Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 846]
| |
Laramie die Wonderwerkeraant.Laramie die Wonderwerker1 Laramie en Sy AgterryerEen koue winteroggend het ek gekampeer langs die jagpad wat Groot Vlakte van wes na oos kruis. Tussen my kamp en die pad was daar 'n laning siekelbos, wat my soos 'n gordyn teen alle moontlike padreisigers beskut het. Nie dat die beskutting juis nodig was nie - selfs indien ek dit verlang het - want reisigers op Groot Vlakte was destyds so 'n seldsame verskynsel dat 'n storing van hierdie aard hoogs onwaarskynlik was. En tog het die noodlot dit dié oggend bewerkstellig dat ek in die eensame jagpad die eerste bedryf van 'n eienaardige komedie soos op 'n verhoog, kon aanskou, terwyl ek ('n tyd lank altans) agter my siekelbos-gordyn verskuil, vir die komediante geheel onsigbaar was. My volk was net besig om karmenaadjies oor 'n gloed van kole aan spitte te braai, toe ek die geluid van perdepote in die sagte ‘asgrond’ van die jagpad hoor. Ek moet erken dat ek die pad nuuskierig van agter die siekelbos beloer het; ek was nie juis gereed om besoekers te verwelkom nie. Die draaie van die ou jagpad en die majestueuse kameeldorings wat Groot Vlakte hier bedek, het die aankomende perderuiters ook van my gesig beskut, totdat hulle binne 'n afstand van vyftig tree op die gelykte te voorskyn kom. Dit was 'n eienaardige kavalkade - so eienaardig dat ek ná my eerste gevoel van verbasing moeite ondervind het om nie hardop te lag nie. Die eerste wat te voorskyn gekom het, was 'n lang, maer kêrel op 'n geraamte van 'n perd. Sulke gelapte klere as wat sy lang liggaam bedek het, het ek seker nooit tevore gesien nie. Hy het 'n kakie-rypak aangehad, met 'n afskuwelike Engelse ballon-rybroek, wat tevergeefs getrag het om alle dele van sy lang bene te bedek. Ek sê ‘kakie’, maar sowel baadjie as broek was so gelap dat dit moeilik was om oortuigend te beslis wat die oorspronklike stof van die gewaad was. Sy perd was ook buitengewoon lank van been, en nog langer van haar; en so maer dat elke lid en gewrig in sy geraamte getel kon word. Die kêrel had 'n lang, smal gesig waarop uiterste neerslagtigheid en droefgeestigheid die vernaamste, feitlik die enigste, uitdrukking was. Die hele samestelling was 'n verpersoonliking van die uiterste ellende. Alles | |
[pagina 847]
| |
was in treurende houding. Die perd slof voort deur die stof met slepende hoewe, hangende kop, hangende ore, en halfgeslote oë; terwyl sy ruiter, verslap in die saal, vooroor gebuig sit, half aan die slaap, met 'n lang druipende treurwilgsnor, wat die droefgeestigheid van sy aangesig verdiep. Hy het dae lank nie geskeer nie; en seker nog langer nie gewas nie; hy en sy perd was van kop tot tone met die vaal stof van die Vlakte bedek. Kort op die hiele van die perd was 'n tweede, ewe merkwaardige ruiter. Dit was 'n ou, verkrimpte Boesmantjie op 'n langhaardonkie. Onder 'n ou flenterhoed kon ek sy klein gesiggie, gerimpeld soos 'n verlepte suurlemoen, en die klein kraalogies sien uitloer. Deur die ontelbare gate in sy hoed was sy grys peperkorrels aan alle kante sigbaar. Agter hom volg 'n pakdonkie, belaai met 'n rommel van komberse, potte, panne en ander veldgereedskap; en bo-op die drag lê 'n steekbaard-brakkie, so klein en tegelyk so met stof bedek dat ek twee maal moes kyk voordat ek seker was dat dit 'n lewende hondjie was. Net toe die verbasende optog reg oorkant my was - tot nog toe het geen van beide my kamp ontdek nie - was daar 'n skielike storing wat die twee duttende ruiters tegelyk helder wakker skud. Van agter kom die geruis van 'n motor, onmiddellik gevolg deur die gesketter van 'n toeter. Uit 'n wolk stof kom 'n groot motor te voorskyn, wat 'n paar tree voor die perderuiter tot stilstand kom. Al die persone van die drama het binne 'n paar tree van my - die onsigbare toeskouer - tot stilstand gekom. Uit die motor klim 'n forsgeboude, blonde reus van 'n kêrel, wat ek dadelik herken as meneer ‘Skat’ Pretorius, die rykste grondeienaar op Groot Vlakte. Hy was nie juis 'n ‘bewoner’ van die Vlakte nie, want hy het slegs af en toe sy groot plaas besoek en dan het hy selde langer as 'n week of twee vertoef. Hierdie winter het die mare egter rondgegaan dat meneer Skat Pretorius van plan was om al die koue maande op die Vlakte deur te bring. Hy het byna 'n maand tevore reeds met sy gesin sy intrek in Rooilaagte se reuse-woonhuis geneem en was klaarblyklik nou op weg huis toe ná 'n besoek aan die dorp. Hy was 'n baie ryk man, wat te midde van rykdom en weelde grootgeword het, want hy het sy skatte van sy oorlede vader geërwe. Hy kon nouliks 'n beminde buurman genoem word. Hy was luidrugtig - in alle opsigte luidrugtig - en ofskoon 'n mens hom nie juis as spoggerig kon beskrywe nie, was dit duidelik dat die omgewing waarin hy opgegroei het, 'n ongunstige uitwerking op sy karakter gehad het. Hy was 'n maatskaplike tiran, uit hoofde van sy geld. Hy was gewoond om alles wat hom die minste teenstand bied, met 'n uitbarsting van woorde en dreigende gebare te oorrompel, soos 'n kragroller die bosse op 'n nuwe land; en 'n mens kon sien dat hy altyd stellig verwag het dat almal dadelik voor sy magwoord moet buig. Bowendien was hy so sterk soos 'n reus, sodat diegene wat miskien geneig was om sy rykdom te minag, deur sy spierkrag afgeskrik is. Nadat hy, in 'n lang, wit jas gehul, uit die motor geklim het, het hy vlak voor | |
[pagina 848]
| |
die perderuiter in die pad gaan staan en die kavalkade 'n paar minute lank woordeloos, met klaarblyklike verwondering, gadegeslaan; eers die baas en toe die Boesman het hy noukeurig bekyk, sonder om selfs die ruiter se beleefde groet te beantwoord. En toe sien ek 'n glimlag oor sy gesig trek, wat daarna oorgaan in 'n gekekkel van 'n lag wat al luider en luider word totdat die geluid van sy gelag uit die diep bors, soos die voormare van 'n donderstorm, storend oor die stil vlakte trek. Hy lag en hy lag, vooroor gebuig, dan sywaarts, terwyl hy sy groot dye weerklinkend met die hande klap. So hartlik was sy gelag, so uiters sorgloos omtrent die uitwerking op die voorwerp wat dit ontlok, dat dit aansteeklik op ons agter die siekelbos gewerk het. Sowel ek as my volk het uiteindelik saamgelag, meer oor Pretorius se gedrag as oor die komiese vertoning van die perderuiter - en dit was komies genoeg. Dit het lank geduur voordat hy behoorlik asem kon skep, en keer op keer, nadat hy sy oë met 'n sakdoek afgevee het, was daar 'n nuwe uitbarsting. Die houding van die perderuiter en sy Boesman het intussen ongetwyfeld gedien om Skat Pretorius se lagspiere in beweging te hou. Doodstil, sonder 'n glimlag op sy droewige gelaat, sonder die minste teken van verbasing of verontwaardiging, het die flenterjak Pretorius woordeloos gadegeslaan. Net so ongeroerd was sy Boesman. Toe die blonde reus uiteindelik sy vrolikheid onder bedwang het, roep hy die perderuiter met sy gewone luidrugtigheid toe: ‘Wees gegroet, edele ridder van La Mancha! Nooit tevore het ek die eer gehad om jou en jou beroemde agterryer, Sancho, op Afrikaanse bodem in lewende lywe teë te kom nie; daar is derhalwe verontskuldiging vir die verrassing. En dit is natuurlik die beroemde strydros, Rosinante?’ Skat Pretorius het 'n tyd lank aan 'n Europese universiteit gestudeer, en ofskoon hy nooit 'n graad van enige aard behaal het nie, het hy daarin geslaag om 'n taamlik goeie opvoeding op te doen, die bewyse waarvan hy nooit versuim het om ten toon te stel nie. Terwyl hy praat, klim die maer kêrel met stadige bewegings van sy perd. Hy gaan vlak voor Pretorius staan, terwyl hy met 'n gemaakte buiging sy ou breërandhoed van sy kop swaai. ‘Wie is ek, 'n ongelukkige skaduwee onder skaduwees, dat ek die minste of die meeste van Gods skepsels van 'n glimlag sal beroof?’ En met dié woorde draai hy stadig voor Pretorius in die rondte, terwyl hy die gelapte ballon van sy rybroek met altwee hande na weerskante wyd strek. ‘Ek bid u, meneer, stel u vrolikheidsdrang tevrede. Ons lag min genoeg onder die uitspansel des hemels. Indien die ellende van u medemens in staat is om u tot vrolikheid en opgeruimdheid op te wek, is ek tot u diens ... En as die Boesman iets kan bydra ... ek smeek u om nie te aarsel om hom te gebied nie.’ | |
[pagina 849]
| |
Sy woorde het die een of ander goeie snaar in Pretorius se gemoed geraak. Ek kon sien dat hy skaam voel oor sy uitbarsting. ‘Ja, vriend, ek sien dat ek onbeleefd was. Kyk, my plaas is nie meer as ses myl verder af nie. Kom na Rooilaagte. Ek sal jou daar te wagte wees en as gasvryheid 'n vergoeding vir my onbeleefdheid kan wees, hoop ek om alles weer reg te maak. Wat is jou naam en nering, as ek mag vra?’ ‘Meneer,’ antwoord die ruiter, ‘my naam is Laramie en ek is van beroep 'n watervinder - u weet? ... 'n watervinder met die stokkie.’ ‘Nou ja, meneer Laramie, kom na Rooilaagte. Daar kan jy ten minste uitrus. Ek is jammer dat ek jou nie kan werk gee nie; ek glo natuurlik niks in die stokkie-nonsens nie ... dit is alles twak en toiings. Maar jy sal nietemin jou verblyf op Rooilaagte geniet. Daar sal ek voor sorg.’ En hy reik Laramie vriendelik die hand, terwyl hy die Boesman met 'n wuif begroet. 'n Minuut later verdwyn sy groot motor in die stofdwarrel tussen die kameeldorings. Intussen het die ou Boesman sy donkie langs sy baas getrek, terwyl laasgenoemde, diep ingedagte, die motor agterna kyk. ‘My jong,’ sê hy, ‘die skatkis is op die boom, en die honger is op ons hakke. Hy is nooit die aangenaamste van reisgenote nie. As ons hom wil ontglip, moet ons nou planne maak.’ Van agter die laning kon ek elke woord hoor en elke gebaar van die twee sien. ‘Seur,’ antwoord die Boesman, ‘as die reën kom, is dit net die leë damme wat vol loop. Die vol damme kry niks van die nuwe water nie.’ ‘Dis waar, o wyse uit die woestyn. Die generaal wat veldslae wen, is die een wat die veld vooraf goed bekyk, en die vyand van kop tot tone bestudeer. Nou, ons vriend is sonder twyfel Skat Pretorius, die doel en oogmerk van ons reis; en die geluk was vanoggend aan ons kant, of hoe? Hoe kon dit beter gebeur het? Jammer dat hy nie in die stokkie glo nie. Maar daar sal ander skeure en gate in sy wapenrusting wees. Dit gebeur dikwels dat 'n man met die grootste veragting die water-stokkie verwerp, terwyl hy vas glo in spokery, goëlery en towery, en dat 'n aartappel in jou skoen goed is vir rumatiek. Miskien sal ek daarin slaag om meneer Pretorius oor te haal om sy ongeloof in hersiening te neem. Boesmantjie, dit mag die groot kans wees waarna ons so lank soek - wie weet? En so, ek is die ridder Don Quixote de la Mancha, en jy is die agterryer, Sancho Panza? Nou ja, dan betaam dit jou, my Boesman, om al die wysheid van Sancho Panza in gebruik te stel.’ ‘Seur, ek ken maar min van die Bybel. Van hulle het ek nog nie gehoor nie. Seur, klim! Laat ons ry. Dit sal minstens twee uur duur.’ En toe druk hy die slap rand van sy pap hoed uit sy gesig en hy keer om na die hondjie op die pakdonkie. Die brakkie staan op sy vier pootjies, met gespitste ore na my kant gekeer. Dit was 'n sagte, skaars hoorbare blaffie wat die aandag van die Boesman na die hondjie getrek het. | |
[pagina 850]
| |
‘Wat is dit, Sprinkaan?’ vra hy. Die hondjie waai sy stertjie een of twee keer en toe staan hy met sy oë stip, soos 'n jaghond op die spoor van 'n patrys, na my kamp gerig. ‘Ha!’ sê die Boesman, ‘hier braai iemand vleis!’ En binne 'n paar sekondes was baas en Boesman om my vuur geskaar, terwyl ek en Laramie oor en weer formeel kennis maak. Hy het sonder veel oorreding op my uitnodiging ingewillig om af te saal en saam te eet. Dit was my eerste kennismaking met die wonderhond Sprinkaan; en die eerste maal dat ek van aangesig tot aangesig met sy wonderlike eienaar, Laramie, kon praat. Ek het hom twee keer tevore op 'n afstand gesien. | |
2 Om die BosveldvuurDie eerste indruk wat die drie besoekers op my gemaak het, was een van honger. Dat al drie uitgehonger was, was nie een moment aan te twyfel nie. Laramie het sy lang gestalte 'n paar tree van die vuur af op die gras uitgestrek; die Boesman het 'n paar tree verder teen 'n kameeldoringstam neergehurk; en tussen die twee het die klein steekbaardbrakkie stelling ingeneem. Van die oomblik dat hulle gaan sit het, was geeneen van hulle se aandag ooit vir 'n enkele sekonde van die bedrywigheid van my kok verwyder nie, wat by die gloeiende kole met die vleisspitte besig was. Die klein hondjie se gedrag was besonder opmerklik. Met gespitste oortjies het hy elke beweging van die kok gevolg, terwyl hy die gewig van sy klein lyfie gedurig van die een na die ander voorbeentjie versit. En toe was daar 'n merkwaardige voorval, wat altyd in my geheue sal lewe, omdat dit die eerste openbarende blik was wat my verskaf is in die diepere sieleband wat hierdie drie in 'n sonderlinge driemanskap verbind het. Êrens uit sy verflenterde baadjie het Laramie ná lang gesoek en gesukkel, 'n ou, afgebrande pyp te voorskyn gehaal, en ná nog meer gesoek het hy met duim en voorvinger 'n klein hopie tabakkrummels uit die hoeke van sy sakke vergader. Terwyl hy besig was om sy pyp sorgvuldig te stop, het die hondjie vir die eerste maal sy aandag van die kok na sy baas versit. Sonder dat daar 'n woord geuit is, sonder dat Laramie die minste sigbare teken gemaak het, het die hondjie hom met lang treetjies genader en twee of drie maal sy vuil hand gelek. Oënskynlik het hy nie die minste notisie hiervan geneem nie en klaarblyklik het Sprinkaan geen erkenning verwag nie. Hy stap stadig na die vuur, terwyl hy die kok twyfelagtig uit die hoekie van sy oë beloer. Langs die hoop braaikole was 'n vlammende vuurtjie, waar die ketels aan die | |
[pagina 851]
| |
kook was. Die brakkie het die vuur noukeurig bestudeer; waarna hy met sy voorpootjie 'n vlammende stompie vinnig van die vuur wegkrap. Daar was nog 'n vlam aan die een end van die stukkie hout, wat hy geblus het deur die stomple van die veilige end met sy voorpootjies heen en weer in die stof te rol. Toe die vlam uit is, neem hy die stompie in sy bek, stap na sy baas en oorhandig dit met al die stelselmatige bewegings van 'n redenerende wese, waarna hy weer ewe bedaard op sy uitverkore plekkie gaan sit om die kok in die oog te hou. Die hondjie se gedrag was so onverwags, so verbasend, dat sowel die volk as ek dit met onwillekeurige verwondering begroet het. Aan Laramie het dit egter geen die minste opmerking ontlok nie, selfs nie 'n glimlaggie nie. Ek het later geleer dat hierdie eienaardige mens vergeet het hoe om te lag. Terwyl ons met die maaltyd besig was, het ek Laramie gedurig nadenkend gadegeslaan. Een of twee keer het daar agter in my geheue 'n vae gewaarwording opgedoem, asof ek alles wat toe gebeur, tevore op presies dieselfde wyse deurgegaan het. Die meeste mense het by een of ander geleentheid hierdie ondervinding. Dit word deur sielkundiges, onder andere, toegeskrywe aan ongelyktydige werking van die twee helftes van die brein, en wat dies meer sy. Ek het egter spoedig die ontdekking gedoen, dat die snaakse gevoel by dié geleentheid toe te skrywe was aan die feit dat ek 'n onduidelike, byna vormlose herinnering aan Laramie êrens in my geheue gehad het. Net voordat hy aan die eet gegaan het, het hy sy hangende snor met 'n enkele handveeg horisontaal getrek, sodat die punte met 'n vooroshoring-boog hemelwaarts gewys het. Dit het dadelik die voorkoms van die Ridder van die Droewige Gelaat (soos Don Quixote genoem is) op merkwaardige wyse verander. Ofskoon die vernaamste uitdrukkings dieselfde gebly het, ofskoon sy gesig nog steeds 'n masker van diepe neerslagtigheid gebied het, was daar ten minste stellig iets meer lewendigs, iets meer intellektueels in sy vuil aangesig te bespeur. En toe ... op die donker agtergrond van my geheue word twee tonele een na die ander, tot 'n heldere brandpunt saamgestel, en van agter die coulisse tree Laramie elke keer te voorskyn, maar in omstandighede so verskillend dat die moeilike herinnering lig verstaanbaar was. In die eerste skouspel verskyn hy op 'n vergadering van wetenskaplike leiers in die hoofstad, waar ek toevallig teenwoordig was. Hy was in groot tenue, met die rooi roset van een of ander ridderorde in sy knoopsgat. Hy was skoon geskeer, wat ongetwyfeld gestrek het om die intellektuele trekke van sy gesig te beklemtoon. Hy het onder die geleerdes 'n merkwaardige, 'n uitstaande vertoning gemaak - in sekere opsigte 'n reus onder dwergies. En toe onthou ek die toespraak wat hy by dié geleentheid gelewer het. Net so merkwaardig en uitstaande was dit as wat sy persoonlike voorkoms was. Hy het net 'n paar minute gepraat, na aanleiding van 'n stofdroë voordrag waarmee die een of ander ou | |
[pagina 852]
| |
wetenskaplike peuteraar die vergadering 'n uur lank verveel het. Met 'n paar woorde het hy sy gehoor na die misterieuse geweste gevoer wat in die wetenskaplike wêreld die kenbare van die onkenbare skei. Onmiddellik het hy die vergadering so geboei dat daar 'n indruk van asemlose oplettendheid was. Jy sou 'n speld kon hoor val. En net so skielik as wat hy begin praat het, het sy toesprakie geëindig. Daar was 'n gefluister onder die kaalkoppe, nes die gesuis van wind deur 'n bos fluitjiesriet: ‘Wie is hy?’ ‘Waar kom hy vandaan?’ ‘Wat is hy?’ Ek glo nie dat daar 'n enkele antwoord op een van die vrae was nie, en toe hulle weer na hom soek op die plek waar hy gestaan het, was hy weg, en sover ek weet het hy dié nag nie weer in die vergadering verskyn nie. Die tweede toneel was van geheel ander kleur. Dit was 'n klein magistraatshof in 'n baie klein dorpie. Voor die hof staan 'n skraal, lang kêrel en 'n ou opgekrimpte Boesmantjie tereg. Die witman is slordig en vuil. Sy klere is oud en verslete, maar ten minste nog heel. Uitwendig dra hy al die tekens van 'n opdrifsel uit die een of ander menslike slympoel. Hy en die ou Boesman staan beskuldig van 'n poging tot bedrog, deurdat hulle 'n stuk grond met nagemaakte diamante gesout en op dié wyse getrag het om enige ponde van die eienaar van die grond te buit. Die poging het misluk, asook die aanklag. Die magistraat het hulle die voordeel van die twyfel geskenk - of liewer wat hy verklaar het 'n twyfel by hom te wees. So naelskraap het die twee die tronk ontglip! Was dit Laramie en sy Boesman wat ek dié dag in die klein hofvertrek gesien het? Die twee sit voor my, terwyl reuse-porsies vleis en brood in 'n onafgebroke linie deur hul kake verdwyn. ‘Ja, dokter Roubaix, dit was ek.’ Op langsame toon antwoord Laramie my ongesproke vraag! As hy 'n bom langs my laat ontplof het, sou hy seker geen groter verbasing in my gewek het as met die enkele volsin nie. | |
3 Laramie Vertel Sy LewensverhaalEk het hom lank verbaas aangekyk. Hy was toe klaar met eet en sit met sy lang bene gevou en sy gevoude hande om sy knieë geslaan. Af en toe rus sy ken tussen die knoppige knieë, terwyl hy my van onder sy hoedrand beloer met oë wat 'n lig bevat soos dié van 'n reptiel - iets slangagtigs. ‘Ek hoop, dokter Roubaix,’ vervolg hy op talmende toon, ‘dat u my nie sal verdink van enige poging om my as 'n gedagteleser voor te doen nie. U moet onthou, net soos u my die oggend in die magistraatshof gesien het, so het ek, van my kant, u onder die toehoorders opgemerk. Verder sou 'n kind 'n tydjie | |
[pagina 853]
| |
gelede op u gesig die oorspronklike twyfel opgemerk het; die strewe om te herinner, en hoe die herinnering stadigaan in u geheue vorm en duidelikheid aangeneem het. Al onderskeid tussen ons bestaan daarin dat ek 'n beter geheue as u besit. Ek het my jare lank geoefen in die studie van die menslike aangesig, sodat ek nou nooit 'n gesig vergeet wat ek een maal gesien het nie.’ Weer was daar 'n taamlike lang stilte tussen ons, maar Laramie se oë was onveranderlik op my gevestig, sodat ek mettertyd bepaald kriewelrig onder die begluring begin voel het. ‘So, is u van plan om die uitnodiging van die heer Skat Pretorius aan te neem, as ek so nuuskierig mag wees?’ Ek dink my vraag het Laramie effens laat skrik. Ná 'n tydjie sê hy egter sonder enige verwytende toon: ‘U het natuurlik die gesprek tussen ons in die wapad afgeluister. Ja, dokter, ek sal die uitnodiging aanneem. Ek moet dit aanneem! Daar is 'n kans in opgeslote, waarvoor ek die helfte van my lewe gewag het en ek durf dit nie uitsluit nie. Ek is soos 'n drenkeling aan wie die laaste kans tot redding hom voordoen - 'n rots wat hy met sy vingernaels kan bereik. As hy nalaat om sy hand uit te strek, is daar gevaar dat hy vir ewig deur die stroom weggespoel sal word. Wie durf my verbied - wie sal my dit kwalik neem as ek my hand uitstrek?’ ‘Ek seker nie, meneer Laramie,’ antwoord ek, ‘solank niemand anders deur u poging tot selfredding benadeel word nie. Daar was sprake van 'n “groot kans” wat meneer Skat Pretorius betref. As ek my nie vergis nie, was daar ook sprake van “bygelofies” wat gebesig kon word - die geloof dat 'n aartappel in die skoen goed is vir rumatiek. Ek sal openhartig met u wees, meneer Laramie. Meneer Pretorius is 'n vriend van my. Ek is nou op weg na Rooilaagte op sy uitnodiging om 'n tyd lank by hom te bly. Ons sal dus waarskynlik gelyktydig sy gasvryheid geniet. Ek wil u net dit van meneer Pretorius vertel: hy is 'n goed opgevoede man, by wie u seker geen uitbuitbare bygeloof sal vind nie. Maar, soos ek sê, meneer Pretorius is my vriend, en as u van plan is om op die een of ander ongeoorloofde wyse geld van hom te kry, kan ek dit nie oogluikend toelaat nie. Dit sal u my natuurlik toegee. Daarenteen is ek seker nie meneer Pretorius se aangewese hoeder nie. So staan sake tussen ons twee, meneer Laramie, en u sal dit in die oog moet hou in al u onderhandelinge met meneer Pretorius wat in my bysyn mag geskied.’ Laramie oordink my woorde 'n paar minute. ‘Dokter,’ sê hy uiteindelik, ‘u kan my groot skade berokken, terwyl u onder 'n misverstand verkeer. Ek glo nie dat meneer Pretorius u hulp sal inroep of nodig sal hê nie. Ek is seker dat u bemoeiing - u ongevraagde inmenging - deur hom kwalik geneem sal word; en dit sal geheel onnodig wees. Al wat ek nou vrees, is dat u iets voorbarigs mag doen of sê wat alleen daartoe sal strek om my te benadeel sonder dat dit meneer Pretorius sal bevoordeel. Veroorloof my | |
[pagina 854]
| |
om u iets van my lewe te vertel. Ek kan u nie alles vertel, seker nie alles wat ek beoog nie, maar ek kan u minstens genoeg vertel om aan u min of meer duidelik te maak dat daar niks van 'n kriminele aard is in wat ek van plan is om uit te voer nie. Het u tyd en geduld om te luister?’ Ek knik bevestigend, en Laramie gaan voort: ‘Ek het van my oorlede ouers genoeg geërwe om my gedurende my hele lewe van arbeid te vrywaar. My vader was 'n beminde man en ek was die enigste kind. Maar ek was 'n rustelose, nuuskierige seun. Aan die universiteite in Europa het ek my tyd verspil in nuttelose studies en ondersoekings, wat seker nie kon dien om my vir die lewenstryd te bewapen nie. Ek was altyd geneig tot die studie van die geheimsinniger dinge in die natuur en in die menslike siel. Ek sou my verhaal vervelend maak as ek sou trag om u selfs 'n skets van my studies in die begin te gee. Voldoende vir my doel is dit om duidelik te maak dat die menslike godsdiensgelowe altyd vir my 'n groot aantrekkingskrag besit het, sowel die wêreldgelowe van vergange tye as die gelowe wat in ons tyd - meestal uit bestaande godsdienste - as nuwe takke en stamme voortgespruit het. Die krag van godsdienstige leiers en stigters het my veral benieu, en ook die lewe van leiers in alle rigtings, mense wat sonder bespeurbare rede groot invloed en mag oor hulle ewemens erlang het. Deur 'n sonderlinge toeval het ek kort ná my terugkeer uit Europa in Suid-Afrika kennis gemaak met 'n egpaar, die Lanzics, wat later wêreldberoemd geword het. Hulle was Amerikaners van Deense afkoms en was op reis deur Suid-Afrika met 'n klein vertoning, waarvan hulle die vernaamste deel self verskaf het. Die voorval wat tot ons kennismaking aanleiding gegee het, was die volgende. Ek was op 'n klein dorpie in dieselfde hotel as die Lanzics tuis, waar hul geselskap drie opvoerings sou gee. Een oggend was ek in die voorportaal van die hotel besig om 'n koerant te lees, toe mevrou Lanzic deurstap na buite. Die dames het dié dae nog lang sleeprokke gedra, en mevrou Lanzic het 'n besonder lang rok van die een of ander dun, ligte materiaal aangehad. Iemand het net tevore 'n nog vlammende vuurhoutjie in die portaal neergegooi en mevrou Lanzic se rok het met die vlam in aanraking gekom. In een sekonde was sy in ligte laaie en ek dink dat ek miskien gehelp het om haar lewe te red. Sy het net begin hardloop toe ek haar gryp, op die vloer neerdruk en ten spyte van haar lewendige verset, in die tapyt oprol. Die twee was my vreeslik dankbaar, dankbaarder as wat ek verdien het. Hoe dit ook al sy, die gevolg was dat ons intieme vriende geword het en ek het hulle verskeie male in klein dorpies en later in Pretoria en Johannesburg ontmoet. Hulle het destyds vreeslik gesukkel om 'n bestaan te maak. In Pretoria, byvoorbeeld, was die vertoning so 'n mislukking dat hulle nouliks hul onkoste kon dek. Die Lanzics het my al die geheime van die vertoningswêreld geleer. Dit was vier jaar later in Londen dat ek weer met hulle in aanraking gekom | |
[pagina 855]
| |
het. Die verskil tussen hulle lewe in Suid-Afrika en hulle lewe toe, was 'n storie uit die Duisend-en-Een Nagte. Hulle was in die duurste hotel in Londen tuis - die Cicel op die Embankment. Hulle was omring van bediendes, en in hul wagkamer het party van die grootste Engelse persoonlikhede geduldig gewag om die twee wonderwerkers te ontmoet. Die Lanzics was “gedagtelesers”, en al die groot geleerdes van Europa het hulle reeds getoets en as eg verklaar. Ons ou intimiteit in Suid-Afrika het my ten goede gestaan, en ek het weer, “van agter die skerm” hulle gedagtelesery in Londen gadegeslaan - met hernieude verwondering. Vir my het hulle geen geheime bewaar nie. Onnodig om te sê dat hulle net so min gedagtes kon lees as wat ek deur 'n klipmuur kan sien; en tog was die hele geleerde wêreld van Europa gereed om 'n gesamentlike beëdigde verklaring af te lê dat hier, vir die eerste maal in die geskiedenis van die wetenskap, die bewys gelewer is dat menslike gedagtes sonder gebruik van een van die menslike sintuie van een mens na die ander oorgedra kon word. Dit was deur die Lanzics dat ek met verskeie ander “wonderwerkers” uit die vertoningswêreld in aanraking gekom het: met Houdini, met Eusapia Palladina, met die twee Miss Croswells, en met nog 'n reeks meer. Ek het Maskaleyne en Cook ontmoet, en het intussen die geskiedenis van die Indiese toutoertjie en mango-toertjie in die Britse Museum nageslaan, en die uiteinde van al my bedrywigheid in hierdie rigting was dat ek die vaste sekerheid opgedoen het dat daar iets gemeenskapliks was in al die wondere wat dié mense (en honderde voor en ná hulle) in staat was om te verrig. Daar was 'n geheim, 'n ongenaakbare, sielkundige geheim; en die snaaksste van alles was dat negentig persent van die wonderwerkers self absoluut onbewus was van die werklike bron van hul bonatuurlike krag. Dit was op die ontdekking van hierdie geheim dat ek my toegelê het. In alle oorde, in weelde en armoede, in voorspoed en ellende, altyd het ek die groot doel voor oë gehou, want ek het vroegtydig tot die kennis geraak dat die mensekind wat die geheim ontdek, meester sal word van die wêreld en gebieder van al wat lewe. Ek is nog op die spoor, maar nou so naby dat ek dit reeds met my vingerpunte kan aanraak. Al wat ek van Skat Pretorius verlang, is dat hy my die een laaste tree voorthelp en sy voordeel uit die transaksie sal tienduisend pond wees. Hy sal alleen geld verlang en vir my sal geld geen bekoring besit nie, want al die skatte van die aarde sal in die holte van my hand lê.’ | |
[pagina 856]
| |
4 Laramie in Aanraking met WonderwerkersOp droefgeestige, eentonige wyse het Laramie met sy verhaal voortgegaan. Selde of nooit het sy liggaamlike houding verander. Die Boesman het hom intussen op die grond uitgestrek en was vas aan die slaap, met die gloeiende strale van die winterson reg in sy gesig. Die brakkie, Sprinkaan, so dik geëet dat hy hom met moeite beweeg, het 'n posisie onder die gevoude bene van Laramie ingeneem, waar ook hy uitgerek die salige slaap van versadigde honger geniet. Ek was intussen op sonderlinge wyse geboei deur Laramie se verhaal. Ek dink stellig dat sy talmende spreekwyse, sy onbeweeglike slangoë, stip op my gevestig, en sy eienaardige houding, met die lang ken meestal tussen sy knieë vasgedruk, alles meegewerk het om in my 'n droomlandse sielstoestand te skep, waarin alles in die wêreld van my gewaarwordingsvermoë uitgesluit was, behalwe alleen die woorde van my eienaardige gas en die beelde deur sy storie opgetower. ‘U moet nie aan my as 'n eksentrieke enkeling dink nie, dokter Roubaix. Ek kan u verseker dat ek groepies en individue aan byna al die groot universiteite aangetref het wat op dieselfde soektog uit was as ek. Ook kan ek u verseker, wat die konserwatiewe wetenskap ook al mag sê, dat hoe dieper jy op die saak ingaan, hoe sterker skyn die bewyse te word dat daar van die vroegste tye af mense op aarde was wat in beheer was van kragte wat ons vandag buite- of bonatuurlik sou noem. Dink maar aan die meeste heiliges. Neem sint Simon Stilites; of sint Antonius, wat duisende ooggetuies in die lug sien sweef het. Sou al die getuies òf leuenaars òf kranksinniges gewees het? Is al die getuienis omtrent die geheime, bonatuurlike kennis van die broeders van die Rosekruis, van die lede van Gnostieke sektes - is al die getuienes sonder 'n jota waarheid? En as ons nader aan ons tyd kom, word die vraagstuk al hoe ernstiger. Sou Paracelsus al die geleerdes van sy tyd so volledig kon bedrieg het dat hy in verskillende hoofstede van Europa met koninklike eer ontvang en deur verskillende universiteite van Europa met hul hoogste grade vereer is - alles op grond van sy aanspraak dat hy die besitter van bonatuurlike kennis was? En wie kan die dagboek van graaf Jean Ferdinand von Kueffstein, en die verhaal van sy lyfbediende, Josef Kammerer, bestudeer sonder om tot die gevolgtrekking te geraak dat, indien menslike getuienis van die minste betekenis of waarde is tot ontplooiing van die waarheid, hierdie Oostenrykse edelman, kamerheer van die keiserin Maria Therese, dan magte en kennis besit het waardeur hy in staat was om die onveranderlike natuurwette na keuse te verander? Hier, ten minste, was 'n man wat alles in sy vermoë gedoen het om sy kennis en die wondere wat hy te-weeg kon bring, geheim te hou. In sy ongenaakbare vesting in die Oostenrykse Tirool het hy en sy bediende in afsondering gelewe terwyl hy met sy eksperimente besig was. Sy reis na Italië is net so heimlik gedoen en dit was | |
[pagina 857]
| |
slegs ná sy dood dat Kammerer die doel van die reis aan die wêreld bekend gemaak het. Dit was naamlik om die beroemde Abbé Géloni te ontmoet, wat met 'n ondersoek in dieselfde rigting besig was. Onder plegtige beloftes van geheimhouding het hulle die resultate van hul respektiewelike eksperimente vergelyk. So het daar in elke mensegeslag, vanaf die vroegste tye, mense gelewe omtrent wie daar die sterkste getuienis bestaan dat hulle beheer gehad het oor bonatuurlike magte. Die doel en strewe van dié mense was net so uiteenlopend as die menslike natuur self. Een het in die uiterste armoede geswoeg en altyd daarna gestreef om sy werk en die resultate geheim te hou; het nooit na eer of rykdom gesoek nie; het met 'n rein hart getrag om sy medemens deur sy kennis te bevoordeel. 'n Tweede het net een doel voor oë gehad: om so gou moontlik alle skatte te versamel wat sy geheime kennis binne sy bereik gevoer het. 'n Ander het alleen persoonlike eer en roem beoog; vleeslike genot; die onnatuurlike verlenging van die lewe en wat dies meer sy. En so gaan dit voort deur die geskiedenis van die mensdom op aarde. In ons tyd, namate die bevolking van die aarde toeneem kom die verskynsel meer dikwels voor; en tegelyk verminder die soeklig van die moderne wetenskap die moontlikheid van bedrog. Twyfel word minder, maar dit volg byna onvermydelik uit die aard van die saak self dat twyfel nie geheel en al sal verdwyn nie. Neem byvoorbeeld die geval van die eerste Amerikaanse “levitasiemedium” wat Engeland in 1860 verras het. Daar bestaan honderde beëdigde verklarings van mense uit die hoogste Engelse stand dat hierdie medium nie alleen materiële voorwerpe - tafels en stoele - in die lug kon laat sweef nie, maar dat hy in staat was om sy eie liggaam van alle swaartekrag te ontdoen en onder die plafon, soos 'n lugballon, rond te sweef. Onder andere is daar 'n verklaring van die Markies van Queensberry en 'n professor uit Cambridge dat die Amerikaanse medium in hul teenwoordigheid in die lug deur een venster na buite gesweef en deur 'n ander venster die vertrek weer binnegekom het, vyftig voet bo die grond! En tog was getuienis van hierdie aard onvoldoende om alle twyfel te vernietig, vernaamlik toe later bewys is dat die medium 'n deurtrapte skelm was en in Londen tereg moes staan weens bedrog. Hy het naamlik 'n ou dame deur middel van sy sogenaamde spiritisme van haar hele fortuin beroof! Hierdie kwessie van bedrog kom dikwels voor, om die saak nog meer te verduister. Dit skyn asof die mens verlang dat iemand wat bonatuurlike kennis besit, tegelyk vry moet wees van alle hartstogte en dryfvere van die vlees. Ek dink dit is 'n verkeerde stelling. Ek is daar seker van dat geeneen van die mense die groot geheim werklik ontdek het nie. Net soos ek was hulle almal maar aan die soek. Sommige het naby gekom, so naby dat hulle gretigheid uiteindelik alle ontsag vir menslike instellings en wette vernietig het. Ek wil u vertel van 'n paar moderne wonderwerkers met wie ek self in aan- | |
[pagina 858]
| |
raking gekom het. Omtrent die Lanzics het ek u reeds vertel. Net dit wil ek nog byvoeg: hulle wonderkrag het nie daarin bestaan dat hulle gedagtes kon lees nie, maar daarin dat hulle duisende en nogmaals duisende mense onder toetsvoorwaardes kon laat glo dat hulle gedagtes kon lees. Ek kan u die stellige versekering gee dat hulle nooit in staat was om die eenvoudigste gedagte te lees wat nie deur middel van die gewone sintuie oorgedra word nie. Ek weet dit, want vir my het hulle niks geheim gehou nie; en tog staan hulle by die hoogste wetenskap in Europa aangeskrewe as werklike gedagtelesers. Dit is wenslik om so 'n feit in gedagte te hou by die ondersoek van wondere en wonderwerkers. Ek wil u graag vertel van nog twee wonderwerkers wat ek self ontmoet het, behalwe die Lanzics. Ek kies die twee uit 'n lang reeks, omdat ek vermoed dat u miskien in staat sal wees om uit hulle gedrag die een gemeenskaplike iets af te lei, waarvan ek tevore melding gemaak het. Dit was in Parys dat ek vir die eerste maal met die Italiaanse medium Eusapia Palladina kennis gemaak het. Deur bemiddeling van 'n vriend, 'n mediese student, wat toe in die Salpêtrière werksaam was, het ek 'n uitnodiging ontvang om 'n seance by te woon waar Palladina haar bonatuurlike kragte sou tentoonstel. Daar was ongeveer twintig mense teenwoordig, maar onder die groepie was sommige van die vernaamste wetenskaplike groothede in die wêreld. Daar was professor Flammarion, die Franse sterrekundige, wat toe al die hoogtepunt van sy wêreldberoemdheid bereik het; daar was die Italiaanse sielkundige, Lombroso, wat lank tevore reeds die resultaat van sy ondersoekings in die siel van die menslike misdadiger publiek gemaak het. In alles wat abnormale sielkunde betref, was sy woord destyds wet deur heel die wetenskaplike wêreld. Maar die man wat die grootste indruk op my gemaak het, was 'n gesette Italianer wat onbeweeglik in 'n donker hoekie van die vertrek gesit het. Ons het geweet dat hy daar sou wees en my vriend het hom spoedig aangedui. Dit was Schiaparelli, die grootste sterrekundige van ons eeu. Hy is meestal bekend vir sy ontdekking van die sogenaamde “kanale” op die oppervlakte van die planeet Mars; maar in die sterrekundige wêreld is dit beskou as die minste van sy ontdekkinge. Sy groot werk was in verband met die klein planete wat tussen die aarde en Venus beweeg. Hy het sy sterrekundige opleiding in Berlyn voltooi, en kon Duits soos 'n Duitser praat. Ek was toe nog maar 'n seun, en u sal lig die ontroering besef wat die nabyheid van hierdie wêreldberoemdhede in my veroorsaak het; en vernaamlik die grootste wiskundige in die wêreld, Schiaparelli. Een hoek van die vertrek was deur 'n gordyn afgeskort en op hierdie gordyn was alle oë gevestig. Niemand het hard gepraat nie en die gefluister en skemerduister waarin die kamer gehul was, het die indruk van die een of ander gewyde plegtigheid gemaak. Daar was 'n stadige beweging van die gordyn, asof dit | |
[pagina 859]
| |
deur 'n sagte wind heen en weer gewaai word, maar daar was geen beweging van lug in die vertrek nie. Die gordyn is opsetlik deur 'n mensehand geroer. Hoe lank die beweging aangehou het, kan ek nie sê nie, maar dit het 'n eienaardige uitwerking op my gehad; dít onthou ek nog goed. Die hele wêreld was uitgesluit. Ek hoor niks en sien niks behalwe hierdie stadige beweging van die doek nie. Toe gryp 'n hand van agter die skerm die kant van die doek - 'n groot growwe hand. Dit word opsy getrek en 'n minuut later tree Eusapia Palladina te voorskyn. Sy was 'n groot, grofgeboude Italiaanse vrou in haar vyftigste jaar. Dit is beste dat ek nou reeds alles van haar vertel, soos dit later aan die wêreld bekend geraak het. Sy was uit 'n lae Italiaanse boerestand en so gering was die opvoeding wat sy gehad het, dat sy nouliks kon lees of skryf. Van haar jongste kinderdae het sy opvoerings in 'n sirkus gegee, eers as 'n perde-arties, toe in die gimnastiek en later as goëlares. So vernuftig was sy in die uitvoering van die goëltoertjies dat sy uiteindelik hierin gespesialiseer het. Hoe sy haar gawe as medium ontdek het, weet ek. Sy het self beweer dat sy by een geleentheid gewaargeword het dat die meubels in haar nabyheid in beweging raak en oor die vloer dans; dan was daar 'n aanhoudende geklip op die mure, deure en plafon wat haar deur die hele huis gevolg het. Hoe ook al, haar spiritistiese bedrywigheid het my nooit grootliks geïnteresseer nie, ofskoon dit deur die beweerde oproeping van geeste was dat sy aanvanklik in aanraking met Lombroso en Schiaparelli en die wetenskaplike wêreld gebring is. Die Italiaanse geleerdes het Palladina aan die strengste toetse onderwerp, waarvan Lombroso later 'n verslag gelewer het. Uiteindelik het hierdie ongeleerde Italiaanse vrou die grootste wetenskaplike outoriteite van Italië - almal ongelowiges - oortuig dat sy allerhande bonatuurlike magte besit. En so het sy na Parys gekom. Ek moet dít intussen nog duidelik maak: voordat sy in die kamer toegelaat is, is alles deur 'n wetenskaplike komitee noukeurig ondersoek. Met die meubilering van die vertrek het sy niks te doen gehad nie. Voor haar toelating tot die vertrek is sy deur die lede van 'n ander komitee ontklee, en deur twee dokters ondersoek. Ander klere is aan haar verskaf, en toe is sy eers agter die gordyn toegelaat. Van die verskyning van geeste gedurende hierdie seance wil ek niks sê nie. Daaroor is talle boekdele geskrywe en die besonderhede van haar spiritistiese werk is seker aan u taamlik goed bekend. Maar wat my besonder geïnteresseer het, was die sogenaamde levitasie, die beweging van materiële voorwerpe sonder sigbare oorsaak. Die kamer was skemerdonker - so donker dat dit onmoontlik was om gewone druk te lees, maar lig genoeg om die gesigte van die aanwesiges te herken. Eusapia het op 'n stoel langs die tafel gaan sit. Sy was ongeveer twee voet van die naaste tafelpoot verwyder. | |
[pagina 860]
| |
Ná verskillende “materialiserings” van geeste het een van die komitee 'n levitasie aangekondig. Palladina was ongeveer twee tree van die voorste ry toeskouers. Ek was op die uiteinde van een ry, omtrent vyf tree van haar af. Sy was oënskynlik in 'n slapende toestand en het nooit, gedurende die duur van die seance, 'n enkele sigbare beweging gemaak nie. Dit was só ligskemer, en sy was só naby my dat ek duidelik die klein hakies-en-ogies van haar japon kon sien. Omtrent drie of vier voet bo die tafel sien ons 'n dowwe mistigheid, 'n klein wit wolkie wat stadig na benede sak. 'n Paar duim bo die tafel begin dit 'n meer definitiewe vorm aanneem. Ek kon duidelik die geur van blomme ruik, en toe die voorwerp op die tafel te ruste kom, sien ons dadelik dat dit 'n groot ruiker vars blomme is. Palladina het dit nooit aangeraak nie. Die ruiker is deur een van die komiteelede opgeneem en rondgegee. Dit het uit angeliere en rose bestaan en was klaarblyklik net gepluk. Al die blomme was nat met dou of water en die geur het die hele vertrek gevul. Die tweede verskyning wat my spesiaal geïnteresseer het, was die levitasie van die tafel. Hierdie meubelstuk was 'n taamlike swaar eetkamertafel, waarby ses mense kon aansit. Skielik sien ons die poot naaste aan Palladina van die grond af oplig, omtrent 'n voet hoog, en toe met 'n geweldige stamp weer op die vloer te ruste kom. Toe lig die hele tafel stadig van die grond, totdat dit omtrent 'n voet bo die vloer in die lug sweef. Geleentheid is toe aan al die teenwoordiges gegee om die tafel te ondersoek. Saam met die meeste van die verteenwoordigers het ek verskillende male om die tafel geloop, tussen Palladina en die tafel verby. Ek probeer om dit met een hand af te druk. Daar was 'n sekere mate van veerkrag waarneembaar, maar selfs met gebruikmaking van byna al my gewig kon ek die tafel nie een duim na benede verroer nie. Ek herinner my dat Flammarion 'n wandelstok gehad het, wat hy aan ons oorhandig het. Ek het self die stok bo en onder die tafel deur beweeg, sodat ek myself oortuig het dat dit deur geen tou van bo of 'n stut van onder in die lug gehou word nie. Ons is toe deur die komitee versoek om 'n tree agteruit te staan, en ons sien toe die swaar tafel stadig hoër en hoër gaan, totdat dit teen die plafon raak. Net so stadig het dit weer afgedaal en op dieselfde plek op die vloer te ruste gekom. 'n Menigte toetse is vooraf deur die komitee gereed gemaak, wat gedurende die loop van sake aan die teenwoordiges bekend gemaak is. Ek hoef dit nie alles aan u te vertel nie. Wat ek nou vertel het, is die indruk wat die vertoning op elkeen van die teenwoordiges gemaak het; en toe die seance oor was, het almal onvoorwaardelik verklaar dat daar geen bedrog kon gewees het nie, en dat daar geen natuurlike uitleg was vir wat ons gesien en getoets het nie. Die verdere loopbaan van Eusapia Palladina is seker goed bekend. Van Parys is sy na Engeland en toe na Amerika. Wat haar spiritistiese vertonings betref, is sy verskeie male in bedrog betrap. Gedurende 'n seance in Cambridge | |
[pagina 861]
| |
het sekere studente een van die geeste beetgepak, terwyl 'n medewerker tegelyk die lig aanskakel. Die “gees” was 'n pop aan drade vas, wat Palladina waarskynlik onder haar klere weggesteek het. Onmiddellik daarna het sy haar weer aan toetsvoorwaardes onderwerp. Sy is vooraf ontklee, deur onpartydige dokters ondersoek en het seëvierend alle toetse deurstaan. Dit is opmerklik dat geen erkende bewys van bedrog ooit in die minste Lombroso, Schiaparelli, Flammarion en ander groot wetenskaplikes se geloof in haar geskok het nie. Die uitleg van haar gedrag was dit: somtyds het die krag haar tydelik versaak; sy kon nooit van 'n vertoning seker wees nie; en dan, liewer as om haar ondersteuners teleur te stel, het sy haar toevlug tot bedrog geneem, waarin haar sirkusopleiding haar ten goede gekom het. Verder het Lombroso die teorie geopper dat sy die bedrog uitgevoer het terwyl sy in 'n beswyming of trance was. Wat dit ook al mag wees, moet ek u op een feit attent maak, en dit is dat daar nooit 'n suggestie van bedrog was wat die levitasie betref nie. Alle teenwoordiges is altyd geoorloof om op die plek die swewende voorwerp aan te tas en te ondersoek, en niemand het ooit 'n oorsaak ontdek, of bedrog aan die kant van Palladina aan die hand gedoen nie. Bring dit nou in verband met die vermaarde Indiese toutoertjie. Daar is duisende mense (honderde van onbesproke naam en karakter), wat beweer het ('n menigte onder eed) dat hulle die toutoertjie gesien het saam met honderde ander toeskouers. Die besonderhede was altyd min of meer dieselfde, ofskoon daar somtyds afwyking was wat sekere kleinighede betref. In hoofsaak kom die toutoertjie egter op die volgende neer: Die uitvoerders is 'n volwasse Indiër en 'n seuntjie en die opvoering geskied in die opelug, gewoonlik net ná sonsondergang. Die groot Indiër neem 'n opgerolde tou aan een end, terwyl hy die rol in die lug opgooi. Die tou rol af totdat dit penorent staan, die bo-ent onsigbaar bo in die lug. Dan klim die klein Indiër langs die tou op. Hy gaan hoër en hoër, totdat hy bo in die lug onsigbaar word. Stuk vir stuk val sy klere na benede, wat deur die groot Indiër opgeraap en in 'n groot mandjie gestop word. Dan val die tou op die grond en wanneer die mandjie weer oopgemaak word, kom die klein Indiër daaruit te voorskyn, behoorlik geklee soos hy in die begin was. Onder ander ooggetuies van die tou-toertjie was een afdeling van 'n Britse regiment, seshonderd man sterk, wat in die hawe van Bombaai gewag het om in te skeep. Die meeste van die offisiere het bevestigende verklarings afgelê. Een vername getuie by hierdie geleentheid was die Hertog van Connaught, oom van die Koning, wat te perd was en die vertoning van begin tot end aanskou het. 'n Ander vername bevestigende getuie van die toutoertjie was generaal Younghusband, opperbevelhebber van die Britse leërmag, wat Tibet ingeneem het. Hy het dit baie later in Noord-Indië gesien en sy uitleg was: “gemeenskaplike en gelyktydige hipnotisering van al die toeskouers”. Aan die ander kant is daar verskeie wetenskaplike ondersoekers wat ver- | |
[pagina 862]
| |
klaar dat die vermaarde Indiese tou-toertjie 'n blote legende is, van alle waarheid ontbloot. Die beroemde Engelse goëlaar, Maskaleyne, verklaar byvoorbeeld dat hy Indië besoek het met die spesiale doel om die tou-toertjie te sien, indien daar werklik so iets te sien was. Hy het groot belonings uitgeloof aan enigeen wat hom in aanraking kon bring met enige uitvoerder van die toutoertjie. Niemand in Indië het ooit sy beloning opgeëis nie. Nog meer: nieteenstaande noukeurige navraag het hy nooit 'n enkele persoon ontmoet wat kon verklaar dat hy self die toutoertjie gesien het nie. Nouliks het Maskaleyne egter sy verslag in Engeland publiek gemaak, of hy is oorstroom met briewe van ooggetuies, gereed om beëdigde verklarings af te lê. Maskaleyne is kort daarna dood en daarby bly die saak tot vandag.’ | |
5 Die Eerste Wonderwerk‘Houdini is die ander wonderwerker wat ek persoonlik ontmoet het, en omtrent wie ek u iets moet vertel,’ het Laramie die verhaal van sy wedervaringe ná 'n pouse hervat. ‘Soos u weet, was Houdini 'n Amerikaanse Jood. Wat godsdiens betref, was hy, net soos Edison, Mark Twain en talle ander beroemde Amerikaanse geleerdes en skrywers, geheel en al ongelowig. Die onsterflikheid van die menslike siel het hy as 'n kinderagtige bygeloof verwerp, en gedurende sy hele lewe was hy 'n hardnekkige bestryder van die spiritisme. En Houdini het sonder twyfel wondere verrig, ongeëwenaard in ons tyd. In alle lande is hy deur polisiehoofde en ander deskundiges in hand- en beenboeie vasgeklink, en nakend in brandkaste, tronkselle en ysterkiste opgesluit; en ná 'n paar sekondes verskyn hy buite ... los van alles en die slotte nog in dieselfde toestand waarin die waarnemers hulle gelaat het! Daar was net een moontlike uitleg van sommige van sy vernaamste toere en dit was dat Houdini die mag besit het om deur materie te dring. Hy kon byna net so maklik deur hout, gemesselde mure en staalplate gaan as wat 'n gewone mens deur die lug gaan. Wat die eienaardigste was van sy opvoeringe, was die feit dat hy gedurende sy hele lewe alle bonatuurlike uitleggings van sy toertjies bespot het. Die beroemde Engelse skrywer sir Arthur Conan Doyle het gedurig beweer dat Houdini gebruik maak van bonatuurlike kragte in die uitvoering van sy onverklaarbare toertjies, terwyl Houdini self dié uitleg ontken en bespot het. Nietemin het hy altyd alle maatreëls getref om die geheim van sy wonderwerke te bewaar. Een van die voorwaardes wat hy sonder uitsondering gestel het in elke skouburg waar hy 'n opvoering gegee het, was dat alle buitedeure gesluit moes word en onder beheer moes wees van sy eie wagte; en niemand is agter die skerm toegelaat solank hy op die verhoog was nie. En daar het u nou die onuitlegbare teenstrydigheid: hy self ontken dat hy | |
[pagina 863]
| |
enige bonatuurlike mag besit, terwyl sy intieme vriende gereed is om te beweer dat hy wel deeglik gebruik maak van bonatuurlike mag - Conan Doyle sê, onbewus.’ (Beide Houdini en Conan Doyle is lank ná hierdie skrywe oorlede. Houdini het 'n testament nagelaat wat die vernietiging van al sy dokumente gebied het. Ook het hy 'n enkele sin op 'n stuk papier vir veilige bewaring in 'n brandkas geplaas wat enige medium ná sy dood deur oproeping van sy gees kon ontsyfer en sodoende £500 verdien. Die geheim van die sin is aan sy vrou toevertrou. Tot nou toe is die prys nog nie uitbetaal nie. - Die Skrywer.) ‘By Houdini was daar natuurlik nooit sprake van bedrog nie, eenvoudig omdat hy vooraf aan die publiek verklaar het: “Ek maak nooit gebruik van bonatuurlike mag nie; ek maak daar geen aanspraak op nie; my hele doel is om julle te bedrieg.” Maar een ding is seker en dit is dat niemand ooit ontdek het hoe Houdini sy wonderwerke verrig het nie. En die geheim het met hom gesterf, daar hy die vernietiging van al sy dokumente en toestelle in sy testament beveel het.’ Hier het Laramie geswyg, asof hy met sy verhaal klaar was. Op sy eienaardige wyse het hy my gesit en beloer, terwyl hy sy hondjie se ore sag deur sy vingers stryk. Dit was asof hy die een of ander opmerking van my verwag, maar ek het niks gesê nie. Ek herinner my goed dat al my denke in beslag geneem is deur die eienaardige invloed wat die vent en sy verhaal op my gehad het. So volkome het hy my aandag geboei dat toe sy eentonige stem skielik in stilte oorgaan, ek 'n gevoel gehad het soos van 'n duiker wat uit die diepte opkom en vir die eerste keer weer asemskep. Ek dink hy het my gevoel besef, want daar was een moment lank op sy gesig die skyn van 'n skelm glimlaggie - nie 'n duidelike glimlag nie, want so iets het ek nooit op sy droewige gelaat bespeur nie. Dit was nie meer as 'n vlugtige trek nie, wat die indruk gee van 'n glimlag wat net wou begin maar nie voltooi word nie. ‘Nou, dokter, ek het u vertel van sekere wondere en sekere wonderwerkers, met sommige van wie ek persoonlik in aanraking gekom het - met 'n bepaalde doel. Ek het u gesê dat dit my doel was om u in staat te stel om iets gemeenskapliks in die gedrag van die verskillende mense te sien. Dink na oor alles wat ek u vertel het - kan u nie een draadjie sien wat deur alles loop nie?’ Ek kon egter nie sien wat hy bedoel nie en het ontkennend geantwoord. ‘Laat ek u dan 'n kort oorsig gee,’ gaan hy voort. ‘Daar is gelowe, soos dié van die Mormone, gegrond op 'n storie so belaglik dat dit moeilik is om te verstaan hoe 'n kind dit kan glo. 'n Jong boerseun vertel aan sy familie dat hy 'n engel ontmoet het en dat die engel hom 'n goue boek gegee het, in 'n vreemde taal geskrywe, wat hy deur ingawe van bonatuurlike kennis in staat was om te vertaal. Die goue boek vertoon hy natuurlik nie! Dié moes hy weer op 'n geheime plek begrawe. Die boek self - dit wil sê, sy beweerde vertaling - is 'n uiters | |
[pagina 864]
| |
belaglike, sogenaamde geskiedenis. En die seun woon onder opgevoede, hardwerkende, godsdienstige Amerikaanse boere - hardekoppe, wat seker nie as liggelowig beskou sou kon word nie. En die jong seun is in staat om nie alleen sy eie familie nie, maar die hele omgewing oor te haal om te glo dat wat hy vertel, die waarheid is en die gevolg van 'n goddelike openbaring. Pleks dat hulle hom kranksinnig verklaar, verlaat hulle hul kerk en hul vrugbare plase en trek die woestyn in om 'n nuwe godsdiens en 'n nuwe staat te stig. Die wonderwerk wat Joseph Smith verrig het, was nie die vertaling van 'n goddelike boek nie Die werklike wonderwerk was dat hy in staat was om duisende mense met gesonde verstand te oortuig dat sy kinderagtige storie waar is. Dit is die groot wonderwerk; en dit, dokter, is die draadjie wat deur al my verhale loop. U sal sê: “'n onmoontlikheid kon nie geskied nie.” En tog oortuig hierdie mense duisende oor- en ooggetuies dat onmoontlikhede wel deeglik deur hulle bemiddeling geskied. Of dit 'n Palladina is wat 'n swaar tafel hoog in die lug laat sweef en blomme uit niks skep nie; of 'n Houdini wat deur 'n staalplaat gaan - ons weet goed genoeg dat sulke dinge nie kan gebeur nie en tog laat die mense dit gebeur en ons is later verplig om te erken dat ons ooggetuies daarvan was, dat ons dit self gesien en getoets het.’ Ek herinner my dat die gedagte wat by my opgekom het, was dat Laramie op die spoor was van die een of ander slim toertjie waarmee hy van plan was om individue te beroof, in plaas van op die meer geoorloofde en gewone wyse opvoerings in 'n skouburg of saal te gee; en ek het hom dit daar en dan te kenne gegee. ‘U is verkeerd, dokter,’ was sy antwoord. ‘Wat ek soek, is iets groters as 'n gewone toertjie, soos u dit noem. Ek het u gesê dat ek daar seker van is dat daar geen moderne wonderwerker was wat self die werklike bron van sy mag besef het nie. Dit is na hierdie bron wat ek soek. Ek dag dat u dit sou kon aflei uit wat ek u reeds vertel het. Toertjies? Wat beteken toertjies? As ek met toertjies tevrede was, dan verseker ek u, dokter, het ek genoeg om 'n bestaan van te maak; maar dit sou te vernederend wees! Kan ek met 'n kersliggie tevrede wees nadat ek die son in al sy glorie gesien het?’ Skuins agter hom was 'n rosyntjiebos, wat hier op die Groot Vlakte weelderig groei. Met weer iets van 'n reptiel - iets van 'n trapsuutjies - in sy bewegings het hy uit een van sy verflenterde sakke 'n ou, afgeslyte knipmes te voorskyn gebring en uit die rosyntjiebos 'n lang, dun latjie afgesny. Of hy dit bedoel het of nie, kan ek nie met sekerheid verklaar nie - ek dink wel dat dit 'n berekende gebaar was; maar hoe ook al, ek herinner my dat al sy bewegings in verband met die afsny van die latjie my aandag van begin tot einde volledig in beslag gehou het. Sorgvuldig, met lang hale van die mes, het hy die bas van die latjie afgeskil, totdat dit gelyk het soos 'n spierwit wyser, ongeveer drie voet lank. | |
[pagina 865]
| |
Met die wyser na my gerig, kyk hy my 'n hele ruk stip in die oë. ‘Toertjies! Magtig, dokter, ek het werklik verwag dat u nou reeds 'n weinig meer verhewe gedagte omtrent my karakter en strewe sou gekoester het. Toertjies? Voorwaar, dit is maklik genoeg, maar ek besweer u dat ek my siel nie sou besoedel om geld deur toertjies te verdien nie, hoe slim en onuitlegbaar hulle ook al mag wees. En ek het 'n taamlike repertoire van toertjies, indien ek my daarvan sou wil bedien. Kyk! U staan getuie dat ek geen kans gehad het om u sakke deur te snuffel nie.’ 'n Aansienlike tyd was hy stil, terwyl hy hom met die stryking van die stokkie besig hou. Toe begin sy talmende stem weer: ‘Maakt Uzelven vrienden uit den onrechtvaardigen Mammon. Goud. Geld was altyd die noordster van die menslike siel. Van oudsher af het hy sy vaart deur die lewensoseaan hoofsaaklik deur die aantrekkingskrag van geld gerigsnoer. Dit het vir die mens bewys van goddelikheid geword. Die man wat dit besit, verskyn in 'n stralekrans; hy word aanbid na verhouding tot die grootheid van sy rykdom. Ons hemel self kan geen hemel wees tensy dit met goud gevloer is en die poorte uit edelgesteentes bestaan nie. Armoede is die teken en bewys van alles wat minderwaardig en veragtelik is.’ Terwyl hy met sy langdradige gepreek voortgaan, begin hy met die punt van sy stokkie 'n streep in die stof trek. Hy het die strepie teen die punt van my skoen begin en reguit na homself getrek. Dit het uiters stadig gegaan. Af en toe staak hy die beweging van die stokkie, sonder egter om die punt van die grond af op te lig. Dit was asof die beweging die maat bewaar met sy talmende, droomlandse gepraat. ‘Daarom sal ons maar geld gebruik om u een toertjie uit my repertoire te toon. Ek wil u wys hoe vir die menslike gewaarwordingsvermoë, in sekere omstandighede, die ondeurskynende materie deurskynend soos helder glas word. Ek wil sien hoeveel geld daar in u sakke is ... In die baadjiesakke? ... Nee ... Ook nie in die binnesak van die baadjie nie? ... Nee ... In die broeksakke? ... Nou kom ons nader! ... In die heupsak van die broek? ... Ja. Nee ... Ook nie ... Wat is dit dan? ... En die geld is in 'n beursie? ... O ja, nou sien ek ... Dit is 'n leersakkie, na die aard van 'n klein portefeulje ... En daar is in ... laat ek sien, laat ek sien ... agt pond in note ... vier pond in goud en elf sjielings in silwer.’ Tegelyk met die end van sy woorde eindig ook die strepie, wat hy tot teen sy eie voete getrek het. Ek het sy laaste beweging skouerophalend aangehoor. ‘Daar word beweer,’ sê ek, ‘dat so iets deur gedagtelesery gedaan kan word, maar daarin glo ek net so min as wat ek in 'n bonatuurlike uitleg sou glo. Dit kan ook wees dat terwyl jy aan 't prate is, die uitdrukking op my gesig die | |
[pagina 866]
| |
bedrag aan jou verraai. Maar dié keer het jy te kort geskiet. Of jy nou al getrag het om my gedagte te lees, of om uit my gedrag die waarheid af te lei, altwee metodes moet op mislukking uitloop, want ek het self nie die minste idee hoeveel geld daar in my portefeulje is nie.’ ‘Laat ons dan sien, dokter, of my bedrag reg is: agt pond, vier pond en elf sjielings.’ Die juiste bedrag wat Laramie genoem het, het my lankal ontgaan. Ek noem hierdie syfers alleen om aan te dui dat hy nie alleen 'n vaste bedrag nie, maar ook die besonderhede genoem het. Ek neem die portefeulje uit my agtersak, maak dit oop en skud die inhoud in die palm van een hand uit. Net voordat ek self die geld klaar getel het, roep Laramie uit: ‘Daar is twee sjielings kort. Dit moet nog in die sakkie wees.’ Ek skud die sakkie nogmaals en 'n floryn, wat in die een of ander hoekie vasgesit het, val op my hand. Ek het die geld twee maal getel. Daar was presies agt pond in note, vier pond in goud en elf sjielings in silwer. Die gevoel wat my oorrompel het, was een van skaamte eerder as bewondering. Hier sit ek spraakloos voor die Vent van Fladders en Flenters, wat ek kort tevore die les wou leer oor toertjies - ek het selfs gedreig om die taak te aanvaar om Skat Pretorius teen sy voorgenome bedrog te beskerm! En binne vyf minute kon hy my in so 'n verbysterde toestand dompel dat ek hom blosend moes aankyk sonder dat ek 'n woord kon vind om te sê. Terwyl ek die geld diep nadenkend in die sakkie terugstort, doen Laramie iets eienaardigs wat my later eers weer bygeval het. ‘Net soos ek die geld binne in u sak getel het,’ gaan hy voort, ‘net so maklik vryf ek die geheue daarvan weer dood,’ en terwyl hy dié woorde sê, vryf hy die strepie in die stof met die dik end van die stokkie dood. Ek was toe nog so bedwelmd deur wat ek pas gesien het, dat sy woorde nouliks tot my verstand deurgedring het, maar twee dae later, toe ek aan Skat Pretorius die voorval vertel, het ek die bedrag wat Laramie genoem het, glad vergeet, en ek moes die geld weer uitstort en tel om aan Pretorius duidelik te maak dat daar verskillende hoeveelhede geld was. Dit was toe dat ek Laramie se sonderlinge daad en bygaande woorde onthou het. Ek is nou seker daarvan dat Laramie my gevoel van beskaamdheid dadelik besef het en daarvan gebruik gemaak het om my voorgenome bemoeiing insake Skat Pretorius te voorkom. Nadat ek die portefeulje weer in my sak teruggeplaas het, sê hy: ‘Ek weet dat u met minagting op my sou neersien indien ek sou trag om van 'n niksbeduidende toertjie soos dié een gebruik te maak, en u sou in u gewone menseplig te kort skiet indien u nalatig bly om tussenbeide te kom as ek ooit sou probeer om enige mens op aarde op so 'n wyse geld te ontneem.’ | |
[pagina 867]
| |
Ek het later eers ingesien hoe uiters geslepe sy houding en woorde by die geleentheid was. Hy kon nooit 'n beter weg ingeslaan het nie as om voor te gee dat ek en hy in staat was om sy wonderwerk vanuit so 'n verhewe oogpunt te aanskou dat ons daarop soos op 'n kinderagtige toertjie kon neersien! 'n Meer helende balsem kon hy nooit gegiet het in die wond wat my eiewaan in die afgelope paar minute opgedoen het nie! Hy het dadelik, in plaas van 'n teenstander, 'n kameraad van my gemaak! Ek herinner my dat ek ons gesprek by dié geleentheid min of meer op hierdie wyse gesluit het: ‘U sê dat u op die spoor is van die een of ander groot ontdekking en gee voor dat u die ondersteuning van 'n man met geld nodig het om die ondersoek te voltooi. Nou ja ... ek is nie die aangewese beskermer en hoeder van meneer Skat Pretorius nie. Hy is seker goed in staat om homself te beskerm; waarskynlik beter gewapen as ek in 'n stryd van hierdie aard. Wees derhalwe gerus, Laramie. Ek sal seker nie op taktlose wyse intree en u kanse op Pretorius se ondersteuning verydel nie. Van een ding kan u verseker wees: Ek sal u nooit van bedrog beskuldig nie, eenvoudig omdat ek die ding nie kan verstaan nie.’ En dit was voorlopig die einde van die saak. Ongeveer 'n uur later het ek laat inspan en Laramie en ek is saam voort na Rooilaagte, Skat Pretorius se plaas. Op my uitnodiging het hy sy perd deur die Boesman laat lei, terwyl hy en die hondjie in die ossewa by my plaasgeneem het. Onderweg het Laramie my vertel van sy verkeer in die ‘dieptes’. | |
6 Laramie en die Venter-bendeOns het deur die nag getrek, want die volgende dag sou Sondag wees en ek wou nie op die Sabbat by Skat Pretorius aankom nie. Ek het gehoor dat een van sy eienaardighede die stipte eerbiediging van die Sabbat was. Anders as sy bure, het hy nooit op Sondag geskiet nie. Selfs sy gaste is dit altyd, soms langs 'n omweg, aan die verstand gebring dat die gasheer van Rooilaagte dit as 'n guns sou beskou as hulle op Sondag nie skiet nie. Deur 'n sonderlinge sielkundige teenstrydigheid het hy niks verkeerds in kaartspeel op Sondag gesien nie. Op Rooilaagte is die Sondag meestal met dobbel op die stoep deurgebring - dit wil sê as daar gaste uit die stede was. Sy uitleg was: ‘My vader het nooit jag of skiet op Sondae toegelaat nie en dit sou my seermaak om sy beginsels te minag.’ Dit was 'n koue, stille winternag, met die hemel helder, soos die fynste koninklike porselein. Ek het my flenterjak-vriend 'n ou karos geleen om om te hang en so sy maer liggaam teen die koue te beskerm, waartoe sy lugtige klere seker onvoldoende was. | |
[pagina 868]
| |
Hy het langs my op die voorkis gesit, met die brakkie op sy skoot onder die karos in sy arms vasgevou. Baie duidelik herinner ek my ons gesprek dié nag - liewer gesê, sy gesprek, want ek het gedurende die lang trek nouliks twee sinne geuit. Laramie het my diep geïnteresseer. Nie alleen was die inhoud van sy verhaal uiters boeiend nie, maar die eienaardige mens het dié nag sonderlinge karakterwendings blootgelê. Hy het hoogtes van ware gevoel bereik, wat ek, ná ons kortstondige en oppervlakkige kennismaking, nooit in hom verwag het nie. Sy gesprek was van die aard van 'n alleenspraak. So sag was sy stem dat sy woorde dikwels skaars hoorbaar was en somtyds was daar 'n reeks afgebroke sinne, wat ek self moes aaneenlas. Dit was asof hy die stroom van sy gedagtes onwetend in woorde omsit. ‘Sulke pragtige sterre kan 'n mens nêrens in die wêreld sien nie. Dit is die lug van die Suid-Afrikaanse binneland wat hierdie verheerliking van ons sterre veroorsaak. Dit is in die winter dat ons hemel die pragtigste vertoning maak. As 'n mens verplig is om winter en somer onder die blote uitspansel te slaap, leer jy die sterre baie goed ken. Hulle word intieme vriende ... die hoogste prag en glorie, die genot waarvan niemand op aarde die armste drommel kan ontneem nie. In die winter is die Suiderkruis natuurlik op sy hoogste, en dan verskyn die band van skitterende juwele op sy pragtigste’ en hy wys na die hemelstraat wes van die kruis. ‘In ander lande is Orion natuurlik ook sigbaar, maar nooit is Aldebaran, Betelgeuse, Rigel, Sirius, Procyon, Canopus en die groot oostelike ster van die kruis so heerlik as wanneer hulle afgeset word deur die newelgoud van Centaurus nie ... die sewe ewigbrandende lampe wat die altaar van ons hemel verheerlik.’ Ná 'n lang tussenpose: ... ‘Ja, dit is waarskynlik my laaste kans om weer op te kom uit die diepte. As dit misluk ... wel! Weet jy, dokter, wat ek allereerste sou doen as ek beheer sou verkry oor groot skatte? Ek sou my sakke opvul en die land deurreis, en aan al die arme drommels wat ek op die paaie teëkom, sal ek net soveel gee as wat elkeen kan beetpak. Ek sal skenk sonder om voorwaardes of vrae te stel. Nooit sal ek die arme ou padloper kruisvra omtrent sy drinkgewoonte nie. As hy 'n paar sopies wil drink ... my liefdadigheid sou selfs sover strek. Ek sal nooit aanbied om hom werk te verskaf nie. Ek weet dat baie van hulle sielkundig so ingerig is dat werk vir hulle byna gelykstaan aan die doodstraf. Ek weet, want ek het my kanse gehad om hulle van baie naby te bestudeer. Nadat u my die keer in die magistraatshof gesien het, wel dit was die laaste sport van die leer wat nog my kop bo water gehou het. Daarna het ek in die dieptes afgesak ... stadig maar onverbiddelik. Uiteindelik het ek onder die armblankes te lande gekom. Sielkundig gesproke is hulle tienduisend myl van ons weg, bewoners van 'n ander wêreld. Met die eindelose stroom werkloses het ek van die een onderstandswerk na die ander getrek. | |
[pagina 869]
| |
Ten laaste het ek aangesluit by 'n bende houtkappers uit die een of ander houtbos. Die bende was bekend as “die Venters”. So 'n samestelling kan nie 'n familie genoem word nie. Oorspronklik was dit waarskynlik op bloedverwantskap gegrond. Maar familiebande het lank reeds verdwyn. Die bende het bymekaar gebly om dieselfde rede dat 'n trop wildehonde saamsluit. Die tydelike hoof van ons bende was ou tant Tossie Venter, van onberekenbare ouderdom. Daar was kort tevore 'n de facto hoof, bekend as Groot Freek. Maar hy het, net voor my aansluiting, deelgeneem aan 'n alkoholiese transaksie met 'n Kleurling aan die ander kant, vir die tiende maal. Die Kleurling was 'n polisielokvink en Groot Freek is vir drie jaar van die bende afgesonder. Dan was daar Klein Freek, wat sy ure, dae en weke deurgebring het in 'n ewigdurende planberaming om kos en klere te verkry met die mins moontlike liggaamlike beweging synersyds. Dan was daar Martha Venter, 'n wese in vroulike gedaante van sowat sesen-twintig jaar. U sal dit skaars glo, maar dit was Martha se belangstelling in hierdie onwaardige wat aanleiding gegee het tot my aansluiting by die bende. Dan was daar drie of vier ander seuns, intieme maats van Klein Freek, wat af en toe verskyn en dan weer net so skielik verdwyn het. Daar was ook 'n klomp kinders tussen drie en twaalf, hoeveel onthou ek nie meer nie. Welke werklike verwantskap tussen die mense bestaan het, kon ek nooit ontsyfer nie. Ek weet self nie of daar verwantskap was nie. Ek het die poging om uit te vind, spoedig opgegee. Ou tant Tossie was in verskillende opsigte 'n artieste. Dit was vir haar alleen dat die Klein Wildes ontsag of vrees gehad het. Nieteenstaande haar ouderdom kon sy 'n hou met die plathand slaan soos die skop van 'n muil. Die middelpunt van die Venter-bende was 'n waentjie en ses donkies. Om dit 'n waentjie te noem, is egter blote vleiery. Dit was 'n gedrog wat bestaan het uit vier wiele - waarvan geen twee oorspronklik aan dieselfde rytuig behoort het nie - en origens riempies, drade en blikke. Maar die “wa” was nietemin die poolster van ons samestelling en bestaan. Ná Groot Freek se sekwestrasie moes die bende hulle houtbos verlaat. 'n Lisensie om hout te kap, is Klein Freek geweier. Maar die trots van hulle herkoms het hulle altyd behou. Ou tant Tossie kon met groot bitsigheid beweer: “Ons is nie pad-pikkers en damgrawers nie; ons is houtbosmense. Net so gou as Groot Freek uit die tronk kom, gaan ons weer terug. Dan móét hulle ons 'n lisensie gee.” Dié mense het 'n wonderlike wêreldbeskouing gehad. Dit het maande geduur voordat ek dit verstaan het. Vir hulle het die wêreld uit twee afdelings bestaan: “Ons” en “Hulle.” Ons was natuurlik werkloses en armblankes. Wat hulle presies was, is moeilik te beskrywe. Dit het bestaan uit mense wat uit die blote reg van bestaan al die skatte van die aarde in besit het en alle mag uitoefen. Hoe | |
[pagina 870]
| |
hulle al die kosbronne en al die mag in die hande gekry en dit behou het, was geheime wat vir ons te diep was. Ons het derhalwe nooit daaroor gedink nie. Een ding het ons geleer: dat daar verskillende verdedigingslinies was wat die werklike hulle geheel onsigbaar en ongenaakbaar bewaar. Die eerste linie was die “Pollies” - meestal wreed en bloeddorstig en met betrekking tot wie oneindige waaksaamheid noodsaaklik was. Dan was daar die mense wat in huise woon, omtrent wie ongelooflike legendes en stories onder ons in omloop was: weelde, skatte, kos! Dit was asemberowend om daarvan te praat. Martha Venter het my eenmaal 'n storie vertel. Die bende het op die dorp te lande gekom en omdat dit 'n bittere tyd was, is hulle toegelaat om 'n tyd lank op die dorpsmeent te kampeer. Hulle op die dorp was besonder goedgesind. By die intrek het tant Tossie al haar artistieke gawes ingespan om 'n tyd lank ten minste van 'n staanplek verseker te wees. Sy het die kinders almal kaal uitgeklee en nieteenstaande langdurige verset, suikersakke aangetrek; en toe is hulle 'n rol geleer. Hulle moes in afdelings van die een agterplaas na die ander trek en by die kombuisdeur die volgende toespraak lewer: “Ouma vra of Tante nie assemblief vir Ouma die aartappel- en pampoenskille sal gee nie. Ouma het 'n been om sop van te kook en ons wil die skille bysit om dit meer te maak.” Tant Tossie se plan het 'n uitwerking bo alle verwagting gehad: kos! komberse! klere ... ook besoeke, wat nie so gewens was nie! Daar is 'n komitee van dames aangestel om kos en klere in te samel, en Martha moes elke oggend by die kombuisdeur van die pastorie aansoek om voedsel doen. Dit was van die pastorie dat sy my die ongelooflike stories van weelde vertel het. Dit was die naaste wat sy ooit aan 'n “huis” was. Wat haar die meeste verwonder het, was dat die hele gesin elke dag (en met 'n vreeslike eed het sy dit besweer), elke dag van hul lewe vleis eet. Sy wis dit, want sy het die daaglikse aflewering self gesien. Een dag 'n skaapboud - 'n vet skaapboud - en die volgende dag 'n groot stuk vet beesvleis. Die kombuisjong wou haar wysmaak dat hulle drie maal op 'n dag vleis eet, en skottels, skottels, skottels rys, aartappels, kool ... alles tegelyk en op een tafel, maar daaroor het sy hom natuurlik uitgelag: die vent kon vir jou lieg! Die laaste samestelling van hulle was iets onder die naam van “Gowwerment”. Wat “Gowwerment” presies was, kon niemand verklaar nie. Dit was egter die laaste bewaarplaas van alle rykdom en alle mag. Die “Gowwerment” en die “Here” was met min of meer gelyksoortige geheimsinnigheid beklee. Van geen van beide durf 'n mens ligsinniglik praat nie!’ Om twaalfuur die nag het ons op die werf van Rooilaagte uitgespan en gekampeer. Die huis was nog helder verlig en ons kon musiek en ander geluide van vrolikheid en feesviering deur die stille nag hoor. Ek het besluit om ons aankoms eers die volgende oggend aan Skat Pretorius bekend te maak. | |
[pagina 871]
| |
7 Die Tweede WonderwerkWeer het ek die volgende oggend die ‘orkaan van kleur’ bewonder wat dagbreek op die Groot Vlakte aankondig. Ons het langs 'n plaat pragtige tambotie-reuse gekampeer en om ons, in alle rigtings, was daar soortgelyke donker plate van kameeldorings en tambotie, en tussendeur, van horison tot horison, strek die onveranderlike vlakte. Ongeveer vierhonderd tree van ons af was Skat Pretorius se vlaktehuis, 'n groot spierwit gebou met 'n breë veranda aan drie kante. Daar was geen blomtuin of afsluiting van enige aard nie, en die vlakte strek so te sê tot aan die stoeptrappies van die huis. Agter die huis was 'n gemengde plaat soet- en knoppiesdorings, maar voor die huis was die onbewerkte vlakte 'n vierkant van vierhonderd tree, in alle rigtings so gelyk soos die oppervlakte van 'n trapvloer. Ek was bly dat daar geen bloekom of ander ontsierende, skaduweelose Australiese bome êrens op die werf te sien was nie. Lank voor sonop was daar tekens van lewe in die huis en ek het besluit om my gasheer dadelik te besoek. Ek wis dat een van sy gewoontes waarop hy hom met groot trots beroem het, was om altyd voor die son op te wees. Laramie het egter geweier om my te vergesel. ‘Nie nou nie,’ sê hy. ‘Ek is te vuil, sal te veel by die dorpsgaste afsteek. Ek sal later kom. As ek hom te skielik op die lyf loop, sal hy miskien berou kry oor sy uitnodiging aan my.’ Ek het toe alleen na die huis aangestap, waar ek net betyds was om die eienaar op sy stoep te begroet. Skat Pretorius kom uit sy slaapkamer op die veranda te voorskyn met alle tekens van vrolike opgeruimdheid. Hy het net sy daaglikse oggendbad gehad en sy gewone sorgvuldige toilet voltooi. Hy was sonder hoed en sy gekartelde goue hare blink met 'n metaalglans. Sy kenbaard was kort, tot 'n netjiese punt geknip en sy rosige gelaatskleur was voldoende bewys van gloeiende gesondheid. Die blonde reus was geneig om in al sy gemoedstoestande luidrugtig te wees, maar nooit meer as wanneer hy vrolik en opgeruimd was nie. Hy kom my met 'n luide, betekenislose lag tegemoet, terwyl hy afwisselend sy hande vryf en sy gloeiende wange stryk. ‘Ha, heer dokter, jy is, net soos ek, vroeg op. My dorpsgaste is nog diep in die vere. Het die edele ridder van La Mancha al te voorskyn gekom? Jy het hom natuurlik op pad teëgekom, want ek sien sy perd en donkies agter jou kamp wei.’ Ek vertel hom dat Laramie later sy verskyning sou maak. Terwyl ons op die stoep koffie drink, verskyn Skat se ander gaste die een ná die ander. Die eerste was Don Pretorius, sy neef, 'n jong, forsgeboude kêrel van sowat | |
[pagina 872]
| |
vyf-en-twintig jaar. Skat se vrou is jare tevore oorlede, en het hom kinderloos nagelaat. Daar is vertel dat dit die grootste teëslag was wat hy ooit in sy lewe gehad het en hy het altyd met beslistheid verklaar dat hy nooit weer sou trou nie. Hy het Don, 'n broerskind, as sy erfgenaam aangeneem en hy kon seker nooit aan 'n eie kind meer geheg gewees het nie. Die derde persoon wat sy verskyning gemaak het, was Issy Wassermann, die bekende Joodse goud- en diamantmagnaat, 'n klein opgekrimpte, skoongeskeerde Jood met 'n suur gesig. Hy was net so vermaard vir sy natuurlike geestigheid en droë grappe as vir sy skatte. In die volksmond het hy die karakter gehad van 'n siniese wysgeer, wat gedurig teen alle menslike swakhede sy bitsige slimheid rig; homself het hy nie gespaar nie. Issy Wassermann was meer populêr, in sekere kringe selfs bemind, as enige ander miljoenêr wat Suid-Afrika opgelewer het. Soos baie van sy rasgenote het hy die naam gedra van byna ongelooflike geldgierigheid en suinigheid. Maar daar is beweer dat vir sekere liefdadigheidswerk sy beurs nooit geslote was nie en dat hy altyd getrag het om sy gifte naamloos te hou. Issy het die Vlakte nie as jagter besoek nie en hy was in dieselfde modieuse en vleklose kleredrag waarin hy altyd op die strate van die Goudstad verskyn. Ek herinner my dat hy by een geleentheid gesê het: ‘As die steenbokkies auk kewere tra, sal julle nie so tapfer hier rondloop nie. Für mai, ek gaan nie lag kry om 'n klein bokkie toot te maak. Wanner die kowwerment toelaat dat ons die Christene en rabbyne jag, dan sal ek probeer aus te vind welke end van die keweer die keraas maak, en ek sal my 'n rybroek en groot skoene, soos Don, koop, en baie kwaad lyk soos Skat, wanneer hy die hasie wil vermoor.’ Skat Pretorius se laaste gas was Alexander Duncan, die Natalse suikerkoning, 'n oujongkêrel met geen ander belange op aarde as sport en suiker nie. Tussen die drie - Pretorius, Wassermann en Duncan - was daar jare lank reeds 'n warme vriendskap, wat deur gemeenskaplike sakebelange nog hegter gehou is. Terwyl ons besig was met kennismaking, sien ek die treurige Laramie sleepvoets oor die gelykte na die huis aankom. Ek herinner my dat die gedagte by my opgekom het dat die lewe onder die armblankes alreeds sy onuitwisbare stempel op die ongelukkige vent geplaas het. In sy manier van loop en sy geboë skouers, in die halfslinkse, halfbedeesde kyk, in sy flenterklere, in elke gebaar is daar die teken van die woordelose bedelaar wat trag om die toeskouer se meewarigheid te wek sonder om 'n woord te praat. Die skouspel het sy voltooiing gevind in die klein brakkie, Sprinkaan, wat met gesakte kop en slap ore op die hiele van sy baas volg. Ek het met 'n mate van nuuskierigheid opgemerk dat Laramie onder die een arm 'n taamlik groot leersak en 'n paar metaalvoorwerpe dra, die doel waarvan ek nie kon raai nie. | |
[pagina 873]
| |
Op 'n aansienlike afstand van die trappies het hy halt gemaak, sy drag sorgvuldig op die grond geplaas en met die hoed in die hand die geselskap met 'n lompe buiging begroet. ‘Ha! Hier is ons Don Quixote,’ bulder Pretorius uit, ‘van wie ek julle vertel het. Maar Sancho Panza is afwesig.’ En weer gaan hy hartlik aan lag. Al een wat nie gelag het nie, was Issy Wassermann, wat die ongelukkige Laramie met alle tekens van veragting gadegeslaan het. ‘Kom nader, vriend,’ gaan Pretorius voort. ‘Laat ek julle voorstel, here. Dit is meneer Laramie, water- en goudvinder van beroep. Hier is 'n man, Laramie,’ en hy dui Wassermann aan, ‘wat altyd na goud en diamante soek. As jy hom kan oorhaal om van jou stokkie gebruik te maak, sal jy vir 'n lang tyd werk hê.’ ‘Nee, nee - my vriend is verkeerd,’ sê Issy in sy geradbraakte Joods-Afrikaans. ‘Ek soek alleen goud wat in ander mense se sakke is, en daarvoor kan ons die stokkie nie gebruik nie. Buitendien het meneer Borrelmie al die goud self nodig wat hy met die stokkie kan vind. Waarom sal hy al die mense in die wêreld ryk maak en vir homself koop hy nie 'n baadjie nie?’ Die een na die ander het grappies gemaak ten koste van Laramie, wat laasgenoemde woordeloos en sonder 'n teken van skaamte aanhoor. Ek het vir sy part skaam gevoel. Uiteindelik het die gesprek 'n ernstiger wending geneem: die beweerde eienskappe van die stokkie in die vinding van water en minerale. Almal was min of meer skepties. Don Pretorius het die bekende teorie aan die hand gedoen dat sommige watervinders hul kennis van geologie onwetend toepas; met ander woorde, dat dit hulle kennis is en nie die stokkie nie, wat die goud of water onder die oppervlakte van die aarde ontdek. ‘Natuurlik kry hulle die goud!’ was Issy se toevoeging tot die bespreking, ‘maar dit is die goud in die sak van die eienaar en nie die goud onder die grond nie!’ Skat Pretorius was spottend-ongelowig. ‘Dit is alles kinderagtige onsin!’ bulder hy. ‘Dink maar net: sou ons vriend hier nie binne 'n maand, binne 'n week, skatryk wees nie? Dink aan die goud en diamante wat net onder die oppervlakte lê! As die stokkie gewerk het, kon hy na een van die alluviale gouddelwerye in Lydenburg gaan en binne 'n week 'n mudsak goudklonte bymekaarmaak.’ ‘Ek is nie so seker dat daar niks in steek nie,’ was Duncan se meer Skotse opmerking. Maar daarvan wou Skat niks hoor nie. In 'n oomblik was hy opgewonde, sy aangesig vuurrooi; en hoe hoër sy bloed styg, des te meer onbesonne word sy woorde. ‘Dit is alles bedrog en hulle is almal bedrieërs! En die mense wat daaraan glo | |
[pagina 874]
| |
en hierdie soort rondlopers aanmoedig, behoort in 'n gestig onder bewaring geplaas te word. Magtig! Dit is so eenvoudig om 'n toets te stel wat die bedrog dadelik bewys. Laat ek julle wys. Kom hier, Laramie. Ek sal jou 'n kans gee om geld met jou mikstok te verdien ... meer geld as wat jy in maande verdien het. Jy beweer dat jou stokkie deur goud onder die grond aangetrek word, nie waar nie?’ ‘Ja, meneer Pretorius, dit is die teorie,’ is Laramie se aarselende antwoord. ‘Nou kyk,’ gaan Skat driftig voort, ‘as jou stokkie goud in die kwarts aandui wat gelykstaan aan een speldekop goud in elke kruiwavol rots honderd voet ondergronds, dan sal 'n handvol goud net onder die oppervlakte na verhouding met meer krag op die stokkie werk - nie waar nie?’ Laramie het lank geaarsel. Dit was asof hy besef dat 'n strik vir hom gestel word en dat hy sorgvuldig moet wandel as hy dit wil vermy. ‘Ja, meneer Pretorius,’ antwoord hy bedees en huiwerig. ‘Nou kyk, Laramie, ek sal 'n handvol goud onder die oppervlakte begrawe en as jy dit binne 'n redelike tyd met jou stokkie kan vind, is dit joue. Is jy gereed om die toets aan te neem?’ ‘Ek kan nie meer doen as om te probeer nie, meneer Pretorius ... as die kondisies nie glad onmoontlik is nie. En u moet onthou dat, soos in alle wetenskappe waar die mens self 'n skakel in die ketting uitmaak, soos in sterrekunde, daar altyd 'n sekere mate van onsekerheid is.’ ‘O ja,’ val Skat hom bars in die rede, ‘jy soek nou al uitkruipplekkies. So maak julle altyd. Maar komaan, dit sal maklik genoeg wees as daar 'n greintjie waarheid in jou of jou stokkie sit. Laat ek sien hoeveel goud ek by my het,’ en hy soek agt goue ponde onder die ander geld uit. ‘Hier is agt pond in goud. Kom, Issy, sit jy ook 'n paar pond by om die hoop meer te maak. Ek belowe jou, dit sal net so veilig wees as binne jou brandkas.’ ‘Nee, nee, Skat,’ sê Wassermann, met 'n skelm glimlag. ‘Ek kry dit swaar genoeg om vir myself ponde uit ander mense se sakke te soek. Ek ken die speletjie baie, baie goed. Nee, Skat, dié keer sal ek onder die toeskouers sit. Ek sal nie oor die komedie behoorlik kan lag as my ponde ook in gevaar is nie, al is hulle net so veilig as in 'n brandkas. Jy weet self hoe maklik dit is om ponde uit 'n brandkas te kry - net, ek en jy doen dit met 'n stukkie papier in plaas van 'n stokkie.’ ‘O jou Jood! Nie eers een pond nie? ... Nou, luister, Laramie: ek sal die agt pond hier voor die huis onder stof bedek. Ek sal 'n sekere getal grondhopies maak en in een van die hopies sal die geld wees. As jy dit binne 'n halfuur kry, is die geld joune. Die enigste voorwaardes is: dat jy geen hopie vooraf moet aanraak nie en dat jy net een maal kan raai. Sal jy probeer?’ Laramie buig toestemmend. | |
[pagina 875]
| |
‘Goed,’ sê Skat. Toe wend hy hom tot sy ander gaste. ‘Ek sal julle almal eers in 'n agterkamer opsluit; anders mag een van julle onwetend aandui welke hopie die regte is. Volg my.’ ‘Mag ek die paar goed op die veranda sit, meneer Pretorius?’ vra Laramie, en nadat hy Skat se bereidwillige toestemming ontvang het, plaas hy die leersak en twee metaalvoorwerpe op die stoep. Hierdie voorwerpe het later 'n verbasende rol in Laramie se bedrywigheid op Rooilaagte gespeel. Al wat ons toe kon sien, was 'n ysterplaat, ongeveer 'n voet in vierkant en twee duim dik. In die middel van die plaat was 'n ronde stukkie blink metaal vasgeskroef. Die ander voorwerp was 'n sigaarvormige ding, van plaatyster gemaak. Dit was ongeveer twee voet lank en een voet in deursnee. Daar was twee deurtjies bo en twee aan elke kant, sodat 'n mens kon sien dat dit binne leeg was. Bo-op was dieselfde ronde plaatjie vasgeskroef as op die staalplaat. Dit was duidelik dat hierdie laaste voorwerp 'n ystermodel van 'n lugskip was - 'n klein, netjies gemaakte Zeppelin. ‘Wat is dit alles, vriend?’ vra Pretorius. ‘Dit is 'n uitvinding waarmee ek jare lank besig is, meneer Pretorius. Ek sou dit graag op jou veranda hou, want dit sal hier veiliger wees, en as dit miskien reën ...’ ‘Goed, goed,’ sê Pretorius sonder om verdere belangstelling in die voorwerpe te toon, ‘laat ons met die goudsoekery voortgaan.’ Op 'n gebiedende woord van Laramie het sy hondjie langs die klompie goed gaan lê, met sy kop op die uitgestrekte voorpootjies. Daarna het ons Skat na 'n agtervertrek gevolg. ‘Dokter,’ sê hy aan my, ‘ek vertrou die oppassing aan u toe. Ek vra u om niemand toe te laat om buite die kamer te kom totdat ek die woord gee nie.’ ‘Hoeveel hopies grond gaan jy maak, Skat?’ vra Issy. ‘Daar sal twintig hopies wees, om dit ten minste 'n ware eksperiment te maak.’ ‘Dit is twintig kanse teen een,’ gaan die Jood voort. ‘Ek is altyd 'n sport! Meneer Borralmie, ek sal jou vyf sjielings vir die helfte van jou kans gee.’ Onder gelag is Pretorius die kamer uit. Ongeveer twintig minute later roep hy ons. Op die gelykte voor die huis, binne 'n omtrek van ongeveer twintig tree, is twintig onreëlmatige hopies grond. ‘Nou, Laramie,’ sê Skat, ‘ons sal almal hier op die stoep bly, sodat ons jou nie stoor nie. In een van die hopies is die agt pond. Ek gee jou 'n halfuur tyd, en jy kan net een maal raai. As jy binne dié tyd die regte hopie aanwys, kan jy die geld neem. Kry nou die stokkie en laat ons sien.’ ‘'n Stokkie is in dié geval nie nodig nie, meneer Pretorius,’ antwoord Laramie beleefd en hy stap die trappies af met 'n houding so stoutmoedig dat dit 'n | |
[pagina 876]
| |
bietjie twyfel by Skat Pretorius moet gewek het. Ons almal het hom met die grootste belangstelling gadegeslaan. Hy het by die verste kant begin en drie maal taamlik vinnig heen en weer tussen die hopies deurgestap. Toe hy die derde maal die omtrek kruis - natuurlik terug na die plek waar ons staan - maak hy langs een hopie halt en met 'n skielike beweging vee hy die grond met sy hand plat. ‘Dit is die hopie,’ sê hy. Nog voordat ons die uitslag kon sien, maak 'n gedempte vloekwoord van Skat Pretorius dit vir ons duidelik dat Laramie reg geraai het. Laramie kom na ons aangestap met die agt pond in sy oop hand. Die uitslag is met luide gelag begroet. ‘Magtig, Skat, dit was 'n mooi komedie,’ sê Issy terwyl hy sy vriend op die rug klop. ‘Ek is bly ek het met my plek onder die toeskouers tevrede gebly.’ Ek kon sien dat Skat hom vererg - nie soseer oor die verlies van die geld nie as oor die bespotting. En weer het Laramie my verbaas. Hy reik die geld aan Skat: ‘Meneer Pretorius,’ sê hy op sy gebruiklike langsame manier, ‘ek kan die geld nie neem nie. Ek dank u vir die aanbod. Ek het dit deur 'n knap kunsie van u gekry. Maar ek sou dit in geen geval geneem het nie.’ ‘Neem die geld, kêrel; jy het dit eerlik verdien. Koop vir jou en die Boesman elkeen 'n pak klere,’ dwing Pretorius. Maar niks kon Laramie daartoe beweeg nie en uiteindelik het Pretorius weer die geld in sy sak gesteek, met die versekering: ‘Ons sal sien of dit nie op 'n ander wyse tot jou voordeel gebruik kan word nie.’ Die aand toe Laramie en ek 'n tyd lank in my tent was, pak kinderagtige nuuskierigheid my beet. ‘Is daar enige rede, Laramie, waarom jy my nie kan vertel hoe jy vanoggend die geld gekry het nie?’ ‘Nie die minste nie,’ antwoord hy geredelik. Hy tel klein Sprinkaantjie in sy arms op en terwyl hy hom liefkoos, gaan hy voort: ‘Jou lewe word verheilig namate jy iets vind wat bo alle twyfel getrou is. Onder jou ewemense mag jy vir 'n leeftyd tevergeefs soek. Jy vind dit dikwels onder diere wat ons met die laaste woord van veragting bestempel ... 'n hond. Ek weet voorwaar dat klein Sprinkaantjie altyd en in alle omstandighede sy lewe vir my sal gee. God alleen weet wat ek, onwaardige, gedoen het om sulke liefde te verdien.’ En 'n lang tyd bly hy stil, met sy gesig teen die ruie hare van die hondjie vasgedruk. ‘Dit was Sprinkaantjie wat vanmôre die goudvinder was,’ ... en toe wys hy my. | |
[pagina 877]
| |
Vanself het die hondjie die kunsie opgedaan om, soos die polisiehonde, verborge dinge op te soek. Laramie het hom ook geleer om onbeweeglik die wag oor enige voorwerp te hou; en wanneer iets in sy bysyn weggesteek word, wat Laramie moet opsoek, sal hy nooit van sy aangewese plek verroer nie, maar nietemin sal hy 'n gewisse teken gee sodra sy baas die regte plek nader en 'n teken as hy van die plek weggaan. Dit was net soos die kinderspeletjie van ‘warm-en-koud’. Die teken het daarin bestaan dat die hondjie sy ore spits sodra die soeker die regte plek nader en laat sak as hy verkeerd gaan. Iemand wat die kunsie nie ken nie, sou die geringe beweging nooit bespeur nie. ‘Laramie,’ sê ek, ‘jou hondjie is ongetwyfeld baie slim, maar hy kan nie geld tel nie en hy kan in enige geval nie deur 'n leerbeursie sien nie. Hoe het jy gisteroggend die bedrag geld in my beursie te wete gekom?’ Laramie gee 'n skaars hoorbare laggie. ‘Nee, dokter, daarmee het die hondjie niks te doen gehad nie. Dit was 'n geheel ander saak, wat ek u miskien later sal vertel.’ | |
8 Voorbereiding vir die Derde WonderwerkOns besoek aan Rooilaagte was gelyktydig met die heerlike seisoen wat die Groot Vlakte minstens een maal per jaar 'n lusoord maak. Die glorie van die nagte, wat Laramie se voortdurende bewondering uitgelok het, was die oorsaak dat ek Skat Pretorius se uitnodiging om gebruik te maak van 'n slaapkamer, geweier het. Volgens my gewoonte het ek selfs nie snags in my tent geslaap nie maar in die ope lug langs die vuur, en nagteliks die magtige skouspel gadegeslaan van die sterrebeeld-kruising oor die uitspansel - die glorie wat die armste drommel nie ontneem kan word nie. Wild was volop en ek het byna elke dag deelgeneem aan skietpartye tussen Rooilaagte se tarentaaltroppe. Die enigste van ons party wat die dae vreeslik vervelend moet gevind het, was Issy Wassermann, wat stellig geweier het om enige vuurwapen in die hand te neem. Hy het soos 'n verlore skaap rondgedwaal en verlangend na die nag uitgesien, wanneer hy die tydverdryf van kaartspel en dobbel gehad het. Poker was sy geliefkoosde spel en Skat het altyd luidrugtig verklaar dat Issy 'n kaartbedrieër van beroep was, wat die meeste van sy fortuin gemaak het deur skelmstreke ten nadele van onnosele Christene. Issy kon dergelike bespottings met 'n glimlag aanhoor, want hy het nooit verloor nie. Skat se inleiding tot elke kaartparty was: ‘Issy, skud eers al die ase uit jou moue.’ Hierop het Issy by een geleentheid geantwoord: ‘Mein Freund, al die ase wat ek weksteek, is hier kebêre,’ en hy tik met die vingers op sy voorkop. ‘Hulle is veel meer werd in die kop dan in die mou. Wat by jou makeer, Skat, is | |
[pagina 878]
| |
dat jy hulle nie in die mou en ook nie in die kop het nie; daarom petaal jy. Wen ek met jou speel, is dit nooit nodig om ase in die mou te bêre nie.’ Duncan het by sy dobbelary ongetwyfeld baat gevind in sy Skotse herkoms. Net so sorgvuldig en nougeset was hy in sy kaartspel as in die bestiering van sy miljoene. Teen Issy se dobbelvernuf was hy egter nie opgewasse nie; ook hy het nooit gewen nie, maar sy verliese was die minste onder die drie Christene. Don Pretorius was 'n roekelose bluffer, en het af en toe sy kop harder as die ander twee teen Issy gestamp, en dan, ná so 'n teenslag, het hy so senuweeagtig geword dat hy nagte agtereen te bang was om voordeel uit sterk hande te trek. Ek, as onpartydige toeskouer, kon sien dat Issy hom spoedig afgemeet het en dat die pokertafel mettertyd vir Don 'n nagtelike pynbank geword het. Hy het uiteindelik die Joodjie met 'n gemengde gevoel van vrees en haat bejeën. Hierdie openbaring in die karakters en denkvermoë van my medegaste, wat die nagtelike kaartspel op Rooilaagte my verskaf het, was vir my van belang in verband met die groot gebeurtenis waarvan ons destyds op die drumpel gestaan het. Ná die voorval van die agt pond het Laramie op die agtergrond van ons klein toneel byna onsigbaar geword. Dit was my spoedig duidelik dat hy getrag het om sy persoon, 'n tyd lank altans, so onopvallend te maak as moontlik. Hy, sy Boesman en sy hondjie het àl nagte langs my kamp in die kameeldoringbos geslaap, waar die Boesman 'n groot vuur brandende gehou het om op dié wyse te vergoed vir die skaarste aan beddegoed en komberse. Skat het bevele gegee dat Laramie van voedsel voorsien moet word en in hierdie opsig het Laramie seker niks te kla gehad nie. Maar verder het die eienaar van Rooilaagte geen notisie meer van hom geneem nie. Issy Wassermann, omdat hy nooit gaan skiet het nie, het meer as een van die ander met Laramie in aanraking gekom. Ek het spoedig opgemerk dat die Jood 'n houding teenoor die padloper openbaar wat ongetwyfeld 'n eienaardigheid van sy ras is: alleen die besit van geld maak 'n mens hoogagting en eerbetoon waardig. Armoede - vernaamlik by ander as sy eie rasgenote - ontlok by hom alleen veragting en bespotting. 'n Bedelaar en rondloper het by hom nooit die minste meegevoel gevind nie. Van Laramie het hy altyd met die uiterste veragting gepraat as die ‘Schorrer’. En wanneer hy hom bedags op die werf teëkom, was die ongelukkige watervinder altyd die doelwit van sy bitsige grappe - en sy tong kon by geleentheid vlymskerp wees. Een van die geliefkoosde maniere waarop hy sy veragting getoon het, was om Laramie gedurig op die verkeerde naam te noem: ‘Bollamie’, ‘Lorramie’, ‘Borrelie’ - so het hy 'n reeks verkeerde name gehad, maar nooit toevallig die regte nie. Die doel was natuurlik om die indruk te skep dat Laramie so ver benede sy aandag was dat hy selfs sy naam nie kon onthou nie. En dan sy grappe - | |
[pagina 879]
| |
nooit was hulle bitsiger as wanneer hy die ander gaste as 'n gehoor het nie. Laramie het hierdie kleingeestige vervolging stilswyend en met 'n sekere mate van waardigheid verdra. Nooit het Wassermann se grappe 'n woord of 'n glimlag by hom uitgelok nie; van weerwraak in woorde was daar geen sprake nie. Maar af en toe het ek hom die Joodjie kantlangs sien bekyk, wat my onwillekeurig laat dink het: ‘Issy, pas op! As ek die flenterjak ken, dan is hy sy dolk aan 't slype en as hy toeslaan, sal daar voldoende rede vir skrik aan jou kant wees!’ Min het ek toe gedroom van die verpletterende wraak wat in die gemoed van die sonderlinge man aan die broeie was. Een oggend terwyl ons op die stoep sit, maak Laramie skielik sy verskyning voor ons met sy gewone beleefde begroeting. Aan Skat sê hy: ‘Meneer Pretorius, ek stel u vriendelikheid hoog op prys en ek hoop dat ek eendag in staat sal wees om dit te vergoed.’ ‘Kee hom jou rybroek, Bollamie, wanneer jy jou 'n ander een vir die agt pfund kauf!’ val Issy hom in die rede. Sonder om ag hierop te slaan, gaan Laramie voort: ‘Ek versoek u om nie te aarsel om my te sê sodra my tyd hier verstreke is nie. Maar as u my nog 'n paar dae gaan toelaat, wou ek u vra of u my nie sal toelaat om my masjien hier in die buitestoepkamer op te stel nie. Ek sien dat u dit nie gebruik nie en daar is 'n tafel in wat ek nodig het. Ek sou graag 'n paar ondersoekings maak, solank ek die kans het. In die oop lug kan ek dit nie doen nie. Ek het 'n klein lampie wat ek vir die doel gebruik.’ Ek kon sien dat Skat dadelik 'n weinig nuuskierig word. ‘Wat vir 'n masjien is dit, Laramie?’ vra hy. ‘Pas op, Skat! Hy sal jou weer vra om ponde weg te steek,’ sê Issy met 'n skelm glimlag. Maar Laramie antwoord ewe ongestoord: ‘Meneer Pretorius, dit is die groot werk van my lewe. Die dokter sal u vertel dat ek 'n man van opvoeding is, wat grade van verskeie Europese universiteite besit. Ek het eenkeer genoeg geld gehad om van te lewe, maar ek het alles opgegee, al my geld en al my kanse, om 'n naam ter wille van hierdie uitvinding te maak. Dit is nou binne my bereik - die grootste uitvinding wat die wêreld nog ooit gesien het. Dit spyt my egter dat ek u nie nou al kan vertel wat dit is nie. Ek moet dit geheim hou, nie alleen om my belange te beskerm nie, maar selfs om die bereiking van my doel te verseker. Miskien sal ek in staat wees om u binne 'n paar dae die werking te toon - wie weet? Ek is seker dat u my in die tussentyd nie sal kwalik neem as ek u vra om 'n weinig geduld met my te hê nie. Ek is so naby ... so naby! Om dit nou te verloor, sou vir my 'n doodslag wees.’ ‘Goed, kêrel,’ sê Skat ná 'n bietjie huiwering, ‘trek maar in met jou gereedskap - solank jy ons net nie opblaas nie!’ | |
[pagina 880]
| |
Met 'n woord van dank neem Laramie sy vrag uit die veranda-hoekie, waar dit nog al die tyd gelê het, en plaas dit op die tafel in die stoepkamer. Dit het nog uit die drie voorwerpe bestaan: 'n ou leersak, 'n klein metaal-zeppelin en 'n ysterplaat. Van waar ons sit, kon ons hom die leersak sien oopmaak en 'n klein paraffienlampie te voorskyn haal, op die tafel plaas en opsteek. Wat verder in die sak was, kon ons nie sien nie. Daarna het hy noukeurig die gordyne van die venster en glasdeur beproef, asof hy wou seker maak dat hy alle ligstrale desnoods kon uitsluit. ‘Wat vir 'n “uitvinding” sou dit wees?’ vra Skat Pretorius aan my. Maar ek kon hom natuurlik geen inligting gee nie. ‘Ag,’ sê hy skouerophalend, ‘dit is waarskynlik “ewigdurende beweging” of die een of ander onsin van dié aard.’ Maar Skat Pretorius was verkeerd! | |
9 Die Geheimsinnige KamerDie heerlike winterdae in die middel van die Groot Vlakte het ons met verloop van tyd soos Homeros se lotuseters laat voel. Die stille dae het op mekaar gevolg asof die wêreld aan die sluimer was en die hele natuur in 'n ewigdurende droom verkeer. Dit was toe dat Laramie die middelpunt van belangstelling op Rooilaagte geword het sonder dat hy self - oënskynlik - die minste gedoen het om so iets te bewerkstellig. As ek ooit die minste twyfel gekoester het omtrent die diepe mensekennis van die sonderlinge man, dan het alle twyfel verdwyn toe ek later geleentheid gehad het om sy destydse gedrag kalm te oorweeg. Hy het alles in sy vermoë gedoen om gedurig op die agtergrond te bly. Ons het hom selde of nooit gesien. Ek het opgemerk dat hy nooit weer by die stoepkamer ingaan of dit verlaat solank enige van die gaste op die stoep was nie. Die gevolg was dat, wanneer ons op sekere gewone tye op die stoep vergader, Laramie reeds in sy kamer was, met die deur gesluit en die gordyne dig getrek. Van die stoep, waar ons gewoond was om te sit, sien ons deur die gordyn van die glasdeur slegs die dowwe liggie van sy lampie op die gordyn afgeteken. In die begin was dit ure aaneen doodstil in die stoepkamer en toe, ná enige dae, gewaar ons 'n geluid wat stadigaan luider en hoorbaarder word. Dit was 'n aanhoudende gedreun, soos van 'n vliegwiel in snelle beweging. En dit was juis omdat hy hom so sorgvuldig op die agtergrond gehou het, en omdat sy werksaamhede die skyn van geheimsinnigheid aangeneem het, dat hy ons belangstelling gaande gemaak en ons nuuskierigheid verdiep het. | |
[pagina 881]
| |
‘Waarmee sou die vent aan die werskaf wees?’ het by Skat Pretorius 'n vraag geword wat hy byna elke dag aan ons gestel het sodra ons die gedreun van Laramie se masjien hoor. Maar niemand kon dit beantwoord nie. Almal was nuuskierig en geeneen van ons het later selfs moeite gedoen om hierdie nuuskierigheid weg te steek nie - behalwe Issy Wassermann; en ek was spoedig oortuig daarvan dat hierdie gebrek aan belangstelling by Issy niks anders as voorwendsel was nie. Hy was net so nuuskierig soos die ander, maar hy kon tegelyk 'n houding beter aanneem. Dat hy Laramie steeds diep verag het, was egter nie aan te twyfel nie. Af en toe het Laramie by die kamer uitgekom terwyl ons op die stoep was. By sulke geleenthede het ons af en toe 'n kykie in die kamer gekry. Al wat ons ooit kon sien, was die tafel met die staalplaat en die klein metaal-zeppelin vooraan. Agter was die paraffienlampie en 'n blink wiel, wat ons op die skuinste kon sien. Hierdie wiel, met ongeveer die grootte en ook die voorkoms van 'n elektriese waaier, het die dreuning veroorsaak. Ek het opgemerk dat daar 'n ratwerk en slinger aan verbonde was, sodat die wiel waarskynlik met die hand in beweging gehou kon word. Wat het dit alles beteken? Toe ek die wiel vir die eerste maal op die tafel sien, het ek 'n eienaardige gevoel gekry dat ek tevore iets gelyksoortigs gesien het, maar waar of wanneer, en vir welke doel dit gebruik is, kon ek nooit onthou nie. Ek het later tot die oortuiging geraak dat hierdie vae herinnering slegs die suggestie van 'n elektriese waaier was, maar ek was verkeerd; dit was aan iets geheel anders dat hierdie wiel my herinner het en as ek dit destyds kon onthou het, sou dit my miskien 'n sleutel tot Laramie se verbasende planne verskaf het. Die masjinerie het egter gestrek om alle agterdog omtrent Laramie by my te vernietig. Wat sy doel ook al mag wees, daar kon geen openbare bedrog wees indien hy sy planne in 'n werklike masjien materialiseer nie. Ek kon Skat Pretorius derhalwe met 'n geruste gewete aan sy eie gesonde verstand oorlaat. Ek het besluit om niks te doen of te sê wat agterdog teen Laramie by Skat en sy gaste kon wek nie. So het sake ongeveer 'n week lank voortgegaan en toe, eendag, sien ek Skat en Laramie op die werf in 'n diepe gesprek gewikkel. Hulle stap stadig heen en weer en nou en dan lê Skat sy hand vertroulik op die rondloper se skouer. Toe Skat my sien, kom hy dadelik na my aangestap, terwyl hy Laramie aan die arm neem en meevoer. Uit hulle houding kon ek sien dat hulle in die een of ander argument verdiep was. Toe hulle my nader, hoor ek Laramie sê: ‘My uitvinding is ver van klaar, meneer Pretorius; en ek sou dit nou nog veel liewer aan niemand toon nie. Ek is nie bang dat iemand my geheim sal ontdek nie, maar ek is nooit geheel en al seker van die werking nie en wat ek bepaald vrees, is om die doel van my onder- | |
[pagina 882]
| |
soek bekend te laat word, tegelyk met die gerugte dat die aanspraak wat ek vir my ontdekking maak, geheel en al ongegrond is. Siet u, voordat ek my ontdekking kan voltooi en aan die wêreld kan toon, het ek geld nodig en die geleentheid om my werk afgesonderd en ongestoord voort te sit.’ ‘Ek wil hom oorhaal,’ sê Skat aan my toe hulle by my kom, ‘om ons te toon waarmee hy besig is. Hy sê dat hy geld nodig sal hê om sy uitvinding te voltooi. Nou ja, ons is drie taamlike sterk geldmanne hier bymekaar; as daar iets in sy ontdekking sit, sal ons net so gewillig wees om hom te help as enige ander mense wat hy later miskien sal kan interesseer.’ Ek het niks gesê nie. Dit was Laramie wat hom in die rede val: ‘Meneer Pretorius, u was so vriendelik teenoor my dat dit moeilik val om 'n versoek van u te weier. Ek kan u sê wat ek nodig ag om my werk te voltooi. In die eerste plek moet ek 'n plaas kry waar ek heeltemal afgesonderd en met veiligheid - desnoods in die buitelug - kan werk. En die plaas moet op my naam getransporteer word, sodat niemand my kan uitjaag nie, selfs indien die werk miskien jare verg om te voltooi. Ek is oortuig daarvan dat dit in sulke omstandighede nie meer as ses maande sal duur nie, maar ek kan dit nie met sekerheid voorspel nie. En dan moet ek minstens vyfduisend pond vir benodigdhede, 'n paar assistente en my eie lewenskoste hê. Ek moet nie - soos nou - verplig wees om rond te swerwe om 'n bestaan te maak nie. Dit is wat ek verlang en ek weet dat wanneer ek dit eis, ek in staat sal moet wees om enige mens te kan oortuig, bo alle twyfel, dat my ontdekking 'n fait accompli is, en dat dit alleen die toepassing is wat nog uitgewerk moet word. My werk is nog nie so ver gevorder nie. Nou en dan is daar 'n mislukking. Ek het nog nie 'n bevredigende oplossing vir hierdie laaste vraagstuk gevind nie. Ek weet nog nie wat presies hierdie mislukking veroorsaak nie - ofskoon ek op die spoor is. Dus, meneer Pretorius, indien ek my ontdekking aan u en u vriende toon, moet dit onder die plegtige belofte van absolute geheimhouding geskied; en die verstandhouding moet wees dat ek niks van u verlang nie, dat ek die masjien as 'n blote vriendskapsdaad aan u toon en dat ek u nie vra om 'n ondersoek in te stel met die oog op moontlike finansiële bystand van u en u vriende nie. En daar is nog een voorwaarde en dit is dat my vriend, dokter Roubaix, van hierdie akkoord uitgesluit is. Dokter Roubaix sal verstaan waarom ek hom nou nog nie teenwoordig wil hê nie. Ek kan dadelik verklaar dat dit nie is omdat ek hom in die verste verte wantrou nie. Die oorsaak lê in 'n gesprek wat tussen ons plaasgevind het. Ek is seker daarvan dat dokter Roubaix my dit nie kwalik sal neem nie. As u hierin toestem, meneer Pretorius, dan moet u my 'n dag gee om die saak te oorweeg. Dan sal ek òf my uitvinding aan u en u gaste toon, òf my donkie oppak en trek.’ Ek moet erken dat ek op die oomblik nie kon begryp waarom die vent my uitsluit nie, en 'n paar minute lank was ek so vererg dat ek op die punt gestaan het om Pretorius van ons gesprek te vertel. Maar Laramie het sy voorstel om- | |
[pagina 883]
| |
trent my op so 'n vriendelike wyse gedoen, en dit sou aan my kant so kinderagtig gelyk het om my ontevredenheid aan Skat te openbaar, dat ek uiteindelik met 'n glimlag sê: ‘Ek verstaan goed waarom Laramie my nie teenwoordig wil hê nie, en ek neem hom dit nie kwalik nie. Ek is gelukkig ook nie nuuskierig nie’ (wat seker nie die reine waarheid was nie!), ‘en ek belowe om niks te doen of te sê wat daartoe mag strek om sy saak te dwarsboom nie!’ ‘Goed!’ sê Skat met merkbare opgewondenheid, ‘dit is dan die verstandhouding. Ek sal intussen vir Issy, Duncan en my neef omtrent die geheimhouding raadpleeg en dan kan jy ons môre sê of jy ons die ding sal toon.’ Later het Skat die saak in my teenwoordigheid aan die ander drie vertel. Duncan en Don Pretorius het dadelik die voorwaardes aangeneem, en ek kon sien dat daar by hulle ook reeds 'n tergende nuuskierigheid ontstaan het. Met Issy Wassermann was dit anders gesteld. Met 'n norse gebaar het hy die voorstel geweier: ‘Nee, ek wil van die skelm niks meer sien nie. Ek gaan sekerlik nie ponde vir hom wegsteek nie. As julle kinders wil wees, waarom sal ons nie albaster speel nie?’ ‘Man,’ sê Pretorius, ‘dit is net 'n tydverdryf en jy hoef vir jou geld nie bang te wees nie. As jy jou hand in die broeksak hou, sal hy nie in staat wees om 'n sjieling daaruit te toor nie. Wat vir 'n miskruier het jy nou in die kop?’ Maar Issy was nie te beweeg nie. Hy was nie die minste nuuskierig nie, en sou geen voet verroer om die wonderlike uitvinding te aanskou nie. Hy, ten minste, was nie langer 'n kind nie! - so het Issy verklaar. Toe Skat dit later aan Laramie by die kamp vertel, het ek weer die sweem van 'n glimlag op die swerwer se gesig gemerk. ‘Goed, meneer Pretorius,’ sê hy, ‘as ek môre besluit om julle die ding te toon, sal ek meneer Wassermann seker nie dwing om saam te kom nie. Maar ek dink dat hy self later van gevoel sal verander.’ En weer het Laramie, deur hierdie voorspelling, 'n bewys van sy diepe mensekennis gelewer. Hy het reg geraai. En so het die saak gestaan tot die volgende oggend. | |
10 Die Derde WonderwerkDit was vroeg die volgende oggend dat Laramie Skat Pretorius meegedeel het dat hy sy uitvinding sou vertoon aan die drie wat die vereiste belofte van geheimhouding afgelê het. Issy het tot die laaste oomblik nukkerig geweier om deel te neem, maar toe Skat, Don en Duncan met Laramie by die stoepkamer ingaan, sien ek hom rus- | |
[pagina 884]
| |
teloos op die stoep op en neer stap. Dit het geen gedagte lees geverg om te ontsyfer dat Issy enige ekskuus sou aanvaar wat hom die kans sou verskaf om sy besluit in hersiening te neem nie! En die kans het hom spoedig voorgedoen. Binne 'n paar minute kom Skat weer uit en neem sy vriend aan die arm. ‘Kom, Issy, watse onsin is dit?’ sê hy. ‘Dit kan jou geen kwaad doen nie. As dit jou verveel, staan dit jou vry om weer uit te kom. Kom kyk ten minste wat dit is.’ ‘Dit is kinderagtig,’ mompel Issy, maar nietemin laat hy Skat toe om hom na die stoepkamer te lei. Ten laaste hoor ek hom nog uitroep: ‘Bollamie, ek gaan nie 'n pennie wegsteek nie - dit moet jy goed verstaan!’ En toe verdwyn hulle in die kamer en die deur gaan agter hulle toe. Skat het my nog ten laaste toegeroep: ‘Dit spyt my, dokter, hy weier nog om jou toe te laat.’ Van waar ek op die stoep sit, kon ek die lig van die lampie teen die gordyne sien opgaan. Daar was 'n lang stilte. Toe hoor ek weer Issy Wassermann se stem. Ek kon g'n woorde onderskei nie. Toe volg 'n geskater van lag deur al vier die toeskouers. Dit was natuurlik weer een van Issy se grappe ten koste van die ongelukkige Laramie. Weer 'n lang stilte; toe hoor ek Laramie se talmende stem. Hy was seker besig om sy toestel uit te lê, maar sy woorde was geheel onhoorbaar. Die aanhoudende stem, sonder toonverandering of pouse, het geklink soos 'n dowwe gesanik, veraf en woordeloos. En toe, skielik, hoor ek die gedreun van die vliegwiel, met Laramie se stem tussenin: kortaf-gebroke sinne, waarskynlik 'n verduideliking van die masjien. Die vier toeskouers was doodstil. Geeneen van hulle het 'n woord gesê nie. Ek het die indruk gekry dat hulle diep geïnteresseerd geraak het. Hoe lank die gesamentlike geluid van die wiel en stem presies aangehou het, weet ek nie. Dit moet minstens 'n uur onafgebroke voortgeduur het. Ek het begin vaak voel. Ek dink dat ek eindelik af en toe ingedut en die eentonige geluid nog soos in 'n droom gehoor het. Skielik word ek tot hernieude belangstelling gewek. Uit die kamer kom die geluid van harde, opgewonde stemme. Ek kon duidelik hoor dat al vier weer byna tegelyk praat, en tussenin antwoord Laramie. Waaroor die gepraat gaan, of wat die vier se houding selfs was, kon ek uit die hoorbare geluide nie wys word nie. Onnodig om te erken dat my nuuskierigheid uiteindelik in 'n hoë mate aangewakker was. En toe gaan die glasdeur skielik oop en al vyf kom haastig saam uit. Daar kon toe geen twyfel meer omtrent hulle houding wees nie. Al vier was in die hoogste mate opgewonde; al vier praat gelyk; elk van die vier trag afsonderlik om Laramie se aandag in beslag te neem. Selfs Duncan, die kalme, bedaarde Skot, was so opgewonde dat sy stem seker 'n paar honderd tree ver gehoor sou kon word. | |
[pagina 885]
| |
Die groep het my aan kuikens laat dink waarvan een 'n wurmpie beet het en die ander hom heen en weer en in die rondte jaag, sonder om hom 'n oomblik se rus te gun. Hier en daar in die rumoer onderskei ek enkele woorde en sinne. ‘Man!’ bulder Skat uit, terwyl hy Laramie aan die skouer vashou, ‘weet jy dat jy die grootste ding besit wat die wêreld nog ooit gesien het vandat die mens beskaafd geraak het? Jy is so doodbedaard ... jy begryp self nie die wonder van wat jy ontdek het nie!’ Tussen Duncan en Don Pretorius het skielik 'n hewige argument ontstaan. ‘Ons is te klein,’ sê Duncan, ‘- te min - om hierdie ding aan te vat. Dit moet in die hande van 'n groot moondheid geplaas word; anders kan die veiligheid van die hele mensdom in gevaar gebring word. Ons moet dit dadelik aan Engeland toevertrou, voordat die geheim miskien deur ander ontdek word. Engeland is die enigste ryk wat geen misbruik daarvan sal maak nie. Ons weet ...’ ‘En waarom Engeland?’ val Don hom op ruwe wyse in die rede. ‘Waarom nie Suid-Afrika nie? Laat ons ook een maal voel hoe dit smaak om wêreldmag te besit, om ons vry te verklaar, sodat geen Europese vreemdelinge langer oor ons kan baasspeel nie!’ Beide die Skot en Don was rooi van opgewondenheid en spoedig so kwaad dat dit nie veel sou gekos het om hulle tot gewelddadighede te laat oorgaan nie! En buite die sirkel spring Issy Wassermann, die kleinste van die groep, al in die rondte, terwyl hy tevergeefs probeer om Laramie se aandag te trek. Bo die koppe van die ander swaai sy slap hande gedurig soos die vlerke van 'n vlermuis wat uit 'n grot opwaarts styg. Sy stem was hees en skel van aandoening en opgewondenheid. Ek hoor hom skree op 'n toon so skerp soos die geluid van 'n griffel oor 'n vetterige lei: ‘Ons verkauf een half vir een millioon pfund! ... Twee millioon pfund!! Tien millioon!!!’ Met die stygende getalle klim sy stem al hoër. Dit was asof hy deur die blote noem van die getalle in 'n gloed van glorie gedompel is ... in 'n berg van goud begrawe, waar hy tevergeefs worstel om weer uit te klouter. Die enigste onder die groep wat sy gewone kalmte bewaar het, was Laramie self. Hy keer hom van een na die ander en trag deur gebare, met sy hande omhoog, om hulle weer tot bedaring te bring en sy eie stem hoorbaar te maak - wat in die begin 'n hopelose taak skyn te wees. Uiteindelik was daar 'n momentele stilte en ek hoor hom met groot nadruk aan Skat sê: ‘Julle is te haastig, meneer Pretorius. Die uitvinding is nog ver van klaar. Totdat dit klaar is, moet dit uiters geheim gehou word. U herinner u wat my voorwaarde in die begin was en daar staan ek by: ek moet 'n afgesonderde plaas kry en genoeg geld om my navorsing te voltooi. Dan eers kan ons praat oor die manier van gebruik, en hoe ons die nuwe krag sal toepas. As ons nou al | |
[pagina 886]
| |
begin rusie maak oor wie dit in die hande moet kry, is die toekoms maar duister. In plaas van oorlog vir goed onmoontlik te maak, sal ons dan eers regtig begin om 'n kryg te ontketen, waarin die een nasie die ander in 'n enkele dag sal vernietig.’ ‘Ag man, die plaas en die geld is geen kwessie nie!’ sê Skat gerusstellend. ‘Wat is 'n plaas en vyfduisend pond tussen ons vier? Issy Wassermann het alleen minstens twintig plase in hierdie distrik.’ ‘Ja ... ja,’ val Issy in, ‘ek kan jou nou vandag die plaas en die geld gee. Maar ons moet helfte verkauf en 'n groot maatskappy floteer ... honderd miljoen werkskapitaal ...’ Stadig het hulle verder van my weggegaan, nog in gedurige en opgewonde gesprek. Wassermann alleen het hom van hulle afgeskei en hy kom suutjies na my aangeloop, diep ingedagte en besig om berekeninge in 'n klein goudbeslane sakboekie te maak. So versonke was hy in sy werk dat hy my nie gewaar voordat hy teen my kom nie. Toe kyk hy verskrik op. ‘A! Dokter!’ roep hy uit, ‘waarom het jy nie kom kyk nie? Man, dit is ein wunder!’ En voordat ek hom die rede van my afwesigheid kon duidelik maak, gaan hy voort: ‘Ek sal jou vertel; luister, ek sal jou vertel wat die ontdekking is ...’ ‘Maar, meneer Wassermann,’ sê ek haastig, ‘het jy nie 'n belofte gemaak om die ding geheim te hou nie?’ ‘Belofte? ... Geheim hou?’ vra hy verbaas. ‘Nee, ek het hoekenaamd en aan niemand 'n belofte kemaak nie. En buitendien, jy is een van ons; waarom sal jy nie weet en ons raad gee nie?’ En toe val dit my by dat Laramie die fout begaan het om die belofte nie van Issy, wat later toegetree het, te eis nie. Daarop vertel hy my, met groot gebare, wat die uitvinding is. Dit bestaan, volgens Issy, uit 'n wiel van die een of ander metaal. Dit is van aparte seksies, wat almal na die middelpunt smaller loop en só blink gepoleer is dat elke seksie 'n spieël uitmaak. Die wiel word in vinnige beweging gesit en weerkaats die strale van die lampie op die staalplaat en die klein metaal-zeppelin. Nadat die twee voorwerpe ongeveer 'n uur aan die strale blootgestel is, verloor hulle stadigaan alle swaartekrag. Met ander woorde, die aantrekkingskrag van die aarde het nie langer enige uitwerking op hulle nie. Hulle dryf in die lug. Issy en sy drie medetoeskouers het die drywende plaat en die zeppelin gehanteer en op alle moontlike maniere ondersoek. Daar kon geen sprake van bedrog wees nie. Met al hul gesamentlike krag en gewig kon hulle nòg die staalplaat, nòg die zeppelin afdruk. Deur die klein, aangeskroefde plaatjie kon Laramie die twee voorwerpe so hoog of so laag in die lug laat styg as wat hy verkies. Hy het die zeppelin gemaak net om te toon hoe sy uitvinding by 'n lugskip toegepas kon word. Hy het die zeppelin om die kamer en tussen hulle deur laat seil, met al | |
[pagina 887]
| |
die deurtjies en venstertjies oop, sodat hulle kon sien dat daar geen gas of iets van die soort in was nie. Issy se uitleg is met opgewonde uitroepe van verwondering gepunktueer, maar hy het skaars die werking van die wiel beskrywe, toe 'n herinnering my soos 'n ligstraal te binne skiet. Ek het skielik onthou waar en in welke omstandighede ek 'n gelyksoortige voorwerp in werking gesien het. Die hele saak word vir my duidelik; skielik begryp ek ook hoe Laramie die bedrag van die geld in my sak kon noem; en die teenstelling tussen die waarheid en al hierdie opgewondenheid van Issy en sy vriende, en ook my eie verbasing oor die toertjie met die geld, was so komies dat ek my nouliks van 'n laguitbarsting kon weerhou. Maar aan Issy het ek niks gesê nie. 'n Tydjie daarna het ek al vyf om 'n tafel in die voorkamer vergader gesien. Don was besig om te skrywe; hy ageer klaarblyklik as sekretaris. Hulle was besig om 'n kontrak op te stel waarin Laramie vir 'n aandeel in sy ontdekking voorlopig 'n plaas en vyfduisend pond sou ontvang. Dit was destyds my vermoede en later het geblyk dat ek reg was. Die hele saak was vir my 'n ontsettende vraagstuk en dit het ure geduur voordat ek tot 'n besluit kon kom oor wat ek behoort te doen. Een ding het ek vas besluit en dit was dat ek Laramie nie oogluikend kon toelaat om iets te pleeg wat my as kolossale bedrog voorgekom het nie. Wat ek moeiliker gevind het, was hoe om my besluit ten uitvoer te bring. Dié middag laat het ek op Laramie alleen afgekom. Hy was in 'n ekstra tent wat ek vir hom in my kamp laat opslaan het. Hy was op die bed uitgestrek, met Sprinkaantjie op sy bors. Hy het al die tekens getoon van iemand wat deur langdurige inspanning uitgeput was - 'n toestand wat ek maklik kon verstaan. ‘Laramie,’ sê ek ernstig, ‘jou ontdekking is my deur Wassermann, van wie jy geen belofte gevra het nie, uitgelê; en ek het dadelik jou hele geheim ontdek. Toe ek die wiel die eerste keer deur die oop deur gesien het, het dit my bygeval dat ek so iets tevore gesien het, maar waar of wanneer, kon ek nie onthou nie. Nou is dit alles vir my duidelik. Een maal tevore het jy terloops die Salpêtrière genoem. Ek het ook 'n demonstrasie in die saal van die Salpêtrièr bygewoon; en in Charcot se tegnieke taamlik baie belang gestel.’ Laramie kom orent op die bed, met die geliefkoosde hondjie in sy arms. Ek kon sien dat 'n skok hom deurtrek; daar was 'n vaal skyn oor sy gelaat. Ek het hom werklik diep bejammer. Die teleurstelling moes vreeslik gewees het; alles wat hy nog op aarde begeer, was binne sy bereik en nou word dit skielik vernietig. Hy het my 'n lang tyd woordeloos aangekyk en toe hy uiteindelik praat, was sy stem dof van aandoening. ‘Ja, dokter, jy wen; ek gee in! Ek is tot die ewige ongeluk gepredestineer. | |
[pagina 888]
| |
Maar moenie dink dat my doel skone bedrog was nie. Ek kon geen ander wyse uitdink om geld en gemak te verkry nie. Maar my groot doel was rein: ek wou, voordat ek sterf, die ding wetenskaplik ondersoek en vasstel. Ek was daarvan oortuig dat verskeie wonderwerkers Charcot se beginsels toepas sonder dat hulle dit weet. Die groot meester self het nooit besef welke mag hy binne sy bereik het nie. En dit was omdat hy nooit in dié rigting gedink het nie. Sy enigste doel was om menslike lyding te heel en te versag. Om sy mag vir selfsugtige doeleindes te gebruik, het nooit by hom opgekom nie. U sal dit nouliks glo, dokter Roubaix, maar ek was een van Charcot se gunsteling-leerlinge. Ek was drie jaar 'n student in die Salpêtrière onder hom. Hy het spoedig ontdek dat ek die aangebore gawe van 'n hipnotiseur besit. Volgens sy eie berekening was daar slegs een uit duisend studente wat die geheimsinnige mag besit om sy ewemens dadelik en gemaklik in 'n toestand van hipnose te bring. Ek was een van die gelukkiges en Charcot het baie van my verwag. Maar daar was 'n ander draadjie in my siel wat 'n eerlike en verhewe loopbaan vir my byna onmoontlik gemaak het. U sal dit goed begryp. Die gevolg was een nederlaag na die ander en die uiteinde, wat u nou voor u sien. U het net een demonstrasie in die Salpêtrière gesien. Hoe helder kan ek dit alles voor die gees roep! Charcot was toe op die hoogtepunt van sy wêreldroem as die grootste geneeskundige op die gebied van abnormale sielkunde. Ons, die eerste onder sy studente, het sy leer goed verstaan, naamlik dat hipnose 'n abnormale toestand is wat niks met suggestie te maak het nie. Nadat die toestand ontstaan het, word die gehipnotiseerde in hoë graad vatbaar vir suggestie. Hy sien alles, voel alles, glo alles en doen alles wat jy aan hom voorstel. Maar die groot geheim was nog: wat veroorsaak werklik die toestand in die mens? Charcot het sonder die minste twyfel bewys dat jy 'n persoon kan hipnotiseer sonder enige suggestie, sonder om 'n woord te praat en sonder dat die persoon die minste begrip het van wat met hom gaan gebeur. Ons het goed geweet dat hy op talle verskillende maniere die toestand kon teweegbring. Enige langdurige, vervelende indruk deur iemand toegepas wat die geheimsinnige mag besit, kan hipnose in 'n ander teweegbring. Vrywing van die voorhoof; stip gevestigde kyk op 'n blink punt; eentonige geluide; selfs eentonige gepraat kan hipnose veroorsaak. Ons het 'n menigte voëls en diere op verskillende maniere gehipnotiseer. Ek het self vir Charcot getoon hoe 'n kalkoen diep gehipnotiseer kan word slegs deur die voël op die grond vas te druk en 'n strepie van sy bek af reguit op die grond te trek. Dit is wat ek op u toegepas het. Ek het natuurlik nie die regte bedrag geld in u beursie genoem nie, maar toe u dit tel, het u dadelik die suggestie aangeneem dat dit die bedrag was wat ek oorspronklik genoem het en u sou gereed gewees het om dit te sweer! Ek het my suggestie verdiep deur die verskyning van die muntstuk wat agtergebly het. En so is daar honderde maniere om mense te hipnotiseer, maar dit moet altyd uitgevoer word deur iemand wat die | |
[pagina 889]
| |
mag in hoër of laer graad besit. Stip gevestigde aandag kan nooit hipnose veroorsaak as die hipnotiseur nie bystaan nie ... En dit is waar die groot geheim lê. Daar moet een beginsel wees wat in alle gevalle werksaam is - maar wat die beginsel is, is nog onbekend. Langdurige, vervelende prikkeling van die een of ander sintuig - gehoor, gesig of gevoel? Nee, want jy kan 'n persoon ook oombliklik hipnotiseer deur hom onverwags en skielik op 'n sekere manier onder die ken te gryp en sy kop agteroor te druk. Daar moet 'n sekere mate van verrassing of skrik wees. Nee, eentonigheid is nie die geheim van die beginsel nie. Maar Charcot was op die spoor. Hy het ons dikwels, in privaat, sy geloof verklaar, naamlik dat daar wonderwerkers was wat die kuns verstaan om 'n groot aantal mense dadelik en gelyktydig te hipnotiseer. U herinner u hoe hy te werk gegaan het? Vier- of vyfhonderd pasiënte is gelyk in die saal toegelaat. Aan die bo-ent van die vertrek was die verhoog, met 'n swart gordyn op die agtergrond. Ons meer geoefende studente was in die saal versprei om die orde te bewaar en later die nodige suggesties te maak. Die meeste van die pasiënte was onwillig en met haat teenoor ons en Charcot vervul. Daar was 'n gedurige gemompel van woede. Alle oë is op die verhoog gevestig. Deur die swart gordyn, kalm en bedaard, tree die groot meester te voorskyn. U sal nog die skone gesig onthou? Hy het iets van Napoleon in sy voorkoms gehad; die lang hare, glad agteroor gekam en op sy skouers gelyk afgeknip. Aan sy linkerkant was die groot, skitterende wiel, die wiel wat my verraai het; en aan sy regterkant 'n reusagtige Chinese metaalghong. Hy sit die wiel deur 'n elektriese knop in beweging: dit draai vinniger en vinniger. Sy verskyning is deur 'n storm van vloeke en skelwoorde begroet, wat voortduur totdat die wiel sy hoogste snelheid bereik. Stadig bedaar die pasiënte; al hoe strakker staar almal na die skitterende wiel. Charcot se oë sweef kalm oor die menigte. Hy weet wanneer die oomblik daar is; stadig lig hy die leer-slaanstok in sy regterhand, terwyl die linkerhand omhoog gehou word. Skielik is daar 'n geweldige slag op die Chinese ghong, wat 'n diep, lang, galmende klank afgee. Met die slag sak die hoofde van die vyfhonderd pasiënte, wat nog kort tevore in 'n storm van woede en geraas verkeer het, stadig vooroor en die oë sluit. Met die langsame wegsterwing van die ghongklank kan jy 'n sug van die menigte hoor opgaan ... almal is in die diepste stadium van hipnose. Dan gaan ons tussen die rye deur om die voorgeskrewe suggesties te maak.’ Daar was 'n lang stilte terwyl Laramie sy hondjie met gefluisterde liefkosinge streel. ‘Dit was waarna ek gesoek het, dokter Roubaix, maar soos gewoonlik het ek op ongeoorloofde wyse te werk gegaan. Het zij zoo! U sal hulle natuurlik moet vertel. As ek vlug sonder enige openbaring, sal hulle my nooit op aarde weer rus gee nie ... Nee, u sal die suggestie moet vernietig. Daar is geen ander uitweg nie. So het die noodlot dit bepaal!’ | |
[pagina 890]
| |
En dit was 'n taak wat ure gekos het. Hulle wou my eenvoudig nie glo nie en het my aanvanklik van 'n diep plan verdink om self die geheim van die uitvinding in die hande te kry! Dit is onnodig om die hele gewerskaf te verhaal. Eers teen sononder het ek uiteindelik vir hulle alles duidelik gemaak en hulle gedwing om my te glo. En toe hoor ons 'n dowwe skoot uit die rigting van my kamp. Dit was 'n rewolwerskoot, en die geskreeu van die Boesman was onnodig om my te vertel wat gebeur het. Toe ons by die tent inkom, lê Laramie op die bed uitgestrek, met die rewolwer nog in sy hand. Oor sy voete lê die hondjie wat gedurig sagte tjankgeluide maak met sy treurige oë op die gesig van sy baas gevestig. Laramie was aan die sterwe. Toe ek oor hom buig, fluister hy: ‘Dit is die laaste van die menslike toetswesens, dokter Roubaix.’ Skat en sy gaste het verslae en sonder woorde die tragedie gadegeslaan en toe een vir een die tent verlaat. Vir die eerste maal het ek iets verhewe in die aangesig van die oorlede wonderwerker opgemerk. Dit was wonderlik kalm. Toe ek self uit die tent kom, was die kamp reeds van die lewende wêreld afgesper deur die diep stilte wat altyd die dood skyn te vergesel. Soos 'n monstrans bo die swart fluweel van die kameeldorings skitter die groot newelwolk van Orion en op die hoogaltaar, tussen Eridanus en die kruis, vlam die sewe ewigbrandende lampe, met Arcturus en Antares as kapelligte op die oostelike horison. Ek het Laramie se sterre-benaming onthou toe ek opkyk. Op pad na die huis kom Issy Wassermann my in die duister tegemoet. ‘Dokter,’ fluister hy, ‘u sal waarskynlik vir die begrafnis sorg en as daar familie of so iets is ...’ en hy druk 'n rol banknote in my hand. |
|