| |
5 ‘Die Boom in die Middel van die Tuin’
Die Mephistopheles-Motief
Uit die ‘Voorspel in die Hemel’, uit Goethe se Faust
Hy dien U op uitsonderlike wyse!
Niks aards is ooit die dwaas se drank of spyse;
'n gisting dryf hom na die verre,
soms van sy dwaasheid is hy self bewus;
van die Hemel vorder hy die skoonste sterre,
van die Aarde elke hoogste lus,
maar nòg die nadere nòg die verre
skenk ooit die diep ontroerde siele rus.
Al dien hy my verwarrend nou
tot klaarheid voer Ek hom heel gou.
Wat wed U dat U hom verloor?
| |
| |
| |
Uit ‘Die Tragedie van Faust’, deel I
Ek is 'n deeltjie van die krag
Wat steeds die Bose soek, die goede slegs vermag.
Ek is die Gees wat steeds ontken.
| |
Uit Job. II:3-6. Die Tweede Bedryf in die Hemel
En die Here vra vir die Satan: het jy ag gegee op my kneg Job? want daar is niemand op die aarde soos hy nie: 'n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad; en hy volhard nog in sy vroomheid alhoewel jy My teen hom opgehits het om hom te vernietig sonder oorsaak. Toe antwoord die Satan die Here en sê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan - waarlik, hy sal U in u aangesig seën! En die Here sê vir die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe.
Ná 'n lewe van voortdurende harde arbeid was die eerwaarde heer Hermann Scalinger welbedaag en vol van die kwale van ouderdom. As jong man van vyf-en-twintig is hy in Duitsland getroud, pas ná sy toelating as sendeling in een van die groot Duitse sendinggenootskappe. Vol gloeiende hoop en besield met al die vuur en ywer van 'n ware apostel van Christus is hy en sy jong gade na Transvaal gestuur. Hy is in die groot lokasie Drogebult gestasioneer, waar hy met sy eie hande en weinig hulp van sy toekomstige gemeente, bo op 'n dorre sandbult 'n klein kerkie en 'n nog kleiner woonhuisie gebou het. En in hierdie dorre, hartbrekende gedeelte van die wingerd van die Here het hy vyftig jaar - 'n halwe eeu - gearbei sonder om ooit weer sy vaderland te besoek, sonder ooit 'n vakansie of rustyd van 'n enkele week. Die enigste verposing in sy onophoudelike arbeid was wanneer die koors hom en sy gade elke jaar 'n paar weke neervel. Met 'n gevoel van diepe skaamte moes hy dikwels in sy biegtende gebede aan die Here erken dat hy later in sy lewe die koms van die koors met 'n sug van verligting verwelkom het. Hy kon dan ten minste rus, bevry van al die kommer en sorge van sy eentonige lewe.
Hier het sy troue ou gade ook haar lewe in bittere arbeid en lyding geslyt. Vier kinders is aan hulle gebore - twee seuns en twee dogters. Deur toepassing van 'n spaarsaamheid wat dikwels tot die grens van hongersnood gevoer het, het hulle daarin geslaag om die twee seuns na Duitsland te stuur, waar altwee sendelinge geword het met behulp van die genootskap, om later na die uithoeke van onbeskaafde wêrelddele te verdwyn. Die twee dogters is altwee met jong sendelinge getroud, om na die voorposte van die groot slagveld in Afrika te trek. Daar was besoeke af en toe, met tussenposes van jare, wat die ou heer Scalinger en sy vrou geleentheid verskaf het om nou en dan kennis te maak met
| |
| |
die toenemende tros van kleinkinders. Hier moes hy ook af en toe te hulp kom uit sy bitter geringe toelae.
In sy vyf-en-sewentigste jaar is hom 'n klein pensioen deur die genootskap toegereken. Uiteindelik kon hy sy Getsémane op Drogebult verlaat. Die kaptein had hom jare tevore 'n stukkie grond geskenk. Die verkoop hiervan het hom genoeg geld verskaf om 'n armsalige klein huisie in die Blikkiesdorpgeweste van die hoofstad te koop, en hier het hy en sy ou gade hulle gevestig om die einde in bittere eensaamheid af te wag.
Wat die ou heer Scalinger die meeste gekwel het, was die gevoel dat sy lewe 'n mislukking was. Wat kon hy aan sy Here toon as die winste van sy vyftigjarige arbeid? Niks!
Sy huisie was in 'n vuil, nou straatjie wat deur 'n blok gesny is om meer ruimte vir die aanbou van blikpondokkies te verskaf. Sy huisie, egter, was ten minste van baksteen en kon met 'n dubbele verdieping spog. Maar watter verdieping was dit nie! Die voordeur van die een enkele onderkamer gaan direk op die straat uit. In een hoek van hierdie kamer was 'n lendelamme trap wat die twee ou mense altyd met groot gevaar bestyg het. So groot was die moeilikheid en gevaar van die trap dat die ou mevrou Scalinger selde of ooit na benede gekom het. Op die boonste vloer was een kamer wat as eetkamer en kombuis gedien het. Op 'n klein afgeleefde lampoliestoof het die ou dame hier hul skrale ete berei. Dan roep sy van die hoof van die trap: ‘Hermann, Liebster, jou ete is gereed’; waarna die ou man met groot gesteun en gesukkel die trap beklim om plaas te neem aan die blink, reine tafeltjie.
Soos die meeste sendelinge van hierdie genootskap had die eerw. Scalinger in Duitsland 'n kort kursus in medisyne deurgemaak om hom te bekwaam vir sy arbeid in die woestyne van die aarde. Gedurende sy bediening op Drogebult het hy sy geringe kennis van medisyne vergroot deur die bestudering van bossies en kruie. Van al die waardevoller boer- en inboorlingmedisyne het hy kennis opgedoen - meer bepaald met die doel om die koste van aankoop van medisyne te bespaar. Later het sy geloof in ‘bossies en kruie’ aangewas totdat hy uiteindelik 'n warme apostel was van die leer dat die Here êrens op aarde 'n plant gekweek het vir elke kwaal waaraan vlees en bloed onderhewig is.
Met behulp van die Genootskap het hy bossies en kruie uit Duitsland ingevoer totdat hy in die tydperk van sy vertrek van Drogebult 'n aansienlike voorraad in hande had. Hy had intussen 'n klein praktyk onder blanke jagters en trekkers in die buurte aangekweek, wat hom teen die einde van sy dienstyd 'n aansienlike vermeerdering van sy armsalige inkomste verseker het; want stadigaan het hy onder sy Afrikaner-bure naam gewin as geneesheer in 'n land waar destyds dokters en doktersmedisyne buite alle bereik was.
Dit het hom die plan gegee om hier in die hoofstad 'n winkeltjie vir bossies en kruie aan te hou. Die onderste enkelkamer van sy huisie was daarvoor ingerig.
| |
| |
Met behulp van 'n paar pakkiste het hy 'n klein toonbank en 'n paar rakke inmekaar getimmer. In die twee vensters was 'n uitstalling van allerhande soorte blare, wortels, bas en bessies met tal van netjies geskrewe kaartjies wat aandui dat hierdie voorwerpe uitmuntende middels is vir jig, nierkwale, rumatiek, rugpyn, aamborstigheid en wat dies meer sy.
Hier agter die toonbank het die ou heer elke dag in 'n bejaarde gemakstoel plaas geneem en die laaste besending ou Duitse koerante en tydskrifte deurgegaan, terwyl hy geduldig wag op klante, wat maar seldsame verskynsels was.
Deur dié nou straatjie was daar geen motorverkeer nie, maar vir hierdie afwesigheid van geraas het die smoetsige straatkinders gewoonlik meer as vergoed. Ook aan hul lawaai het eerw. Scalinger mettertyd gewoond geraak. Hy kon later selfs hul spel met 'n glimlag volg - die halfnaakte bende, so met stof besmeer dat hulle nouliks van die straatkleur onderskeibaar was. Af en toe het hulle sy vensters kom bekyk en 'n geweldige stryery op tou gesit aangaande die name en hoedanighede van die verskillende kruie. En dan, wanneer hy die afdruk van hul vuil hande en gesigte op sy ruite begin opmerk, het hy die bende op loop gejaag met 'n growwe Duitse gebrom wat hulle op 'n veilige afstand met skaterlag nagemaak het. Die ou Duitser was vir hulle een van die vermaaklikhede binne die grense van hul nou speelterrein.
Die datum van sy groot ontmoeting het die heer Scalinger nooit weer tot sy dood toe vergeet nie. Dit was die aand van die vier-en-twintigste Junie - die aand van 'n koue, miserabele dag. Van die oggend af het 'n snydende noordewindjie gewaai, wat die stofwalms nou en dan by die voordeur laat indring om sy toonbank en rakke met 'n vaal laag te bedek. Hy kon die deur nie toemaak nie, anders was die kamer so donker dat hy nie kon sien om te lees nie. Daar was geen elektriese verligting in die winkel nie: dit sou te veel geld gekos het. Op die toonbank het hy 'n enkele kers in 'n blikblaker aangehou vir gevalle wanneer hy deur die een of ander klant ná toemaaktyd opgeklop word, wat af en toe gebeur het.
Hy moes dus maar die voordeur ooplaat en die stof geduldig verdra, terwyl hy in sy ou leunstoel opgekrimp sit, in sy ou geslyte swart jas toegewoel, wat nou reeds die tiende winter diens doen. Sy voete is deur warm Duitse wolpantoffels beskerm en om sy hals had sy ou vrou 'n swaar wolserp gewoel. Op sy byna haarlose hoof had hy 'n klein swart skedelmus wat hom so glad as sy eie vel pas. Op sy skoongeskeerde gesig was 'n gedurige skyn van misnoëe en moedeloosheid wat so 'n gewoonte geword het dat dit selfs gedurende sy lese nooit verdwyn nie.
Hy had net opgestaan om die deur te sluit, want die kamer was reeds so donker dat die lese beswaarlik gegaan het. Ofskoon die wind met sonsondergang bedaar het, het die koue hier benede haas ondraaglik geword. Op solder sou hy ten minste die yl warmte van die paraffienstofie kon geniet, om weer 'n weinig
| |
| |
lewe en buigbaarheid in sy ou lede terug te bring. Met 'n diepe sug het hy die geldlaai uitgetrek om die muntstukke wat die dag opgelewer het, in sy sak te steek. Daar was vyf of ses trippense, ongeveer twaalf pennies en een halfkroon, wat hy weer met 'n gevoel van dankbaarheid afsonderlik betas.
Volgens gewoonte het hy sy mussie eerbiedig afgeneem om met geslote oë die Here te dank vir die gawe wat hom die dag toegereken is. Toe hy sy oë oopmaak, merk hy op dat die winkel skielik aansienlik verdonker het. Dit is veroorsaak deur 'n besoeker wat klaarblyklik op die drumpel gewag het vir die einde van die ou man se gebed, en nou stadig tot by die toonbank aanstap. Eerwaarde Scalinger sien voor hom 'n onbekende vreemdeling, 'n man van by die ses voet wie se donker, swaar jas sy skraal liggaamsbou nie heeltemal kan verberg nie. Hy buig beleefd: ‘Die eerwaarde Scalinger, nie waar nie?’ vra hy in Afrikaans met merkbaar vreemde aksent.
‘Ja, wel,’ antwoord die ou heer ook op vriendelike toon: ‘Dit is my naam.’
‘U sal my nie meer ken nie, deminee,’ gaan die besoeker voort, ‘ofskoon ek 'n Transvaler van geboorte is, en ek het u meermale gesien toe ek 'n seun was. My naam is Stoffel Seebul.’
‘Stoffel Seebul,’ herhaal die ou heer vraend en nadenkend. Hy kan hom so 'n naam nie herinner nie, en tog is daar iets diep in sy geheue - 'n weerklank asof hy in die lang verlede 'n naam van dié aard gehoor het. En toe bekyk hy die gesig van sy besoeker noukeuriger - 'n eienaardige gesig. Lank en smal, geïntensifiseer deur 'n klein puntaardjie onder aan die ken, en 'n fyn, donker snor met opgedraaide punte. Ook die uithoeke van sy wenkbroue was na bo gewend, wat 'n uitsonderlike uitdrukking aan sy gelaat gee. Die oë was lank en smal - reptilies. Maar sy glimlag en spreektoon was so aangenaam en vriendelik dat dit veel gedaan het om die onaangename indruk wat sy gesig op die toeskouer maak, te verminder.
Ook die gesig het iets in die geheue van die ou heer aangeroer, maar 'n paar minute lank kon hy die skakel nie vind nie. En toe - net toe hy die poging om te herinner, wou laat vaar - val dit hom skielik by: hy weet aan welke gelaat hierdie gesig hom herinner. Dit is 'n gelaat wat hy honderde male tuis afgebeeld gesien het.
Sonder die minste grimering kon hy as die groot klassieke persoonlikheid optree. En toe val dit hom tegelyk by waarom die naam hom so bekend voorgekom het: Stoffel - 'n verkorting natuurlik; en Seebul het hom aan 'n ander naam van dieselfde persoonlikheid laat dink. By hierdie eienaardige besef kan die ou heer nie help om te glimlag nie, 'n glimlag wat hy dadelik beleefdheidshalwe probeer onderdruk.
‘Dit kom my voor dat ek u tevore gesien het, mynheer, maar waar of wanneer, is uit my ou geheue verlore gegaan. Maar gaan sit en vertel my wat ek vir u kan doen.’
| |
| |
Die vreemdeling neem plaas op die plankstoel wat vir gebruik van klante voor die toonbank staan.
Die hoop dat hy hier met 'n moontlik welgestelde koper te doen het, neem vinnig by eerw. Scalinger toe. Hy bekyk sy besoeker belangstellend en dadelik kom die neiging by hom op om een van sy gewone toesprakies af te steek:
‘U huidskleur laat my dink dat u aan die lewer ly; miskien die gevolge van malaria, indien u aan die siekte blootgestel was. Ek het natuurlik persoonlike kennis van malaria, wat ek verplig was om op Drogebult op te doen. Ek het plantaardige middels vir al die nadelige gevolge van malaria, wat wonderlik heilsaam is. Hoe dankbaar moet ons arme sondaars nie wees dat die liewe Heer God 'n heilsame plant laat groei het vir elke siekte en kwaal wat Hy in sy ondeurgrondelike wysheid toelaat om die mens aan te tas nie.’
Maar die vreemdeling skud sy kop met 'n vriendelike laggie. ‘Nee, eerwaarde! U vergis u. Ek kom nie om medisyne te koop nie. Ek is so gesond as 'n mens op aarde kan wees. Inteendeel, ek kom om medisyne te verkoop.’
‘Om medisyne te verkoop? Aan my?’ Die ou heer kan die teleurstelling nie uit sy stem hou nie. ‘Dan kon u uself die moeite bespaar het. My voorraad sal nog jare duur. Buitendien koop ek nooit inlandse middels nie. Die weinig heilsame plante wat die boere en naturelle ontdek het, kan ek verniet kry - soveel as ek van node het. Dit spyt my, mynheer,’ gaan die ou heer voort, terwyl hy hom gereed maak om op te staan.
‘Wag bietjie, dominee,’ sê die vreemdeling met sy gesagvoerende stem, ‘moenie haastig wees nie. So 'n aanbod as wat ek u gaan doen, sal u nooit weer in u lewe teenkom ie. Wat sou u sê van 'n middel wat al die goud- en diamantmyne van Suid-Afrika nie in waarde kan ewenaar nie? Wat sou u sê van 'n middel wat al die skatte van die aarde aan u voete sal lê - en nog veel meer as die skatte van die aarde?’
Daar is iets in Stoffel Seebul se stem - in sy houding, in sy bedempte gebare, in sy hele persoonlikheid - wat die ou heer verplig om ag te gee. Tevergeefs wend hy verskeie pogings aan om die toenemende invloed van die vreemdeling van hom af te werp. Sy proteste - dit voel hy self - is swak en allesbehalwe oortuigend.
‘En waarom soek u om dit aan my te verkoop? Dit sou u beter betaam om na die skathouers van Johannesburg en Namakwaland met u middel te gaan. Ek kan u nie betaal nie.’ Maar teen wil en dank moet hy aandagtig luister toe die vreemdeling voortgaan.
‘Eerwaarde, laat al die vrae oorstaan tot ons eers handel tref. Ek ken al u omstandighede. Later sal ek u vertel waarom ek u onder alle inwoners van die stad genader het. Ek sal u in hierdie opsig geheel tevrede stel - dit kan ek u vooraf verseker.’
Uit die sak van sy jas haal hy 'n klein bondeltjie in 'n linnedoekie vasgebind,
| |
| |
sorgvuldig ontbind hy die toutjie en sprei op die toonbank ten toon 'n hoeveelheid blare en wortels van die een of ander plant of boom. 'n Heerlike geur rys op van die hopie - so 'n geur as wat eerwaarde Scalinger nooit tevore in sy lewe teengekom het nie. Dit is byna bedwelmend van soetheid en veroorsaak 'n momentele roes van opwinding wat die ou heer alleen met 'n bepaalde wilsinspanning kan onderdruk.
‘Dit,’ sê die vreemdeling op plegtige toon, terwyl hy met een lang gespitste vinger op die hopie wys, ‘dit, eerwaarde Scalinger, is die ware Elikser des Lewens, wat u van alle mense die voorreg het om te sien en aan te tas.’
‘Ag, my liewe vriend,’ gaan die ou heer nog swak protesterend voort, ‘ek is te oud om vermaak te skep uit towerstories. Pak u draggie maar weer in. Met my soek u tevergeefs besigheid te doen. U verkwis net u tyd, en dit word hier onder vreeslik koud.’
Maar diep in sy gemoed het 'n brandende nuuskierigheid ontstaan. Hy wou ten alle koste hoor wat die eienaardige besoeker te vertelle had. Daarom was sy weiering meer uitlokkend as finaal afsettend.
‘Veroorloof my in enige geval om u net die storie van hierdie klompie blare en wortels te vertel,’ versoek die vreemdeling. ‘Ek is daar seker van dat dit u sal interesseer en of u dit by die einde nog as 'n towerstorie sal beskou - wel, dit sal ons sien.’
‘Goed, mynheer, vertel dan maar,’ antwoord die ou heer, ‘dit sal nog 'n halfuur duur voordat my aandete gereed is, en dié tyd sal ek aan u afstaan. Maar ek verseker u nogmaals dat dit vrugteloos sal wees.’
‘Luister dan, eerwaarde. Ek sal u nie lank onnodig ophou nie ... Ek het u vertel dat ek 'n Transvaler van geboorte is, ofskoon geen Afrikaner van herkoms nie. Daarom was dit dat ek by een van die uitlander-eenhede aangesluit het toe die laaste Vryheidsoorlog uitgebreek het. Gedurende die eerste paar maande van die kryg is ek tesame met my korps krygsgevange gemaak en na Indië vervoer. Dit het my geluk om te ontsnap en een van die Portugese besittings in Indië te bereik. Met al my avonture en wedervaringe sal ek u nie verveel nie. Genoeg om te vertel dat ek daar in aanraking gekom het met sekere Armeense handelaars, en saam met hulle in hul skippie op 'n lang handelsreis deur die Persiese golf vertrek het. Ná lang rondswerwe in die Ooste het ek 'n plan ontwerp om Holland oor land te bereik en so na Suid-Afrika terug te keer. Met hierdie doel voor oë het ek ná afloop van ons handelsvaart met sommige van my vriende na Armenië teruggereis. Ek het my metterwoon op een van hul dorpies gevestig en hier het ek my so ingeburger dat ek langsamerhand hul taal, kleredrag en gewoontes aanvaar het, en oral in alle opsigte as 'n Armeniër kon deurgaan. Ek het van die begin af in hul godsdiens en volksprokies groot belang gestel. Soos u weet, gaan die nasie in Europa vir Christene deur, en so geheg is hulle aan hul sogenaamde Christelike geloof dat hulle dikwels ter wille
| |
| |
daarvan die uiterste woede van die Turke se vervolging deurstaan het.
Op hierdie dorpie het ek kennis gemaak met sekere jagters wat elke jaar die reuse-gebergtes van Armenië besoek om bont te vergaar. Sulke aanloklike stories het hulle van hierdie wonderlike wêrelddeel vertel, dat daar spoedig by my 'n brandende begeerte ontstaan het om die berge self te besoek. Ek had nog 'n taamlike hoeveelheid geld by my, wat ek uit die handelsreis opgegaar het, en ek het besluit om 'n aansienlike deel daarvan aan hierdie doel te bestee. Ek het drie gidse gehuur, vier pakmuile gekoop en op 'n sekere oggend teen dagbreek het ons die dorpie verlaat onder die vaarwel-geroep van die ingesetenes, wat ons onderneming as 'n waaghalsige avontuur beskou het. Want ek moet u vertel dat ek besluit het om 'n deel van die bergwêreld te besoek wat alle Armeniërs sorgvuldig vermy. Allerlei legendes en bygelowe het hierdie geweste vir hulle tot 'n wêrelddeel van vrees en wonder omskep, maar dit vir my slegs aantrekliker gemaak. Dit was dus met die uiterste moeite dat ek die drie gidse kon oorreed om my na hierdie deel te vergesel. Uiteindelik het hulle toegestem, alleen onder voorwaarde dat hulle my slegs 'n bepaalde afstand daarheen sou lei. Daarvandaan sou hulle my die verdere weg woordeliks aandui, soos dit aan hulle oorgelewer is, en daar sou hulle op my terugkeer wag indien ek ooit weer sou terugkom.
Selfs van die dorp af kon ons op die noordelike gesigseinder die magtige, met ewige sneeu bedekte spitse in die vleklose hemel sien opstyg. Soos u weet, is dit 'n uitloper van die ruggraat van die aarde, van die hoogste bergreeks in die wêreld, die magtige Himalajas van Noord-Indië.
Ongeveer die tiende dag het ons die voetheuwels van die berge bereik, en 'n paar dae daarná was ons tussen die eerste klowe en kranse van die magtige ketting self. Ek het opgemerk dat daar gedurende die laaste paar dae toenemende tekens van weifeling en angs by my gidse sigbaar geword het. Nou en dan het hulle op 'n afstand van my vergader en dan in 'n ernstige bespreking verdiep geraak. Hul aandag was gedurig op die berge gevestig, waar hulle af en toe met gebare vir mekaar sekere dinge aangedui het wat aan my onbekend was.
Die tiende dag het ons die ingang van 'n breë, steil kloof bereik, waarlangs 'n bruisende gletserrivier uit die hoogtes afgetuimel kom. Hierdie wêrelddeel is die pragtigste, die heerlikste, die vrugbaarste wat ek ooit in my lewe gesien het, en ek twyfel of daar op aarde 'n weerga daarvan bestaan. Die pragtige klowe is deur helder sneeuriviere besproei, en so 'n weelde van lower is seker nêrens op aarde te sien nie. U weet waarskynlik dat die meeste van ons tuinvrugte en groente oorspronklik uit die berge van Armenië kom - so altans lui die legende. Ek kan die waarheid daarvan konstateer. Ons het spoedig 'n menigte perskes, appelkose, appels, pere, vye in uitgestrekte boorde en al ons bekende groentes teengekom. Maar dit was toe ons op die vyftiende dag die groot rivier bereik, dat ons 'n werklike paradys van plantaardige weelde binnetree. Sulke
| |
| |
perskes, appelkose en vye het ek nooit in my lewe gesien of van gedroom nie; en waarlik, die roes van geur en kleur wat ons omring het, was soos dié in 'n droom. Die wonderlikste blomme, die magtigste bome, druipende vrugte van die heerlikste geur en smaak, het hier in uiterste weelde die walle van die vorstelike rivier bedek.
By die ingang van hierdie wonderwêreld het my Armeniërs skielik halt gehou, terwyl die voorman my beleefd te kenne gee dat hulle hier die uiteinde van hul meegaan bereik het. Ek kon dadelik sien dat geen argument of oorreding hulle sou oorhaal om my een stap verder te vergesel nie.
Hier was dit dat hulle my die legende van die wonderkloof vertel het.
“Die rivier wat u hier sien, is die Hidekkel,” het die voorman my meegedeel. “Hoog op in hierdie kloof het Adam en Heva hulle verblyf opgeneem toe hulle uit die paradys verdrywe is, en vannag sal ons u wys waarom alle Armeniërs bevrees is om die berge hier in te gaan. Selfs hierdie kloof het ons vaders as heilige en verbode grond beskou. Ons dink nie dat die Here sal toelaat dat mensevoet hierdie heilige grond betree nie. Ons sal u vannag toon waarom. Intussen bid ons u, effendi (soos hulle my genoem het) om vannag hier te slaap en dan kan u môre besluit of u alleen verder wil reis.”
En dié middag het die leier van die gidse my die legende van moeder Heva vertel. U weet, eerwaarde, daar is 'n menigte legendes omtrent moeder Heva. Toe sy in die paradys rondgekyk en geen ander man kon vind as die eggenoot wat die Here haar geskenk het nie, het sy met die duiwel begin knipoog.’
Hier val eerw. Scalinger sy besoeker vir die eerste maal in die rede. Met 'n gebaar van afwering spreek hy hom vermanend toe.
‘Mynheer, ek sien ongraag dat iemand onder my dak die spot drywe met Gods Heilig Woord. Dit betaam ons arme sondaars nie.’
‘U misgis u, dominee,’ val die vreemdeling haastig in. ‘Van die Woord sal ek nooit dan met die diepste eerbied spreek nie. Waar ek die spot mee dryf, is met die swakhede van die mens. Miskien was selfs dit ongewens, maar ek sal u nie weer rede gee om my te berispe nie.’
En weer gaan die eienaardige vreemdeling voort, wat die ou heer nou al so geboei gehou het, dat selfs die roep van sy ou gade nie in staat was om sy aandag een oomblik af te trek nie.
‘Dit, eerwaarde, was die legende wat hulle my vertel het, en ek was verbaas om te gewaar hoe goed hulle vertroud was met die Heilige Skrif.
“U weet,” vertel die voorman my, “dat daar een boom was in die tuin, 'n boom wat goed was om van te eet en 'n lus vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand van te verkry - die verbode boom. En nadat Heva van die vrug daarvan geëet het, is hulle verdryf uit die tuin, opdat, soos geskrywe staan “hy nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!”
| |
| |
“Die geskiedenis wat aan ons vaders vertel was, is dat moeder Heva, voordat sy die tuin verlaat het, geleentheid had om die boord heimlik te besoek. Hier het sy 'n takkie van die Boom des Levens afgebreek en in haar vel-voor-skoot verberg, en daarmee is sy voort toe sy en Adam langs die Hidekkel afgereis het om hul verblyf in hierdie kloof op te neem en hier - so gaan die legende - het Heva die steggie van die onsterflike boom geplant. Sy het nooit daarvan geëet nie en van dié tyd af is die kloof verbode grond. Af en toe het reisigers die boom op 'n afstand gesien, maar niemand het ooit die moed gehad om dit self te nader nie. Dit groei op die boonste uiteinde van hierdie kloof - tot vandag toe, want die boom is onsterflik. Daar word vertel dat die blare dadelik ouderdom in jeug verander; die vrug skenk onsterflikheid; en die wortel vernietig weer die twee vorige gawes.”
Net ná sononder het die voorman my na 'n uitloper van die krans gelei en van hier na 'n groot kerf tussen die twee hoogste sneeubedekte berge gewys.
“Daar,” sê hy, “sien u die rede, effendi, waarom geen Armeniër verder as hierdie klowe wil ingaan nie.”
En toe, eerwaarde, sien ek van af die donker aardkring tot in die hoogste hemel 'n flikkerende ligstraal soos die lem van 'n swaard. Dit het die groot opening tussen die twee spitse dreigend bedek. En terwyl hy met gebuigde hoof die wonder aanskou, fluister die Armeniër die verskriklike woorde uit Genesis in sy taal: So het Hy dan die mens weggedrywe ... met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die Boom van die Lewe te bewaak.’
‘Die volgende dag is ek alleen voort op die laaste gedeelte van my reis. Op die linkerwal van die sogenaamde rivier Hidekkel het ek die wonderkloof binnegedring. Ek sal nie trag om u die wondere te beskryf nie. Ek is nie daartoe in staat nie. Genoeg sal dit wees om u te vertel dat ek teen die aand die bo-ent van die kloof deur die bome in gesig gekry het. En toe gewaar ek iets wat my laat ril. Dit was ná sononder, en meer dan skemerduister onder die ryk gelommerde bome, en skielik sien ek hoog onder die krans 'n eienaardige wit glans uitstraal, wat soos die gloed van 'n soeklig my weg deur die bome verlig. Toe ek die plek nader, sien ek dat die lig van 'n enkele boom afkomstig is. Die boom was nie hoër dan 'n gewone perskeboom nie, maar oortrek met lakenwit bloeisels, en dit was die blomme wat die werklike bron was van die lig wat my verras het. Elke blom was liggewend, net soos die fosforesserende seediere wat die tropiese oseaan snags opluister.
‘Dominee Hermann Scalinger,’ fluister die vreemde besoeker op 'n toon so ernstig dat dit die ou heer laat skrik, ‘ek was in teenwoordigheid van die Boom van die Lewe wat in die middel van die tuin geplant was. Dit was die boom wat gegroei het uit die steggie wat Heva geheimlik uit Eden vervoer het. Die Here het haar dit toegelaat vir 'n doel van Sy eie.
Die boom het die ganse dal met die geur van sy bloeisels en blare verheerlik.
| |
| |
Ek het die nag daar geslaap en die volgende oggend is ek terug na my Armeniërs. Ek het hierdie pakkie met blare, bloeisels en wortels van die boom egter met my saamgeneem.
Ek het later deur proefneming vasgestel dat die kleinste stukkie van 'n blad die mens dertig of veertig jaar op sy lewensweg kan terugvoer. Indien hy ontevrede is met sy herwonne jeug, kan hy met 'n stukkie van die wortel die toestand weer ongedaan maak.
Sien u nie, dominee Scalinger, die skatte wat hierdie middel u kan verseker nie? Bied dit aan enige afgeleefde miljoenêr aan - hy sal nege-tiendes van sy rykdom afstaan om sy jeug terug te kry en van al sy pyne en kwale ontslae te wees. Al u worsteling en lyding is op 'n end! U kan u gade rus en vrede vir die uiteinde van haar lewe skenk; u kan seker maak dat geen enkele van u kinders of kleinkinders dieselfde worstelstryd van armoede en ellende sal moet deurmaak wat u eie lewe verdonker en verbitter het nie. Dink maar net aan alles wat geld aan u kinders en kleinkinders kan skenk.
Dominee Scalinger, ek bied u gratis 'n deel van hierdie pakkie aan. Ek doen dit met 'n doel van my eie wat ek later aan u bekend sal maak.’
En toe swyg die vreemde besoeker, terwyl hy, vooroor geboë, die ou heer stip in die oë staar.
Dit was asof eerwaarde Hermann Scalinger uit 'n droom wakkerskrik. Hy moes sy sinne met geweld bymekaarraap voordat hy weer tot 'n begrip van die werklikheid kon geraak. Hy het sy bril opgeskuiwe en sy oë gevrywe half in die verwagting dat wanneer hy hulle weer oopmaak, die vreemde kêrel, soos 'n inwoner van die land van drome en visioene, vir altyd sou verdwyn het. Maar daar sit hy nog, met 'n vonkelliggie in sy slangoë en 'n sarkastiese glimlag op sy mefistofeliese aangesig.
Die ou heer het sy oë gesluit en meermale het uit sy hart woordeloos die gebed omhoog gegaan: ‘Lei my nie in versoeking nie, Here, verlos my van die Bose.’
Dat sy versoek verhoor is, had hy onmiddellik bewys van. Hy voel 'n instraling van krag en 'n eweredige verswakking van die sonderlinge invloed wat die vreemdeling oor sy gemoedstoestand erlang het.
‘U het gekom om te verkoop en nou bied u geskenke aan!’ sê die ou heer op sarkastiese toon, ‘maar dit spyt my, mynheer, dat ek nòg die een nòg die ander kan aanvaar. Ek beloof u dat ek op myself geen verjongingseksperimente sal uitvoer nie; nòg sal ek die middel aan iemand anders wou verkoop of skenk - indien u storietjie in alle opsigte waar was. Maar ek weet natuurlik dat dit maar net 'n windstorie was. Gelukkig bly daar in almal van ons altyd nog soveel van die kind oor dat ons skynbaar nooit te oud word om 'n storie te geniet nie. Ek moet erken dat u die tyd op arendvleuels verdryf het wat gewoonlik vir my met die stadige tred van ploegosse verbygaan. Mynheer, u storie het my geïnteresseer en daarvoor bedank ek u. Dit spyt my dat ek u vaarwel moet bied. Binne
| |
| |
enkele minute sal my aandete gereed wees en ek durf my vrou nooit laat wag nie.’
Stadig rys Stoffel Seebul se lang gestalte orent, en met 'n statige en beleefde buiging spreek hy die ou man vir die laaste maal toe.
‘Eerwaarde, ek weet wanneer 'n poging misluk. Ek sal u nie langer lastig val nie, want ek weet voorwaar dat geen argument of pleit van my u ooit uit u vesting sal verroer nie. Dit kan egter kom dat u by geleentheid begerig mag wees om die waarheid van my verhaal op 'n ander te beproef. Ek laat u derhalwe 'n enkele blaar en 'n stukkie van die wortel, genoeg om die verkrege verjongering weer ongedaan te maak.’
En met dié woorde plaas hy voor die ou heer Scalinger op die toonbank die stukkies gewas. Die ou heer wou net met 'n skud van sy grys hoof en 'n gebaar van afwering die gif met beslistheid weier toe Stoffel Seebul skielik omdraai en met lang treë die winkeltjie verlaat.
Die ou sendeling sien hoe die donker van die nou straatjie hom verswelg.
Dit was reeds so donker dat hy die kers moes aansteek om die deur te sluit en sy weg langs die trap te vind. Terwyl hy hiermee besig is, kom die stem van sy ou vrou van die traphoof op sagte Duits:
‘Hermann, Liebster, die ete is gereed.’
‘Goed, Liebste,’ roep hy terug, ‘ek is net soewe met die laaste besoeker afgehandel. Ek kom.’
Toe hy met die blaker in die hand by die toonbank verbygaan, word sy aandag onwillekeurig deur die blaar en worteltjie getrek. Half onbewus van sy eie daad steek hy die twee voorwerpe in sy onderbaadjiesak, en met groot gekreun en gesukkel, soos gewoonlik, beklim hy die steil trap na die boonste kamer, waar sy ou vrou hom by die gedekte tafel staan en inwag.
Selde of nooit het sy haar ou man so vrolik en opgeruimd gesien nie. Die kus waarmee hy haar begroet, is selfs minliker as waaraan sy gewoond was. Terwyl hulle aan tafel sit, betrap sy hom verskeie kere met 'n glimlag op sy gesig en 'n skaars sigbare beweging van die lippe asof hy besig is om 'n laggie te onderdruk.
‘Wat is dit dan, Liebster, wat jou vanaand so amuseer?’ vra sy uiteindelik op haar sagte wyse, asof sy 'n kind toespreek.
‘Ag, Liebste,’ antwoord hy, ‘daar was 'n amusante kêrel in die winkel onder, wat kruie aan my wou verkoop in plaas om van my te koop - verbeel jou. Hy het my 'n klomp leuens vertel wat my nou nog laat lag.’
En toe doen eerwaarde Hermann Scalinger iets wat hy waarskynlik nooit tevore in sy lewe gedoen het nie. Hy besluit om sy vrou niks te vertel van die wonderlike storie of van die twee voorwerpe in sy onderbaadjiesak wat hy af en toe saggies met sy vinger en duim betas nie. 'n Paar momente het die besluit gepaard gegaan met pynlike gewetenswroeging. Maar spoedig was sy hele gedag- | |
| |
teloop weer besig met die snaakse vreemdeling en sy wonderlike storie tot uitsluiting van alles anders - sy onverklaarbare huigelary teenoor sy vrou, sy beswaarde gewete, alles moes plek maak vir die kerende beelde wat sy geheue in beslag neem. Gedurig sien hy weer die mefistofeles-gesig, die opgekeerde wenkbroue, die eienaardige, sarkastiese glimlag; en hoor hy weer die verbasende veranderinge van toonklank in die stem van die vreemdeling. Soos 'n weerklank hoor hy sekere sinne en uitdrukkings wat hy fluisterend-mompelend herhaal en namaak: ‘Sien u nie die skatte wat hierdie middel u sal verseker nie?’ ‘Ek weet wanneer 'n poging misluk,’ die plegtige: ‘Dominus Hermann Scalinger, ek was in teenwoordigheid van “die Boom van die Lewe wat in die middel van die Tuin geplant was!”’ Sy gade kyk hom verwonderd aan, maar stel geen verdere vrae nie.
Teen die einde van die ete besluit hy skielik om na sy klein sogenaamde ‘studeerkamer’ te gaan - iets ongewoons gedurende die winter. Hy voel 'n onweerstaanbare drang om alleen te wees; om na te dink oor wat gebeur het en sy eie gemoedstoestand in stilte gade te slaan.
‘Daar is iets wat my bygeval het in Goethe se Faust, maar ek kan die aanhaling en die verband nie meer onthou nie. Ek wil dit gaan nalees,’ verduidelik hy aan sy vrou, en terwyl hy praat, weet hy dat hy haar 'n leuen vertel en 'n gevoel van die diepste skaamte, gepaard met knypende wrewel, oorstelp sy gemoed. Terwyl hy in alle haas die klein lampie en verwarmingstoestel aansteek, roep sy ou vrou hom met verbasing toe:
‘Hermann, Liebster, daar kom 'n sonderlinge en heerlike geur van jou klere. Die hele kamer is daarmee vervul - was is dit?’ Toe voel hy só 'n vurige gloed oor die vel van sy gesig gaan, dat hy dit haastig moet versteek deur voor te gee dat hy deur 'n geweldige hoesbui oorval word. Intussen is hy die studeerkamer binne met die deur agter hom toe.
‘Hermann Scalinger, huigelaar en leuenaar,’ is die eerste beskuldiging wat hy homself in die eensaamheid van sy studeerkamer toeswaai.
Bo die lessenaar teen die muur hang 'n ou foto van sy bruid en homself op hul huweliksdag in Duitsland. Waarom die ou portret skielik sy aandag in beslag geneem het, kan hy nie verklaar nie, maar hy is gedwonge om op te staan en die ou afbeelding van naby te betrag, met die leeslampie omhoog as beligting. Skielik oorrompel 'n vloedgolf van tere herinneringe sy gemoed. Hy onthou die dag asof dit gister was - die heerlike herfsdag toe die sagte groen van die bome net sigbaar begin word het. Wat 'n heerlike, hemelse oggend was dit nie! En wat 'n mooi seun was hy! Met die maan van donker hare glad agteroorgekam; die helder oë; die skone, sterk gesig wat die wêreld onbeskroomd in die oë kon kyk! Ja, dit was 'n sterk gesig - en hy was sterk; liggaamlik en geestelik sterk! Hoe vol hoop was hy dié oggend nie! Vol grootse, edelmoedige voornemens. En hy sou dit ook uitgevoer het; hy sou 'n groot werk in die wêreld kon
| |
| |
verrig het, as die Genootskap hom nie lewenslank op Drogebult op die pynbank gespalk het nie. Daar was dit waar al sy skone kragte vernietig is. As hy weer tot die dae teruggevoer kon word! Welke magtige werke sou hy nie vir die Here kon uitvoer nie! Maar nie hier nie; nie weer in die sandwoestyn nie, waar hy sy ware bekeerlinge ná 'n lewe van swoeg en worstel op die vingers van een hand kan tel. Nee - dit sou in Europa wees; en in verbeelding sien hy homself in 'n groot Dom met 'n see van gesigte voor hom, wat ademloos die woorde van sy preek aanluister. Hy is jonk en skoon, vol krag en vuur, en sy woorde vloei met die onweerstaanbare krag van 'n bruisende bergstroom. Die wêreld sou van hom hoor! As hy maar weer tot dié dae teruggevoer kon word!
En toe onthou hy die blad en wortel van Stoffel Seebul, wat hy weer saggies met sy vinger en duim aanraak. Weer rys die heerlike geur om hom heen. 'n Gevoel van onweerstaanbare roekeloosheid oormeester skielik sy gemoed. Laat kom wat wil! - en met 'n haastige beweging plaas hy die sagte klein blad in sy mond en begin dit fyn te hou.
Hy hoor die sagte stem van sy ou vrou uit die slaapkamer roep: ‘Ag, Hermann, dit is so koud; ek is al bed toe. Kom jy ook maar, Liebster. Die leeskamer moet so koud wees soos 'n yskelder!’
‘Ja, ja, ek kom,’ roep hy ongeduldig. Hy trek 'n laai van die lessenaar oop en plaas die worteltjie agter teen die plankafskorting en toe, met lamp in die hand, sukkel hy terug na die slaapkamer.
Dit was die gekletter van die ou Duitse klok - wat die slag altyd voorafgaan - wat hom uit 'n diepe en rustige slaap wek. Hy tel die slae: twaalfuur. Middernag. En toe hy helder wakker word, gewaar hy 'n eienaardige gevoel - dieselfde gevoel wat 'n roemer goeie Rynwyn teweegbring! Daar is 'n gewaarwording van onuitspreekbare vreugde en blydskap. Hy voel asof hy kan sing en dans! Al sy rumatiekpyne, wat snags gedurig aan sy spiere knaag, is weg. Hy voel sy hart sterk en vinnig klop en die bloed bruis deur sy are. Deur al sy lede stroom 'n gloed van nuwe krag. Hy klim stadig uit die bed om sy ou vrou nie te wek nie. In die donker soek hy die leeslampie en voel met voete en hand sy weg na die deur van die leeskamer. Sy loop is ook anders. Die slepende gesukkel is weg. Sy tred is ferm en seker en die feit dat hy blootsvoet op die koue vloer trap, verwek geen vrees nie!
Hy sluit eers sorgvuldig die deur van die leeskamer agter hom voordat hy die lampie opsteek, want die ligstraal mag sy ou vrou wek.
Langs die foto hang 'n klein ovaal spieëltjie - 'n huweliksgeskenk aan sy vrou van een van haar vriendinne op die salige dag in die lang verleë. Toe hy voor die spieël staan en die lampie lig, kan hy 'n uitroep van verbasing nie onderdruk nie. Hy sien hom aanstaar uit die donker agtergrond van die spieël die ewebeeld van sy gelykenis in die foto!
| |
| |
Dit is dus waar - die hele fantastiese storie van Stoffel Seebul is waar! Hy is weer jonk, gesond, vol krag. Hy wil 'n juigkreet uiter - 'n Duitse studentelied aanhef; maar betyds herinner hy hom weer sy ou gade in die slaapkamer.
Nou sal hy alles kan uitvoer waarvan hy so dikwels gedroom het. Hy sal weer begin!
En toe val sy oog op die afbeelding van sy vrou in die gesamentlike foto en 'n rilling van skrik en weersin skiet deur sy spiere toe hy haar in herinnering vergelyk met wat sy nou is.
Hy begin koorsagtig op en neer stap, terwyl sy gedagtes bliksemsnel deur sy onstuimige gemoed jaag. Dit duur lank voordat hy weer tot besinning geraak; voordat hy weer sy gedagteloop in toom het.
Is dit iets om oor te juig? Sou hy dié keer 'n sukses van sy lewe maak? 'n Donker twyfel wat elke moment toeneem, begin sy gemoed oorskadu.
Is dit die moeite werd? Hy weet voor sy siel dat hy weer presies dieselfde mislukking van sy lewe sal maak. En wil hy dit alles weer deurgaan, selfs met die heerlikheid van jeug op die koop toe? Hy sien sy lewe deur die jare heen reik as 'n dorre, verlate wig deur die woestyn, waar vreugde en blydskap seldsaam was en droefheid en smart sy daaglikse toediening.
En nog meer, nog meer! In sy nuwe lewe sou daar geen verrassing meer wees nie. In sy vorige onkunde het die hoop elke gebeurtenis wat hy in die toekoms moes tegemoetgaan, in die heerlikste kleure geskilder. Nou weet hy dat elke vreugde wat sy dwase hart in die vooruitsig gestel het, altyd 'n gesteekte perske was - met die kleure van die daeraad van buite en wurms en verrotting van binne.
Al hoe helderder word die herinnering teen die donker agtergrond van sy lewe, hoe hy gedurig van die toekoms gedroom het, en hoe elke hoop, elke heerlike verwagting steeds verydel is. Maar die ondervinding kon hom nie leer nie. Geen ontnugtering, geen gewaarwording van die uiteindelike groue werklikheid kon 'n einde aan sy drome maak nie. Die heerlike gordyn van wasige blou wat die werklikheid vir die reisiger op die lewenspad verheel - hoe goed het hy dit nie leer ken as iets onwerkliker en bedriegliker as die lugspieëling op die sandvlaktes van Drogebult nie.
Wat 'n dwaas was hy! Hy kon ten minste altyd helder dink, selfs in sy ouderdom. Wat 'n dwaas was hy om nou 'n gevolgtrekking te vergeet wat hy lank gelede as die eerste artikel in sy lewensgeloof aangeneem het: dat die Herr-Gott nooit bedoel het dat ons in hierdie lewe gelukkig moet wees nie. Welke doel daar mag bestaan in verband met die menselewe op aarde, een ding is seker: geluksaligheid, vreugde in hierdie lewe kon die doel nooit wees nie. Die mens is geneig om in herinnering die vreugde in sy verlede te vergroot en die pyn te minag; maar geen mens van vrou gebore kan teen die einde van sy lewe 'n oorsig neem sonder om duidelik in te sien dat pyn 'n oorweldigende werklikheid
| |
| |
was nie, terwyl die diepste vreugde 'n niksbetekende misvlaag was, kort van duur en altyd in die munt van pyn betaalbaar. En dit het hy vergeet!
Nie weer nie! Nie weer nie! Om met vrye keuse die foltering weer deur te gaan met die lugspieëling van hoop en verwagting altyd op die verre gesigseinder - nee, nie weer nie!
Skielik skiet 'n helder lig in strale deur die skraal en sleg passende gordyn van die voorste venster. Scalinger wis dadelik wat dit was: kort tevore is sy ou gade deur dieselfde lig, wat tot die slaapvertrek deurgedring het, gewek en hy moes opstaan en ondersoek instel om haar weer gerus te stel. Dit was melkjongens hier in die verlate straatjie vergaar wat groot hope papier aan die brand steek om hul verkluimde hande en voete te verwarm. Hy stap na die venster en trek een van die rame na binne oop. Reg onder die venster sien hy 'n donker groep om die vlammende papier. Maar dit is nie hulle wat sy aandag trek nie. Met die oopmaak van die raam val dit hom dadelik op hoe sonderling en ongewoon sy gedrag is. Verlede nag sou hy nooit gewaag het om sy deur die bed verwarmde liggaam op hierdie wyse skielik aan die koue naglug bloot te stel nie. Weer voel hy 'n vlaag van trotse blydskap deur sy gemoed skiet dat hierdie handeling geen die minste ongemak by hom verwek het nie. Inteendeel adem hy die skerp oggendlug in met 'n gevoel van opwekkende prikkeling.
Bo die dakke van die huise aan die oorkant van die straat hang die môrester soos 'n gloeiende lamp in die fluweeldonker hemel van die oostelike horison. Daar is nog geen teken van dagbreek nie, en die groot sterre van die suidelike hemelstraat skitter helder en onverdoof te midde van die gevleuelde nebulae wat van Orion suidwaarts uitskiet.
Hoe lank laas het die sterre in sy gemoed so 'n gevoel van verblydende bewondering gewek? Liewe God! hoe lank was dit dat hy laas op die sterre ag geslaan het? Dit is dus waar dat selfs Gods sterre in Gods hemel deur die ouderdom verdoof en verflou word!
Ondoelbewus neurie hy saggies in Duits die pragtige psalm wat hy in sy jeug - in sy vorige jeug! - so diep bemin en so dikwels opgesê het toe hy eers met die suidelike konstellasies kennis gemaak het:
‘As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het - wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?’
En toe bereik hom van benede 'n sagte fluistering wat dadelik sy aandag trek. Wat hy vir 'n groep volk aangesien het, het verdwyn of het ten minste tot 'n enkeling ingekrimp. Oorkant die vuur sien hy 'n gesig tot hom opgekeer, rooi van benede verlig deur die dansende vlamme. Dit is sy vreemde besoeker van die vorige aand. Weer sien hy die lang, smal gesig, die klein, spits kenbaardjie, die opgedraaide fyn snor - selfs die gespitste wenkbroue kan hy in die
| |
| |
kerende ligte sien. En toe hoor hy weer die eienaardige stem waarvan die sagste fluistering aan hom hoorbaar is:
‘A, dominee Scalinger, ek sien dat u my raad gevolg en die groot eksperiment beproef het. Luister nou! Kom gou na benede. Die dag is op hande en ons moet ver wees voordat dit lig word. U kan nooit die las van 'n ou afgeleefde vrou verder dra nie! Ek wag; kom af! Verkwis g'n tyd nie! Ek het genoeg van die wonderkruid om ons die skatte van die aarde te besorg. Die lewe is voor u, daar is geen doel wat u nie sal bereik nie. U lyding is op 'n end. Kom af - haastig!’
Maar by Hermann Scalinger is daar nie meer twyfel nie. ‘Huigelaar, bedrieër! Op hierdie wyse het jy gesoek om my in jou strikke vas te lê. Maar die Here het reeds my diepe berou aangeneem wat ek as 'n offer gelê het op die altaar van die lewe wat hy my reeds geskink het. Nie weer nie! Nie weer nie! Wyk, versoeker, jou strik was tevergeefs gestel, tot Sy genade het ek my toevlug geneem.’
En met 'n haastige beweging sluit hy die raam sonder om verder ag te slaan op die fluistering wat hom nog van onder bereik. Sonder twyfel of aarseling stap hy na die lessenaar.
Weer sien hy 'n glimps van sy jong gesig in die verdonkerde spieël, met die digte bos donker hare soos 'n skadu oor sy hoof, maar dié keer is daar geen teken van vreugde op die sterk, jong gesig nie. Daar is inteendeel 'n trek van die diepste weemoed - en miskien 'n skyn van beslistheid.
Nee, God verhoede! Dit nie, dit nie! Hy sal dit nie weer deurmaak nie. Liewer die dood, wat ten minste rus en vergetelheid skenk.
Sonder om 'n minuut te aarsel, trek hy die laai oop, druk die stukkie wortel in sy mond en kou dit vinnig fyn op sy gesonde stel tande.
Toe hy die slaapkamer saggies op sy tone in die donker bereik, hoor hy nog die roggelende asemhaling van sy slapende vrou.
Toe hy wakker skrik, staan sy ou gade langs hom met 'n koppie koffie in haar bewende hande.
‘Dit is laat, Liebster,’ sê sy op haar sagmoedige wyse. ‘Hier is jou koffie. Wat het jou in die nag makeer? Ek het my verbeel dat jy rusteloos was. Het die rumatiek weer gepla?’ En sy kus hom medelydend op die voorhoof.
Met gesukkel en gekreun kom hy orent in die bed om sy koffie aan te neem.
‘Ag,’ antwoord hy met 'n sug, ‘dit was 'n aaklige droom wat my gestoor het. 'n Mens sou dink dat daar in die ouderdom lyding genoeg is sonder dat drome ons nog pla!’
‘Sonder Gods wil geskied niks,’ fluister die ou dame bemoedigend. |
|