Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 474]
| |
Die Huis van die Vier Windeaant.1 Die Huis van die Vier WindeDie oorlede dr. Paul de Roubaix, die bekende Suid-Afrikaanse plantkundige, het aan 'n klein geselskap van ons eenmaal die volgende gebeurtenis vertel: Ons gesprek het gegaan oor die bonatuurlike, en een van die geselskap het die doktor gevra of hy glo in die voortbestaan van die menslike persoonlikheid ná die dood. In antwoord op die vraag het hy net geglimlag en ná 'n tydjie, toe 'n wagtende stilte die geselskap gepak het, sê hy in sy sagte, melodieuse stem: ‘Ek sal julle 'n voorval vertel wat die naaste aan wetenskaplike bewys is wat ooit binne my persoonlike ondervinding geval het.’ En toe vertel hy ons die storie van Die Poort van die Vier Winde ... ‘Dit was op die sestiende dag van Julie, taamlik laat in die middag, toe Jan Nel en ek die voet van die berge bereik. Ons was te perd en ons het vinnig gery, want dit was bitter koud en die hemel was swart bewolk, en die naaste en enigste herberg was die Poort-Huis op die hoogste deel van die plato. Die spitse van die Middelberge was toegepak met wolke wat nou en dan in geweldige roering raak - 'n sekere bewys dat 'n stormwind op die plato aan waai is. Jan Nel het al die tekens met blykbare misnoeë aanskou. “Ons moet ry,” het hy so af en toe waarskuwend gebrom. “Die hemel bewaar man of muis wat vannag sonder skuiling op die plato moet deurbring.” Die poort self was soos 'n ontsettende klankbord. Tussen die magtige rotswande was ons van die wind geskuil, maar die geweld daarbo ons het 'n oneindige gedreun van klanke in die kranse verwek. Ons kon die tam perde slegs op 'n stadige stap die steilte laat uitklim en toe ons bo uitkom, was dit donker nag. Ek dink nie dat ek ooit 'n nag so donker of so bitter koud beleef het nie. Die wind het die woede van 'n orkaan bereik en op sy swart vleuels trek die een miswolk na die ander oor ons heen. In die donker hemel was geen ster sigbaar nie. Die drywende sneeu, skerp soos naalde van staal, het ons kaal hande en gesigte byna onuitstaanbaar gepynig. Jan ry voor en ek kort op die hakke van sy perd. Praat kon ons nie, want bo die rumoer sou ons luidste geskreeu onhoorbaar gewees het. Die Poort-Huis is sowat ses myl - 'n uur te perd - van die ingang van die Poort. Ons kon die perde geweldig onder ons voel rittel en bewe, en so gedaan was | |
[pagina 475]
| |
hulle van die koue dat die windstote hulle so af en toe geweldig laat slinger het. Ek moet erken dat die hoop my dié nag verlaat het. Van stilhou en vuurmaak was daar natuurlik geen sprake nie en ek wis dat ons en ons arme diere gedoem was as ons die nag sonder beskutting op die kaal hoogte - agtduisend voet bo seespieël - moes deurbring. Ek het my oë stip op Nel gehou en die beeld wat hy in die donker vertoon het, is vir altyd op my geheue ingebeitel. Hy en sy perd was natuurlik slegs 'n vormlose, swart gedaante, maar ek kon sien dat hy laag oor sy saalboom gebuig sit om sy liggaam soveel moontlik teen die geweld van die wind en die koue te beskerm. Dat hy koers kon hou, was natuurlik alleen toe te skrywe aan die onverklaarbare instinkte wat veldmense soos hy ontwikkel. Maar dié nag was ek seker dat hy verdwaal het. Dit het my voorgekom asof ons al ure ry en die Poort-Huis was maar ses myl van die boonste ingang. Ek herinner my dat ek net besluit het om my perd met spoor en sambok vorentoe te druk om hom te vertel dat ek geen tree verder kon gaan nie, toe hy sy perd inhou. Toe ons skouer aan skouer kom, kon ek hoor dat hy iets skreeu, maar die wind het sy woorde so doodgevee dat hulle onverstaanbaar was. Maar tegelyk wys hy met sy sambok vorentoe. Eers kon my betraande oë in die gordyn van vlieënde miswolke wat die wêreld omfloers, niks herken nie. En toe - net 'n oomblik, deur 'n skielike opening - sien ek 'n skitterende liggie, helder soos 'n ster. Waarlik, nooit het die seevaarders van ouds die poolster wat hulle huiswaarts rigsnoer, weer met groter blydskap bo die ewenaar begroet as wat ek die liggie verwelkom het nie. Dit is die Poort-Huis, of soos dit destyds algemeen bekend was, die Huis van die Vier Winde, 'n vertaling van sy inboorlingnaam - Inthlo di pefu L'ine. Die duisternis was so bedrieglik dat die liggie vir my nog myle ver gelyk het, maar toe ek my omgewing weer gewaarword staan ons by die klipmuur van 'n huis en 'n groot staldeur. Jan het ons perde versorg, terwyl ek binne die stilte en warmte van die groot stal weer asem en moed skep. Ons verwelkoming by die Poort-Huis sal ek nooit vergeet nie. Ná 'n geweldige en aanhoudende gestamp om ons bo die geweld van die storm hoorbaar te maak, sluit 'n man die deur oop en wenk ons om vinnig na binne te kom, sodat hy die wind en reën so spoedig moontlik kan uitsluit. In die groot kamer, waartoe die voordeur toegang gee, was Willem Cameron en sy vrou. Ek herinner my nog dat ek te midde van my bewende ellende 'n moment verbaas gestaan het oor die sonderlinge skoonheid van mevrou Cameron. Sy was een van die mooiste Afrikaner-vroue wat ek ooit gesien het ... die ware madonna-tipe, met gelaatstrekke wat by uitstek die indruk maak van kalmte en bedaardheid. Julle sal almal die verbasende vreesloosheid onthou wat sy later in die oorlog, te midde van die uiterste gevaar, getoon het. | |
[pagina 476]
| |
Hou die feit in geheue, want dit sal help om die gebeurtenisse te kan beoordeel wat ons die nag in die Poort-Huis deurleef het. Daar was dus net vier van ons, want Cameron het geen kinders gehad nie. Op die groot klip-es brand 'n gloeiende vuur van hardekoolstompe en Nel en ek was spoedig so na aan die heerlike hitte as wat ons ons met veiligheid kon aandring! Mevrou Cameron was vol moederlike besorgdheid oor ons bejammerenswaardige toestand. Binne 'n paar minute het sy twee stomende glase pons in ons verlamde hande geplaas wat ons moes drink, terwyl sy die ete opskep wat toe net gereed was. Dit sou moeilik wees om die diep gevoel van genot te beskrywe wat ons met hierdie skielike verandering van omgewing gewaargeword het. Hier warmte, rus en vrede; daarbuite die brullende storm met die dood in sy kille omhelsing. En nou moet ek julle eers iets van die Poort-Huis en sy geskiedenis vertel - ook om julle beter in staat te stel om die gebeurtenis van die nag in elke aspek te beoordeel. Die huis is oorspronklik deur Jan Valentyn Botha gebou - Jan Valentyn, die beroemde veldkornet van generaal Potgieter. Dit was in die tyd, toe die “Swart Kaptein” op sy berge die Boere nog gedurig getrotseer het en die huis was in werklikheid 'n vesting tot beskerming van die Poort. Jan Valentyn was 'n beroemde ambagsman en dit was in alle opsigte 'n verbasende huis wat hy hier in die wildernis gebou het. Dit was gemaak van enorme blokke geleërde slypsteenklip wat maklik met die koevoet vierkant uitgebreek kon word. Daar was een groot vertrek, half-gesolder, met 'n leertrap van binne. Aan weerskante hiervan was twee klein slaapkamertjies met deure wat in die middelvertrek uitgaan. Agter was 'n groot kombuis en van daar was daar 'n daklose gang wat toegang tot die stal en - agter die stal - tot die veekraal verleen. Jy kon dus onder absolute beskutting na enige deel van die huis en na die stal en veekraal kom. Vroeër was al die mure van skietgate voorsien, maar tydens my besoek was dit lank reeds toegemessel. Die Swart Kaptein was nog op sy berge, mompelend en nukkerig, maar sy gevaarlikheid was iets van die verlede. Die oumense het nog altyd waarskuwend van die “Swart Aasvoël” gepraat, maar die jonger geslag het oor dergelike verhale geglimlag: hy kon niks meer doen nie! Dit was 'n taamlik algemene geloof ... totdat hy weer eendag onverwags van sy kranse afgekom en die gruwelike Janse-moord gepleeg het. Die toestand was dus só gesteld ten tyde van my eerste besoek aan die Huis van die Vier Winde: die meeste mense het met minagting van die Swart Kaptein as krygsman gepraat; tog is daar nog dikwels na hom verwys, en daar was mense van gesonde oordeel wat die vrede nie vertrou het nie. Hoe dikwels het ek nie die uitdrukking gehoor nie: “Gee hom net die kans, dan moor hy weer” - 'n voorspelling wat later op verskriklike wyse bewaarheid is. | |
[pagina 477]
| |
So groot was die klipblokke waarvan die huis gebou is dat 'n mens binne die groot vertrek maklik die gevoel gekry het dat jy binne 'n bergspelonk staan. Die dak was baie hoog en die ongesolderde helfte is van muur tot muur deur massiewe oliënhoutbalke bespan. Bo in die duisternis van die hoë dakspits het die lig van die vlamme op die es 'n mommedans van lig en skaduwee uitgevoer. “Dit is 'n ruwe nag vir jou eerste kennismaking met die Huis van die Vier Winde, doktor,” sê Cameron aan my toe ons aan tafel sit voor die feesmaal waarmee Dora Cameron ons verwelkom het. “Ons is gewoond aan storms hier in die bobbejaan-wêreld waar die dak van die aarde altyd aan die wolke raak.” “En dis niks om ligsinnig oor te praat nie,” sê mev. Cameron met haar stralende glimlag. “In onweer soos ons vannag het, sou mens en dier wat dit sonder beskutting moet deurmaak in die uiterste lewensgevaar verkeer.” En toe gaan sy voort om ons te vertel van perde en beeste van hulle wat op die hoogte van die plato van koue omgekom het gedurende 'n enkele nag van blootstelling aan 'n sneeustorm in die winter. Ons luister met gespitste ore na die geweld wat buite woed. Ons kan hoor dat die storm elke oomblik in krag toeneem. Die reuse-voordeur was van dik boekenhout met wabande beslaan en van binne met 'n groot houtwerwel vasgesit. Daar kom windstote wat ons 'n oomblik laat verwag het dat die deur uit sy grendels geruk sou word. Elke nou en dan kom 'n vlaag die skoorsteen af wat 'n rookwalm grondwaarts blaas. Die geraas was ontsettend. Daar was 'n gebrom soos van 'n verwoede roofdier, afgewissel met 'n gehuil byna menslik in klank. Dan weer was daar 'n aanhoudende weeklag asof al die lank opgeslote geeste van die gefolterde aarde skielik losgelaat is om klaend hul wrewel en ellende aan die hemel bekend te maak. Die groot huis was dig gebou, maar die asem van die storm het so af en toe tot ons deurgedring en die vlam van die lamp op en neer laat flikker. Ná ete het ons in groot gemakstoele weer om die es vergader, waar Cameron ons breedvoeriger die geskiedenis van die wonderlike ou huis en sy agtereenvolgende bewoners vertel het. Nieteenstaande sy Skotse naam is Cameron (soos julle weet) 'n egte Afrikaner van Voortrekker-afkoms en sy vrou is 'n nakomeling van die oorspronklike ou kunstenaar, Jan Valentyn Botha, wat die huis gebou het ...’ Dr. De Roubaix sit 'n tydjie stil ingedagte en toe hy sy verhaal hervat, was dit asof hy diep onder die een of ander indruk geraak het. ‘Ek wil graag so noukeurig moontlik die loop van die gebeurtenisse weergee. Ek wil geen verkeerde atmosfeer skep nie, want ons arme nikswetendes wat 'n mediese kursus deurgemaak het, weet minstens dit met taamlike sekerheid: dat dit baie maklik is om 'n valse omgewing deur suggestie te skep en die mense so op allerhande dwaalspore te lei. Luister dan mooi! | |
[pagina 478]
| |
Die storm het 'n eienaardige gemoedstemming by my verwek. Hoe sal ek dit beskrywe? - Genot en gerustheid, 'n gevoel asof ons aan 'n groot gevaar ontkom het - dit was natuurlik my vernaamste gewaarwording. Maar daar was nog meer - en dit is iets minder maklik om te beskrywe. Diep onder in my geestelike gewaarwording was 'n gevoel van vrees - 'n gevoel van gedurige waghou, 'n gevoel van iets dreigends - iets sonder vorm of gedaante wat aan kom was. Wat, of van waar, wis ek nie, maar my geestelike houding was een van vreesagtige tegemoetsien. Julle begryp natuurlik dat hierdie gevoel nie oorweldigend was nie. Dit was iets dof en veraf, uit die donker hoeke van my siel wat ek maklik kon onderdruk en wat dan weer net so maklik in die straallig van my bewustheid opduik. Ek sê dit om julle te laat begryp dat toe die ding gebeur wat gebeur het, dit op my ten minste nie heeltemal onverwags afgekom het nie. En daar was ander - meer daadwerklike - “voorbodes” ook - soos julle sal hoor! In die middel van ons gesprek sien ek Jan Nel in 'n luisterende houding skielik orent kom. Hy lig sy hand om stilte te gebied. “Wat was dit?” vra hy. Wat hy werklik bedoel het, was: “Het julle dit ook gehoor?” Ons luister almal met ingehoue asem. Jan Nel het die fyn, hoogs geoefende sintuie van 'n veldsman gehad. Ek het goed genoeg geweet dat hy dinge lank voor my kon hoor en sien en selfs ruik. Maar Cameron self het ook eers niks gehoor nie. “Dit is die storm, broer,” sê hy gerusstellend. “As jy lank hier op die hoogte woon, sal jy sulke onaardse geluide gou leer ken en daaraan gewoond word.” En toe gebeur die tweede ding. Mev. Cameron spring skielik uit haar stoel op. “God bewaar ons!” hoor ek haar saggies soos 'n gebed prewel. Ek sien haar voor my oë verbleek, totdat haar hele aangesig kleurloos soos 'n haellaag in die vuurlig skyn; en diep in haar pragtige violet-oë was 'n vlaag van angs wat soos die gryp van 'n yskoue hand op my hart val! En toe dadelik hoor ek dit ook! Hoe sal ek dit aan julle duidelik maak? Dit mag natuurlik alles suggestie gewees het; dit laat ek aan jul oordeel oor. Bo die woedende gebrul en gekerm van die storm hoor ek, veraf en dof, 'n geluid; of liewer, twee geluide. Ek wis dadelik dat dit iets is wat ek tevore gehoor het - lank gelede in my kindsdae en ek kon 'n tyd lank nie onthou wat dit was nie. Maar ek kon dadelik merk dat die geheue van die drie by my lewendiger as myne is. Die een klank was lank uitgerek; iets wat tot waaksaamheid en tegelyk uittarting uitroep; 'n alarmgeskal uit die voorposte van 'n leër ... 'n baie eienaardige geluid. En tussenin - soos 'n geweldige begeleiding - was 'n dowwe weergalming van slae, net soos die weerklank van donder in bergkranse veraf. Stadigaan styg my herinnering tot helderwording. Dit was die waldhoring van ons noordelike naturelle en die gedreun was die slae op 'n oorlogstrom! In | |
[pagina 479]
| |
my kindsdae het ek dit verskeie male gehoor, sonder dat dit destyds enige dreigement van gevaar behels het. Dit was anders met my drie vriende gesteld. Hulle het die geluide onder die skaduwee van gevaar en bloedvergieting dikwels waargeneem. Daarom was die indruk wat dit op hulle gemaak het, veel lewendiger as op my. “Dit kan nie wees nie!” sê Cameron, sonder dat iemand aan die hand gegee het wat dit was. “Dit is die wind. Julle het die staldeur laat oopstaan en ... watter swartes kan in so 'n nag ronddwaal? Dis onmoontlik, ondenkbaar!...” Maar wat hy verder aan die hand wou gee, is deur 'n geweldige en skrikwekkende uitbarsting verhinder - 'n uitbarsting wat ons almal met een ruk op ons voete gebring en elke gevoelspier in ons liggame laat tril het. Dit was die groot voordeur wat skielik en geweldig oopruk. Die groot houtwerwel val kletterend op die vloer ... en van buite bars 'n windstoot na binne wat onmiddellik die lamp op die eettafel doodblaas en die vlamme hoog in die skoorsteen opjaag. Met die wind kom stormend na binne 'n gewoel van mis, reën en sneeu wat spoedig die hele vertrek met 'n byna tasbare duisternis vul waardeur die lig van die vuur dof en onseker skyn. En te midde van die gewoel sien ons iets - ons sien dit almal en tegelyk, en op die moment toe ek dit sien, het ek nie die minste twyfel gehad dat dit stoflik en tasbaar is nie. ... Dit was 'n jong man wat struikel-struikel - byna vallend - met slepende voete oor die drumpel inkom. Hy was so omwoel van misreën dat hy af en toe slegs 'n donker gedaante was. Maar ek herinner my dat die vuurlig een oomblik helder op hom gestraal het en toe sien ek hom duidelik - nie langer as vyf polsslae nie. Hy het donker hare gehad ... sonder hoed ... en 'n kort, donker baard. Sy oë was gesluit en op sy gesig het 'n uitdrukking van wroeging - van uiterste foltering, gespeel. Hy was lakenbleek en op my het hy dadelik die indruk gemaak dat hy na sy dood gestruikel het. Ek het stellig verwag om hom te sien neerstort, voordat een van ons hom kon bereik ... En toe verdwyn hy byna weer in die roerende miswolk. Maar my oë het hom gevolg terwyl hy voortslinger deur die voorhuis tot binne die linkerkantse slaapvertrek. Julle het nou goed verstaan’ - gaan dr. De Roubaix met nadruk voort - ‘dat ek die jong man net 'n enkele oomblik duidelik gesien het, sy hele liggaam en vernaamlik sy gelaatstrekke, maar so duidelik dat ek sy gesig nooit sal vergeet nie. Indien ek 'n tekenaar was, sou ek nou en hier sy gelaat so kon afteken dat enigeen hom sou herken, indien daar mense is wat hom vroeër geken het soos hy aan ons verskyn het. Toe hy na die slaapkamer aanslinger, het hy baie onduidelik geword en dit wel om twee lig begryplike redes. Al wat die groot vertrek toe verlig het, was die flikkerende vlamme van die vuur in die es en op weg na die slaapvertrek het hy natuurlik altyd verder van die vuur beweeg. | |
[pagina 480]
| |
Die tweede rede was dat die voordeur nog al die tyd oopgestaan en die aanhoudende instroming van digter en digter misrag, en fyn sneeureën toegelaat het. Die groot vertrek het die indruk gewek van 'n reusagtige, kokende seeppot waarvan die deksel skielik afgeneem is! My herinnering van wat ek gesien het toe die jonkman die deur van die slaapkamer binnegaan en so buite ons gesig raak, is vaag, dit erken ek geredelik. Uit wat ek tot dusver vertel het, sal julle natuurlik reeds afgelei het dat dit nie alles pluis was met die jong man wat dié nag, oënskynlik in sterwende toestand, die Huis van die Vier Winde binnegeslinger het nie. En dit sou 'n juiste gevolgtrekking wees! Ek moet erken dat ek die verhaal nie meer as drie keer tevore in my lewe vertel het nie en een daarvan was 'n wetenskaplike uiteensetting in die tydskrif van 'n buitelandse, sielkundige vereniging en ek mag byvoeg dat die uiteensetting gegrond was op die veronderstelling dat dit alles die gevolg van 'n subjektiewe illusie was. Die tweede helfte van my verhaal het ek aan my wetenskaplike kollegas nie vertel nie. Terwyl ek besig is om my bieg te doen, mag ek byvoeg dat die groot oorsaak van my stilswye verleentheid was. Dit moet julle ook onthou, want dit ook is van waarde, wanneer julle die getuienis beoordeel ...’ Geruime tyd het die doktor diep ingedagte stilgesit. My indruk was dat hy sy geheue raadpleeg, nie soseer om die feite terug te roep nie, as om hulle te rangskik en ten beste voor te dra. ‘Ek gaan julle nou die tweede deel van die gebeurtenis verhaal en weer sal ek trag om alles wat die minste getuieniswaarde besit, juis weer te gee. Julle moet verstaan dat die storm, selfs binne die kamer, so 'n geweldige rumoer en lawaai gemaak het dat geen mensestemme hoorbaar sou gewees het nie. Ek weet dus nie of die binnekoms van die jong man met enige woorde of krete gepaard gegaan het nie. Die eerste woorde wat ek gehoor het, was 'n luide uitroep van mev. Cameron aan haar man. ‘Willem, maak toe die deur; alles waai te pletter!’ - of so iets het sy gesê. In enige geval, dit was 'n gewone uitroep waarvan nòg die gees, nòg die woorde enige kleur aan die verskyning van die gedaante te danke gehad het. Cameron en Nel het die dubbele deur toegedruk en ek kon sien dat dit al hul krag verg. Intussen het mev. Cameron die een of ander stuk gereedskap van êrens in die vertrek te voorskyn gebring en aan haar man oorhandig, en hiermee het hy die werwel aan die kosyn vasgehamer. Dadelik was daar 'n diep stilte binne die vertrek - of, liewer, die uitsluit van die storm het by my die indruk van diep stilte gewek. Dora Cameron het die lamp weer opgesteek en was besig om rondgewaaide kleedjies, papiere en ander klein meublement te herstel, terwyl ons drie ons hande en gesigte by die vuur afdroog. | |
[pagina 481]
| |
‘Foei,’ sê Cameron, ‘dit is vir jou 'n weer.’ ‘Ja,’ voeg Nel daarby, ‘dank die liewe Vader dat die doktor en ek betyds onder dak gekom het.’ ‘Julle moet nou goed luister’ - gebied dr. De Roubaix ons - ‘al die klein besonderhede wat ek opnoem, is ware voorvalle en ek noem hulle om 'n belangrike rede. By 'n voorval van hierdie aard hang alles van getuienis af en daar is slegs twee getuies wat ons kan inroep: die eerste is die indruk wat die gebeurtenis op ons omgewing, of op ander aanwesiges gemaak het en die tweede is die indruk op onsself. In meer wetenskaplike bewoording sou ek dit die objektiewe en die subjektiewe gevolge van die voorval noem. Ons het al drie weer in ons stoele gaan sit. Mev. Cameron het by die tafel bly staan met haar oë dán op ons, dán op die vuur. Ek het goed na haar gekyk. En nou moet ek julle 'n snaakse en baie onverstaanbare feit vertel: Geeneen van ons het 'n woord van die jong man gerep nie en ons het almal gerus gaan sit asof ons nooit iemand in sulke verbasende omstandighede by die slaapkamer sien ingaan het nie. Ek het 'n onoorkomelike ingewing gewaargeword wat my verhinder het om iets oor die voorval te sê, voordat een van die ander dit ter sprake bring; en dit nieteenstaande ek goed wis dat, as die jong man op hierdie oomblik iets op aarde nodig gehad het, dan was dit die hulp van 'n geneeskundige. Ek kon eenvoudig niks sê nie! My aandag was op die een na die ander gevestig en die houding en gedrag van Nel en Cameron het my normaal voorgekom; dit wil sê dit het my voorgekom asof hulle niks van die skielike binnekoms van die jong man gesien het nie. Maar met Dora Cameron was dit anders gesteld. Sy was bleek, met 'n duidelike trek van verskrikking in haar oë en sy het my noukeurig, met 'n soort angstige nuuskierigheid, stip aangestaar - asof sy sekerheid wou hê of ek iets gesien het, of iets wou sê. Die ander twee het aanhou gesels oor die storm en die waarskynlike skade wat daarvan te wagte was. Maar mev. Cameron en ek was altwee stil. By my het stadigaan 'n gevoel ontstaan dat ons twee 'n geheim deelagtig is waarvan die ander twee niks weet nie. Ná 'n aansienlike ruk stap sy na die kaggel en neem van die skoorsteenmantel 'n koperkandelaar met kers wat sy by die vuur aansteek. ‘Kom doktor,’ sê sy aan my, ‘laat ek jou eers jou slaapkamer wys.’ Dit was 'n eienaardige ding om te sê en om te doen. So sal dit julle nou voorkom en so het dit my later voorgekom, toe ek in kalmte alles kon bepeins. Maar toe dit gebeur het, het die snaaksheid van haar voorstel geen indruk op my gemaak nie en Cameron en Nel het geen blyk gegee dat hulle iets buitengewoons in haar gedrag kon sien nie. Ek het dadelik opgestaan en haar na die klein slaapvertrek aan die linkerkant van die voorhuis gevolg - die slaapkamer dus waar ek die jong man sien ingaan het. Ek moet eerlik erken (en ek het baie oor die saak nagedink) dat ek nie kan onthou wat my gevoelens op hierdie tydstip was | |
[pagina 482]
| |
nie. Ek kan selfs nie onthou of ek met sekerheid verwag het om die jong man in die slaapkamer te vind nie. Ek dink - maar ek is nie daarvan seker nie - dat ek oombliklik op die gedagte gekom het dat mev. Cameron en ek alleen die jong man gesien het, en dat sy, om die een of ander rede, sy teenwoordigheid in die slaapkamer vir die twee geheim wou hou. Toe ek die kamer binnegaan, staan mev. Cameron langs die bed. Dit was klaar opgemaak met haelwit lakens en slope - soos in vrykamers gebruiklik is. Sy hou die kers hoog bo haar hoof om die bed en alle dele van die klein vertrekkie te verlig, en intussen was haar oë stip op my gevestig. Geeneen van ons twee het 'n woord gesê nie, maar ons het mekaar geruime tyd vraend aangestaar. ‘Sien jy, doktor, daar is niks nie,’ sê sy eindelik en met dié woorde draai sy om en lei my weer die voorhuis binne. Julle moet goed let op die eienaardigheid van die gedrag van ons altwee. Waarom het ek niks van die jong man gerep nie? As wetenskaplike persoon sou my verklaring wees dat, ofskoon ek daar en dan gereed sou gewees het om 'n plegtige eed af te lê dat ek die jong man gesien het net soos ek julle vertel het, ek nietemin in my onderbewussyn net so seker was dat die verskyning subjektief en nie objektief was nie. Ons het skaars weer almal in ons gemakstoele gaan sit, toe 'n tweede voorval gebeur wat ons herstelde vrede weer in beroering gebring het. Daar is aan die voordeur, soos met slae van 'n voorhamer, geklop! Maar dit is merkwaardig dat hierdie keer daar geen bespeurbare skrik by een van ons was nie. ‘Wie op aarde kan dit wees?’ sê mev. Cameron; en sonder 'n woord haas haar man hom na die deur en sluit dit oop. Weer was daar 'n walm van mis en sneeu oor die drumpel, maar hierdie keer was die storm spoedig weer uitgesluit en die nagbesoeker kom in die lamplig te voorskyn as 'n bekende buurman van die Camerons en 'n ou vriend van ons almal. Dit was die ou heer ‘Groot’ Willem Prinsloo, een van ons oudste inwoners, 'n Voortrekker-seun wat deur die hele distrik bekend en bemind was. Hy het 'n reënjas aangehad wat geblink het van smeltende sneeu en sy lang, wit baard het soos 'n snoer diamante in die vuurlig geskitter. Goed kan ek my nog die reuse-gestalte herinner. Volgens gewoonte van ons oumense het hy Dora Cameron gesoen en ek herinner my hoe sy haar gesig na die omhelsing met 'n laggie moes afdroog. Julle onthou seker nog almal die indrukwekkende voorkoms van die ou heer, sy kalm en bedaarde houding, die skalkse glimlag ná een van sy eie grappe en die stadige en besliste wyse van praat wat by ons ou krygsmanne 'n aangebore eienaardigheid was. ‘Dora, ek is van binne een stuk ys,’ sê hy nadat hy sy reënjas en hoed aan die kapstok gehang het, en sy verkluimde hande by die vuur verwarm. Spoedig is 'n kommetjie stomende koffie in sy hande geplaas, terwyl Dora haastig weer 'n half-tafel dek en ete vir die ou heer gereedmaak. | |
[pagina 483]
| |
Ons het laat die nag om die vuur sit en praat, terwyl die storm buite aanhoudend woed. Oor en weer is nuus vertel en oom Groot Willem het ons verhaal hoe sy perd die Poort uitgesukkel het. So geweldig was die storm dat hy byna besluit het om na die Poort terug te keer en êrens onder die kranse vir die nag skuiling vir hom en sy perd te soek. Dit was asof ons almal ongeneë gevoel het om die vuur te verlaat en bed toe te gaan. En toe sê Dora Cameron weer 'n snaakse ding: ‘Het jy niks buitengewoons teëgekom nie, oom Willem? Ons het die swartes hoor tamboer slaan en waldhoring blaas, en ek dink die doktor het hom verbeel dat hy 'n spook gesien het.’ Toe sy dit sê, kyk sy my met 'n gemaakte laggie aan, asof sy te kenne wou gee dat sy die spot met my dryf. Maar ek kon voel dat daar iets baie dieper agter haar woorde skuil. Onthou julle dat sy tevore iets snaaks gesê het? Onthou julle die uitdrukking in die kamer - ‘Sien jy, doktor, daar is niks hier nie?’ Bring dit in verband met wat sy nou gesê het à propos van niks wat tevore gesê is nie, dan sal julle miskien kan besef dat daar iets - 'n soort onuitgedrukte verstandhouding tussen my en die vrou was. Oom Willem lag toe sy hom dit vra. ‘Nee,’ sê hy, ‘my dae van spooksien is verby. Hulle val jou maar net lastig tot jou twintigste jaar. Hulle is die ergste solank jy nog snags moet ry om op te sit. Sodra jy die vrou het, dan lyk dit of hulle moedeloos word. Vandat ek my ou vrou getrou het, het ek nie meer spoke gesien nie. Ek dink hulle erken onder mekaar dat die ongelukkige vent genoeg spokery tuis het, daarom laat hulle dit maar aan die vrou oor.’ En toe was dit asof 'n ernstiger gedagte hom skielik te binne skiet. ‘Maar as daar 'n plek is waar dit behoort te spook, dan is dit in hierdie ou huis - Inthlo di pefu L'ine - soos die swartes dit vanmelewe genoem het. Die ou geloof is dat dit meer geneig is om te spook waar die dood 'n ongelukkige mens onder afgryslike omstandighede genader het. As dit waar is, dan behoort hierdie vertrek 'n uitverkore plek te wees en as een die spoke behoort te sien, dan is dit Doortjie, want haar oorlede moeder ... wel, 'n mens mag sê dat sy dit alles bygewoon het ofskoon sy destyds nog nie in die wêreld was nie. Doortjie ... laat ek sien ... jou moeder is gebore net 'n maand na jou grootvader se dood? ... Ja, net 'n volle maand.’ Die ou heer kon sien dat ons almal gretig luister om die storie te hoor. Die ander het dit meermale gehoor en alles daarvan geweet, maar hulle wou net so graag soos ek - wat dit nooit tevore gehoor het nie - die ou man weer hoor vertel; en ek kan julle verseker dat ek nooit iets meer dramaties, iets meer roerends in my lewe aangehoor het nie. Nooit het hy 'n enkele gebaar gemaak, nooit was daar 'n stemverandering nie. Kalm en bedaard het sy diep stem voortgevloei, | |
[pagina 484]
| |
terwyl sy oë vas op die muur gevestig is, asof hy in die helder vlamme weer die beelde te voorskyn roep waarvan hy ons vertel: ‘Ek was een van die eerste vier wat op die toneel afgekom het net nadat dit gebeur het. Ek was saam met oom Thonie du Toit. Ons het net van die jagveld teruggekeer. Hierdie plaas het toe behoort aan Doortjie se grootvader, Koos Valentyn Botha - Vaal Koos het ons hom in die wandel genoem, omdat hy so blond van kleur was. Hy was 'n jong man van vier-en-twintig en net 'n jaar getroud. Doortjie se grootmoeder was haar eerste kind te wagte - en soos ek julle vertel het, is sy net 'n maand later gebore ...’ 'n Paar minute lank het hy sy verhaal onderbreek en toe ek na mev. Cameron kyk, was ek verbaas, byna verskrik, om te sien dat sy die tweede keer dié nag doodsbleek geword het. Haar groot, donkerblou oë was onbeweeglik op die gesig van oom Willem gevestig - en sy het gretig na elke woord geluister. Haar hande was saamgevou in gedurige wringing en ek kon haar bors onder 'n vreeslike aandoening sien hyg. ‘Dora se grootmoeder was ook Doortjie - Doortjie Botha. Haar man, Koos, het die plaas met sy troue geokkupeer en sy bruid reguit van die kerk af na hierdie huis gebring. Dit was net 'n jaar later. Hulle het net alles gereed gemaak om na Doortjie Botha se moeder by Onder-die-berg te trek. Hulle sou 'n paar maande kuier en dus die vee en hul hele boerdery saamneem. Doortjie se kind sou daar in haar moeder se huis gebore word. Dit was die plan. Net Koos Botha, sy vrou en haar niggie, Sussie du Toit, 'n kleindogter van oom Thonie wat saam op die kuiertog na Onder-die-berg sou gaan, het dus in die huis gebly. Sussie was 'n jong meisie van sowat sewentien of agtien. Dit was dieselfde tyd van die jaar as nou, in die hart van die winter, en Koos was haastig om sy vee so gou moontlik uit die koue te kry. Hulle sou lank reeds getrek het, maar dit was so bestier dat die een oponthoud na die ander hul vertrek verhinder het. Wie van ons sal ooit die voorbestemde plek en uur van sy dood ontvlug? Dit was 'n taamlike donker nag. Die drie het net klaar geëet en om die vuur gesit net soos ons nou hier, toe die honde op die werf skielik geweldig begin blaf. Koos het vier groot jaghonde gehad - van die ou Voortrekker-leeuhonde met die streep gekartelde hare langs die ruggraat. Daar was nooit 'n wreder, dapperder en getrouer honderas in die wêreld nie - en so groot en sterk soos driejaaroud-bontpote. Koos het opgestaan om te gaan kyk. Julle moet onthou dat vrede destyds geheers het. Ons het die Swart Kaptein gedurig besoek en in sy hoofstat handel gedryf en hy het elke jaar met ons saam olifante gaan skiet. By die drie in die huis het dus nie die minste agterdog bestaan nie. “Swartes,” was seker die laaste gedagte wat by hulle sou opgekom het. Al wat hulle kon vermoed, was 'n jakkals of, op sy ergste, miskien 'n wolf of 'n tier en teen roofdiere was die vee | |
[pagina 485]
| |
meer as voldoende beskut in die aangemesselde kraal, met die vier honde as brandwag. En so is Koos Botha na buite en het die voordeur agter hom toegetrek. Hy het lank weggebly en die geblaf van die honde het al hoe woedender geword en al hoe nader na die huis gekom. Doortjie Botha het opgemerk: “Dis die beeste wat uit die kraal gebreek het. Hulle gaan altyd so te kere as dit gebeur. Koos sal hulle in die donker nie gou weer binnekry nie.” En toe gesels hulle weer oor ander dinge. Daar was nie die minste vrees of onrus nie. En weet jy wat hulle toe gedoen het? Doortjie het aangebied om haar niggie te leer dans, want by Onder-die-berg sou hulle gedurende die winter baie dans. En onder groot gelag dans die twee om die tafel ... en toe skielik bars die voordeur oop en Koos stort binne met al vier honde, soos briesende leeus, om hom. Dit is moeilik om die verskrikking te besef wat die twee jong meisies oorrompel het. Die eerste wat hulle sien, is Koos se baadjie rooi van die bloed en twee asgaailemme in sy bors; een het hy reeds self uitgetrek. Hy kon geen woord praat nie. Slinger-slinger het hy daardie slaapkamer bereik (en oom Willem dui die linkerkantste vertrek aan) en op die bed neergestort. Hy was dood voordat sy vrou hom vaarwel kon sê. En weet julle wat die lewens van die twee meisies gered het? Luister: Oom Thonie en die drie van ons wat saam met hom na die jagveld was, het die berge te perd uitgekom en ons waens laat omtrek. Ons sou hier die nag slaap. Byna 'n halfuur te perd was ons hiervandaan, toe ek die geblaf van die honde hoor en so af en toe 'n skoot van 'n ses- of agtponder. Ons het dadelik onraad gemerk en so vinnig aangejaag as wat ons moeë perde kon galop. Toe ons naby kom, sien ons die vuurslag van die geweerskote uit een van die ou skietgate langs die deur wat Sus du Toit oopgebreek het; en die geblaf van die honde was binne-in die huis. En toe gewaar ons die oorsaak. Voor die verligte raam sien ons bywyle 'n trop gewapende krygers in oorlogstooi en spoedig kon ons hulle geskreeu hoor. Hulle was bang vir die honde - banger vir die honde as vir Sus du Toit met haar olifantsgeweer - want dit is 'n eienaardigheid van die bergkaffers. Ek het self gesien dat hulle gewapende mense agter 'n skans bestorm en dan weghardloop vir 'n groot hond wat hulle met een asgaaisteek kon dood. Dit was maar 'n klein klompie swartes - sowat vyftig onder aanvoering van 'n jonger broer van die Swart Kaptein. 'n Paar skote was genoeg om hulle op loop te jaag. Ons het hulle 'n ent in die donker agtervolg en 'n stuk of ses van hulle doodgeskiet en toe keer ons na die huis terug. Hier kry ons Sus du Toit nog by die skietgat met drie van Koos Botha se olifantsgewere en 'n klein Boesman-meidjie om te laai! | |
[pagina 486]
| |
En dié nag is Doortjie Botha se eerste kind gebore hier in die agtervertrek. Julle kan die toestand begryp. In een kamer lê die lyk van haar vermoorde man en om haar in haar barensnood te help net 'n jong meisie van agtien en ons vier hulpelose mans. Onder sulke trane en ellende het Dora se moeder hier in die ou huis die eerste lig gesien. Die ongelukkige moeder het haar man twee weke later na die graf gevolg. Daarom is Dora se moeder, toe sy nog 'n nooi was, die “Moord-wees” genoem. Wat is dit Dora, my kind?’ breek oom Willem skielik af en toe merk ons dat Dora Cameron geweldig snik, met haar hande oor haar gesig vasgedruk. ‘... En daar het julle nou die getuienis,’ sluit dr. De Roubaix sy verhaal af. ‘Daaruit is julle net so goed as ek in staat om af te lei of dit voldoende bewys lewer dat die menslike persoonlikheid na die dood voortduur en in staat is om met die lewendes in aanraking te kom. Ook kom daar 'n ander vraag by my op wanneer ek oor die gebeurtenis nadink: Is dit moontlik dat 'n voorval van hierdie aard 'n indruk op 'n ongebore kind kan maak en is so 'n indruk erflik? Hoe moet 'n mens anders die gedrag van Dora Cameron dié nag verklaar?’ Ons het geruime tyd woordeloos nagedink oor die eienaardige verhaal en toe dit lyk asof geeneen van ons iets daaroor te sê het nie, was dit dr. De Roubaix self wat ons die slot van die saak in die volgende woorde gegee het: ‘Die vraagstuk omtrent die invloed van die moederlike gemoedsbewegings op die ongebore kind en die oorerflikheid van dergelike invloede is egter 'n bysaak wat werklik niks met die saak wat ons oorweeg, te doen het nie. Ek wil julle net nog op een ding attent maak. Die getuienis dat verskynsels van die aard wat ek in die Poort-Huis ondervind en wat ek aan julle beskrywe het, dikwels voorkom, is oorweldigend en onomstootlik. Alleen omtrent die uitleg bestaan vandag wetenskaplike verskil; omtrent die feit self is daar nouliks verskil. Die vroeër uitleg is gewoonlik aan “illusie” en die “onderbewussyn” vasgeknoop. Dit wil sê, die uitleg van mense wat vasstaan op die stelling dat die menslike persoonlikheid onmoontlik sonder die menslike liggaam kan voortbestaan. Maar later opgedane kennis het die soek na uitleg tot 'n heeltemal nuwe oord gerigsnoer. Ons geringe kennis omtrent die eienaardighede van die wonderlike, ongenaakbare, ontasbare “iets” wat ons eter noem, 'n vloeistof wat harder en onelastieser as staal of selfs as die diamant is, wat die hele ruimte vul en so ver strek as die heelal - dit is eindeloosheid - en wat deur alle materie gaan soos lig deur helder glas, wat in branderbeweging gesit kan word, waarvan elke brander ewig voortduur - ons skrale kennis van die eter het by die mens allerhande nuwe gedagtes laat ontstaan. Ons kennis het dit moontlik gemaak vir die mens om sy stemmetjie in die verste sterre hoorbaar te maak en tot die uiterste van die heelal uit te saai, wat vir ewig moet voortduur. Indien die trillings wat sy stem dra, in klanke oorgesit kan word, sal dit moontlik wees om die woorde wat vandag oor die draadloos uitgesaai word, in die sonnestelsel van Orion op | |
[pagina 487]
| |
te vang en ná tien miljoen jaar weer hoorbaar te maak. Wanneer ons oor dergelike wonders nadink, kom onwillekeurig die vraag op of dit nie moontlik is dat menslike gemoedstorings 'n trilling in die eter veroorsaak nie. Julle moet onthou dat die eter die menslike brein en elke gevoelspier binnedring. Ons weet dat alle gemoedsaandoenings met 'n eweredige roering in die senustelsel van die mens gepaard gaan en dat 'n stroom van wat ons “gevoelspierkrag” noem aan ons gevoelens en gedagtes verbonde is. Hierdie krag wat gedurig langs die gevoelspiere van en na die brein vloei en waarvan die bestaan van siel en liggaam afhanklik is - hierdie krag, sê ek, is net so ontasbaar, net so geheimsinnig as die eter. Ons weet nie wat dit is nie; ons weet nie of dit buite die liggaam kan bestaan nie; ons weet nie of dit by die werking van die liggaam losgelaat word nie. Nou kom die vraag of menslike gemoedstorings nie waarskynlik 'n voortdurende trilling in die eter veroorsaak nie - sê maar, in die eter! Maar daar kan ander dinge - buite bereik van ons sintuie - om en in ons bestaan wees waarvan ons nog minder as van die eter weet. Is dit nie moontlik dat so 'n indruk of trilling veroorsaak en in gunstige omstandighede weergegee kan word, net soos die mens sy stem op die grammofoonplaat by wyse van trillings deur 'n naald laat inbeitel, en dat hy later elke klank wat hy geuit het weer kan hoor nie? Ek moet erken dat dit my as 'n waarskynlikheid voorkom. As dit so is, sou 'n mens daarin 'n bevredigende uitleg vir “spoke” en soortgelyke verskynsels vind. Die een of ander geweldige gemoedsaandoening - soos die dood onder verskriklike omstandighede of met diep verlange gepaard - word, laat ons sê, op die eter ingebeitel. Of dit veroorsaak 'n trilling wat iemand myle daarvandaan by wyse van 'n sigbare gedaante van die een wat die trilling uitsaai, opvang. So kan die hele voorval ook weer aan toeskouers sigbaar word, indien hulle op die regte tydstip die plekkie in die eter teenkom waar die voorval en die persone wat daaraan deelgeneem het, gegraveer is. Die toeskouer moet waarskynlik ook in 'n sekere stemming verkeer om die trillings te kan opvang.’ |
|