Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 765]
| |
Spore in die Sandaant.1 Plegtige Teraardebestelling van AdoonsDaar is in die Engelse begraafplaas wat uit die Tweede Vryheidsoorlog dateer, hier op Heidelberg, oënskynlik 'n besondere en unieke eer aan 'n Engelse soldaat bewys: hy is twee maal begrawe. Hy lê drie tree van mekaar. Dit klink onlogies maar dit is moeilik om dit anders uit te druk. Twee grafstene, een die gewone militêre kruis, die ander 'n gebeitelde klip met dieselfde naam, nommer, regiment en dieselfde datum waarop die oorledene sou gesneuwel het. Die geheim aan die eienaardige eerbewys verbonde, is deur twee getuies opgehelder en dit is miskien in belang van die toekomstige geskiedkunde van Suid-Afrika om die storie aan die vergetelheid te ontruk. Een getuie is 'n Engelse dokter wat in diens van die Engelse besetting op Heidelberg was, die ander 'n Afrikaner aan ons kant wie se lewe vir lange tyd in die grootste gevaar verkeer het vanweë die dubbele dood van sersant McGregor. Ons landgenoot, gelukkig vir hom, het tot die vrede in die veld gebly. Hier volg dan kortliks die storie soos dit ons by die graf vertel is deur die twee getuies in bysyn van die ‘Klein Dominee’ en tant Sannie Kloppers. Sersant McGregor was van 'n Skotse regiment afgesonderd vir verkenningsdiens, kort voordat die Engelse Heidelberg bereik het. Eendag toe hy op sy gevaarlike werk uitgestuur was, het hy sy afdeling nie weer bereik nie en in lewe het geen mense-oog sersant McGregor ooit weer gesien nie. Heinde en ver het die Engelse navraag gedoen en ondersoek ingestel, maar van die verlore sersant kon hulle geen taal of tyding kry nie. Maande het die vrugtelose soektog geduur en toe word eendag berig van 'n Engelse verkenningsafdeling ontvang dat hulle die geraamte van sersant McGregor in die veld gekry het. Die identifikasie was bo alle twyfel verhewe want die papiere van die gesneuwelde sersant was nog leesbaar. Die stoflike oorskot is na Heidelberg oorgebring en met militêre eerbewyse ter aarde bestel en op die grafregister is die graf aangeteken as dié van sersant McGregor met die waarskynlike datum van sy dood. In 'n geheel ander gedeelte van die distrik Heidelberg was 'n ander verkenningskolonne werksaam. Van die werklike ontdekking van die gebeente van sersant McGregor het die tweede kolonne niks geweet nie, en maande nadat hy reeds veilig begrawe is, was hulle nog besig om elke Boeregevangene en swarte | |
[pagina 766]
| |
te ondervra omtrent die verdwene soldaat. Uiteindelik kom hulle soos hulle waan op die spoor. Hulle kamp eendag by 'n klein inboorlingstat op die hoogtes van Suikerbosrant. Ver aan die oorkant was 'n klein Boereplasie, hoog teen die rant geleë. Die plaas was natuurlik verlate. Die swartes was nog in hul stat. Dadelik word ondersoek ingestel omtrent sersant McGregor en van die swartes hoor hulle 'n storie wat, soos hulle gedink het, die hele saak ophelder. Een aand, so verklaar die swartes plegtig en eenstemmig, toe die Boereeienaars nog op die plaas was, het hulle gesien hoe twee Boere net langs die huis 'n Engelse soldaat met 'n byl en 'n piksteel vermoor. Hulle moes hom vreeslik stukkend gekap en geslaan het want die moord het lank geduur. Nadat hy dood was, het die twee Boere die lyk op 'n sak of 'n stukkie bokseil die rant ingedra, waarskynlik om te begrawe. Die swartes was te bang om ná die moord naby die plaas te gaan. Hulle wou natuurlik nie die Boere laat weet dat hulle ooggetuie van die moord was nie. Meer as 'n jaar daarna, toe die kommando's dié gedeelte van Heidelberg verlaat het en toe die Engelse aan kom was, het hulle vir die eerste keer gaan kyk en dit het hulle nie lank geneem om die bene van die vermoorde Engelse soldaat in die rant te kry nie. Hy was in die dryfsand van 'n droë berglopie begrawe en deur storm en water was die bene gedeeltelik blootgelê en taamlik rondgespoel. Die swart getuies bied aan om die offisiere van die kolonne die geraamte te gaan wys. 'n Lykskouing word gehou en dadelik 'n rapportganger na Heidelberg gestuur om aan die Engelse bevelhebber daar bekend te maak dat die geraamte van die verlore sersant McGregor gekry is en om te versoek dat 'n begrafnis-afdeling met 'n doodswaentjie en 'n doodkis uitgestuur word om die gebeente na Heidelberg te vervoer. Dit het intussen gebeur dat daar 'n nuwe Engelse garnisoen op Heidelberg aangekom het wat niks wis van die vroeëre en werklike begrafnis van sersant McGregor nie. Onder die troepe was egter 'n afdeling van die Skotse Hooglander-regiment waaraan McGregor behoort het en aan hulle word die plegtige teraardebestelling van hul vermoorde landgenoot en kameraad toevertrou. Tien Skotse manskappe met skopgrawe het die waentjie en doodkis vergesel en diep onder die indruk van die treurspel en met aansienlike afgryse, het hulle die bene met sand en al opgeskep en in die doodkis gegooi. Ooreenkomstig 'n Skotse bygeloof is 'n Skotse mondering en 'n Skotse doedelsak saam met die bene in die doodkis geplaas, want McGregor was 'n vermaarde doedelsakspeler. Die onderliggende gedagte is natuurlik dat die oorledene by die opstanding behoorlik geklee en toegerus sal verskyn. En dit bewys wat ek altyd beweer het dat die Skotte, nieteenstaande die algemene, teenoorgestelde vermoede, in werklikheid die ligsinnigste optimiste is. Van die mondering niks gesê nie, maar om die hoop te koester dat die Skotse doedelsak deel sal uitmaak van enige denkbare orkes hiernamaals ... wel! | |
[pagina 767]
| |
Intussen is die name van die twee moordenaars deur die swartes bekend gemaak, wyd en syd deur die Engelse gesaghebbers uitgesaai met bevele dat indien hulle gevang word, hulle dadelik onder 'n sterk wag vir teregstelling na Heidelberg gestuur moes word. Om die geskiedkundige loop van sake in sy verband te hou, moet nou vertel word dat die vermoorde glad nie sersant McGregor was nie. Dit was naamlik 'n groot mak mannetjiesbobbejaan wat die eienaars van die Suikerbosrantse plasie dié aand tot die dood veroordeel het. Toe hulle besluit het om die plaas by nadering van die Engelse te verlaat, het die vraagstuk ontstaan: wat met Adoons gedaan? Om hom vry te laat, was om die vernieling self uit te lok. Hy sou die dak in stukke pluk en al die vrugtebome verwoes. Min wis hulle dat 'n erger verwoester as Adoons aan 't nader was! Besluit word toe om die ongelukkige bobbejaan dood te slaan. Jammerhartig en met groot weersin, want hy was hulle ou grapmaker, is Adoons deur twee jongkêrels doodgekap en geslaan en in die berglopie gegooi, presies soos die swartes dit beskrywe het. Intussen word op Heidelberg deur die Skotte uitgebreide voorbereidsels gemaak vir die plegtige teraardebestelling van hulle ongelukkige landgenoot uit die hooggebergtes, gesneuwel op die slagveld van eer. Dit spyt my om te moet erken dat Adoons nie ortodoks was nie. Onder die naam van sersant McGregor is hy in die Engelse militêre argiewe aangeteken as Rooms-Katoliek en dit was onder die gemoedroerende formulier van daardie kerkgenootskap dat sy bene op die laaste rusplek besorg is. Selde het Heidelberg 'n meer ontroerende plegtigheid deurleef. Al die troepe en die hele Engelse en Skotse burgerlike bevolking was in groot getalle by die kerkhof geskaar om die laaste eer aan die oorledene te bewys. Die bene van Adoons was eerbiediglik op 'n kanon vas en die doodkis in die Engelse vlag gehul. Almal was diep onder die indruk van die gruwelike wyse waarop sersant McGregor aan sy einde gekom het. Om en voor die doodswa was 'n lyfwag van Skotse Hooglanders met omgekeerde geweers; voor hulle was ses doedelsakspelers en heel voor, in gewyde gewaad, die Roomse priester. Die doedelsakspelers gee 'n droewige graflied ten beste. Dit is 'n bekende feit dat sterk, gespierde manne dikwels trane stort by die aanhoor van dansmusiek op 'n doedelsak; om egter die diepste dieptes van menslike ellende en smart te ondervind, moet mens 'n doedelsaktreurlied hoor. In die groot skare was geen enkele oog droog nie. Gesê word dat die gehuil van die vroue die getjank van die musiek bywyle oortref het. En so is Adoons met wywater onder reukwerk en die uiterste militêre eerbewyse na sy laaste rusplaas gedra in die stille kerkhof van Heidelberg. So iets het sekerlik nog nooit tevore een van ons ou landgenote van die kranse te beurt geval nie. | |
[pagina 768]
| |
Tant Sannie Kloppers, van wie vroeër melding gemaak is, het die geskiedenis aandagtig aangehoor. Hier het sy reeds drie ontslape eggenote te ruste gelê en sy het waarskynlik die metafisiese sy van die saak dikwels en diep oorpeins. Ná 'n lang stilte sê sy met 'n sekere mate van vertwyfeling: ‘Ek het altyd gesê dit gaan 'n deurmekaarspul afgee!’ En toe vra sy ernstig aan die dominee: ‘En wat gaan nou gebeur as die bobbejaan op die laaste dag op die basuingeskal tussen die Engelse troepe verskyn?’ Die dominee se antwoord was: ‘Wat hulle met die bobbejaan sal doen, weet ek nie; maar een ding weet ek seker - as hy in die geledere van die Engelse troepe verskyn in Skotse mondering met 'n doedelsak onder sy arm, sal selfs die Engel wat belas is met die beheer van sake nie 'n glimlag kan onderdruk nie.’ |
|