| |
2 Die Pas van Santarey
‘Nie alleen om koninklike trone of keiserlike paleise waar die donkerste dryfvere van die mensesiel storm en blits; waar binne die slagskaduwees van fluweelgordyn, agter die beskutting van tapisserie-prag, die moordenaar met venyn en dolk sy ure wag ... Nie alleen in die gewoel van wêreldstede waar koorsagtige togte en onversadigbare welluste die mens langs die donker weë van verraad en moord voortdryf nie - nie alleen daar weef Clotho die wikkelende drade van haar spinwiel saamgevat tot 'n gevlegte hoed van donker tragedie nie ... Ook te midde van die stilte van ons groot eensaamhede, waar die mens steeds 'n vreemde indringer is, ook daar kom tragedies voor wat soos 'n ysgreep op die hart van die aanskouer val - dieselfde elemente wat die groot dramas van
| |
| |
die wêreldkuns besiel; elemente van die menslike gemoed wat vir duisende eeue uit ons geskiedenis opduik; elemente wat tyd en verandering trotseer.’
Teen die begin van Junie was ek reeds twee maande in die hoogste klowe van die Lakenveld-gebergte besig met die insameling van Euphorbiaciae. Verskeie oggende het die sewe stuks om die sogenoemde Draaikolk hul lakens aangehad, 'n verskynsel wat eertyds aan hierdie vorstelike massief sy gewestelike naam verskaf het. Die voortdurende eensaamheid sou waarskynlik verdraagbaar gewees het te midde van hierdie wonderlike plantewêreld, maar toe bowendien snerpende winde uit die hoogte nagteliks my armoedige tent met yskringe versier, het ek begin soek na 'n verontskuldiging om my terugtog te regverdig. Ook het die gedurige geweeklaag van my twee Boesman-bediendes aan my lafhartigheid 'n skyn van onselfsugtigheid verleen wat ek gretig te baat geneem het. Ek het feitlik besluit om terug te keer toe ek 'n verrassende uitnodiging ontvang. Dit was van die heer Hendrik Durand van Bakendal, my naaste buurman. Hy gee in sy brief te kenne dat sy veewagters hom van my aanwesigheid in Lakenveld berig gebring het, dat my vermaardheid selfs Bakendal bereik het en - wat my die meeste getref het - eindig sy skrywe met 'n dringende versoek om my toevlug tot sy plaas te neem, wat minstens voldoende beskutting teen die dreigende koue van Lakenveld sou verskaf.
Ook het ek die heer Hendrik Durand reeds by name geken. Niemand kon lank in die nabyheid van Lakenveld vertoef sonder om van Bakendal en Hendrik Durand te hoor nie. Ek wis dat sy plaas een van die eensaamste in Lakenveld was - tegelyk ook een van die pragtigste. Ek wis dat hy 'n wewenaar was met een kind, 'n dogter aan wie hy glo sy hele lewe wy.
Die vriendelike uitnodiging het my nie lank in onsekerheid gelaat nie. Die volgende dag reeds is my hele kampvoorraad na Bakendal vervoer met 'n ossewa wat die heer Durand vir die doel aan my gestuur het. Daar het ek vroeg die oggend aangekom.
Hendrik Durand was 'n groot, gebaarde man, breed van skouer, met 'n spierbou waarvan elke beweging 'n bewys van liggaamlike krag vertoon. Hy had aangename, vriendelike gelaatstrekke en die hartlike wyse waarop hy my op Bakendal se hoë stoep begroet het, het my dadelik die warme gevoel gegee dat ek met 'n opregte, openhartige landgenoot te doen had wat werklik verbly was om my te ontmoet en tot sy huis welkom te heet.
‘Ek vermoed, dokter,’ sê hy na die gewone beleefdhede, ‘dat Bakenveld my uitnodiging ook onderteken het,’ en hy wys na Draaikolk se drie sneeubedekte spitse, wat vanaf die stoep sigbaar was. Ek moes erken dat sy vermoede nie geheel ongegrond was nie!
Ek meen dat Hendrik Durand se vrou destyds reeds twintig jaar dood was en dat sy met die geboorte van haar eerste en enigste kind die lewe ingeskiet het.
| |
| |
Dit het my derhalwe 'n weinig verwonder dat Helene Durand nie by die verwelkoming teenwoordig was nie - 'n gevoel wat gestaag toegeneem het toe byna die halwe dag verbygaan sonder dat sy haar verskyning maak. Ek wis dat sy tuis was en ek wis ook dat sy nie siek was nie. Dit het my gedurende die loop van die oggend voorgekom asof die heer Durand die onderwerp van sy dogter opsetlik vermy.
Min het ek toe gedroom dat ek hier vir die eerste maal met die verskriklike tragedie van die Pas van Santarey in aanraking was.
Dit was by geleentheid van die noenmaal dat Helene Durand haar eerste verskyning gemaak het en dadelik het by my 'n weinig lig opgegaan oor haar ontwyking van die beleefdheid wat 'n mens in elke Afrikaner-huisgesin gewoonlik te wagte is.
Sowel haar voorkoms as haar gedrag was so uitsonderlik dat dit g'n groot mensekennis vereis het om tot die gevolgtrekking te geraak dat 'n mens hier te doen had met die een of ander diep sielkundige aandoening wat sy tevergeefs sou getrag het om te verheel nie.
Sy was destyds 'n taamlike groot jong dame - ongeveer in haar twintigste jaar - met die skone atletiese liggaamsbou van 'n gesonde meisie wat in hierdie heerlike omgewing opgegroei het. Sy was mooi genoeg om te midde van enige geselskap altyd die aandag van 'n vreemde besoeker te tref, nieteenstaande haar gelaatstrekke, wat meer geestelike krag as vroulike tingerigheid aangedui het. Sy was geheel en al in swart geklee en so bleek was haar gesig dat ek by die eerste aanskouing tot die gevolgtrekking gekom het dat die oorsaak die een of ander chroniese kwaal moet wees waarvan sy onlangs die slagoffer geword het sonder dat dit ver genoeg gevorder het om algemene liggaamlike verswakking te veroorsaak. Maar ek het spoedig tot 'n ander gedagte gekom. Dit het gou duidelik geword dat hier g'n simptome van liggaamlike siekte was nie. Die kwaal wat die kleur uit die wange van Helene Durand verbleek en haar gedrag beheers het, was iets diepers as wat die lem van chirurg of middels van medisynmeester kon bereik. Haar swart gewaad was ek geneig om aan 'n sekere mate van posering toe te skrywe, maar later het ek hieromtrent ook van gedagte verander. Dit was 'n onbewuste uitwerking van die sieletoestand wat haar gemoed geheel oorrompel het.
Aan tafel het twee dinge my opgeval: Die eerste was dat dit by Helene 'n sekere mate van geestelike inspanning vereis het om, deur deelname af en toe aan ons gesprek, haar voortdurende melancholie te verheel; die tweede was dat haar vader haar deur sy gedrag daarin behulpsaam was.
Dit was ná die ete toe die heer Durand en ek weer alleen op die stoep sit, dat hy my die geheim, ná klaarblyklike aarseling, in sekere mate openbaar het ... So het hy die storie begin:
‘Dokter De Roubaix, ek voel skaam, diep skaam, om te moet erken dat my
| |
| |
uitnodiging nie geheel en al onbaatsugtig was nie; nie so onbaatsugtig as wat ek in die eerste instansie deur my briefie te kenne gegee het nie. Dit is my dogter. U het seker opgemerk ...’
Hier het die heer Durand klaarblyklik moeilikheid met sy woordkeuse ondervind. Hy het seker opgemerk dat sy erkenning my pynlik getref het. Ek het dadelik besef dat ek as geneeskundige uitgenooi was, en dit het my eiewaan natuurlik seergemaak. Hy het dadelik probeer ekskuse maak.
‘Maar ook om uself, dokter. Glo dit tog stellig. Ons het baie van u gehoor en ek het dit as 'n besondere eer beskou dat ek u die armoedige gasvryheid van Bakendal kon aanbied.’ En so voort totdat die kwelling deur vleiery min of meer gesalf was! Ek dink hy het dit alles opreg bedoel; ek het hom spoedig leer ken as 'n baie eerlike en opregte Afrikaner.
Met 'n handwuif uit die hoogte het ek sowel sy erkenning as verontskuldigings opsy gestoot en hom aangemoedig om my die saak van sy dogter duidelik te maak. En dit is wat hy my vertel het: ‘'n Groot verandering het oor my dogter gekom - 'n verandering wat my baie groot onrus veroorsaak het - te meer omdat sy stelselmatig weier om 'n dokter te raadpleeg - selfs om Bakendal te verlaat, om see toe te gaan waar ek 'n strandhuis het. Sy was altyd 'n vrolike, opgeruimde meisie. In die naaste dorpe het sy talle jong vriende van beide geslagte gehad. Ons huis was gedurig vol jong gaste. Helene het gedans, gesing, perd gery en aan alle spele deelgeneem. Sy was lief om rond te reis, om haar vriende en ons bure gereeld te besoek. En nou is sy ... wel, u het self gesien. Sy leef so afgesonderd dat sy gedurende die dag skaars 'n dosyn woorde met my praat. Af en toe gaan stap sy deur die berge, maar alle ander dinge het sy prysgegee. Geselskap van enige aard kan sy nie verdra nie. Sy stel belang in niks; sy slaap en eet sleg. En wat sy makeer, wil sy selfs aan my nie openhartig erken nie.’
‘Het u dogter ooit 'n liefdesteleurstelling gehad, meneer Durand?’ vra ek. ‘Dit kom my voor dat u die simptome van 'n jong meisie se teleurgestelde liefde beskrywe. Dit kan natuurlik 'n ander en ernstiger sielaandoening wees, maar ek dink nie so nie. As dit liefde is, kan u uself gerusstel. Hoe ernstig dit ook al mag wees en hoe bitter die tydelike lyding van die pasiënt ... ons weet dit gaan verby. Daar kom andere. Die wond is selde onherstelbaar. In geval van 'n gesonde meisie, soos u dogter my voorkom te wees, kan ek gewis verklaar dat die wond altyd van tydelike aard is. Gode sy dank dat die mens so ingerig is, anders, voorwaar, sou die lewe op aarde ondraaglik wees.
Die ou heer het my dadelik toegeknik. ‘Ek dink u het die spyker op die kop geslaan, dokter, maar met haas durf ek die saak nie aanroer nie. Ek besit nie die nodige moed nie! Die verband tussen ons twee is eienaardig, anders as die gewone band tussen vader en dogter. Ons was altyd saam. Vandat sy 'n babatjie was, het sy g'n ander maat gehad as haar vader nie. Ongelukkig dat sy juis op
| |
| |
hierdie tydstip die sorg en liefde van haar moeder ontbeer. 'n Moeder sou dit alles gou regmaak ... 'n Man, met welke liefde hy ook al besiel mag wees, is te lomp en onhandig in sulke sake. Ek tas min of meer in die donker rond, maar ek dink dat ek reg is ...
Ongeveer 'n jaar gelede het 'n jongman by ons agterdeur aangeklop. My dogter het uitgegaan nadat die bediendes hom aangekondig het. Later het ek ook 'n gesprek met hom gehad. Hy was te voet, met 'n bondel op die rug, maar ons kon dadelik sien dat hy g'n padloper was nie. Hy was 'n fatsoenlike, welopgevoede jong Afrikaner, klaarblyklik van goeie familie en van indrukwekkende voorkoms. Die seun het my dadelik aangetrek en op my dogter kon ek sien dat hy 'n soortgelyke indruk gemaak het. Al wat hy wou hê, was verlof om in een van die buitegeboue te oornag en om voedsel te koop. Hy had geld. Ons het hom natuurlik binnegenooi - ek moet erken dat dit meer bepaald op aandrang van my dogter was - hom die vrykamer aangebied en ek dink alles moontlik gedaan om hom behoorlik te verwelkom en op sy gemak te stel. Hy was 'n seun van sowat drie- of vier-en-twintig, pragtig gebou met 'n sonderling mooie gesig. Hy het ons baie kortliks sy geskiedenis vertel.
Sy naam was Pierre ... Hy was 'n weeskind sonder naasbestaandes. Hy het baie jare buite Suid-Afrika deurgebring; waar of hoe, het hy my nooit vertel nie en ek het hom nooit daarna gevra nie. Hy was langer as 'n jaar op 'n plaas aan die oostelike voet van hierdie berge werksaam en het sy betrekking verloor toe die eienaar dood is en die plaas in vreemde hande geval het. Hy was nou op reis om aansoek te doen om 'n ander plaasbetrekking waarvan hy gehoor het.
Die jongman het so 'n indruk op my gemaak dat ek hom dieselfde nag nog 'n betrekking as bestuurder van Bakendal aangebied het - 'n plan wat Helene openhartig toegejuig het. Ek het nooit rede gehad om my haastige aanbieding te betreur nie, dit wil sê wat sy werk en algemene gedrag betref. Hy was 'n troue en waaksame werker, stil en terughoudend en om kort te wees, in alle opsigte beminlik.
Maar Helene en ek het dadelik opgemerk dat daar iets baie eienaardigs in sy karakter en gedrag was. Daar was lang tye dat hy alle omgang met ons stelselmatig vermy het. Hy het versoek dat sy kos na sy kamer gestuur word en gedurende hierdie rukke het hy so afgesonderd gelewe dat ons nooit 'n woord met hom kon wissel nie; ja, dae het verbygegaan dat ons hom nie gesien het nie. Maar oor sy werk kon ek nietemin nooit kla nie. As daar ooit rede vir klagte was, dan sou dit gewees het omdat hy altyd getrag het om te veel te doen.
Toe verneem ons van die bediendes dat nagte verbygaan dat Pierre ... nooit slaap nie. Hy het nagte deurgebring met wandelings deur die berge, altyd alleen. In die begin was ons deur hierdie eienaardige gedrag natuurlik taamlik gestoord. Ons het dit van alle kante benader sonder om ooit tot uitleg te geraak. En mettertyd het ons min of meer daaraan gewoond geword.
| |
| |
Ek het nouliks opgemerk - dit het so gestaag gegaan - dat 'n vriendskap tussen Helene en Pierre ontstaan het wat spoedig tot iets meer intiems aangegroei het as wat 'n mens tussen die huisdogter en 'n plaaskneg sou verwag. Maar ek het nooit daaraan gedink om tussenbeide te kom nie. Al was die seun arm, Helene sou genoeg vir altwee hê, indien sy trots hom ooit sou toelaat om dit aan te neem. Ek het hom later liefgehad en sou hom as my skoonseun verwelkom het indien ek daardeur Helene gelukkig sou maak.
Daarom het ek die ontstaan van liefde tussen die twee kinders in my hart met blydskap tegemoetgesien. Kan hulle dit ooit vir 'n ouer verberg - die geboorte van die eerste liefde? Elkeen van die twee dwaal natuurlik in die droom dat die geheim diep in sy of haar hart verborge is, wyl dit aan die oppervlakkigste toeskouer so sigbaar is as Draaikolk-spits!
Elke dag was ek 'n aankondiging te wagte, maar Pierre het my nooit geraadpleeg nie. Ek het dit aan sy natuurlike beskeidenheid toegeskrywe. Ek kon sien dat Helene ook op 'n verklaring gewag het - tevergeefs. En toe eendag gebeur iets wat die twee kinders in die diepte van ellende gestort het. Wat dit was, weet ek tot vandag toe nie. Alleen uit hul gedrag kon ek aflei dat dit iets was wat vir 'n jong hart nie veel minder as 'n doodslag was nie. Pierre het dadelik weer in een van sy afgetrokke nukke verval, net dié keer was dit erger as ooit tevore, en Helene, Helene het geword wat u nou sien. 'n Week later het Pierre my genader met die voorstel dat hy 'n afgeleë veepos van Bakendal waarneem - so eensaam en afgesonderd dat ek altyd geaarsel het om dit aan 'n witman aan te bied. Aan 'n ongetroude seun sou ek nooit gedroom het nie, maar hy het daarop aangedring met die alternatief van verlating van my diens. Die salaris wat hy sou ontvang, was veel minder en die lewe moes vir 'n normale jong seun eenvoudig verskriklik wees. So standvastig was hy dat ek uiteindelik verplig was om sy aanbod aan te neem. Tot my verdere verbasing het Helene geen die minste teenstand vertoon toe ek Pierre se voorstel aan haar bekend maak nie. Sy het natuurlik reeds daarvan geweet.
En so staan sake nou op Bakendal. Dit is maande dat ons Pierre laas gesien het. Ek ontvang af en toe boodskappe van en berigte omtrent die vee in sy sorg, maar self het hy nooit weer voet op ons werf gesit nie. Dit is die geheim wat ek nie kan ontknoop nie, dokter. Ek sou niks in die weg van 'n huwelik lê nie; ek sou dit met vreugde verwelkom. Ek het Helene dit meermale te kenne gegee, maar sy weier volstandig om 'n woord met my oor die saak te wissel. Sy wil my haar vertroue nie skenk nie. Sodra ek die onderwerp aanroer, verlaat sy my skouerophalend en nietemin is dit my so helder as die daglig dat die ongelukkige kind haar doodtreur oor Pierre. Dit is 'n wurm wat aan die hart van die bloeisel knaag en wat nooit aan die daglig openbaar word nie. Wat kon so 'n toestand tussen die twee kinders tot stand gebring het?’
| |
| |
Ek kon die ongelukkige vader maar min troos bedeel. ‘As u, die vader, dit nie kan ontdek nie, hoe sal ek, 'n vreemde, ooit haar vertroue win?’ was die beswaar wat steeds by my opgekom het.
Nietemin het ek gedurende die volgende paar weke alles in my vermoë gedaan om binne die beskansde geheim van die jong meisie te dring.
Mettertyd het ons lang wandelinge saam onderneem en ek het met 'n sekere mate van hoop haar belangstelling in plantkunde sien herleef. Sy het my gehelp in die versameling van Euphorbiaciae; ons het oor 'n menigte onderwerpe gesels, want Helene was 'n goed belese meisie met 'n helder en wakkere verstand. Maar oor dié een onderwerp in die wêreld wat haar sielelewe die naaste geraak het, daaroor wou sy geen woord rep nie. Sy het nooit aan my die naam van Pierre genoem of haar geheim in die verste aangeroer nie, tot eendag...
Dit was afgesproke dat ons een oggend vroeg te perd na 'n verre kloof sou ry wat besonder ryk was aan sekere plante wat ek graag in my versameling wou hê. Die heer Durand het 'n beroemde perderas op Bakendal geteel en Helene had 'n pragtige volbloed waarvan sy dikwels gepraat het en wat sy dikwels saam met my in die stal besoek het, maar dit was vele maande sedert sy laas op hom gery het.
Die oggend van ons voorgenome rit was ek 'n weinig laat. Ek het 'n groot lewe op die stalwerf gewaar toe ek by die agterdeur uitkom. Ek sal die skouspel nooit vergeet nie. Die heer Durand en tal van bediendes staan voor die staldeur, waar my perd ook opgesaal staan. Helene was reeds in die saal, 'n ouderwetse damesaal. Sy was ook in die ouderwetse lang swart ryrok geklee wat al die skone lyne van haar jeugdige liggaam op die suiwerste tentoonstel. Haar perd, Fidele, was met gebuigde nek aan ronddans, so vurig en opgewonde dat dit selfs aan haar vader ernstige vermanings ontlok het. Maar Helene was klaarblyklik 'n ruiter wat so te sê in die saal opgegroei het. Haar slanke liggaam het die indruk gegee dat dit 'n eenheid met haar perd vorm ... 'n vlammende Walkure pas geland om haar dode helde in te gaar.
Ons het lank gery voordat die vurige volbloedperde 'n weinig tot bedaring gekom het en gesprek tussen ons weer moontlik was. Ons het deur pragtige bergskappe gereis en Helene, meer lewendig en opgeruimd as wat ek haar ooit tevore gesien het, het my die name van spitse en klowe vertel en die legendes wat aan byna elkeen verbonde was.
Ek herinner my dat sy by een geleentheid 'n paar sekondes laag oor die nek van haar perd gebuig en hom met 'n sagte en skaars sigbare hantering van die teuels tot 'n meer bedaarde pas gedwing het. Toe ek weer onopsigtelik na haar kyk, was sy diep ingedagte, met haar donker oë onsiende na die verte gerig. En toe begin sy praat, saggies soos iemand die gebeurtenisse van 'n droom vertel. Ek dink nie dat sy dit as 'n bieg bedoel het nie.
‘Die liefde is die grootste ding op aarde, die wonder van alle wonders. Skie- | |
| |
lik word jy in 'n blomtuin ingevoer waar alles skoon en heerlik onder die son versamel is. Jy weet, dokter, alles om jou is veranderd. Die gewoonste dinge, die werk van die dag, die omgewing wat jy elke dag van jou lewe gesien het, alles lyk vreemd, vol skoonheid en blydskap wat jy nooit tevore opgemerk het nie. Daar is 'n lied in jou hart ... niks kan dit ooit weer geheel en al wegneem nie...’
Meteens staak sy haar vertelling. Daar was tekens van skrik - 'n verstywing van spiere, en haar aandag was skielik stip op 'n bepaalde punt gevestig. Ons was net onder die majestueuse front van Natfali op ons regterhand, pragtig deur die opgaande son verluister. Onder teen die laagste krans was 'n uitstaande rots wat soos 'n reuse-perdestal oor die dal omhoog rys. Op die spits gewaar ek die gestalte van 'n jong man. Roerloos staan hy ons stip aan te staar, sonder beweging van 'n enkele liggaamsdeel. Die afwesigheid van die gewone begroeting het my verbaas, maar Helene se gedrag nog meer. Sy het haar perd tot stilstand gebring en sit die jong man met dieselfde beweginglose stiptheid en aanstaar. Daar was 'n treurige glimlag op haar lippe en haar pragtige oë was verdonker deur 'n wolk van drome. My teenwoordigheid het lank vergete gebly en toe hoor ek 'n sagte fluistering oor haar lippe: ‘Dit is Pierre de Savoye.’
Hierdie sonderlinge ontmoeting het my 'n plan gegee. Ek dag dat dit waarskynlik moontlik sou wees om deur toepassing van 'n weinig takt en diplomasie die lyding van die twee ongelukkiges in vreugde om te set. Ek weet nie wat by my die oortuiging laat ontstaan het dat al hierdie ongelukkigheid aan die dwase hoogmoed van Pierre te wyte was nie. Hy is te trots om die hand te vra van 'n ryk meisie terwyl hy 'n arme niksbesitter is wat vir sy bestaan slegs Helene se vader te danke had.
'n Week later het ek met hom kennis gemaak in die klein hartbeeshuisie wat hy aan die bo-ent van die kloof bewoon het. Ek het hom gevind presies soos die heer Durand hom beskrywe het. Hy had 'n verbasende mooi gesig. In die diep donker oë was elke gemoedsverandering weerspieël, 'n indrukwekkende jongman, sterk gebou, met die spierlyne van 'n Griekse standbeeld. Sy aantreklikheid was onweerstaanbaar. Dit het nie lank geduur om sy vertroue te erlang nie; hy was in dié opsig baie makliker om te nader as Helene.
Een aand net met sonsondergang sit ons aan weerskante van die klein tafel in die voorvertrek van sy huis. Ek het die tere onderwerp juis weer aangeroer. Hy sit my stip en aankyk met trekke van geweldige pyn om sy lippe toe hy skielik sy arms wyd uitstoot oor die tafel met 'n gebaar van uiterste moedeloosheid. ‘God help my!’ roep hy, ‘ek moet iemand vertel, wat ook al gebeur. Dit knaag soos 'n brandende vuur aan my hart. Van haar het ek die besonderhede verberg. Ek kon haar nie alles openbaar nie, maar aan u sal ek dit doen.’
En daar, in die toenemende skemer wat soos 'n slepende gewaad die skerper
| |
| |
lyne van die bergreeks voor ons bedek en in 'n sagte skakering van grou en swart versmelt, het Pierre my die vreeslike tragedie van die Pas van Santarey vertel.
‘Ek behoort tot een van die Hugenote-families wat altyd klein gebly het, soos u eie ook, dr. De Roubaix. Ek is gebore op die oorspronklike plaas in Groot-Drakenstein wat die eerste De Savoye aangelê het. Omdat die families deur agtereenvolgende geslagte altyd klein was, was dit nooit nodig om die grond te verdeel nie en om dieselfde rede het dit byna driehonderd jaar aan die familie behoort.
Ons gesin het uit slegs vier bestaan: vader en moeder en twee kinders, twee seuns. Dit was my ouer broer, Jan Hendrik, en ek. Jan was agt jaar ouer as ek en ek het hom bemin met al die hartstog van 'n jong broer wat die ouere sy hele lewe lank as 'n weergalose held beskou het wat niks verkeerd kon doen nie. Ek dink dat my liefde vir hom juis so onbegrens was omdat ek nooit die liefde van 'n vader geken het nie. My vader was 'n strenge Calvinis, buitemate trots op sy naam en herkoms en wat my betref, 'n verskriklike tiran wat my kinderlewe 'n sidderende nagmerrie van vrees gemaak het. Noudat ek ouer geword het, kan ek insien dat ek miskien self skepper van die grootste gedeelte van my ongeluk was. Ek was altyd geneig om 'n rebel te wees. Stadigaan het bittere haat en weerstand in my ontstaan wat die wrede strawwe van my vader slegs verhard het. My moeder ... ja, my arme moeder, haar het ek ook liefgehad. Maar my moeder was sag van geaardheid en in baie opsigte 'n swakkeling wat spoedig deur my vader se barse ruheid oorrompel en gebreek is.
Haar lewe is gewy aan pogings om die vrede te bewaar. My kon sy nooit die minste beskerming verleen nie. Dit sou haar onmiddellik in botsing met die huistiran gebring het. En dit was by haar 'n ondenkbare toestand.
Bo alles het my ouer broer uitgestaan. Hy altans was nie bevrees om die woede van my vader die hoof te bied nie. Maar ook hy kon my nie beskerm nie. Hy kon my alleen troos en van warme liefde omring, wat van my kant duisend maal terugbetaal is.
Die toestand tuis het daagliks ondraagliker geword en daagliks het my hardnekkige rebelskap toegeneem.
Op my tiende verjaarsdag het ek in die middel van die nag deur my slaapkamervenster geklim en met 'n bondel kos die berge ingevlug.
Al die pogings van my vader en broer Hendrik om my op te spoor, het misluk. 'n Week daarná het ek in die Kaapse hawe weggekruip in die ruim van 'n klein seilskip wat die volgende dag na Indië sou vertrek, en so het ek matroos geword. Tien jaar het ek nooit weer my voet op Afrikaanse bodem gesit nie.
Ná jare het ek uit een van die Oosterse hawes vir my broer 'n briefie geskryf. Ná maande is sy antwoord my ter hand gekom. My moeder was lank
| |
| |
reeds dood. My vader was oud en sieklik maar het my nooit vergewe nie en Hendrik se raad was om nog 'n jaar te probeer wag voordat ek huis toe kom. Hy sou my te eniger tyd help en bystaan. By die brief was 'n vyfpondnoot.
En toe, nadat ek nege jaar rondgeswerf het, meestal in die Ooste, van die een hawe na die ander, met die een skip ná die ander, sien ek per toeval 'n advertensie in 'n nuusblad vir my bedoel. Dit was van broer Hendrik om my met die dood van my vader bekend te maak. Hy was erfgenaam van alles maar smeek my om huis toe te kom, waar alle voorsiening vir my sou gemaak word.
Twee jaar gelede was ek op 'n skip wat die baai aangedoen het. Ek het my ontslag geneem. Ek had bloedweinig geld want ek was altyd 'n dobbelaar en geneig om my geld met altwee hande uit te saai. Ek het besluit om land in te trek en uit te vind waar my broer was en met hom in aanraking te kom. Ek het intussen van hom verneem dat hy besluit het om die ou plaas te verkoop en 'n veeboerdery aan te skaf. Daar was juis toe 'n groot daling in die prys van wyn. Hy is intussen ook getroud en had kinders, van wie een na my genoem is.
Ek het 'n ruwe lewe gelei en die grootste ontberinge het my nie veel hoofbrekens veroorsaak nie. Spoedig het ek al die gewoontes van 'n padloper aangewen. Ek kon kos en herberg met die beste gemak bedel en kon 'n reeks leuens met al die beslistheid en welsprekendheid van 'n advokaat vertel.
So het ek van plaas tot plaas deurgeslenter, hier 'n paar dae werk, daar genoeg vir 'n paar dae bedel, en waar alle ander middele my ontbreek het, kon ek altyd die nodige kleinighede langs die pad steel om my aan die lewe te hou.
Eindelik het ek die groot bergreeks bereik wat die skaapwêreld van die kusstreek skei. Hier het 'n Boesman-beeswagter my een oggend 'n kortpad oor die berg beduie. Dit was 'n paadjie oor die Pas van Santarey wat meestal deur skaap- en beeswagters gebruik is. Vir rytuie was dit ontoeganklik.
Hierdie deel van die berge was geheel onbewoon. Daar was enkele veeposte waar boere aan die voet somersveld vir hul vee gevind het, maar die poste was baie seldsaam en ver van mekaar.
Ek het Santarey vroeg die oggend begin bestyg en dit was laat die middag, net voor sononder, dat ek die groot gelykte op die hoogste van die pas bereik het. Santarey gee jou hier die indruk van die een of ander monsterdier wat sy breë rug omhoog lig. Aan die linkerkant word die pas deur drie groot koppe oorskadu. Aan die regterkant, 'n myl van die voetpad, loop 'n lang krans wat die verdere berge geheel bedek.
Dit was vreeslik eensaam, die Pas van Santarey. Langs die voetpad het hier en daar opstapelings ruwe rotse uit die grond verrys. Langs een daarvan het ek gaan sit om te rus - op 'n plat klip met 'n gemaklike leuning van rots agter my.
Die son was onder, of het ten minste agter die westerkrans verdwyn. Op die spitse voor my kon ek nog die goue strale sien. Alles om my was in sombere skadu gehul. Ek herinner my dat dit vreeslik stil was. Daar was geen beweging
| |
| |
van lewe nie. Uit die gras naby my kom die treurige note van 'n enkele voëltjie.
Dit was nie die geluid van voetstappe wat die eerste my aandag getrek het nie; dit was die onverklaarbare gevoel wat 'n mens soms in die nabyheid van 'n medemens ondervind voor hy sigbaar of hoorbaar is.
Skuins agter my op 'n afstand was 'n bos groot bome wat toe reeds deur dreigende slagskadu's omring was. Toe ek half omdraai, kon ek die roering van blare in die aandwind hoor. Van tussen die bome kom 'n man stadig deur die gras in my rigting aangeloop. Hy had 'n lang kierie in sy hand, langer as hy self, en ek kon sien dat hy meer as ses voet hoog was. So sag was sy voetstap dat ek hom nooit sou gehoor het nie. Ek weet nie waarom dit was nie, maar die verskyning van die enkeling te midde van die diepe eensaamheid het skielik 'n koue siddering deur my liggaam laat gaan. 'n Spreekwoord val my te binne, 'n spreekwoord van my oupa uit die duister geheue van my kindsdae: “Waak vir die Duiwel as hy jou nader met fluweel geskoeid.”
Die man kom reg op my af, statig, met gemete treë. Toe hy voor my kom, gaan hy staan. Hy vou sy hande saam om sy lang stok en staar my lank aan sonder om 'n woord te sê. Van my voete tot aan my gesig beweeg sy skerp oë. Hy was 'n bejaarde man met grou hare en 'n grou spitsbaard wat netjies gelyk geknip was. Sy klere was ook netjies en sy houding het die indruk gegee dat hy geen verre reisiger was nie. Die punt van sy lang wandelstok was gepantser met 'n ruwe stuk yster wat oor die hout ingedryf was. Ek kan plegtig verklaar dat die man my van die begin af met die grootste weersin vervul het. Dit was nooit ek wat aan sy invloed toegegee het nie.
Nadat hy my lank aangestaar het, knik hy herhaaldelik met die hoof soos iemand wat eindelik die oplossing van 'n probleem nader. Toe hy praat, was dit in 'n sagte toon wat sy gehele voorkoms loënstraf: “Verbasende noodlot wat ons weë hier op hierdie tydstip op die Pas van Santarey laat kruis! Jare lank het ons gewerskaf en gewandel en geworstel met geen ander doel as om hier uiteindelik te ontmoet nie.”
Met 'n diepe sug gaan hy langs my op die klip sit en diep ingedagte begin hy met die ysterkop van sy kierie strepe in die sand van die voetpad trek.
Toe hy weer uit sy drome ontwaak en my bysyn weer gewaarword, was sy woorde skielik ook meer beslis en vinniger: “Seun, ons sal g'n name vra of noem nie. Later sal dit vir jou duidelik word waarom dit onwenslik sou wees. Ek dink nie dat ek verkeerd sou wees as ek vermoed dat jy nooit kennis gemaak het met die weelde van die wêreld nie? Jou lewe was swaar. Jy het nooit op een tyd genoeg geld gehad om alle kommer en sorg vir die toekoms te vernietig nie. Jy het dikwels honger gely en swaar gekry en die dae van werklike vreugde en genot kan jy op die vingers van een hand tel. Is dit nie so nie, my seun?”
Met 'n gebaar van veragting wys ek na my bondel op die grond langs my, sonder om sy vraag in woorde te beantwoord.
| |
| |
“Ja, ek sien,” sê hy, weer sagter, met die hoofgeknik wat by hom 'n gewoonte was. “Hoe sou dit jou geval om ryk te wees, my seun? Om jou sakke vol geld te hê, om een maal in jou lewe van die knaende ellende van armoede bevry te wees, om een maal die vreugde van heerlike ete, van skoon, sagte klere, van gloeiende wyn, van 'n verebed en sydekens, om een maal al die glorie van die lewe te smaak, pragtige meisies met skitterende oë wat in jou omhelsing van liefde versmelt?” en hy lê sy hand saggies op my knie.
Hierdie aanraking het 'n vlaag van weersin deur my laat gaan. Maar voordat ek kon antwoord, gaan hy haastig voort: “Luister, seun, daar is 'n fortuin binne jou bereik. Jy hoef net jou hand uit te steek om dit te gryp en vir altyd vas te hou. Luister, die tyd is kort. Ons kan nie nou beraadslaag en redeneer nie. Doen net wat ek sê en jy is lewenslank van alle kommer bevry. 'n Ryk skaapboer wat oorkant aan die voet van die berge woon, het gisteroggend sy lank opgegaarde skeersel in die Baai verkoop. Hy het duisende ponde ontvang en is nou te perd aan 't kom. Hy het sy waens deur die poort teruggestuur maar hy self kom met die voetpad oor Santarey met die geld in sy bladsak. Al wat ek van jou verlang, is dat jy opstaan as hy hier kom en hom nader. Jy moet hom beleefd groet en vra hom of hy jou nie 'n dosie vuurhoutjies kan afstaan nie. Jy moet hier in die berge buite slaap en jy het niks om mee vuur te maak nie. Sorg net dat hy by hierdie rots verby is voor jy opstaan. Ek sal agter die rots staan waar hy my nie kan sien nie. Ek moet - deur hom ongesien - agter hom op die voetpad uitkom terwyl jy hom in gesprek hou. Ek belowe jou vir hierdie eenvoudige, geringe diens die helfte van sy geld.”
Wat my oorgekom het, weet ek nie. Ek herinner my dat ek probeer het om uit te roep: “Ek wil niks met bloedvergieting te maak hê nie!” waarop hy spottend vra: “Wie praat van bloedvergieting, jou dwaas?”
En toe, ver in die voetpad, hoor ons die hoewe van die aankomende ruiter.
“Daar is g'n tyd nie,” fluister die vreemdeling hees in my oor. “Doen net wat ek jou gesê het en sorg dat hy by die rots verbykom,” en met dié woorde verdwyn hy agter 'n rots wat uit die stapel orent styg.
Binne 'n paar minute kom die perderuiter te voorskyn, 'n swart gedaante uit die donker aandskadu's van die berge. Toe hy naby kom, kon ek sy gelaatstrekke uitmaak. Hy was 'n man in die middel van die lewe, met 'n aangename skoongeskeerde gesig. Om sy lyf hang die gewone swart bladsak. Hy was op 'n groot, sterkgeboude perd wat klaarblyklik moeg en afgemat was van die lang klim tot op die hoogte van Santarey.
My verdere handeling was dié van 'n slaaploper. Net toe hy langs my kom, staan ek orent en met een tree was ek voor hom in die voetpad. Sy perd het my met 'n snork en onverwagte ruk van skrik gewaar wat die ruiter in die saal laat wikkel het. Ek groet hom beleefd en vra om verskoning dat ek sy perd laat skrik het, en dadelik begin ek woordeliks die storie wat die vreemdeling my
| |
| |
voorgesê het. Ek moet hier in die berge buite slaap en het niks om mee vuur te maak nie. Kan hy my nie miskien 'n paar vuurhoutjies laat kry nie?
“Seker, vriend, seker,” sê hy bereidwillig en vriendelik. “'n Beter plan sou wees om aan te sukkel na my plaas. Van hier is dit afdraand en daar kan ek jou minstens van 'n dak en bed en voedsel voorsien. Maar ek sal jou in alle geval die vuurhoutjies gee,” en hy begin in sy sakke voel.
Net toe sien ek die donker gestalte van die lang vreemdeling agter hom te voorskyn kom. Hy had die lang kierie in altwee hande omhoog geswaai. Ek gryp die perd aan die toom om hom weg te ruk en gee 'n gil van waarskuwing toe die slag val. Die ysterkop het die perderuiter op die slaap van die hoof getref. Ek sien sy oë omkeer en hy begin stadig vooroor te buig asof hy my iets wou toefluister en tuimel stadig vooroor van die perd af. Een voet het 'n tydjie in die stiebeuel gehaak sodat hy op sy rug in die voetpad te lande kom. Met die val van sy baas skrik die perd weer geweldig en spring die gras in ... Vlak voor my lê hy uitgestrek met sy dowwe oë hemelwaarts gerig, waar enkele sterre reeds skitter. Verskriklike gesig! Uit die slaap van sy hoof loop 'n straal bloed wat stadig met die stof meng. Met saamgevoude hande en knersende tande staan ek hom aan te kyk. Nooit, tot God my geheue ewig uitdelg, sal ek weer sy gesig vergeet nie.
Soos in 'n droom hoor ek die stem van die vreemdeling: “Jou domkop! Jy het byna alles met jou geskreeu bederwe. Wat staan jy te sidder en bewe? Hy is onskadelik genoeg. As die lewe uit is, is hy van net soveel betekenis as hierdie klip. Wees gerus, ek het hierdie plek uitgesoek en alles voorberei. Net jou koms was 'n onvoorsiene gebeurtenis, maar dit het goed te pas gekom.”
En toe kniel hy langs die liggaam. Uit een sak haal hy 'n sleuteltjie waarmee hy die bladsak oopsluit. Hy neem 'n handvol papiere uit en kyk dit haastig deur. Toe voel hy in al die sakke van die dooie. Uiteindelik staan hy orent voor my met uitgestrekte hand. In die palm lê twee sjielings en een trippens. Hy bars uit in 'n bittere gelag: “'n Mooi poets het die noodlot ons gebak, makker. 'n Gelowige sou sê dat die Liewe Here ons die mislukking voorberei het. Ba!” en hy smyt die geld in die gras weg.
Nou moet ons skei, vriend. Ons het ons rolle klaar gespeel.’
‘En toe kom hy skielik 'n tree nader en druk sy gesig byna vas teen myne terwyl hy my gelaatstrekke noukeurig gadeslaan. Toe buk hy oor die dooie en bekyk sy gesig ook noukeurig.
“Hoe heet jy, seun?” vra hy, “dit kan nou g'n kwaad meer doen om name te noem nie. As die geld hier was, sou dit anders gewees het. Wat is jou naam?”
“My naam is Pierre de Savoye,” antwoord ek weer met 'n onkeerbare siddering deur elke spier van my liggaam.
Die vreemdeling staan vir 'n pose verslae voor my. Toe uit hy weer sy aaklige gelag, wat vreeslik klink in die koele stilte van die nag.
| |
| |
“Pierre de Savoye, sê jy? ... Dit lyk of die noodlot nog nie klaar is met sy grap nie. Kyk hier!” en hy plaas 'n papier wat hy uit die bladsak gehaal het, in my bewende hande. Daar was net lig genoeg om die groot skrif met moeite te lees. Dit was 'n bankbewys vir die belegging van geld, die vorige dag gedagteken en die naam van die belegger was Jan Hendrik de Savoye, skaapboer van die plaas Remhoogte, Pas van Santarey ...
Toe ek weer die vreemdeling se stem hoor, was dit 'n hese fluistering. Dit het my voorgekom dat daar iets medelydends in die klank was: “Dit het my skielik bygeval dat julle na mekaar lyk. Ek weet nie wat die verband tussen julle is nie. Luister nou, verlaat die plek dadelik. Die uitleg sal wees dat sy perd geskrik het en dat hy teen die rotse doodgeval het. Ek het alles daarvoor reggemaak.”
En toe was ek alleen met die dooie. Die nag het genadig die wrede trek van pyn en wroeging op sy stille gelaat verheel. Die vreemdeling, 'n swart skadu op die sterverligte gras, was halfpad na die donker bome. Ek trag myself te oortuig dat dit alles 'n vreeslike droom was. Alles was skielik weer vreeslik stil. Weer kon ek die fluistering van die bome hoor, besig met hulle ewige geheim, en uit die gras naby my kom die treurige liedjie van die eensame voëltjie.’
(Uit die dagboek van Dr. de Roubaix blyk dat hy later die volgende feite ontdek het: Die geregtelike ondersoek insake die dood van Jan Hendrik de Savoye het tot die besluit gelei: ‘Dat oorledene deur 'n ongeluk om die lewe gekom het. Sy perd het waarskynlik in die donker vir 'n klipstapeling op die Pas van Santarey geskrik en die ruiter teen 'n rots gegooi waardeur hy 'n skedelbreuk opgedoen het wat die dood as onmiddellike gevolg had.’
Hierby het die saak berus. Die werklike besonderhede van die tragedie was waarskynlik nooit aan meer as vier persone bekend nie, naamlik aan die twee deelnemers aan die moord, Helene Durand en dr. De Roubaix. Vandag word die besonderhede vir die eerste maal geopenbaar.
Pierre de Savoye het 'n jaar ná sy ontmoeting met dr. De Roubaix net so skielik en geheimsinnig van die veepos op Bakendal verdwyn as wat hy oorspronklik by die woning van die heer Durand aangekom het. Laasgenoemde heer het in die begin vermoed dat Savoye homself om die lewe gebring het - 'n gevolgtrekking waartoe sy sonderlinge gedrag, sy melancholie en selfopgelegde eensaamheid aanleiding gegee het.
'n Langdurige en grondige soektog deur die berge na moontlike oorblyfsels was egter vrugteloos. Later het die vermoede in die buurte posgevat dat hy sy toevlug tot die see geneem het, waar dit veel makliker is vir 'n mens om spoorloos te verdwyn as op die vasteland. Dr. De Roubaix maak aantekening van 'n opmerking van De Savoye wat hy in sy verhaal gebesig het: ‘Dit mag waar wees dat die see 'n stiefmoeder is, maar in die laaste nood strek sy altyd haar arms beskermend uit na die seun wat sy toevlug weer tot haar neem.’ |
|