Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 757]
| |
7 Die Winde uit die Woestyn
| |
[pagina 758]
| |
Hoe sal ek ooit die skouspel beskrywe wat aan ons openbaar is toe ons die beskutting ooptrek en uitkyk? Ses dae reeds het ons op die grens van die woestyn deur oneindige sandduine gereis, sonder teken van groeiende blaar of lewende dier - en hier was ons skielik te midde van 'n dadelwoud so dig en skaduryk dat ek my 'n paar oomblikke kon verbeel ons is nog in die duisternis van die sandstorm. Maar die dwaling is spoedig beëindig toe ek voet op die grond sit. Ons was op 'n tapyt van die heerlikste groen gras waarop die sonstrale deur die ruie kruine van die dadelpalms 'n wonderlike skakering van groen en goud verf. Ons was op die wal van 'n stroom helder water en ons kamele was reeds besig om hul agtdaagse dors te les. Die laaste sandstof was net aan verdwyne en die sagte wind wat toe ons verskroeide aangesigte verkoel, was swaar met die geur van duisend rose. Indien Allah ooit besluit het om 'n dowwe weerspieëling op aarde te vestig van die heerlike tuine wat in die hiernamaals vir die siele van ware gelowiges bewaar word, dan was dié besluit in die oase van Saar verwesenlik. Die oase is tweehonderd myl lank en meer as honderd myl breed. Dit is in werklikheid 'n halfeiland vanuit die vrugbare suidelike gebied, wat hier die woestyn en sy roerende sandduine versper. Saar is ongetwyfeld die rykste en mees geseënde landstreek op aarde en die pronkjuweel van sy skatte bestaan uit die onfeilbare strome water wat die lengte van die vrugbare oase deurkruis om aan die noordelike grens in die sand van die woestyn te verdwyn. Terwyl ons die omgewing bewonder en onsself verlustig in die koelte van die dadelpalms en die sagte lugstrome van die oase, sien ons vér deur die dadelwoud 'n aansienlike kavalkade perderuiters in volle galop op ons afkom. Selfs op 'n afstand deur die bome kon ons die skittering van hulle met goud versierde swaarde, spiese en perdetuig gewaar; en die wolkwit bekleding van die ruiters het ons deur die donker skadu's soos 'n ligsuil toegeskyn. Vlak voor ons word die perde skielik in volle vaart gestuit, en die ruiters styg af om ons te begroet. Dit blyk spoedig dat dit die jong prins van Saar en sy vernaamste raadsmanne en lyfwag is - meer, dink ek, deur die nuuskierigheid van sy hoogheid as die voorgegewe doel, naamlik die prins se dringende begeerte om die Sjeik al Islam (van wie se koms hy lank reeds berig ontvang het) te begroet. Die begroeting is egter met die diepste eerbied gedaan. Sy hoogheid het agtereenvolgens die grond en sy voorhoof bestryk en daarná die hand van die bejaarde en eerbiedwaardige sjeik gekus. Die prins was die neef en opvolger van die beroemde Nasr ed DinGa naar eind5., vors van Saar, wat slegs een week vóór ons aankoms oorlede is - 'n gebeurtenis waarvan ons toe vir die eerste keer hoor. Die Sjeik al Islam het met sy gewone skitterende welsprekendheid sy leedwese te kenne gegee oor die heengaan van so 'n beroemde held in Islam, en tegelyk beleefd die uitnodiging en aangebode gasvryheid van die teenswoordige vors aangeneem. | |
[pagina 759]
| |
Twee pragtig betuigde perde is ons aangebied en nieteenstaande sy las van jare het my geëerde gebieder met die jong prins aan sy regterhand geen minderwaardige vertoning aan die hoof van die kavalkade gemaak nie. Gedurende ons rit na die stad het sy heiligheid die geleentheid waargeneem om my, onwaardige, met 'n interessante feit in kennis te stel, wat my weer bewys gelewer het van die verbasende uitgestrektheid van sy kennis en wysheid. ‘Let goed op die perd waarop jy ry,’ deel hy my mee. ‘Saar is vir baie dinge deur geheel Islam beroemd, maar vir niks meer as sy perderas nie. Hierdie is die derde koninklike Islamse perderas bekend as Beni es Shamaz (Kinders van die Son) en is suiwer afstammelinge van die strydros van die gelyklose Ali, oom van ons Heilige Profeet. Die volk van Saar roem daarop dat geen enkele van die edele ras nog ooit 'n ongelowige gedra het nie, en dit is ten strengste verbode om een van die perde aan 'n vreemdeling te verkoop.’ Hoe sal ek ooit ons rit deur die omgewing en die strate van die stad self beskryf? Die beroemde rose van Saar was destyds in volle bloei en ons weg het onafgebroke deur 'n wolk van rose aan weerskante gelei. Die geur van attar, wat van die menigte stokerye opgaan, was byna bedwelmend, want Saar is deur geheel Islam ook om sy attar beroemd, wat fyner en kosbaarder is dan selfs die attar van Istanboel. Ons was gedurig in die skadu van rykbelade vrugtebome van alle aard, en elke huis was omsingel van pragtige druiwepriële. Daar word vertel dat die voorskrifte van die heilige Koran wat betref gebruik van die verbode drank, in Saar dikwels ontduik word, en dat daar selfs vorste van Saar was wat in hierdie opsig 'n skandaal in Islam verwek het. 'n Huis in die nabyheid van die vorstelike paleis was vir die Sjeik al Islam gereedgemaak, en hier het ons ons intrek geneem met 'n groot bediening Negerslawe en eunugs, van wie die prins ons voorsien het. Ons tafel is daagliks meer as oorvloedig uit die vorstelike kombuis voorsien; en nag en dag was ons huis onder bewaking van reusagtige swaardvoerende Neger-eunugs uit die prins se harem. Die oorlede vors van Saar, Nasr ed Din, was 'n beroemde krygsman, want Saar lê halfpad tussen die twee groot karavaanweë na die noorde, en binne gemaklike slagbereik van beide. Eeue lank reeds tree die vors van Saar op as beskermer van die weë en van elke karavaan word 'n tolreg geëis en ingevorder. Dikwels moet die invordering onder skerpte van die swaard geskied, sodat elke manlike inwoner van Saar onder die verpligting staan om van sy jeug af in die bedryf van wapens geoefen en gehard te wees. G'n durfniet is ooit in die krygsgeledere van Saar geduld nie. Die groot doel waarmee die Sjeik al Islam op sy teenswoordige reis Saar aangedoen het, was om by die grafkelder van 'n beroemde maraboetGa naar eind6., bekend as die Mahdi es Soek (letterlik: ‘Wyser van die Weg’), die voorgeskrewe gebede te doen. Op sy versoek is hy deur die prins in hierdie plig ongestoord gelaat, | |
[pagina 760]
| |
sonder om deur 'n menigte uitnodigings na feeste, dansvertonings en musiekuitvoerings in die paleis gehinder te word. Nie dat sy heiligheid sig aan al dergelike vermaaklikhede geheel onttrek het nie, maar sy oogmerk was om plesier van hierdie aard min of meer uit te skakel tot ná volvoering van sy godsdienstige pligte. Die nagte het ons meestal op die dak van ons huis - deur 'n geprieelde wynstok aan drie kante ondeurdringbaar afgeskort - in gesprekke met besoekers van die Sjeik al Islam deurgebring. Diep op die koperplaat van my geheue is die heerlike nagte in Saar il Allah ingebeitel. Die pen van 'n HafizGa naar eind7. sou dit verg om die droomagtige skoonheid enigsins weer te gee. Bo ons strek 'n fluweeldonker hemel, opgeluister deur die heerlike sterre van die woestyn - sterre wat hier in die ewige eensaamheid 'n glorie aanvaar wat in alle ander wêrelddele verdoof word. Ons huis was op die rand van 'n beskermende dadelwoud, en anderkant die woud was die sandduine. Hier kon ons ten volle die oneindige - die verruklike - stilte van die woestyn gewaar. Die sag-roerende lug was 'n badende verkwikking wat verkoeling tot diep in die mensehart, helend en troostend, voelbaar maak. Dit was vir my asof Allah gedurig op die punt staan om ons onwaardiges 'n groot geheim te openbaar, wat vir ons onreine gehoor ontoeganklik was. En tot welke droombeelde is al dié skoonheid nie deur vorige vorste van Saar omskep nie? Luister, wêreldreisiger, wat slegs een van hulle gedoen het: om sy gebied nog sprokiesagtiger te maak, het hy 'n karavaan met groot moeite en veel onkoste uitgerus en na Ispahan versend, om drossels uit Persië en nagtegale van die Orontes na Saar terug te bring. En hier het nagteliks vanuit die roosmassas die treurige skoonheid van hul melodie ons siele vervoer. Die middae het die Sjeik al Islam aan sy godsdienstige pligte gewy. 'n Halfmyl van ons huis was die groot begraafplaas van Saar geleë, en langs die poort was die graf van die heilige maraboet. 'n Paar tree van die graf was die huis en tuin van die Bewaarder van die Heiligdom, 'n bejaarde sjerief,Ga naar eind8. een van die merkwaardigste persoonlikhede in Saar. Deur geheel Islam was hy vermaard tegelyk vir sy ouderdom en wysheid. Ten tyde van ons besoek had hy reeds sy honderd-en-vyftigste verjaardag gevier. Slegs twee belange had hy nog in die lewe: sy heerlike tuintjie, waar hy nog eiehandig sy waterlemoene en komkommers kweek; en ten tweede, sy dienste in verband met die bewaring van die heiligdom. Dit was sy gewoonte om saans sy gebedetapyt onder 'n reuse-vyeboom in sy vrugteboord uit te sprei en hier het hy gaste ontvang wat gretig was om van sy wysheid en geloofskennis gebruik te maak. Die Sjeik al Islam het spoedig in die gewoonte geraak om elke middag 'n eensame wandeling na die begraafplaas te doen, waar hy tyd had om onder die skaduryke palms en in teenwoordigheid van die dood, die diep geheime van ons heilige geloof te bepeins, voordat hy die voorgeskrewe gebede voor die grafkel- | |
[pagina 761]
| |
der resiteer. Daarná het hy die ou bewaarder onder sy vyeboom besoek en terwyl 'n jong slavin die twee bejaardes met geurige koffie bedien, was hulle spoedig diep in gesprek. Dit was hier - in die begraafplaas - dat die Sjeik al Islam drie middae agtereen 'n sonderlinge ontmoeting had, wat ek, op bevel van sy heiligheid, reeds in sy dagverhaal aangeteken het, en wat ek hier breedvoeriger op skrif stel: Een middag toe die sjeik naby die noordelike muur in die koelte op 'n bank ná sy wandeling rus, sien hy 'n pragtige rytuig voor die poort van die begraafplaas stilhou. Uit die rytuig styg 'n jong dame, van twee slavinne vergesel. Sy was in weduwee-rou geklee, en terwyl die slavinne haar terugkeer by die poort afwag, het sy alleen die begraafplaas haastig binnegetree. Só ingenome was sy met die doel van haar koms, dat sy klaarblyklik nooit die Sjeik al Islam in die donker skadu opgemerk het nie. Sy loop regstreeks na die laaste graf in die ry langs die muur, en daar kniel sy neer. Met medelye wag die sjeik om die uitvoering van die gewone gebede te aanskou, maar die jong dame se gedrag is so eienaardig, so sonderling, dat dit die sjeik met die diepste verwondering vervul. In plaas van in gebed neer te sak, bring die jong dame van onder haar roumantel 'n groot waaier te voorskyn. Dit was van die breë waaiers wat gewoonlik deur slavinne gebruik word om 'n gemaksoekende gebiedster te verkoel. Met die tuig in haar hande begin die jong dame oor die vars sooie van die graf waai. Om en om skuiwe sy op haar knieë om die graf van alle kante te behandel. Sonder om haarself 'n oomblik rus te gun, gaan sy met haar taak voort met soveel toewyding dat die Sjeik al Islam selfs op 'n afstand pêrels op haar voorhoof kon sien vergaar. Toe sy die rondte van die graf drie maal op dié wyse gedoen het, verlaat sy die begraafplaas haastig en ry in haar rytuig weg. Die voorval (hoe sonderling ook al) het die sjeik se gedagtes nie lank besig gehou nie. Voordat hy sy gebede moes doen, het hy die gebeurtenis al vergeet. Maar toe hy die volgende middag sien hoe dieselfde jong dame die graf weer besoek en deur dieselfde sonderlinge handeling gaan, was sy verwondering só diep, dat hy besluit om navraag te doen omtrent die onverklaarbare voorval. Maar weer het die saak sy geheue ontgaan. Die derde middag gebeur alles weer op presies dieselfde wyse, en terwyl die dame druk besig is om die graf te bewaai, kom die gedagte by die sjeik op dat hy hier miskien te doen het met 'n geval van diepste smart en dat dit beide sy heilige amp en sy jare betaam om sy raad en troos tot diens van sy lydende geloofsgenoot te stel. Dadelik bring hy sy besluit tot uitvoer. Hy nader stadig die graf, waar die jong dame so in haar selfopgelegde taak verdiep is dat sy hom nie gewaar voordat hy langs haar staan nie. Hy merk op dat sy baie jonk is en ook - tot sy verbasing - dat die weduweeskleed niks meer as 'n voorwendsel is nie. Beide hals en arms is met skitterende juwele versier, en selfs haar roukleed is van die fynste sy, in plaas van kameelwol, wat ons geloofsreëls voorskrywe. Volgens | |
[pagina 762]
| |
die Saar-gewoonte was slegs haar lippe met 'n dun deurskynende sluier bedek, sodat al haar gelaatstrekke duidelik sigbaar was. Die sjeik merk op dat sy verbasend skoon is, beide wat gelaat en liggaamsbou betref. Toe hy langs haar te staan kom, spreek die Sjeik al Islam haar beleefd en met 'n toon van vaderlike medelye toe. ‘Dogter, u gedrag is klaarblyklik die gevolg van diep smart en rou, ofskoon ek die doel nie kan begryp nie. Ek is die Sjeik al Islam; indien u my die oorsaak van u sonderlinge handelwyse wil vertel, sal dit vir my met behulp van Allah, die barmhartige, miskien moontlik wees om u die nodige raad te gee om u lyding te verlig.’ Tot sy verbasing antwoord die jong vrou hom nie. Oor haar skouer werp sy hom 'n blik van uiterste woede en verontwaardiging voordat sy opspring, haar waaier onder haar mantel versteek en snel na die poort en haar wagtende slavinne terugstap. Halfweg kyk sy weer een maal om, en nog kan die Sjeik al Islam die vonkellig in haar oë sien. Toe sy heiligheid daardie aand sy gewone besoek by die ou bewaarder aflê, openbaar hy dadelik die saak aan hom in die hoop dat hy miskien lig in die duisternis kan werp. ‘Ja, hoogeerwaarde, daar is min wat in my Stad van die Spraakloses voorval waarvan die onsigbare wendinge my nie vroeër of later bekend raak nie. Weet dan, dat die jonge dame wat u bewonder het, die jong weduwee van Nasr ed Din, Malik es SaarGa naar eind9. is, wat 'n paar dae voor u koms oorlede is, en dit is die uitleg van die geheimsinnige gedrag wat u gesien het. Die prins was 'n man van in die sestig toe hy sterf. Soos u weet, was hy 'n beroemde krygsman, in sy jong dae deur gans Islam vermaard. Gedurende sy regering in Saar het hy onskatbare rykdom opgegaar, behalwe wat hy van sy vader geërf het. Twee maal was hy gelukkig getroud, en in alles het die seën van Allah op hom gerus - behalwe in een opsig: hy had geen erfgenaam nie. Toe sy laaste gade te sterwe kom, was hy reeds 'n bejaarde en sieklike man, en dit het hom toegeskyn asof hy reeds die einde van sy lewe op aarde bereik het. 'n Donkere mismoedigheid het hom oorskadu en in niks kon hy langer belang stel nie. Die aktiewe deel van die regering had hy reeds aan sy neef en erfgenaam toevertrou, toe daar iets gebeur wat weer 'n tyd lank 'n ligstraal in sy donker lewe werp. Een middag toe hy alleen (soos sy gewoonte was) te perd deur die agterbuurtes van die stad ry, om hy binne gesig van die groot wasplaas in die dadelwoud. Die wasvroue het hom dadelik herken en langs die weg gaan staan, om hom die gewone begroetings toe te roep. Skielik val sy oog op 'n jong meisie tussen die gedrang. Sy was skaars sewentien jaar oud, en, volgens gewoonte van haar rang, was sy geheel ongesluierd en vir die doel van haar werk, was sy so ver ongekleed, dat die prag van haar jong liggaamsdele ook sigbaar was. Daar was geen teken van skaamtegevoel by haar nie. Die prins het haar | |
[pagina 763]
| |
met die grootste belangstelling aanskou. Nooit gedurende sy gehele lewe het hy iets so verbasend skoon teengekom nie. Slank as 'n alifGa naar eind10. was Noer ed DinGa naar eind11., en statig as die gepluimde riet langs die waspoel. Binne 'n maand was die prins met haar gehu, trots die teenstand van al sy raadgewers en familielede. Indien die prins die hoop gekoester het om met sy derde huwelik weer die geluk en tevredenheid van sy jong dae terug te kry, was hy diep teleurgestel. Sy liefde vir sy jong gade het die enige belang van sy lewe geword; maar sy sieklikheid en toenemende swakheid was 'n doring in die vlees. Byna daagliks het sy hoogheid my geraadpleeg oor die ellende van sy toestand. Ek was waaksaam om onder die dalende son van my lewe my lippe deur g'n onnodige leuen te besoedel nie. Uit my woorde het sy hoogheid ongelukkig g'n troos geskep nie! Ek het hom vertel dat alles sou gebeur wat moet gebeur, en dat ons die handskrif van Allah op ons voorhoof nooit kan ontduik nie. Deur gebede en aanname van 'n strenger lewensreël kon hy sy verlore kragte nie weer terugkry nie. Gedane dade kan hy nooit ongedaan maak nie. Met die water wat verby is, kan die meule nooit weer maal nie. En van nog minder baat was al sy skatte. Ek kon hom verseker dat die kreupele minder deur 'n goue stok voortgehelp word dan deur 'n bamboeskierie. En wie van ons sou nie 'n geldverkwister wees indien daar êrens onder die uitspansel 'n mark bestaan waar gesondheid vir geld gekoop kan word nie.’ ‘God is groot en diep is die wysheid van u woorde, o sjerief!’, val die Sjeik al Islam hom met 'n sug in die rede. Sy heiligheid ly baie aan jig, wat hy toeskrywe aan die wildheid van sy ongetemde jeug. Die sjerief gaan voort: ‘In my swakheid het ek hom die middel getoon - die enigste middel wat by nadering van die dood die mens van baat is: die voorskrifte van ons heilige boek. Die gedrag van sy jong gade was egter in alle opsigte onbesproke. Dag en nag het sy hom vergesel, en deur haar medelye sy smarte versag en hom dié liefde en bystand getoon wat ons eerder van veel hoër ouderdom en veel dieper ondervinding sou verwag. 'n Dienskneg wat naamloos sal bly, het onopsetlik 'n eienaardige gesprek tussen die twee gehoor terwyl hulle in die prins se roostuin sit. Een van ons wysgere beweer dat die liefde van 'n ou man vir 'n jong vrou 'n dwaasheid is wat gelyk is met die wysheid van die aap wat trag om sy eie afbeelding agter die spieël te gryp; so 'n onwyse trag dikwels op die uiteinde verby die spieël van die dood terug te gryp! Die gesprek tussen die prins en Noer ed Din het die volgende wending geneem. Nadat sy hoogheid haar lank ingedagte aangekyk het, ontglip 'n vraag uit sy gedagteloop hom: ‘O vorstin van rose, u is wonderlik skoon! Ek wonder ... ek wonder hoe lank ná my dood, u weer in die liefde verstrik sal raak?’ | |
[pagina 764]
| |
Diep gestoord antwoord sy met 'n wedervraag: ‘Welke bose gedagtes, deur Iblis ingeblaas, ontroer die hart van my heer? Luister, o Malik es Saar, mag elke voetval van my op die grond vervloek wees, indien ooit, so lank as ek lewe ...’ ‘Wag, wag geliefde,’ dwing die prins haar tot swye, ‘maak g'n onherroepbare gelofte nie. Die lewe is soms lank, en dikwels nog verveliger. Jy is baie jonk en daar is 'n lang weg voor jou. Ek wil g'n onredelike eis stel nie. Laat ons dan sê: voordat u so oud is dat ondervinding die begaan van 'n fout onwaarskynlik maak ... ‘Luister, my heer, laat my die belofte in woorde stel ...’ ‘Swyg, geliefde!’ gebied die prins, ‘ek sien dat my eis onredelik was. Wanneer u twee maal die rose sien bloei en twee maal die nagtegale gehoor het ...’ Ergerlik val sy hom in die rede: ‘Waarom wil u my nie die belofte laat maak nie?’ ‘Wag,’ herhaal die prins, ‘ek is nog buitensporig. ek het taamlik ondervinding van die vroulike hart. U is jonk en die skoonste van die skone, o Noer ed Din, en die liefde is dikwels 'n gapende put voor die voete van die onbehoedsame. Luister, ek sal die belofte stel, en dan g'n woord meer nie. Indien jy dit belowe, sal ek tevrede sterwe. Jy het waarskynlik opgemerk dat die grafte van my huis naby die noordelike muur geleë is, en daar is die grond taamlik klam. Dit het my dikwels opgeval dat dit soms 'n week duur voordat die sooie op 'n nuwe graf droog genoeg is om die bouwerk te kan uitvoer. Belowe my dan, o Noer ed Din, dat jy nooit oor 'n nuwe liefde sal dink of die attensies van 'n jong man sal duld solank die sooie op my graf nog klam bly nie. Besweer dit by die baard van die profeet. Dit sal my bevredig en ek sal g'n verdere eise stel nie.’ Skouerophalend het Noer ed Din uiteindelik die eed afgelê - soos iemand wat 'n kind tevrede wil stel. ‘En daarin’ (so sluit die gryse bewaarder van die grafte sy lang betoog) ‘daarin alleen lê die geheim van die jongvroulike gedrag wat u hoogeerwaarde so lank bewonder het.’ Lank het die Sjeik al Islam woordeloos gesit, in sy eie gedagtes versonke. Uiteindelik, toe die eerste sterre bo die palms uitflikker, en toe die eerste teer note van 'n Orontiese nagtegaal sy ore vanuit 'n stralekrans van rose bereik, het die Sjeik al Islam die grond eerbiedig met sy vingerpunte aangeraak en sy voorhoof bestryk, en met 'n sug van ootmoed aan sy vriend die bewaarder verklaar: ‘Meer ondeurgrondelik, meer wisselvallig dan die winde uit die woestyn, is die dryfvere en togte van die vroulike hart. Allah is groot, en Hy alleen is onveranderlik.’ |
|