Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 921]
| |
Keurverhaleaant.1 Die Vonnis op Regter De WildtVir die aanleg van die plaas Eensaamheid was die naam meer as geskik. Onmiddellik agter die huis was die opgestapelde rante van die uitlopers van Rooiberg. Om die huis was die yl bosveld van dié geweste en tot aan die grense van die skoongemaakte tuingrond was 'n plaat tamboekiegras, so hoog dat elke voetpad wat na die huis lei, volstandig weggesteek was totdat die besoeker onverwags die een of ander kruis. Die huis was 'n woning met hoë gewels en 'n diep donker stoep aan drie kante; die sigbare mure almal glansend wit. Om die naam nog meer gepas te laat skyn, was die woning omhul deur 'n atmosfeer van die diepste vrede en stilte - vir 'n tyd altans was daar stilte. Dit was vroeg in die oggend net ná ontbyt. In die gemakstoel op die voorste stoep was die ou heer, regter De Wildt, self sigbaar agter die blaaie van 'n koerant verskuil. Die nuusblaaie bereik Eensaamheid slegs een maal in die week sodat die belangstelling van die ou heer in sy koerant vanself begrypbaar was. Daar was min bekleërs van die Suid-Afrikaanse regbank wat 'n meer tragiese lewe agter sig het as regter De Wildt. Hy was reeds lank gepensioeneer en hy het jare voor sy aftrede die eensaamheid uitgesoek as sy woning waar hy sy laaste jare van sy lewe in stilte en vrede sou slyt. Maar voordat hy sy besluit tot uitvoer kon bring, val die een tragiese bom ná die ander om die paar jaar van die lewe wat hom nog oorbly, te verpletter en in 'n donker oproer te dompel. In die eerste plaas moes hy sy beminde ou gade wat hom meer as dertig jaar lank so getrou bygestaan het, skielik afgee. Hulle had slegs een kind, 'n meisie wat destyds haar twee-en-twintigste jaar bereik het. So was dit dat regter De Wildt, in plaas van Eensaamheid in vreugde en blydskap met sy klein gesin - nog almal tesame - te beset, alleen met sy ontroosbare dogter in die nuwe huis sy intrek moes neem. Maar die noodlot had nog 'n skerper pyl in die koker vir die ou regter. Tot sy skrik en verbasing moes hy eendag onverwags van sy dogter, Marie de Wildt, die verpletterende tyding ontvang dat sy en Hendrik du Plessis verlief was op mekaar en dat sy reeds besluit het om met hom te trou. As daar een jongman in die wêreld was wat die regter as 'n ongewenste skoonseun beskou het, dan was | |
[pagina 922]
| |
dit Hendrik du Plessis. Genoeg is dit om te sê dat die regter 'n gevoel van die grootste afkeer jeens Hendrik gekoester het vandat hy hom die eerste maal in die stad ontmoet het en dat Hendrik se omgang met sy dogter hom altyd met die diepste wrewel vervul het. Maar hy het spoedig ingesien dat hy niks kon doen om met die hoë hand 'n einde aan die saak te maak nie, veral nie gedurende die leeftyd van sy vrou, wat klaarblyklik die toenemende liefde tussen haar dogter en Du Plessis goedkeurend beskou het. Alles aangaande Du Plessis was vir die ou heer hinderlik en 'n bron van ergernis. Hy kon die jong man se ouers en familie nooit te sien kry nie. Waarom hy hulle nooit kon ontmoet om behoorlik kennis te maak nie, kon hy nooit uitvind nie, maar daar was altyd een of ander ekskuus. Hulle was nooit bereikbaar nie: hulle was altyd so ver weg dat daar nooit sprake van 'n gesamentlike besoek met sy vrou en dogter was nie. En daarmee het sy dogter om een of ander onverklaarbare rede ook ingewillig, waarskynlik deur Du Plessis daartoe oorgehaal. En toe sterf die ou moeder van die gesin en 'n tyd lank het regter De Wildt die hoop gekoester dat hy nou in staat sou wees om sy diep beminde en enigste kind uit die hande van die verleier te red. Hy het Eensaamheid aangekoop, die huis laat bou en om ontslag en pensioen aansoek gedoen. En daarheen het hy en Marie kort ná die begrafnis van die moeder vertrek. Maar die ou regter het die liefde geminskat. Sy eerste stap was om Hendrik du Plessis te verbied om Eensaamheid ooit te besoek of enige omgang met sy dogter te hou. Hy was van gevoel dat dit genoegsaam sou wees om dadelik en vir goed 'n einde aan die saak te maak. Was hy nie jare lank hoofregter van Suid-Afrika nie, waar sy woord wet was? Waar hy van sy hoë bank onteenspreekbare vonnisse kon lewer; mense lewenslank tronk toe kon stuur; een ná die ander tot die galg verdoem? Die dag toe hy van die regbank aftree, moes hy aan een van sy mederegters erken dat hy hom nie kon herinner hoeveel mense hy tot die doodstraf veroordeel het nie. ‘Maar dit sal my geen slaaplose nag verskaf nie. Die skuld lê op die siele van die jurie, of hoe?’ het die ou man met 'n glimlag bygevoeg. ‘Ja,’ antwoord die jonger regter, ‘dit is waar, die jurie is die span, maar dit is die regter wat die ploegstert beheer.’ In sy dogter se liefdesgeval het regter De Wildt selfs nie eens die ploegstert in hande gehad nie. Hulle had skaars op Eensaamheid ingetrek toe die laaste noodlotsbom die ou man tot in die stof verpletter. Sonder dat die suspisie selfs ooit by hom ontstaan het, moes die ou heer met dagbreek van die bediendes verneem dat Marie die vorige nag nie in haar bed geslaap het nie en dat sy Eensaamheid gedurende die nag met 'n snelle motor verlaat het. Sy het 'n brief agtergelaat, aan haar vader gerig. Hy wis wat die inhoud was voordat hy selfs die koevert oopmaak. Marie gee hom te kenne dat sy haar deur Du Plessis laat | |
[pagina 923]
| |
skaak het en dat hulle van plan was om in die eerste bereikbare dorp hul huwelik te voltrek, waarvoor al die nodige dokumente reeds gereed was. So woedend was die ou heer ná deurlese van hierdie brief dat dit 'n wonder was dat 'n slag van beroerte nie daar en dan 'n einde aan sy lewe gemaak het nie. Hy, hoofregter van Suid-Afrika, dat twee jong snuiters hom met sodanige minagting kon behandel! Dit was ondenkbaar! Soos 'n briesende leeu het hy op die stoep op en neer gestap, tot uiterste ontsteltenis van die bediendes. Sy eerste stap was om dadelik met sy prokureur in verbinding te tree en om deur hom die gebod uit te vaardig dat nòg Du Plessis, nòg sy dogter ooit weer binne die drumpel van sy deur toegelaat sou word nie. Hy wou nooit weer van hulle hoor nie, hulle nooit weer ontmoet nie. Marie was langer geen kind van hom nie! Maar bloed kruip waar dit nie langer kan loop nie. Dit was iets wat die hoofregter nie in ag geneem het nie. Met die uiterste geheimsinnigheid het regter De Wildt gedurig met sy prokureur in aanraking gebly en alle nuus van Marie is langs hierdie weg gereeld na Eensaamheid deurgestuur. Hy het van die geboorte van die eerste kind, 'n seuntjie, op die dag waarop dit gebeur het, verneem, toe van die tweede kind, 'n dogtertjie. Die ou heer kon skaars binne sy skoene staande bly toe hy verneem dat die seuntjie na hom genoem is. Maar hy het aan Marie nooit 'n skim van sy trots laat blyk nie. Hy het nooit gevra om die kinders te sien nie, nooit aan die hand gegee om die vrede met die Du Plessisfamilie te herstel nie, nooit, totdat die noodlot dit as 't ware vir hom verpligtend gemaak het. Kort ná die geboorte van die tweede kind ontvang hy 'n dringende telegram van sy prokureur in die stad: ‘Marie is sterwend - haar man, Hendrik du Plessis, het twee nagte gelede in sy motor verongeluk terwyl hy op reis was om 'n tweede dokter van die hospitaal te haal. As jy jou kind nog vir laas voor haar donker reis wil vaarwel sê, kom in alle haas, haas, haas, haas!’ Hy het in alle haas die reis gemaak, die arme ou heer, nag en dag sonder staking vir rus en ete. Met betraande wange en 'n versmelte hart ... maar hy was te laat! Toe hy vroeg die volgende oggend ná sy vertrek van Eensaamheid by Marie se huis aankom, het die huis hom dadelik die vreeslike konde gedoen. Daar was 'n afgryslike stilte oor alles. Die gordyne was dig, die deure toe en in die agterplaas was daar vreeslike dwalende gedaantes in swart geklee. Dit was nie nodig om hom hul amp en doel te vertel nie. Dit was die lykbesorgers, besig met die laaste besonderhede van hul skrikwekkende besigheid. In die gang word die ou heer deur 'n dame in wit geklee met 'n klein bondeltjie in haar arms, voorgestaan. Hy wis dadelik dat dit die verpleegster was en die bondeltjie in haar arms was sy tweede kleinkind. Aan haar wit voorskoot vasgeklem, was 'n klein seuntjie klaarblyklik deur al die ongewone omstandighede tot stilte verskrik. Dit was sy oudste kleinkind, Hansie; hy wis dit sonder dat iemand hom dit hoef bekend te maak. Met aanhoudende snikke neem hy | |
[pagina 924]
| |
die klein bondeltjie op lompe wyse in sy ou arms. ‘Pas op, meneer!’ sê die verpleegster, ‘sy is nog maar baie tengerig en sag.’ Met dowwe oë staar hy na die klein wit gesiggie, skoon soos 'n pas-ontluikte blommetjie, terwyl sy trane die sagte klein wangetjie benat. Toe hy weer tot sigself kom, was hy knielend langs die bed van Marie waar sy stil in haar ewige slaap lê, met geslote oë en marmerwit gesig, omring deur wit blomme. So stil was sy - so vreeslik stil. Hoe het hy nie na 'n enkele klein begroeting van haar verlang nie; maar goed wis hy dat geen woord van hom haar ooit weer sou bereik nie. Hy kon haar nooit weer om vergifnis vra nie. Geen boodskap van die sagte lippe met die wonderlike sweem van 'n glimlag sou hom ooit weer op aarde bereik nie. Terwyl hy snikkend langs die bed kniel, voel hy 'n sagte, vreesagtige druk op sy arm. Dit was sy kleinkind, Hansie (dieselfde kort naam wat hy as skoolseun gevoer het) wat hom met verskrikte oë aanstaar. Hy had waarskynlik nog nooit tevore 'n oumens trane sien stort nie. Hy begin dadelik 'n kindergesprek: ‘Ek weet wie jy is; jy is my oupa - my groot oupa wat al die skelms tronk toe gestuur en laat ophang het.’ Hy staan orent met die seuntjie in sy arms vasgedruk, die verpleegster langs hom met die baba nog in haar arms. ‘Ek, onwaardige!’ roep die regter met ontwroegde hart, ‘welke reg had ek, ellendige, om oordeel te vel oor my ewemens. Ag, liewe God, had ek nou hier die mag om die dodes wat ek in my leeftyd veroordeel het, terug te roep! Met welke ootmoed sou ek dit van God nie smeek nie, al was dit ten koste van my eie onwaardige lewe wat nog oorbly.’ ‘Dit is my Mammie,’ fluister die sagte stemmetjie in sy oor. ‘Sy slaap nou. Tant Maria sê sy sal nie weer wakker word nie. Maar ek weet dis sommer 'n jokstorie. Ek weet goed hoe om haar wakker te maak. As ek haar op haar lippe soen en saggies sê: “Mammie, Mammie, hier is ek - Hansie!” dan maak sy dadelik haar oë oop en neem my in die bed langs haar. So maak sy altyd.’ Maar die ou man kon dit nie langer aanhoor nie. ‘Luister, Hansie, jy en jou nuwe klein sussie gaan saam met Oupa plaas toe. Daar sal julle elkeen 'n klein perdjie van Oupa kry en julle sal gou leer om te ry.’ Hansie gee 'n spotlaggie. ‘En kyk hoe klein is sy! Sy kan nog nie eens regop sit nie; hoe sal sy kan ry?’ Maar die storie van die plaas en die klein perdjie het spoedig sy verbeelding in beslag geneem. Die res van die dag het hy aan sy oupa vasgeklem gebly met 'n eindelose stroom vrae oor die plaas en al die nuwighede van die begrafnis wat hy toe vir die eerste maal moes aanskou. Jare het verbygegaan totdat ons op die tydstip kom waar hierdie storie 'n aanvang neem. Hansie, die seuntjie, was reeds sewe jaar oud en Donsie, die dogtertjie, 'n klein, ronde vetsak, was in haar vyfde jaar die oggend toe Oupa soos sy gewoonte was, op die stoep sit om die koerant te lees. | |
[pagina 925]
| |
Skielik hoor hy die stemme van die twee kleintjies langs die gewel, binne sy gehoor maar buite sy gesig. ‘Donsie, ek sal jou sê wat speel ons! Ons speel kommando soos Oupa ons gewys het. Hy sal die Kafferkaptein wees en ek en jy sal die kommando wees. Jy kan die voorhoede wees. Kyk, ons rietperde is nog altwee klaar hier langs die oond.’ Oor Donsie se gesiggie trek dadelik 'n wolkie van weersin. Hansie se kommando maak haar altyd bang. Oupa kan sulke vreeslike gesigte trek en so hard skree terwyl hy op die bliktrommel slaan. ‘Nee, Hansie,’ sê sy, ‘ek sal jou sê, ons speel “skool” of “huis”. Jy kan skoolmeester wees en my hard slaan as ek die les nie kan opsê nie.’ Maar Hansie se hart was vas op kommando gerig. ‘Kom Ousus, moenie 'n ouvrou wees nie. Wys dat jy 'n man is. Ek sal die perde gaan haal en dan sal ek Oupa roep om die Kaffers te wees, êrens om die draai van die stoep. Die een wat eerste met sy plankgeweer aanlê en “doem” skreeu, het natuurlik eerste geskiet en dan moet die ander een plat val, en as dit Oupa is, dan bind ons hom hand en voet vas as gevangene.’ Maar Oupa het ewe min lus vir kommando speel as Donsie. Terwyl die kleintjies met die plankgewere en die rietperde besig is, laat die ou heer die koerant saggies op die stoep sak en binne drie katspore op sy sagte velskoene is hy in die donker hoekie agter die voordeur, waar hulle lank sal moet soek voordat hulle hom kry - waarskynlik totdat Hansie die kommando glad vergeet het en hulle met 'n ander speletjie besig is. Nie lank nie of hy hoor Hansie se klinkende stemmetjie en die sleep van die rietperde die gang op: ‘Oupa! Oupa! waar is jy? Kom gou! Ons gaan kommando speel en jy moet Kaffers wees.’ Maar van Oupa agter die deur kom nie die fynste geluidjie nie. Hy staan so stil soos 'n haas in die donker skaduwee. Hulle sou lank voor hom moeg word - dit is wat hy hoop. Binne 'n halwe tree van hom gaan hulle verby na die voorste stoep. Hy hoor die stemmetjies nog voortgaan. ‘Hy kan nie ver wees nie, kyk hier lê sy koerant nog. Oupa! Oupa!’ En toe skielik is daar 'n tyd lank stilte. ‘Wie is dit?’ vra Hansie. ‘Dis 'n vreemde man. Kyk, Donsie, wat 'n vreeslike baard het hy. Hy gaan by ons voorhekkie inkom.’ Dit was die bevel vir aftog van die voorhoede van die kommando. Perd en geweer het in die slag gebly op die voorstoep en Oupa sien haar klein voetjies verby hom kletterend die gang afgaan na die kombuis, waar sy verskrik en uitasem aan Dina berig gee van die aankoms van die vreemdeling met die vreeslike baard. ‘Nou roep dan die ou seur, nonnie, sodat hy die man kan dagsê en binnenooi.’ Maar dit het Donsie met uiterste beslistheid geweier. Een oogaanskouing | |
[pagina 926]
| |
van die vreemdeling was vir haar genoeg. Totdat die besoeker veilig onder Oupa se beskerming is, sal sy die kombuis onder geen voorwaarde verlaat nie. En toe hoor die regter uit sy skuilhoek 'n vreemdeling met growwe stem in gesprek met Hansie. ‘Môre, seuntjie, is jou mammie of pappie tuis?’ ‘Ek het geen mammie of pappie nie. Hulle is altwee dood. Al wat ek het, is een sustertjie en een oupa en dit is hy wat hier woon.’ ‘Ek sal bly wees, ou seun, as jy dan jou oupa wil vertel dat ek aangekom het en graag met hom wil praat.’ ‘Ek sal hom soek. Ek weet nie waar hy is nie.’ Maar voordat Hansie sy onderneming tot uitvoer kon bring, maak Oupa self half skamerig sy verskyning van agter die voordeur. Voor hom op die stoep staan 'n groot, forsgeboude man met 'n ruie swart baard wat die grootste deel van sy breë bors soos met 'n mantel bedek. Hy dra 'n min of meer verflenterde broek en hemp en deur die stukkende en gelapte velskoene is deel van sy kaal voete sigbaar. Duidelik het die man onlangs 'n swaar tyd deurgemaak. Om sy skouer is 'n bladsak van bokseil waarin hy waarskynlik sy bietjie padkos bêre. Die regter groet hom beleef. ‘My naam is De Wildt. Ek was vroeër hoofregter; as sodanig het u waarskynlik tevore van my gehoor.’ ‘Dit spyt my,’ antwoord die vreemdeling met 'n growwe, bars stem. ‘Ek was so lank buite die beskawing dat ek 'n vreemdeling in Jerusalem is. Ek sal egter meer as dankbaar wees as u my een of ander rusplek in 'n buitevertrek vir vandag en vannag kan afstaan. Ek het van die stad te voet gestap en ek is nou gedaan. Ek sou nie 'n myl verder kon voortsukkel nie. Ek is bekwaam en gereed om enige werk as vergoeding daarvoor te verrig en ek dink nie dat u rede sal hê om te kla nie.’ ‘Kom binne, my vriend. Ons kan darem iets beters op Eensaamheid vir u doen as dit. Ek sal die middagete dadelik gaan aanhaas. Miskien sal u liewer hier op die stoep sit. Neem hierdie gemakstoel. Hansie, vra vir Dina om twee koppies koffie en 'n paar beskuite te bring. Ek sal haar self vertel om met die middagete haastig te wees want dit kom my voor, vriend, as u my wil veroorloof om dit te sê, dat 'n stewige maaltyd u goed te pas sal kom.’ ‘U vermoede is reg, Edelagbare! Ek het gisteroggend laas geëet ... Waarom sal ek 'n geheim daarvan maak? Dit was nie my skuld nie - dit kan ek u plegtig verseker, Edelagbare.’ Die regter kyk sy besoeker nuuskierig aan. Die gebruik van die regstitel is bepaald ongewoon. Hier was iemand wat waarskynlik in een of ander gedeelte van sy leeftyd met howe te doen gehad het, waarskynlik een of ander mindere betrekking in een van die laere howe beklee het, maar die ou heer was van nature te beleefd om hom oor sy verlede uit te vra. | |
[pagina 927]
| |
Sulke terughoudendheid had die vreemdeling egter nie. Hy het dadelik begin vrae stel. ‘Is u vrou tuis, Edelagbare?’ ‘My vrou is lank reeds dood.’ ‘Dit spyt my, Regter. Ek sou daar geen melding van gemaak het nie as ek iets daarvan wis. Maar wie se twee kindertjies was dit dan wat ek op die stoep gesien het toe ek aankom?’ ‘Dit is my kleinkinders. Ook hulle is wese. Vader en moeder is altwee dood op een dag, die moeder met die geboorte van die klein dogtertjie en die vader het in 'n ongeluk omgekom terwyl hy op weg was om 'n tweede dokter te haal.’ Weer druk die vreemdeling sy spyt en jammerte uit en weer gebruik hy herhaaldelik die titel ‘Edelagbare’. Dit was binne 'n uur dat Dina die middagmaal kom aankondig. ‘Kom saam, vriend; ek sal jou die badkamer wys waar jy jou kan was en 'n weinig opfris.’ Toe die vreemdeling weer sy verskyning in die gang maak, is sy hare netjies gekam en sy hande en gesig skoon gewas, maar die ou seilbladsak hang nog om sy skouer. ‘Jy kan jou sak hier ophang,’ en die regter dui 'n kapstok in die gang aan; maar dit blyk dadelik dat die vreemdeling daartoe geen lus had nie. ‘Nee wat, Regter,’ sê hy, ‘die klere is reeds so min dat geen deel onnodig verlore moet gaan nie.’ Hulle lag altwee en skouerophalend lei regter De Wildt die weg na die eetkamer, waar die tafel reeds goed gedek staan. Die ou heer neem plaas aan die hoof van die tafel met die twee kleintjies op hoë kinderstoele aan weerskante van hom. Die vreemdeling word 'n plek langs die lengte van die groot tafel aangewys. Die pragtige stinkhouttafel is ontsettend groot, en die vier eters is op 'n klein klompie om die bo-ent gegroepeer. Nieteenstaande sy beweerde honger, eet die vreemdeling maar min. Hy is baie meer geneig om vrae te stel. Dadelik verneem hy na die kleintjies se name. ‘Was hulle die kinders van 'n seun of van 'n dogter?’ ‘Hulle is respektiewelik bekend as Hansie en Donsie. Hul moeder was my enigste kind. Hul vader was Hendrik du Plessis en dit spyt my om te sê dat hy sonder my verlof met my dogter getroud was.’ ‘Hendrik du Plessis?’ herhaal die vreemdeling met 'n verskrikte inademing en 'n skielike liggaamsruk asof hy sy stoel wou agteruitstoot en van die tafel opstaan. Dit het klaarblyklik groot wilskrag geëis om hom weer tot bedaring te bring. Die ou regter was gewoon om bewyse van menslike ontroering op hulle aangesigte te bespeur. ‘Wat makeer, vriend?’ vra hy besorg aan sy besoeker. ‘Het jy Hendrik du Plessis miskien geken?’ | |
[pagina 928]
| |
‘Hendrik du Plessis! Hendrik du Plessis!’ herhaal die swart-bebaarde reus fluisterend. ‘Nee, ek herinner my so 'n naam nie.’ En toe val dit die regter skielik by dat die vreemdeling nog nooit sy eie naam openbaar het nie. Hy vra dadelik daarna. Dit was met hakkelende onsekerheid dat die antwoord ná 'n aansienlike pose geuit word. ‘My naam? My naam? Jy sal dit waarskynlik nooit tevore gehoor het nie. Ek is Piet de Ridder.’ En van daar loop die gesprek in ander rigtings. Dit was nadat hulle klaar was met ete en terwyl hulle nog oor die koppies koffie aan gesels was dat die vreemdeling skielik 'n sonderlinge versoek maak. ‘Edelagbare, mag ek versoek om u alleen te sien? Daar is iets waarmee ek u wil bekend stel, maar dit moet onder vier oë geskied.’ ‘Ag,’ sê die regter, ‘die ou kleintjies is nog te klein om iets te verstaan. Maar ek sal die bediende na die kombuis laat vertrek en die deure tussen ons toemaak. Dit sal tog geheim genoeg wees vir u doel, wat dit ook al mag wees.’ Maar die vreemdeling was nie tevrede nie. ‘Ek moet u tog versoek, Edelagbare, om die kindertjies ook te laat vertrek. Dit sal my veel meer vrymoedigheid gee.’ ‘Soos u wil, meneer De Ridder,’ sê die regter beleefd en met 'n paar woorde vertrek Dina met die twee kleintjies. Agter haar trek sy die eetkamerdeur toe. 'n Tydjie het die vreemdeling doodstil gesit asof hy na die wegsterwende voetstappe luister. Toe alles in die huis weer stil was, staan hy stadig van sy stoel orent. Hy kyk agter oor sy skouer en met drie lang treë was hy by die eetkamerdeur. Met een draai was die deur gesluit en die sleutel in sy broeksak terwyl hy stadig en met die tekens van 'n waaksame roofdier na die tafel terugstap. Hy het egter een groot fout begaan wat hy nooit bespeur het nie. Die slot van die eetkamerdeur was defek en kon nie gesluit word nie. 'n Enkele druk van buite was genoeg om dit oop te maak. Klaarblyklik wis De Ridder niks hiervan nie, wat ook al sy doel met die gepoogde toesluiting was. Die ou regter het gedurende die grootste gedeelte van sy lewe soveel met misdadigers te doen gehad dat hy dadelik kon bespeur dat hy in onmiddellike gevaar was - van welke aard wis hy nie, maar hy was vir alles gereed en hy was nie bang nie. Nooit in sy lewe was hy 'n lafaard nie, en sy lewe was dikwels genoeg in gevaar. ‘Wel, meneer De Ridder, wat volg nou op jou eerste toneeltjie?’ De Ridder leun oor die rug van sy stoel terwyl hy die ou heer stip aanstaar. Stadig steek hy die regterhand in sy bladsak en bring 'n glinsterende Mauserpistool, waarskynlik splinternuut, te voorskyn. ‘As jy kom om my te beroof, kan ek jou veel moeite bespaar deur jou die ver- | |
[pagina 929]
| |
sekering te gee dat ek nie meer as vyf pond in die huis het nie en dit kan jy sonder die minste geweld verkry. My lewe is meer as vyf pond werd,’ sê die ou regter met 'n vrolike laggie. Maar De Ridder antwoord nie. Hy slaan die pistool se veiligheidsknip af en maak seker dat die stuk ten volle gelaai is. ‘Jou vyf pond is veilig, regter De Wildt,’ sê hy uiteindelik. ‘Al was dit vyfduisend pond sou dit net so veilig wees. Ek begeer iets anders as geld van jou. Kyk my stip aan, hoofregter De Wildt. Ken jy my nie? Kan jy jou nie herinner dat jy my ooit tevore gesien het nie?’ en hy leun verder oor die stoel met die pistool gereed in sy hand. ‘Noudat jy my aandag daarop bepaal, kom dit my voor as 'n dowwe en vae herinnering dat ek jou tevore êrens gesien het, maar waar of wanneer, kan ek nie onthou nie. Sal jy my nie die nodige inligting verskaf nie?’ ‘Dit is slegs nodig om jou my ware naam te gee - dan sal jy onthou. My naam is Lukas Petrus de Lange du Plessis. Ken jy my nou, ou man?’ vra die besoeker terwyl 'n sigbare skok deur die spiere van die ou heer trek. ‘Ja, nou ken ek jou, Lukas Petrus de Lange du Plessis. Jy was voor my skuldig bevind van moord op jou vrou en ek het jou tot die dood veroordeel, maar op my aanbeveling het die president jou vonnis tot lewenslange gevangenisstraf verander. En nou is jou begeerte om op my wraak te neem vir die vonnis. Jy het gekom om my te skiet. Gaan voort, Du Plessis. Ek is gereed om te sterwe. Ek is nie bang om die dood op hierdie wyse tegemoet te gaan nie.’ ‘Ek begryp dit,’ brom Du Plessis, ‘want jou straf kan nooit met myne gelyk wees nie. Weet jy wat dit is om jou jare op dié wyse te laat verpletter in die fleur van jou lewe? Ek het vyf-en-dertig jaar in die gevangenis deurgebring! Verlede week het ek vryskelding ontvang. Kyk my hande!’ en hy toon die verhoringde palm van sy linkerhand. ‘So is my lewe tot niet gedaan! As julle my liewer doodgemaak het as om my tot dié vreeslike marteling te veroordeel. En laat ek jou vertel, regter De Wildt, ek was onskuldig. Voor God verklaar ek dit - so onskuldig as 'n engel uit die hemel! My vrou het haarself vergewe en om die gif in die hande te kry, moes sy al die tekens nalaat dat ek dit self gekry het.’ ‘Maar my liewe man,’ sê die regter, ‘ek het jou nie veroordeel nie. Jy is tog bekend met die prosedure van howe. Die jurie het jou skuldig bevind. Ek moes alleen die vonnis uitspreek.’ ‘O ja, o ja,’ sê Du Plessis spottend, ‘asof die jurie ooit tot so 'n gevolgtrekking sou gekom het as jy nie daar was om hulle stap vir stap te lei nie. Jy moet 'n ander verdediging uitdink, regter De Wildt.’ Die regter haal sy skouers op asof hy wat hom betref klaar is met die gesprek. ‘Daar is net nog een ding. Het jy ooit gehoor van Hendrik du Plessis wat met my dogter getroud was?’ en die regter vertel alles wat hy van sy oorlede skoonseun af weet. | |
[pagina 930]
| |
Dit was asof 'n ysstroom oor die groot reus uitgegiet word. ‘Dit was my seun,’ sê hy uiteindelik, ‘die enigste kind van 'n veroordeelde moordenaar,’ en met dié woorde lig hy die pistool om op die regter aan te lê. Hy begin die sneller druk, maar voordat die skoot val, gaan die eetkamerdeur stadig oop. Dit was klein Donsie wat skelmpies binnekruip met 'n glimlag op haar gesig. Sy wil haar oupa iets vertel, maar dit is iets so geheim dat dit alleen in sy oor gefluister kan word. Sy vou haar armpies om die ou man se nek maar in plaas van haar geheimpie te hoor, bedek hy die gesiggie met kusse. Du Plessis staan intussen verbouereerd met die pistool weer in sy bladsak weggesteek. Dit was die regter wat weer eerste praat: ‘Luister, Donsie, jy weet elke mens het twee oupas; dit is jou ander oupa. Dit is jou pappie se vader.’ Sonder 'n woord stap sy om die tafel en hou haar hande na die reus uit. Hy tel haar op en vou sy magtige arms om die sagte lyfie. ‘Dit is vyf-en-dertig jaar dat ek laas 'n kind omhels het,’ fluister hy hees aan die regter. En toe word die armpies om sy nek gevou en deur die ruie swart baard voel hy die sagte lippies op syne. Hy dra haar na die deur. ‘Gaan nou eers na Aia; ek wil vir Oupa iets vertel, liefling.’ Toe Donsie weer uit is en die deur dig, neem Du Plessis die Mauser uit sy bladsak en gooi dit op die tafel voor die regter. ‘Nou kan jy jou vonnis uitvoer, regter,’ sê hy met sy oë vol trane. Maar sy hand word deur regter De Wildt hard gedruk terwyl sy linkerarm om sy skouers geplaas word. ‘Die enigste vonnis is dat Eensaamheid jou woning sal wees solank as dit jou aanstaan en hierdie twee kleintjies sal net soveel aan jou behoort as aan my.’ |
|