| |
| |
| |
6 Die Wit Uil
Die ou heer Jan Hendrik van Vuuren, eienaar van Diepkloof, was op die wal van die Donker Stroom, en as daar ooit 'n mensesiel was wat die eensame kruising met huiwering betrag het, dan was dit Jan Hendrik van Vuuren. Nooit het ein Wanderer auf dem letzten Wege so geworstel om sy heengaan te vertraag nie.
Dit was lig te begryp dat sy laaste lyding groot belangstelling onder die inwoners van die distrik Swartrand sou veroorsaak, want binne die grense van ons uitgestrekte wyk was daar seker nooit 'n meer sonderlinge karakter as Jan Hendrik van Vuuren, eienaar van Diepkloof, nie.
Van sy eerste aankoms in Swartrand het slegs die oudste inwoners kennis gedra, want dit was byna vyftig jaar tevore dat hy in Swartrand aangekom en die plaas Diepkloof gekoop het.
Die plaas wat Jan Hendrik van Vuuren as sy laaste tuiste gekies het, het die persoonlikheid van hierdie eienaardige man belig. Hy het Diepkloof destyds natuurlik vir 'n appel en 'n ei gekoop. Dit was 'n bergplaas van sesduisend morg, wat volgens bergmeting 'n prinsdom in uitgestrektheid was. Diepkloof was die stroomweg van die rivier Blinkwater. Die kloof self was 'n reuse-sny wat gelyk het asof dit die magtige bergreeks middeldeur splits. Maar die breë vallei, wat van ouds die naam Diepkloof gedra het, het na 'n paar myl links gedraai en dan weer regs en was uiteindelik geheel deur 'n kransmuur afgesny, en onder die laaste kranse was die bron van die pragtige stroom, Blinkwater, wat die groot vallei van end tot end besproei het om uiteindelik op die gelykte uit te stroom en nog honderde plase van water te voorsien.
Jan Hendrik van Vuuren het sy aanleg byna op die hoogste uiteinde van die vallei gemaak. Hier het hy 'n klein grasdakhuisie gebou, wat hy sy hele lewe onveranderd bewoon het. Sy een grenslyn was onder op die vlakte waar Blinkwater die berge uitstroom. Hier het hy in later jare sy eiendom met agt doringdrade afgesper, en hier was 'n hek wat die enigste toegang tot Diepkloof verskaf het; want daar was slegs een pad oor sy grond - dié na sy woning. Deur die omringende kranse was daar geen pad nie, sodat Jan Hendrik van Vuuren geheel en al van die wêreld afgesny was. Niemand kon sy pad gebruik behalwe mense wat kom om hom persoonlik te besoek nie; en dié kon in later jare op die vingers van die een hand getel word.
Hy het sonder 'n vrou in Swartrand aangekom en was nooit getroud nie. Dit op sigself het hom as iemand uitsonderlik gekenmerk; maar daar was nog ander persoonlike eienaardighede wat hom van die begin af gemerkteken het as iets geheel buitengewoon onder ons volk en binne ons wyk. Daar was seker nooit 'n kluisenaar in die Egiptiese Thebaid wat 'n meer eensame en afgetrokke lewe gelei het as Jan Hendrik van Vuuren nie. Met sy bure het hy so te sê geen
| |
| |
omgang gehad nie en op die dorp het hy alleen verskyn wanneer dit onvermydelik was.
Daar het in die begin van sy intrek in Diepkloof allerhande gerugte in omloop geraak omtrent sy lewenswyse. Daar is gesê dat hy 'n vrek was wat al sy geld in 'n spelonk in die berge begrawe; dat hy verskeie vroue in Diepkloof aanhou; dat hy 'n diamantmyn of 'n goudrif ontdek het en dit geheim hou - en al dergelike stories. Maar mettertyd het al die praatjies vanself verdamp. Sonder sy toedoen het die teenoorgestelde bewyse onteenspreeklik bekend geraak. Sy plaas was een van die vrugbaarste in die wyk Swartrand, en sonder die las van vrou en kinders was dit 'n natuurlike gevolg dat hy binne enkele jare een van ons mees bemiddelde boere was. En toe blyk dit dat hy tegelyk een van ons vrygewigste inwoners was wat liefdadigheids- en kerksake betref, nieteenstaande die feit dat hy altyd moeite gedoen het om sy gifte onder die dekmantel van naamloosheid te laat geskied.
Ek dink dat sy persoonlike voorkoms bygedra het om die atmosfeer van geheimsinnigheid wat hom omsluier het, te verdiep. Hy was 'n lang, skraal man, effentjies vooroor gebuig, met 'n lang wit baard, 'n paar vonkelende oë onder ruie wenkbroue, 'n smal gesig met 'n arendsneus wat hom in Europa as van adellike herkoms sou gekenmerk het.
Hy was 'n getroue kerkganger maar sy kerklike eweas sy maatskaplike lewe was deur die sonderlingste eienaardighede gekenmerk. Hy het nooit Nagmaal gebruik nie. Die rede van sy onthouding het hy stelselmatig geweier om aan dominee of ouderling te openbaar, maar daar het 'n gevoel in die gemeente ontstaan dat die oorsaak verborge was in die een of ander geheim wat waarskynlik die sleutel sou verskaf tot al die sonderlikhede van sy gedrag en lewenswyse.
'n Ander eienaardigheid van sy godsdienstige lewe was die moeite wat hy hom getroos het om bidure by te woon. Hoe uiters terughoudend hy in alle ander opsigte was, hy was altyd gereed, selfs gretig, om in die openbaar te bid. En dit het mettertyd gewoonte geword by alle geleenthede, begrafnisse, inwydings- en siektegevalle om ‘broeder Van Vuuren te versoek om 'n gebed te doen’. In verband met sy openbare gebede het die merkwaardigste wendings van sy godsdienstige sielkunde te voorskyn gekom. Die hele buurt het dit geken en het die saak dikwels bespreek in verband met al die geheimsinnigheid wat die lewe van Hendrik van Vuuren omsluier. Die merkwaardigheid het hierin bestaan: die inleiding en eerste deel van sy gebed was altyd van dieselfde inhoud en in dieselfde bewoording wat negentig uit die honderd van ons lekegebede kenskets. Daar was al die gewone plathede in dieselfde toonlose eentonigheid: die verwysings na kerk en staat; weduwees en wese; siekes, noodlydendes, en alle bedroefdes, en so voort, en so voort, en dan wanneer 'n onwetende toehoorder sou verwag dat hy die einde van sy gebed nader - dan skielik en onverwags kom daar 'n wending in die gevoellose, kleurlose woordestroom.
| |
| |
Daar kom 'n verbasende verandering in die man. Sy stem verander, sy houding, selfs sy gelaatstrekke verander (vir dié toehoorders wat 'n betragting onder die gebed riskeer!). ‘Vergeef ons onse sonde ... vergeef ons onse sonde ...’ so was altyd die merkteken van die keerpunt. Waar alles tevore eentonig en kleurloos was, kom daar 'n trilling van werklike aandoening; waar alles uit gewoonhede bestaan het, onnadenkend en sonder gevoel geuit, raak hy nou die dieptes van ware sielswroeging. Daar was nuanses van kleur en toon en klank gepaard met 'n onverwagte en verbasende woordeskat, wat sy gehoor tot die hoogste emosie kon vervoer. Hier was waarheid; hier was die naakte werklikheid spontaan voortvloeiende uit 'n swaarbelaste siel. Hier was 'n boetvaardige voor die Troon van Genade wat vir andere genade smeek, maar gegrond op sy eie donkere ondervinding ... vergifnis van sonde, van verbeelde sondes; genade en troos vir die ongelukkiges wat deur die wêreld belas gaan met ongebiegte sonde; met sonde wat op aarde geen vergelding kan vind nie, omdat die pleger gedoem is om dit in geheim en alleen te dra; sonde wat aan God alleen bekend is. Wat alles ken. Hy alleen weet ook die lyding wat dié ongelukkiges ondergaan. En soms het hy in verskriklike bewoording die Groot Dag afgeteken; die dag wanneer die verborge misdade sou openbaar word en die pleger nakend en verskrik voor die Regterstoel van God sou staan.
Maar so diep en altoereikend was die Genade dat selfs verborge en onvergelde sonde vergifnis sou erlang. Daar was deernis by God vir die smarte van selfs sulke verharde misdadigers wat bevlek en belas nog hier op aarde soek om die waardering van hul ewemense te behou; wat deur menslike wraakneming afgeskrik word.
Wanneer sy ‘Amen’ fluisterend die stroom van hartstog eindig, het dit nie onselde nie met geween en snikke gepaard gegaan. Jan Hendrik van Vuuren kon bid, daar was nie aan te twyfel nie.
'n Jong Vrystater, ene Coenrad Groenewald, het die plaas langsaan Diepkloof op die vlakte gekoop en was daar vir die laaste vyf of ses jaar woonagtig. Hy was dus die naaste buurman van die ou eienaar van Diepkloof, en het waarskynlik meer van sy huislike lewe geweet as enige ander inwoner van die wyk Swartrand - al sê dit maar min.
Dit was Coen wat eendag met sy kar en perde by my aangekom het met die mare dat ou Jan Hendrik op sterwe lê en dat 'n dokter dringend nodig is. Ek het dadelik langs hom in sy kar plaas geneem en op weg na Diepkloof het hy my die omstandighede vertel.
Deur blote toeval het hy die vorige dag van een van Diepkloof se plaaswerkers verneem dat die oubaas op die uiterste was. Hy het 'n boodskapper dorp toe gestuur om die dominee, die prokureur en 'n ou inwoner, Willem Terblanche, dadelik na Diepkloof te ontbied, en dit was van hierdie boodskapper dat Coen Groenewald verneem het hoe ernstig die toestand van die ou heer
| |
| |
was. Hy had self geen dokter verlang nie en dit was Coen wat my op eie houtjie kom haal het om hom na Diepkloof te vergesel. Ek was gewoond aan ongevraagde mediese besoeke van hierdie aard, en daar ek die enigste geneesheer in die wyk was en meestal sonder beloning my dienste verskaf het, het daar by my geen etiese huiwering ontstaan toe Coen my die toestand duidelik maak nie.
Dit was my eerste besoek aan Diepkloof. Die pad na die woonhuis het die kronkelende loop van die pragtige bergstroom, Blinkwater, so trou gevolg dat ons die rivier minstens ses maal moes kruis. Coen Groenewald het my aandag bepaal by Diepkloof se landerye, wat reeds by die uitloop van die rivier begin en aan weerskante aanhou tot by die woonstede. Die landerye word aan weerskante van die stroom benat deur vore wat direk uit die rivier, sonder damme, gelei word. Ek herinner my dat die ryk, donker aarde en die glinsterende strome 'n diep indruk op my gemaak het, en ek kon lig begryp wat 'n bron van rykdom so 'n klein koninkrykie moes wees waar die heerser so afgetrokke lewe, onbelas met vrou of kinders. Die groot vallei het 'n weinig - maar nie veel nie - ingekrimp na die bo-ent. Daar was twee reghoeke totdat die kloof, uiteindelik deur 'n kring van magtige kranse versper, tot in die hart van die groot bergreeks sny. Onder die hoogste kranse, op die kruin van 'n hoë grondrand, waaronder Blinkwater sy oorsprong vind, was die klein grasdakwoonhuis van Jan Hendrik van Vuuren, omsingel deur groot vee- en skaapkrale, woon- en pakhuise, tabakhuis, smidswinkel, gereedskapstoor, en ander klipgeboue wat by 'n groot boerdery pas. Die woonhuis was waarskynlik die kleinste en minderwaardigste in die uitgestrekte opstal.
Toe ons voor die huis stilhou, was daar verskeie ander karre reeds uitgespan - natuurlik van bure wat kom hulp aanbied het volgens die gewoonte van ons volk.
'n Ou tante, nog met haar kappie op, had reeds die bestuur van die huisgesin waargeneem en was by die deur om ons te ontvang in die hoedanigheid van huisvrou.
Sy vra ons om binne te kom met die woorde: ‘Hy is op die laaste, dokter. Hy pluk gedurig aan die dekens.’
‘Snaakse ou bygeloof,’ fluister Coen aan my, terwyl ons die ou dame na die slaapvertrekkie volg. Ek het niks gesê nie, maar ek herinner my dat die gedagte my te binne geskiet het hoe dikwels die praktiese waarnemings van ons ou mense, meestal deur 'n bittere ondervinding opgedaan, as ‘bygeloof’ deur die nuwe geslag bespot word. Min het Coen geweet dat die pluk aan die deken deur die wetenskap erken word as 'n verskriklike voorteken van die naderende dood, en dat dit in die moderne geneeskunde onder 'n Latynse sin bekend staan.
In die slaapkamer was daar reeds 'n groepie bure vergaar, van wie sommige moes uittree om vir ons plek te maak. Ek het die jong dominee Le Roux her- | |
| |
ken, asook prokureur Van Wyk en Gert Terblanche - 'n timmerman en wamaker van ons dorp. Die dominee was op 'n stoel langs die bed vooroor gebuig, klaarblyklik in 'n poging om die sterwende man se bewussyn te bereik.
Dit was die eerste maal dat ek die ou heer Jan Hendrik van Vuuren van naby sien. Hy was skynbaar in 'n toestand van ligte koma. Onder die dun deken was die lyne van sy ses voet lange, maer liggaam duidelik sigbaar. Sy oë was geslote, die lede deur ruie grys wenkbroue beskadu, en buite die deken was sy lang patriargale wit baard uitgesprei. Die enigste teken van lewe was 'n skaars merkbare aanhoudende beweging van die vingers, wat nog met die dekenkant besig was.
'n Ondersoek het dadelik die bewys gelewer dat die ou heer in werklikheid slegs nog 'n paar ure te lewe had. Die ademhaling was vlak, die polsslag ongereeld en skaars waarneembaar, en deur die geslote hartkleppe was daar 'n gedurige fluistering van die lekkende bloedstroom.
Ek fluister aan die dominee die uitslag van my ondersoek en voeg by dat ek hom 'n inspuiting sou gee, waarna hy waarskynlik weer 'n tydjie sy bewussyn sou herwin.
Dit het ook spoedig gebeur. 'n Paar minute na toediening van die medisyne het sy oë stadig oopgegaan, om ons, die een na die ander, aan te staar en uiteindelik, na herkenning, te groet. Aan ds. Le Roux het hy sy swakke hand toegereik en by naam gegroet.
Die dominee wou klaarblyklik geen tyd verloor nie. Hy buig oor die sterwende man met die woorde: ‘Broeder, ek wil probeer om u te wys na die Een wat alleen in staat is om hulp te verskaf, en vrede te skenk ...’
Die sterwende het die dominee lank met sy floue oë aangestaar; toe vra hy: ‘Had Timri vrede die zijn meester sloeg?’
Ek herinner my dat die onverwagte vraag ons almal met die verskrikking van 'n skielike ontploffing bereik het. Die dominee was so verbysterd dat hy die sterwende man woordeloos aankyk.
Ek onthou ook dat ds. Le Roux my later daarop attent gemaak het hoe diep die Bybelkennis van Van Vuuren moet gewees het, want hy het die verbeterde vertaling van die teks gebesig wat slegs as kanttekening in sommige Hollandse Bybels voorkom.
Toe hoor ons weer die floue stem: ‘Kan daar vrede wees vir een wat binne 'n paar oogwenke met bloedbevlekte hande en besoedelde siel voor die regterstoel van God moet verskyn?’
‘Laat ons die kamer 'n paar minute verlaat; ek wil eers die dokter raadpleeg,’ beveel ds. Le Roux ons.
Op die stoel trek hy my opsy, en klaarblyklik diep bewoë, stel hy my 'n vraag in die volgende woorde:
‘Dokter, dit word so dikwels onder ons mense vertel en word deur vele selfs
| |
| |
geglo, dat dit kan gebeur dat 'n mens, met die een of ander sware en onerkende misdaad belas, eers moet sterwe nadat hy sy sonde aan sy medemense erken en daardeur soveel skadeloosstelling teweeggebring het as wat 'n erkenning van hierdie aard kan bewerkstellig. Soos u weet verfoei ons kerk die valse leer van die bieg en priesterlike vergifnis. Maar tog, as 'n bekentenis aan u ewemens verligting en verlossing kan meebring ...
‘Dominee,’ antwoord ek, ‘u gesonde verstand sal u self die versekering gee dat die swartste misdaad nie in staat sou wees om één minuut die dood van 'n sondaar te vertraag waar byvoorbeeld sy slagaar deurgesny is nie. Ek glo nie dat enige onerkende sonde die dood kan keer of vertraag nie. Maar gewone mensekennis gee my die versekering dat al die wroeging in hierdie geval veroorsaak word deur 'n onerkende geheim. Ek dink stellig dat erkenning aan 'n medemens waarskynlik 'n meer vreedsame gemoedstoestand sou veroorsaak. As ek in u plek was, sou ek nie aarsel om die sterwende tot erkenning aan te moedig nie.’
Ek dink dat ds. Le Roux nog baie huiwerig was, maar ná 'n weinig nadenke sê hy: ‘Goed, dan sal ek hom - met u toestemming, dokter? - eers alleen sien.’
Ek knik toestemmend en die dominee gaan by die slaapkamer in.
Meer as 'n uur het ons buite gewag, die hele werf bekyk, die wonderlike bron besoek; weer teruggekom en uiteindelik woordeloos in die eetkamer die vervelende wag gehou. Uit die slaapkamer kon ons af en toe die fluisterende stem van die afsterwende hoor; dan weer die heldere klanke van die dominee se woorde, in aanmoediging en gebed.
En toe kom hy weer uit tot ons. Tot my verbasing neem hy Gert Terblanche opsy en fluister in sy oor. Ons was almal nuuskierig, en onbewus het ons stadig om Terblanche vergaar ... en skielik met 'n ruk van verskrikking gaan daar 'n fluistering deur die groepie: ‘Moord!’
Die skok wat die fluistering van die woord moord! in verband met die sterwende onder ons groepie veroorsaak het, was lig begryplik. Hoe teruggetrokke en geheimsinnig sy lewe ook al was, was hy nietemin een van die mees gesiene inwoners van Swartrand. Hy het self al die vroeë lasterlike gissinge en gerugte deur die suiwerheid van sy lewe vernietig, en, ofskoon hy nooit juis bemind was nie, was hy altyd geëer en hoog geag. Teen sy eer en karakter was daar, in ons tyd ten minste, nooit die flouste fluistering nie.
‘Hy wil met jou praat, mnr. Terblanche. Daarom het hy jou laat roep van die dorp. Jy weet nou wie hy in werklikheid is. En,’ voeg die dominee hierop tot ons almal by, ‘hy wil hê julle moet almal teenwoordig wees.’
Wat die dominee alles aan Terblanche gefluister het, wis ons nie presies nie, maar ons kon sien - wat dit ook al was - dat dit by hom die grootste verwondering en verbystering veroorsaak het.
Willem Gert Terblanche - algemeen op sy tweede naam genoem - was 'n nu- | |
| |
we inkomeling in die dorp. Hy het sy intrek daar twee of drie jaar voor hierdie gebeurtenisse geneem en het mettertyd 'n voorspoedige timmermans- en wamakersbesigheid opgebou. Hy was 'n man van sowat vyf-en-swentig jaar met 'n gesin van vyf opgegroeide kinders, wat ook almal op die dorp woonagtig was.
Van sy vorige lewe het ons maar min geweet. Al wat ons wis, was dat hy uit so 'n verre streek gekom het dat ons in die gewone gang van sake nooit daarmee in aanraking sou kom nie.
Ons het die dominee en Terblanche weer na die slaapkamer gevolg. Die sterwende man was weer by sy volle bewussyn. Soos dikwels in sulke gevalle voorkom, het dit geskyn asof die lewensvuur weer, voor die laaste blussing, 'n kort tydjie uit die as en kole opvlam.
Met bewende lippe en woordelose uitroepe gaan sit Terblanche langs die bed. Die ou man het hom lank en stip aangestaar, toe reik hy hom sy swakke hand met die vraag: ‘Ken jy my nog, Gert?’
‘Ja ... ja ek ken jou, ek ken jou!’ roep Terblanche met die diepste ontroering uit. ‘Jy is Willem Terblanche van Rooi Ruggens - my neef Willem, en dit is vyftig jaar dat ons mekaar laas gesien het. Dit is vyftig jaar dat ons van jou as 'n dode dink en praat.’
‘Ja,’ sug die ou man, ‘vyftig jaar is ek 'n dolende en swerwende op die aarde gewees. Die Here het op my 'n teken gestel “opdat my niet versloeg al wie mij vond.” My misdaad is groter dan “dat zij vergeven worde.” Vyftig jaar lank is ek onder 'n valse naam bekend - 'n lewende “leugen voor God” en my ewemens.’
‘Maar, Willem: my neef ... my broer!’ roep Terblanche uit, ‘wat was dit dan? Ek verstaan nog niks! Waarom het jy huis en familie verlaat?’
Jan Hendrik van Vuuren staar hom weer vraend en fronsend aan. ‘Aan jou ten minste, Gert, is my lewe geen geheim nie. Luister, my tyd is kort ... laat ek julle almal vertel. Dit sal my belaste hart miskien verligting gee, en mag God in sy genade my dit as gedeeltelike vergelding toereken! My regte naam is Willem Terblanche, 'n eie neef van Gert hier. Ons het as broers saam opgegroei in Rooi Ruggens, tot my twee-en-twintigste jaar. Toe raak ek verlief op 'n meisie, die dogter van ons buurman. Bessie ... klein Bessie Viljoen.’
Daar is 'n diep sug en 'n lang stilte, wat my 'n oomblik laat vrees dat die lewenskrag inmekaar gaan stort; maar weer gaan die hese stem voort: ‘Ons was verloof; ons het as kinders saam opgegroei. Ek was onder die indruk dat sy my waarlik liefhet. Ons had reeds ons troudag bepaal; toe kom daar 'n vreemdeling onder ons - 'n jong man met die naam Da Souza. Hy het 'n plaas in Rooi Ruggens gekoop, teenaan myne en dié van ou Petrus Viljoen, my geliefde se vader. Ons huise was binne 'n paar myl van mekaar, aan weerskante van die rivier. Van die begin het Da Souza by die Viljoens gekuier. Hy was veel beter op- | |
| |
gevoed dan ek ... was 'n dorpseun, en het dadelik 'n groot indruk op Bessie gemaak. Welke kans had ek, arme boerseun, teen die flinke jongman met sy mooi klere ... sy aangename geselskap ... sy grappies? Ek kon sien dat Bessie vir my verlore was. En dit het nie lank geduur voor sy my afgesê het nie. Ek weet nie of daar toe reeds 'n verstandhouding tussen haar en Da Souza was nie. Ek glo nie; maar sy het stellig verwag dat hy haar sou vra om te trou. Ek was vol van al die vurige togte van my jongelingskap. My verlore liefde het soos 'n kanker in die siel gewoeker. My lewe het vir my nutteloos geword, en satan was gedurig aan my elmboog om my die verdoemenis in te voer. 'n Swart, bitter haat het my oorrompel; niks anders as die dood van my teenstander kon my ooit weer rus gee nie. Ek het besluit om Da Souza te dood. Ek het hom een nag in die rivierbosse voorgestaan toe hy op weg was van sy huis om Bessie te besoek. En daar in die bos in die donker het ek hom plat geskiet ... soos ek dag. Van die oomblik dat die vreeslike moord gepleeg was, het my storm van woede bedaar en vrees en berou het my oorstelp. Maar agter in my gemoed was tog die gevoel van verlossing ... nou sou ek my geliefde weer kry. Maar binne 'n uur daarna het ek die vreeslike ontdekking gedoen, dat ek die verkeerde man vermoor het.’
Die stem van die ou man word stadig swakker totdat dit tot 'n skaars hoorbare fluistering wegsak. ‘Da Souza het 'n maat gehad wat af en toe by hom kom kuier het - Eduard Walker. Hulle was eenders aangetrek. Dit was Walker wat ek doodgeskiet het ... skrik ... vlug ...’
Daar was nog 'n paar woorde wat ons nie kon hoor nie, 'n geroggel en skielik ... stilte.
‘Wag! Wag! In Gods naam, wag! Dis verkeerd! Laat ek vertel! Laat ek vertel!’ roep Gert Terblanche soos 'n waansinnige uit terwyl hy die ou man se hand in altwee syne vasklem. Maar dit was te laat.
Jan Hendrik van Vuuren het reeds die Donker Stroom deurwaad.
Dit was lank daarna dat ons die ware tragedie van Jan Hendrik van Vuuren kon saamstel uit wat Gert Terblanche kon vertel en wat ons later uit Rooi Ruggens bereik het. As 'n spook uit die grou verlede het die ontsettende gebeurtenis weer te voorskyn gekom, terwyl die mense wat die vernaamste rolle daarin gespeel het, lank reeds ter siele was. Bessie - ‘klein Bessie’ was al vyf-en-twintig jaar dood, Da Souza was in Rooi Ruggens 'n vergete naam. Net ou Jan Hendrik van Vuuren, 'n grys gedaante uit die groue jare, het vyftig jaar voortgelewe om sy donker geheim op sy sterfbed te erken.
Dit word vertel dat Jan Hendrik van Vuuren (ons sal maar sy skuilnaam behou om verwarring te voorkom) altyd 'n teruggetrokke en stil seun was. Sy ouers is vroeg dood, en toe hy die grond langs die rivier erwe, het hy Bessie Viljoen, dogter van 'n ou buurman, gevra om met hom te trou. Sy was 'n petite tipe, fyn van liggaam en vrolik en opgeruimd van aard. Willem Terblanche - dit
| |
| |
is gesê, Jan Hendrik van Vuuren - was in alle opsigte haar teenoorgestelde: 'n lang, maer seun met 'n valkneus en stil en somber van karakter. Sy saak was verlore sodra Da Souza sy verskyning gemaak het. Hy was 'n aansienlike jongkêrel, vrolik van geaardheid en kon bowendien fyn die spot drywe met sy meer lompe mededinger. Of Bessie werklik aan hom verloof was, is onbekend, maar sy het ten minste stellig verwag dat hy haar sou vra. Hy het twee tot drie maal in die week saans by die Viljoens gekuier, en in die oë van Bessie se vader was hy seker nie 'n ongewenste minnaar nie. Hy het in elk geval die leefwyse van 'n ryk jongkêrel gevoer. Hy het 'n vriend in die dorp gehad, ene Eddie Walker, wat dikwels 'n naweek by Da Souza op die plaas kom deurbring het.
Dit het weinig verrassing in Rooi Ruggens veroorsaak toe dit bekend raak dat Bessie Jan Hendrik van Vuuren afgesê het. Dit was iets lank reeds te wagte.
In die gemoed van die sombere, teruggetrokke Jan Hendrik het sy verlore liefde 'n vreeslike verwoesting aangerig. Hy het teenoor niemand gekla nie; nooit oor Bessie gepraat nie; maar almal kon sien dat donkere gedagtes in sy siel woel.
Uiteindelik, toe sy lyding ondraaglik word, het hy besluit om sy toevlug tot moord te neem.
Da Souza het so naby die Viljoens gewoon dat hy gewoonlik saans te voet na Bessie se huis geloop het. Minstens een maal in die week het hy by die gesin Viljoen die aandete genuttig.
Jan Hendrik van Vuuren het van alles geweet. Hy het die voetpad deur die rivierbos geken waarlangs Da Souza loop; hy het die uur geweet waarop hy gewoonlik sy huis verlaat, en die tyd dat hy gewoonlik by die Viljoens aankom. En so het Jan Hendrik besluit om Da Souza in die bos voor te staan en dood te skiet terwyl hy op weg na die Viljoens was. Waarskynlik het alles hom by die eerste proefneming geluk. Dit was 'n besonder donker nag, maar Da Souza was in die gewoonte om in die somer spierwit aan te trek, sodat dit nie moeilik sou wees om die korrel op hom te kry nie, selfs in die donker van die rivierbos. Jan Hendrik het 'n wit doek om die korrel van sy agtponder gebind en die roer met 'n skoot lopers gelaai. En toe het hy Da Souza agter 'n boomstam langs die voetpad gaan voorstaan.
Dit het so gebeur dat 'n Boesman van die Viljoens dié nag in die nabyheid van die voetpad duikers voorgelê het by 'n peulboom. Hierdie Boesman het gesien hoe Jan Hendrik aankom; hoe hy die doek om sy korrel bind en hoe hy plaas neem agter 'n boomstam. Uiteindelik het hy die skoot gehoor. Hy dag dat Jan Hendrik 'n rietbok geskiet het.
So stip op die voetpad was die oë van die moordenaar gevestig dat hy die wit kleredrag van Da Souza gewaar het voordat hy onder skoot was. Hy het gewag totdat sy slagoffer oop voor hom in die voetpad verskyn, toe gee hy hom die volle lading lopers in die bors.
| |
| |
Wat hy eerste van node had, was om Bessie weer te sien. Dit sou hom ook beveilig as hy gou by die Viljoens uit 'n ander rigting aankom. Hy wis dat Eddie Walker by Da Souza tuis was, en dié sou waarskynlik later na die Viljoens kom om sy vriend te soek as hy nie opdaag nie. Van Vuuren het sy geweer langs die rivier weggesteek en met 'n ompad by die Viljoens se huis aangekom. Die voordeur was op slot en die gesin was aan tafel, sodat hy verskeie male moes klop voordat die huisbaas, Petrus Viljoen, met 'n kers in die hand die deur oopsluit en Van Vuuren binnenooi.
‘Jy is net betyds vir ete, neef, kom maar in na die eetkamer. Ons is net besig.’
Hy volg Viljoen na die eetkamer, maar toe hy oor die drumpel kom, stuit hy skielik. Sy oë rek, sy mond val oop en 'n reeks aaklige geluide kom uit sy keel.
Voor hom aan tafel - langs Bessie - sit Da Souza in spierwit geklee!
Sy gasheer gryp hom dadelik aan die arm. ‘Wat makeer? Wat makeer?’ roep almal tegelyk, verskrik deur sy onuitlegbare toestand.
Dit was Da Souza self wat hom 'n glas water toereik.
Maar Van Vuuren draai skielik om en storm met 'n uitbarsting van vloekwoorde by die huis uit.
Hy het skielik besef dat sy gruwelike misdaad tevergeefs was. Hy het die verkeerde man doodgeskiet! Sy slagoffer was Eddie Walker, wat ook altyd gedurende die somer in wit geklee was.
Dié nag het Jan Hendrik van Vuuren uit Rooi Ruggens verdwyn.
Die volgende dag toe hy vermis word - en ná die Viljoen-gesin hul onverklaarbare ervaring met hom vertel had, is 'n soektog op tou gesit.
Die Boesman het sy getuienis gegee en Jan Hendrik se spoor is agteruit gevolg. Eers kry hulle sy geweer met die wit doek nog om die korrel; toe kom hulle op die plek waar hy agter die boom gestaan het; en twintig tree daarvandaan in die voetpad lê 'n groot gehoringde spierwit uil dood, met 'n skoot lopers in die bors.
Dit was 'n albino, soos af en toe by alle diersoorte voorkom.
‘Dit is verskriklik om te dink,’ sê ds. Le Roux by een geleentheid, ‘dat die ongelukkige man vyftig jaar lank die las van 'n moord gedra het wat hy nooit gepleeg het nie en dat hy die ewigheid in is sonder om die waarheid te hoor.’
‘Ek dink jou teologiese sielkunde is foutief, dominee,’ sê prokureur Van Wyk. ‘Die mens straf wel die daad en nie die doel nie. Maar ek dink God sal die doel straf, al was die daad nooit ten uitvoer gebring nie. Dit, altans, sou die volmaakte regverdigheid wees. Maar daar bly natuurlik altyd nog die ewige genade. Welke gerig die vierskaar hiernamaals oor Jan Hendrik van Vuuren span, op aarde was hy vir sy bedoelde misdaad reeds taamlik swaar gestraf.’ |
|