| |
| |
| |
4 Diep Rivier
O, Diep Rivier, O Donker Stroom,
hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
die lem van liefde wroegend in my hart?
-In jou omhelsing eindig al my smart;
blus uit, O Diep Rivier, die vlam van haat -
die groot verlange wat my nooit verlaat.
ek sien van ver die glans van staal en goud,
ek hoor die sag gedruis van waters diep en koud;
ek hoor jou stem as fluistering in 'n droom,
kom snel, O Diep Rivier, O Donker Stroom.
(Vertaling van die lied van Juanita Perreira).
Die volgende verhaal is saamgestel uit nagelate briewe van wyle dr. Paul de Roubaix, wat hy voor sy dood aan vriende geskrywe het. Waar dus ‘ek’ gebesig word, moet die leser verstaan dat dit dr. De Roubaix is wat spreek en nie die samesteller nie. Die eerste brief word byna letterlik oorgeneem:
Jy kan jou nooit verbeel die verbasing wat die ontmoeting op beide François (dit is kol. Sois de Ville, gewese kommandant van polisie) en my veroorsaak het. Dit was laat die middag, net ná die eerste toetswedstryd tussen die All Blacks en die Springbokke. De Ville had nog swaar aan sy wonde gely, maar niks sou hom van die wedstryd weggehou het nie. Ons het na ons sitplekke aangesukkel - hy was nog op krukke. Die polisie-manskappe het hom natuurlik almal herken en alles in hul vermoë gedoen om ons behulpsaam te wees ...
Ons was nouliks 'n uur tuis toe daar 'n klop aan die voordeur was, en voordat ek kon opstaan, word die deur van buite oopgedruk en 'n man verskyn op die drumpel. De Ville het hom dadelik herken; maar van my het dit etlike sekondes geverg voordat sy gesig die nodige geheuespiere in werking gestel het. Ons sien voor ons 'n jong man van ongeveer 28 of 30 jaar, skoon geskeer, met 'n pragtige liggaamsbou. Hy bekyk ons met 'n treurige glimlaggie op sy gesig, en toe strek hy sy hand uit met die uitroep: ‘Sois! Paul!’
Weet jy wie dit was? Boy van Niekerk! Ons het hom byna twintig jaar laas gesien. Ons drie was saam op dieselfde klein plaasskooltjie toe ons kinders was, en soos jy weet, het Sois 'n vername krygsman en later hoof van polisie geword, terwyl ek my studies voortgesit het om later in Europa in die medisyne te promoveer. Boy van Niekerk was die enigste seun van ryk ouers. Hy het spoedig as voetbalspeler wêreldberoemd geword en het in die eerste Springbokspanne in die buiteland 'n naam verwerf wat hom geruime tyd deur die gehele wêreld die populariteit van 'n gekroonde hoof gegee het. Ons het sy foto dikwels in
| |
| |
koerante en tydskrifte gesien, maar in propria persona nooit weer nie, totdat ons hom dié middag in ons deur sien staan het. Of ons bly was? Dit spreek vanself. Hy was in ons seunsdae nader aan ons twee as menige bloedverwant. Dit was byna 'n omhelsing, nieteenstaande ons Afrikaners nooit geneig is om ons gevoelens te laat botvier nie. Ek het opgelet dat hy nog steeds sy vriendelike glimlaggie had, maar hy was stil, byna bedees. Van die begin van ons ontmoeting af kon ek sien dat daar iets storends in sy gemoed was. Dit was nie dieselfde opgeruimde Boy van vroeër nie.
Ons het natuurlik van sy huwelik met Marie de Villiers uit die nuusblaaie verneem; van die dood van sy ouers; van sy inbesitneming van die familieplaas Avonduur; en bo alles van sy onttrekking aan eersteklas voetbal, wat deur al die sportskrywers, hier en oorsee, betreur is.
En van toe af het Boy uit die publieke gesig verlore geraak. Hy het 'n boer geword, en nòg Sois nòg ek het hom ooit op die lyf geloop, ofskoon ons dikwels van hom gepraat het en somtyds selfs planne gemaak het om Avonduur te besoek. En toe verskyn hy self die middag ná die groot wedstryd.
Ons het natuurlik eers die wedstryd self bespreek, en die Springbok-oorwinning nogmaals toegejuig. Die indruk van terughoudendheid, van neerslagtigheid, wat Boy in die begin gegee het, het stadigaan verdiep. Hy het gepraat, vrae beantwoord en ons bietjie van homself vertel, maar daar was iets in sy gemoed wat alles anders in 'n sekere mate oorskadu het. Ons het verneem dat sy vrou 'n babatjie had, destyds agt maande oud; en dit was toe hy van klein Marie praat, dat sy oë vir die eerste maal opgeluister geraak het en daar 'n sekere mate van lewe op sy gelaatstrekke verskyn het. Daar was natuurlik nooit so 'n kind in die wêreld gewees as klein Marie van Niekerk nie! Maar toe hy van sy vrou praat, was daar telkens tekens van neerslagtigheid - selfs bedroefdheid.
Sois het 'n bottel wyn laat open, en ons het op die hernuwing van ons ou vriendskap gepraat en gepraat, en Boy het steeds neerslagtiger en stiller geword.
Toe dit haas tyd word om afskeid te neem, vra hy skielik aan De Ville: ‘Sois, glo jy in towery? Ek meen, die swartmense se towery? Jy het so baie met die naturelle te doen gehad, en ek het af en toe van sommige van jou sake gehoor toe jy in die polisiediens was.’
Hy kyk De Ville intussen baie ernstig aan, asof iets van die uiterste belang van sy antwoord afhanklik was.
De Ville gaan aan die lag, klap hom op die skouer. ‘Natuurlik glo ek in towery,’ antwoord hy, ‘nie juis inboorlingtowery nie, maar ek het byvoorbeeld 'n groot, sterk reus van 'n jongman sien rondspring en dans om die bevele uit te voer van 'n tingerige klein meisie wat hy tussen vinger en duim kon platdruk!’
Ons gaan almal aan lag - Boy van Niekerk ook, maar in sy geval was die lag baie geforseerd.
| |
| |
‘Ja, ek wis dit sou jou antwoord wees,’ sê hy, en half skamerig gaan hy met 'n uitleg voort: ‘Julle weet, 'n mens lees so baie van die soort dinge, vernaamlik in die Engelse tydskrifte, waar dikwels deur geleerde reisigers beweer word dat daar in die toorkuns van Afrika meer skuil as wat die meeste mense glo of van weet.’
En toe, ná 'n oomblik van nadenke, staan hy skielik op, steek sy hand uit met die gewone afskeidswoorde: ‘Nou ja, ek was bly om julle weer te ontmoet. Dit word laat: my vrou sal onrustig word,’ en hy maak klaar om te vertrek.
Maar Sois het natuurlik lank reeds gesien dat daar iets baie ernstig met ons vriend verkeerd is. Hy druk Boy vriendelik in die stoel terug. ‘Nee, wag, ou maat, moenie so haastig wees nie. Vertel my die hele ding. Ek mag in staat wees om jou raad of hulp te verskaf. Daar gaan dikwels dinge onder die naam van towery wat werklik veel ernstiger as sogenaamde towery is.’
Dit het aansienlike oorreding gekos om Boy tot vertelle oor te haal, maar toe hy eers begin, kom die verhaal in hartstogtelike woorde. Dit was dadelik te sien dat die jongman onder 'n groot sielelas ly, en dat hy brand was om dit aan iemand te openbaar, en hulp te soek, van waar ook al.
‘Ek sal jou vertel, Sois,’ sê hy op half smekende toon aan De Ville, ‘jy sal my seker kan help. Ek verkeer in 'n vreeslike toestand, en weet nie waarheen of na wie my om hulp te wend nie. Maar jy moet self kom’ - en toe De Ville hierop saggies sy kop skud, gaan hy meer smekend aan - ‘jy moet kom, Sois! O, jy moet kom! Ek het my arme ou vroutjie belowe dat jy sal kom. Jy weet nie wat ons ly nie. Ek sal alles doen om die reis en besoek aangenaam en gemaklik te maak. Ek weet dat jy nog aan jou wonde ly; maar ek sal 'n spesiale groot motor vir jou gereed hou, en De Roubaix sal natuurlik met jou saamkom. Hy sal natuurlik ook kan help.’
Hy hou van elkeen van ons 'n hand vas met 'n kyk so smekend dat dit eenvoudig onmoontlik was om sy versoek botweg van die hand te wys.
‘Nou sit eers, man,’ sê De Ville, ‘en vertel ons alles. Jy moet onthou dat ons absoluut niks weet nie. As jy ons vertel, sal ons ten minste in staat wees om te oordeel of 'n besoek aan jou plaas juis nodig sal wees.’
‘En dit is presies wat ek nie wil doen nie,’ antwoord Van Niekerk. ‘Die moeilikheid is van so 'n aard dat jy dit self moet sien en beleef voordat een jou iets daarvan vertel. Ek wil jou onder geen suggestie van my laat verkeer voordat jy na Avonduur kom nie. As ek trag om jou vooraf te vertel, sal jy my òf nie glo nie, òf (indien ek onder 'n valse indruk verkeer) is daar gevaar dat jy dieselfde valse indruk deelagtig mag word, selfs voordat jy op Avonduur aankom. Ek dink die kanse is dat jy my nie sal glo nie, en dit sou net so onwenslik wees.’
Hy het ons oorreed. Dit was eenvoudig onmoontlik om sy ernstige gesmeek te weerstaan. Sois de Ville het nog baie pyn van sy wonde gehad en ek het hom reeds gelas om alle onnodige vermoeiing te vermy; maar ons moes belowe dat
| |
| |
ons Avonduur sou besoek en ons gereed maak vir 'n besoek van minstens twee weke of 'n maand.
Dit was teen die begin van die winter, of liewer gesê, teen die einde van die somer, dat ons Avonduur in 'n gemaklike motor, met Boy van Niekerk agter die stuur, bereik het. Die plaas was geleë aan die rand van die Hoëveld, aan die noordelike helling van die lang reeks berge en rante wat Hoëveld van Bosveld skei. Na die noorde was 'n oneindige uitsig oor die donker skadu van die Bosveld tot aan die deurskynende blou van die Waterberg-reeks. Na die suide was die rotsagtige rant, waardeur 'n gemaakte poort toegang tot die plaas gee. Avonduur was 'n ou aanleg, met enorme vrugteboorde, groot landerye, populier- en bamboesbosse, en om die huis, groot eike en ander skaduryke bome. Die huis was 'n gemaklike ou boerewoning, met breë verandas, 'n hoë stoep aan een kant en uitgestrekte vleuels. Rondom was die gewone buitegeboue gegroepeer. Voor die huis was 'n mooi blomtuin, met sifdraadheining teen vee beveilig, en een gedeelte van die voorste veranda was deur die ondeurdringbare groen gordyn van 'n digte grenadella beskut.
Op die trappies van die veranda is ons ingewag deur Boy se jong gade, Marie de Villiers, en net agter haar was die wonder-babatjie in die arms van 'n jong gekleurde vrou, maar so lig van kleur dat ek haar met die eerste oogopslag as 'n besondere donker, blanke brunet aangesien en byna met die hand gegroet het.
Mev. Van Niekerk was 'n baie aanvallige vroutjie; 'n bietjie treurig, maar baie mooi, met 'n digte bos kortgesnyde goue hare en 'n pragtige huidskleur, wat van kunsmatige hulpmiddels niks die minste van node had nie. Sy het ons met 'n blye laggie en die grootste aanvallige vriendelikheid welkom geheet.
‘Ek is bly, baie bly, dat u gekom het, kolonel De Ville, en u ook, dokter De Roubaix - hoe bly, kan ek julle nooit sê nie. Ek voel reeds die las van my hart gelig. O, kolonel De Ville,’ gaan sy skielik op baie ernstiger toon voort, ‘ons het 'n verskriklike tyd deurgegaan. Ek sidder om selfs daarvan te praat.’
‘Nou ja, geliefde,’ val haar man haar in die rede, terwyl hy haar met 'n meer dan gewone hartstogtelike kus begroet, ‘moet dan nie probeer nie. Nou ten minste is alles veilig. Sois de Ville en dr. De Roubaix sal die ding baie gou opklaar - dit weet ek seker; en dan sal ons self lekker oor al ons angs en vrees lag.’
Maar ek kon sien dat sy hoopvolle uiting grotendeels gemaak was om sy jong gade gerus te stel, en dat daar agter in sy oë nog steeds die skadu van 'n groot vrees skuil. Wat kon dit onder die son wees wat hierdie vreeslose held van honderde rugbyslagvelde so 'n vrees op die lyf kon jaag? Ek moet erken dat ek hierdie omgewing op Avonduur met die grootste nuuskierigheid en verwondering ingegaan het.
Ons is seremonieel voorgestel aan die wonder-babatjie, wat - ongewoond aan vreemde mense - haar koppie skamerig teen die bors van die jong donker vrou verberg het. Laasgenoemde was klaarblyklik net so trots op klein Marie
| |
| |
as die moeder en vader self, en dit was gedurende hierdie voorstelling dat my aandag vir die eerste maal op die jong Kleurlingvrou bepaal is. Ek het haar leeftyd op ongeveer twee- of drie-en-twintig jaar geskat. Sy was klaarblyklik afkomstig van 'n blanke vader en 'n swart moeder, of omgekeerd, en ek dink dat beide De Ville en ek 'n tyd lank verwonderd gestaan het oor haar verbasende skoonheid. Ek moet erken dat ek selde in my lewe 'n mooier meisie gesien het as Juanita Perreira (ons het haar naam eers later verneem). Sy had die eienaardige geelbruin vel met 'n onderlaag van pienk wat so dikwels in die Portugese halfbloed voorkom. Haar gelaatstrekke had niks van die inboorling nie. Die mond en lippe was fyn en die neus hoog en reguit soos by 'n egte Griekse tipe. Die hare was swart en van nature pragtig gekartel. Haar trotse laggie terwyl sy trag om die baba behoorlik ten toon te stel, was iets so aanvallig as 'n mens ooit in 'n meisie kon verlang. Ek kon merk dat die verhouding tussen haar en ons gasheer en -vrou veel meer intiem en, van haar kant, minder onderdanig was as wat 'n mens gewoonlik tussen bediende en heer verwag. Ons het later gehoor dat dit aan haar geskiedenis en opleiding te danke was. Haar moeder was die dogter van 'n ou naturel wat twee geslagte reeds op Avonduur as lyfeiene van die Van Niekerks woonagtig was. Die genoemde dogter van ou Radony het met 'n Portugese handelaar weggeloop en 'n paar jaar later met haar kind teruggekom. Haar ou vader het haar terug ontvang en dadelik 'n groot gehegtheid aan sy baster-kleinkind getoon, wat ten tye van ons besoek nog voortbestaan het. Die ou grootvader, Radony, was nog in lewe, maar Juanita se moeder was lank reeds dood.
Daar was een eienaardige wending in die lewensgeskiedenis van die jong halfbloed wat melding verdien, al is dit slegs ter wille van die sonderlikheid daarvan. Haar deugniet-rondlopervader was natuurlik 'n Rooms-Katoliek, en het sorg gedra dat sy dogtertjie behoorlik volgens die leerstellings van die Roomse Kerk gedoop is. Gedurende 'n reeks jare het hy beide moeder en dogter in die sorg van 'n Roomse klooster gelaat, waar die dogtertjie uiteindelik in hierdie geloof aangeneem is - dit geskied wanneer die kind ongeveer agt of tien jaar oud is - en ná haar vader se dood, toe sy en haar moeder na Avonduur en ou Radony moes terugkeer, kon Juanita lees en skrywe, en had sy reeds die opvoeding van 'n beskaafde blanke meisie van dieselfde ouderdom. Dit is vertel dat die nonne op haar verdold was en alles in hul vermoë gedoen het om haar toelating tot die orde te bewerkstellig. Maar hier het die moeder onverwags die beslistheid van 'n leeuin getoon. Niks kon haar van haar kind skei nie. Sy het die klein meisie na ou Radony se stroois teruggeneem en hier het Juanita die volgende jare van haar lewe soos 'n gewone inboorlingmeisie deurgebring.
Ek gaan op hierdie besonderhede in alleen om die sonderlinge karakterbou te toon wat so 'n afwisseling waarskynlik moet teweegbring. Tot haar tiende jaar in 'n omgewing so fyn en beskaafd as maar denkbaar is en dan tot haar vyf- | |
| |
tiende jaar - wanneer die karakter vir uitwendige invloede die vatbaarste is - in 'n stroois, tussen swartes. Die teenstelling is nouliks te besef.
Toe sy vyftien jaar oud was, het sy onder die aandag van Boy van Niekerk se moeder geraak. Soos ek reeds gesê het, was haar grootvader, ou Radony, 'n ou ‘woonkaffer’ op Avonduur, en ná haar moeder se dood het gerugte die woonhuis bereik wat mev. Van Niekerk daarvan oortuig het dat die meisie onmiddellik beter sorg nodig had as wat ou Radony kon verskaf. Juanita is as persoonlike bediende van mev. Van Niekerk na die groot huis gebring, waar sy die tweede maal tot die beskawing teruggekom het. Dit het toe geblyk dat ou Radony (wat toe reeds 'n hoë ouderdom bereik had) vir sy halfbloed-kleinkind al die verdoldheid voel van die meeste grootvaders jeens 'n enigste kleinkind. Hy het die klein skeiding wat hierdie verhuising van Juanita noodwendig moes teweegbring, so diep gevoel en betreur dat mev. Van Niekerk genoodsaak was om toe te stem dat Juanita haar grootvader al om die ander week besoek om drie of vier dae by hom deur te bring. Dit is merkwaardig dat die jong meisie teen hierdie reëling geen die minste afkeer had nie. Sy had haar swart grootvader net so lief as wat hy haar had en het haar besoek altyd gretig tegemoet gesien.
In verband met hierdie besoeke het mev. Van Niekerk mettertyd 'n sonderlinge gevolg opgemerk wat ek om die reeds genoemde rede graag hier wil aanhaal. Sodra sy in die kraal aankom, was Juanita geneig om al die tekens en bewyse van haar beskaafdheid ter syde te werp en vir die duur van haar verblyf 'n volstandige jong naturellevrou te word. In haar kleding, haar taal en gewoontes was sy, solank sy in die kraal van ou Radony vertoef, van 'n swarte nie te onderskei nie. Onnodig om te sê dat hierdie ongewenste verwisseling van natuur by mev. Van Niekerk die diepste weersin verwek het. Juanita had die gawe om haarself bemind te maak, en daar was spoedig 'n hegter band tussen haar en haar nooi dan gewoonlik tussen nie-blanke bediende en blanke gebiedster in ons land kan ontstaan. Mev. Van Niekerk het alles in haar vermoë gedoen om hierdie gedaanteverwisseling van Juanita te verhinder sonder om die maandelikse besoek uit te skakel, wat beide aan Juanita en aan die ou swartman onnodig pyn sou berokken. Sy het vir Juanita 'n spesiale huisie in die kraal laat bou, dit van ‘beskaafde’ meubels voorsien en Juanita altyd ten strengste verbied om gedurende haar verblyf in die kraal enige soort inboorlingklere aan te trek. Maar niks het gehelp nie. Sodra sy in die stat aankom, was die skoene, kouse, rok en kappie weg; sy was trots om voor haar ou grootvader in 'n bekraalde voorskoot en (ten minste in die winter) tiervelkaros te verskyn. Haar bedstede was 'n mat en die gewone nek-houtkussing van die inboorlingvrou. Geen bevele, geen oorreding had die minste uitwerking op haar nie. Al die ‘predikasies’ van haar nooi het sy met 'n vrolike laggie en 'n handwuif opsy gewaai.
En dan, sodra sy tot die woonhuis terugkeer, was sy weer in alle opsigte 'n
| |
| |
jong witmeisie - met al die gevoelens en gedrag wat met 'n hoë graad van beskawing gepaard gaan.
Hierdie sonderlinge verdubbeling van persoonlikheid was buite die ondervinding en buite die begrip van mev. Van Niekerk, en uiteindelik was sy verplig om Gods water oor Gods akker te laat loop, sover haar invloed Juanita kon raak.
Ek gaan uit my weg om hierdie eienaardige mens te beskrywe, ten eerste - soos ek reeds gesê het - om die uitsonderlikheid van so 'n geval in ons land, en ten tweede omdat sy een van die persone was, hoe ondergeskik haar rol ons ook al mag toegeskyn het, in die drama waarmee ons die middag op Avonduur kennis gemaak het.
Ek dink dat mev. Van Niekerk en Boy ons hierdie breedvoerige verhaal van Juanita se lewensgeskiedenis gegee het as 'n soort verontskuldiging vir die ongewone intimiteit wat tussen bediende en baas bestaan het, en wat hulle wis ons dadelik sou opmerk. Mev. Van Niekerk het bygevoeg: ‘U moet onthou dat Boy en Juanita byna as broer en suster in hierdie ou huis opgegroei het. Avonduur was destyds baie meer afgesonder as selfs vandag, en nòg die een, nòg die ander had enige ander speelmaat gehad. En Boy se moeder, gedurende haar laaste jare, het so aan Juanita geheg geraak dat sy haar byna as 'n dogter beskou het, nadat sy - voor haar dood - hulpeloos geraak het en gedurig van Juanita se hulp afhanklik was.’
Ons was dus vyf volwasse persone in die huis toe hierdie wonderlike drama op Avonduur begin. Daar was nog êrens op die agtergrond 'n swart vrou, in die kombuis in diens, wat af en toe verskyn het, maar so selde en so onopvallend dat sy nouliks 'n indruk op my geheue gemaak het.
Nou kom die moeilikste taak van alles - om jou 'n indruk te gee van die atmosfeer wat De Ville en ek dadelik gewaar het. Ek het jou reeds vertel dat ek gewonder het wat daar kon wees wat Boy van Niekerk ten tyde van sy eerste onderhoud met ons so senuagtig kon gemaak het. Hier op Avonduur het die verwondering met elke ondervinding toegeneem. Daar was 'n dampkring van angs, van vreesvolle verwagting wat gedurig opgeduik en aan ons sigbaar geword het: Op die groot veranda was 'n volle krygsbewapening uitgestal. Teen die muur was nie minder dan vier dubbelloopgewere nie, en van die voorste verandabalk hang 'n lang reeks lang kieries van die swaarste hout wat in naturelle-oorloë as 'n vername krygswapen beskou word. Waarvoor dit alles? Ons het Boy nie direk gevra nie, want ons kon sien dat beide hy en sy vrou tot ontboeseming ongeneig was. Toe ons dié aand aan tafel sit (met Juanita as flinke bediende agter die stoele en die swart vrou as aandraer uit die kombuis), toe raak Marie van Niekerk vanself weer die tot dusver vermyde onderwerp aan. Sy het haar byna uitsluitend tot De Ville gewend.
| |
| |
‘U weet, kolonel,’ sê sy, ‘dat my man verlang het dat ons u niks sou vertel van wat gedurende die laaste paar maande hier op Avonduur gebeur het nie. Ek het daarmee ingestem. U en dokter moet self eers sien ... dan sal ons alles vertel. Julle sal ons nie glo nie; julle sal dink ons is senuagtig-histeries. Maar sien eers self. O, kolonel De Ville, u kan nooit droom ... u kan nooit besef die gedurige angs wat soos 'n donker wolk oor hierdie huis hang nie. Ek kan u verseker dat ons nooit weet van welke kant die slag mag kom nie. Elke deur, elke donker hoekie, ons slaapkamer snags - oral mag die dood skuil - en in welke vreeslike gedaante! En, dokter,’ vervolg sy en wend haar tot my, ‘ek kan u verseker dat ek nie om myself, selfs nie om Boy, so beangs is nie. Maar wanneer ek dink dat my liewe klein engeltjie aan hierdie afgryslikheid blootgestel is, dan kan ek haar eenvoudig opgryp en weghardloop!’
Hier, tot ons verbasing, lê Juanita, wat agter haar stoel was, haar hande op Marie se skouers.
‘Nonnie! Nonnie!’ sê sy sag en gerusstellend, ‘u weet dat klein Marie veilig is. Hoe kan iets met haar gebeur? Ek het u baie vertel dat sy veilig is. Ek dink nie dat een van ons in groot gevaar is nie; maar die kleinnonnie die minste van almal. Jy maak my bang, Nonnie, as jy so te kere gaan oor die kleinnonnie, en ek moenie bang wees as ek haar wil beskerm nie.’
‘U sien,’ sê mev. Van Niekerk tot ons, ‘hoe dit hier gesteld is. Ek weet dat jy reg is, Juanita’ (gaan sy met 'n sug voort), ‘maar ek kan dit nie help nie. Hoe kan ek dit help, of my angs geheel en al wegsteek. Selfs jy is ook bang ... jy is nou bang!’ sê sy met 'n vingerwysing van beskuldiging.
‘Maar dit is jy, Nonnie, wat my bang maak! Die seur doen dit nie ... Dit verswak ons almal.’
Dit was Boy wat 'n einde aan hierdie wending van ons tafelgesprek gemaak het.
‘Jy sal gou genoeg begryp, Sois, waarom die vroumense in so 'n toestand verkeer. Maar jy moet dit self beleef, anders sal jy ons miskien nie kan help nie - as jy van ons verhaal alleen afhanklik moet wees. Juanita, gaan agtertoe!’
Die meisie het dadelik in die kombuisgang verdwyn en dié aand het ons haar nie weer gesien nie. Een ding het ek egter opgemerk wat 'n diep indruk op my gemaak het: net toe sy omdraai om die eetkamer te verlaat, het ek 'n skielike, vlugtige uitdrukking van nyd, van kwaadaardigheid op haar gesig gesien, maar - en dit het my die meeste verwonder - dit was gerig nie tot Boy, wat haar die bevel gegee het nie, maar tot mev. Van Niekerk wat sy net tevore byna omhelsend getrag het om gerus te stel. Met kop omhoog en die gang van 'n vorstin het sy die eetkamer verlaat, sonder om ons weer een keer aan te kyk.
Ek dink dat ek jou min of meer duidelik gemaak het wat die atmosfeer was wat ons dié dag op Avonduur gewaar het. Die geestelike toestand van ons gasheer en sy gade is spoedig op ons twee oorgedra. Ons het gevoel dat daar iets
| |
| |
dreigends was, dat 'n donker skadu oor Avonduur rus, wat des te meer senustorend was omdat ons geen die minste besef had wat dit was of van waar dit mag te voorskyn kom nie. Ons het dit byna as 'n saak van eer gevoel om niks te vra nie, hoe nuuskierig ons ook al was. Toe ons die eerste nag gaan slaap, het De Ville 'n uur of so in my kamer gesit en die saak bespreek, maar die uiteinde van sy bepeinsing was: ‘Ek kan nie dink wat dit kan wees nie. Toorkuns, het Boy gesê. Maar dit kan enigiets wees. Nou ja, ons sal sien.’
En toe ten laaste moes daar iets gebeur wat gestrek het om ons eerste nag op Avonduur byna slaaploos te maak. Net voordat ons vir die nag afskeid van mekaar neem, was daar 'n sagte geklop aan die deur. Dit was Boy wat binnetree en ons fluisterend toespreek: ‘Ek wil my ou vroutjie nie onnodig angstig maak nie. Sy moet nie weet dat ek julle besoek het nie.’
In elke hand had hy 'n dubbelloopgeweer wat hy klaarblyklik van die stoep gehaal het. ‘Ek sal bly wees,’ vervolg hy op 'n geheimsinnige fluistertoon, ‘as elkeen van julle een van hierdie gelaaide geweers langs jul bed wil hou. Dit is nie nodig om julle te vra om dit nie onnodig of op gevaarlike wyse te gebruik nie. Maar dit mag nodig wees. Ons weet nooit wanneer dit mag nodig wees nie.’ En toe plaas hy een geweer sorgvuldig langs my bed en die ander oorhandig hy aan De Ville.
Ek glo nie dat ek dié nag 'n uur geslaap het nie, maar niks het gebeur nie. Avonduur was gedurende die nag in die diepste stilte gehul, met uitsondering van 'n jakkalskoor wat af en toe uit die berge hoorbaar was.
En nou moet ek jou vertel van ons eerste ondervinding van die ‘towery’. Dit was die aand van ons tweede dag. Ons had dié dag die boorde en landerye onder begeleiding van Boy besoek. Ons kon nie ver of vinnig loop nie, want De Ville het nog maar baie met sy gewonde bene gesukkel. Die aand was ons by die krale en koeistalle om die vee te sien tuis kom, en net voor ete het ons op die stoep gaan sit, waar Juanita ons elkeen met 'n sopie Avonduur-brandewyn bedien het. Die dubbelloopgeweers, het ek opgelet, was weer op die stoep terug. Ons het in die hoek van die veranda gesit wat met die grenadella byna toegegroei was. Ons drie mans was aan die een kant gegroepeer, en in die hoekie, in 'n groot leunstoel, het mev. Van Niekerk gesit, agteroor geleun, met haar hande agter haar hoof saamgevou. Die son was net onder, maar dit was nog taamlik lig. Marie het nie met ons saamgedrink nie. Ek kon nie help om op te let dat Boy baie onrustig was nie - 'n toestand wat hy getrag het om van ons weg te steek deur 'n reeks gemaakte grappies en vinnige gesels, en die enigste gevolg was om ons twee nog senuagtiger te maak. Hy het van alles gepraat behalwe die een saak wat De Ville en my na Avonduur gebring het. So gedwonge egter was ons gesprek dat 'n onvermydelike stilte af en toe oor die groepie gesak het. Ek kon Marie se gesig nie mooi sien nie, want sy was met haar rug gekeer na die weinig lig wat van die westerhemel deur die grenadella straal. Haar gesig was
| |
| |
derhalwe in die skadu. Maar haar stille houding het my die indruk gegee dat sy die bedaardste van ons vier is.
Dit was gedurende 'n stilte in ons gesprek dat dit gebeur het. Boy uiter skielik 'n aaklige, benoude skreeu, asof iemand onverwags sy keel toedruk. So vinnig was sy daaropvolgende bewegings dat ek hulle nouliks in behoorlike volgorde in my geheue kan terugroep. Tegelyk met die skreeu smyt hy sy glas op die vloer, waar dit in honderd stukke rondspat. Hy was orent uit sy stoel; met die een hand gryp hy 'n uitgestrekte arm van sy vrou en met die ander, een van die geweers wat agter hom teen die muur staan. Met soveel geweld ruk hy Marie uit die leunstoel dat sy agter hom op die vloer sou neergestort het indien ek haar nie met 'n arm om haar lyf gevang en teen my vasgedruk het nie.
‘Kyk! Kyk!’ skreeu hy en wys met een vinger na die hoekie waar Marie se leë stoel staan. Oor die leuning van die stoel hang haar jas, wat sy vroeër uit die huis gebring het, met die opmerking dat dit saans so vinnig koud word dat sy dit weldra hier op die stoep sou nodig kry. Soos ek jou vertel het, was die hoekie dig toegegroei deur die grenadella wat die tralies van die veranda aan die een kant bedek. Die laaste lig uit die rooigekleurde weste was nog in kolle en stroke deur die donkergroen lommer van die grenadella sigbaar. Origens was die hoekie in donker skadu gehul.
Ek wil jou graag hier vertel presies wat ek gesien het, maar jy sal lig begryp dat ek vreeslik geskrik het. Ons het almal vreeslik geskrik. Ons was reeds tot 'n toestand van die hoogste senuagtigheid opgewen deur die geheimsinnige dampkring van ons omgewing. Daartoe het die geestelike toestand van Boy en Marie natuurlik bygedra, en die toenemende duister, die aandstilte om ons heen, het die toestand tot 'n krisis vervoer nog voordat iets gebeur het, en toe boonop val Boy se gedrag as 'n donderslag op ons uit die bloue hemel. Wat ek gesien het? Luister dan.
In die digte blare van die grenadella, waar Boy wys, sien ek 'n stadige, aaklige, senuskokkende beweging. Wat dit was, kon ek nie uitmaak nie. Die voorwerp wat die beweging veroorsaak het, was self donker, en dit was so in die duister van die grenadella gehul dat dit onmoontlik was om die vorm of gestalte uit te maak. Ek het my verbeel dat ek 'n swart gesig sien wat deur sluwe bewegings trag om 'n loergat deur die blare van die grenadella oop te skuiwe. Dit was die eerste en laaste indruk wat ek gehad het. En toe was daar 'n geweldige uitbarsting - 'n oorverdowende ontploffing wat my byna van my voete ruk. Boy had altwee lope van die geweer gelyk afgetrek en 'n rokende gat deur die grenadella geblaas, ongeveer vier duim bo die plek waar die bewegende voorwerp verskyn had.
Onmiddellik ná die skoot gooi hy die geweer neer, gryp een van die lang kieries en begin die grenadella soos 'n waansinnige verder stukkend te slaan, onder 'n stroom van vloeke en uitskelwoorde. Toe hy ná 'n tyd weer tot bedaring
| |
| |
kom, was hy uit-asem en sy gesig blink van die sweet. Die doel van al sy woede het verdwyn. Ons drie mans het kieries gegryp en om gehardloop om die ontvlugting van hierdie sluwe besoeker te verhinder. Maar in die blomtuin was daar niks te sien, niks te hoor nie. Alles was doodstil. Ons bekruiper het spoorloos verdwyn.
Gedurende ons soekery het Boy, opgewonde, een vraag gedurig aan ons gestel: ‘Het julle gesien? Het julle gesien?’ Maar dit is juis wat ons nie gedoen het nie! Ons het gesien, maar geeneen van ons wis wat ons gesien het nie.
Toe ons 'n paar minute later in die eetkamer vergaar, het hy sy ondersoek op meer bedaarde wyse voortgesit: ‘Vertel my, Sois, presies wat jy gesien het,’ vra hy aan De Ville.
‘Dit is eenvoudig genoeg,’ was die antwoord, ‘ek het niks hoegenaamd gesien nie. Ek het my verbeel dat ek 'n roering in die blare gehoor het; maar daarvan is ek glad nie seker nie. Dit kon 'n vlagie wind gewees het.’
‘En jy, Paul?’ vra hy aan my. Ek het hom kortliks vertel wat ek reeds beskrywe het. ‘Ek het my verbeel dat ek 'n gedeelte van 'n donker gesig sien - soos die gesig van iemand wat deur die blare probeer loer. Maar dit was alles baie vlug en baie onduidelik.’
‘En jy, Marie - het jy niks gehoor voordat ek die alarm gegee het?’
Marie was nog doodsbleek van die geweldige skrik wat sy moes ondergaan het. Haar lippe was nog aan 't bewe, en dit het haar klaarblyklik moeite gekos om bedaard oor die voorval te praat.
‘Ek het verskeie male 'n geritsel in die blare gehoor - maar dit het skaars my aandag getrek; ek kan my nouliks duidelik herinner dat ek dit gehoor het. Ek het dit natuurlik aan die wind toegeskrywe, en dus geen ag daaraan gegee nie.’
Ons gasheer het ons elkeen 'n dop brandewyn opgedring en het self ook een gedrink, waarna ons om die tafel gaan sit het om die saak nogmaals te bespreek.
Ek onthou dat De Ville by dié geleentheid weer daarop aangedring het dat Boy alles vertel wat hy vermoed en alles omtrent hul vorige gewaardings. Maar hy het - baie beleefd en vriendelik, maar tegelyk baie beslis - ons weer versoek om hiervan af te sien totdat ons self ontwyfelagtige bewys had van wat daar op Avonduur aangaan.
‘Julle sien, ons staan nog maar net waar ons was toe ek julle in die stad geraadpleeg het. Geeneen van julle het enige bewys van die waarheid van wat ek sal moet vertel nie; en sonder persoonlike bewys sal dit moeilik wees om ons storie in alle besonderhede te glo; en tensy julle ons storie glo, sal julle ons nie kan help nie. Ek vra julle as ou en getroue vriende om net 'n bietjie geduld te gebruik. Dit sal gou weer kom - dit ten minste kan ek julle belowe.’ En toe lê hy sy hand op De Ville se skouer en gaan in die diepste erns voort: ‘Sois, jy ken my van kleins af, en ofskoon ons mekaar baie jare nie gesien het nie, is ek daar seker van dat jy my nog goed genoeg ken om te weet dat ek nie liggelowig sal
| |
| |
wees nie; dat ek nie geredelik 'n kinderstorie as waarheid sal aanneem nie; dat ek nie bygelowig is nie. Ek is ten minste nie meer 'n kind nie, en beskik oor 'n gewone mate van gesonde verstand, en ek dink nie dat ek lafhartiger as die meeste mense is nie; maar ek gee julle my plegtige woord dat hier iets op Avonduur aan die gang is wat my dronkslaan, wat al my ondervinding ver te buite gaan. Weet julle hoe ernstig ek was net voordat ek julle geraadpleeg het? Ek het besluit om Avonduur te laat vaar - om die ou familieplaas, waaraan ek diep geheg is, teen enige prys te verkoop en 'n lewe van armoede en gedurige strewe tegemoet te sien - want dit sal ongetwyfeld die gevolg wees as ek Avonduur nou moet prysgee teen die geringe prys wat ek nou vir my grond sal kry. So ernstig was dit met ons gesteld! Ons is omsingel deur 'n verbitterde, nydige vyandskap, wat gedurig op die loer staan om ons te vermoor, en ons weet nie wat dit is en van waar dit kom nie. Julle weet ek het van towery gepraat - nou ja, julle sal self sien.’
Ek onthou dat hy gedurende 'n tydelike afwesigheid van sy vrou, ons haastig nog dit toegefluister het: ‘Een ding vra ek julle om op te merk en te onthou: die gevaar - as daar vanaand gevaar was - was meer bepaald teen Marie gerig. Dit is te sê, as daar 'n aanval plaasgevind het voordat ek haar uit die stoel geruk het, sou sy die slagoffer gewees het. Onthou dit en vergelyk dié feit met wat julle self op Avonduur sal ondervind, en vergelyk dit ook met al die voorvalle wat ons later aan julle kan beskrywe.’
‘Wat bedoel jy eintlik hiermee, Boy? Dit ten minste kan jy aan ons verduidelik.’
‘Ek meen net dit,’ was sy plegtige antwoord, ‘dat hierdie donkere en geheimsinnige vyandskap teen my vrou en teen niemand anders op Avonduur gerig is nie. Al wat hulle soek, is om haar van die lewe te beroof.’
Ek weet voorwaar dat ons tweede nag op Avonduur rusteloser en senuagtiger was as ons eerste, en dat De Ville en ek baie min geslaap het. Die suggestiewe krag van al wat ons deurgegaan en tot dusver gehoor had, het 'n onvermydelike uitwerking op ons gemoedere gehad. Ons het altwee gevoel asof ons in 'n wolk van geheimsinnigheid wandel; dat ons enige minuut geroepe mag word om 'n gevaar te bekamp wat ons uit die donker bedreig. Ons het dieselfde gevoel gehad wat jy ondervind as jy donker bosse in die nag moet deurgaan waar kort tevore leeus aan alle kante gebrul het en nog altyd aan 't blase is.
Die volgende oggend het 'n nuwe gas onverwags by Avonduur opgedaag. Dit was 'n ou heer Dirk Brink, van wie ons baie male gehoor, maar nooit tevore ontmoet het nie. Dit was sy noodlot om 'n sonderlinge rol in die drama van Avonduur te speel, en daarom is dit wenslik om hierdie eienaardige karakter 'n bietjie breedvoerig te beskrywe. Die ou heer was destyds ongeveer sewentig jaar oud. Hy was nooit getroud nie en het sy hele lewe aan die studie van diere gewy. Hy het die wonderlike gawe besit om alle wilde diere binne 'n kort tyd
| |
| |
mak te maak, en by die skuuste soveel vertroue te skep dat hulle hom nie alleen as beskermer nie, maar dikwels as beminde vriend beskou het. Ten tyde van hierdie besoek aan Avonduur was hy woonagtig op 'n eensame en afgeleë plasie diep in die berge. Boy van Niekerk was sy naaste - en feitlik sy enigste - buurman, en daar het spoedig tussen die ou heer en die Avonduur-gesin 'n band van liefde ontstaan wat hom die status van 'n beminde bloedverwant op Avonduur verskaf het. Nooit was iemand meer welkom as oom Dirk nie - hoewel sy besoeke meestal seldsaam en kortstondig was. Op sy plasie had hy 'n menigte wilde voëls van alle soorte so mak gemaak dat hy hulle elke oggend op sy stoep moes voer. Ook had hy klipbokkies, dassies, rooihase en 'n menigte ander diere wat die vryheid van sy woning besit het, en hom op alle ure van die dag en nag besoek het. Sy besoeke kon nooit lank duur nie, want sy diere had sy sorg nodig - dit was altyd sy ekskuus.
Ek glo nie dat ek ooit 'n meer beminnenswaardige mens ontmoet het dan oom Dirk Brink nie - sodra jy al die eienaardige klein wendings van sy karakter verstaan het. Maar wat ek persoonlik die meeste in hom bewonder het, was sy wonderlike natuurkennis. Sy intieme omgang met wilde diere gedurende 'n lang leeftyd het hom 'n kennis en begrip van hul gewoontes en sielelewe verskaf wat baie geleerdes hom seker sou beny het.
Hy was 'n groot, forsgeboude man met spierwit baard en hare, en 'n gedurige glimlaggie op sy gesig.
Ek het dadelik opgemerk dat die ou heer teleurgesteld was om ons op Avonduur te vind. Hy was 'n eensame ou kluisenaar, en ek dink dat hy liewer Marie en haar man alleen sou wou gehad het gedurende sy besoek. Ook was dit gou duidelik dat die baba - klein Marie - die groot attraksie is. Dit was belaglik om al die planne en ekskuse van die ou heer te gewaar wat hy op tou had om die baba in die hande te kry! Hy had in Juanita Perreira 'n laggende en spottende teenstander, want sy had gou sy swakheid ontdek, en dit het haar die grootste genoeë verskaf om die ou man te terg deur klein Marie op allerhande voorwendsels buite sy bereik te hou; en hy het baie van die jong halfbloed verdra want, ofskoon hy haar gedurig uitgeskel en woordeliks aangeval het, was dit duidelik dat Juanita haar mantel van betowering ook oor oom Dirk gewerp het. Op alle ure kon ons haar vrolike gelag hoor, en die gebrom van die ou heer tussendeur, terwyl sy hom pla of uitlag.
Hier was nou al die karakters versamel wat voorbestem was om deel te neem aan die klein drama van Avonduur.
Ek kan nie sê die eerste deel van ons verblyf op Avonduur was juis plesierig nie. Die omgewing en die gesin waarvan ons deel uitgemaak het, was aangenaam genoeg, maar die aaklige atmosfeer van geheimsinnigheid en die klaarblyklike toestand van voortdurende vrees waarin Boy en sy vrou verkeer het, het saamgespan om ons eerste dae en nagte op Avonduur onaangenaam span- | |
| |
nend te maak. Om openhartig te wees en geen mooi woorde te besig nie: ons was altwee taamlik bang. Die nagte meer bepaald was hoogs onaangenaam. Ons was spoedig in so 'n toestand van senuagtigheid dat elke geluid in die nag ons met skrik gewek het, en selde het 'n nag verbygegaan dat ek De Ville nie verskeie male in sy kamer besoek het om die een of ander ongewone geluid te bespreek nie.
Twee dae ná die voorval op die veranda was daar sekere insidente wat ek hier wil beskrywe omdat hulle 'n uitwerking op die denouement gehad het.
In die eerste plek het ons verneem dat die ou heer Brink die omgewing so onaangenaam gevind het dat hy besluit het om ons die volgende dag te verlaat, en Boy van Niekerk het die ou goed genoeg geken om hom nie te probeer ompraat om langer te bly nie. Boy het hom niks van al die geheimsinnige gevaar vertel nie. Hy het hom ook genoeg geken om te weet dat hy al hul vrees sou bespot en uitlag en dat hy derhalwe eerder 'n hindernis as 'n bron van hulp sou wees. Hy het net een oggend botweg verklaar dat hy na sy voëls en bokkies teruggaan.
De Ville, oom Dirk en ek het ooreengekom om die dag voor oom Dirk se vertrek in die berg agter die opstal te gaan wandel. Ons kon nie ver gaan nie en ons moes stadig loop ter wille van De Ville se nog steeds hinderlike wonde. Boy is deur een of ander dringende plig verhinder om ons te vergesel. Dit was 'n heerlike oggend van skitterende sonskyn en 'n bergwindjie so kouerig dat die warmte van die onbewolkte son meer dan aangenaam was.
Die bergvoet het 'n aanvang geneem binne een myl van die huis. Die helling gaan met soveel verdrag dat ons skaars die klim gewaar het voordat ons taamlik hoog tussen die rotse was. Die voet van die berg is bestrooi met enorme rotse wat in vorige eeue uit die hoë kranse neergestort het, en elke opstapeling van klippe is ruig begroei met stamvrugte, wildeperskes en ander berggewas, wat 'n natuurlike rotstuin hier skep van wonderlike skoonheid. Tussen die magtige rotse deur gaan verskeie veevoetpaadjies na die hoogtes, en dit was een van die kronkelende weë wat ons gevolg het. Binne 'n paar tree was ons uit gesig van die woonhuis, want die gevalle rotse maak hier 'n ware doolhof, wat nou en dan die gehele landskap onder uit gesig voer.
Ons het ongeveer 'n halfuur stadig geloop toe ons onverwags op 'n klein gelykte uitkom met vier strooise in 'n sirkel teen die agterste rotswand. Dit was 'n pragtige klein paradys, van die wêreld deur 'n wildernis van opgestapelde klippe heeltemal afgesny en beskerm. Reg voor ons was 'n taamlike groot en netjies gemaakte huis met 'n digte rietskerm omsingel, sodat ons vir eers slegs die dak van die huis kon sien. Van agter die skerm styg 'n blou spiraal van rook in die stille lug omhoog, want hier tussen die magtige rotse was geen teken van die koue wind wat ons nog hoog bo ons kon hoor rumoer nie.
Ons het al drie verwonderd net binne die groot natuurpoort gaan staan. Maar dit was nòg die onverwagte skouspel, nòg die verbasende skoonheid van
| |
| |
die omgewing wat ons so verras het. Dit was iets geheel anders wat ons in luisterende houding tot stilstand gebring het. Vanuit die skerm hoor ons 'n mensestem met begeleiding van die een of ander snaarinstrument sing. Dit was ongetwyfeld 'n vrou wat sing, in 'n pragtige, helder sopraanstem. Ek dink die omgewing het daartoe bygedra om vir ons die lied van die onsigbare sangeres te verheerlik: die helder, koele môrestond; die groen kweekbegroeide gelykte om ons heen; die afsluiting van wild opgestapelde rotse wat die stilte en eensaamheid van die berge vermenigvuldig, het alles daartoe bygedra om die skone stem en eienaardige lied in iets sprokieagtigs te omskep. Nadat ons 'n tydjie verwonderd geluister het, was ek die eerste om na die poort van die skerm aan te stap; ek moes sien watter swart vrou dit is wat so mooi kon sing, en watter lied en taal dit is wat sy besig.
Nooit sal ek die skouspel vergeet wat ons hier verras het. Toe ons in die skerm verskyn, was daar onmiddellike stilte. Ons koms het die sangeres net soveel verras as wat sy ons tot verwondering vervoer het. Voor ons was twee taamlike groot hartbeeshuise in plaas van die gewone strooise wat ons te wagte was - een veel groter as die ander, maar altwee van dieselfde boustyl. Langs die deur van een huis sit op die grond met uitgestrekte kaal bene 'n ou inboorling, so oud dat sy kop wit is, en dat hy ons met toegeknypte oë moes betrag. Hy was slegs in 'n hemp geklee, met 'n jakkalsvel-karos om die skouers en 'n versameling leer- en velsakkies voor sy bors wat aan 'n dik geel koperhalsring vas was. Hy was klaarblyklik 'n ou toordokter wat nog trou gebly het aan die ou gewoontes en gelowe van sy ras en amp. 'n Paar tree van hom af, teen een van die ruigste rotsstapels van die natuurlike skutmuur, was ons wonderlike sangeres. Hoe sal ek haar beskrywe om die verbasende beeld lewendig te maak. Dit was 'n jong donker vrou wat ons voor ons sien. Sy sit op 'n seepkissie of ander voorwerp van dié aard, met 'n inboorling-ghitaar in die hand. Haar musiekinstrument was eenvoudig genoeg: dit was vervaardig uit 'n lampolieblik met gedraaide seninggaring as snare. Haar bolyf was heeltemal nakend, behalwe 'n tiervel wat agter om haar skouers geslinger was. Om die heupe was gebreide beesvel-voorskote wat tot aan die knieë reik. Haar hele mondering was met skitterende krale uitgewerk, en om hals, arms en enkels was die gewone versameling koper- en ysterringe. Sy staar ons geruime tyd verbysterd aan, en ek dink nie dat ek ooit in my lewe iets so mooi en so passend by die wilde natuuromgewing gesien het nie. Haar huidskleur was 'n eienaardige ligte bruingeel, so lig dat die blos wat haar voorhoof en wange gelyktydig met ons verskyning, bedek het, helder deur die satyngladde vel skyn. Haar gelaatstrekke was Europees met geen aandenking van haar naturelle-herkoms
sigbaar nie. Die lyne van buuste, arms en bene was beeldskoon. Ons het haar nie geken nie - ek seker mins van al drie - totdat De Ville met verbasing haar naam uitroep: ‘Juanita! Wat doen jy hier?’
| |
| |
Indien ons tekens van beskroomdheid of skaamte oor die meer dan tentoongestelde liggaam verwag het, was ons seker teleurgestel. Sy het ongetwyfeld 'n weinig gebloos, maar nie meer dan 'n mens sou te wagte wees by enige jong meisie ná 'n skielike ontmoeting nie. Daar was nie die minste beweging of poging om die boesem te bedek nie; daar was in hierdie opsig die volstandige natuurlikheid van die gewone swart vrou. Haar houding, haar gebare, die nadrukskeppende geluide wat haar woorde vergesel, was dié van 'n gewone inboorling.
Die verbasing wat hierdie verandering en teenstelling by ons gewek het, sal lig begrypbaar wees. Tot die vorige aand nog het ons Juanita Perreira gesien en geken as 'n welopgevoede, fyn geklede jong Europese meisie, mooi genoeg om die opmerksaamheid van enige jong man dadelik gaande te maak, en hier was sy - soos deur 'n towerslag - in 'n primitiewe inboorling omgeskep.
Sy beantwoord De Ville se uitroep met 'n skel gelag, waarvan die geluid alleen genoeg sou gewees het om haar as 'n naturel te bestempel. Dit was wonderlik om so 'n verandering te sien wat selfs tot die stem en kleinste gebare kon deurdring. Juanita was 'n jong swart vrou so volmaak dat die weerga van haar grimering tevergeefs op enige toneel van die wêreld gesoek sou word.
‘Ek kom my oupa besoek,’ sê sy, en met 'n handwuif dui sy die ou swarte langs die deur aan, wat ons nog steeds mompelend en met geknypte oë sit en bekyk.
Mev. Van Niekerk had ons reeds van hierdie besoeke en tydelike gedaanteverwisselings vertel, wat uit die tyd van Boy se oorlede moeder dateer. Maar 'n verandering van hierdie aard was geeneen van ons seker te wagte nie. Ek dink stellig dat De Ville gedurende hierdie onderhoud veel skamer en meer bedeesd was as Juanita!
‘Maar, Juanita! ... hoe ... waarom ...’ gaan hy stamelend voort. Ek dink hy wou haar vra waarom sy so aantrek, en haar so gedra, en hy was skielik te skaam om sy vraag in woorde te stel!
Juanita lag weer skel, met 'n snerpende klik van die tong.
‘Die baas weet dat ek 'n kaffermeid is,’ sê sy nadruklik en sonder die minste teken van beskroomdheid. ‘Hierdie ou is my oupa, wat my opgepas het toe my mamma hier dood is. Ons twee is nog al wat oorbly. Die ou is al so oud dat hy nie meer goed dink nie en hy treur nes 'n kind as ek hom nie kom besoek nie. En ek het hom ook lief, want hy is my oupa, en ek kan nie hier by hom kom woon met die witmens se klere aan en die witmense se taal nie.’
‘Maar dit was tog in die witmens se taal wat jy netnou gesing het,’ sê De Ville, ‘dit was seker g'n inboorlingtaal nie. Ons het jou liedjie afgeluister, Juanita. Dit was baie mooi.’
Elke antwoord van haar is deur die gewone betekenislose, skelle gelag begelei.
| |
| |
‘Die seur moet weet dat my vader Portugees was, en vandat ek baie klein was, het die Portugese nonne my opgepas en opgevoed. My moeder het ook toe Portugees leer praat. Dit was die eerste taal wat ek kon praat. Ek het in die begin Engels as 'n vreemde taal onder die nonne geleer; en nog later Afrikaans, toe die oorlede ounooi Van Niekerk - Boy se moeder - my aangeneem het. Die nonne het my baie Portugese liedjies leer sing. Hulle het 'n menigte pragtige volksliedjies, en nou nog as ek 'n liedjie maak, dan kom dit vanself en as iets natuurliks dat ek dit in Portugees doen ... Dit is 'n baie mooi taal, seur. U weet dit besit al die skoonheid van Spaans, Frans en Italiaans - die verwante tale.’
Ek herinner my dat veral twee dinge my gedurende haar gesprek in haar inboorling-gedaante opgeval het: eerstens dat sy altyd van Boy van Niekerk as ‘Boy’ praat, sonder enige eerbiedstoevoegsel hoegenaamd; en tweedens, die verbasende snelle deurslag tot sinne en uitdrukkinge wat haar hoë opvoeding en fyn beskawing duidelik weerspieël.
‘Was dit 'n liedjie wat jy self gemaak het, Juanita?’ vra De Ville saggies, asof hy bang was om haar te verskrik en van sy doel afkerig te maak.
‘Ja, seur, dit is een wat ek twee of drie maande gelede gemaak het om klein Marie aan die slaap te sing. Ek maak dikwels wiegeliedjies. Ek ken ook verskeie wiegeliedjies in Portugees - maar hierdie een was een van my eie. Boy en die nonnie Marie het my dit vir hulle laat sing omdat hulle van die wysie gehou het. Die woorde kan hulle natuurlik nie verstaan nie.’
Toe, op De Ville se versoek, het Juanita die liedjie gesing, en nadat sy klaar was, het hy haar beleefd gevra om die woorde vir hom in sy sakboek op te skrywe, wat sy dadelik gedoen het. Met haar hulp het ons daar en dan die liedjie in Afrikaans omgesit. Die meeste van die rym, en al die ritme was Juanita se werk, en sy moes natuurlik sorg dat die woorde by die musikale ritme pas. Hier dan is die lied (wat so 'n belangrike rol in ons drama moes speel) soos Juanita dit twee of drie dae later - ná haar terugkeer na Avonduur - finaal verander en verbeter het:
O Diep rivier, o donker stroom!
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
die lem van liefde wroegend in my hart?
- In jou omhelsing eindig al my smart;
blus uit, o Diep Rivier, die vlam van haat,
- die groot verlange wat my nooit verlaat.
ek sien van ver die glans van staal en goud,
ek hoor die sag gedruis van waters diep en koud.
ek hoor jou stem as fluistering in 'n droom.
kom snel, o Diep Rivier, o donker stroom.
| |
| |
Op ons versoek - ten minste die versoek van De Ville en myself - het sy die liedjie in Afrikaans weer gesing. 'n Gedeelte was 'n soort resitatief, uiters treurig en vol onbevredigde verlange. Ek herinner my die grootse indruk wat haar houding op my gemaak het toe sy langs De Ville staan om oor sy skouer die woorde van die lied in die sakboek te volg. In die gloed van sonlig wat haar bestraal, het die gladde brons van haar vel, gepaard met die skone lyne van haar liggaam, die indruk van 'n vorstelike metaalbeeld gegee. Die diepe droewigheid van die melodie en die sagte stemveranderinge het die oortuiging gelaat dat 'n diep belaste hart hier uiting in musiek vind. Maar haar houding en gedrag het hierdie indruk geloënstraf. Sy het die lied met 'n vrolike lag beëindig.
‘Dit is moeilik om in 'n ander taal weer te gee wat jy werklik bedoel,’ sê sy.
‘En wat beteken dit eintlik, Juanita?’ vra De Ville op sy sagste toon, ‘wat is die Diep Rivier waarvan jy so treurig sing?’
‘Vra jy haar wat dit beteken?’ val die ou heer Brink sarkasties tussenin. ‘Kan jy nie sien dat dit alles onsin is nie?’ en ernstiger tot Juanita: ‘Skaam jy jou nie om so voor mans te verskyn nie? Vind jy daar plesier in om jou as 'n kaffermeid voor te stel, jy wat die opvoeding en gewoontes van 'n witmeisie ken?’
Dit het Juanita so laat lag dat sy 'n tyd lank nie kon antwoord nie. Weer het ek opgemerk dat haar gelag, gepaard met die eienaardige buigings van haar romp, al die tekens van die naturel weergee.
‘Hoor hoe praat die ou seur. Is ek dan nie 'n kaffermeid nie? Kyk die kleur van my vel!’ en sy strek haar blote arms langs die oubaas se hand uit. ‘Dit is my oupa wat daar sit, en wat sal hy dink en hoe sal hy voel as ek hom besoek in die kleredrag en met die gewoontes van 'n wit meisie? So sal ek nooit met hom kan omgaan nie. Nee, ou seur,’ gaan sy in 'n skielike toon van bitterheid voort, ‘ek vergeet nooit dat ek 'n kaffermeid is nie. As ek dit soms wel vergeet, dan herinner die witmense my gou genoeg daaraan. Ek moet op my plek bly. Ek moet oppas dat ek nooit 'n witmens werklik liefkry nie - dit is ongeoorloof. Daarom sorg ek dat ek elke nou en dan van my liewe ou kleintjie geskei word. Selfs my liefde vir klein Marie mag net tot 'n sekere lyn strek; daarná moet ek oppas! Wat ek ook al voel, durf ek nooit wys nie. Ek het klein Marie net so lief asof sy my eie kind is; maar u het seker al opgemerk dat ek sulke liefde nooit vertoon nie. Ons met swart bloed in ons are word veronderstel om anders te dink en te voel as witmeisies; en ek trag altyd om dit na te leef, want ek weet dat 'n oortreding van hierdie witmens-wet my dadelik in die diepste ongelukkigheid sal dompel.’
Daar was nou geen teken van treurigheid nie. Haar gemoed was skielik vol van 'n trotse bitterheid, wat De Ville dadelik getrag het te versag.
‘Maar jy het my nog nie vertel wat jou lied beteken nie, Juanita,’ sê hy weer ewe sagmoedig.
‘Sien die seur nie,’ was haar antwoord, ‘dat sodra iemand die betekenis van
| |
| |
'n lied of 'n gediggie vra, dan is dit onmoontlik vir hom om dit ooit te verstaan. Ek kan dit nie in gewone woorde verklaar nie; en as julle dit nie vanself begryp nie, sal my uitleg niks help nie.’
Daar het die saak vir eers geëindig.
‘Alles pure onsin,’ brom ou Dirk Brink, en toe ons die skerm verlaat, gaan hy voort: ‘Sien julle nie dat die meidjie 'n strepie het nie? Sy sou nooit anders haarself so mismaak nie. Dit val nie in die natuur nie. En as sy 'n strepie het, dan, voorwaar, vra julle verniet na die betekenis van al haar uitlatings. As ek Boy en Marie was, sou ek meer sorg dra hoedat sy toegelaat word om met die baba om te gaan.’
En so is ons voort om 'n paar honderd tree bo die laaste rotse te gaan sit en rus. Daar was van hier 'n wonderlike uitsig oor die pragtige, sonbestraalde panorama van Avonduur. Die wind het gaan lê, en buiten die sagte fluistering van 'n koel luggie nou en dan, was ons te midde van die diepste stilte.
Wonderlik hoe die geringste en mees betekenislose gebeurtenisse soms die grootste uitwerking op die loop van sake meebring, waarvan die toeskouer nooit ten tyde van die voorval self, sou gedroom het nie. Dit het my later voorgekom - toe ek oor die hele saak nadink - dat dit alles voorbestemd was; dat die ou heer Dirk Brink Avonduur juis toe moes besoek om met ons hierdie wandelinkie te onderneem.
Dit was ongetwyfeld die diepe stilte van ons omgewing en ook die oneindigheid van die landskap onder ons wat ons self uiteindelik tot stilte geneig het. Onmiddellik voor ons lê Avonduur soos die landkaart van 'n landmeter: vyftig myl verder begin die Bosveld, wat van hier slegs as 'n skadu op die gelykte vertoon; en honderd myl van ons af is die eerste groot bergreeks van die noorde, so deurskynend blou dat dit skaars sigbaar was.
Ons het geruime tyd die lied van Juanita bespreek. Ek herinner my dat De Ville gesê het: ‘Ek stem nie geheel met oom Dirk saam dat dit die uiting van 'n kranksinnige is en vir 'n mens van gesonde verstand geen betekenis het nie. Ek voel dat daar iets in skuil - dat sy iets te kenne wil gee wat nouliks in gewone taal uitgedruk kan word. Daarom het sy haar toevlug tot poësie en musiek geneem, wat al meermale in die geskiedenis van die mensdom geskied het.’
En toe was daar 'n lang argument omtrent Juanita, waaraan ons al drie deelgeneem het, maar die oubaas was van sy standpunt nie te verroer nie; en so was dit dat ons uiteindelik tot swye geraak het. En toe gebeur die voorval wat so 'n sonderlinge uitwerking op die drama van Avonduur gehad het.
Ons was reeds 'n lang tyd stil toe ons skielik 'n eienaardige geluid hoor. Dit was 'n hol gekletter oor los klippe wat my herinner het aan die geluid van 'n leë inboorlingslee wat oor 'n bergpad trek. Ons kon hoor dat die geluid in ons rigting kom, maar daar was niks sigbaar nie.
‘Wat op aarde is dit?’ vra De Ville verwonderd.
| |
| |
‘Wag!’ fluister ou Dirk Brink ons dringend toe, ‘sit almal stil; dan sal ek julle iets baie snaaks wys.’
Ons twee sit halsreikend en 'n bietjie senuagtig uit te kyk na die naderende geraas, toe skielik van agter 'n klein rots, net benede ons voete, 'n groot bergskilpad te voorskyn kom. Ons kon dadelik sien dat hy in 'n staat van groot opgewondenheid verkeer. Hy struikel en gly oor die los klippe in sy weg met 'n gekletter en geraas wat hy maklik kon vermy het as hy sy pad beter wou kies, maar so haastig was hy dat hy vir geen klip in sy pad wou uitdraai nie. Oor elke struikelblok sukkel hy heen met 'n onnodige verkwisting van energie wat my as uiters belaglik voorgekom het.
‘Nou sal julle iets sien,’ gaan oom Dirk voort, ‘wat een van die grootste geheime van die natuur vir julle sal oplos, indien julle ooit daaroor nagedink het - wat ek betwyfel! Het julle ooit die vraagstuk bepeins hoe 'n skilpad en 'n trapsoetjies, om maar net twee te noem, ooit in die natuurstaat 'n maat kry - hoe die geslag ooit voortgeplant word? U weet dat altwee, in ons tyd altans, baie seldsame diere is en altyd eensaam; en dat hulle vreeslik stadig hul liggame oor die grond of deur die berggewas vervoer. As hul ontmoeting met 'n maat van blote toeval afhanklik was, dan seker sou die skilpad en trapsoetjies gemiddeld duisend jaar nodig hê om 'n huwelik tot stand te bring. Hoe beskerm hulle ook al mag wees, sou hierdie twee diersoorte nooit kan voortbestaan nie. Maar die natuur maak voorsiening, soos hy altyd in sulke gevalle doen. Let maar op!’
Ons moes opstaan en die skilpad oor 'n afstand berg-op volg. ‘Maar hy is naby die doel van sy groot soektog wat miskien al 'n maand duur,’ vertel oom Dirk ons; en toe skielik stuit die skilpad teen die rand van 'n plat klip wat onder uitgehol was, maar te laag om hom toegang te verskaf tot die grot. Hy het dadelik 'n paar duim agteruit geskuiwe en toe met sy grootste spoed teen die rand van die klip met die skof van sy dop gebots. Dit het hy aanhoudend herhaal totdat ons geduld byna uitgeput was; en toe wys oom Dirk met sy vinger, en van onder die plat klip sien ons die kop en voorpote van 'n tweede skilpad te voorskyn kom.
‘Daar is die geliefde wat hy so lank gesoek het,’ sê die ou heer.
Vir my - en ook vir De Ville - was dit iets geheel nuuts in die natuurkennis. Ek moet erken dat ek nooit tevore daaroor gedink het nie; maar noudat ek dit voor my oë sien gebeur, was dit 'n verbasende skouspel. En toe begin die ou heer uitlê: die meeste diere is afhanklik van geur, nie alleen om die seksuele sin in werking te stel nie maar ook om die een geslag in staat te stel om die ander geslag oor groot afstande op te spoor. Die wyfie van die meeste werweldiere het 'n sekere klier wat 'n reukstof afsonder, en wat gedurende die paartyd in werking tree en langs hierdie afwerpsel is die mannetjie in staat om die wyfie oor ongelooflike afstande te volg en uiteindelik te vind. Hy is baie gelukkig as hy nie gelyktydig met 'n mededinger aankom nie. Indien dit gebeur, dan is daar altyd 'n
| |
| |
geweldige geveg, en op die ou end buit die sterkste die prooi. Die natuur is nooit sentimenteel nie. Reg verskaf nooit die minste voorkeur nie. As dit anders was, sou die vernaamste werking van die natuurlike uitsoeking nie bestaan nie.
Ons het die ou heer Dirk Brink se lessie in die natuurkunde altwee baie interessant gevind, en die gesprek oor die saak het geduur totdat ons net voor sononder weer die huis bereik het; maar geeneen van ons twee het ooit gedroom dat hierdie klein voorval so 'n groot uitwerking op die drama van Avonduur sou hê nie. Wie van ons kon dink dat hierdie niksbeduidende gebeurtenis ons in staat sou stel om verskeie lewens op Avonduur te red, wat toe reeds sonder ons wete in die grootste gevaar verkeer het.
Die volgende oggend het oom Dirk Brink vertrek, en weer was ons vier blankes en Juanita die enigste inwoners van Avonduur. Drie dae lank het niks gebeur nie en die lewe het sy gewone eentonige loop op Avonduur geneem sonder dat ons enige uitleg van die atmosfeer van onrustigheid en vrees erlang het.
Dit was die nag van die vierde dag van ons verblyf dat ons die eerste maal in direkte aanraking met die geheimsinnige bedreiging gekom het.
Ons vier - Boy, sy vrou, De Ville en ek - sit aan tafel met Juanita as bediende agter ons stoele. Daar was nog drie swart vroue in die kombuis en agterhuis teenwoordig, maar hulle het so selde te voorskyn gekom dat ek hulle nouliks van sien sou geken het.
Die baba - klein Marie - was reeds in haar ouers se slaapkamer aan die slaap. Ek dink dat De Ville en ek teen dié tyd 'n bietjie meer gerus geword en die gevoel gekry het dat niks sou gebeur solank ons op Avonduur teenwoordig is nie. En toe skielik val die slag, as 't ware uit die bloue hemel. Daar was skielik 'n geweldige en aanhoudende histeriese geskreeu. Ons hoor die klap van kaal voete die gang op in die rigting van die slaapkamer, en binne borrel twee van die jong swart vroue met hande omhoog, wyd-gerekte oë en alle tekens van die uiterste verskrikking. Ek kon slegs twee woorde in hul geskreeu duidelik hoor: ‘Wana! Wana! Die noga! Die noga!’ - ‘Die baba! Die baba! Die slang! Die slang!’
Al vier van ons het gelyk opgespring en, saam met Juanita, die gang opgestorm. Toe ons by die deur van die slaapkamer kom, het ek vir die eerste maal opgemerk dat Boy 'n dubbelloopgeweer in sy hande had. Waar hy dit gekry het, wis ek nie, maar hy het waarskynlik een êrens in die gang aangehou. In die deur stuit ons al vyf met die twee swart vroue agter ons. Nooit sal ek die verskriklike skouspel vergeet wat ons in die dof verligte slaapkamer aanskou het. Daar was een groot dubbele ledekant in die kamer, met die bababed langsaan. Maar klein Marie was op die groot bed - waarskynlik slegs tydelik - aan die slaap. Ek kon haar klein gesiggie duidelik sien, met die lippies half oop en die skyn van 'n glimlaggie op haar mondjie. Sy was net in die middel tussen die slaapplekke van haar moeder en vader, wat aangedui word deur die nagklere
| |
| |
van elkeen op die kussings gereed geplaas. Op Marie van Niekerk se plek, op haar kussing, waar haar geborduurde nagrok opgevou was, sien ons die vreeslikste slang wat ek ooit in my lewe teëgekom het. Ek dink die ontsettende omgewing het daartoe bygedra om die dier in ons verbeelding te vergroot en sy wrede en dreigende voorkoms meer afskuwekkend te maak. Dit was 'n swart mamba van ongeveer twaalf voet lank. Hy was in twee kringe op Marie se nagrok opgerol met die orige van sy lyf in die lug omhoog, wat hom 'n hoogte gegee het van minstens ses voet bo die ledekant. Die nek was gebuig, met die oop bek in ons rigting. Ons kon dadelik die glinstering van sy oë en die glans van sy slagtande sien. Hy swaai stadig van kant tot kant, wat elke keer sy vreeslike kop direk bo die slapende kind bring.
Boy het met 'n verskriklike vloek die geweer tussen ons deur gedruk, klaarblyklik met die doel om aan te lê en te skiet, maar De Ville gryp die loop met altwee hande en roep uit: ‘Wag, wag, jy sal jou kind van skrik laat sterf ... Gee my 'n kierie! Gee my 'n kierie!’ roep hy vir die swart vroue.
Ek had al my krag nodig om Marie van Niekerk vas te hou en te verhinder om op haar kind toe te storm, wat sonder enige twyfel haar dood ten gevolge sou gehad het, miskien sonder om die kind te red.
Enige minute lank was dit 'n vreeslike deurmekaarspul, en ek weet self nie wat die werklike volgorde van gebeurtenisse was nie; maar twee dinge onthou ek goed: ons rumoer by die deur het klaarblyklik die aandag van die slang getrek en hom meer opgewonde gemaak, en - wat baie verskrikliker was - die baba het begin roer en tekens van ontwaking getoon.
En te midde van ons radelose geraas en vasklou, tree Juanita skielik oorheersend te voorskyn. Ek had haar tevore nie opgelet nie. Wat ek eerste gesien het, was dat sy tussen ons deurdruk sonder om 'n woord te sê. Met een hand ruk sy van Marie se skouers 'n wit tjalie - dieselfde tjalie wat oor die stoel gehang het die nag van die gebeurtenis op die veranda. Sy stap die kamer binne met die tjalie in een hand, en toe sy voor die bed kom, begin sy dit met altwee hande na die slang toe te waai. Haar gedrag het ons almal tydelik versteen en van alle krag beroof. Ek dink ons het almal die gevoel gekry dat sy kennis besit wat haar tydelik meesteres van die situasie maak. Stadig sak die reuse-slang in een vou op die ander inmekaar, en net toe die laaste kring op die kussing neersak, gooi Juanita die tjalie oor hom. Sy gryp die kussing tesame met die nagrok en slang in een bondel en loop na die venster, wat onder oop was. Met een beweging gooi sy die hele drag deur die venster en skuif vinnig die raam toe. En nog was sy die eerste om die kind op te tel en in haar arms vas te druk. Daar was 'n kort worsteling tussen haar en die moeder, want Juanita wou die kleintjie nie loslaat voordat sy die gesiggie met soene bedek het nie. Daarna was daar 'n algemene omhelsing; ek onthou dat ek gesien het dat Boy die jong vrou in sy arms neem en herhaaldelik op die wange soen, met die uitroep: ‘Juanita, jy het my kind
| |
| |
gered! Jy het jou lewe gewaag!’ So groot was die ontroering dat ons die slang dié nag geheel en al vergeet het!
Dit was ure voordat die huisgesin weer tot bedaring gekom het; en laat die nag toe ons weer in die eetkamer byeen was, met alle deure en vensters van die huis dig gesluit, toe vir die eerste maal vertel Boy ons die storie van die towery op Avonduur!
‘Ek moet julle eers vertel dat daar nog nooit tevore, vandat die plaas aangelê is, 'n mamba op Avonduur verskyn het nie. Ek het nooit tevore 'n swart mamba gesien nie. Die naaste mambas aan Avonduur is meer dan honderd myl ten noorde. Ten suide van dié lyn is hulle nooit gesien nie. En nou - ongeveer drie maande gelede - het twee van my beeswagtertjies my kom vertel dat hulle 'n onbekende swart slang in die veld gekry het; een van hulle het met 'n gelukskoot die slang met 'n klip die rug afgegooi. Ek het die slang huis toe laat haal, en die volgende dag is dit deur verskeie van my ou volk as 'n mamba herken. En toe gebeur die een ding ná die ander. Die eerste was ons ongelukkige ou wasmeid. Sy was besig om Marie se klere by die wasplek uit te sprei, toe 'n groot mamba haar agter die nek byt. Twee ander meide was teenwoordig, en geeneen van hulle het die slang gesien voordat hy die ou meid aangeval het nie. Sy het nouliks twintig minute gelewe, en is hier op ons stoep dood. Let op, Sois, dat die ou meid besig was met Marie se klere toe sy aangeval is.
Byna 'n maand het daar niks verder gebeur nie, en toe een oggend vroeg het ons die derde ontmoeting met 'n mamba gehad. Marie stel nog groot belang in plantkunde en sy had 'n seldsame euphorbia ontdek by die voet van die rantjie wat omtrent 'n halfmyl van die huis van die berg na die lande afloop. Sy was in die gewoonte om die plant af en toe te besoek om seker te maak dat sy die blom te sien sou kry. Op 'n sekere oggend, taamlik vroeg, was ons op die stoep; ek had die kleintjie op my knie. Al die bediendes was binne besig toe Marie besluit om haar euphorbia te besoek. Dit is so naby die huis dat ek nie die moeite wou doen om saam te gaan nie. Sy sou in elk geval gedurig onder my oë bly. Ek het aanhou speel met die ou kleintjie en Marie is vort. Ek het haar by die plant sien buk en toe nie weer opgekyk voordat sy op haar terugreis binne honderd tree van die huis was nie. Die gras was nat van die dou, en ek kon duidelik haar spore vanaf die rantjie agter soos 'n donker streep sien. En toe skielik merk ek iets blink agter op haar spoor wat haar klaarblyklik vinnig agtervolg. Net toe ek dit opmerk, lig die slang skielik sy lyf orent, en toe sien ek dat dit 'n swart mamba is. Ek had gelukkig toe reeds 'n gelaaide geweer op die stoep aangehou. Ek het klein Marie op die grond neergesit, die geweer gegryp en Marie tegemoetgehardloop. Die slang was minder as twintig tree van ons af toe ek by haar kom. Net toe hy sy lyf weer ophys, skiet ek hom middeldeur. Dit was 'n swart mamba, twaalf voet lank, en ek was verheug om te dink dat dit dieselfde satan was wat ons arme ou wasvrou doodgebyt het.
| |
| |
In elk geval het dié slang se dood ons weer houtgerus gemaak. Ons het nooit gedroom dat daar meer as een groot swart mamba op Avonduur kon wees nie; maar ons ontnugtering het spoedig gekom. Marie was op 'n sekere dag besig om 'n rok van haar te verander. Sy het onder die skadu van die groot maroelaboom in die blomtuin gesit. Ek was in die voorhuis aan 't skrywe. Êrens in die huis het die baba aan 't huile gegaan en Marie het haar werkgoed - dit wil sê, haar rok - op die stoel geplaas om te kom en haar stil te maak. Juanita was op besoek by haar oupa. Toe Marie terugloop met die kind in haar arms, hoor ek haar angstig roep. Op haar rok op die stoel, wat sy pas tevore verlaat het, was 'n swart mamba opgerol met sy kop omtrent 'n voet gelig. Ek het hom op die stoel doodgeskiet. Dit was die tweede wat ek gedood het; dié een was tien voet lank.
Daarná het ek vier agtermekaar op die veranda geskiet; en in elke geval was die slang met iets van Marie, 'n kledingstuk, of die stoel waar sy kort tevore op gesit het, in aanraking. Julle het nou twee gevalle self gesien; en in elkeen van dié was Marie die doel van die slang se koms. Verbeel ek my dit, Sois? Wat dink julle? Ek het niks vergroot of bygesit nie. Alles het gebeur net soos ek julle vertel het. Is dit moontlik dat so iets kan plaasvind? Kan 'n dodelike slang gebruik word om een mens te agtervolg? Geen ander inwoner van die huis was nog ooit in gevaar nie, behalwe die ou wasmeid, en in haar geval, sal julle onthou, was sy besig met Marie se ongewaste klere, en die slang was op een van haar onderrokke toe hy die ou meid gebyt het. Wat dink jy van dit alles, Sois? Sal die gevaar voortduur? Is daar 'n middel, of moet ek Avonduur verlaat? So kan dit nie aangaan nie - dit sal julle self insien.’
Die sterk, wêreldberoemde rugbyheld se toestand van neerslagtigheid het my diep getref. Gedurende sy hele verhaal het Marie hom aan die arm vasgehou en met bleek gesig sy vertelling stip gevolg.
Wat was daar te doen, wat te sê? Dit het my voorgekom as 'n toevallige sameloop van gebeurtenisse wat maklik vir 'n doelmatige werking aangesien kon word, maar De Ville het klaarblyklik 'n ander gedagte in sy kop gehad.
‘Daar is 'n paar dinge wat ek julle eers wil vra,’ sê hy, en tot ons almal se verbasing begin hy van Juanita te praat en oor haar vrae te stel.
‘Jy was baie jare in die huis saam met Juanita voor jou troue en voor jou moeder se dood?’ vra hy aan Boy.
‘Dit is so,’ was die antwoord. ‘My arme ou moeder was baie gek na haar en het haar later meer as 'n kind van die huis dan as 'n bediende behandel.’
‘En wat was jou verhouding tot haar, Boy? Ek verwag dat jy baie openhartig sal wees as jy verlang dat ek jou moet help. Jy moet niks van my verberg nie, Boy, en Marie ook nie. Sien jy die rigting van my vrae? Ek moet alles weet.’
'n Tyd lank het Boy stil gesit en 'n paar maal sy vrou vraend aangekyk, en dit was nadat sy hom toestemmend toegeknik het, dat hy stamelend en half skamerig voortgegaan het.
| |
| |
‘Die wyse waarop my moeder Juanita behandel het - meer soos 'n witmeisie, meer asof sy haar dogter was dan 'n gekleurde bediende - het ongetwyfeld ook 'n uitwerking op die verhouding tussen my en haar gehad. Ek moet erken dat daar mettertyd 'n taamlike intimiteit tussen ons ontstaan het. Julle moet onthou ons was die twee enigste jongmense in die huis en moes daagliks met elkaar in noue aanraking kom. Daar was nooit ... hoe sal ek ... nooit juis enige gevel ... ten minste aan my kant nie ... maar wat Juanita betref ...’
En toe swyg hy. Dit was Marie wat hier tussenbei gekom het.
‘Laat ek julle vertel,’ sê sy, ‘'n vrou het gewoonlik in sulke sake meer insig as 'n man. Laat ek maar kortliks vertel wat kolonel De Ville klaarblyklik graag wil weet. Daar kan g'n twyfel wees dat Juanita op Boy verlief was nie, en toe ek met hom getrou het, was sy sonder twyfel diep ontroerd en jaloers op my. Ek moet erken dat sy dit nooit teenoor my deur enige nydigheid of kwaadwilligheid of iets van die aard getoon het nie, maar julle weet dat 'n vrou in sulke sake 'n instinktiewe gevoel het. Hoe lank dit voortgeduur het - die jaloesie - is moeilik om te sê, maar haar houding en gedrag het met klein Marie se geboorte 'n groot verandering ondergaan. Dit het my voorgekom asof al haar gesmoorde liefde 'n uitweg gevind het in haar aanbidding van die baba.’
‘Dit is al wat ek wou weet, mevrou,’ sê De Ville haastig asof hy besef dat die verhaal vir Boy en sy vrou allesbehalwe aangenaam is. ‘Daar is egter nog iets anders wat ek graag wil weet: was Juanita enige tyd van die plaas afwesig, waarheen en wanneer was haar laaste afwesigheid van Avonduur?’
‘Omtrent vier maande gelede,’ antwoord Marie, ‘was sy 'n maand op besoek aan die Roomse Sendingstasie waar sy haar eerste opvoeding gehad het. Sy is nog baie geheg aan die nonne wat haar grootgemaak het.’
‘En waar is die stasie?’ vra De Ville.
Boy het die plaas genoem en aangedui. Dit was in die Laeveld ongeveer tweehonderd myl van Avonduur.
‘Dit is 'n bewys hoeveel van die naturel nog in haar is,’ voeg hy ongevraagd by, ‘dat sy die hele reis - heen en terug - te voet afgelê het in die geselskap van twee ouer swart vroue wat die nonne vir hierdie doel na Avonduur gestuur het.’
‘Nou is my nuuskierigheid omtrent Juanita bevredig,’ sê De Ville met 'n laggie. ‘Nou sou ek graag 'n onderhoud met die jong dame self wou hê, maar ek dink dit sou bes alleen wees - net dr. De Roubaix en ek - as u nie omgee nie.’
Ek kon sien dat Boy en Marie uiters verbaas en nuuskierig is, maar hulle het dit albei klaarblyklik as 'n beleefdheidsbewys beskou om geen vraag te stel voordat De Ville self die verklaring aanbied nie.
Maar ek was nie deur 'n gelyke terughoudendheid beheers nie! Terwyl De Ville en ek in die eetkamer op Juanita wag, pak ek hom dadelik beet.
| |
| |
‘Wat beteken dit alles, Sois? Verdink jy die meid van towery?’ vra ek half spottend, ‘of dink jy dat sy een mamba ná die ander aandra om haar liefdeskonkurrent te byt?’
Die vraag het snaaks genoeg geklink om ons altwee te laat lag.
‘Nie presies nie,’ antwoord De Ville, ‘maar ek dink bepaald dat sy die hele geheimsinnigheid kan uitlê as ek haar daartoe kan omhaal. Weet jy waar ek die sleutel tot die geheim gevind het? Dit was in die eerste plek in Juanita se lied Diep Rivier, en toe, in die tweede plek in oom Dirk Brink se vertelling omtrent die skilpad. Ek wonder maar net dat jy dit ook nie ingesien het nie. Jy moet dit sien as jy bietjie daaroor nadink.’
Maar ek moet erken dat, wat my betref, De Ville se opheldering die saak indien moontlik nog duisterder gemaak het as wat dit tevore was.
Elke besonderheid van die onderhoud is helder op my geheue ingebeitel en sal seker slegs met my dood verdwyn. Die kruisverhoor van Juanita dié oggend, deur Francois de Ville was een van die merkwaardigste rekkings op die sielkundige pynbank wat ek ooit beleef het. Gepaard daarmee was die sonderlinge karakter waarmee ons te doen had: haar wonderlike verdubbeling van persoonlikheid; haar skitterende skoonheid en die onmiskenbare seksuele aantreklikheid wat uit haar gehele samestelling straal; dit alles tesame met die tragiese ongelukkigheid van haar toestand - het alles daartoe bygedra om haar kruisverhoor deur hierdie hoogs geoefende, geslepe speurder 'n saak van die diepste moment vir enige sielkundige te maak.
'n Prinses wat die huldebetoning van haar vasalle te wagte was, kon die kamer nooit met 'n vorsteliker houding binnegetree het as waarmee Juanita ons in die eetkamer tegemoet gekom het nie. Met haar hoof omhoog, 'n vonkeling in haar pragtige donker oë en 'n fyn glimlaggie om haar granaatrooi lippe het sy ons woordeloos, met 'n skaars sigbare buiging van die romp, begroet. Ek herinner my dat die oortuiging by my gesterk is dat geen Griekse kunstenaar van ouds ooit 'n skoner vorm vir die giet van sy brons Aphrodite ontwerp het nie.
De Ville het haar met die uiterste vriendelikheid toegespreek: ‘Juanita, ek wil jou graag oor 'n paar dingetjies raadpleeg; jy sal meer op jou gemak wees as jy gaan sit.’
‘Dankie, meneer, ek sal liewer staan.’
‘Maar dit mag lank duur.’
‘Dit kom nie daarop aan nie. Ek is gewoond aan staan, en sal so meer op my gemak voel.’
‘Nou goed, Juanita. Ek wil eers weet of jy oor enige uitleg gedink het van die vreeslike dinge wat ons op die veranda en gisteraand in die slaapkamer gesien het?’
‘Watter uitleg is nodig, meneer? Al wat gebeur het, is dat 'n slang in die huis gekom het; dit gebeur dikwels op eensame plase.’
| |
| |
‘Ja, maar tog nooit so dikwels as op Avonduur nie - waar 'n mamba nog nooit tevore verskyn het nie.’
‘Waarom dink u sal ek 'n uitleg kan gee as geleerde mense soos u en dr. De Roubaix van geen uitleg weet nie?’
‘Jy weet dat daar van towery sprake is. Ek dag jy weet miskien iets van sulke dinge omdat jou oupa 'n beroemde toordokter was.’
‘U glo tog nie in sulke kinderagtige dinge soos towery nie, kolonel De Ville?’
‘Nee, ek glo nie juis daarin nie, maar iets mag vir towery deurgaan wat 'n baie natuurlike uitleg het.’
‘Ek het gehoor dat u so baie met swartmense te doen gehad het as speurder en u ken al ons tale en gewoontes so goed - beter as ek - dat u seker honderd maal meer van sulke dinge weet as waarvan ek ooit gehoor het. Onder naturelle - soos u weet - kom die vrou nooit met sulke dinge in aanraking nie.’
‘Dink jy dit sal die moeite werd wees om jou oupa te raadpleeg?’
‘Ag, kolonel De Ville, u het hom self gesien. Hy is so oud dat hy byna kinds is. Hy sal niks verstaan as u oor sulke dinge met hom praat nie.’
‘Het jy al ooit tevore 'n mamba gesien?’
‘Ja, toe ek 'n kind was, is daar verskeie male mambas in die sendingstasie gedood - nooit ná dié tyd nie.’
‘Het jy hulle al ooit so dikwels ná mekaar gesien as nou hier op Avonduur?’
‘Nee, nooit in my lewe tevore nie.’
Met 'n skielike beweging kom De Ville vlak voor haar staan met die sakboekie in sy hand: ‘Luister, Juanita:
O Diep Rivier, o Donker Stroom
hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom?
die lem van liefde wroegend in my hart?
In jou omhelsing eindig al my smart.
‘Wat is die Diep Rivier - die Donker Stroom?’
‘U het my dit tevore in dieselfde woorde gevra, kolonel De Ville. My antwoord is weer dat elkeen sy eie uitleg daaraan moet gee. Dit hang van sy eie gevoel af.’
‘Maar wat was jou gevoel en jou uitleg, Juanita? Die rivier was by jou 'n simbool - waarvan? Het jy met Diep Rivier en Donker Stroom die dood bedoel, Juanita?’
‘Ja, sê maar die dood, kolonel De Ville. Dit sou goed pas as u gevoel in dié rigting loop.’
‘Maar hoe kan die dood jou diep verlange tevrede stel, die vlam van haat blus, en die dolk van liefde uit jou hart onttrek?’
| |
| |
‘Gee die dood nie al die gawes wat ons kan verlang nie?’
‘Maar al die reëls oor liefde, Juanita - was jy al ooit verlief gewees? Het jy al ooit 'n vryer gehad?’
‘Dit is ons verbode, kolonel De Ville.’
‘Wat bedoel jy, Juanita?’
‘Hoe sal ek 'n vryer hê of aan liefde dink? 'n Blanke sou my verag en ek verag 'n kaffer. Ek staan op 'n spits tussen twee afgronde. Daarom is die liefde vir my 'n verbode ding. Sien u, kolonel De Ville, dit is die swart bloed in my are. Die wit bloed tel nie. Miskien is die swart bloed in my are die Donker Stroom waarvan die lied melding maak!’
‘Weet jy hoe slange mekaar in die veld opsoek, Juanita!’
'n Oomblik het sy hom stip en vraend aangekyk.
‘Nee, kolonel De Ville, ek weet nie. Vertel u my.’
‘Ek weet ook nie uit my eie ondervinding nie. Ek dag dat jy, wat in die veld grootgeword het, sulke dinge sou weet.’
‘Nee, ek weet nie; en ek het ook nie in die veld grootgeword nie. Ek was die grootste deel van my lewe in die sorg van witmense.’
‘Was jy nooit op 'n wit seun verlief nie, Juanita?’
‘Ek het u reeds vertel, kolonel, dat sulke dinge my verbode is. Vind u daar genoeë in om my seer te maak?’
Dié keer was daar 'n gevaarlike vonkeling in haar oë, en ek kon sien hoe sy haar handjies vasklem; maar sy hou nog onwankelbaar front teenoor haar pyniger.
Skielik vra De Ville: ‘Was jy ooit verlief op jou baas, Boy van Niekerk?’
Daar was 'n snik in haar stem toe sy antwoord: ‘Het u, voor God, die reg om my dit te vra, kolonel De Ville?’
‘Nie die minste reg nie. En as jy weier om te antwoord, sal ek dadelik ophou.’
‘En dit sal wees om die oortuiging by u te skep dat ek nie durf antwoord nie. Maar wat is die doel van al die vrae, kolonel? Probeer u net om my te pynig; of om my woedend te maak? Wat wil u bereik?’
‘Nou begin jy kruisvra, Juanita! Die verstandhouding was dat ek alleen sou vrae stel.’
‘Is daar nog iets dieper in my hart wat u wil uitskeur, kolonel De Ville?’
Haar oë swem in trane toe sy dié vraag stel, en ek kon my eie ongeduld en ontevredenheid met De Ville nie langer beteuel nie.
‘Ek dink waaragtig dat jy ver genoeg gegaan het, Sois,’ sê ek met 'n bitterheid van toon wat my vriend dadelik tot nadenke dwing.
Met 'n glimlag jeens my wuif hy Juanita agteruit: ‘Dit is vir eers dan genoeg, as julle almal begin oplopend word! Ons sal die saak later hervat, Juanita.’
Met 'n honende ruk van haar kop draai sy om en stap vinnig by die kamer
| |
| |
uit. Ek is seker daarvan dat sy net gewag het tot sy die deur uit was voordat sy in trane uitgebars het. Ek het kwaad genoeg gevoel om De Ville daar en dan grof te beledig. Maar hy het my die kans ontneem deur sy hand vriendelik op my skouer te lê. ‘Ek weet al wat jy voel, Paul,’ sê hy saggies, ‘maar jy is verkeerd. Ons roer in 'n donker saak waar die lewe van dierbares in die grootste gevaar is. Wanneer die spel om lewe en dood gaan, kan ons trane nie tel nie.’
‘Wel, ek hoop dis die einde,’ sê ek. ‘Sover het jy niks uitgevoer nie.’
‘Inteendeel, my waarde vriend,’ antwoord hy, ‘ek het alles verneem wat ek wou gehoor het. Ek is nou binne tasbare afstand van die waarheid. Binnekort sal selfs jy moet erken dat my ruwe metode geregverdig was.’
Ek moet erken dat dit vir my gevoel 'n hol belofte van Sois was, slegs om my te kalmeer. Hy was nooit 'n grootprater nie, maar dié keer kon ek nie glo dat hy werklik sy woorde sou bewaarheid nie. Min het ek gedroom hoe naby aan die einde van die misterieuse saak ons toe reeds was.
Ons was al vier taamlik geharde brugspelers en het van die eerste dag van ons besoek in die gewoonte geraak om elke nag voor slaaptyd 'n paar rondtes te speel. Ons het gewoonlik in die eetkamer gespeel; maar dié aand was dit 'n besonder warm nag, en op voorstel van De Ville is besluit dat ons op die stoep sou speel, wat verlig is deur 'n groot verskuifbare lamp. Aan Juanita is bevel gegee om die kaarttafeltjie uit te bring en die nodige stoele gereed te plaas. Na gewoonte het sy die tafeltjie in die hoek van die grenadella geplaas. Ons was al vier op die stoep terwyl Juanita met hierdie werk besig was, en ons ander drie was almal 'n weinig verskrik toe De Ville ons skielik en dringend gedurende die afwesigheid van die jong vrou toefluister: ‘Moet haar nie laat opmerk dat ons die minste notisie van haar neem nie, maar as ek om hulp roep, dan bid ek julle om te doen wat ek sê sonder een minuut te aarsel. Onthou dat julle lewens daarvan afhang as my vermoedens reg is - en ek twyfel nou nie meer nie.’
Ons was so na aan die hoek dat ons moes padgee om Juanita toe te laat om die tafeltjie reg te sit. Aan die kant naaste aan die grenadella het sy Marie se leunstoel geplaas.
De Ville was druk besig met 'n lewendige betoog oor die jongste ontwikkeling van brug in Amerika, wat klaarblyklik net vir dié geleentheid gebesig was. Hy was sywaarts na Juanita gekeer; maar ek kon sien dat hy haar gedurig uit die hoek van sy oog dophou. Sy het vir my haastig en senuagtig gelyk. Ek kon haar hande sien bewe toe sy die tafelkleed regskuiwe. Daar was nog tekens van onlangse trane om haar oë. Haar laaste werk was om 'n groot leerkussing en gestopte veredeken van donker sy oor Marie se stoel te plaas. Net nadat sy van hierdie werk orent kom en weer by ons verbystap, draai De Ville skielik om en gryp haar aan een arm. Hy was van plan om al twee arms te gryp, maar sy wonde het sy beweeglikheid aansienlik vertraag, en Juanita het haar dadelik rats verset.
| |
| |
‘Gryp haar ander hand! Gryp haar ander hand!’ roep hy ons herhaaldelik toe, terwyl hy met die meisie stoei. Boy was só verbaas en verskrik dat hy die worsteling bewegingloos en verlam staan en aanstaar het. Dit was ek wat haar aan haar linkerpols gepak het net toe sy De Ville aan die keel beetkry. Sy was ongelooflik sterk en rats, en 'n paar minute lank het sy haar met die uiterste geweld teengesit. Sy het geen woord geuit nie, maar op haar gesig was 'n uitdrukking van waansinnige woede, en in haar donker oë was 'n vlam van dierlike wreedheid. Ons twee mans was egter te sterk vir haar, en net so heftig as haar teenstand was, net so skielik en onverwags was haar oorgawe.
‘Dit is genoeg, kolonel De Ville,’ sê sy met hygende asem, ‘doen met my wat jy wil.’
‘Hou altwee haar arms vas, dokter,’ was sy bevel, ‘ek vertrou haar nie.’
Sy het dit met 'n bittere lag begroet en geredelik haar arms na my uitgehou. Met die netheid van 'n geoefende speurder het De Ville haastig sy hande oor haar lyf gestryk asof hy na een of ander verborge wapen soek. Voor en agter het hy dit sonder uitslag herhaal, terwyl Juanita hom met 'n honende lag betrag. En toe buk hy skielik en skuif die soom van haar rok deur sy vingers. Byna onmiddellik het hy die een of ander voorwerp beet.
‘Haal die mes uit my onderbaadjiesak, Boy,’ vra hy, sonder om die voorwerp te los. Met 'n enkele sny had hy dit los van die soom en toe toon hy ons 'n vierkantige pakkie, in growwe kamerdoek gebind.
Dit was Juanita wat die eerste woorde geuit het. Te midde van haar hygende asemhaling begin sy in stamelende, afgebroke sinne te praat: ‘Jy het gewen, François de Ville. Ek sien dat jy weet. Pynig my nie meer nie. Ek is vir my straf gereed. Wat gee ek om? Wat is daar in die lewe vir my oor? Ek is nie skaam nie. Ek is trots daarop. Ek het Boy altyd liefgehad en daar was 'n tyd toe hy my ook liefgehad het. Ek weet, 'n vrou weet altyd. Maar ek had swart bloed in my are, en toe is hy van my afgeneem. Maar ek kon hom nie opgee nie - ek kon hom nie opgee nie.’
En toe gaan sy aan snik, terwyl sy probeer om die trane met 'n ruk van haar kop uit haar oë te skud, want ek had nog al die tyd haar twee arms vas.
‘Laat haar los,’ sê De Ville op veel sagter toon. ‘Sy is nou onskadelik: maar kom weg van die donker hoekie; dit is daar waar sy weer haar moordval gestel het.’ En aan Juanita: ‘Jy kan loop, ongelukkige. Daar sal geen straf meer wees nie. Jy het reeds jou straf ondergaan, en op jou gewete (as jy een het) sal vir ewig die bloedskuld rus. Jy sal nooit vergeet dat jy die onskuldige ou wasmeid tot 'n vreeslike dood veroordeel het nie.’
Sy het Boy geruime tyd deur haar trane smekend aangekyk asof sy tussenkoms van hom verwag, en toe loop sy stadig die huis in.
Op die kaarttafel plaas De Ville nou die kamerdoeksakkie. Hy wys ons dat wanneer hy dit effentjies skud, daar 'n vaal stof soos rook uitwalm. ‘Weet jy
| |
| |
wat dit is?’ vra hy my. Maar ek had nog geen besef nie. ‘Dit is die gedroogde stof wat deur die geslagsklier van 'n wyfiemamba afgesonder word. Juanita het dit natuurlik van haar oupa geleer. Toe ou Brink ons van die skilpad vertel, het dit my skielik bygeval dat ek gehoor het van toordokters wat op dié wyse slange oor enorme afstande na 'n sekere plek of na 'n bepaalde persoon kan aanlok. Al wat nodig is, is om so 'n sakkie deur die veld te sleep. Die mannetjies sal die spoor desnoods honderd myl ver volg, en die geur bly maande lank effektief. Dit het natuurlik ook die uitwerking om die geaffekteerde slang uiters woedend te maak. Juanita het die sakkie in gebruik gestel toe sy van haar besoek aan die sendingstasie teruggekom het. Dit was die storie van die skilpad wat my die sleutel verskaf het, en Juanita se lied Diep Rivier. Ek het gevoel dat haar Donker Stroom iets simbolies agter in haar gemoed was en dit het my skielik te binne geskiet dat haar Donker Stroom die swart mamba was. En toe het stadigaan die hele tragedie van haar lewe in my verbeelding ontvou. Ek kon die storie van haar ongelukkige liefde maklik besef; ek kon begryp wat in so 'n onstuimige siel te voorskyn mag kom; en bo alles was die sonderlinge verdubbeling van persoonlikheid, waaronder die ongelukkige skepsel belas gegaan het, 'n toestand wat gestrek het om haar gemoedstorms veel meer ingewikkeld te maak.’
Ek moet nog net dit byvoeg: twee dae later is die lyk van Juanita in die populierbos gevind met twee slagtandmerke op haar skouer. Sy was in haar naturellekleding en had nog 'n sakkie met klierstof in haar besit. So het sy haar Diep Rivier eindelik self deurwaad. |
|