Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd1. Plegtige Teraardebestelling van AdoonsEerste verskyning Ons Vaderland, April 1927. | |
2. Michael ServetusUit hierdie hele artikel straal Marais se haat vir Calvyn en sy metodes. As alles in die artikel juis is, is dit bepaald geen oordrewe emosie nie. p. 768b (tweede paragraaf): Michael Servetus (1511-1553) is ongeveer vyfhonderd jaar voor 1910 gebore. Vermoedelik het Marais 'n fout begaan en was 1911 die werklike jaartal van die oprigting van die granietsteen. p. 770b: ‘Gedurende die nag ...’: Ná hierdie woorde het die woorde ‘ná sy eerste teregstelling’ in die oorspronklike uitgawe verskyn, wat die hele passasie sinloos maak. In die oorspronklike uitgawe staan dat die granietsteen te Champel in 1903 opgerig is. Ook die ander datums lyk verdag, maar kon nie gekontroleer word nie. | |
3. Wat ‘Klein Griet’ Verrig Hetp. 772c (laaste reël): Vir naturellegebiede het Marais (of sy sub) die ongewone woord ‘Swartlande’ gebruik. p. 773c (sewende reël van onder): Die woord ‘lafhartige’ voor ‘vyand’ is geskrap. | |
4. Van Oudae en Oumense in PretoriaEerste verskyning Ons Vaderland, 15 Januarie 1930. Hierdie artikel, al sou dit nie in elke opsig betroubaar wees nie, is biografies interessant, want dit skilder die agtergrond waarteen Marais sy eerste lewensjare deurgebring het. | |
5. 'n Vonnis van Paul KrugerEerste verskyning Ons Vaderland, 7 Maart 1930. | |
6. Die Storie van die Twee BroersMarais het later beweer dat hy hiëratiese (priesterlike) papirusse in die Britse Museum vertaal het. Die toegangskaartjies tot die Museum se ‘Reading Room’, die enigste plek waar 'n be- | |
[pagina 1281]
| |
soeker om die eeuwending sulke werk kon doen, toon egter dat Marais nooit daar was nie. Presies hoeveel hiërogliewe Marais geken het, is onbekend. Hoewel sy seun toegee dat Marais se aansprake in dié rigting oordrewe was, meen hy tog dat Marais hiërogliewe kon ‘uitmaak’. Marais het 'n aantal boeke oor Egipte en hiërogliewe besit (ek beskik oor een van hulle) en dit is my vermoede dat hierdie vertaling nie uit hiëratiese hiërogliewe gemaak is nie, maar uit die Engelse vertaling, of dan ten minste met behulp van die Engelse vertaling. | |
7. Wonderbaarlike Speurvernuf van Jong AfrikanerEerste verskyning Die Vaderland, 17 en 24 Junie 1933. | |
8. 'n Paar Staaltjies van PerdedieweryEerste verskyning Die Vaderland, 30 September 1933. p. 797a (derde paragraaf): Hier is duidelik 'n verwarring met datums. As oom Jakob Breytenbach 'n jaar voor die Tweede Vryheidsoorlog (d.w.s. in 1898) 81 was, kon hy nie in die sewentig gewees het toe Marais (geb. 1871) nog 'n klein seuntjie was nie. Dit is ook onmoontlik (laaste paragraaf) dat hy 76 jaar oud was toe hy ontsnap en 'n hings van die Mears-familie gesteel het. Dat die hele verhaal verdigsel of grotendeels verdigsel is, blyk uit sy latere ongeloofwaardige verloop, en as 'n mens nog twyfel, lewer die volgende woorde die finale bewys: ‘Ek het die voorval so verneem van kolonel De Ville [denkbeeldige karakter in Marais se verhale] self, enige jare voor sy dood.’ Die stuk kan natuurlik ook 'n vermenging van waarheid en verdigsel wees, iets wat die taak van die biograaf baie bemoeilik. In Die Groot Verlange is die moontlikheid dat Eugène as jong seun vir die oubaas kos in die tronk moes aandra, wel as waarskynlik aanvaar. | |
9. Wonderprestasie van 'n Klein Basoeto-PonieEerste verskyning Die Vaderland, 8 Desember 1933. | |
10. Op die Drumpel van die Dood deur 'n Vriend in die Steek GelaatEerste verskyning Die Vaderland, 19 Januarie 1934. p. 810b en c: Eerw. Carl August Daniel Heese (1867-1901), na wie hier verwys word, 'n sendeling van die Berlynse genootskap, was die seun van D.F.S. Heese, stamvader van die familie Heese in Suid-Afrika, wat eweneens 'n Berlynse sendeling was. Dié voorval word in die rolprent Breaker Morant aangeraak. Sien aantekening by ‘Boelala Taylor’, p. 334. | |
11. Kommandant Henning Pretorius se TierEerste verskyning Die Vaderland, 26 Januarie 1934. Daar was werklik 'n kommandant Henning Pretorius wat hoof van die Z.A.R. se Staatsartillerie was. Hy was die vader van Gustav Preller se vrou, Hannie, en Marais het hom goed geken. | |
12. Deur die Krugerwildtuin Net voor die SluitingDr. Gustav Preller, Marais se groot beskermheer en vriend, was 'n lid van die Krugerwildtuin se Beheerraad, en Marais het hom meermale daarheen vergesel. | |
13. Morena di Metsi, die Vors van die WatersHierdie artikel bevat die verhaal waarop die bekende gedig ‘Mabalêl’ gebaseer is. p. 822c: In die oorspronklike uitgawe laat Marais die inwoners van die stat ‘binne 'n paar sekondes’ op die wal verskyn, iets wat so onwaarskynlik klink dat ek dit geskrap het. p. 828b: Johannes Venter se verdwyning word ook elders beskryf. Sien aantekening by p. 413a. p. 829: In die oorspronklike uitgawe lui die laaste woorde van die hoofstuk: ‘... die enigste waarneembare uitleg wat ooit gegee is aan die geheimsinnigste voorval wat ooit in Waterberg plaasgevind het.’ Ook hierdie stelling is getemper omdat dit onwaarskynlik of oordrewe klink. | |
[pagina 1282]
| |
14. Spore in die SandEerste verskyning Die Huisgenoot, 20 Desember 1935. In Die Groot Verlange word afgelei dat ‘Spore in die Sand’ die verhaal was wat die jaar voor Marais se dood (omstreeks Maart 1935) deur Willem van Heerden, assistent-redakteur van Die Vaderland, van die hand gewys is. Die kortverhaal, Marais se heel laaste, het etlike maande later in Die Huisgenoot verskyn. | |
15. Oor 'n Merkwaardige Moordsaakp. 842c (laaste paragraaf): Dit ly min twyfel dat Marais gedurende sy vyfjarige verblyf in Londen om die eeuwending meermale die British Museum se afdeling Eyptian Antiquities besoek het. By die eerste oogopslag lyk dit asof hy in die betrokke paragraaf na hierdie versameling verwys. Die latere verwysing na die Museum van Kaïro maak dit egter waarskynlik, ten spyte van die verwarring met datums, dat hy verwys na die beeld van Nefertete (koningin van Egipte in die 14de eeu v.C.). Een van haar beelde word in Kaïro bewaar. (Die ander, meer bekende afbeelding is in die Staatliche Museum in Wes-Berlyn.) Die een in Kaïro is 33 cm hoog, meer as dubbeld soveel as die 6 duim waarna Marais verwys. p. 843c e.v.: Ek is nie bevoeg om te oordeel oor die noukeurigheid van Marais se opmerkings in verband met Egiptiese invloede by die Bawenda nie. Inligting oor die Bawenda lyk skaars. Bekende naslaanwerke soos SESA (Standard Encyclopaedia of Southern Africa), Die Afrikaanse Woordeboek, die Ensiklopedie van die Wêreld en KENNIS bevat geen inskrywing onder Bawenda/Bavenda nie. Al wat die Encyclopaedia Britannica van hulle te sê het, is dat hulle (saam met ander swart en geel volke) vroeg in die negentiende eeu in Transvaal woonagtig was, totdat Mzilikazi en sy impi's die landstreek omstreeks 1817 binnegeval het; die oorblyfsels van die Bawenda het noordwaarts na die Waterberg en Soutpansberg uitgewyk. |
|