like kwalitatiewe ongelykheid wat by 'n dergelike bundelgasvryheid moet bestaan.)
Dit het my verantwoord gelyk om in 'n bylae die datum en naam van die tydskrif of koerant te verstrek waarin die gebundelde gedigte vir die eerste keer gepubliseer is. Dit is geen volstrekte bewys van die chronologiese orde waarin die gedigte ontstaan het nie, maar deur omstandighede gee dit tog 'n redelike betroubare aanduiding daarvan en dus ook van Visser se (blitssnelle) ‘ontwikkeling’ - sowel gunstig as ongunstig - as digter. Veral die verhouding tussen die eerste en tweede uitgawe van Gedigte word deur hierdie gegewens in belangrike opsigte verhelder.
By die opstel van hierdie bibliografiese gegewens, is dankbaar gebruik gemaak van die twee bestaande Visser-bibliografieë. In die eerste plek van die NALN se A.G. Visser: Bibliografie wat nuttig is omdat hy o.m. 'n alfabetiese lys (titels) van gepubliseerde gedigte bevat. A. Brink se Andries Gerhardus Visser 1879-1928, Bibliografie, 'n produk van die Carnegie-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch, is gedeeltelik gebaseer op dié van die NALN en is op sy beurt veral bruikbaar deur die afdeling ‘Poësie in tydskrifte - kronologiese lys’. Dit haper in die heel begin so ietsie aan die chronologie, maar die lys kom dan betreklik gou op stryk.
By die gereedmaking van die lys vir die bylae, het dit geblyk dat albei bibliografieë verkeerdelik 'n stuk of twaalf tydskrifgedigte noem wat volgens hulle ongebundel is. Die foute is in die bylae reggestel - die misvatting is doodgewoon toe te skryf aan die feit dat die betrokke tydskrifgedig met 'n ander titel na die bundel verhuis het.
Die werklik ongebundelde gedigte is min. Hulle word volledigheidshalwe almal opgeneem. Dit is betreklik duidelik waarom hulle ongebundel gebly het.
In die NALN-bibliografie word verwys na Visser-manuskripte in die NALN-versameling. Fotokopieë is goedgunstiglik aan my beskikbaar gestel en m.i. relevante/interessante gegewens word telkens in die bylae by die betrokke gedig verskaf.
Soos aan die begin aangetoon is, het dit geen sin om die bundels telkens aan te bied soos wat hulle daar in die eerste druk uitgesien het nie. Wat destyds in die eerste twee drukke met Gedigte gebeur het, maak 'n dergelike onderneming reeds sinloos: die tweede druk bevat 65 gedigte teenoor die 41 van die eerste druk. Daar het nie alleen gedigte bygekom nie, die indeling verskil ook. Om die leser 'n insig in die oorspronklike toedrag van sake te gee, is die inhoudsopgawe van die eerste druk in 'n bylae afgedruk.
Die voorgaande verklaar waarom die leser in die Versamelde Gedigte by Visser se eerste bundel met 'n ‘in memoriam’ gekonfronteer word.