| |
Algemeen
1 Die Man met die Mantel
Met die beleg van Pretoria in die oorlog van 1880 was die Engelse se buitenste linie gebaseer op die beskermingsplan om 'n reeks klein vestings rondom die ou Artillerie-kamp te bou. Die stad self is prysgegee en die kamp die middelpunt van die verdediging gemaak. Hier was die ingesetenes van Pretoria tesame met die Britse garnisoen gekonsentreer onder toestande van lyding en gebrek wat al dikwels beskrywe is.
Die lyn van vestings is nooit voltooi nie. Waarskynlik het die Engelse ontdek dat hulle garnisoen te klein was om 'n uitgestrekte linie behoorlik te beman. Slegs 'n gedeelte van die suidelike lyn is voltooi. Dit het uit drie forte en een blokhuis bestaan. Twee van die forte was op 'n rand ten suide van Pretoria en die blokhuis was in Kwaggaspoort. Daarvandaan sou die lyn noordwaarts geloop het, sodat die dorp van die kamp afgesny sou gewees het. Van hierdie forte op die gelykte is slegs een gebou. Dit was Fort Comelyn, 'n paar honderd tree ten suide van die huidige Burgerspark. Alles was destyds oop veld en daar was geen geboue tussen Comelyn en die Engelse kamp nie. Daarom was dit dat die
| |
| |
enigste skynaanval deur die Boere van Skinner's Court gemaak is, waar daar geen verdedigingswerke was nie, behalwe die Convent-skans, wat werklik deel van die kamp self gevorm het.
Nie al die ingesetenes van Pretoria het hul toevlug tot die Engelse kamp geneem nie. Die Britse bevelvoerders het skynbaar niemand gedwing nie. Met die oog op die gebrekkige kosvoorraad was die Engelse nie te begerig om die bevolking van die kamp onnodig groot te maak nie. Daarom is gesinne wat voldoende vee en ander voedsel gehad het, toegelaat om in hul dorpshuise te bly. Alle ander voedsel in die stad is gekonfiskeer en die gesinne in die kamp is gerantsoeneer.
Onder die vier of vyf gesinne wat buite gebly het, was dié van ou Gert Grootman Olivier, een van die mees gesiene figure destyds in die hoofstad. Dit het uit slegs twee lede bestaan: die ou vader en sy enigste dogter, Sophie. Ou Gert Grootman was beroemd weens sy kolossale liggaamskrag. Sy bynaam dui genoegsaam hierop. Hy was oor die ses voet lank, met wydte van bors en spierontwikkeling na verhouding. Grootman Olivier was vroeër 'n ystersmid en wamaker. Later het hy transportryer en handelaar geword en ten tye van die Vryheidsoorlog van 1880 was hy bekend as een van die rykste ingesetenes van Pretoria.
Sy woning het langs die Apiesrivier gestaan. Hier het hy 'n groot veekraal aangehou en uitgestrekte koringlande besaai. Hy was 'n eienaardige ou kêrel, algemeen in die dorp bemind - en tegelyk gevrees. Gewoonlik was hy 'n opgeruimde ou grapmaker, lief om af en toe 'n sopie te drink en altyd gereed om sy meer behoeftige bure te hulp te kom - altyd egter in die geheim.
Maar dit was slegs een faset van sy geaardheid. Hy kon ook baie nukkerig wees en somtyds kon klein dingetjies hom woedend maak. Wee die ongelukkige wat 'n klap van Grootman Olivier ontvang! Van 'n vuishou was daar nie eens sprake nie.
Daar was slegs een mens in die wêreld wat ou Grootman kon bestuur en in toom hou, selfs gedurende sy kwaaiste buie - dit was Sophie Olivier, sy enigste dogter.
Sophie was 'n groot, sterkgeboude meisie, destyds in haar agtiende jaar. Sy het al die vrolike opgeruimdheid van haar vader geërwe, sonder sy nukkerige buie. Op alle danspartye was Sophie voorperd. Jy kon haar vrolike gelag 'n myl ver hoor!
Sophie was 'n mooi meisie en het in die dorp 'n groot aanhang bewonderaars gehad, van wie die meeste haar vader met die uiterste ontsag bejeën het.
Dit het dikwels gebeur dat die ou kêrel skielik in die diepte van die nag die voorkamer binnestorm om die een of ander ‘opsitter’ in die pad te steek. Dit was vir Sophie altyd niks anders as 'n groot grap nie. Dit was haar gewoonte om haar vader by sulke geleenthede om die lyf vas te hou, terwyl sy die jongman
| |
| |
met helder gelag uittart: ‘Toe nou, staan nou jou man! Nou kan jy wys wat in jou sit. As jy my wil hê, moet jy jou nie so gou op loop laat jaag nie.’
Teenoor Sophie het die ou heer nooit 'n kwaai woord geuit nie. Al sy woede is op die hoof van die ongelukkige galant uitgestort. Die uiteinde van so 'n voorval was gewoonlik dat oom Grootman saam met Sophie aan die lag gaan oor die verleentheid van die seun wat so 'n storm moes deurstaan.
Hierdie geskiedenis het vernaamlik betrekking op Sophie, haar vader en die Britse fort Comelyn, wat ongeveer drie myl van die Olivier-woning geleë was. Daar is nog 'n ander voorwerp wat ook 'n aansienlike rol in hierdie geskiedenis speel. Dit was 'n ou skildery wat in die sitkamer van die Olivier-woning gehang het. Dit was 'n eienaardige stuk werk, so oud dat die verf by al die skaduwees tot swart verweer was. Dit was op 'n paneel geskilder, binne 'n swaar, vergulde houtraam. Oom Grootman het die grootste waarde aan die skildery geheg. Hy het dikwels 'n legende herhaal, dat die stuk deur die eerste Olivier-vlugteling uit Frankryk meegebring was en dat dit op die een of ander wyse nou aan die noodlot van die familie verbonde was.
‘As die “Mantel-man” vergaan, dan vergaan die Oliviers ook,’ was een van sy gesegdes. Hy het waarskynlik slegs sy eie tak van die familie bedoel, want dit was ondenkbaar dat 'n enkele erfstuk die hele Olivier-geslag, soos dit vandag in Suid-Afrika bestaan, kon oorskadu!
Die skildery was deur die hele dorp as ‘Die Mantel-man’ bekend. Af en toe is dit deur besoekers ondersoek, wat voorgegee het dat hulle kennis van kuns besit - 'n aanspraak wat niemand in die dorp met enige gesag kon beoordeel nie. Die opinies oor die Mantel-man wat op hierdie wyse rugbaar geword het, was taamlik uiteenlopend. Sommige van die ‘kunskenners’ het beweer dat die skildery eeue oud is, dat dit die werk van die een of ander groot meester is en 'n skat werd is. Maar niemand het oom Grootman ooit die skat aangebied nie. Andere het verklaar dat dit 'n niksbeduidende gesmeer van die een of ander huisskilder was.
Albei hierdie meningsrigtings het oom Grootman ongeroerd gelaat. Hy het die ou prentjie as 'n familie-erfstuk gewaardeer en daarmee basta! Of dit die werk van 'n ou meester of 'n moderne skooljong was, kon hy uit hierdie oordeel nie verklaar nie. Niemand had minder kennis van kuns en kleur nie, en oom Grootman was geneig om diegene te bespot wat aanspraak maak op die besit van sulke kennis.
Wat die skildery voorgestel het? Hier raak ons die interessantste, die geheimsinnigste aspek van die skildery aan. Klaarblyklik het dit 'n jong man met lang, ligte hare voorgestel. Soveel kon met 'n taamlike mate van sekerheid gekonstateer word, omdat dit al deel van die skildery was wat nie in onsekere duisterheid gehul was nie. Om die skouers van die voorgestelde figuur was iets wat na 'n mantel gelyk het, wat agter die rug tot op die hakke hang. Maar as die
| |
| |
lig van 'n bepaalde rigting op die prent val, dan neem die mantel die skyn aan van twee groot gevoude vleuels en skielik sien jy dat die gedaante waarskynlik 'n gewapende engel voorstel, met 'n spies in die een hand en 'n rondas in die ander. Maar laasgenoemde was 'n seldsame verskynsel; die gewone voorkoms was die beeld van 'n jong man met 'n mantel om die skouers en 'n lang wandelstok in die regterhand.
Maar daar was 'n ander, 'n veel meer grusame legende aan die Mantel-man verbonde, wat onder die jongmense van die dorp dikwels vertel is en wat ten gevolge had dat daar baie seuns en dogters in die dorp was wat vir geen geld die Olivier-sitkamer met skemerdonker alleen sou binnegaan nie. Die storie was dat die gedaante in die skildery in staat was om 'n nog veel vreesliker verandering te ondergaan. Verskeie jongmense het verklaar dat hulle self ooggetuies daarvan was. Daar is vertel dat as jy in die skemer die skildery noukeurig betrag, jy dan duidelik sien, eers, die gedaante, nie van 'n jong gemantelde man nie, maar van 'n glorieryke engel met gevoude vlerke. Stadig voor jou oë word hierdie gedaante al hoe onduideliker en dan verander die gesig en die houding geheel en al en jy sien, in plaas van die engel van lig, 'n duiwel van die uiterste duisternis, met 'n grimas op sy gesig, wat genoeg was om die dapperste 'n rilling van angs deur die spiere te jaag. Die ergste van hierdie verskynsel was dat die bose gees vanuit die donkerheid van die prent die toeskouer stip skyn aan te staar, met 'n honende glimlag om sy lippe!
Sophie en haar vader het hierdie storie as bespotlik uitgelag. Geeneen van hulle twee het ooit hierdie gedaantewisseling gesien nie en niemand het seker beter geleentheid daartoe gehad nie!
Net kort voor die oorlog het 'n vreemdeling in Pretoria verskyn, wat dadelik die aandag en bewondering van die jongere en die wantroue van die ouere en meer sobere ingesetenes op hom verenig het. Hy was 'n jongman van sowat dertig jaar. Hy was in die hotel tuis, en het altyd 'n sak vol geld gehad om vriende in die kantien te trakteer. Hy was altyd pragtig geklee in rybroek en blink stewels, wat destyds in die dorp die algemene drag was. Maar beide wat fatsoen en stoffasie betref, het sy klere so ver bo dié van die dorpelinge uitgeskitter dat hy spoedig die voorwerp van na-aping was. Hy het 'n pragtige volbloedperd aangehou, waarop hy hom elke dag aan die inwoners tentoongestel het. En hier het alle kennis omtrent die heer Jack la Fleur geëindig. Van welke nasie hy was, waar hy vandaan gekom het en wat sy beroep was, het niemand geweet nie; en La Fleur het nooit aan iemand hierdie inligting vrywillig verskaf nie.
Soos in soortgelyke gevalle dikwels gebeur, het die skitterende vreemdeling spoedig die bewondering van die meeste meisies van die dorp in beslag geneem - 'n toestand wat oneindige hartbrekings veroorsaak het. Maar met hierdie tragedies het ons storie gelukkig niks te make nie.
Geruime tyd het La Fleur soos 'n skoenlapper onder die skones op losse
| |
| |
vleuels rondgeflankeer, maar dit het net geduur totdat hy met Sophie Olivier kennis gemaak het. Dadelik het die hele dorp geweet dat La Fleur verlief was. Elke middag en die meeste aande was sy ryperd aan die teuel-paal voor die Olivier-woning vas. Die dorp - destyds van die hele beskaafde wêreld afgesny, sonder telegraaf, selfs sonder koets, met slegs 'n maandelikse pos van die kus af - het al die eienaardighede van 'n enkele familie besit en dit was met 'n gevoel van algemene ontsteltenis dat die inwoners gewaargeword het dat die hofmakery van die blink vreemdeling nie geheel sonder gevolg was nie. Met ander woorde, Sophie Olivier was ook, vir die eerste keer in haar lewe, verlief. Sophie was die liefling van die dorp, en die meeste inwoners het haar optrede in hierdie saak as iets van persoonlike belang beskou.
Ou Grootman se houding was een van lydelike verset. Wanneer die saak in sy teenwoordigheid ter sprake kom en sy ou vriende hom na die waarheid vra, het sy gelaat skielik verdonker en het hy begin brom, wat bewys gelewer het van 'n swaar in toom gehoue opwinding, 'n vulkaan wat deur 'n enkele ontydige storing tot uitbarsting gebring kon word. Maar die uitbarsting het nooit plaasgevind nie en ou Grootman het nooit sy bure se nuuskierigheid in verband met Sophie en La Fleur tevrede gestel nie.
Die ontsteltenis onder die ou inwoners is veroorsaak deur ander gerugte omtrent La Fleur wat byna gelyktydig met sy gekuier by Sophie in omloop gekom het. Daar is vertel dat die man 'n blote avonturier is, met 'n minder geurige spoor agter hom. Hier in die dorp was met sekerheid bekend dat hy diep in die skuld was. Hy het eenvoudig niemand betaal van wie hy iets op skuld gekry het nie. Die hotelbaas het hy 'n massa geld vir losies geskuld, maar dié was tevrede met die sekuriteit van die volbloedperd in sy stal, wat minstens £100 werd was.
En net toe al die gerugte en die gevolglike gevoel teen La Fleur byna die hoogtepunt van 'n krisis bereik het, breek die oorlog uit, en word verklaar dat Pretoria in 'n staat van beleg verkeer.
La Fleur is dadelik deur die Engelse as offisier van 'n klein vrywillige ruiterkorps aangestel, en het bevel gekry oor die klein vesting Comelyn, waarvan reeds melding gemaak is. Toe hy weer in die openbaar gesien is, was hy in 'n pragtige husare-mondering wat ongetwyfeld goed gepas het by sy algemene militêre voorkoms en houding. Alle skuldeise is van regeringsweë aan 'n moratorium onderwerp ‘tot ná die ontsetting van die stad’ - wat natuurlik nooit gebeur het nie! Die oorlog was dus 'n dubbele seën vir die skitterende avonturier.
Intussen, soos reeds meegedeel, het ou Grootman van die begin stellig geweier om toevlug tot die kamp te neem. Hy het ewe gerus met sy boerdery voortgegaan asof daar geen oorlog woed nie! Hy en Sophie en 'n paar volk en huisbediendes het in hul woning aangebly, waar hulle af en toe deur kennisse uit die kamp besoek is. Dié was maar te dankbaar om die paar uur vryheid van so 'n besoek (altyd onder die militêre pas!) te geniet.
| |
| |
Die Mears-familie van Sunnyside was ook onder diegene wat geweier het om van die aangebode Britse beskerming gebruik te maak. Die Sunnyside-woning was ongeveer twee myl oos van die teenswoordige Sunnyside-brug, en so ver buite die Engelse verdedigingswerke dat Sunnyside aan groter gevaar as enige ander woning blootgestel was.
En nou kom ons tot die punt waar al die genoemde persone en die Mantelman van ou Grootman Olivier 'n dramatiese sameloop bereik het. La Fleur, skitterender as ooit in sy husare-uniform, maar nou met 'n soldaat as agterryer, het sy besoeke aan Sophie nie gestaak nie. Dit het eerder toegeneem. As hy nie in Comelyn diens doen nie, dan was hy in die Olivier-sitkamer.
Soos die geval destyds was in alle afgesonderde klein dorpies van Transvaal, was die gemeenskaplike lewe net so eng en intiem as dié van 'n enkele huisgesin. Niemand kon enige stap van enige betekenis doen sonder dat al sy bure alles daaromtrent weet nie.
Dit was dus bekend dat Grootman Olivier met die krygsverklaring al sy kontantgeld uit die bank getrek en in 'n brandkas in sy slaapkamer geplaas het. Die bedrag was vierduisend pond in goud. Ook La Fleur het hiervan geweet. By een geleentheid het hy in teenwoordigheid van 'n paar vriendinne aan Sophie gesê: ‘Waarom gee jou vader my nie die geld om op te pas nie? Dit sal in Comelyn tog baie veiliger wees as hier. Jy moet jou pa dit aanraai, Sophie.’
En Sophie het net spottend gelag.
‘Dink jy dan, Jackie, dat ons meer besorg behoort te wees oor die geld as oor ons eie veiligheid? As die geld hier in gevaar is, dan is ons in groter gevaar. Ek sal my pa dus liewer aanraai om self in Comelyn weg te kruip as om die geld daarheen te stuur. Maar daar is geen gevaar nie! Ons mense is nie rowers of moordenaars nie. Ek het jou dit al baiekeer gesê. Jy sal sien wanneer Henning Pretorius die dorp en kamp inneem - hulle sal geen pennie van iemand neem nie.’
Op dié wyse het Sophie gedurig spottend haar geloof te kenne gegee dat die Boere uiteindelik sou seëvier. Haar Engelse vriende, en vernaamlik La Fleur, het te kenne gegee dat hulle dit as 'n sarkastiese grap van Sophie beskou. Almal het egter geweet dat die Boere-gesindheid by ou Grootman geen grap was nie! En hy het ook daarvan g'n geheim gemaak nie. Daar was dikwels gerugte dat Grootman in ‘Prison Redoubt’ ('n ander Britse vesting) te lande sou kom.
En toe, eendag, was daar 'n geweldige oproer in kamp en dorp en forte: 'n Boere-afdeling onder Henning Pretorius het helder oordag die woning van Sunnyside genader en die vee van die ou heer Mears binne 'n paar honderd tree van sy woning buitgemaak. Die ou heer Mears was seker g'n lafaard nie. Hy het Henning Pretorius en die meeste van sy manskappe persoonlik geken en toe die patrollie besig was met die wegkeer van die vee, verskyn die ou heer met
| |
| |
'n verkyker op sy kraalmuur. Hy was tydelik in die voorgestoelte om die komedie te aanskou! Hy was in die gewoonte om altyd 'n hoë, grys pluishoed te dra - selfs agter die ploeg! Ook by hierdie geleentheid was die pluishoed teenwoordig.
Kommandant Pretorius en sy manskappe het hom dadelik herken, en die bevel van die Boereleier was: ‘Moet hom nie skiet nie. Hy is ongewapen.’ En toe, ná 'n tydjie: ‘Maar ek moet hom darem skrikmaak!’
Hy styg van sy perd af, gaan agter 'n miershoop lê en met dooierus skiet hy ou Mears se hoed van sy kop af - 'n gebeurtenis wat lank die grapmakers van die dorp van ryke stof voorsien het.
Die voorval het spoedig wyer verwikkelinge gehad. Die ‘Timeball Hill’-fort (net agter die teenswoordige spoorwegstasie) het die eerste die waaghalsige toer bespeur en die kamp en ander forte per heliograaf daarvan in kennis gestel. Maar dit het geblyk dat Comelyn byna gelyktydig berig ontvang het van die ‘aanval’ op Sunnyside. La Fleur het hom dadelik aan die hoof gestel van 'n troep perderuiters en die rivierbos binnegetrek, deur die drif waar die Sunnyside-brug nou staan.
Intussen het Timeball Hill sy kanonne vir aksie na die ooste (van waar 'n aanval nooit verwag is nie) gereed gestel. Die Boere was ver buite bereik van hulle nege-ponders, maar skielik verskyn La Fleur en sy perderuiters aan die kant van die Sunnyside-bos. Onmiddellik is hy aan 'n hewige bombardement van die kant van Timeball Hill blootgestel. Sy eskadron is natuurlik vir 'n tweede afdeling Boere aangesien. La Fleur self het in die ope uitgery, met sy helm gewuif en alles in sy vermoë gedoen om Timeball Hill van hulle fout bewus te maak, maar tevergeefs. So hewig was die bombardement dat La Fleur sy manskappe moes volg na die ruigste bos op die rivierwal, waar hulle minstens onsigbaar was vir die manhaftige kanonniers van Timeball Hill.
En so is die Boere ongedeerd met Sunnyside se vee vort. La Fleur was die enigste slagoffer van die ‘Aanval op Sunnyside’. Hy is in die linkerarm deur 'n stuk granaatkartets getref.
Nadat hy 'n tyd lank in die kamphospitaal verpleeg is, is hy met verlof na die Olivier-woning, waar Sophie hom gedurende sy herstel sou oppas - 'n feit wat al oom Grootman se ou vriende bitterlik ontroer het, want teen dié tyd het La Fleur reeds in groot onguns by al die inwoners van die dorp gestaan. Niemand kon glo dat Sophie haar ‘op die vent sou weggooi nie’, en nog minder dat oom Grootman dit oogluikend sou toelaat.
Maar oom Grootman was destyds ongelukkig buite geveg gestel. Voor die Sunnyside-gebeurtenis reeds het die ou man siek geword. Toe La Fleur op uitnodiging van Sophie (op haar eie houtjie!) sy intrek in die Olivier-woning neem, was die ou man bedlêend en so siek dat hy dag en nag deur Sophie en een ou swart vrou bedien moes word. Vriende in die kamp het hulp aangebied,
| |
| |
maar daar was onoorkomelike moeilikhede in die weg en wat die saak nog meer beswaar het, was dat die ou man beslis geweier het om die hulp van 'n Engelse dokter in te roep. Op die smeekbedes van sy vriende was sy antwoord steeds: ‘So kan ek my nie verneder nie, nadat ek geweier het om hulle beskerming aan te neem.’
En so het sake by die Oliviers stadigaan erger geword, totdat La Fleur sy verskyning gemaak het. Toe blyk dit dat onder die kennis wat hy gedurende al sy rondswerwe op aarde opgedoen het, hy meester geword het van 'n soort kwaksalwery wat hy onverwyld aan die ou man opgedring het. Hierdie dienste het oom Grootman absoluut van die hand gewys, maar La Fleur was buitendien 'n onvermoeide siekeverpleër, en, hoe onwillig ook al, moes die ou man hom La Fleur se hulp in hierdie rigting laat welgeval. Hy was lankal reeds te swak om weerstand te bied of handelend op te tree.
Hy sou waarskynlik sonder mediese hulp gesterf het toe die Engelse, ná tussenkoms van vriende in die kamp, op ridderlike wyse verlof gegee het dat 'n Hollandse dokter, 'n ou persoonlike vriend van oom Grootman wat vanaf die uitbreek van die oorlog by die Boere-kommando's werksaam was, hom kon besoek. Dr. Van der Heystraat het alles in sy vermoë gedoen om sy ou vriend se lewe te red. Hy het 'n week by hom in huis gebly en self die nodige medisyne toegedien, waarvan die Engelse hom goedgunstig voorsien het. Voor sy vertrek was oom Grootman reeds buite gevaar en die dokter kon met gerustheid die verdere toediening van die medisyne aan La Fleur oorlaat, wat nog steeds, as Sophie se pasiënt, in die huis aangebly het. Daar is algemeen aangeneem dat daar 'n verlowing tussen die twee was.
En toe was dit dat die ‘Man met die Mantel’ skielik tussenbeide getree het, op 'n wyse wat lank onder die inwoners van Pretoria as 'n geheimsinnige en selfs verskriklike storie voortgeleef het. Dit het so gebeur.
So knap het La Fleur hom in die siekekamer betoon, dat hy met verloop van tyd die hele behandeling van oom Grootman in sy hande geneem het, nieteenstaande die swakke, maar gedurige weerstand van die ou man self. Sophie het haar vader van ondankbaarheid beskuldig en eenvoudig geweier om die behandeling uit haar minnaar se hande te neem.
Intussen was La Fleur so ver herstel dat hy Comelyn weer daagliks 'n paar uur kon besoek om minstens die skyn te gee dat hy weer diens doen. Op een ding het hy egter aangedring: niemand behalwe hy moes die medisyne aan oom Grootman toedien nie. Sy verklaring was dat die middel so gevaarlik was dat dr. Van der Heystraat by sy vertrek hierdie diensplig aan hom opgedra het en sy gewete sou hom nooit laat rus as hy hierdie werk aan enige ander persoon toevertrou nie.
Maar weer was daar 'n wonderlike sameloop van omstandighede aan 't roere, waarvan geeneen van die rolspelers in die drama die minste besef gehad het nie.
| |
| |
Die vernaamste hiervan was dat die Engelse aan 't vrede sluite was onder die skaduwee van Majuba, waarvan die ingesetenes van Pretoria niks wis nie. Die tweede was dat dr. Van der Heystraat, gewapen met verlofbriewe van die Britse opperbevelhebber, op reis was, so vinnig as wat vier perde hom kon vervoer, van Laingsnek af na Pretoria, om sy ou vriend, Grootman Olivier, weer te besoek - sy ou vriend wat hy in so 'n haglike toestand moes verlaat.
Dit was een aand net met sononder dat La Fleur haastig van 'n besoek aan Comelyn teruggekeer het. Hy was reeds 'n weinig laat vir die derde dosis van die medisyne, wat die ou heer Olivier elke dag moes neem. So haastig en ontroer was La Fleur dat hy vergeet het om sy beminde, wat hy in die gang van die huis aangetref het, op die gewone wyse te begroet. Met 'n enkele woord dat hy laat is, is hy die slaapkamer binne, terwyl Sophie, vererg deur wat sy as 'n bepaalde minnaarsnalatigheid beskou, by die eetkamer in is om La Fleur se terugkeer af te wag. Maar die ontmoeting met haar geliefde het dié middag op geheel ander wyse geskied as wat sy verwag het. Terwyl sy daar in die skemerdonker van die eetkamer staan, met 'n stygende gevoel van ontevredenheid oor La Fleur se gedrag, word haar aandag skielik na die skildery van die Mantelman getrek.
Sy het altyd met die grootste beslistheid beweer dat dit 'n beweging in die prentjie was wat haar aandag getrek het. Terwyl sy die skildery aanstaar, word voor haar oë 'n verskriklike verandering in die gedaante van die figuur voltrek. Uiteindelik sien sy duidelik, in stede van die skone gelaat van die jong man, 'n sataniese gesig wat haar met 'n uiters ironiese glimlag begluur. So lewendig en duiwels was die gesig, dat sy skielik 'n geweldige gil uit! Die een skree volg op die ander totdat dit soos 'n alarmgeskal van kamer tot kamer deur die hele huis weerklink. Sy sak lam op 'n leunstoel inmekaar, sonder om haar geskree egter te staak. Van alle kante storm mense die kamer binne. Sy kan nie sien wie dit is nie. In werklikheid was dit net drie: die ou vrou uit die kombuis met 'n brandende kers in die hande; La Fleur uit die slaapkamer, so verskrik en vervaard dat hy haar soos 'n steenbeeld staan en aanstaar; en laaste, met die gang op van die voordeur af, dr. Van der Heystraat, wat net betyds voor die deur stilgehou het om die vreeslike alarm in die huis te hoor.
Dit was die dokter wat eerste praat. ‘In hemelsnaam, Sophie, wat is dit? Wat makeer?’ roep hy uit terwyl hy haar hande neem.
Maar Sophie kon geen woord praat nie. Met haar oë kon sy alleen die prentjie teen die muur aandui. Terwyl die swart vrou met verbasing haar kers voor die skildery omhoog hou, gaan die dokter ook nader.
‘Wat is dit? Wat makeer die prent?’ vra hy verbysterd.
Sophie het gou tot verhaal gekom. Met die grootste verwondering kyk sy en kyk sy, asof sy haar eie oë nie kan glo nie.
‘Ek het dit sien verander, dokter - voor my oë! Dit het 'n duiwel geword - | |
| |
soos sommige mense sê. O, dit was verskriklik!’ En sy sak vooroor met haar gesig in haar hande.
Ná 'n paar gerusstellende woorde vra dr. Van der Heystraat skielik: ‘En hoe is dit met jou vader gesteld? Liewe hemel, die oproer was genoeg om hom die dood op die lyf te jaag!’ en haastig stap hy die kamer binne, gevolg deur Sophie ... maar nie deur La Fleur nie. Sy gedrag was eienaardig. Sonder 'n woord aan iemand is hy die huis uit. Hy het sy perd bestyg en is terug na Comelyn en dit was die laaste maal dat hy die Olivier-huis betree het.
En dit is wat binne die slaapkamer gebeur het. Dr. Van der Heystraat het hom dadelik tevrede gestel dat sy pasiënt in geen onmiddellike gevaar verkeer nie. Hy was soveel beter dat hy selfs nuuskierigheid getoon het aangaande die oorsaak van die geskreeu, maar dit het lank geduur voordat hy 'n uitleg kon erlang.
Terwyl hy nog met sy pasiënt se pols besig was, begin die dokter met verwondering in die lug rond te snuif. ‘Wat is die reuk? Ek ken die reuk!’ Toe val sy oog op 'n donkerbruin vlek op die laken en voor die bed sien hy 'n botteltjie lê, nog half vol van dieselfde donker vloeistof.
‘Wat is dit, Grootman? Hoe kom jy in besit van hierdie opiumtinktuur?’ vra hy met die grootste verwondering.
En ná baie vrae en geduldige aanhoor, vertel die siek man hoe La Fleur haastig 'n paar minute tevore die kamer binnegekom het met die uitroep dat hy byna te laat was vir die toediening van die medisyne. Hy het die gewone bottel medisyne en die glas van die wastafel geneem, en terwyl hy besig was om die medisyne sorgvuldig in die glas te skink, het hy sy rug na die sieke gekeer. Oom Grootman het dit as 'n ongewone houding van La Fleur opgemerk. Maar hy het nie geleentheid gehad om die medisyne klaar in te skink nie. Terwyl hy nog besig was, kom die verskriklike geskree uit die eetkamer. Dit blyk toe dat La Fleur in 'n buitengewone senuweeagtige toestand verkeer het. Hy het geweldig geskrik, so geweldig dat die bottel en glas uit sy hande geval het en tegelykertyd saam met hulle 'n tweede botteltjie, waarvan hy net die kurk moet uitgetrek het en wat hy saam met die gewone medisynebottel in sy regterhand had. Die tweede botteltjie het op die bed geval, waar 'n gedeelte van die inhoud op die laken uitgestort het.
Hier eindig die storie vir sover dit aan vriende en kennisse van Gert Grootman Olivier bekend geraak het. Maar oom Gert self het meer geweet, wat hy af en toe aan 'n intieme vriend vertel het. Dit ly geen twyfel nie dat La Fleur van plan was om hom te vermoor en as Sophie 'n minuut of wat later geskree het, sou hy reeds die dodelike dosis opium ingehad het. Daar was natuurlik 'n verstandhouding tussen Sophie en La Fleur dat hulle sou trou sodra haar vader herstel, en die skelm wou natuurlik seker maak dat hy die ou man se fortuin dadelik in die hande sou kry. Sophie het aangedring op geheimhouding en mis- | |
| |
kien was dit die beste. Daar was die volgende dag 'n enkele onderhoud tussen dr. Van der Heystraat en La Fleur en met die vredesverklaring van drie dae later het laasgenoemde uit Pretoria verdwyn.
Nou nog 'n laaste woord oor die ‘Mantel-man’. Dr. Van der Heystraat het by geleentheid van hierdie voorval vir die eerste keer met die skildery kennis gemaak. Hy het dadelik groot belang in die werk gestel en verlof van oom Grootman verkry om die prent noukeurig te ondersoek. Hy het ontdek en bewys dat die gelaatsverandering 'n kunstoer was, wat die ou skilder met voorbedagte rade bewerkstellig het. Hoe hy hierdie kunswonderwerk teweeg gebring het, daarvoor het die dokter geen uitleg gehad nie. Maar een ding was seker. Onder bepaalde wysiging van beligting het die figuur verander van 'n skone engel, met gevoude vlerke, tot 'n spottende duiwel. En dat dit die bedoeling van die skilder was, is voldoende bewys deur 'n titelplaat wat onder die voete van die figuur sigbaar geword het ná die dokter die prent 'n bietjie skoongemaak het. Op die titelplaat staan:
‘II Korinthe 11:14’
Die leser sal die teks onthou. So lui dit in die ou Statebybel:
‘Ende het en is geen wonder: want de Satan zelve verandert hem in een engel des lichts.’
In die prent verskyn die verandering andersom te wees.
Hierdie onthulling het die ou heer Olivier gesterk in sy geloof dat die ‘Mantel-man’ baie nou in verband staan met die noodlot van die Olivier-familie, want as die gedaanteverwisseling nie op die regte oomblik plaasgevind het nie, dan was hy op die daad tot die doderyk gedoem.
Daar was nog 'n ander toeval wat sy bygelofie gestaaf het. In die linkerhoek van die prent het dr. Van der Heystraat ander letters te voorskyn gebring, waarmee die ou skilder klaarblyklik bedoel het om sy naam, deur een of ander sinspeling, te kenne te gee. Daar was 'n klein tekening van 'n barbierskottel, wat eertyds vir bloedlating gebruik is, en reg daarteenoor was 'n seemanskietlood, met die mikroskopiese opskrif: ‘Kom en Lyn’. Hierin het oom Grootman 'n voorspelling van die naam Fort Comelyn gesien en niemand het ooit die moed gehad om hom te weerspreek nie.
| |
2 Die Swart Aasvoël - Koning van die Afrikaanse Lug
Daar is seker geen groot voël op die vasteland van Afrika wat hoër kan vlieg en langer aan die vlieg kan bly as ons verskillende soorte aasvoëls nie. Gewoonlik vlieg hulle so hoog dat hulle spoedig selfs deur die sterkste gewone verkyker onsigbaar is. En tog is hulle in staat om uit dié enorme hoogte die kleinste dooie dier van 'n lewende te onderskei.
| |
| |
Ek herinner my nog dat, toe ek 'n kind was, ek eenkeer in Standerton op twee perdevulletjies in die pad afgekom het. Altwee het gelê, maar die een was dood en die ander nie; 'n mens kon die onderskeid tussen die lewende en die dooie egter nie bespeur voordat jy van die asemhaling seker gemaak het nie. Hulle was ongeveer vyftig tree van mekaar af en toe ons 'n entjie van hulle weg was, sien ons dat die eerste swart aasvoël sy verskyning maak soos 'n spikkel in die bloute. Daar was waarskynlik talle vulletjies wat binne gesig van die aasvoëls in die veld aan die slaap was, en tog het hulle die een dooie in die pad dadelik van die lewendes onderskei.
Daar is lankal reeds in Noord-Afrika bewys dat dit enkel deur gesig is en nie deur reuk of 'n ander sintuig nie, dat die aasvoël uit die hoogte 'n dooie dier bespeur. Daar is ook bewys dat ons swart aasvoël - op een na die grootste vlieënde voël in die wêreld - minstens vyf tot ses dae in die hoogste luglae op sy uitgestrekte, roerlose vleuels kan sweef sonder dat hy 'n rusplek op aarde hoef te soek.
Maar die aasvoël skyn nog glad nie in alle opsigte die beste vlieër in ons land te wees nie. In een opsig, dié van snelheid, gaan die kouvoël of batteleur hom ver te bo. 'n Vinniger en sierliker vlieër is daar waarskynlik nie in die wêreld te vinde nie. Hy is nie een van ons grootste arende nie; die dassievanger en die witkruis is meer as twee maal so swaar en twee maal so groot as die batteleur, maar laasgenoemde is die baas van alle vlieërs.
Ek onthou dat ek eenmaal met dr. Preller en 'n geselskap in 'n groot, sterk motor van Bulkop na die Magalakwên aan 't reis was. Die pad was gelyk en reguit. Skielik maak twee batteleurs kort bo ons hulle verskyning. Ek dink dat dit sigbare biltong op die dak van die motor was wat hul aandag getrek het. Maar die gevolg was dat ons sommige van die pragtigste lugtoere gesien het wat ons nog ooit aanskou het. Die batteleurs het begin om herhaaldelik agteroor te slaan, soos die vliegtuie teenswoordig doen, om dan met die uiterste gemak by ons verby te jaag. Ons het partykeer die motor teen sestig myl per uur laat loop en tog was die batteleurs in staat, nie alleen om ons verby te seil nie, maar om weer spottend terug te kom en kringe om die jagende motor te maak, met 'n gemak wat eenvoudig verbasend was. Later het 'n trop aasvoëls hulle verskyning gemaak, waarna die batteleurs met klaarblyklike afkeer in die rigting van die afgeleë Blouberg verdwyn het.
By 'n ander geleentheid het ek en my oorlede ou vriend Jan Wessel Wessels op die plaas Doornhoek (wat onlangs 'n vermaardheid in ons geregshowe erlang het) twee loodslange of vaal makoppas herhaalde male in die kloof gevind. Hulle het klaarblyklik 'n vaste woning daar gehad en om die een of ander rede word die loodslang of vaalmamba as gevaarliker beskou as al die ander soorte makoppas, selfs die swartes. Hulle woon alleen in die berge en daaraan is dit miskien te wyte dat hulle beskou word as vinniger slange dan die soorte wat die
| |
| |
vleie en die vlaktes bewoon. Vir 'n lang ruk het ons nie daarin geslaag om 'n einde aan selfs een van ons ongewenste bure te maak nie.
En toe, een oggend, hoor ons 'n geweldige geskreeu van kouvoëls in die lug. Toe ons uitkom, was daar 'n mannetjie en 'n wyfie bokant ons rondawels. Die wyfie (die grootste van die twee en vaal van kleur) het 'n lang slang in haar snawel gehad. Deur 'n Zeiss-verkyker het ons spoedig uitgemaak dat dit een van ons loodslange was, minstens twaalf voet lank. En die voël was besig, daar bo in die lug, om die slang van die kopkant in te sluk, terwyl die fluweelswart mannetjie kringe om haar vlieg om alle indringers weg te keer! Binne 'n paar sekondes het die enorme, lewende slang binne-in haar krop verdwyn.
Die twee arende het naby ons rondawels hulle nes gemaak, soos ons later ontdek het. Daarna het ons slegs een loodslang so nou en dan in die voetpad ontdek en drie of vier dae ná die dood van die eerste het meneer Wessels die tweede met 'n haelgeweer langs die voetpad doodgeskiet.
Kommandant Wessels het sy hele lewe in Matabeleland en in die Kalahariwoestyn deurgebring. Ek het nooit iemand ontmoet wat meer van diere en ons natuur in die algemeen geweet het as hy nie.
By een geleentheid, in die sogenaamde Middelveld, kom ons onverwags op 'n volstruisnes af, van waar die wyfie net voor ons aankoms gevlug het. Daar was ongeveer twaalf eiers in die nes. Toe ons die nes nader, het meneer Wessels aan my verduidelik waarom die pikswart mannetjie in die nag broei en die vaal wyfie bedags. Dit was natuurlik alles 'n saak van sigbaarheid en onsigbaarheid. Toe ons by die nes kom, merk ons iets eienaardigs op. Om die ongeskonde nes lê stompe hout, klippe en selfs stukke kafferpotte van alle groottes.
‘Ek is seker dat jy nooit sal raai wat dit beteken nie,’ sê my ou vriend.
‘Nou ja,’ sê hy, ‘laat ons net 'n paar minute in die nabyheid wegkruip, dan sal jy self die oorsaak sien.’
Ons het ons perde in 'n digte bos gelaat en self 'n sitplek naby die nes onder 'n digte karee ingeneem. Terwyl ons sit en gesels, hoor ons skielik 'n ‘woerwoer’ deur die lug en die val van iets swaars op die grond. Dit was 'n stomp hout wat uit die lug gekom het.
‘Daar is hulle nou,’ sê my vriend.
En 'n paar sekondes later val die tweede stomp. Bo ons in die lug was twee batteleurs en dit was hulle pogings om die eiers in die nes stukkend te breek.
Toe vertel meneer Wessels my van al die vyande wat die volstruis in die veld het. Daarom is dit dat hulle altyd na die buitenste en droogste woestyn gaan om nes te maak.
Ons het 'n sonderlinge ondervinding met dieselfde nes gehad. Ons was die dag te perd en het niks by ons gehad om iets in te dra nie, sodat ons slegs twee eiers elk na die kamp kon meevoer. Ons sou dan die volgende dag met sakke kom om die orige eiers na die kamp te bring.
| |
| |
Ons is vroeg die volgende dag elk met 'n sak weg, maar toe ons die nes nader, bespeur meneer Wessels van ver af al dat daar iets verkeerd is.
‘Die eiers is weg,’ sê hy. ‘Die swartes het seker ons perde se spore gevolg in die hoop om gedeelte van die een of ander wild in die hande te kry en so het hulle op die nes afgekom.’
Maar toe meneer Wessels by die nes van sy perd afklim, brom hy: ‘Nie volk nie - jakkalse.’
Hoe 'n klein blourugjakkalsie 'n volstruiseier kan stukkend kry, kon ek nie verstaan nie.
‘Jy sal gou die plan sien wat hulle volg,’ sê hy.
Van die nes gaan hul spoor in 'n gladde voetpaadjie deur die sand, en dit was duidelik te sien dat die eiers dieselfde nag daarlangs gerol is. Ons het die spoor gevolg tot by die stam van 'n groot boom, ongeveer driehonderd tree van die nes af. Hier lê al twaalf eiers, vas teen die stam gerol in een lang ry, maar geen enkele een was stukkend nie. Al vossie se nagtelike arbeid was tevergeefs!
Meneer Wessels kon self nie help om te lag nie. Aan sommige van die harde doppe kon ons hulle tandmerke sien.
‘In dié opsig is hulle dommer as die ratel.’ sê meneer Wessels. ‘Hy is kleiner as die jakkals, maar veel sterker en sy plan is baie doeltreffender. Hy tel een eier tussen sy voorpote op en dan slaan hy dit neer op 'n ander eier. Gewoonlik is een slag genoeg om die dop van 'n eier te breek. Maar die ratel val nooit 'n nes aan voordat die kleintjies binne die dop gevorm is nie. Ek het hom dikwels in sy werksaamhede in die woestyn bespied. Dit is 'n snaakse feit, en tog waar, dat beide die mannetjie- en wyfievolstruis padgee as 'n ratel die nes nader, hoewel hulle moedig hulle eiers teen 'n tier sal verdedig.’
Ek het nog nooit iemand ontmoet wat meer van slange en hulle leefwyse geweet het as meneer Wessels nie en seker nooit iemand in die Noorde wat meer makoppas doodgemaak het as hy nie. En daarom was sy dood in sekere opsigte miskien gepas.
Kort nadat ek Waterberg verlaat het, het hy met sy gesin naby die Klein Galakwên gekampeer. Een oggend was die jongspan besig om 'n bynes onder 'n ou boomstam uit te haal. Meneer Wessels het onder 'n boom op 'n afstand van die bynes gesit toe hy skielik 'n geweldige slag agter sy nek gewaar. Dit was 'n reusagtige, vaal makoppa of loodslang, wat hom sonder die minste waarskuwing aangeval het.
Net kort voor sy dood, 'n uur later, het sekere lede van die gesin besluit om die gat waarin die slang skuiling geneem het, met dinamiet op te blaas. Maar meneer Wessels het vas geglo in die leer van die voortbeskikking.
‘Dit was voorbestem,’ het hy gesê, ‘dat ek en die slang op dié plek en op dié oomblik moes ontmoet. As hy nie sy bevel gehad het nie, sou hy my nie gebyt het nie.’
| |
| |
Daarom het hy verbied dat iets aan die slang gedoen word. En sy laaste wense is uitgevoer.
Voordat mediese hulp hom kon bereik, is hy dood.
|
|