| |
| |
| |
2 Die Wegraak van Sannie
Hulle vertel die volgende storie van 'n meisie van Waterberg, wat later 'n groot rol in groot sake gespeel het.
Van haar jongste dae af was sy meer as middelmatig met die eienskappe bedeel wat 'n meisie vir 'n man aantreklik maak. Sy was fyn en in alle opsigte uiters vroulik, en baie, baie mooi. Pragtige hare; donker, wakker, vonkelende oë; en 'n kleur wat al wat pragtig was van die daglumier geleen het; gepaard daarmee had sy die lyfbou en houding van 'n standbeeld. Die leser sal derhalwe nie verwonderd wees om te verneem dat elke jongkêrel in haar omtrek op die een of ander tyd met 'n spogperd kom kuier het; en nie uit haar omgewing alleen nie - van Swaershoek, van Krokodilrivier, van die mees afgeleë dele van ons distrik het hulle kom kyk, om die volgende dag gewoonlik weer verslae en hartseer terug te ry - met geen moed in die man nie, en minder spog in die perd.
Ons het gepraat van die eienskappe van altwee geslagte; Sannie Rensburg van die plaas Wegdraai het baie meer gehad as fynheid en skoonheid en alles wat in 'n meisie lieflik is. Sy kon 'n goeie skoot met 'n geweer skiet, en daar was min seuns in Waterberg wat meer tuis in die saal was. Daarby het sy 'n wakker, lewendige verstand en 'n fyn humorsin gehad. Sy kon lekker lag en was lief vir 'n grap. Maar bo alles was sy bekend vir haar - ons sal dit maar vasberadenheid noem. Al haar minnaars - al die seuns wat dog hulle het nog 'n kansie - het gewoonlik daarvan gepraat as ‘beslistheid’, of so iets moois. Daar was ander wat dit 'n ander naam gegee het; van sommige het 'n mens soms gehoor: ‘Met al haar mooiheid is sy koppig soos 'n muil.’
En Sannie had ook - 'n pa. Ou Doors Rensburg van Wegdraai had ook 'n hele lys bewonderenswaardige eienskappe; maar die een waarvoor hy meer bepaald bekend gestaan het, was sy vasberadenheid, sy onwrikbare beslistheid - so ten minste het sy vaste vriende en bewonderaars dit beskrywe. Ander - en dit was miskien die groot meerderheid - wat minder onder die towery van sy onmiddellike invloed kom, het altyd van hom gepraat as ‘ou Doors Dwarskop van Wegdraai’. Sy ‘beslistheid’, ‘vasberadenheid’ was by hulle ‘koppigheid’, ‘domme halsstarrigheid’, ‘eselagtige steeksheid’. Met ander woorde, die maatskaplike gevoelens was oor oom Doors net so uiteenlopend as oor die skone Sannie. Maar dan moet 'n mens byvoeg dat wat maklik vergeefbaar is in 'n lieflike jong meisie, dikwels 'n ondraaglike verveligheid word in 'n ou kêrel wat graag gesels en baie opinies te lug het.
Nie oor te wonder nie dat die verhouding tussen Sannie en haar vader dikwels die verhouding was tussen staalslag en vuurklip; en wanneer dit gebeur, het die vonke op Wegdraai gespat. Maar oom Doors was gewoonlik soos 'n oli- | |
| |
fantsploeg oor alles heen. Mettertyd het die dure ondervinding Sannie geleer dat selfs sy nie kop kon bied teen haar pa se beslistheid nie.
Tant Driena, haar moeder, was op Wegdraai soos 'n bulsak tussen die onderste en die boonste meulsteen - in meer sinne as een. Tant Driena was die goedheid self, en tog het sy 'n wapen besit teen die koppigheid van haar twee huisgenote wat haar sonder kwessie op die uiteinde baas gelaat het op Wegdraai. Wanneer oom Doors soos 'n donderbui op haar neerkom oor een of ander nietigheid, het sy haar nooit teëgesit of kwaad geword nie. Sy kyk die ou net vir 'n rukkie stip aan - en dan lag sy! En tant Driena was vet en kon baie lekker lag. (Sannie het dit van haar geërwe.)
Daar was nooit op aarde enige teëspraak wat oom Doors so ontroer het nie. Sy oë glinster, sy ore swel, en hy blaas naderhand soos 'n noorkapper - maar tant Driena lag al hoe meer. Sy lag tot die leunstoel skud en die trane oor haar wange rol, om uiteindelik sug-sug uit te roep: ‘Ag, ou man, jy weet ek kry altoos so 'n pyn in my sy!’ As die ou nog 'n floue poging maak om die saak weer tot erns terug te bring, dan mag sy byvoeg, terwyl sy die trane van haar oë afvee: ‘Ag, ek onthou die laaste keer dat ek so lekker gelag het, was toe ou Groot Fasie Lemmer by Sarie se bruilof per ongeluk die eetlepel ingesluk het!’
Mettertyd het oom Doors ook wysheid geleer!
Tant Driena het naderhand 'n slag gehad wat die ou altyd onder die vaste indruk gelaat het dat sy wil alleen op Wegdraai geldig was, terwyl hy in werklikheid besig was om hare uit te voer. Wanneer die ou tot een of ander vaste besluit geraak het - natuurlik 'n verkeerde - dan het tant Driena nooit rusie gemaak of met 'n leërkorps van woorde hom aangeval nie. Niks sou die ou meer genoeë gegee het nie. Maar dit was nooit deel van haar krygslis nie. Met 'n laggie hier en 'n spotwoordjie daar het sy die ou netnou so mak dat sy hom met 'n stuk goiingsak kon kniehalter.
Dit is nou die persone, en dit die omgewing, waarin die groot toneelstuk van Wegdraai moes gespeel word.
Nee, nie al die persone nie; daar is nog twee wat moet voorgestel word. Die eerste is ou Hendrik van Heerden van Kromdraai, 'n buurman en lewenslange vriend van oom Doors. Iemand het eenmaal van die twee oues gesê dat hulle net so goed akkordeer soos 'n ystervark met 'n vaal makoppa; maar dit was miskien 'n vergroting van die waarheid. Weliswaar het daar selde 'n maand verbygegaan sonder dat die twee oues met kwaai woorde uitmekaar is; maar gewoonlik het hulle dit voor die volgende Sondag weer opgemaak en hand geskud, terwyl die een die ander op kalm en bedaarde wyse - soos dit buurmanne betaam - daarop wys dat hy nog al die tyd glad verkeerd en dwarskoppig was. Nou, oom Hendrik het 'n seun gehad - sy enigste ongetroude seun, Klein Hendrik - so fluks en flink en skoon 'n jong Afrikaner as daar in Waterberg destyds te vinde was, en dit is baie gesê.
| |
| |
Sannie, daarenteen, was oom Doors en tant Driena se enigste kind. Wat anders was daar dus op te sê as goedkeuring toe dit duidelik word dat die twee jongmense mekaar liefhet en van plan is om binnekort ouers te vra. Albei ouerpare was hoogs in hul skik. Nooit kon sake met hul kinders beter geloop het nie. Klein Hendrik het gereeld elke week gaan besoek aflê, en is op Wegdraai ontvang en beskou as 'n eie seun in die huis. Alles het mooi en maklik geloop; en die twee, Sannie en Hendrik, het besluit om volgende week ‘ouers te vra’ - wat natuurlik net 'n formaliteit was - en met Nagmaal te trou.
En toe word daar - dit kon deur niemand anders gewees het as die ou duiwel nie - 'n stokkie voor gesteek.
Dit was destyds die broeityd van een van die groot kerkgeskille wat van tyd tot tyd ons land geteister het. Waaroor die geskil presies gegaan het, kom nie op aan nie en raak ons storie glad nie. Maar die ongelukkige noodlot het dit so bestier dat die twee ou buurmanne in verskillende kampe geval het. 'n Week na hulle party gekies het, ontmoet hulle mekaar vir die eerste maal op Wegdraai. Oom Hendrik het aangery en wou nie afsaal nie. Hy het waarskynlik die onweer in die lug gevoel. Hulle gaan onder die groot wildevy voor die deur sit, en daar het Sannie hulle met koffie bedien. Daarna het sy en tant Driena in die stoepkamer gaan sit om af te luister! Ook hulle het onweer verwag.
Ná hulle na die gesondheid en gesaaide oor en weer gevra en geantwoord het, roer oom Doors die eerste die groot saak aan, op die sagte en kalme wyse wat 'n buurman betaam en wat bereken is om 'n teenstander gou tot jou sienswyse oor te haal. Hy sê aan oom Hendrik: ‘Ek hoor - en ek het dit natuurlik dadelik as 'n belaglike leuen bestempel - neef Henrik, dat jy jou trots, jou grys hare en jou fatsoenlike voorouers geskaar het by die bende van misleide onderkruipers wat klaarmaak om ons volk nogmaals in twee te verskeur en ons ongelukkige land in ellende te dompel; en ek sê jou vooraf, Hendrik van Heerde, dit is julle slim Judas-neuse verby.’
Op hierdie bedaarde wyse het die onderhoud begin. Dit is onnodig om dit trapsgewyse te volg. Voldoende is dit om slegs aan te merk dat oom Hendrik - soos die spreekwoord sê - ook nie op sy mond gevalle was nie. Die uiteinde, wat tant Driena en Sannie met swaar gemoedere uit die stoepkamervenster aanskou het, was: die twee stoele in die hitte van die gesprek so na aan mekaar gesleep as hulle kon kom; met gesigte vuurrooi en opgeblaas van woede; met die vinger van die een gedurig onder die neus van die ander gedruk, kom hulle uiteindelik op die kwessie van die naam.
‘Gereformeerde! - Pu! Waar kom die basterwoord vandaan? Dit is nie Hollands nie!’
‘Ek sê jou dis Gereformeerde! Die Sinode van Dordrecht het die naam vasgestel in dertien-ses.’
‘Ek sê jou, jare voor die Sinode van Dordrecht is die naam Hervormd deur
| |
| |
ons goeie kerkvaders in die Ses-en-vyftig Artikels van Heidelberg vasgestel.’
‘En weet jy nie dat dit die naam is wat Calvyn self gebruik het nie?’
'n Bitter skaterlag van die ander met 'n blik omhoog asof hy die wolke en die uitspansel tot getuie roep van sulke barbaarse onkunde: ‘Calvyn? Calvyn? Hy wil oor kerksake praat, en hy weet nie dat Calvyn 'n gebore Duitser was en geen enkele woord Hollands kon praat nie.’
‘Nou ja, wat ek wou te kenne gee, is dat hy die Duitse woord vir Gereformeerd gebesig het.’
En so is dit voort totdat die twee ou vriende en bure uiteindelik uitmekaar is met wedersydse ontsegging van plaas en gemeenskap.
Die ongelukkige vroumense wis dadelik dat hulle in die saak betrokke was - hoe bitter teen hul sin ook al. Sannie vra met trane in haar oë: ‘Sou 'n mens nou kan glo dat twee ou Christenmense hulle so kan gedra?’
‘Verontrus jou nie, my kind,’ troos tant Driena, ‘gebruik maar geduld, en ek sal alles regmaak.’
‘Ja, maar daar is nie tyd nie, Ma! Dit is veertien dae voor Nagmaal; ek moet nog baie trougoed kry, en ek het klaar die veraf mense van die bruilof laat weet! As dit uitgestel moet word, sal die hele Waterberg my uitlag.’
Haar treurige vermoede blyk dieselfde dag nog goed gegrond. Die aand het klein Hendrik oorgery - ook seker met die voorneme om sy vonnis te hoor. Reeds het sy vader hom gesê dat geen seun van hom ooit met 'n dogter van Doors Rensburg sou trou nie.
Toe hy oom Doors die aand die hand reik, word hy begroet met die woorde: ‘Neef Hendrik, ek het niks teen jou nie, maar vooraf moet ek jou vra: Aan welke kerk sal jy en jou aanstaande vrou behoort?’
‘Oom Doors,’ kom die besadigde antwoord, ‘by my maak dit geen groot saak onder welke naam ek staan nie, solank ek by ons ou geloof bly; maar my plig eis natuurlik dat ek my vader moet volg; en aan die kerk wat ek behoort, moet my vrou ook behoort, en daar sal my kinders gedoop word.’
‘Dit is genoeg, Hendrik! Geen dogter van Doors Rensburg sal ooit haar voete in die so-en-so kerk sit nie, en geen kleinkind van my sal ooit daarin gedoop word nie. Dit maak my hart seer om dit te doen, maar jou vader se koppigheid laat my geen keuse nie. Hy het my ook vanmiddag op 'n wyse beledig wat ek van geen straatjong sou verwag het nie. Ek moet jou my huis ontsê totdat jou vader weer tot sy sinne gekom het!’
En dit is die einde van die saak! Om verder rusie te vermy, moes Hendrik opsaal en ry. Toe hy Sannie vir laaste groet, is hy 'n weinig teleurgestel om geen traan in haar oë te bespeur nie. Inteendeel, hy het 'n sterk vermoede dat daar 'n glimlaggie op haar lippe is. Met die groet - van soen was daar natuurlik geen sprake nie, want dit moes in teenwoordigheid van die ou heer plaasvind - druk sy hom 'n klein pakkie in die hand, 'n klein pakkie so groot soos 'n vingerhoed,
| |
| |
in papier gerol. Hy hou dit in sy hand; en voor hy in die saal klim, bêre hy dit sorgvuldig in sy onderbaadjiesak om later te ondersoek. Maar so baie het hy om oor te dink dat hy die rolletjie glad vergeet het tot hy by die huis kom. Toe hy besig was om sy vryklere in sy kamer uit te trek, val die pakkie hom eers weer by. Hy haal dit dadelik uit, vou dit sorgvuldig oop, en binnekant kry hy 'n klein stukkie blou lint; binne dié weer 'n gebreide voorslag, en daarnaas 'n stukkie peperkorrelhare! - niks meer nie. Geen enkele geskrewe woord, geen teken van liefde of troos nie!
Ná 'n lang gepeins val dit hom naderhand by dat dit in die tyd van die Voortrek die gewoonte was om boodskappe op dié manier te stuur. Baie liefdesbriewe is op dié wyse deur voorwerpe alleen gewissel onder die jongmense van die voorgeslag, sodat daar later 'n ‘voorwerptaal’ ontstaan het wat mense soms beter geken het as die taal van die A B C. Maar hoe sou hy, wat nog nooit so iets in sy lewe gesien het nie, dit ontsyfer? En waarom kon sy nie ewe goed 'n woordjie geskryf het nie?
Toe herinner hy hom dat oom Doors Sannie in sy teenwoordigheid verbied het om hom sonder die oubaas se toestemming weer te ontmoet of aan hom te skrywe, en Sannie het met 'n hoofknik daarop geantwoord, wat natuurlik gelykstaan aan 'n belofte. Daarom het sy van die ‘voorwerptaal’ gebruik gemaak. Nou ja, hy sal maar sy verstand moet gebruik en sien of hy die ding kan wys word! Hy plaas die drie goedjies op die palm van sy hand en beskou hulle noukeurig - asof die sleutel van die geheim êrens in hulle verborge is. 'n Stukkie blou haarlint, 'n stukkie voorslag en 'n klossie hare wat sy in die haas van die ou aia se kop moet geknip het!
Die blou lint is nie baie swaar nie. Hy weet blou beteken ‘hoop’, en nou nog as 'n jong meisie aan 'n seun te kenne wil gee dat sy hof nie onwenslik is nie, dan dra sy 'n stukkie blou lint om haar hare, om die hals of voor op die bors. Die lint beteken dus: ‘Hou goeie moed! Moenie hoop opgee nie!’ Sover goed.
En nou die stukkie voorslag? Iets om aan 'n sweep te sit, om 'n os mee te slaan. Wou sy te kenne gee dat sy haar vader gaan klop? Nee, dit kan nie die bedoeling wees nie! Waar anders gebruik 'n mens 'n sweep voor? En dadelik val dit hom by dat die sweep - meer selfs as die roer - in Waterberg 'n manier van sein is. Die wa wat aankom, maak sy koms bekend deur die klap van 'n sweep; die vee word met die sweep uit die veld geroep, en die werksmense uit die land; mense wat kom kuier, verkondig hul koms met die sweep.
Nou is dit maklik! Die voorslag beteken: ‘Jy sal weer van my hoor,’ of: ‘Ek sal jou weer van my laat hoor.’
Hy voel heeltemal groots - so 'n dom kêrel is hy darem nie, al het Sannie hom dikwels daarvan beskuldig.
En die hare? ... Ag! dit is die maklikste van almal as jy eers die ander reg het. Natuurlik: ‘'n Swartmens sal vir jou my boodskap bring.’
| |
| |
Dié nag slaap hy gelukkig met strelende drome van Sannie.
Die volgende dag is die hele wyk geskok deur 'n berig wat Klein Hendrik met die geweld van 'n aardbewing bereik.
Sannie Rensburg het verdwyn!
In dié dae was dit glad geen onbekende ding vir mense om in Waterberg weg te raak nie. Die wêreld was nog ruig en skraal bewoon, en byna geen jaar het verbygegaan sonder dat een of meer kinders verdwaal nie; en elke nou en dan word die distrik in ontsteltenis gebring deur die wegraak van volwasse mense. Daar is ook in Waterberg verskeie groot inboorlingstamme, twee ten minste, wat destyds nog bitter vyandiggesind was teen die blanke bevolking. Nog nooit tevore het die ongeval 'n meisie oorgekom nie, en dit sal begryp word watter skrik die berig veroorsaak het. Skaars twintig minute ná hulle die boodskap ontvang het, is oom Hendrik en Klein Hendrik te perd en gewapen op weg na Wegdraai; en uit hul ontvangs daar sou 'n toeskouer nooit die groot rusie van twee dae tevore kon afgelei het nie. Oom Doors gee hulle die hand, met 'n aangesig waarop angs en droefheid teen mekaar veg.
‘My ou buurman, my ou broer, ek wis dat ek op julle kon reken. Wat het ek gedoen om so 'n straf te verdien?’ Sy stem raak in 'n snik weg. Oom Hendrik het lus, baie lus, om die ou 'n antwoord op sy vraag te gee, maar vir een maal in sy lewe raak hy die begeerte baas.
Om tant Driena te sien ronddwaal met gevoude hande en al die tekens van wanhoop is genoeg om vir dié keer al oom Hendrik se strydkragte op te droog.
‘Vertel ons nou so kort moontlik, oom Doors,’ sê Klein Hendrik prakties en bedaard, ‘hoe dit gebeur het, en wanneer julle haar laas gesien het.’
Maar daar was so te sê niks om te vertel nie.
‘Hendrik,’ antwoord die ou, ‘hier uit ons midde het sy verdwyn soos 'n wolkie in die blou hemel. Ek het opgemerk dat sy van eergister baie verslae en stil gelyk het. Wat die oorsaak was, kon ek nie dink nie. (“Hoor so 'n ou huigelaar!” dink Hendrik.) As ek haar maar gevra het! Dit was miskien in my menslike vermoë om reg te maak wat verkeerd was. Nou, wat dit ook al was, ons het klaar geëet, boeke gevat, en toe na gewoonte gaan slaap. Niemand het in die nag iets gewaar nie. Ek het nooit die honde hoor blaf nie - niks. En toe ons vanoggend opstaan, was daar geen Sannie nie. My vrou gaan in haar kamer, om tot haar verbasing te sien dat sy die nag nie in haar bed geslaap het nie. Julle kan haar kamer kom sien; ons het dit in dieselfde toestand gelaat.’
Hoe dit juis sou help om Sannie terug te kry, het geeneen van hulle hom gevra nie; maar hulle stap die kamer in en staan en rondkyk, weemoedig en verslae asof hulle reeds in teenwoordigheid van die dood is. Intussen vertel oom Doors wat gedoen word in die rigting van soek. Al die werksmense op die plaas is opgeroep, en hy self is netnou eers terug. Daar is geen wegkruipplekkie op Wegdraai wat hulle nie ondersoek het nie, en tot nou het hulle haar spoor nê- | |
| |
rens gekry nie. Maar van die spoor was maar min te hope. Dit was droog, en die grond so hard dat 'n perd skaars 'n spoor nalaat. Uiteindelik vertel oom Doors - met so min skrik in sy stem as hy kan help - hoe 'n klomp Mapelas 'n week gelede by Wegdraai aangekom het om na weggeloopte beeste van die kaptein te soek.
Toe was dit dat Klein Hendrik vir die eerste maal tekens gee van die diepste ontsteltenis.
‘Oom Doors,’ sê hy met byna woedende beslistheid, ‘ek sal haar kry, al moet ek haar in Mapela se hoofstat gaan uithaal!’
Die naam Mapela was destyds nog 'n woord van skrik in Waterberg, bevlek soos dit was met die bloed van baie onskuldige vroue en meisies.
Oor die soektog is dit onnodig om uit te wei. Stadigaan, met die versprei van die berig, het die bure bygekom. Veldkornet Janse was in bevel; en toe al die bure bymekaar was (die bevolking was maar yl), had hy die tweede dag 'n kommando van tien blanke mans en 'n groot aantal swartes.
Toe sommige van die soekers die nag by Wegdraai terugkom, was hulle so verslae dat hulle byna nie verdere stappe kon bespreek nie. ‘Dit is asof sy in die lug gesmelt het,’ sê die veldkornet.
Dié nag moes Klein Hendrik huis toe ry om sy moeder gerus te stel en 'n vars perd te kry.
Terwyl hy in sy kamer besig is, merk hy iets wit op die vloer onder die venster. Dit is 'n rolletjie papier net soos die een wat Sannie hom tevore in die hand gedruk het. Hy vou dit oop en vind binne: weer 'n stukkie voorslag; twaalf wit stokkies, almal van dieselfde grootte, aan 'n silwervingerring vasgebind; agteraan 'n stukkie blou lint; en langs dié 'n bossie vere van 'n groen papegaai. Onnodig om te vertel van die blydskap wat die pakkie in die hart van Klein Hendrik verwek; dit is ten minste 'n taamlike sterk bewys dat Sannie nog lewe - en die lees van haar boodskap sal bewys in hoeveel gevaar.
Nou die ontsyfering. Die voorslag en die blou lint spreek dié keer vanself: ‘Hou goeie moed; jy sal weer van my hoor,’ of: ‘gereeld van my hoor.’
Maar die stokkies en ring en die papegaaivere is moeiliker. Deur 'n soort ingewing skiet die betekenis van die eerste hom te binne. Die wit stokkies beteken natuurlik dae - twaalf dae - en die ring: huwelik. ‘Twaalf dae van nou sal ons huwelik plaasvind.’ Oor die papegaaivere het hy baie lank gesukkel, maar uiteindelik dag hy dat hy daar - met die kop tussen die hande - ook lig sien. Hy het gesit en dink oor papegaaie in elke moontlike verhouding waarin die voël kon verskyn, sonder om die minste opheldering te kry. ‘Praat’, natuurlik, is een van die dinge waar sy gedagte baie mee te doen gehad het; 'n papegaai kan praat. En toe onthou hy! Sannie het 'n mak papegaaitjie wat sy grootgemaak het.
Onlangs nog het hulle 'n stryery gehad oor die praat van die voëltjie. Sannie
| |
| |
het beweer dat 'n sekere geluid wat hy maak, 'n poging was om haar naam te noem; en hy het haar daaroor uitgelag. Sy het beweer dat hulle somtyds praat, en hy het dit ontken. En later het sy toegegee, of ten minste hy herinner hom goed dat sy gesê het: ‘Nou ja, Hansie, jy kan nie praat nie - omdat baas Hendrik so sê. Dan sal jy ten minste nooit kan vertel as hy sy arm om jou nooi se lyf sit - soos nou nie!’
Natuurlik is dit Hansie se vere; hy kan nie praat nie. Wat anders dus kan dit beteken as: ‘Moet niks sê nie. Moenie praat van hierdie boodskap nie.’ Slim meisie! Maar angs en liefde tesame aan die werk het ook miskien Hendrik se geeskrag verskerp.
En waar kom die boodskap vandaan? Hy was so gesteld op die ontsyfering dat hy hom nog nie daaroor bekommer het nie. Die boodskapper weet natuurlik waar Sannie is. Hy neem dadelik 'n stukkie kers en visenteer die grond onder sy slaapkamervenster. Daar in die stof is duidelik die spore van die briefdraer te sien: die kaalvoetspore van 'n swart vrou. Op Wegdraai in die huis is 'n ou aia wat Sannie opgepas het toe sy klein was; dit moet dus sy wees wat nog onlangs met Sannie in aanraking was.
Dit was 'n ander Hendrik wat die volgende oggend terug na Wegdraai gery het. Jy kon sy gefluit myle ver hoor, en dit het meer gelyk of hy ry om te gaan opsit as om sy verlore liefling in die woesteny te gaan soek. Hy het groot moeite gehad om sy gesig behoorlik lank te hou voor die ander mense op Wegdraai; en baiemaal was daar die grootste versoeking om uit te roep: ‘Haar lewe is nie in gevaar nie!’ Maar hy het Sannie se stilswyende gebod met die uitoefening van groot wilskrag uitgevoer, ofskoon hy nie kon nalaat om tant Driena so vurig die versekering te gee dat alles sal regkom dat sy hom lank en stip in die oë gekyk het nie, en vir die eerste maal het daar weer 'n skyn van hoop en verwagting oor haar gelaat getrek. Maar met die gewone slimheid van die geslag het sy dadelik ingesien dat Hendrik nie gekruisvra wou word nie; en sy het ook geen woord gesê nie, nòg aan hom, nòg aan haar ou man.
Dit is 'n vreeslike ding om in sulke gevalle die hoop by mense te sien sterf, net soos 'n vlammetjie in nat spaanders, wat tevergeefs soetjies aangeblaas word.
Sonder om 'n woord te sê het die soekers een ná die ander na Wegdraai teruggekom en in die voorhuis vergader, in 'n doodse stilte. Woorde was nie langer nodig om aan die bedroefde ouers te vertel dat alles gedoen is wat in mensekrag lê nie.
Net een is by die treurige vergadering vermis. Dit was Klein Hendrik. Hy het Sannie se ou oppasster die hele oggend in die oog gehou en sy kans waargeneem om in haar nabyheid te kom. Hy het haar reeds met die grootste beleefdheid by die kombuisdeur gegroet: ‘Môre, aia Sarie; hoe gaan dit nog met Aia - elke dag jonger? Treurig van die nonna, né?’
| |
| |
En ou Sara - tot sy teleurstelling - het op al sy speurpogings net ‘Ja, seur’ en ‘Nee, seur’ geantwoord, totdat hy tot die besluit gekom het dat hy verkeerd was: dit moet 'n ander swart vrou se spoor gewees het. Net toe hy van haar wou wegstap, neem sy die geleentheid waar, met die verbygaan, om 'n rolletjie in sy hand te steek. Teen dié tyd ken hy hulle al goed! Hy stap dadelik tuin toe, en daar in die eensaamheid van 'n piesangbos maak hy Sannie se jongste boodskap sorgvuldig oop. Die eerste wat hy sien, is 'n stukkie hout - 'n splinter van 'n plank afgebreek: langs dié is 'n voorwerp, netjies gemaak uit twee klein stukkies hout en ses spelde. Die houtjies is die afstand van die spelde van mekaar en deur hulle aan mekaar vasgesteek, in die vorm van 'n klein leertjie.
Vir minstens twee uur breek Hendrik sy kop oor die laaste boodskap, en alles tevergeefs. Hy kan daar geen ligstraaltjie in sien nie. Uiteindelik is hy ook huis toe om die droewige vergadering by te woon. Hulle is nou besig om die ding weer met plegtige stemme van begin tot end te bespreek, soos gepas is waar mense reeds die dood hand gegee het. Wonder bo wonder! Oom Doors - seker vir die eerste keer in sy lang lewe - het geen uitleg om aan te bied wat die saak finaal en klaar afhandel nie. Onder alle ander begryplike omstandighede sou dit ongetwyfeld gebeur het; en daar was dié dag geeneen in die huis wat sy sagmoedigheid nie bewonder nie. Na almal luister hy bedaard, erken selfs dat een of ander uitleg van die verdwyning, waaraan hy nie self gedink het nie, kan waar wees. Toe Klein Hendrik inkom, skiet sy gemoed vol! Hy wys stilswyend na 'n stoel langs hom en neem die jongkêrel se hand in syne, terwyl sy oë vol trane word: ‘My seun,’ sê hy, ‘my seun, ek voel vandag dat dit miskien 'n straf is wat die liewe Here my opgelê het, vir my haastigheid teenoor jou en jou vader, my getroue ou buurman. Hoe verkeerd en boos is ons menslike raad - as ons nie steun van Bo ontvang nie. Maar een ding, Hendrik, beloof ek jou nou hier plegtig voor jou vader en al die bure, as ons my liefling weer terugkry - hoe dit ook al mag gebeur - en julle wil mekaar nog neem, sal ek niks in die weg lê nie.’
‘Ek is hier!’ ... As 'n swaarweerslag hulle vir 'n oomblik verpletter het, kon die drie woorde nie meer skrik en verbasing veroorsaak het nie. Dit is Sannie se stem, en dit kom van bo. Aan een helfte van die balke van die voorhuis is boekenhoutplanke aanmekaargelê, soos 'n halfsoldertjie. Op die kant staan Sannie, met 'n kombers en kussing in die hand, en 'n kosmandjie in die ander, en 'n glimlag asof die hele ding 'n grappie is.
Die ontvangs wat sy geniet het, is maklik te begryp. Sommige van die soekers was woedend en het nie nagelaat om haar die waarheid te laat hoor nie. Haar ouers was so verheug en dankbaar om haar gesond terug te kry dat selfs oom Doors haar nouliks behoorlik 'n vermaning kon gee. Haar eie saak het sy so mooi en verstandig voor hulle bepleit dat die meeste naderhand begin lag het. Sy het besluit om op die planke te bly totdat sy op een of ander manier die
| |
| |
versekering kon kry dat nòg haar vader nòg oom Hendrik die huwelik tussen haar en Klein Hendrik sou belet.
‘Ek wou nie die spot van Waterberg word nie ... en ek het swaar gekry op die planke ... julle kan glo dat dit nie so maklik was om uit te hou nie.’
Haar eerste groet aan haar geliefde was: ‘O, jou domkop! Ek vertel hom so duidelik as woorde dit ooit kon maak: “Hier is ek op die boekenhoutplanke; kyk net boontoe, dan sal jy my sien,” en hy kon my boodskap nie lees nie - 'n stukkie boekenhoutplank - van die enigste boekenhoutplanke op Wegdraai, soos hy goed geweet het - en 'n mooi leertjie!’
Hendrik haal die boodskap uit sy sak, onder groot gelag. Almal verwonder hulle dat hy so dom was! |
|