaar gou inmekaar kan sit. Dit het geen verloop, geen noodwendige begin of einde nie, terwyl “Toe die Wêreld nog Jonk was” 'n besliste ontwikkeling, 'n vaste konsepsie het.’
Toe ek sélf nog jonger was, sou ek Grobler waarskynlik dadelik getakel het oor die byhaal van die ontstaansgeskiedenis. Maar met die loop van die jare het ek sélf die bruikbaarheid van 'n lekker storie leer waardeer. In so 'n mate dat ek sélf een wil oorvertel, een deur die bekende musikus, onderwysman en politikus uit Heidelberg, Stephen Eyssen. Hy skryf in Die Kristelike Skoolblad: ‘Kort na Dokter se siekte moes hy 'n pasjent op 'n plaas gaan besoek. Terwyl die kar toe onder die bome staan en verlange en twyfel om die beurt in die hart speel, het hy ongemerk (? M.S.) op die voetplank van die motor gaan sit en die pragtige “Princesse Lointaine” geskryf ... Dokter se Prinses van Verre het toe nog skoolgehou en die volgende môre ontvang sy hierdie skone minnelied by die skool. Dit was in Dokter se beste handskrif en in rooi ink!’ (Aangehaal in Kritzinger: Letterkundige kragte, bl. 94.)
Dieselfde storie in 'n ander gedaante, oor 'n ander gedig? Maak in elk geval nie saak nie: ‘A rose by any other name ...’ Wat wel saak maak, is die struktuur-argumente waarmee Grobler vorendag kom: wat ‘Rosa
| |
| |
Rosarum’ betref, die inderdaad in-grypende konstatering dat die gedig geen verloop, geen noodwendige begin of einde het nie. Ek sal op hierdie argumente moet terugkom.
Volgens my is Gedigte nog steeds die sentrale Visserbundel. Dit verteenwoordig naamlik die ‘hele’ Visser beter as enige ander bundel. En die ‘beter’ impliseer hier ook dat die hele Visser hier deur beter gedigte as elders verteenwoordig word. Waarmee ek nie in diskussie wil tree met Grobler oor bv. die relatiewe meriete van bv. ‘Toe die wêreld nog jonk was’ nie.
Hopelik het ek met my betoog oor Visser en Van Wyk Louw oortuigend aangetoon dat Gedigte, as 'n mens afsien van die ‘intrinsieke meriete’ (soos Bekker en Schutte dit ook gedoen het), 'n belangrike bundel is in die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse poësie. Wat nog voorlê as ek Gedigte se voorrang bo bv. Rose van herinnering as Visser se beste bundel aanneemlik wil maak, is nou juis die kwessie van die intrinsieke waarde. Want dit is hierop dat Grobler die aandag vestig, en tereg. En ek wil ook vooraf sê dat ek begryp dat ek met Grobler (en trouens feitlik alle Afrikaanse kritici) sal móét redeneer oor ‘Rosa Rosarum’. Want die gedig kry in Gedigte die ereplek: net na die ‘Toewyding’. En dis opvallend - om 'n oomblik vooruit te loop - dat hy baie sigbaar uit sy ereplek vooraan in Visser se oeuvre verwyder word deur Van Rensburg in sy genoemde bloemlesing, Roos en lanset. Die ‘teregwysing’ is des te opvallender omdat hy vervang word deur 'n ander roos-gedig, met name ‘Die Roos’. ‘Die Roos’ wat bowendien een van die twee gedigte is wat die ‘ernstige’ gedigte in Groot Verseboek moet verteenwoordig. En Flip Grobler sou waarskynlik goedkeurend geknik het. Want ‘Die Roos’ is die aanvangsgedig van Rose van herinnering.
As 'n mens die jaar van die ‘minder as een jaar’ aan 'n bepaalde jaartal sou moet toesê, dan sal dit ongetwyfeld 1924 wees. 'n Mens kan dit aan die publikasiedatums in die koerante en tydskrifte sien: daar is groot Visserdrukte hier so teen April-Mei se kant, en daar is 'n merkwaardige Visseroes in Die Burger se Kersnommer van dieselfde jaar: van Visser se bekendste gedigte kom uit hierdie twee tydvakkies.
Daar is ook biografiese redes vir hierdie oplewing aangevoer. Die letterkundige Cloete skryf, met 'n skoon gewete omdat dit in 'n bydrae is tot die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I: ‘Hoewel hy’ - dis nou Visser - ‘reeds as skoolseun versies skryf en daarvan in 1896 in Ons Klyntji publiseer, begin sy talent in 1924 eers werklik ontplooi toe hy weens 'n hartaanval 'n paar maande lank in die hospitaal moet rus’ (bl. 877). Cloete sê nie Visser se talent ontplooi weens die hartaanval nie, maar ek wil selfs
| |
| |
verder gaan as Cloete en sê dat Visser se talent nog verder aangepor word deur hartkloppings danksy die feit dat hy in dié jare tot oor sy ore verlief raak. En, nog belangriker, die vrou sê nie sommer ja nie. Dus die volstrek onweerstaanbare dubbele aanleiding van 'n swak én gefrustreerde hart. Ek sal nog aandui hoe baie die einste ‘Rosa Rosarum’ hieraan te danke het. Waarmee ek voorlopig afstap van die ‘genetic fallacy’.
Wat hierdie 1924-periode met sy twee publikasie-fases des te merkwaardiger maak, is dat dit op 'n buitengewoon vinnige digterlike ontwikkeling in die betrokke periodetjie dui. Ek sal dit deur enkele vergelykings tussen gedigte uit die onderskeie fases probeer aantoon. Maar ek wil vooruit reeds daarop wys dat die voortreflike ‘Lotos-land’ uit die eerste en oor die algemeen kwalitatief mindere periode dateer.
‘Is daar maar één bekende gedig in Afrikaans met soveel clichés as “Laetitia”?’ Dis Grobler wat só emfaties, só byna radeloos die vraag vra dat die leser die vermoede kry dat Grobler hier voel dat hy die waarheid in 'n retoriese vraag beethet.
‘Laetitia’ kom uit die eerste 1924-fase: hy verskyn in Die Huisgenoot van 30 Mei. Die ‘Laetitia’ is Visser se oorlede vrou Lettie. En 'n mens kan iets van Grobler se radeloosheid begryp as 'n mens selfs by die hoogs gerespekteerde Dekker lees - en dit staan nog altyd so in die tot 1966 bygewerkte druk van sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis: ‘Die statige elegie “Laetitia” het al klassiek geword.’
'n Mens hoef maar net blindweg aan te haal, toe-oë met jou vinger te korrel en, siedaar:
Van lokke wat met songoud gloei,
Van wange waarop rose bloei;
'n Mond waar soentjies lonk en lag.
Op lippe roos en warm en sag,
Van hande vlug en wit en fyn,
Bekoorlikheid in elke lyn;
Of:
Met oë stralend van geluk,
Haar eerst'ling aan haar hart gedruk.
So teer as Onse Liewe Vrou
Die Heiland spraakloos het aanskou, ...
Die struktuurmaatreël: die só gevaarlike enumerasie. Behalwe dat daar reeds sprake is van progressie: Visser besing agtereenvolgens die jong meisie, die bruid, die jong moeder, en ten slotte beween hy die gestorwe- | |
| |
ne. Só erg is dit dus ook weer nié, en 'n mens is jou bewus van die mooi inbors van die man wat hier aan die woord is, 'n faktor wat ongetwyfeld grootliks verantwoordelik is vir 'n man soos Dekker se geneentheid vir die gedig.
Maar, terwyl ons dit nou tog het oor die oordeel van 'n ‘tydgenoot’ van Visser met die onbetwisbare formaat van 'n Dekker: kyk hoe vaar 'n nog ‘ouer’ gedig van Visser by hom: ‘Visioen’, gepubliseer in Die Boervrou van Desember 1923: ‘Watter tere beeld gee hy van sy spelende Lettie en van die visioene wat sy vir hom optower in “Visioen”’ (bl. 114). Ook hier kan die leser maar sommer voor die voet vat en los:
Klanke soet verruk sy sinne;
In vervoering tree hy binne
In jou wonderskoon paleis,
Salwend vir die siele suis daar,
Rein as eng'lestemme ruis daar
Of:
Op die groene Saal'ge Velde
Sing die Skone, juig die Helde
In hul frisse sterke jeug.
Gode-ambrosyne groei daar,
Nektar, vreugdewyne vloei daar ...
Maar genoeg! Of nee. Kyk vir laas hoe Visser, soos Leipoldt in Die
Bergtragedie, hom vasloop in die Groot Begrippetrilogie:
In die Vryheid knel geen boeie;
Aan die Ware, Skone, Goeie
Elkeen weet daar by ervaring
Van die raaisel die verklaring:
Y-na! Maar, daaraan toegevoeg. Die lees van dergelike verse deur 'n digter wat somtotaal die moeite werd is, is uitermate boeiend. Die pas oorlede Roland Barthes het die tersaaklike spyker op die kop geslaan: ‘Boredom is not far from bliss: it is bliss seen from the shores of pleasure.’ (The pleasure of the text, Londen 1976, bl. 26. Die Franse oorspronklike, Le plaisir du texte, het in 1975 in Parys verskyn.)
| |
| |
By hierdie kortlys van die mindere produkte van die Wonderjaar voeg ek, sonder kommentaar omdat dit amper nog opvallender kwesbaar is as die voorgaandes, die ‘Heine-ske’ ‘Humoresk’ (met o.m. sy ‘parterre/Van die hemelruimte’) wat op 16 Mei 1924 in Die Huisgenoot verskyn het. Ek het so 'n gevoel dat gedigte soos ‘Humoresk’ en sy maats ook onder die gedigte was waaraan Van Wyk Louw en sy broer W.E.G. Louw in die vroeë jare van hulle eerste samewerking ‘geëet’ het. (Vgl. Opperman: Digters van Dertig, bl. 66.)
Intussen is dit in die eerste fase van 1924 nie net die ene treurigheid op note nie. Afgesien van ‘Lotos-land’ (Die Huisgenoot van 23 Mei!) waarop ek terugkom, is dit in sommige van die ‘ernstige’ gedigte duidelik dat Visser besig is om sy stem te kry, om 'n sterker vormbeheer te ontwikkel.
Ek het reeds daarop gewys dat daar in die arme ‘Laetitia’ reeds die mate van strukturering is dat Visser die strofes volgens 'n tydsprogressie orden. In ‘Die Tuinman’ (Die Huisgenoot van 4 April) is daar nog sterk Celliersnaklanke, maar die ordening is hier reeds gekompliseerder en stewiger as in ‘Laetitia’: die tuinman se bedrywighede is aangepas by die verloop van die seisoene; hy spit, snoei, hy gooi nat. Die tuinman is natuurlik ook die ‘Tuinman’, want Visser benut, soos sy tydgenote, die simboliserende of eerder allegoriserende effek van die hoofletter. Die ‘Tuinman’ hanteer nie net soos die tuinman tuingereedskap nie, maar ook 'n begrippeapparaat: die strofes word agtereenvolgens toegewys aan die vorm, die kleur, die geur en die skoonheid van die roos. Daar is dus saam met die progressiewe temporele ordening ook 'n begripsordening - met die ‘skoonheid’, soos die ander begrippe merkwaardigerwys sonder hoofletter gespel, as die veelseggende hoogtepunt. Met in die laaste strofe, waar die einde van die gedig saamval met die onvermydelike sterflikheid, 'n laaste versreël feitlik sonder cliché en die ene konkrete tuinmakerstaal:
Bid, o Tuinman, bid steeds, dat jou gaarde nie kwyn,
Dat haar heerlikheid nie van die aarde verdwyn,
Voor Hy eendag ook jou - en dit sy jou tot troos -
O so saggies sal weghark tesaam met die roos.
En vervolgens die tweede fase.
En ek sien weer eens, om teen dié tyd voor-die-hand-liggende redes, af van die geestige gedigte, konsentreer op die ernstige. En dan nog bowendien op dié wat Grobler, in sy poging om die geestige aan bod te bring, spesiaal onder skoot kry: die minnegedigte. En dan lyk dit my maar die beste om dadelik met die ergste vorendag te kom: met die einste ‘Rosa
| |
| |
Rosarum’, wat in Die Burger se Kersnommer vir 1924 verskyn. Saam met o.m. ‘Sachsen-gruss’.
Die arme ‘Rosa Rosarum’, byvoorbeeld geskryf terwyl Visser koue water in sy motor se verkoeler laat gooi. Min het die kritici besef dat Visser, so met sy voet op die modderskerm, in ‘Rosa Rosarum’ besig was om self ook van die hitte, van die liefdeskoors ontslae te raak. Die baas, nes met sy ryperd ‘Voorslag’, eens met sy ryding. Want die gedig, die een wat volgens Kannemeyer deur metriese dreun en afgesaagde beelde ontsier word, hierdie gedig is m.i., clichés en al, 'n beter gedig as wat die kritici van hom wou maak en 'n verloëning van 'n uitspraak wat telkens oor Visser se ‘erotiek’ gedoen is. En ek haal net twee voorbeelde daarvan aan:
Cloete op sy Engels in sy oorsig van die Afrikaanse poësie in SESA: ‘Among all the writers of this period A.G. Visser achieved the greatest popularity, especially as creator of a number of love poems, nowhere strongly erotic ...’ (bl. 143).
Ek meen dis omdat die kritici Visser pal met Toon van den Heever vergelyk het dat hierdie misvatting makliker posgevat het. Want my tweede bewysplaas kom uit die betroubare Antonissen: ‘Die erotiese passie van Toon van die Heever is hom vreemd, terwyl dié se momente van platoniese vrouediens by Visser reël word, 'n sisteem, selfs met die hoogs moontlike konsekwensie in die gebruik van die konvensionele terme en simbole.’ (Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, tweede hersiene druk, Kaapstad s.j., bl. 182-183.) Terloops 'n voorbeeld van Antonissen se kernagtigheid, sy vermoë om 'n verwikkelde insig in 'n enkele sin saam te vat. En globaal gesproke het hy wel gelyk! Maar nie oor die stief behandelde ‘Rosa Rosarum’ nie: die platoniese is hier wel aanwesig, maar die opgekropte, gefrustreerde erotiek beur (tot barstens toe!) teen die clichés wat hom konvensioneel aan bande lê. Visser het nie die gekwelde sensualiteit van Toon van den Heever nie, maar hy is by tye uitermate en ook uitgesproke sensueel. En as hy dit nié is nie, sou ek wou veralgemeen, verlep sy vers saam met sy drif.
‘Rosa Rosarum’, het Flip Grobler gesê, is die werk van 'n vlot rymelaar, dit het ‘geen verloop, geen noodwendige begin of einde nie’. Ek kan net nie begryp hoe Flip, 'n man wat vrouens en goeie wyn soos dit hoort geappresieer het, nie die noodwendige begin, verloop en einde van die erotiek in ‘Rosa Rosarum’ kon raaklees nie!
Ek wil kortweg konstateer dat Visser in ‘Rosa Rosarum’, en dan betreklik onverhuld, die verloop van 'n erotiese passie van die oomblik van die voorspel af tot dié van die konsummasie verwoord.
Die gespook teen die cliché, van cliché teen cliché, word vir die eerste
| |
| |
keer behoorlik sigbaar in die derde strofe, die strofe waarin trouens die eintlike ‘sports’ begin:
Kom waar die lelie - die blanke, die reine -
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan ...
Akkoord, Antonissen: aanvanklik volop platonies ‘die lelie - die blanke, die reine -’, maar, o wee, net in die volgende vers die open-barende ‘Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan’! Die alliterasie en die semantiek moet dit hier uitspook teen mekaar, en soos mens dit vir die taal kan voorspel: die een wat direk met die ‘betekenis’ gemoeid is, moet wen! Die alliterasie wil ‘bloesem’, die cliché, hê: ‘haar bloesem ontbloot aan die maan’. Die betekenis (bygestaan deur die assonans) wil ‘boesem’ hê, en hy kry hom: want hoe op aarde ontbloot 'n lelie haar bloesem! En dat dit hier inderdaad om die boesem gaan, kom dan ook onvermydelik in die volgende strofe op die lappe, al is dit weer in cliché-vorm en wel in 'n personifikasie ‘geklee’: die geliefde is nou die maanblom, ‘Skoonste juweel op die bors van die nag!’
In die volgende strofe is daar die konsummasie, die versadiging waarna ek verwys het:
Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana -
As sy in glorie van songloed verwelk.
Die geliefde sterf die ‘klein dood’ van die seksuele gemeenskap. Natuurlik onvermydelik weer konvensioneel in orde, dié keer in terme van die Indiese mitologie.
En dit alles het nie eers in die derde strofe begin waarmee ek my verduideliking aangevang het nie. Die eerste versreël is al klanksgewys 'n sensuele mondvol: ‘Kom na my tuin waar die donkerrooi rose / Duist're geheime vertrou aan die nag’. Ons het hier naamlik klank op sy heel sintuiglikste, naamlik in sy fisiologies-geaktiveerde vorm as gevolg van die opeenvolging, konsekwent, van geronde en ongeronde vokale met die gerondes telkens in die heffingsposisie. Wat J.M.M. Aler in Im Spiegel der Form (Amsterdam 1947, bl. 66, noot 2) van bepaalde verse van Stefan George beweer, geld ook hier: ‘Für die Lippenmuskulatur kann übrigens auch der Vokalismus motorische Bedeutung besitzen’. Visser laat hier die vokale die funksie vervul wat die konsonante vervul: dis m.a.w. 'n soort
| |
| |
vokaliese alliterasie! En, die vokale vervul hierdie funksie uiteraard veel ingrypender, ‘voelbaarder’ as die konsonante. Die konsonante (bygestaan deur assonanse) is trouens eweneens byna onmiddellik en daarna deurgaans alliteratief aktief. Met 'n enkele passasie waarin die alliterasie plus die assonansie 'n maksimaal strelend-sensuele effek bereik: ‘wit sy en satyne ...’
Met die bostaande wil ek nie ‘Rosa Rosarum’ 'n ‘groot’ gedig maak nie. Ek wil alleen maar aandui dat daar veel, maar dan ook baie veel meer in hom skuil as wat die latere kritici raakgelees het. En ‘Rosa Rosarum’ is strate beter as ‘Die Roos’, die aanvangsgedig van Rose van herinnering wat Van Rensburg tot openingsgedig van Roos en lanset laat promoveer het. Ek is bereid om nogal ver te gaan: ek glo nie Visser het ooit weer die sóórt hoogtepunt van ‘Rosa Rosarum’ gehaal nie.
Dis geen ‘bewys’ nie, maar ek wil enkele reëls uit 'n latere (en heelwat swakker) gedig van Visser aanvoer as getuienis vir die sterk sensualiteit, vir die nouliks verhulde erotiek wat volgens my wél by Visser aanwesig is. Dis die gedig ‘Van Verlore-vlei’, opgedra aan die einste Marie wat hom in ‘Rosa Rosarum’ nog tergend ontwyk. Dit staan in sy laaste bundel, Die purper iris e.a. nagelate gedigte, het in Die Huisgenoot van 10 Maart 1929 verskyn en is, soos in die bylaes aangedui word, in manuskripvorm in verskillende stadia in die versameling van die NALN. In die gedig is die beminde vrou die leeurik; die ‘ek’, die man, is (nogal ongewoon - maar vgl. Gedigte 45) die water, die vlei. In die laaste strofe is die sensualiteit onmiskenbaar: ‘Kom, my beminde, / Vreugd' onbeperk, / Hygende boesem / Neigende vlerk, / Hygende, / Neigende, / Hoog uit die swerk, / Immer weer wiegende, / Nimmermeer vliegende, / Liefde te sterk - / Kom, my beminde, / Vreugd' onbeperk.’
Die arme leeurik weet nie wat haar getref het nie: sy het, net soos die ‘lelie’, maar in haar geval onverhuld, 'n ‘boesem’! Die publikasiedatum is 1929, maar die ontstaansdatum laat hom maklik raai.
Ek wil nog één liefdesgedig uit Gedigte byhaal, naamlik die eweneens nogal ongewaardeerde ‘Princesse Lointaine’ - ook 'n ‘motorgedig’! Sover ek kon vasstel, was hy nie voorheen in tydskrif of koerant gepubliseer nie, maar hy lê tematies (en ook op grond van ‘ontoelaatbare’ biografiese aanduidings) in die buurt van ‘Rosa Rosarum’. Die gedig het taamlik vroeg reeds vermelding opgetel in G.S. Nienaber se Afrikaanse letterkundige kritiek (1941): dit is naamlik 'n verafrikaansing van 'n Engelse lied: ‘Hoe seer Pienaar (dis nou E.C.) vir Eyssen (Stephen - M.S.) oor “Princesse Lointaine” ook mag glo, dit bly 'n verafrikaansing van Swinburne se “A Match”’ (bl. 62). ‘Princesse Lointaine’ bied dus meteen die geleent- | |
| |
heid om ons 'n enkele keer te bemoei met die kwessie van direkte beïnvloeding in Visser se werk.
Nou is dit ongetwyfeld so dat Swinburne 'n afspringplek bied. Maar dis dan ook al. Die eerste en tweede strofes van Swinburne se gedig begin respektiewelik met: ‘If love were what the rose is, / And I were like the leaf’, en: ‘If I were what the words are, / And love were like the tune’. Dit word by Visser: ‘Was jy 'n rosebloesem / En ek die roos se geur,’ en: ‘Was jy 'n lied se woorde / En ek die melodie’. Die res van die strofes, en die res van die gedig, gaan by Swinburne en Visser hulle afsonderlike gang. Visser het net die aanvanklike prikkel by Swinburne ontvang, en daarna volkome op sy eie voortgedig. En weer eens is daar 'n verloop, 'n progressie, en 'n verdienstelike greep op die geheel.
Die manlik-vroulike bedeling is hier nogal interessant. Die vroulike aangesprokene is die rosebloesem, die lied se woorde en die kranse; aan hierdie trits korrespondeer die roos se geur, die melodie en die sonnegloed. Nuut by Visser is die paar ‘hoogste kranse’ / ‘sonnegloed’: ‘Was jy die hoogste kranse / En ek die sonnegloed ...’ In die volgende en laaste strofe is die vrou, wat telkens die vaste punt was waarom die man op die een of ander vlugtige manier beweeg het (die geur om die roos, die melodie om die woorde, die sonnegloed op die kranse), plotseling die ontwykende: sy is ‘Prinses van Verre’; die hy is troebadoer. Die opmerkenswaardige is nou die binding en afsluiting van die geheel deurdat die troebadoer die melodie en die songloed in hom verenig: ‘Al gloei ook my gesange / Van liefde en verlange ...’ Dis tóg 'n prestasie om die stereotiepe struktureel so ‘lewendig’ te manipuleer en te integreer. En dit het intussen duidelik geword dat ‘Princesse Lointaine’ sy man kan staan teen Swinburne se ‘A Match’: dis seker geen verafrikaansing as daarmee so ongeveer 'n getroue vertaling en selfs omwerking bedoel word nie. Dis 'n selfstandige gedig.
Intussen het ek nog geen verklaring probeer bied vir die stralende aanwesigheid, daar in die valerige vroeë fase van 1924, van ‘Lotos-land’ nie. Want daar staan hy, in Die Huisgenoot van 23 Mei, nog met die titel: ‘Die trek na Lotosland’. Hoe verklaar mens die verskil in kwaliteit tussen hom en ‘Laetitia’ wat 'n week later in dieselfde tydskrif verskyn?
Ek dink die verklaring hiervoor is betreklik voor-die-hand-liggend. ‘Lotos-land’ is 'n parodie, en 'n belangrike deel van wat geparodieer word, is nou juis die clichés van Visser se mede-digters. Die natuurlike meester van die cliché wat Visser in hierdie stadium was (vgl. maar weer ‘Visioen’) word losgelaat op die clichés. In hierdie konteks, waar juis die cliché die vonds word, is die parate rymwiggelaar Visser in sy element. Hy is nou nie besig om sy liefde of sy smart te betuig nie, maar die
| |
| |
struktuuropset sê: spot, speel, jil. En die rymvindingrykste digter van sy tyd stel nie teleur nie. Bowendien, soos ons Grobler reeds laat aantoon het: ‘Een van die grootste swakhede van Visser se ernstige verse: prosodiese wetmatigheid, word juis die krag van sy humoristiese verse met hulle intellektuele spel waarvoor die strakke vorm met 'n beperkte ritmiese variasie m.i. noodsaaklik is.’
| |
IV
Intussen is die betoog al 'n entjie gelede terug op die hedendaagse literatuurhistoriese grootpad: Visser wat sy plek in die Afrikaanse literatuur volstaan danksy sy geestige poësie.
Dis teen die eensydige aanslag van Visser se formaat bloot of totaal oorwegend op grond van sy bydrae tot die geestige vers dat ek dit het. Eensydigheid en sy maat oordrywing waaraan Louw in sy regstelling aandadig is (die psigoloë sou hier seker praat van kompensering) as hy bv. n.a.v. die inderdaad meesterlike ‘Lotos-land’ praat van die geestigheid en ‘'n geraffineerde woordespel ... wat die bewondering wek soos by ander groot woordgebruik’ (Louw, bl. 125).
Hierdie oorskatting, hierdie alleen maar skatting van die geestige blyk ook uit Opperman se keuse in die erkende ‘barometer’ van ons poësie: Groot Verseboek. Van die liefdesgedigte net ‘Die Roos’, van die ‘ernstige’ poësie slegs ‘Die swarte osse’. Verder, ag ja, dis so 'n handjievol dat ek maar Opperman se hele Visser kan opnoem: ‘Lotos-land’, ‘Toe die wêreld nog jonk was’, ‘In die Katkisasieklas’, ‘Oorkruis’, ‘'n Teoloog (17de eeu)’, ‘'n Predikant (18de eeu)’, ‘'n Volksleier (enige eeu)’, ‘'n Bekende gesig’. Ek is seker Opperman sal my dit nie verkwalik as ek tog ook maar 'n bietjie tel nie. ‘Die Roos’ en ‘Die swarte osse’ is saam sestien versreëls. Goed, die twee word voorafgegaan deur die lang ‘Lotos-land’, hulle word gevolg deur die lang ‘Toe die wêreld nog jonk was’. Dié word gevolg deur nog ses titels, ses gedigte: die ses tel saam dertig versreëls, hulle is saam 'n skrapsie langer as twee sonnette lank.
As 'n mens net na die kwalitatiewe toppe kyk, dan sou 'n mens Opperman gelyk kon gee. Persoonlik dink ek dat daar beter en belangriker liefdespoësie, ook beter ‘ernstige’ poësie is. Met die twee langes gaan ek natuurlik akkoord. Oor die ses kort geestiges sou ek weer wou verskil. Maar dis nie waarom dit my hier te doen is nie. Die belangrike is dat Opperman se keuse ons nòg 'n beeld van die hele Visser nòg een van sy plek in ons literatuur gee. En met Visser se plek ‘ín ons literatuur’ bedoel ek dan
| |
| |
o.m. wat ek hierbo probeer uiteensit het: die voortsetting van Visser se poësie in dié van andere (wat ongetwyfeld op sy minste onbewustelik by sekere lesers moes geregistreer het). Wat ek geïllustreer het aan die hand van die voor-die-hand-liggende voorbeeld: Van Wyk Louw. Waarby ek daarom ook heelwat ander Visser-‘voortsettings’ nie genoem het nie. O.m. die pikante besonderheid dat Visser selfs aan ander en latere digters 'n opdrag gegee het wat dan ook inderdaad uitgevoer is. Ek verwys hier na Eitemal se flink reaksie op: ‘O, vir 'n lied wat vleuels dra, / 'n Lied vir jong Suid-Afrika!’ (‘Die Marseillaise’ uit Rose van herinnering).
Maar dit is waar dat Visser se geestige werk die beste van hom verteenwoordig. En dit is dan ook waar - soos Grobler destyds betoog het - dat Rose van herinnering ‘sy beste werk bevat’: hierdie bundel het immers nie alleen ‘Toe die wêreld nog jonk was’ op sy kerfstok nie, maar ook o.m. ‘Oorkruis’, die knap klein kwatryn ‘Tyd’, die werklik steekserige, vir Visser nogal venynige ‘Profeteer of profiteer’, die werklik briljante ‘Vet’, en die twee belangrikste reekse hekelkwatryne (waaruit feitlik die hele oes van dié soort gediggies van Groot Verseboek kom): ‘Om die Waarheid te sê’ en ‘Borsbeeldjies’.
As Visser se geestige werk sy beste is - en ek gee dit toe - dan bevat Rose van herinnering inderdaad sy beste werk. Maar van sy geestige beste kom ook ruim voor in Gedigte. En dan bevat Gedigte nog bowendien sonder twyfel die beste van die belangrike ‘res’ van Visser se gedigte, sy liefdesgedigte, sy vaderlandse gedigte, sy ‘ernstige’ gedigte. Daarom is Gedigte Visser se mees verteenwoordigende bundel.
Na alles wat voorafgegaan het, is dit duidelik dat die ‘laaste woord’ in 'n oorsigtelike opstel soos dié tog toekom aan Visser se geestige poësie. En dan nie primêr in die ‘korrektiewe’ verband waarbinne dit tot dusver hoofsaaklik ter sprake gebring is nie. Behalwe dat dit ongelukkig nodig sal bly om ietwat van 'n pretbederwer te bly. Ek het dit trouens reeds in die Visser-eeufeesjaar nodig geag om die geesdrif oor die geestige Visser net so effe-effe te demp: in ‘'n Digter honderd’, opgeneem in Die teken as teiken (Kaapstad 1978, bl. 86-100).
Ek wil nie uitvoerig herhaal wat ek daar betoog het nie, maar sal o.m. en dan kortliks (en ten dele met ander voorbeelde) die enkele bedenkings of liewer kwalifikasies noem wat m.i. hier gebode is. Vooraf wil ek nog die leser se aandag vestig op 'n deeglike bydrae oor die geestige Visser wat ook in 1978 verskyn het, maar waarvan ek nie kennis kon neem voordat ek myne geskryf het nie: dis H.J. Schutte se ‘Visser as parodiemaker’ wat verskyn het in Tydskrif vir letterkunde 16(2): 13-21 Maart 1978.
‘Visser’ - aldus Opperman in sy ‘teregwysing’ van Louw - ‘se gees- | |
| |
tige vers is beperk.’ En: ‘Toe Visser nog grappies gemaak het, het Toon van den Heever verkenningswerk gedoen vir die digter van Dertig’ (Naaldekoker, bl. 17,18). Ná die verkenning van Visser se ‘ernstige’ werk hierbo, hoef ek nie te verduidelik waarom Opperman hier onbillik oordryf nie. Aan die ander kant is dit ook waar - en dit is waarom dit hier in die eerste plek vir my gaan - dat Visser, meer as wat Louw te kenne gee, bly steek het in die goedlagse, die grappige.
In hierdie verband is dit net billik om redelik uitvoerig verslag te doen van die eerste en nog steeds een van die beste opstelle wat oor Visser verskyn het: die romanskrywer J. van Melle se opstel ‘Die digter - A.G. Visser’ wat in die tydskrif Zuid-Afrika van Nov. 1943, Jan., Febr., 1944 verskyn het. (Die artikel is die maklikste toeganklik in A.G. Visser in beeld - Gedenkalbum, 1 Maart 1878-10 Junie 1979, saamgestel deur die NALN, Johannesburg 1977.) Ek sou selfs wou sê dit is nie alleen die eerste werklik belangrike peiling van Visser se kwaliteit nie, maar nog steeds een van die ‘rondste’ beskouings oor Visser waaroor ons beskik.
Van Melle se kritiek is ten dele voorspelbaar vir diegene wat sy basies diep-ernstige werk (én persoonlikheid) leer ken het. Visser is baie duidelik nie sy ‘cup of tea’ nie. Nes vir almal destyds, is Visser vir hom ‘by uitstek 'n minnedigter, 'n groter minnedigter as een van sy voorgangers’. Tog bestee Van Melle relatief heelwat meer aandag aan die geestige, die grappige gedigte wat hy minder vind. Trouens, Visser se ‘grappe’ wat in die kerk en die Bybel hulle aanleiding het, bestempel Van Melle reguit as ‘slegte smaak’. (Ek sou dink dat die gedig ‘Hoop’ uit Gedigte hier 'n tersaaklike voorbeeld is.) Maar hy het agting vir die ‘beminnenswaardige mens’ Visser: ‘'n Veelsydige mens met gesonde neiginge en 'n vriendelike, vrolike natuur, 'n mens soos ons graag sien, 'n soort van modelmens van wie geen groot kwaad te sê is nie en by wie geen van sy deugde so ver deurgedryf is dat dit hom in botsing met sy omgewing bring nie’. Hier seil die kritiek baie na aan die getuigskrif. Een waarvan selfs die goedige Visser waarskynlik nie gebruik sou gemaak het nie. Ek wil my selfs verstout om in Visser se afwesigheid namens hom te antwoord op Van Melle se ‘vergoeliking’ van hom. En dan met Visser se eie woorde, en wel die tweede strofe van die hekelpuntjie ‘Lewe’ (Gedigte):
Die goeie sterf jonk. Is die rede miskien
Om te lewe ontbreek hul die moed?
Dis beter op aarde - dit moet hulle sien -
Veel beter: goed dood as doodgoed!
| |
| |
Maar Van Melle se betoog is intussen glashelder. Vir hom is Visser ‘geen groot digter ... nie, maar 'n middelmatige’. Want, ‘wel het hy die vermoë om sy gevoelens duidelik te kenne te gee, maar die gevoelens is nie besonder sterk of diep nie en die gedagtes waaruit die gevoelens gebore is, of wat deur die gevoelens gebaar is, is oor die algemeen alledaags en oppervlakkig. Sy simpatie met mense is so dat dit jou dikwels nie groteliks ontroer nie; sy vaderlandsliefde is wel sterk, maar nie soos dié van Leipoldt of Celliers nie. Die liefde vir die beminde vrou is miskien die enigste gevoel wat by hom 'n hartstog was, maar ook selfs daar voel jy die gebrek aan diepte in sy natuur.’ (Gedenkalbum, bl. 97.)
Nêrens anders in dié tyd, en selde later, is Visser se formaat so nugter en byna koelbloedig uitgespel nie. Maar nog interessanter is Van Melle daar waar hy, in sy uitvoerige peiling van Visser se vermoëns as digter van ‘lagwekkende gedigte en gediggies’, ontpop as literatuurteoretikus. Hy ken nou wel nie ‘die name van al die woorde’ nie, hy gebruik gewone nietegniese taal: ‘Lagwekkend’, betoog hy, ‘kan mens verdeel in humor, geestigheid, ironie, sarkasme, spot, grappigheid, vrolikheid. Hierdie eienskappe is dikwels nie skerp van mekaar te onderskei nie, want hulle vloei dikwels inmekaar oor. Humor gaan dikwels gepaard met geestigheid, ironie en spot; vrolikheid met grappigheid en so meer; maar oor die algemeen kan jy sê dat humor diepte het, dat geestigheid 'n uiting is van gevatheid en 'n skerpe blik, maar dat vir grappigheid en vrolikheid nie veel gevoel of insig nodig is nie, terwyl in ironie en sarkasme altyd 'n meerdere of geringere mate van bitterheid aanwesig is ... Ons kry by Visser nie veel humor en byna geen sarkasme nie, maar wel al die ander vorme van die lagwekkende.’ (Gedenkalbum, bl. 94.)
As voorbeeld van spot wat bytend is, haal Van Melle een van Visser se ‘borsbeeldjies’ aan, ‘'n Teoloog (17e eeu)’: ‘Hy is nie net gereformeer, / Maar - nota bene - streng! / Van al die Engele op die leer / Sien hy maar net die “eng”!’ Die slotsom waartoe die lees van hierdie en ander lagwekkende gedigte Van Melle voer, val duidelik ongunstig uit: ‘In sy lagwekkende poësie is Visser nie op sy beste nie. Dis gewoonlik maar 'n gerymel. Dis waar dat gedigte wat mens laat lag, byna nooit mooi van klank is nie. Dit skyn moeilik te wees om welluidend te lag en Visser kry dit oor die algemeen ook nie reg nie.’ (Gedenkalbum, bl. 96.)
Van Melle is met sy ‘gerymel’ as veralgemening die kluts duidelik kwyt. Tog vind ek sy karakterisering van Visser se luimige werk as ‘grappig’ en ‘lagwekkend’, weer eens as veralgemenings, nader aan die kol as Van Wyk Louw se aanpak daarvan onder die banier van die ‘geestige’ - al het Louw, soos ek kortliks sal aantoon, in die ‘geestige’ 'n klassifikasie in
| |
| |
vier soorte aangebring. Ek sal Van Melle se gelyk voorlopig probeer aantoon met die einste ‘'n Teoloog (17e eeu)’.
Van Wyk Louw vind die borsbeeldjie ‘fyn geestig’. Maar: die speel met die dubbele betekenis van die woord ‘leer’ is duidelik mank in die een been: die betekenis ‘klimleer’ ontvang naamlik kontekstueel dermate voorkeurbehandeling dat die betekenis ‘leerstelling’ of ‘dogma’ op die agtergrond geskuif word. Hierdie tweede betekenis moet bygesleep word. Die sentrale spelmaneuver bestaan daaruit dat die woord ‘streng’ ingespeel word op sy eie klankonderdeel ‘-eng’ (dus nie op 'n morfologiese, dus potensieel betekenisdraende onderdeel nie!). Vir die realisering van hierdie nogal drastiese spelreël moet die taalbeskoulikheid en met name die woordvormbewustheid deur die aanhalingstekens eksplisiet en nadruklik aangewakker word.
Klankvormspel kan veel ingrypender in 'n gedig resoneer. En Visser het dit self presteer, bv. in die volgende strofe uit ‘Vet’ (Rose van herinnering) waar die be-swaarde ou tant Siena die kerk binnekom:
Verlede Sondag in die kerk,
Merk ek nog weer die wonderwerk,
Sy wou gaan sit, toe sit sy al!
Die betrokke konteks is hier agterwêrelds:
Suid-Afrika! So moes Van Wouw,
Presies soos sy, jou beeltnis hou:
Swaar die Verlede agter, hoor,
Maar groter nog die Toekoms voor!
Die konteks bewerkstellig hier homonieme-spel: ‘geval’ word hier nie enkel met die betekenis ‘voorval’ (Engels ‘case’) toegepas nie; die verreikende onderdeel laat die tante haar sit vroegtydig kry, sodat ‘geval’ bowendien die verlede deelwoord van die werkwoord ‘val’ is. Die splitsing geskied hier langs die woordnaat self, met as een van die twee morfeme die woorddeel ‘val’ wat hier kontekstueel volledig en in sy eie reg geïntegreer is.
Albei strofes wys terloops hoe gedurf Visser se spel by geleentheid is. Tussen al die standbeelde van volkshelde wat in dié tydperk ver-dig is, is Visser se verwysing na die Van Wouw-beeltnis 'n volstrekte unikum. Hy word daarmee, en baie lank vóór die tyd, die voorloper van die ‘uitlander’
| |
| |
Peter Blum wat ná hom die eerste een is wat (in ‘Oor monnemente gepraat’) dit sal waag om hom in ligte luim oor ons gebeeldhoude helde en ander historiese figure uit te laat.
Ook Louw het, soos ek reeds aangedui het, die geestige poësie probeer klassifiseer. En wél in vier groepe: dié wat ‘“grappig”’ is; dié wat ‘“fantasties”’ is; dié wat ‘bloot (!)“onsinnig”’, ‘“onsin”’, ‘“nonsens”’ is; en dié wat ‘geestig’ is.
Die kwalifikasie ‘bloot’ by ‘onsinnig’ en sy maats dui, soos ek reeds met my uitroepteken te kenne wou gee, op 'n houding teenoor ‘nonsenseverse’ by Louw wat volgens my te negatief is. Ek wil onmiddellik daaraan toevoeg dat Visser volgens my geen egte ‘onsin’-verse geskryf het nie. Visser het 'n aanvoeling vir die snaakse, die grappige, maar die werklik ‘absurde’ lê m.i. bo sy redelik onverwikkelde vuurmaakplek. Visser is te skerp, sy kwinkslag wil 'n waarheid met 'n onweerstaanbare, onweerspreekbare rym beklink. Om die absurde te ‘karteer’, om dit met dolheid en al vol te hou, om progressief met die uit-een-setting van die absurde te vorder, is 'n soort gekompliseerdheid en 'n verbeeldingstoerusting nodig wat Visser m.i. nie besit het nie. (Ek dink Van Melle sou dit hier met my eens gewees het.) Die naaste wat hy aan so iets kom, is 'n kindergedig wat Louw as ‘fantasties’ rubriseer: ‘Weg is die wapad’:
Want die motor, soos 'n tol,
Hoe sal ons die koers nou kry
As ons weer wil huis toe ry?
Of waarskynlik het Louw gelyk met nog 'n voorbeeld uit Uit ons prille jeug, die gediggie ‘Om baie vinnig te lees’:
Lang Jan Louw met sy blou pak klere
Dra drie donker pronkpouvere;
Saai die slaaisaad in die saadslaai-akker.
Dis darem ‘minder blote onsin as die vers van Edward Lear wat ek 'n vorige keer as tipies van hierdie soort genoem het’, sê Louw. En dan sê hy inderdaad ongeveer dieselfde as wat ek hierbo beweer het: ‘Visser was te geestig en te intellektueel vir hierdie tipe.’
Maar, weer eens die wrewelrigheid (‘minder blote onsin’) teenoor die ‘onsin’-vers. Waarby ek in alle billikheid darem die betrokke Lear-voorbeeld moet aanhaal:
| |
| |
There was a Young Lady of Lucca
Whose lovers completely forsook her
and said: ‘Fiddle-de-dee!’
Which embarrassed the people of Lucca.
Inderdaad: as dít norm moet wees vir ‘nonsense-verse’, dan sou ek ook nie geesdriftig daarvoor wou instaan nie. Maar dis geen onsin in die sin van 'n volgehoue eksploitasie van die absurde nie. Dis maar álte voor-die-handliggende en volkome volgbare rymelary - 'n genre wat daarom ook tallose navolgers gelok het.
Maar ook die ‘Om baie vinnig te lees’ van Visser, hoewel die opeenvolging willekeuriger, grilliger is as dié by Lear, is nog geen loutere onsin nie. Die opeenvolging is ingegee deur die resep wat die vaardige Visser rats toepas: maak 'n tongstruikelaar. Visser was bedrewe met dié soort ding. Vergelyk maar, ook uit die kinderbundel, ‘Liefde met gevoel’, 'n gediggie wat spesiaal ‘geartikuleer’ is vir ‘'n outjie wat met die tong stoot’. Die grillige, die absurde sit met ander woorde nie in die konsepsie self nie. Vergelyk daarteenoor - en ek kies 'n ‘maklike’ voorbeeld, Christian Morgenstern se ‘Der Apfelschimmel’:
Er war einmal ein Schimmel,
der war so weiss, dass man ihn gar nicht sah.
Eines Tages stand dieser Schimmel an einem Apfelbaum
und rieb sich den Hals an seinem Stamm.
Der Apfelbaum wurde fast verrückt;
denn er sah niemanden, der sich an ihm rieb,
und fühlte doch, dass es so war.
Und er begann seinen Verstand zu verlieren
Der Schimmel aber erschrak so sehr über die plötzlich herabregnenden
Äpfel, dass er eine Hautkrankheit bekam, welche die Äpfel nachahmte.
Seitdem gibt es Apfelschimmel.
Ek kan uiteraard nie voluit op hierdie gedig ingaan nie. Maar ek sou nogtans op sy minste die aandag wou vestig op die merkwaardige verskil tussen die eerste en die tweede gedeelte, 'n verskil wat meteen ook progressie meebring. In die eerste ‘strofe’ word die leser volkome gefassineer en meegesleur deur die fyn kwaliteit van bv. die eerste en waaragtig oor- | |
| |
tuigende beduiery: ‘der war so weiss, dass man ihn gar nich sah’; hierdie poëtiese oortuigingskrag word gedurende die eerste deel volgehou - tot in die ‘voel’-parallel vir die ‘nie-sien’ -, maar dan in die tweede deel pront deur potsierlike en uitgesproke ‘prosaïese’ onsin vervang: die woordspel wat moontlik gemaak is deur die ‘besieling’ van die appelboom - hy verloor saam met sy verstand sy appels - word byna openlik prosa en deursigtig. En hiervandaan is dit maar enkele stappe voordat die belaglike konsekwensies van die absurde tóg nog boeiend uitgespeel word: die velsiekte begin die appels naboots - met as resultaat die appelskimmel.
Om die vergelyking te vergemaklik, kan 'n mens maar net een van Visser se grappige Arkdiere teenoor die appelskimmel stel. Byvoorbeeld ‘Die seekoei’:
Die ou vetsak wat daar woedend brul,
Is die bitsige ou seekoei-bul.
Wat sê u, hooggeleerde Dominee?
Is dit 'n contradictio in terminee?
O nee, ek weet hy is gedoop aldus:
Dis duidelik nie perde van dieselfde kleur nie. En, die vergelyking is in meer as een opsig onbillik.
Natuurlik: Visser ‘beklink’ sy vonds telkens met die rym; Morgenstern maak dit vir hom op die oog af, maar werklik alléén maar op die oog af, makliker.
Maar, somtotaal en ten slotte: Visser is ongetwyfeld meester van die kwinkslag wat met die rym beklink word, die kwinkdig. Die woordspel is vindingryk en onbedwingbaar, ook waar die erns by andere die mond in die plooi sal hou. Die aanleg is trouens reeds in sy heel eerste gepubliseerde gedig duidelik: in die ‘Samespraak tussen Jan Angeneem en Klaas Afgesê’ waarin Visser die ‘twe kante’, die teenstelling, benut wat so dikwels die vangriem by die woordspel is. En die agtienjarige is reeds meesterlik op sy stukke waar Sarie Takhaar se voetjies dit moet ontgeld van Klaas Afgesê wat natuurlik steeds die peits van die laaste woord hanteer:
| |
| |
- En dan twe mooier voetjiis
Hy het onmiddellik al die homonieme-moontlikheid van ‘voet’ benut. En nog vroeër, toe nog op skool saam met die ernstige Totius op die Hugenote-Gedenkskool in Daljosafat, reageer die jong Vissertjie op 'n berisping van die prinsipaal met een van die rympies wat hy ‘sommerso gedurende die les’ (P.H. Langenhoven in Sanger van die Suikerbosrand, Johannesburg 1950, bl. 35) onder sy maats rondgestuur het:
Now, look now boys, is this the way
When I am at home to kry vir my?
But now I will vir jul excuse
En sorg dan vir no more abuse.
Kan julle dan geen goed meer doen,
When out of my eye geen stilte betoon?
It really is an awful shame
That will not by water be washed from jul name.
Die besondere is dat die Carnarvonseuntjie, die aanstaande rymvirtuoos, raak moes geluister het om die Algemeen-Beskaafde ‘doen’ met die Boelandse ‘betoon’ van sy maats te laat rym!
Oor sy hoogtepunte soos ‘Lotos-land’ en ‘Toe die wêreld nog jonk was’ wil ek, ná alles wat sedert Flip Grobler daarin goedgevind is, kort gaan. En noem nogmaals die opstelle van Louw en van Schutte. Veral Schutte gaan uitvoerig in op ‘Lotos-land’ se meriete as parodie. Ek meen hy het so ongeveer al die verwysings na Celliers, Visser, Malherbe, Langenhoven, Leipoldt en Totius opgespoor. Dié is inderdaad rats en vermaaklik. Vir my persoonlik is die toppunt van die verwysingspel, waarop Schutte ook wys, die wyse waarop die les van die Eerste Beweging-digters ten slotte geparodieer word. Die toppunt van die woordspel is vir my die heerlike dwase dierasie, ek lol ál terug appelskimmel toe, wat moet beduie hoe mak die rooibokke is: ‘Die rooibokke wei by die tente, / Net so mak soos die bok van 'n wa.’ En getuie, en daarmee beduie ek terug na bv. ‘Rosa Rosarum’, getuie hoe 'n sterk sensuele beheer Visser oor die klank het: ‘Te glad sit jul tawwerts, O Moeders’, waarin, soos Schutte tereg aantoon, ‘die ongewone 'tawwerts' klanksimboliserend is’.
| |
| |
Ná dit alles - die geestige en die ernstige en nog wat - wil ek met meer oortuiging, want met hopelik meer bewysmateriaal, afsluit op die noot waarop ek dit in Visser se geboortejaar twee jaar gelede gedoen het. Ek sien kans om Louw se bose sinnetjie tot die volgende te probeer ompraat: ‘Verbeel jou 'n volk wat 'n literatuur sonder sy A.G. Visser het!’ Ek dink dis gewoon ‘poetic justice’ om Louw te laat hand bysit in hierdie hoëre skatting van die hele Visser. Soos ek hóm geken het, sou hy my met 'n lig-ironiese glimlag my gang laat gaan het.
Merwe Scholtz
|
|