| |
Die Pad van Drome
1 Drome en Dromers
Een winternag toe 'n groep van ons om die vuurherd in die blokhuis vergaar was en 'n geur van perskepons 'n atmosfeer skep wat ons gereed gemaak het om die diepste geheime van lewe en dood te oorweeg en op te klaar, het die gesprek oor drome gegaan. Een van ons - ek vergeet nou wie dit was - het vertel dat hy die vorige nag gedroom het dat hy weer 'n eksamen moes skrywe. Weer het hy al die angs en benoudheid van sy jongelingsdae ondergaan, ofskoon dit dertig jaar was dat hy laas met eksamens te doen gehad het. Hy het bygevoeg dat hier- | |
| |
die eksamen-droom iets is wat dikwels by hom herhaal word, minstens een maal elke jaar, en dat dit altyd met dieselfde nagmerriegevoelens gepaard gegaan het.
Daarná het die een na die ander drome verhaal en stadigaan het die gesprek die dieper geheimsinnighede van drome begin aanroer. Dokter Roubaix het lank geluister sonder om deel te neem aan die bespreking, ofskoon ons almal wis dat drome by hom 'n besondere belangstelling is en dat hy die saak gedurende sy sielkundige navorsing jare lank ondersoek het. Uiteindelik word 'n vraag deur een van ons direk aan hom gestel. Ek weet nie meer wat die vraag was nie, maar sy antwoord is nie te vergete nie, daar dit aanleiding gegee het tot een van die interessantste uiteensettings waarna ek ooit geluister het. In die loop van sy betoog het hy ons dele van sy dagboek getoon en my, onder ander, toegelaat om kopieë te maak van sekere sketskaarte deur Donou Winterbach self geteken. In sy sagte stem het hy ons begin vertel, sonder om ooit sy oë af te wend van die gloeiende stompe in die kaggel.
‘Drome is nog een van die diepste geheimsinnighede van die mensesiel. Daar is 'n menigte boekdele in alle tale oor geskrywe, en vele wetenskaplikes het byna hul hele lewe aan die ondersoek van die droomtoestand gewy. Tog moet ons erken dat die mens nie ver in hierdie rigting gevorder het nie. Ek dink dat geen enkele skrywer daarin geslaag het om selfs 'n punt van die gordyn te lig wat hierdie geheimsinnigheid vir die menslike verstand bedek hou nie. In die jongste jare het die teorieë van die Oostenrykse professor Freud taamlik veel opspraak verwek, maar daar is 'n ophef van gemaak alleen onder mense wat nooit mooi oor die onderwerp nagedink het nie, veel minder nog dit ondersoek het. Ek het julle alreeds verskeie male duidelik gemaak dat ek altans nie die minste geloof aan Freud se droomvertolking kan heg nie. Om sy teorie op feite te formuleer, sou 'n ondersoek van agtereenvolgende eeue verg. Daaraan kan niemand wat sy werk grondig ontleed, twyfel nie.
Hoe sou 'n enkeling dan binne 'n paar jaar in staat wees om al die nodige feite te versamel en te rangskik? Freud gee natuurlik nooit die minste uitleg van die metode wat hy gebruik het nie.
Daar is geen twyfel nie dat die menslike geloof in die bestaan van 'n geestelike deel, wat onafhanklik van die liggaam 'n bestaan voer, uit die droomstaat afkomstig is. In die begin van alle beskawings was dit 'n vaste geloof dat die siel die liggaam gedurende die droomstaat verlaat en dat die herinnerde gebeurtenisse dinge is wat werklik in 'n geesteswêreld plaasgevind het.
Baie van ons nie-blankes is vandag nog hierdie geloof toegedaan, en by vele swart stamme is daar 'n geloof dat alle drome in verband staan met die wêreld van die toorkuns, wat die ongelukkige mens van alle kante bedreig.
Ons beskou die saak uit meer wetenskaplike oogpunt. By ons is die groot vraag: Welke deel van die menslike siel is gedurende die droomstaat aktief en
| |
| |
wakker? En hierop is nog geen bevredigende antwoord gegee nie. Verskeie navorsers is geneig om drome toe te skrywe aan 'n duistere geweste in die mensesiel, bekend as die onderbewussyn. Maar sulke navorsers is maar te gereed om alle onuitlegbare verskynsels van ons sielelewe aan die onderbewussyn toe te skrywe. Vir my bestaan in verband met hierdie uitleg een onoorkomelike hinderpaal, en dit is dat daar tussen ons normale bewussyn en die droomstaat 'n normale geheue bestaan; terwyl dit gewis nie die geval is met die onderbewussyn nie. Dié besit bepaald sy eie onafhanklike geheue en skyn nooit met die normale geheue in aanraking te kom nie.
Daar is 'n wêreldwye onderskeid tussen die droomstaat by verskillende mense. By die meeste normale mense is 'n droom 'n vae, onduidelike herinnering wat meestal spoedig uit die geheue verdwyn. Dikwels is dit so onsamehangend en “verspot” dat 'n mens nouliks kan aanneem dat sy eie “verstand” of verbeelding by die saak betrokke was. Maar dit is nie altyd so nie. Daar is mense, taamlik baie mense, met wie ons waarskynlik daagliks in aanraking kom, vir wie drome 'n geheel ander betekenis het. By hulle is 'n droom so realisties, so gloeiend dat dit nouliks van 'n normale, sintuiglike gewaarwording onderskeibaar is. Wanneer so 'n mens droom, dan is dit asof die gordyn van 'n ander wêreld weggerol word. Hy betree dadelik 'n wêreld van wonderlike landskappe, die gelyke waarvan hy seker nooit op aarde gesien het nie en hy neem deel aan gebeurtenisse so aktueel dat die voorvalle van sy wakker lewe nooit 'n dieper indruk op sy geheue of gemoed kan maak nie. Dit is sonderling, dog absoluut waar, dat normale mense jare lank, selfs 'n menseleeftyd lank, met so 'n “dromer” die intiemste omgang kan hê sonder om ooit sy wonderlike eienaardigheid te ontdek, en dit om 'n baie eenvoudige rede: so 'n mens ondervind sy realistiese drome van kindsbeen af, sonder om ooit te ontdek dat hy in hierdie opsig van sy makkers en bekendes verskil. Hy neem aan dat almal maar net soos hy droom. Hy hoor ander van hulle drome vertel en hy vertel sy eie, altyd onder dieselfde indruk. Dit is gewoonlik deur blote toeval dat 'n gewone mens so 'n dromer onder sy intieme vriende ontdek.
Ek het gedurende my lewe met verskeie “dromers” van hierdie aard in aanraking gekom. In my geval was die ontdekking meestal nie toevallig nie. In byna alle gevalle was dit te danke aan die feit dat ek jare lank ondersoek ingestel en 'n spesiale studie van drome gemaak het en altyd maar te gretig was om die spoor te volg van alles wat my as buitengewoon voorgekom het. Mettertyd het ek die simptome leer ken en was ek in staat om uit die aard van 'n verhaalde droom te konstateer dat die verteller 'n realistiese dromer is. Ek het geleentheid gehad om in verskeie van hierdie gevalle die drome noukeurig waar te neem en te ontleed en in sommige gevalle was die droomlewe van so 'n mens so sonderling en so na die werklikheid dat dit byna vergeeflik en begryplik sou gewees het as ek uiteindelik die geloof sou gekoester het dat 'n geestelike deel van
| |
| |
hierdie mense werklik, gedurende slaap, die liggaam verlaat en 'n wêreld besoek en ontdek wat buite die perke van ons tyd en ruimte lê.
In een geval, ten minste, het die geloof sterk by my posgevat dat een van dié “dromers” wat aan my goed bekend was, nagtelik vérafgeleë gewestes op ons aarde besoek en werklike landskappe aanskou, maar dat sy droomwese gedurende hierdie nagtelike reise op die een of ander manier buite die drie afmetings van ons ruimte geraak het en ons aarde van “daarbuite” kon bekyk. Dit klink vir julle seker belaglik om dit so koelbloedig te hoor vertel, en vandag sou ek ook self nie eerlik kon verklaar wat my geloof in verband met die saak is nie.’
Hierna het dokter Roubaix lank stilgesit, in gedagte versonke, maar ons kon voel dat daar iets meer sou kom en ons was almal huiwerig om sy gedagteloop te onderbreek en dit te verstoor. Uiteindelik gaan sy oë oor die kring. Op sy lippe is een van sy aangename en intieme glimlaggies, asof hy ons nuuskierigheid en verwagting goed besef.
‘Nou ja,’ sê hy, ‘dit is miskien beste dat ek julle die geskiedenis vertel wat hierdie gesprek in my geheue opgeroep het. Dan sal julle self kan oordeel in hoeverre my geloof kinderagtig en dwaas is.’
Uit sy leeskamer het hy 'n stapel skryfboeke en papiere opgesoek en met hulle hulp het hy ons die volgende storie vertel.
| |
2 Die Droomlewe van Donou Winterbach
‘Julle het Donou Winterbach waarskynlik almal òf self geken òf altans dikwels van hom gehoor. Daar was, soos julle weet, twee broers, Gool en Donou, wat altwee groot naam in die Driejarige Oorlog gemaak het. Gool Winterbach was die ouer broer en was die vermaarde enkeling-verkenner wat so baie sprokiesagtige avonture deurgemaak het.
Donou Winterbach was die jongste van die twee broers. By die vrede het hy skaars sy ses-en-twintigste jaar bereik.
Nieteenstaande sy jeug het hy vroeg in die oorlog reeds die talente, vernuf en beleid van 'n hoogs geoefende krygsoffisier aan die dag gelê. Nie alleen het hy 'n verbasende instinktiewe kennis van oorlogstrategie en -tegniek gehad nie, maar gepaard daarmee wat hy ryklik bedeel met die onuitlegbare persoonlike magnetisme wat aan die besitter die mag verleen om mense in groepe en massas te beheer en te lei. Gedurende die eerste jaar van die oorlog reeds het die generaal hom gebruik om die gevaarlikste en ingewikkeldste krygsondernemings as bevelvoerder van kommando-afdelings uit te voer. Aan die kant van die Boere het daar seker nooit 'n meer vreeslose offisier as Donou Winterbach aan die groot stryd deelgeneem nie, ofskoon dit in een opsig onlogies is om van
| |
| |
persoonlike dapperheid in verband met oorlogsgenieë van dié aard te praat. Leiers soos Donou Winterbach weet eenvoudig nie wat persoonlike vrees op die slagveld beteken nie.
Hulle mag bekommerd wees oor die gevaar of veiligheid van hul leërs, nooit oor hul eie nie. En selfs die strydmagte onder hul beheer verskyn in hul bewussyn alleen as pionne in die spel, wat nie nutteloos verlore mag gaan nie, maar wat dadelik opgeoffer word wanneer 'n set dit vereis. So was Donou Winterbach sielkundig as krygsman toegerus.
Dit was ongeveer 'n jaar voor die uitbreek van die oorlog dat ek Donou herken het as 'n realistiese dromer van die eerste rang. Hy het my kom raadpleeg oor 'n geringe liggaamlike kwaal, wat egter niks met sy sielstoestand te make gehad het nie. Ek herinner my dat ek hom in die loop van my ondersoek gevra het of hy ooit in sy kinderdae koors gehad het en indien wel, of hy ooit enige blywende gevolge bespeur het. Dit was sy antwoord op hierdie vraag wat my op die spoor van sy droomlewe gesit het.
“Ek het net een maal koors gehad,” was sy antwoord, “toe ek ongeveer tien jaar oud was en die enigste gevolge wat lank gebly het, was dat die aanval my slaaplopery baie vererger het.”
“Wat?” sê ek. “Slaaplopery? Hoe lank het jy daaraan gely? Loop jy nog?”
En toe begin hy my vertel, en sy verhaal het my so diep geïnteresseer, en ek het dit só boeiend gevind, dat ek daar en dan sy moeder by die konsultasie ingeroep het om sekere leemtes in die verhaal van sy kinderherinneringe aan te vul. Sy het my vertel dat Donou wat sy slaap betref van sy jongste dae altyd 'n eienaardige kind was. Voordat hy kon loop of praat, het hy in sy slaap gewoel en te kere gegaan, wat aan haar duidelik getoon het dat die baba aan die droom was.
U moet weet,’ het dokter Roubaix hier bygevoeg, ‘dat noukeurige ondersoek lank reeds vasgestel het dat dit 'n uiters seldsame ding is dat 'n baba droom. Die wakker skrik en huil van klein kindertjies gedurende die nag is altyd die gevolg van liggaamlike toestande.
Vanaf sy sewende jaar het Donou 'n volslae slaapwandelaar geword. Jare lank het hy egter nooit gevaarlike toere in sy slaap onderneem nie. Hy het meestal in die huis en op die werf rondgeloop, die kraal besoek en selfs tussen die slapende vee deurgewandel.
Toe hy ongeveer tien jaar oud was, het hy 'n hewige aanval van malaria gehad. Dit was die eerste en laaste maal dat Donou koors gehad het. Ná sy herstel het die moeder 'n groot verergering van sy slaaplopery bespeur. Nie alleen het hy meer dikwels in sy slaap gewandel, totdat dit byna 'n nagtelike verskynsel was nie, maar ook het hy toe vir die eerste maal gevaarlike toere in sy slaap begin uitvoer. Met die ratsheid en onverskrokkenheid van 'n aap het hy die dak van die huis beklim, om van een end van die vors tot die ander regop te hardloop - iets wat hy nooit in sy wakker toestand sou kon doen nie. Dit was ook 'n
| |
| |
liefhebbery om in sy slaap in die hoogste toppe van reuse-bloekombome te klim en in dié stelling duiselig heen en weer te swaai. Enkele kere het hy die hele nag in die berg rondgedwaal. Van sy slaaplopery het hy die volgende dag nooit iets onthou nie en dit is merkwaardig dat hy gedurende die nagte waarin hy “geloop” het, nooit gedroom het nie.’
Dokter Roubaix het ons 'n uitleg gegee van die teoretiese verskil wat hy tussen somnambulisme en ‘realistiese drome’ gemaak het, maar dit sal die geskiedenis te lank maak om nou daarop in te gaan.
‘En toe het ek Donou oor sy drome begin uitvra,’ gaan die dokter voort, ‘en dadelik het ek dinge gehoor wat só verbasend en só boeiend was dat ek etlike ure net geluister en aantekeninge gemaak het. Ek kan julle maar dadelik vertel dat Donou Winterbach 'n realistiese dromer was van 'n tipe met wie ek nooit tevore in aanraking gekom het nie. Sy drome was wonderlik, só wonderlik dat ek nog van plan is om eendag my aantekeninge in boekvorm op te stel. Ek is seker dat so 'n samestelling interessanter sal wees as enige roman wat ooit deur die lewendigste verbeelding geskep is. Hiervan kan ek julle egter ook nie nou vertel nie. Ek wil julle slegs van een van sy wonderlike drome vertel, waaroor ek hier in my dagboek enige van sy eie tekeninge besit.’
En dokter Roubaix toon ons sketskaartjies waarvan later melding gemaak sal word.
‘Soos meestal die geval is met sulke mense, was Donou verwonderd om van my te verneem dat sy drome anders was as dié van “gewone” mense. Hy het altyd onder die indruk verkeer dat “alle mense maar so droom!”
Daar was egter enkele eienaardighede met sy realistiese drome wat ek aan julle moet duidelik maak om die geskiedenis van sy droom meer verstaanbaar te maak.
Julle het seker al opgelet dat 'n gewone mens selde of nooit in drome 'n bekende plek besoek. Hy ontmoet bekende mense, maar sien nooit 'n landskap of plek wat hy goed ken nie. 'n Mens droom somtyds dat jy in 'n stad is wat jy goed ken, maar wanneer dit gebeur, dan is die omgewing van jou droom nietemin altyd glad anders as die werklikheid.
Met Donou was dit anders. Onder al die verbasende landskappe en magtige stede wat hy nagteliks besoek het, het hy af en toe in 'n bekende omgewing beland. Wanneer dit gebeur, was daar altyd 'n sonderlinge eienaardigheid in verband met so 'n bekende plaas, landskap of stad, waarvan ek julle later sal vertel.
Donou het ook ontdek dat prentjies en foto's wat hy op die een of ander tyd gesien het, dikwels hul verskyning in sy droomtonele maak, in al die prag en praal van 'n storie uit die Duisend-en-Een Nagte. So het hy byvoorbeeld nooit in sy lewe die see gesien nie; nietemin het hy in sy drome dikwels met die see kennis gemaak, in alle toestande van dié rustelose skeppingsdeel. Wat nog
| |
| |
wonderliker is, hy het in sy drome die gedreun van die branding gehoor op sandkuste, teen sluitrif en rots, by hoogwater en laagwater, in storm en kalmte; en daar bestaan geen twyfel nie dat die geluid wat hy in sy drome gehoor het, só na aan die werklikheid was dat indien hy ooit die stem van die see self sou kon gehoor het, dit vir hom geen vreemde geluid sou gewees het nie.’
| |
3 Die Visioen van die Wit Pad
‘'n Ander sonderlinge feit in verband met Donou se drome was dat hy dikwels herhaalde en vervolgdrome gehad het. Somtyds het hy 'n maand lank dieselfde omgewing besoek, of deelgeneem aan 'n droomdrama wat nag ná nag verder ontvou tot die een of ander onverwagte en soms ontsettende klimaks. Sy droomstories was altyd uiters interessant, nooit die onsamehangende mengsel wat die substansie van die meeste normale drome uitmaak nie. Die visioen wat die langste in sy drome voortgeduur het, was die droom van die wit pad. Hy het 'n heldere herinnering gehad van die eerste keer dat hy van die wit pad gedroom het. Dit was toe hy sestien jaar oud was. Daar was by hom geen herinnerde oorsaak of aanleiding vir die droom nie. Een nag bevind hy hom aan die voet van 'n hoë bergreeks, wat dwars voor hom strek, van oos na wes, van gesigseinder tot gesigseinder. Hy wis dat hy noordwaarts kyk, want in sy droom was dit net ná sonsondergang, en aan sy linkerkant agter die verste spitse van die majestueuse bergketting was die hemel diep geverf met die nagloed van die verdwene son. Dit is merkwaardig dat hy, in al sy drome van die wit pad, die omgewing nooit by helder dag besoek het nie. Die vroegste was net ná sonsondergang, soos in sy eerste droom. Van die tyd het hy die wit pad in alle ure van die nag besoek - in sy drome natuurlik - tot gelyktydig met die verskyning van die eerste wit wimpels van die daglumier, soos julle later sal sien.
In sy eerste droom was Donou in die middel van 'n breë gemaakte pad. Dit was bedek met 'n materiaal wat in die aandskemer melkwit geskyn het. Die pad het van die regterkant skuins teen die helling van die berg opgeloop en net waar Donou hom die eerste maal bevind het, het dit reghoekig teen die skuinste van die berg opgedraai na die ingang van 'n diep poort, wat die ketting op die hoogte deursny. In die eerste kaart word 'n stukkie van die pad aan die suidekant van die berg getoon. Die kronkelende gedeelte is waar die pad die poort deurgaan, 'n gedeelte wat natuurlik van onder die berg (waar Donou toe was) onsigbaar was, net soos die gedeelte aan die noordekant van die berg, wat in die kaart aangetoon word.
Donou vertel dat hy die eerste nag 'n hele ent langs die pad opgeloop het, sonder om egter voor sy ontwaking die ingang van die poort te bereik. Hy vertel ook dat, vanaf die eerste verskyning van die visioen, hy diep onder die in- | |
| |
druk van 'n vreeslike gevoel van eensaamheid en stilte verkeer het. En diep in sy gemoed het hy die ontkieming van 'n ander en nog onaangenamer en meer storende gevoel gewaar. Daar was die een of ander groot gevaar wat hom bedreig, iets waarvoor hy gedurig op sy hoede moes wees. Maar wat dit was en van waar dit sou kom, daarvan kon hy geen besef vorm nie. En juis omdat hy dit nie kon sien nie, daarom het dit in sy droom 'n des te vreesliker rol gespeel. Dit was iets wreeds en woedends, altyd op die loer met gevelde lans - iets waarteen hy magteloos was. Daar was geen kans vir of vlug òf verset nie, omdat selfs die rigting van die gevaar vir hom onbekend was.
Die volgende nag was hy weer op die wit pad, maar dié keer 'n hele ent nader aan die poort, die ingang waarvan donker en dreigend bo hom gaap soos die muil van 'n wagtende roofdier. “Maar,” sê hy aan homself, “waar en wat die gevaar ook al mag wees, ek gaan kyk watter land aan die ander kant van die berge lê.”
Een eienaardigheid van normale drome, wat julle almal al seker opgemerk het, is dat jy nooit gedurende jou droom weet dat jy droom nie - of baie selde. Daarom was dit dat die onbekende gevaar uiteindelik die hele omgewing van die visioen vir Donou 'n haatlikheid gemaak het, wat hy elke nag dat hy hom daarin bevind, met toenemende weersin betrag het. Maar sy nuuskierigheid het lewendig gebly en hom steeds aangespoor tot nader ondersoek van die poort en die noordelike kant van die berge.
Elke keer dat hy hom op die pad bevind, het hy dadelik na die poort begin aanloop, maar die pad was lank en steil en die volgende nag, wanneer hy hom weer op die pad bevind, was dit gewoonlik na aan die reghoekige draai, waar hy die eerste nag was. In sy drome het hy dus weinig vordering na die donker poort gemaak. Sy sterk verlange het hom seker niks vooruit gehelp op die wit pad nie.
En toe, een nag, nadat hy reeds maande op die wit pad vertoef het, gebeur skielik die lang gewenste. Hy bevind hom onmiddellik voor die ingang van die poort. Dit was donker nag en die reuse-koppe aan weerskante van die poort verrys in donker silhoeëtte teen die suidelike gesternte. En toe, vir die eerste keer, beskou hy aandagtig die hemelstraat, wat die hele sigbare hemel in 'n vonkelende seintuur verbind. Tot sy verbasing herken hy dadelik die sterre. Donou het 'n groot gedeelte van sy lewe buite geslaap en kon derhalwe taamlik sekuur sy posisie van dié van die sterre aflei. Hy wis altans dat, hoe verder noord hy gaan, hoe laer die suidelike sterre na die horison sak. “Dit is die middel van die somer,” sê hy aan homself, “en dit is middernag.”
Van die hoogte van die suidelike sterre het hy afgelei dat hy nie ver van die familieplaas kon wees nie.
Hy het skaars die ingang van die poort betree toe hy skielik tot stilstand gedwing word deur 'n geluid wat van die rotswande aan weerskante van hom
| |
| |
weerkaats word en sy ore bereik soos deur 'n magtige gehoorpyp. Hy het die geluid dadelik uit die ondervinding van vorige drome herken. Dit was die sagte gedreun van die see!
Toe hy halfpad deur die poort was, gewaar hy hoog teen die rotswand aan sy linkerkant 'n toenemende ligvlek. Dit is veroorsaak deur die maan wat agter die berge aan sy regterkant opgekom het; en toe hy uiteindelik by die noordelike ingang van die poort kom, was die driekwart-maan hoog bo die noordelike horison. Die wêreld voor hom was so helder verlig dat hy elke besonderheid kon uitmaak van die vreemde landskap waarop hy neerkyk. En verbasend genoeg moes die gesig gewees het. 'n Weinig na die regterkant gaan die wit pad die helling af tot aan die strate van 'n spierwit stad, wat in perfekte halfmaan om die boog van 'n klein seehawe lê; en verder na die ooste strek die oneindige see.
Donou vertel dat die skouspel 'n indruk op hom gemaak het soos hy selde in 'n droom ondervind het.
Voor hom was die wonderstad van wit marmer soos 'n skitterende kroon van juwele op 'n vingerring. In die strate en tussen die paleise was daar 'n verbasende skakering van lig en donker, afwisseling van die donkerste slagskaduwees met die sagte glans van die maan op gepoleerde marmer.
Maar dit was die see, die rustelose see onder die vloed van maanlig, wat sy siel met 'n byna pynlike gewaarwording van die uiterste skoonheid vervul het.
En nog dieper as ooit tevore word hy hom die treurige gevoel van onuitspreeklike eensaamheid bewus. Hy het dadelik geweet dat die stad verlate was. Duisend jaar lank was daar op die klipgemesselde strate geen mensevoetval en het geen mensestem die stilte van die slapende huise verbreek nie.
Dit was maande later dat hy vir die eerste keer die strate van die verlate stad binnegegaan het. Weer was dit helder maanlig.
Ek kon sien dat Donou gesukkel het om my 'n indruk van sy gevoelens te gee, toe hy hier, as 'n enkel klein bewegende gedaante, van straat tot straat vol verwondering en vrees by paleise en tempels verbyloop, terwyl die yslike nag, met sy verwelf van maangedoofde sterre, stad en see soos binne die holte van 'n oneindige spelonk omsluit. So stil was dit - want die sagte gedruis van die see was tussen die reuse-geboue onhoorbaar - dat hy die klank van sy voetstappe van die marmergewels kon hoor weerklink. En hier binne die eensame stad was die groot “gevaar” dreigender as ooit tevore.
Uiteindelik bereik hy in die middel van die stad 'n oop plein, met 'n marmerpaleis van drie verdiepings vlak voor hom. Soos by al die ander geboue was hier ook alles donker en stil. Deur- en venster-ingange was almal oop. Alle houtwerk het lank reeds verdwyn en die donker openinge gryns hom toe soos die mond- en oogholtes van 'n doodshoof.
Terwyl hy met gejaagde asemhaling die front van die groot paleis nader,
| |
| |
sien hy in een van die vensters van die tweede verdieping iets wat 'n gril van huiwerende skrik, soos die weerslag van 'n staalveer, deur sy spiere jaag. Wat dit was, het hy nie gesien nie. Dit was iets wit, wat vinnig, vir een moment, in die helder maanlig buite die donker vierkant van die venster verskyn het, om net so vinnig weer binne die donker van die vertrek te verdwyn. Maar nou kon hy voel, met 'n sekerheid wat nie aan te twyfel was nie, dat iets lewends hom vanuit die donker paleis beloer. Dit was iets wat sy aandag wou trek, of wat hom vrees wou inboesem - welke van die twee, kon hy nie besluit nie. Of die “iets” vriendskaplik of vyandig was, kon hy uit die enkele verskyning nie aflei nie. Lank het hy in die maanverligte pleintjie besluiteloos gestaan, sonder om iets verder te gewaar en so het die gesig dié nag sonder oplossing geëindig.
Met een van die volgende drome van die wit pad - so het hy die besondere visioene begin noem - was hy weer in die klein oop plein in die maanlig. Dié keer was dit volmaan, of byna volmaan, en buite die swart skaduwees was dit so lig dat die kleinste besonderheid van sy omgewing duidelik sigbaar was. Sy aandag was uitsluitend op die enkele venster in die groot paleis gevestig. Hy was dié keer op die onderste van 'n reeks breë marmertrappe wat na die boogingang van die paleis lei, so naby dat hy binne die vertrek sou kon gesien het indien dit verlig was.
En toe sien hy weer die wit gedaante. Dié keer was dit geen heimlike, slinkse roering nie. Uit die ondeurdringbare donker van die vertrek kom die wit gedaante om op die marmervensterbank te ruste te kom. Toe dit weer roer, sien hy skielik wat dit is. Daar was nie aan te twyfel nie - geoordeel na die liggaamsbou - dat dit van 'n meisie was, 'n jong meisie. Met die hand wenk sy hom nader.
Toe hy reg onder die venster staan, kom die meisie self te voorskyn. Sy leun oor die vensterbank na buite en dadelik en haastig begin sy met hom praat.
As die middelpunt van so 'n montuur moes die juweel vanselfsprekend baie mooi gewees het! Donou kon nouliks woorde vind om die skitterende skoonheid van die wondermeisie te beskrywe. Ek sal sy beskrywing nie probeer herhaal nie. Slegs een besonderheid moet ek weergee, omdat dit op die denouement van die visioen betrekking het. Donou kon natuurlik alleen die hoof en bolyf van die jong meisie sien en wat hom die meeste in haar verskyning verbaas het, was die feit dat wat hy van haar liggaam kon sien, byna bloot was. Beide arms was tot skouerhoogte geheel bloot, en die mooi ronding van haar bors was halwerweë met borduursel of kant bedek. Hals en skouers was bloot en was in die maanlig witter as die marmer van die gebou.
Hieruit het Donou, in sy seunsonkunde, vermoed dat die jonge dame alleen die een of ander nag- of onderkleed aanhet. Dit is van belang om hierdie feit te onthou, want dit verskyn weer in Donou se ondervinding.
Die meisie leun so ver oor die vensterbank as wat sy met veiligheid kon
| |
| |
waag en begin Donou dadelik toe te spreek in 'n stem wat tril van haas en angs.
“Terug na die poort!” roep sy halfsmekend. “Spoed, spoed! Hulle is nou op weg om jou voor te keer. Jy het nog tyd om die poort en veiligheid te bereik, maar net nog tyd! Ek kan hulle van hier sien. Hulle trek skuins deur om jou van die poort af te sny. Spoed, spoed, spoed!”
En sy wuif hom halfwanhopig met die hande toe om sy vlug te verhaas. Sy het duidelik aangedui waar die geheimsinnige “hulle” op dié oomblik was. Dit was teen die hang van die berg, in die hoek waar stad, berg en baai ontmoet. Donou het die plek hier op sy sketskaartjie aangedui.’ En dokter Roubaix toon ons die kaart.
Wat of wie die geheimsinnige “hulle” was, is aan Donou nie vertel nie, en hy het dit ook nooit ontdek nie; maar in sy droom het hy dadelik geweet dat hulle bittere, meedoënlose vyande was.
Hy het toe reeds blyke van sy krygsmanskap getoon. Hy sou graag verder met die wondermeisie gepraat het - wie sal hom dit kwalik neem, as ons dink aan die maanlig, die marmerpaleis en die half-ontblote skoonheid, wat sy hart in die uiterste beroering gebring het? Maar Donou het besef dat sy lewe in die weegskaal hang. Net een moment het hy die posisie in oënskou geneem, die meisie 'n paar haastige woorde van dank en vaarwel toegeroep en toe vlug hy deur die verlate stad, met sy oë stip gevestig op die een sigbare spits wat die ingang van die poort aandui.
Sy ontkoming was van die nouste, ofskoon hy sy geheimsinnige vyande nooit gesien, selfs nooit gewaar het nie. Maar toe hy die ingang van die poort bereik, waar hy dadelik besef het dat hy gered en voortaan veilig was, was dit 'n saak van sekondes gewees of “hulle” het sy terugtog na die toevlugsoord afgesny, en dan sou dit klaar gewees het met hom.
Dit was die laaste droom wat Donou Winterbach van die wit pad gehad het; maar daar was 'n wonderlike gebeurtenis in sy latere lewe, waarin julle seker belang sal stel en wat ek julle derhalwe nou kortliks sal vertel.’
| |
4 Verdediging van Tweepoort deur Donou Winterbach
‘Donou was vroeg in sy twintigerjare toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek. Hy was seker nog nie ses-en-twintig nie, toe beklee hy al 'n baie verantwoordelike posisie in die generaal se krygsraad.
Die voorval waarvan ek julle wil vertel, het gebeur toe die Engelse reeds in besit was van die hele spoorweg en al die dorpe van ons distrik, wat natuurlik almal aan die spoor geleë was. Al wat nog betreklik vry was van die Engelse, was ons noordelike Bosveld en die westelike bergstreke. Hier het die huise nog gestaan en hier het nog groot troppe vee rondgeswerwe, altyd op die vlug om
| |
| |
aan die genadelose Australiese kolonnes te ontkom. Die ou mense, die vroue en kinders het oral in klowe en bosse, in klein kampies en laertjies weggekruip en aan hulle was meestal die bewaking van die vee toevertrou. Maar elke dag het die gevaar en ellende hoër gestyg. Die generaal kon onmoontlik met sy klein kommando al die mense en vee beskerm. Van alle punte van die kompas ruk Britse kolonnes op, meestal deur geslepe verraaiers gelei, om die generaal en sy kommando te vernietig - iets waarin hulle egter nooit geslaag het nie. Maar die teenwoordigheid van die weerlose mense in die Bosveld en berge het die generaal se krygsbeleid vreeslik bemoeilik. Hy moes gedurig so beweeg dat hy die Engelse weglei van die skuilplekke waar vee en mense wegkruip. Dit het sy bruikbare ruimte geweldig ingeperk, en dikwels sy kommando in die uiterste gevaar gebring. Om tot 'n vaste reëling te geraak, het die generaal besluit om 'n groot vergadering te belê waar al die ou mense bymekaar sou kom om die toestand te bespreek en tot 'n algemene verstandhouding te geraak.
Vir dié doel is 'n klein plato tussen die berge gekies, waar sommige van ons grootste riviere hulle oorsprong het.
Hierdie plato was onverbeterlik as 'n natuurlike sterkte. Al die Engelse kolonnes was op hierdie moment ten noorde, terwyl die plato ten suide van die groot bergreeks lê wat ons distrik van oos na wes in twee verdeel. Daar was slegs twee poorte en een nek waardeur 'n gewapende mag die plato kon bereik. Hiervan was Tweepoort die naaste aan die plato en die geskikste vir 'n kolonne om in besit te neem en deur te trek. Die nek was meer as sestig myl ten ooste van die plato en die ander poort ongeveer vyftig myl ten weste van Tweepoort. Dit was derhalwe slegs nodig dat die generaal Tweepoort beset om die plato en die belegde vergadering te beveilig - altans vir so lank as wat hy dit van node sou hê. Selfs indien sy plan deur die een of ander verraad aan die vyand bekend sou raak, sou hulle hom alleen deur Tweepoort kon aanval.
Bodes is haastig en in groot geheim rondgestuur om aan die verskillende laers en kampe kennis te gee van die plek en dag van die groot vergadering, en nadat die generaal hom vergewis het van die feit dat die wêreld ten suide van die berg skoon is van vyandige kolonnes, het hy sy kommando in drie verdeel en op verskillende punte wat ver van mekaar lê gelyktydig aanvalle op Britse vestings en kolonnes ten noorde van die berge gedoen, natuurlik om die vyand in die war te stuur omtrent sy planne. Toe, op 'n bepaalde dag, het die drie afdelings by Tweepoort bymekaargekom. Hier moes gesorg word vir die besetting van die poort en sy beskerming, sodat die generaal in veiligheid na die plato kon deurgaan om op die bepaalde dag die vergadering daar te ontmoet.
Die kommando's moes veiligheidshalwe sover moontlik in die nag trek en dit was derhalwe twee of drie uur ná sonsondergang toe die kommando's mekaar by die ingang van Tweepoort ontmoet.
Haastig het die generaal hier sy reëlings getref en sy bevele gegee. Die poort
| |
| |
was so 'n sterk posisie dat 'n klein besettingsmag in die ingang in staat sou wees om met gemak 'n groot aanval vir onbepaalde tyd die hoof te bied. En daar was slegs een ingang tot die lang poort om te beskerm, naamlik 'n noordelike, omdat 'n aanval alleen van dié kant kon geskied.
Die generaal het die verdediging van Tweepoort aan Donou Winterbach opgedra en hy is toegelaat om self vyftig manskappe vir dié doel uit die kommando's te kies. Kortliks het die generaal op sy gewone wyse die klein maggie toegespreek en sy laaste woorde aan die jong bevelvoerder was:
“Onthou, Donou, dit is 'n saak van lewe en dood. Lewend moet g'n manskap die posisie verlaat nie. Die veiligheid van die kommando, van honderde vroue en kinders, rus in julle hande - miskien ons hele saak. God sy met julle.” En met sy sambokkie in die hand, soos sy gewoonte was, ry hy aan die hoof van sy kommando die poort deur.
Donou het spoedig die nodige reëlings getref. Die posisie was so gunstig dat dit nie veel krygsbeleid geverg het om die besetting te bepaal nie. Onder teen die hang van die berg, aan die suidekant, was 'n diep klofie waar hy die perde onder bewaking van enkele manskappe gelaat het. Die vyand sou dus die hele poort moes beset voordat hulle die perde sou kon bereik. Toe het hy sy orige manskappe aan weerskante van die noordelike ingang gestasioneer.’
Dokter Roubaix toon ons toe die aangehegte kaart, waar die posisies aangedui word as ‘Boere-posisie’ en ‘Eerste skuilplek van perde’, respektiewelik.
‘Nadat hy sy manskappe behoorlik geplaas het, het Donou stadig in die pad heen en weer geslenter, met sy oë stip op die donker noorde gevestig, sodat hy die eerste vyandelike beweging sou kan bespeur.
Donou het aan sy manskappe verklaar dat dit die eerste maal in sy lewe was dat hy Tweepoort besoek; maar sy indruk was verkeerd. Latere ondersoek het vasgestel dat hy een maal tevore, toe hy 'n kind van ongeveer vier jaar oud was, Tweepoort met sy vader op 'n jagtog deurgegaan het. Daarvan het hy destyds niks meer onthou nie.
Ongeveer 'n uur nadat die stelling in orde gebring is, kom die maan op en dadelik was die wêreld onder hom in so 'n helder lig gedoop dat Donou in staat sou gewees het om 'n bewegende kolonne etlike myle ver op die pad te ontdek.
Die pad na benede het 'n eienaardige, melkwit glans in die maanskyn gehad. Van die ingang gaan dit reg op die helling af vir 'n afstand van ongeveer een myl; dan draai die pad reghoekig regs langs die skuinste van die berg en dan met meer verdrag; die laaste deel na benede.
Dit was terwyl Donou die pad in die maanlig so stip gadeslaan dat 'n sonderlinge gevoel sy hele gemoed in beslag neem. Hy gewaar naamlik die gevoel dat hy die hele omgewing tevore in dieselfde omstandighede gesien het. Waar of wanneer kon hy nie dink nie. En tog was daar iets verkeerd met die landskap - iets wat hy 'n tyd lank tevergeefs probeer bepaal.
| |
| |
En toe skielik skiet dit hom alles te binne. Hy self vergelyk wat plaasgevind het met 'n “omkering” van iets binne sy denkvermoë. Hy herken die pad voor hom as die “wit pad” van sy langdurige drome; maar die pad, die berge en die hele landskap was op die een of ander wyse “omgeslaan”. Hy was egter in staat om hom in die “omgekeerde” wêreld “in te dink”, sodat alles dadelik vir hom reg en duidelik was. Maar as hy sy aandag 'n moment laat rondswerwe, dan spring alles weer verkeerd-om en moet hy met 'n bepaalde wilskraginspanning dit weer “reg”-dink. Dit was net soos die bekende, getekende paradoks van swart en wit kubusse wat verskillende vorms aanneem terwyl jy na hulle kyk.
Donou het gou ingesien dat die landskap óm hom 'n spieëlbeeld is van die landskap van sy drome. Hy het tevore, toe hy nog 'n jong seun was, proefnemings met 'n spieël gemaak. Die aanleiding daartoe was die skoolseun-probleem, wat die een of ander makker hom gestel het: As jy jou eie spieëlbeeld as 'n ander mens sien, wat voor jou staan, dan merk jy op dat dié mens se linkerkant is waar sy regterkant behoort te wees. Indien jy sy hart kon sien, sou dit aan sy regterkant wees. Jou linkervoet en regterhand is by hom regs en links, respektiewelik. Ook jou regteroor sit by hom aan die linkerkant van sy gesig. Met ander woorde, as jy die man se liggaam deur 'n regaflyn in die middel verdeel, sien jy dat regs en links by hom omgekeerd is. En dan volg die skoolseunvraagstuk: Waarom is daar geen dergelike plekomruiling van kop en voete nie? Die skoolseun is geneig om te antwoord: Omdat die plekomruiling in 'n spieël slegs in die breedte plaasvind en nie in die lengte nie. As dié antwoord gegee word, dan volg die verbysterende verdere vraag: Maar as jy op 'n rusbank uitgestrek voor die spieël gaan lê, dan nog is daar geen omruiling in die spieëlbeeld van kop en voete nie!
Dit was toe Donou eenmaal met hierdie belaglike vraagstuk besig was, dat hy sy aandag bepaal het by die weerkaatsing van die binneste van sy kamer in 'n groot spieël. Dit was toe dat hy die ontdekking gemaak het dat hy hom by die gespieëlde kamer kon “indink”, sodat dit alles skielik “reg” word in plaas van alles “verkeerd-om” soos 'n spieëlbeeld gewoonlik lyk. Daar is sommige mense wat dit met die grootste gemak kan doen; en dan is daar weer andere wat dit nooit kan regkry nie. So ook kan sommige mense sonder die minste moeite in “spieëlskrif” skrywe, dit wil sê, skrif wat in 'n spieël-afbeelding of van agter, by deurskyning van die papier, reg verskyn. Donou kon met dieselfde gemak as gewone skrif “spieëlskrif” skrywe.
Hieruit sal julle verstaan,’ gaan dokter Roubaix voort, ‘waarom hy so gou ontdek het dat die pad voor hom die spieëlbeeld van sy droompad was.
Die ontdekking het 'n sonderlinge uitwerking op sy gemoedstoestand gehad. Hy verklaar self dat hy in 'n soort “half-droomtoestand” geraak het wat sy hele daaropvolgende gedrag beïnvloed het.
Hy roep haastig 'n paar van die manskappe uit die verskansing om by hom
| |
| |
in die pad te kom en met die haastige bevel: “Kom saam met my”, neem hy hulle deur die poort na die suidelike ingang. Hy erken dat hy half verwag het om van hier die wit stad en seehawe van sy drome te sien. Wat hy egter sien is links onder, 'n donker houtbos met presies dieselfde halfmaanvorm van sy droomstad wanneer dit vanaf die poort-ingang betrag word. Die seehawe was 'n oop vlakte anderkant die houtbos. Ook hier was alles 'n spieëlbeeld van sy visioen.
Die ou gevoel van dreigende gevaar wat sy drome van die wit pad so onaangenaam gemaak het, het hom nou weer oormeester, maar, gelyktydig met die vaste sekerheid dat die gevaar uit dieselfde rigting dreig as wat dit in sy droom gedreig het, naamlik langs die helling van die berg in die hoek waar die houtbos, die berg en die vlakte bymekaar kom. So het die waarskuwende meisie die gevaar aan hom beduie.
Met veronagsaming van alle gevolge het hy dadelik die manskappe by hom beveel om die perde van onder af te bring. Sonder om enige uitleg aan hulle te verskaf, het hy die perde na die noordelike ingang meegevoer en in 'n kloof teen die hang laat verskuil. Toe vaardig hy die verbysterende bevel uit dat alle manskappe die posisie moet verlaat om die suidelike ingang van die poort in plaas van die noordelike te beskerm. Die manskappe het die bevel dadelik gehoorsaam, maar daar was enkele bejaarde burgers in sy afdeling wat dit hulle plig geag het om sy onuitlegbare gedrag met die jong veldkornet te bespreek.
“Wat beteken dit, veldkornet?” vra een van die oudste. “Gaan jy die poort oop laat, sodat die vyand dit enige oomblik in besit kan neem en ons in die rug aanval? En ons perde is hier in gedurige gevaar.”
Donou het hom kortaf geantwoord: “Ek ken die plek. Die vyand is aan die suidekant van die berg en die aanval sal van dié kant kom.”
“Hoe kan dit wees, veldkornet?” gaan die ou burger voort. “Die generaal het tog seker gemaak dat daar geen Engelse aan die suidekant van die berg is nie. In enige geval gaan jy die posisie hier in die poort baie gevaarlik maak. Ek ag dit my plig om jou te waarsku.”
Maar Donou het maar min ag op sy woorde geslaan. Hulle het intussen die suidelike ingang bereik en toe wys hy links: “Van daar sal die aanval kom. Die meisie het my gewaarsku.”
Dit was toe dat die manskappe mekaar vertwyfeld aankyk. Het Donou skielik kranksinnig geword?
“Watter meisie, veldkornet?” vra een.
“Hier kom sy”, is Donou se antwoord, en onder op die pad hoor hulle die klap van perdepote in vinnige galop. Almal staan met die geweers gereed. Toe die ruiter teen die steiler helling kom, moes die perd stap, maar hulle kon in die helder maanlig sien hoe die ruiter die perd met leisel en lat tot sy uiterste spoed aandwing. Toe die perd en ruiter die groep in die poort nader, gaan Donou hulle 'n paar tree tegemoet. Dit was 'n meisie, 'n jong meisie, en toe sy langs
| |
| |
Donou die perd tot stilstand trek, was sy só vervaard en uitasem asof dit sy was en nie die perd nie, wat die steilte beklim het.
“Oom, oom!” roep sy verwilderd uit, “die Engelse is aan die kom! Hulle gaan die poort inneem om die generaal vas te keer. Daar is tweehonderd van hulle en binne 'n uur sal hulle hier wees.”
Intussen het al die manskappe in die grootste verwondering om haar vergader, terwyl Donou, sonder 'n enkele woord, sy hand uitstrek om haar van die perd af te help. Toe sy tussen hulle staan, merk hulle op dat sy half-geklee is. Sy het 'n mansbaadjie met die moue om haar hals gebind, maar haar arms, hals en gedeelte van haar bors was oop.
Donou het haar lank en stip in die oë gekyk, terwyl hy haar hand nog steeds vashou. Stadig stryk hy haar blote arm met sy ander hand.
“Ken jy my?” vra hy uiteindelik.
Half verskrik kyk die jong meisie hom aan.
“Ja,” antwoord sy in bewende stem, “ek het jou tevore gesien, maar ek weet nie waar nie...” En ná 'n pouse: “Ek dink ek het van jou gedroom!”
En toe, in antwoord op die ander vrae wat aan haar gestel word, vertel sy haar storie:
“My naam is Smart Landsberg. My ma was alleen met my en my twee jonger broers tuis. Pa is op kommando. Gister is my ma met die kar weg om die vergadering by te woon. Hierdie perd hou ons altyd op stal, ingeval daar gevaar kom. Ek en my twee boeties was alleen tuis, en ons het net gaan slaap toe ons perdepote buite hoor; en dadelik daarna hoor ek hoe die voordeur met geweerkolwe stukkend geslaan word. Toe ek uit my slaapkamer loer, sien ek die voorhuis vol Kakies en hoor hulle my boeties vra: “Waar is jou pa? Waar is die Boere? Is die kommando al deur Tweepoort? Hoe ver is Tweepoort hiervandaan?”
Daar was “Scouts” onder hulle. Ek het gesien wat hulle plan is. Niemand sou hulle duskant die berge verwag nie en as hulle die poort inneem, sou hulle ons almal kon vaskeer en vang. Ek het deur die venster geklim, die perd opgesaal en agter die huis deur die bosse weggery, totdat ek so ver was dat hulle die perdepote nie meer kon hoor nie; toe het ek na julle aangejaag so vinnig as wat die ou perd kan galop...En daar kom hulle!” wys sy met die lat.
Links van die houtbos in die wit pad sien hulle 'n bewegende swart skadu en toe hulle luister, kan hulle die perdepote duidelik hoor.
“Vat jou perd deur na die ander kant van die poort,” gebied Donou haar, “en bly self daar totdat ons met hulle afgereken het.”
Haastig word posisie aan weerskante van die ingang ingeneem. Die Engelse het halfpad halt gehou, terwyl 'n paar verkenners vooruitkom om die poort te bekyk. Hulle vind die ingang verlate, sonder 'n enkele teken van die Boere. So gerus het dit hulle gemaak dat hulle daar binne tien tree van die Boere-posisie afklim, en met luide geskree die kolonne die teken gee om aan te kom.
| |
| |
Die slag van Tweepoort het minder as vyf minute geduur. Toe die kolonne reg tussen die twee Boere-wagposte was, het hulle halt gehou en afgeklim om hulle perde, ná beklimming van die steilte, te laat blaas. Dit was hierdie moment wat Donou gekies het om 'n sarsie op hulle van weerskante te los. Hy verklaar dat hy nooit in die oorlog Engelse so gou hulle geweers sien neergooi en hulle hande so vinnig omhoog sien steek het nie.
Die volgende dag het die generaal hulle laat loop. Sonder perde, sonder skoene, baadjies en hemde moes hulle sewentig myl na die naaste dorp in die noorde te voet stap. Die dooies het die Boere onder die berg begrawe en die gewondes is onder 'n wit vlag in ossewaens teruggestuur.
Daar het julle nou die storie van Donou se wit pad en julle kan self oordeel of daar iets bonatuurliks in steek,’ eindig dokter Roubaix met 'n glimlag. ‘Net dit wil ek byvoeg: soos ek gesê het, is dit seker dat Donou as kind Tweepoort deurgegaan het; en ek is ook byna seker daarvan dat hy Smart Landsberg by 'n Nagmaal of op die een of ander feesviering of vergadering moes gesien het sonder om dit te onthou. Dit is anders moeilik om aan te neem dat die een maal sien, in die maanlignag in die poort, genoeg was om hom so verlief op Smart te maak soos later geblyk het.’ |
|