Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 430]
| |
Margriet van Laastelustaant.1 Margriet van Laastelust‘Daar kom die veerwa van Laastelust!’ roep een van die slawe uit, wat besig was met snoei in die bergwingerd van Laastelust, bokant die meulhuis. ‘Jy dwaal - dit is glad nie 'n veerwa nie,’ stry 'n ander, na Masbiekergewoonte. Dadelik word die werk gestaak, en almal staan orent om die bewegende voorwerp in die verte gade te slaan en tegelyk 'n hewige argument op tou te sit. ‘Ek sê jou dit is die nonnie wat kom,’ hou die eerste man vol; ‘sien jy Fielet nie - hotvoor? Asof ek ons eie veerwa nie sou ken nie!’ Een na die ander gee in; en die ‘voorman van die wag’, soos hy genoem word, gee bevel dat een van die jongstes na die huis moet hardloop om die nooi te berig dat die veerwa net deur Bergrivierdrif is. Binne 'n uur is dit by Laastelust te wagte. Laastelust, die ou woonplaas van die Du Roubaixs, was een van die hoogste Hugenoot-bergplase destyds aangelê. Bo teen Drakenstein geleë was daar van die stoep 'n heerlike uitsig oor die groot en vrugbare vallei van Bergrivier en van die honderde plase en wingerde, wat toe alreeds so dig opmekaar was dat die streek vir beeste ongeskik was. Die wynboere moes hul poste gedurig verder en verder van Franshoek en Drakenstein versit. Die Du Roubaixs, 'n Hugenoot-familie, het 'n uitsoekplaas in Laastelust gehad. Net kort onder die waterval aangelê het die eiendom die ongehinderde gebruik gehad van net soveel water as die grond nodig het. Dit, gepaard met die uiterste geilheid van die aarde, het die familie van die begin af voorspoedig en ryk gemaak, ofskoon hulle nooit groot soos ander Franse families uitgebrei het nie. Die huis was 'n pragtige ou Franse woning, met 'n stoep byna so hoog as 'n gewone huis self en fraai uitgewerkte gewels, wat van oral uit die vallei sigbaar was. Aan die een kant van die huis was 'n ontsaglike kruisvormige kelder, die grootheid waarvan alleen bewys was van die voorspoed en rykdom van Laastelust. Eweredig groot was die slawehuis - 'n lang reguit gebou met grasdak en ystertralies voor die vensters. Bo teen die berg was die meulhuis (want Laastelust was ook 'n beroemde koringplaas) met 'n meulvoor bo in die berg uitge- | |
[pagina 431]
| |
keer, wat weer 'n myl ondertoe in die rivier loop. Voor die huis strek 'n reuseeikelaan af na die laagte, een van die bekende versiersels in die omgewing. Die familie wat op hierdie oomblik in besit van Laastelust is, bestaan uit net drie persone: vader, moeder en een dogter, Margrieta, wat vanmiddag die oorsaak was van al die opgewondenheid wat Laastelust uit sy gewone stille vrede gewek het. Margrieta was na Europa gewees - 'n reis in dié dae so seldsaam en ongewoon dat haar terugkoms deur die hele wyk belangstelling gaande gemaak het. Haar vader is 'n paar dae tevore na Kaapstad om sy dogter ná haar seereis van vier maande te ontvang en huis toe te bring. Met die eerste Engelse besitneming van die Kaap het hy van 'n geleentheid gebruik gemaak om Margrieta vir enige jare met 'n broer van sy vrou na Holland te stuur. Die oom was in diens van die Oos-Indiese Maatskappy en het geweier om in diens van die Engelse regering te tree. Hy en sy vrou het nie kinders gehad nie en was dankbaar genoeg om die skone niggie na die wonderlike Europa te neem. Margrieta het die Kaap net ná haar kinderjare verlaat; en nou kom sy terug as 'n jong dame wat die gewone huweliksleeftyd van 'n meisie van dié tydperk reeds verbygegaan het. Sy was agtien jaar oud toe sy weer ná haar driejarige verblyf in Europa in Kaapstad geland het, en dit was 'n nuwe Kaapstad waarmee sy moes kennis maak. Kommissaris De Mist was aan die hoof van sake en was toe net besig om klaar te maak vir sy reis deur die Kolonie. Intussen was die Kaap nog vol Franse militêre en vlootoffisiere, almal op wag op skeepsgeleentheid na Europa. As gevolg van die Napoleontiese omwentelinge in Europa is Kaapstad gedurende Margrieta se afwesigheid in 'n Europese stad verander, met nuwe modes en maniere, so anders as die ou Kaap van haar vroeër ervaring dat sy as 't ware opnuut met haar geboorteland moes kennis maak. Die aankoms van die jong Afrikanermeisie uit 'n welgestelde familie, ná iets so ongewoons as 'n Europese reis, het belangstelling in die hoogste kringe gewek, sodat sy, solank sy op die koms van haar vader wag, 'n uitnodiging ontvang het na 'n eetmaal en bal in die Kasteel, waar sy aan die Goewerneur en sy dogter voorgestel is en tegelyk kennis gemaak het met enige skitterende Franse offisiere. Dié het ook nie nagelaat om hul bewondering vir hul skone Afrikaanse stamgenoot op onmiskenbare wyse te kenne te gee nie. Maar Margrieta het in Holland reeds met dieselfde lui kennis gemaak, sodat daar geen kans was dat sy deur hul gemaakte hoflikheid verbouereerd sou raak nie. Die dag ná die bal het haar vader met die veerwa uit Drakenstein aangekom om haar huis toe te neem; en dit was die terugkoms van die veerwa wat soveel opgewondenheid op Laastelust veroorsaak het. Toe hulle voor die hoë stoep van die ou woning stilhou, was die jong meisie se aandoening so groot dat haar oë vol trane was toe sy by die agtertrap afklim. | |
[pagina 432]
| |
Op die stoeptrappies staan haar moeder woordeloos, met uitgestrekte arms; om die veerwa is al die slawe en bediendes van Laastelust vergader, en almal verwelkom haar met uitdrukkings van die grootste blydskap. ‘Dag, Nonna!’ ‘Welkom, Nonna!’ ‘Die nonna het 'n dame geword!’ Haar ou aia druk haar hand met die buitensporige tekens van ontroering eie aan haar ras, nog voor selfs haar moeder 'n kans gehad het om haar te soen. ‘Ek het haar grootgemaak!’ is die ou Masbiekervrou se verontskuldiging. Margriet het 'n jong slavin, Elisabeth, as lyfbediende na Europa saamgeneem en ook dié is met groot geesdrif deur die ander slawe verwelkom; haar wyse van loop, haar kleredrag, haar spraak is met uitbarsting van skaterlag gekritiseer, nageaap en bespot. Om 'n beskrywing te gee van die ontmoeting van moeder en dogter is onnodig. In dié dae was 'n reis na Europa soos 'n reis na 'n ander wêreld. Die seereis het gewoonlik van drie tot ses maande geduur, waarby genoem moet word dat die hele wêreld destyds in 'n gedurige toestand van oorlog en oproer verkeer het, die nuus waarvan maande geneem het om Kaapstad te bereik. Dit is dus begryplik dat die moeder van Laastelust haar enigste dogter begroet het byna soos een uit die dode teruggekeer. En Margrieta? Hier vir die eerste maal het sy weer die terugkeer gevoel na die wêreld van haar kindsdae. Ou Drakenstein, ten minste was onveranderd; Laastelust ewe min. Die skone Bergrivier, die pragtige eike, nou swart en kaal in hul winterdrag, die sneeubedekte berge - almal het haar soos 'n onveranderlike deel van haar eie lewe begroet.
Rojaal was die pragtige ou woning van Laastelust vir die geleentheid opgetooi. Nooit was die vloer van die twee enorme vertrekke wat voor- en eetsaal uitmaak, so blink gevrywe nie; meer na 'n swart spieël as na kiaathout het dit gelyk; terwyl die silwer- en kopermeublement - kandelaars, blakers, kwispidore - elk as 'n afsonderlike ster in die duister van die groot vertrek blink en skitter. Een ding sou 'n moderne besoeker dadelik opgemerk het - die afwesigheid van blomme in die huis. Ons voorvaders het laat eers die grasieuse gewoonte aangeneem om blomme as versiering binnenshuis te gebruik. Die verste in dié rigting destyds was 'n roos in die hare, of 'n ruiker in die hand of aan die bors van 'n jong dame in aanddrag. 'n Kiaathoutafskorting verdeel Laastelust se groot saal in twee ruim vertrekke. Die agterste is die eetsaal, met 'n musiekgalery teen die verste muur; en hier is dit dat die familie - vader, moeder en dogter - onmiddellik ná die aankoms om 'n groot vuur vergader het om oor en weer alles te hoor en te vertel wat hoogste in die hart lê. | |
[pagina 433]
| |
‘Een ding het ek gedoen sonder om selfs Vader te raadpleeg,’ sê die moeder in die loop van hul gesprek. ‘Ek het ons ou buurman mnr. Du Plessis en Paul genooi om vanaand by ons te eet. Ek was seker dat Margrieta bly sou wees om een van haar ou speelmaats - en die broer van die ongelukkige Louise - te ontmoet. Jy en Louise het tog soos susters grootgeword, en dit staan my altyd voor hoe dikwels sy haar vurige verlange vir jou spoedige terugkeer uitgedruk het. Ek weet dat sy werklik getreur het; en ons eensame ou buurman, met geen ander siel in die groot huis van Onverwacht behalwe Paul nie - ek weet dat hy 'n uitnodiging altyd as 'n verlossing van treurige herinnerings beskou. Is julle twee daarmee tevrede?’ Beide Margrieta en haar vader gee hul instemming te kenne, Margrieta met 'n gevoel van nuuskierigheid. Hoe sal Paul nou daar uitsien? Wat sal hy van haar verwag het? En wat sal hy van haar dink as hy haar sien? Sy en die drie Du Plessis-kinders, hul naaste bure, het byna soos een gesin grootgeword. Gedurende haar afwesigheid is twee uit die ongelukkige familie dood - die moeder was reeds gestorwe - Etienne, 'n tweelingbroer van Paul, en hul enigste suster, Louise. Dit was die treurigste berig wat Margrieta gedurende haar verblyf in Holland van huis ontvang het. 'n Mens moet toegee dat Margrieta dié aand nie minder sorg met haar toilet geneem het as toe sy 'n paar aande tevore haar eerste verskyning op die bal in die Kasteel gemaak het nie. 'n Spierwit kostuum uit Europa meegebring, was van 'n fatsoen goed bereken om die sagte lyne van haar skone gestalte op sy beste ten toon te stel. Die lyfie was nou om die middel en laat arms hoog en hals laag bloot, met 'n skuim van Vlaamse kant oor die skouers en bors. Die romp, ook nou om die lyf, loop met verdrag wyer na onder, waar dit met gevoude plooie hang, lank genoeg om die grond voor die voete te raak, met 'n taamlike sleep van agter. Sy kon dus moeilik loop sonder om die rok met altwee hande op te hou - 'n soort ongemak wat die geslag hulle in alle periodes getroos, ter wille van die mode. Sy het geen metaal- of edelsteenversiersels aan nie, selfs geen borsspeld nie; en die enigste kleur is verleen deur 'n dieprooi roos in haar hare. Dit was met byna 'n gevoel van angs dat sy die aand by die vuur staan, nadat sy aangeklee was, en luister na die koms van die twee gaste van Onverwacht. Sy het besluit, sodra sy die rytuig hoor kom, om haar in die musiekgalery aan die bo-ent van die eetsaal weg te steek, waar sy eers die besoekers goed sou kan beskou voordat sy haarself vertoon. Dié doel is egter verydel, omdat Paul du Plessis en sy vader onverwags te perd gekom het, met 'n slaaf vooruit as lanterndraer, in plaas van die verwagte rytuig. Voordat sy die trap van die galery kon bereik, gaan die deur van die afskorting oop en die twee gaste staan voor haar, in groot rymantels gehul, en 'n slaaf is besig om dit van hul skouers af te neem. As sy verwag het dat Paul miskien in 'n ouderwetse kleredrag sou verskyn, was | |
[pagina 434]
| |
sy aangenaam teleurgesteld. Dieselfde sorg wat sy aan haar toilet bestee het, het ongetwyfeld die jongman ook besiel. Hy was drie jaar in die Kaap op skool, gedurende byna die hele tydperk van haar afwesigheid. Hier het hy nie alleen die voordeel van 'n moderne opvoeding gehad nie, maar ook het hy gedurig in aanraking gekom met mense van die beste stand - 'n lewenswyse wat hom 'n ondervinding verskaf het wat destyds nie in enige vername opsig anders was as wat hy in 'n Europese stad sou opgedoen het nie. Toe die slaaf die mantel van sy skouers neem, sien Margrieta voor haar, in plaas van die jongetjie met wie sy gespeel het, 'n jongman in 'n nuwerwetse aanddrag van die periode - 'n swart lakense swawelstertbaadjie, om die middellyf alleen vasgeknoop; 'n kort, swart rybroek onder die knie gegespe; swart sykouse en lae blinkleerskoene met goue gespes. Om die hals was 'n fyn kamerdoekhalsband, drie of vier keer omgewoel en voor die bors in 'n strik met kantborduursel vasgebind. Aan sy linkersy was 'n smal reguit swaard met 'n goue handvatsel. Soos al die mans van dié tyd, jonk en oud, was sy gesig geheel glad geskeer; en hy had 'n fyn tipe Frans-Afrikaanse gesig, wat geen baard of snor sou verbeter nie. Die donker hare was lank en glad agteroorgekam. Die drag van sy vader, soos van mnr. Du Roubaix, was meer ouderwets. Geen van beide het 'n swaard, of kant aan die nekbandstrik nie; en altwee dra hoë rystewels in plaas van blinkleerskoene. Ná hy haar ouers beleefd gegroet het, staan Paul uiteindelik voor Margrieta. Met een hand op die bors buig hy diep en langsaam na die beste Franse mode. ‘Mamselle,’ begin hy. ‘Ag nee, Paul!’ lag sy. ‘Waarom al dié formaliteite? Tussen jou en my tog nie! Ek kan jou nooit vertel hoe moeg ek is vir die gemaakte maniere en hoedat ek verlang het na ons eie ou Drakenstein en ons eenvoudige, ongekunstelde maniere nie. En nou moet ek soos aan 'n hof deur my ou speelmaat begroet word!’ Sy lag vrolik - die vrolikheid van 'n helder bergstroompie in die vroeë môre. Paul bloos diep, en vir 'n paar sekondes is hy so verleë dat hy tevergeefs na woorde soek. ‘Ek vra u pardon, juffrou!’ begin hy weer. Weer val Margrieta hom laggend in die rede. ‘Waarom dan nie Margrieta nie? Laat dit Margrieta wees! Jy herinner jou tog hoe ons saam gespeel het, jy en Etienne, Louise en ek, langs die gewel van die ou meule? Etienne was altyd my geliefkoosde, maar jy en hy was so eenders dat dit moeilik was vir vreemdelinge om een van die ander te onderskei. Maar Etienne was vroliker en opgeruimd; jy was altyd stil en wat solemneel! Laat dit maar Margrieta weer wees!’ 'n Mens kom agter dat sy hard probeer om Afrikaans te praat en dit moeilik vind. Haar vriendelikheid gee Paul sy moed terug. | |
[pagina 435]
| |
‘Nou wel, Margrieta’ - met nadruk - ‘ek moet u my kompliment maak. Ek kan u nooit vertel hoe u verander het nie. Ek kan nouliks die ou Margrieta, my speelmaat, bespeur.’ ‘Nou ja,’ lag die meisie, ‘jy kon tog nie verwag dat ek nooit moes opgroei nie!’ ‘Maar dis nie al nie! Dis nie net dat u 'n jong dame geword het nie ... maar ...maar ...’ Hy wou haar vertel - dit het skielik 'n drang by hom geword - hoe mooi sy is, hoe verbasend, asemrowend pragtig sy is. En waarlik is Margrieta 'n beeld soos sy daar staan in die lig van 'n menigte kerse en die helder vlamme van die dennebolvuur in die kaggel. Haar helder, glansryke wit vel het 'n fyn ligroos skynsel, veroorsaak sowel deur die hitte van die vertrek as die opgewondenheid van die ontmoeting met haar ou bekende. Haar donkerbruin hare is met alle dieptes van lig en skaduwee opgeluister en lê soos 'n kroon op haar pragtige hoof. Die opmaak van die massa hare was 'n werk waaraan blykbaar die meeste tyd en arbeid bestee is, die gewillige plig van die jong slavin Elisabeth, aan wie Margrieta in die gewoonte geraak het in Europa haar aanklee en optooi oor te laat. ‘En Etienne ...ag, Paul, ek kan u nie sê hoe die berig van sy dood my ontstel het nie!’ Sy praat met opset om hom van sy voorgenome komplimente af te lei, en begin reeds in Afrikaans tuis te raak. ‘Reeds in Europa, in die eerste briewe wat ek van Drakenstein ontvang het, was daar berig van Louise se verdrinking en Etienne se dappere dood. Jy moet my later alles daarvan vertel. Kom ons gaan op die rusbank daar in die hoekie sit - ek vind die vuur 'n weinig warm.’
Prettig intussen om die vuur vergader, waar die lig die pikswart en helderwit van hul kleredrag in sterker kontras laat verskyn, was die drie ou mense; 'n goue snuifdoos doen die rondte, 'n slaaf bring 'n silwerskinkbord met ligte wyn as 'n voorete-drankie. Gesondheid word seremonieel in die rondte gesê, en onmiddellik daarna word die een sydeur aan die spens en kombuis se kant geopen, en 'n reusagtige Masbiekerslaaf stap na vore met die bekendmaking aan sy baas: ‘Ete is gereed, seur.’ Die ou heer Du Plessis bied sy arm aan mev. Du Roubaix, terwyl Paul dieselfde met 'n buiging aan Margrieta doen; en almal stap deur die groot deur in die houtafskorting wat die enorme saal in twee verdeel. Die agterste helfte is Laastelust se eetkamer. Die groot Masbieker, in spierwit geklee, hou die deur oop vir die geselskap totdat almal deur is. In die eetkamer is daar ook 'n vuur in die groot kaggel regoor die tafel. Die feesmaal maak 'n deftige vertoning, wat - so dink Margrieta - nie by Europa ver agter is nie, behalwe dat alles 'n bietjie ouderwets is, soos sy dit sou gestel het. Om die tafel staan agt groot waskerse in | |
[pagina 436]
| |
koperkandelare om lig op die borde te werp, en in die middel van die tafel werp 'n groot silwerkandelaar, die pragstuk van die familie, met vier kerse op die arms en een in die middel, 'n meer gekonsentreerde lig op die silwerskinkborde en koffiegerei. Aan elke kant van die kaggel is ook 'n kers in 'n muurkandelaar. Die tafeldoek is van sneeuwit Hollandse linne met 'n borduursel van kantstukke wat alleen by geleentheid van groot feesvierings op Laastelust uitgehaal word. Die vloer is byna swart kiaathout, met geen enkele tapyt of vloerbedekking nie, en so blink gepoleer dat die lig van elke kers soos in 'n spieël weerkaats word. Die slawe, almal blootsvoet en in wit linne geklee, staan om die tafel om die aansittendes te bedien, terwyl 'n slavin, ook 'n Masbieker, die kos van die kombuis aandra. Die plek van eer aan die onderkant van die lang tafel is natuurlik aan mnr. Du Plessis aangewys, terwyl die gasheer die hoof inneem. Aan sy regtersy sit sy vrou, terwyl Margrieta met Paul langs haar, aan die linkerkant sit. Die kos en manier van bediening was nog eg Afrikaans; hier ten minste was niks van Franse en Engelse invloed te bespeur nie. Bobotie, sosaties, gebraaide hoenders en eende, 'n stuk vet beesvleis, met tert en konfyt en koffie vir soetigheid, maak 'n maaltyd waarvan oorvloed liewer as fynheid die grootste indruk maak. ‘Maar dit is nog dieselfde,’ sê Margrieta, ‘alles dieselfde as toe ek 'n kind was. Ek kan die smaak van ou aia Sabien se melktert herinner asof ek dit gister geëet het.’ ‘Ja,’ sê haar moeder spottend, ‘in haar hart betreur sy nietemin die lekkernye van Europa, kan jy glo, Paul!’ ‘Ag, julle wil dit nou so hê! As julle almal net kon sien hoe bly ek is om weer tuis te wees, hoe bitter ek na ou Laastelust verlang het, sou Moe my nie eens wil pla nie.’ Almal, selfs haar vader, lag oor die Hooghollandse uitdrukkings wat telkens hul verskyning maak, nieteenstaande die bespeurbare poging om haar eie taal suiwer te praat. ‘Verlang na Laastelust!’ sê haar vader, terwyl hy met 'n glimlaggie 'n glas wyn met Paul drink; ‘verlang na Laastelust? En toe die slawe haar vanoggend op die stoep kom groet, moes ek haar Hollands aan hulle vertaal! Ou Sabien se uitdrukking was: “Ek dag die seurs praat oorkant die water net soos ons. Sal my nonnie ooit weer reg praat?”’ Almal lag, terwyl Margrieta in sorgvuldig gemaakte sinne teen al die plaery protesteer. Ná die koffie bedien was, plaas een van die slawe leunstoele om die kaggel, waar almal toe gaan sit en 'n soetsopie in klein kelkies aangebied word. In 'n hoek van die vertrek staan 'n groot met goud versierde harp, waarop mev. Du Roubaix in haar jong dae 'n uitmuntende speelster was. Op versoek van Paul | |
[pagina 437]
| |
staan Margrieta op, met die voorwaarde: ‘As Moe beloof om ná my te speel.’ ‘Ag, kind,’ sê haar moeder, ‘my vingers is lank reeds te styf geword.’ Terwyl sy daar sit met die groot instrument tussen haar arms, het Paul weer kans om haar helder skoonheid te bewonder, met die lig van die muurkerse direk op haar goudbruin hoof en haelwit arms. Die jong man voel 'n roering in sy are, wat by hom 'n nuwe ondervinding is. Sy herinner hom aan iets - hy kan eers nie dink wat nie; dit is aan 'n helder bergstroom in die vroeë môre, iets volkome rein en pragtig. Selfs haar heerlike stem is soos die diepste vreugdestem van die natuur, die musiek van helder water oor rotse! Hy kan hom dit skaars voorstel wat dit sou wees as sy sing! Die jong meisie kon onmoontlik haar gewaarwording wegsteek van die stip manier waarop Paul haar elke beweging gadeslaan, en net so moeilik was dit om haar wilskrag teen die aandoening daarvan in te span. Welke meisie kan onbewus bly van die rondborstige bewondering van 'n jong man onder sulke omstandighede? Terwyl sy besig was om die instrument te stem en almal sit en wag en luister vir die eerste note, kom daar skielik 'n harde gelui van die groot koperklok wat op 'n muurrak langs die voordeur staan - 'n geluid wat 'n einde aan die musiek maak. Almal kyk verwonderd op en luister, terwyl een van die slawe van agter kom om te kyk wie daar is. ‘Wie sou dit wees wat so laat in die nag en reën 'n visite maak?’ vra mnr. Du Roubaix, half tot homself. ‘As dit gaste is,’ sê hy aan die slaaf, ‘vra hulle om direk deur te kom na die eetsaal.’ Hulle hoor die deur oopgaan en dat daar woorde tussen iemand en die slaaf gewissel word, en buitendien kan hulle die trap van verskeie perdehoewe gewaar. Ná 'n weinig stilte was daar 'n harde bevel by die deur in 'n growwe basstem, waarop meer dof geantwoord word; en toe kon hulle duidelik die gekletter van spore en mondering hoor van perderuiters wat afklim - geluide so ongewoon en onverwag op Laastelust dat niemand kon raai wat dit beteken nie; maar almal voel 'n bietjie ontsteld en beangs. Die Kaap het juis toe deur oproerige tye gegaan; eers die inkom van Franse skepe en 'n Franse besetting aan land, toe die Engelse oorname, met allerlei oproerigheid in die Onderveld, met Graaff-Reinet as sentrum, waar selfs 'n revolusionêre republiek op Franse model gestig is. Onlangs was daar ook aanhoudende en brutale diefstalle van vee deur bendes blanke rowers, te perd en goed gewapen, wat veilig skuilhou in die hoë gebergte tussen Genadendal en Drakenstein. Omtrent dié mense is daar allerhande onruswekkende gerugte - dat hulle eensame plase in die nabyheid van die berge snags gewapenderhand sou ingeneem het en van alles beroof het wat hulle kon saamdra. Daar is selfs sprake van 'n geveg waarin die eienaar van 'n veepos gewond en een van sy slawe gedood is deur die ondeugde. Maar Drakenstein? Drakenstein is so ver en veilig van al die onluste, ofskoon daar 'n | |
[pagina 438]
| |
groot onafgebroke gebergte lê tussen Drakenstein en die veld waarin die bendes aktief optree. Margrieta het natuurlik van al die onluste gehoor, en dadelik laat sy haar harp staan om met wydgerekte oë 'n veilige plek tussen die mans by die vuur in te neem. Almal luister, sonder om te weet wat om te verwag, na swaar voetstappe, gepaard met spoor- en sabelgekletter, wat die voorsaal deurkom, waarskynlik op versoek van die slaaf. Dit was net een persoon wat sy verskyning in die tussendeur maak, 'n man in die mondering van 'n dragonderoffisier. Hy dra sy militêre pet onder sy arm, terwyl hy in die ingang van die kamer beleefd staan en buig. Hy het sy groot swaar ryjas losgeknoop, sodat daaronder sigbaar was sy ryskoene, wat tot by die knie kom, en die swaar dragondersabel. Almal sien tegelyk dat een arm verbind is en in 'n slinger buite die mou van die baadjie. Sy groot jas skitter van reëndruppels soos met diamante. Sy gesig is bleek, met die trek onder die oë van iemand wat swaar pyn ly. Mnr. Du Roubaix staan dadelik op om die nuwe gas welkom te heet. Hy stel homself voor, strek sy hand uit, wat die vreemdeling met sy gesonde linkerhand neem, terwyl hy buigend mompel: ‘Luitenant van Gas van de Zestiende dragonderregiment, tot uw dienst.’ Met die gewone gasvryheid van sy volk en tyd bring mnr. Du Roubaix die offisier na die vuur, waar hy formeel aan almal voorgestel word, terwyl die huisbaas die bevel: ‘Brandewyn, Jafta!’ aan die slaaf gee. Met 'n diep sug van tevredenheid sak die offisier neer in die leunstoel, ná hy sy groot jas opsy gelê het. Sy oë val toe, wat sy bleek gesig nog duideliker die spore van onlangs uitgestane pyn laat toon. Margrieta staan op om 'n groot gansveerkussing agter sy rug te plaas wat hy met uitdrukkings van die diepste dankbaarheid ontvang. Intussen verskyn die slaaf met die brandewyn in 'n glaskaraf, waarvan mnr. Du Roubaix 'n stywe sopie in 'n groot kelk skink met die woorde: ‘Drink dit, vriend. Dit sal die koue uit u spiere dryf en u weer soos 'n mens laat voel.’ Sonder 'n woord, met slegs 'n knik van dankbaarheid, drink die offisier die aangebode drank, waarna hy weer in die stoel terugsak en vir 'n paar sekondes met geslote oë sit. Toe hy hulle weer oopmaak, is dit om die dames eers beleefd om verskoning te vra vir sy ruwe aankoms. Toe sy oë op Margrieta val, kan hy onmoontlik 'n blik van bewondering weerhou; maar sy woorde word aan die ouer dame gerig, wat hy dadelik as die huisvrou erken. ‘Ik moet u om ekskuus vragen! We hebben 'n moeilike rit over de bergen gehad, met nogal 'n kleine schermutseling vanmorgen, toen een van de vagebonden mij 'n kogel door de arm joeg. 't Is me gelukt hem de smaak van mijn sabel te geven, waarvan hij 't merk tot zijn graf zal dragen - de schavuit! En wil u me | |
[pagina 439]
| |
geloven, allemaal beter gemonteerd dan wij waren. De voorman, met wien ik onverwachts handgemeen raakte, was op 'n uitmuntende zwarte Arabiese hengst, die de stal van Zijn Hoogedele de Kommissaris geen oneer zou doen. Maar m'nheer’ - en hy draai na mnr. Du Roubaix - ‘ik moet uw gastvrijheid tot 't uiterste lastig vallen. Hierbuiten heb ik twaalf van m'n ruiters met 'n onderoffisier, die net zo dringend naar 'n dak verlangen als ik het 'n tijdje geleden deed. De jongens zijn doornat, en de paarden gedaan. Over uw bergen is geen goed gaan voor zwaar beladen paarden.’ Dadelik is na die slawe geroep en bevele gegee. Een gedeelte van die slawehuis, wat vir getroudes bestem was, het leeg gestaan; en hier sou beddens vir die manskappe dadelik opgemaak en kos en wyn verskaf word. Aan aia Mien is bevel gegee om meteens weer aan kook te gaan. Gelukkig was die spens en rookkamer nog vol van 'n vet bees wat die vorige dag geslag is; en boonop is die sleutel van die kelder aan 'n slaaf oorhandig met bevel om drie flesse brandewyn te tap en aan die onderoffisier te gee. Ook die koetsier en perde moes besorg word. Die tafelbediende het gou weer 'n plek aan die tafel vir die offisier gereed gemaak; en terwyl hy besig was met die lekkernye wat aia Mien in 'n kitsie gereed gehad het, vertel hy, tussen mondevol gebraaide eend en swaar rooi wyn, die geskiedenis van sy avontuur. Sy Edele Kommissaris De Mist het besluit dat daar dadelik 'n einde moes gemaak word aan die rowery wat 'n groot distrik in roering gebring het. Die vabonde was die sogenaamde ‘handelaars’, wat voorheen hul veediefstalle bedek het onder die skyn van met die Hottentotte in die binneland te handel. In die laaste tyd het hulle so roekeloos geword dat hulle openlik te werk gegaan het, en nie meer in die ver verwyderde Onderveld van Graaff-Reinet nie, maar hier in die nabyheid van die Kaap. In die groot gebergte het hulle hul vestings, byna onmoontlik om by te kom; en uit die hoogtes kan hulle na alle kante opereer. Die mense van Drakenstein en Dal Josafat kan van geluk spreek dat hulle tot dusver met rus gelaat is. Sy bevele was om 'n sekere kloof aan Genadendal se kant in die nag aan die bokant af te sny van die berge, want van spioene het hulle verneem dat die rowers vir enige weke met 'n trop gesteelde vee die kloof ingetrek het, en snags was soms hul vure van onder sigbaar. Deur 'n gids gelei het hy sy manskappe in die nag aan die bo-ent van die kloof gepos; en net met dagbreek het hy, na 'n geweerskoot, die rowers tot oorgawe gebied. Onverwags sien hulle die bende langs 'n onbewaakte voetpad uittrek, waar die gids niks van geweet het nie. Die offisier spring op sy perd en probeer om hulle voor te ry; sy manskappe was te ver van hom dat hy hulp van hulle kon kry. Toe hy in die voetpad tussen suikerbosse te voorskyn kom, was hy binne vyf tree van die bevelvoerende leier van die rowers, 'n jong kêrel op 'n rats swart hings, ongetwyfeld 'n opregte Arabier, êrens in die Kaap of in die Swartland gesteel. Hy roep na hom om oor | |
[pagina 440]
| |
te gee en trek tegelyk sy sabel; maar die jong kêrel, sonder 'n woord, trek 'n pistool uit sy holster en ry hom tegemoet. Tegelyk met die kap van sy sabel kry hy 'n koeël deur die vlees van sy regterarm, wat hom dadelik buite geveg stel, terwyl die rowers almal verbygalop sonder om hulle verder aan hom te steur. Dadelik het hy sy manskappe bymekaargeroep en die bende agternagesit, sonder egter om hulle weer onder skoot te kry. Hul perde was baie ligter en ratser as dié van die dragonders en klaarblyklik gewoond aan bergklim. Terwyl hulle die een trop agtervolg, het 'n paar ander lede van die bende met al die vee langs 'n ander voetpad die berge ingevlug, sodat hy niks van sy ekspedisie het nie, behalwe die wond deur sy arm. Terwyl die offisier die storie vertel, was Margrieta besig met 'n skottel warm water, 'n bottel windbalsem uit die huisapteek, en stroke linne, om die wond te reinig en weer te verbind. Die offisier, 'n man van ongeveer vyf-en-veertig jaar, ontvang al die dienste met die uiterste dankbaarheid. Aan die einde van sy verhaal vra die ou heer Du Plessis: ‘En kan u miskien vertel hoe die rowerkaptein gelyk het?’ Margrieta kyk verbaas op. Die ou heer, net soos sy seun Paul, is skoon geskeer en donker van vel. Nou, egter, is sy gelaat doodsbleek en sy stem so benoud dat hy skaars kan praat. Wat kan die oorsaak van so 'n verskrikking wees? vra Margrieta haarself. Die baas van Onverwacht het algemeen die naam dat hy in sy jonger dae 'n dapper, onverskrokke kavalier was, 'n jagter wat verskeie maal handgemeen was met tiers in die berge van Drakenstein. Wat was daar in die offisier se verhaal om die man so te ontstel? Nòg haar vader, nòg haar moeder gee tekens van groter belangstelling as wat so 'n verhaal by enige mens te voorskyn sou roep. En Paul? Paul sit met sy gesig half weggekeer van die soldaat, en derhalwe van haar, met sy ken op sy bors gesak en sy oë op die dennebolvuur gevestig, asof hy heeltemal ingedagte is en niks van die verhaal gehoor het nie. ‘Hoe de kaptein daar uitziet?’ sê die soldaat nadenkend. ‘Nu, dat is juist 'n weinig moeilik te zeggen. De vagebond had zo 'n brederandhoed over zijn aangezicht waarschijnlik met opzet gedrukt, zodat hij maar weinig op z'n beste te sien was. Bovendien ging alles hals-over-nek, zoals uedele licht begrijpen kan. Ik zag het meest van zijn gezicht juist toen hij met 't pistool aanlegde, en dat was voor slechts 'n oogwenk. Toen ik hem de slag met mijn sabel gaf, drukte hij zijn hand die nog 't pistool hield, dadelik over de wond, en de sterke wind blies ineens zijn gezicht vol met bloed. Maar ik zou niettemin zeggen dat hij niet oud was, jonger dan ik zou gedacht hebben, als ik naar zijn stevige bouw moest oordelen. Hij was in 'n zware zwarte jas toegeknoopt.’ Hier val sy oë op Paul; en Margrieta, nog met die wond besig, kan sien dat sy lyf 'n skielike ruk gee; half lig hy hom uit die stoel op en staar die jong kêrel vir 'n tyd so stip aan asof hy onverwags iets skrikwekkends gesien het. Paul maak | |
[pagina 441]
| |
intussen geen beweging nie. Sy oë bly op die vuur gevestig, asof hy nòg vraag nòg antwoord gehoor het. Ná 'n tydjie verdwyn die trek van verbasing uit die offisier se gesig. Skouerophalend gee hy 'n sug, asof hy homself tot 'n gerusstellende gevolgtrekking gebring het, en gaan voort om die heer Du Plessis aan te spreek. ‘En dat is het meest dat ik zeggen kan, omtrent lichaamsbouw en ouderdom van die jonge heer daar; maar ten sterkste betwijfel ik of ik hem ooit weer zal herkennen, of een van zijn volgelingen.’ Die verbinding was nou klaar; en die offisier, na sy dank aan Margrieta te betoon, vra verlof om na sy slaapvertrek te gaan; en sigbaar was dit dat hy uiters vermoeid was. Maar nog eens op aandrang van mnr. Du Roubaix moes hy vir 'n minuut by die vuur kom sit om 'n stywe roemer wyn te geniet, wat in die rondte gaan, die laaste vir die dag. 'n Slaaf kom juis toe te kenne gee dat die here Du Plessis se perde voor die deur staan, en die twee gaste groet die dames, terwyl die offisier en mnr. Du Roubaix hulle na die stoep vergesel. Toe Paul in die voorsaal sy rymantel omknoop, neem die offisier hom vriendelik aan die arm en stap met hom die voordeur uit. ‘Ik moet erkennen dat bij 't voorstellen ik uedeles naam niet heb gehoord,’ sê hy toe hulle op die stoep kom, waaronder drie perde opgesaal staan. 'n Slaaf van die heer Du Plessis staan met 'n groot skeepslantern voor die perde, en een sou ry om pad te wys. Dit reën nog gedurig, met 'n huilerige, misbelade wind uit die berge. ‘Mijn naam is Paul du Plessis, van Onverwacht,’ antwoord Paul in die taal van die soldaat, met 'n vriendelike glimlaggie. ‘Dit is mijn vader. We zijn de enige inwoners van Onverwacht. 't Zou ons aangenaam zijn uedele thuis te ontvangen voor uw vertrek.’ ‘We zullen zien ... 't is best mogelik,’ sê die offisier. En ná 'n handdruk vertrek die gaste.
Die volgende dag was dit helder winterweer, met geen wolk in die lug nie. Al die spitse van Drakenstein was met 'n mantel van sneeu bedek. Net na die eerste maaltyd van die dag het die offisier met sy patrollie van Laastelust vertrek na Kaapstad, met die belofte om binnekort miskien terug te kom om 'n einde aan die rowers te maak, waarmee mnr. Du Roubaix hom van harte alle voorspoed toewens. Toe alles weer stil en rustig was, is twee perde vir die seur en die nonnie gebring, want hulle sou volgens afspraak die dag Onverwacht te perd besoek. As Margrieta in haar feesgewaad 'n indrukwekkende vertoning gemaak het, was sy in rydrag nie minder aanloklik nie. Haar lang, noupassende ryrok was van donkerblou laken, met 'n swart breërandhoed op haar hoof, die rand waar- | |
[pagina 442]
| |
van aan een kant opgeslaan was en met 'n pragtige wit volstruispluim versier. Aan haar hande was sagte skaapvelryhandskoene wat tot by die elmboog strek. Haar vader het lank reeds 'n jong merrie laat dresseer en op stal hou, in afwagting op haar terugkeer uit Europa; en hy neem die geleentheid waar van hul eerste rit om haar die jong diertjie as eerste geskenk formeel te oorhandig. Die leser sal onthou dat 'n ryperd in dié dae vir elke welgestelde man of vrou 'n uiters nodige besitting was. Die ongeveerde perdekarre was so ongemaklik dat almal liewer te perd sou reis as in 'n kar. Die veerwa is net vir groot geleenthede gebruik. Die pad na Onverwacht loop langs die groot pontakwingerd van Laastelust en dan deur 'n pragtige eikelaan van byna 'n halfmyl lank, die spogsieraad van die Du Roubaix-familie, die bome waarskynlik deur die vlugteling-voorvader geplant, tegelyk met die begin van die ou huis. Dit was met gedurige uitdrukkings van blydskap dat die jong meisie met al die bekende plekke en gesigte van haar pragtige geboorteplaas weer kennis maak. Die skoon, koue lug het 'n gloed van helder kleur in haar wange verwek, en haar vreugde en opgewondenheid verskyn as 'n sterskittering in haar lewendige oë. Skaars is hulle halfpad in die laningpad, soos dit in Drakenstein genoem word, of hulle gewaar in die verte 'n ruiter wat hulle tegemoetkom. Spoedig herken hulle Paul du Plessis, wat natuurlik die vorige aand van die voorgenome besoek verwittig was. By herkenning van die jong man kom by Margrieta 'n vraag op wat haar die vorige nag nie min gepla het nie. ‘Vader,’ sê sy, ‘het Vader opgelet gisteraand, toe die offisier ons van die skermutseling vertel, hoe besonder die verhaal mnr. Du Plessis aangedaan het? As hy self deelgeneem het, kon hy nie meer belangstelling getoon het nie. Sy gesig was bleek.’ ‘Ag, kind,’ val haar vader haar in die rede, ‘hoe sal ons te wete kom wat in die hart van 'n mens omgaan? Jy weet dat hy 'n vreeslike verlies gehad het in die verdrink van sy enigste dogter en die dood van Etienne, wat sy liefste seun was.’ ‘Ja,’ vervolg Margrieta, ‘daarvan moet ek nog alles hoor. Louise en ek was so te sê susters toe ons kinders was. Ek sal Paul vra om my die treurige voorval te beskryf, net sodra ek 'n kans kry.’ ‘My kind,’ sê die ou heer sagmoediglik, ‘jy moet onthou dat 'n wond van dié aard nie lig heel nie. Ek sou my vrae nie te ronduit stel nie, en tog seker nie in teenwoordigheid van mnr. Du Plessis nie.’ Hulle was nou so naby Paul dat verdere gesprek oor die onderwerp onmoontlik was. Hy groet hulle en draai met hulle terug na Onverwacht, waar die huisbaas hulle onder die stoep tegemoet kom en hulle inlei, terwyl 'n slaaf die perde na die stal neem - want (so dwing mnr. Du Plessis) die visite moes nie 'n vliegerkus wees nie. | |
[pagina 443]
| |
Paul het dadelik, na die gewone koppie koffie, 'n voorstel gemaak om Margrieta op die werf rond te neem, terwyl die ou here die nuus van die vorige aand en die hele toestand van sake aan die Kaap ernstig bespreek. Wat sou die teruggawe aan die Prins van Oranje beteken? Sou dit die gewenste voorspoed meebring, en het die Engelse en Franse gevaar van inname vir altyd verdwyn? Almal het die volste vertroue in kommissaris De Mist. Hy was juis toe op 'n reis deur die hele bewoonde Kolonie, vergesel deur sy dogter, 'n jong Afrikanermeisie, mej. Van Reenen, en die jong geneesheer Lichtenstein. Dit het orals belangstelling gewek dat die twee jong meisies die ontsaglike reis te perd sou aanpak. Ofskoon perdry destyds die gewone manier van vervoer was vir mans en vroue van die Boland, sou nooit 'n reis vir langer as 'n dag te perd aanvaar word nie. Die reis van Drakenstein na die Kaap, byvoorbeeld, is altyd in 'n perdewa gedoen. Die mense van die Onderveld het op al hul reise van die ossewa gebruik gemaak, wat later so 'n groot rol in die geskiedenis van Suid-Afrika sou speel. Paul, nog 'n weinig verleë in die teenwoordigheid van sy speelmaat, wat so skielik 'n jong dame geword het, neem vir hul wandeling die pad deur die wingerd na die rivier, wat toe van die aanhoudende reën op sy walle lê. Die voetpaadjie eindig onder 'n klomp reuse-wilgerbome, en onder die bome lê Onverwacht se eeue-oue swemgat. Vandag is al die uittrekklippe egter onder water; en die twee moet van ver af die pragtige seekoegat, bekend as Blouklip, beskou, waar altwee in hul kindsdae geleer swem het. Die gesig van die gat herinner Margrieta sterk weer aan haar oorlede vriendin Louise du Plessis, en nieteenstaande die geheimsinnige waarskuwing van haar vader kon sy nie nalaat om die gesprek in dié rigting te lei nie. ‘En Louise, Paul? Sy kon so goed swem, beter as ek - ek het nooit die besonderhede van die vreeslike ongeluk gehoor nie, net dat Etienne hom so dapper gedra het en vanself sy eie lewe in gevaar gestel het om haar te red. Maar wat ek nie begryp nie, nie gehoor het nie, is hoe Etienne dood is. Al my briewe maak melding dat hy Louise aan wal gebring het, maar dat dit te laat was. En toe volg 'n brief van my moeder met die korte melding, in min of meer die volgende sin: “Jy sal Etienne nooit weer sien nie - 'n vreeslike dubbele ongeluk vir ongelukkige Onverwacht.” Maak my die saak nou duidelik, Paul, want dit skyn my of Moeder en Vader opsetlik die onderwerp vermy en my nie wil tevrede stel nie.’ Vir 'n paar minute merk Margrieta dat haar vraag die jong man in verleentheid bring. Vir 'n kort tyd is dit asof hy na woorde soek. ‘Dit was 'n vreeslike dag. Ek was bly om te dink dat my salige moeder reeds in haar graf was. Ek is die oggend met my vader Pêrel toe; dit was 'n warm somerdag. Etienne alleen was tuis. Omtrent tienuur die oggend gaan Louise met haar eie slavin en 'n jong vrymeisie na gewoonte in Blouklip swem. Etienne sien hulle langs die voetpad hardloop, elkeen met 'n handdoek. 'n Halfuur la- | |
[pagina 444]
| |
ter hoor hy skielik 'n geweldige skree van die rivierwal; dit was die twee meisies. Hy kon uitmaak dat hulle skree: “Die nonna verdrink! Die nonna verdrink!” Hy hardloop so hard hy kon en het die verstand gehad om hom in die hardloop te begin uitklee. Toe hy op die rivierwal kom, was daar reeds drie of vier slawe wat in die wingerd aan werk was; maar geeneen van hulle kon swem nie. Die twee meisies wys waar sy gesink het, en na 'n vreeslike worsteling het hy daarin geslaag om haar uit te duik en aan wal te bring. Een van die slawe het intussen ou aia Letta gaan roep, en sy wis wat om te doen. Sy kom met komberse en 'n ketel warm water, en alles is in die werk gestel om haar lewe te red; maar tevergeefs. Sy was dood,’ eindig Paul met 'n diep sug. ‘'n Slaaf het ons die vreeslike tyding gebring, en op pad ontmoet ons ook Etienne. Jy kan jou verbeel wat vir 'n tuiskoms dit vir ons drie die aand was.’ ‘En Etienne, Paul - wat van Etienne? Ek was half onder die indruk dat hy ook verdrink het?’ Weer kon sy sien dat Paul verleë raak. ‘O, dit was later, nie lank daarna nie. Dit het met Etienne nie goed gegaan nie. Hy het ons verder vreeslik hartseer aangedoen, arme kêrel, voor sy dood. Dit is iets waaroor op Onverwacht nie gepraat word nie. Ons wens aan hom te dink soos hy voorheen was.’ Margrieta lê haar hand op sy arm. ‘Vergeef my, Paul, vergeef my! Ek wis daar niks van nie, anders het ek natuurlik geen vraag gestel nie. Jy weet dat ons vier - Louise, julle tweeling en ek - soos broers en susters grootgeword het - vandaar my belangstelling. Vergeef my dat ek jou op dié onnosele wyse leed aangedoen het!’ ‘Daar is geen oorsaak vir vergifnis nie, Margriet; ek kan jou belangstelling goed begryp. Maar die beste is om geen vrae meer te stel nie. Mettertyd sal jy van die bure alles te wete kom. Maar as jy alles weet, sal jy wens jy het niks gehoor nie.’ Met die tuisry vergesel Paul die twee weer 'n ent terug na Laastelust; en ná hy omgedraai het, vra mnr. Du Roubaix aan sy dogter: ‘Het jy toe van Paul gehoor hoedat Louise verdrink het?’ ‘Ja, hy het my in kort vertel,’ sê sy. ‘En van Etienne?’ ‘Nee, Vader. Ek kon sien dat dit hom leed aandoen. Ek is jammer dat u my nie meer duidelik gewaarsku het nie; dan sou ek natuurlik geen stommiteit begaan het nie. Maar ek dag al die tyd dat Etienne ook ten gevolge van sy poging om Louise te red tot sy dood gekom het.’ ‘O, nee, dit het niks daarmee te doen gehad nie; maar hy was 'n deugniet en het lank reeds in kwade weë verval sonder dat iemand daar iets van wis. Hy het 'n groot skande oor die familie gesleep, en jy weet hoe trots en gesteld op die familie-eer die ou heer altyd was; hoe dikwels hy gepraat het van die adellike af- | |
[pagina 445]
| |
koms van die Du Plessis-familie; en die misgryp van die seun, van wie hy soveel verwag het, het hom op sy teerste punt gekwes. Gelukkig is dit dat die ongelukkige jong man kort daarop dood is. Hy is nie tuis dood nie. Hy het Onverwacht lank reeds verlaat toe die tyding kom dat hy gestorwe is in die Onderveld. So diep het die ou heer die skande gevoel dat hy geen rou gedra het nie en selfs Paul en Etienne se aia verbied het om enige teken van rou te vertoon, iets wat die ou slavin vreeslik gevoel het en haar dikwels by ons oor bekla het.’ Daarmee was Margriet tevrede. ‘Ek dank u, Vader, dat u my ten minste soveel vertel. Dit was nie meer as reg dat ek dit te wete kom nie, aangesien ons twee families altyd so nou aan mekaar verbonde was.’
Die aand ná ete gee Margriet te kenne dat sy 'n entjie wil gaan stap, 'n voorneme waaroor beide vader en moeder hul teësin en besorgdheid uitspreek. Met 'n groot Indiese woltjalie om haar lyf en kop gewoel maak sy klaar om uit te gaan. ‘My kind, jy sal inflammasie kry om so van die warm vuur in die koue nag te gaan. In enige geval, neem jou kamermeisie met 'n lantern saam. Dit is pikdonker buite.’ ‘Ag, my ou moedertjie, wees nie so besorg nie. As u net weet hoeveel maal ek in Europa verlang het om dit te kan doen! En dit is helder sterlig buite - geen wolk aan die hemel nie. Ek gaan nie ver nie - net verby die slawehuis. Elisabeth gaan seker nie saam nie; verbeel jou 'n nagwandeling met 'n slavin en 'n skeepslantern! Liewer dan bed toe!’ Sy omhels haar moeder met een arm en kus haar op die wang. ‘As ek terugkom, sing ek vir u my beloofde lied,’ en voor hulle nog verder beswaar kan maak, is sy die deur uit. Buite is dit 'n heerlike helder winternag. Die sterlig is so helder dat 'n skaduwee onder die eikebome duidelik sigbaar is. En bo teen die luister glinster die spierwit spitse van Drakenstein, elkeen in sy mantel van sneeu bedek - eensame, ewige denkers, wat nòg tyd nòg verandering kan raak. So stil is die nag dat sy by tye duidelik die brom van die groot waterval in die berg kan hoor; en toe die bobbejane skielik op hul slaapkrans 'n lawaai maak, gaan dit asof dit in haar onmiddellike nabyheid is. Maar die bobbejaangeskree is iets waarmee Margriet grootgeword het. Hulle is ou en bekende vriende - 'n deel van haar herinnerings van Laastelust; en dit is of hulle haar ook nou in die nag welkom heet op haar geboorteplaas. Sy voel vreugde in plaas van die minste vrees by die ontsettende gebrul wat van die groot krans deur die stille nag weerklink. In die slawehuis brand nog ligte, en deur een van die tralievensters sien sy die slawe om die vuur vergader, jonk en oud, die slawe van Laastelust. Een het 'n viool en 'n ander 'n fluit, en bo die gebabbel kan sy die sagte note van hul musiek hoor. Ook dit is iets bekends, wat sy in Europa gemis het, en dit doen haar vreugde aan. | |
[pagina 446]
| |
Net verby die slawehuis begin die sogenaamde bergpad, wat deur die groot geelhoutkloof die berge ingaan en waarlangs dit moontlik is om na Hottentots-Holland te reis - 'n gevaarlike en moeilike reis; maar tog is daar legendes in die Du Roubaix-familie van verskeie van haar voorouers wat die reis bloot ter wille van die uitdaging te perd onderneem het. Reusagtige eike beskadu die begin van die bergpad, en so aanloklik is die sagte, fluweelagtige donker dat sy die versoeking nie kan weerstaan om 'n entjie in die eensame duister onder die glorieryke sterre berg op te loop nie. Sy neem haar voor om nie verder te gaan as van waar sy nog die ligte van die slawehuis kan sien en die gebabbel van die slawe kan hoor nie. Langs die stamme van die groot eike loop sy, so in haar swart tjalie gewoel dat sy self heeltemal onsigbaar is in die donker. Elke tree herinner haar aan een of ander voorval in haar kinderlewe, en elke ou boom ken en groet sy soos 'n ou vriend en bloedverwant. Diep in vreugdevolle gedagtes stap sy stadig verder en verder; en toe sy eindelik gaan staan, is die ligte van Laastelust se werf heeltemal onsigbaar, en geen geluid van die slawehuis bereik haar ore nie. Sy staan alleen in 'n doodse stilte, met geen geluid behalwe die sagte, eentonige gebrom van die waterval nie; en sy gewaar skielik 'n gevoel van eensaamheid so diep asof sy van die hele wêreld afgesny is. Sy voel 'n ligte rilling deur haar lyf gaan, en onwillekeurig kom die herinnering op aan al die ou spookstories van Laastelust, en die kindervrees wat die bergpad dikwels veroorsaak het. Hoe baie maal het die slavinne nie snags in die kamer vir haar stories vertel van die spook in die bergpad nie, wat verskillende lede van die familie ontmoet het, altyd tot hul ongeluk. Die gedaante was altyd van 'n man te perd, in swart geklee, doodstil in die middel van die bergpad. Sy verskyning is altyd beskou as 'n voorbode vir die siener, en ná elke verskyning het dood of ongeluk gevolg. Sy herinner haar hoe een ou slavin, wat ten minste drie geslagte by die Du Roubaixs was, dikwels snags op 'n stofie in haar slaapkamer kom sit het, na sy in die bed was, om haar stories te vertel. En watter bloedstelpende stories kon die ou vrou nie vertel nie! Een van haar gunstelinge was die geskiedenis van 'n voorouer van Margrieta wat verlief geraak het op 'n jong meisie in Hottentots-Holland. Sy ouers, toe hulle daarvan berig kry, het hom belet om sy geliefde ooit weer te sien. Daar was 'n ou stryd tussen die families oor grond of iets dergeliks, en die bitterheid het so ver gestrek dat die ou Du Roubaix sy seun met onterwing gedreig het as hy ooit weer die meisie sien. En toe het die seun, deur sy liefde tot enige dwaasheid aangespoor, snags die berge deurgery om sy geliefde heimlik te ontmoet en dan weer voordag tuis te wees. Sy perd was naderhand so geleerd dat hy in die donkerste nag, deur die dikste mis, die gevaarlike voetpad op die rand van kranse en bo afgryslike dieptes alleen kon volg. En een nag, net ná middernag, het hy weer, met die geheime hulp van 'n slaaf, sy perd opgesaal; hy ry in die donker, voetjie vir voetjie, om alle geluid te smoor, die bergpad op, toe die | |
[pagina 447]
| |
getroue perd skielik onder hom stuit, die ore na vore gespits. Die jong man kon niks sien nie en druk die perd met die spore; maar die dier begin snork en bewe van angs, sonder om 'n voet te versit. Toe sien hy vlak voor hom die swart ruiter, met 'n hand afwerend na hom uitgestrek. Ná 'n paar sekondes verdwyn die verskriklike gedaante, maar die jong Du Roubaix was so aangedaan deur die verskyning dat hy omdraai en sy rit vir 'n paar nagte uitstel. Op dieselfde wyse het die gedaante hom drie nagte gekeer en van sy voorgenome rit oor die berge weerhou, maar die derde keer het hy die waarskuwing veronagsaam, en voortgegaan, met die gevolg dat hy nooit weer huis toe gekom het nie. Baie dae later is sy lyk gekry; hy en sy perd het van 'n ontsaglike krans afgestort, om onder op die rotse verbrysel te word. Sy geliefde is dood aan 'n gebroke hart! En terwyl die ou vertelster se grys kop plegtig in die dowwe kerslig knik, gee sy Margriet die versekering dat die gedaante dikwels daarna, as 'n voorbode aan die familie, in die bergpad verskyn het. Margriet staan stil en moet hard veg teen die vrees uit haar kinderdae. Stadig kom die aaklige gevoel by haar op dat, as sy omdraai om huis toe te gaan, 'n dodelike angs van iets wat agter haar sluip, haar geheel en al sou oorrompel. Sy sou aan hardloop gaan ... sy sou beide vader en moeder 'n vreeslike skrik op die lyf jaag. Sy was van natuur 'n dapper meisie, en sy byt vas op haar tande om al die ou herinneringe uit haar hoof te dryf. Sy sou oor iets anders dink! Sy sou weer haar vreugdegevoel terugkry! En juis toe sy weer 'n weinig warmte oor haar vel voel, gewaar sy langs die stam van die eikeboom naasaan dié waaronder sy self staan 'n gedaante! Sy moet met geweld die tjalie in haar mond druk om 'n harde gil te weerhou. Met starende oë maak sy stadigaan al die besonderhede van die verskynsel uit. 'n Man te perd ongetwyfeld, in swart geklee. Dit was 'n beweging van die perd wat eers haar aandag getrek het. Nou kan sy duidelik die blink van die stang in die sterlig sien; sy sien die beweging van die perd se kop; sy maak duidelik die gedaante van die ruiter uit. Hy is in 'n swart mantel gehul, en op sy kop is 'n ouderwetse breërand-kavalierhoed. Hoe stipter sy kyk, hoe duideliker word die gedaante. So vas klem haar hand aan die bas van die eikeboom dat dit voel of haar naels die hout ingaan. Die minste beweging het vir haar onmoontlik geword; haar hele lyf is verlam; sy voel dat as sy 'n vinger roer, dan stort sy inmekaar. Sy druk haar oë toe, en met een hand vou sy die tjalie oor haar gesig; met die ander hand klou sy krampagtig aan die boomstam vas. Die gedaante is skaars dertig tree van haar af. Sy staan doodstil, en vir 'n tyd moet sy bewusteloos geword het - so dink sy later. Stadig trek sy die tjalie van haar oë weg om vreesagtig weer te loer. Die gedaante het verdwyn. Dadelik kom haar moed terug; sy sal net 'n minuut wag om die geweldige klop van haar hart tot stilstand te bring, en dan na huis. Maar toe sy die tjalie eindelik heeltemal van haar ore laat sak, hoor sy tot haar | |
[pagina 448]
| |
verbasing die geluid van perdepote op die sagte eikeblare waarmee die bergpad soos met 'n tapyt bedek is. Sy buk laag om die ent pad voor haar teen die lug te kry en sien duidelik die ‘spook’ berg op aan wegry. Skielik gaan die perd weer staan, en deur die stilte hoor sy iemand skerp en helder fluit - 'n seinfluit, soos die slawe mekaar van 'n afstand roep en aan mekaar boodskappe gee. Dit was asof die ruiter vir 'n antwoord luister, en na 'n tyd hoor sy gaan die perdepote verder en verder van haar af tot eindelik alles stil is - behalwe die brom van die waterval. Met 'n uiterste wilsinspanning stap Margriet weer huis toe. Dit is met 'n diepe sug van dankbaarheid dat sy uiteindelik weer die ligte van die slawehuis sien en die plesierige gelag en gebabbel van die volk hoor. Toe sy haar verskyning in die eetsaal maak, word sy deur beide vader en moeder beknor. ‘Kind, ek het jou gesê! Jy is so bleek soos die dood self! Het iets met jou gebeur?’ vra die moeder beangs. ‘Net die koue, Moe; ek het te lank stilgestaan. Maar ek voel dat dit my goed gedoen het.’ Om 'n rede wat sy aan haarself nie kon uitlê nie, het sy skielik besluit om niemand van die geheimsinnige perderuiter iets te vertel nie; later miskien - sy sou eers sien. Haar moeder dwing 'n koppie warm wyn op haar af, en dit was nie lank nie of die kleur was in haar wange terug, maar die beloofde lied het sy dié aand nie gesing nie. Sy sou môre eers 'n weinig op die ou harp oefen - en dan, beloof sy, môreaand ná haar wandeling. Ja, sy wil elke aand gaan stap - ‘wat my bange ou moeder ook mag sê!’ - en sy kus haar moeder met 'n laggie op die wang. Die nag toe sy diep in haar gansveerbulsak in haar eie kamer lê, bring sy weer terug in haar gedagte elke moment van die gebeurtenis wat haar so verskrik het. Nou nog ril sy as sy aan die eerste verskyning van die spookgedaante dink. Sy het haar slavin beveel om in haar kamer op die vloer te slaap, met die voorwendsel dat sy al die nuus van Laastelust se slawe van haar wou hoor. Sy kan nou hoor hoe die meisie sag asemhaal, en sy voel dankbaar dat sy haar daar gehou het. Sy sou anders vreeslik eensaam gevoel het as sy die kers moes doodblaas. Weer gaan haar gedagtes onwillekeurig na die nagruiter terug. Waarom was dit dat sy haar moeder en vader niks van die verskyning vertel het nie? Was dit omdat sy hulle te veel sou verontrus het? Nee, daar was iets anders. Wat was dit? Iets in die ruiter self? Iets wat haar geheue geraak het - iets wat sy tevore gesien het. En stadig raak haar gedagte weg, tot sy half dromend 'n skerp gefluit in haar ore hoor klink - maar dit was maar 'n sug van die slavin. En toe blaas Margriet die kers dood om die oplossing van die geheim van die nag aan die volgende dag oor te laat. | |
[pagina 449]
| |
Wat sy juis verwag het om te sien, wis sy nie; maar vroeg die volgende môre is Margriet, weer in haar tjalie gewoel, die bergpad op om die toneel van haar nagtelike avontuur in die daglig te beskou. Sy kom by die boom waar sy die vorige nag gaan staan het. In die tapyt van dooie blare kan sy duidelik haar staanplek sien; die roer van haar voete het die blare van hul oorspronklike lêplek weggeskuif. Van daar stap sy dertig tree weg na die tweede boom, en daar - ja, daar is die vars spore van 'n perd duidelik sigbaar. Sy kan nagaan hoedat hy berg af gekom het, al onder die bome langs, en hier gestuit het. En hier gaan die spoor weer terug. Sy volg dit vir 'n paar honderd tree, met haar oë stip op die grond, tot sy by die groot bos kom, bekend as die Kreupelbos; en hier tot haar verbasing kry sy 'n tweede perdespoor, wat van onder af opkom, en dwarsdeur die pontakwingerd! Hier agter die Kreupelbos is die dooie blare rondgekrap asof die twee perde lank gestaan het, en sy sien hier en daar ook die spore van die ruiters. Wat sou dit beteken? Iets ongewoons seker. In Drakenstein ry niemand op dié geheimsinnige wyse in die nag rond nie. Skielik val haar oog op twee wit merkies in die blare; sy buk om hulle nader te beskou en sien dat die een 'n stukkie beskuit is - gewone gedroogde Boerebeskuit, so groot soos 'n riksdaalder; en die ander 'n ongebrande swawelhoutjie wat een van die ruiters uit sy swawelhoutdosie laat val het. Sy bind altwee die voorwerpe in die hoek van haar sakdoek en stap terug huis toe, geheel en al tevrede dat wat sy gesien het, ten minste van vlees en bloed was; maar wat die uitleg van so 'n verskyning op Laastelust sou beteken - daarvan kan sy geen gedagte vorm nie. Maar nog bly by haar iets bekends in die voorval. Dit is asof daar iets agter in haar geheue sit, wat trag te voorskyn te kom; en sy behou die gevoel dat sodra die bekende iets in haar herinnering sou opduik, dit 'n uitleg van die hele geheimsinnigheid sou verskaf. Weer besluit sy om aan niemand iets te vertel nie - juis waarom, kon sy aan haarself nie duidelik maak nie. Die volgende paar dae het Margrieta deurgebring met die ontvang en aflê van besoeke aan al die bure, en deur almal is sy gul verwelkom. Oral verwek haar skilderagtige skoonheid 'n roering onder die jongkêrels, en sy word oorlaai met uitnodigings na maaltye, rypartye en wat al meer, elkeen waarvan bestem is om aan een of ander jongkêrel geleentheid te gee om 'n tyd in die geselskap van Margrieta du Roubaix deur te bring. Nog nooit tevore was dit so nodig vir jong mans om Laastelust op een of ander boodskap of diens te besoek nie! ‘Dit lyk my,’ sê haar vader een oggend by die ete, ná 'n besonder druk dag wat boodskappers betref, ‘dit lyk my ek sal 'n plan moet maak om Margriet weg te stuur as ek nie Laastelust se stoeptrappies wil laat wegslyt nie.’ Paul sien sy byna elke dag, sonder enige ekskuus vir sy besoek. Nie alleen is die families as naaste bure op so 'n voet dat geen verontskuldiging nodig is nie; | |
[pagina 450]
| |
maar hy het van die begin gevoel dat sy besoeke welkom is, sowel by Margriet as by die ouers. By een geleentheid, toe hy 'n paar dae van huis was om 'n veepos van sy vader in DalJosafat te besoek, kry hy tot sy verrassing by sy tuiskoms 'n briefie wat Margriet die vorige dag met 'n slaaf oorgestuur het. Dit bevat 'n uitnodiging om die volgende aand op Laastelust deur te bring. Sy ‘speelmaat’, voeg sy by, voel eensaam. Om die waarheid te sê, Margriet is nie meer gewoond aan die eensaamheid van 'n plaas, waar sy geen geselskap het behalwe dié van haar ouers nie, sodat sy spoedig gewoond geword het aan die teenwoordigheid van Paul. Seker is dit dat sy onbewus was van enige dieper gevoel; had sy so iets gewaar, sou dit haar natuurlik verhinder het om so 'n brief te skrywe. Paul, daarenteen, het nie meer getwyfel dat Margrieta die diepste indruk op hom gemaak het nie - 'n deel van sy lewe geword het; seker 'n dieper indruk as wat hy tot dusver in sy lewe ondervind het. Derhalwe was dit dat die briefie by nadenke 'n gevoel van teleurstelling veroorsaak het in plaas van die eerste blydskap. Onwillekeurig voel hy dat Margrieta, wat so terughoudend en beskeie is, nooit so 'n brief sou geskryf het as sy in die minste graad sy eie gevoelens deelagtig was nie. Dit het hom egter nie verhinder om die volgende middag sy toilet met besondere sorgvuldigheid te maak nie, toe hy hom gereed maak om na Laastelust te ry. Een sekerheid het hy gehad, en dit was dat sy besoeke by die ouers nie ongewens was nie; of hulle 'n huwelik sou goedkeur, was 'n ander saak. Van sy vader was hy minder seker. Hy wis dat die skande waaraan sy oorlede broer Etienne hom skuldig gemaak het, die hele uitsig van sy vader op hul omgewing verander het. Dit was asof hy in die ou heer 'n gevoel bespeur het dat sy seun onwaardig was om die hand van 'n dame soos Margrieta ten huwelik te vra. Dit was derhalwe met gemengde gevoelens dat hy die middag van Onverwacht wegry. Stadigaan neem die swaarste gedagtes sy gemoed in. Margriet, pas uit Europa en die geselskap waaraan sy daar gewoond was, koester geen dieper gevoel vir hom as eenvoudig vriendskap nie; daarvan word hy by nadenke meer en meer seker; en hy self durf nooit waag om 'n huweliksvoorstel te maak nie; haar ouers sou dit nooit toelaat nie. Dit was met 'n lang gesig dat hy uiteindelik voor die stoep afklim en mnr. Du Roubaix, wat hom tegemoetkom, die hand gee en die groete van sy vader meedeel. ‘Margrieta het bo na die meule geloop en my gevra om jou aan te stuur,’ sê haar vader. Diep ingedagte neem hy die voetpaadjie na die groot sloot wat die water van die meule na die rivier vervoer, en langs die bruisende water op na die ou meulehuis. Dit is 'n koue, onplesierige winterdag. Die berge, dig bedek met mis, laat elke nou en dan 'n kant van die sluier oor Laastelust sak, met die belofte dat voornag alles in 'n nat, koue mis sou bedek wees. | |
[pagina 451]
| |
Van ver af sien hy Margriet langs die groot rat van die meule staan. Sy wink hom met die hand en roep vrolik toe sy hom gewaar. ‘Dis heerlik om weer ons regte bergmis te sien,’ sê sy toe hy by haar kom. ‘Ek wou graag gaan ry het; daarom het ek jou lastig geval, Paul, maar jy het te laat gekom - nie dat ek jou net daarvoor wou gehad het nie, sal jy wel begryp.’ Toe hy voor haar staan, laat haar wonderlike skoonheid hom vir 'n tyd sprakeloos. Diep in haar donker oë is dit asof daar 'n lig lewe; die klam koue het op haar sagte gelaat die pragtigste kleur geverf, en haar hare - die pragtige hare, wat geen hoed in bedwang kan hou nie - is deur die mis met duisende diamante versier. Nooit tevore het haar skoonheid hom so wonderlik voorgekom nie. Al sy gedagtes van die middag word te niet gedoen deur die een gewaarwording dat hy haar liefhet, dieper lief as hy ooit weer enige meisie in sy lewe sou hê! ‘Margrieta, jy neem my asem weg - mooier as enige ding op aarde,’ sê hy stadig en met nadruk. ‘Ik blijf m'nheer diep dankbaar voor 't kompliment!’ antwoord sy enigsins verleë, met 'n gemaakte buiging, om die blos wat sy woorde gewek het, 'n weinig weg te steek. ‘Ek meen dit, Margriet - geen blote kompliment nie! Ek kan jou nie vertel wat 'n onderskeid jou koms gemaak het - ek kan aan niks anders dink as jou oë en hare en gesig nie.’ Stadig neem hy haar hand en trek haar nader aan hom. En toe was dit die meisie wat onverwags woordeloos word. Met neergeslane oë laat sy haar hand in syne rus. Haar hart begin geweldig klop. Vir die eerste maal word sy skielik gewaar dat sy altyd 'n dieper gevoel in haar hart vir Paul gedra het as sy ooit werklik wis. ‘Wat help dit,’ gaan Paul voort, ‘om my gevoel langer te probeer verswyg - ek het jou lief, Margrieta, liewer as ek ooit enige ding op aarde gehad het!’ En met een arm om haar druk hy haar vas teen hom aan. Haar kop sak op sy bors; en toe hy met die ander hand onder haar ken haar gesig saggies opdraai, is haar oë dig toe. Hy kan die klop van haar hart teen sy bors voel. Met verbasing besef hy dat daar in plaas van teenstand duidelike inwilliging aan haar kant is; en dit is met 'n verrukking so diep as hy ooit in sy lewe sou gewaarword, dat hy sy lippe op hare druk, met altwee arms om haar sagte lyf gespan. Skielik, in die middel van die droom wat sy siel geheel ingeneem het, rys weer in sy gemoed die aaklige gedagte van die middag - Etienne se skande. Die familie het in die agting van al die bure gedaal; almal sien op hom en sy vader neer. Nooit kan hy 'n reine skoonheid soos Margrieta met dié oneer besoedel nie! Met 'n gebaar wat byna na 'n stoot lyk, druk hy haar van hom weg. ‘Ag, Here! Vergeef my! - Margrieta, dit was dolheid van my - ek wis nie wat ek doen nie. Ek het jou meer lief, meer as ek in woorde kan uitdruk - ek sal | |
[pagina 452]
| |
nooit weer so 'n gevoel vir enige ander meisie koester nie - maar ek durf nie! Ek durf nie! Liewe speelmaat, laat ons dit vergeet. Laat ons probeer om weer terug te gaan na ons vorige verhouding!’ Vir enige oomblikke is Margrieta so verbaas dat sy geen woord kan uit nie. Onmiddellik ná 'n liefdesverklaring wat haar eie liefde so verras het, om so 'n houding in haar geliefde gewaar te word, laat haar vir 'n tyd woordeloos, 'n prooi van 'n storm van teenstrydige gevoelens. Maar al haar vorige terughoudendheid het nou verdwyn, en 'n diepe erns het die plek daarvan ingeneem. Dit is sy wat hom nou aan die arm vat, wat hom nader trek, wat stip in sy oë kyk. ‘Wat beteken dit, Paul? Wat bedoel jy? Jy verstaan tog dat jy nie sommerso 'n verklaring van dié aard kan maak as jy dit nie werklik gemeen het nie. Vertel my dan dadelik, Paul, wat dit beteken. Ek durf nie? Wat durf jy nie? En waarom moet ons maar speelmaats bly in plaas van geliefdes?’ ‘Margriet, ek was 'n dwaas. Ek gee jou my erewoord dat toe ek vandag van Onverwacht vertrek het, was dit met die vaste voorneme om nooit met jou van liefde te praat nie, ofskoon ek wis dat ek jou so diep liefhet. Maar toe ek jou hier sien staan, toe ek sien hoe lief jy is, was die woorde uit voordat ek wis dat ek gepraat of gehandel het ... Margrieta, herinner jy jou wat ek jou van oorlede Etienne vertel het? Daar is 'n skandvlek op ons gesin, waarvan ek en my vader elk 'n deel moet dra; en ek durf jou, so skoon en onbevlek, nooit in so iets insleep nie. Maar jy sal my vergewe, Margrieta? Jy sal verstaan hoe dit gebeur het?’ ‘Verstaan, Paul, verstaan? Ek begryp daar niks van nie. Wat beteken dit alles? Nou moet jy alles duidelik maak. Dit ten minste is jy aan my verskuldig. Sê my dan eers, het jy en jou vader deelgeneem aan die sogenaamde skanddaad van Etienne, wat dit ook al was?’ ‘Nee, nee, dit nie; maar in die oë van die wêreld hang die skande ook aan ons, aan die hele familie. Dank God dat my moeder en suster dood was!’ ‘Het jy en jou vader ooit van die daad geweet, Paul?’ ‘Nee, ook nie, Margrieta. Skuld het ons natuurlik nie. Maar die eer en naam van ons familie ...’ ‘Nou, Paul, as dit so is,’ val sy hom in die rede, ‘dan sal ek jou skande met die grootste tevredenheid deel. Jy sal tog nie so brutaal wees om 'n jong dame van jou af te stoot wat jou die hof maak nie!’ En sonder 'n woord meer, met 'n skelm glimlag, wat die kuiltjies in een wang net sigbaar maak, rek sy op haar tone en soen hom op die mond, terwyl sy met een arm vas om sy lyf hou. Paul was maar vlees en bloed, en dit sou 'n mens van klip moet gewees het om Margriet onder sulke omstandighede te verstoot. 'n Uur later, toe die berge die aarde genadiglik in 'n mantel van sneeu bedek het en die nag reeds daal, toe eers kom die twee van die meulhuis af na onder. | |
[pagina 453]
| |
Kort-kort word halt gehou om een of ander diep geheim van die hart aan mekaar te fluister, om gevoelens in woorde oor te sit wat nie in woorde te beskrywe is nie. En die mis, wat alle harde en vaste lyne sag en onduidelik maak, het die twee op hul stadige weg na Laastelust se woonhuis ineen laat smelt. Toe hulle in die helder verligte eetsaal verskyn, roep mev. Du Roubaix: ‘Kind, jou oë blink soos twee sterre!’ Met 'n vrolike laggie soen Margriet eers een ouer, dan die ander. Maar sy en Paul het ooreengekom om hul liefde voorlopig 'n salige geheim te hou, vir 'n tydjie ten minste.
Een oggend vroeg, 'n paar weke later, toe die ryp nog wit op die gras lê en Drakenstein in sy mantel van sneeu met onbeskryflike rooskleure die koms van die son aankondig, word Laastelust se werf skielik in rep en roer gewerp deur die aankoms van 'n patrollie soldate onder bevel van die offisier wat vroeër die nagbesoek aan Laastelust gebring het. Margriet, nog in haar naggewaad, aanskou die toneel deur haar kamervenster. Die manskappe, wat pas op 'n bars bevel van die offisier van hul perde afgeklim het, is almal in dik jasse toegeknoop en stamp op hul voete rond om 'n weinig warmte daarin te kry. Daar is 'n geweldige gekletter van sabels en spore, 'n gestamp en gerunnik van perde; hul asem staan soos 'n rookdamp in die helder, koue lug. Mnr. Du Roubaix is in gesprek met die offisier, wat sy arm nog in 'n slinger dra. Margriet kan uitmaak dat hy die uitnodiging bedank om nader te kom; sy gebare wys dat hy haastig is. Intussen bring 'n slaaf vir hom en mnr. Du Roubaix 'n skinkbord met stomende koffie, terwyl die kelderslaaf in groot haas 'n dop sterkwater uit 'n karba skink en dit beurtelings aan die twintig manskappe aanbied. Dit is 'n lewendige skouspel, en dit wek Laastelust van stoep tot solder. Langs die gewel staan al die slawe en bediendes om die ongewone vertoning met die grootste belangstelling te aanskou. Skaars het die laaste manskappe hul dop brandewyn in, of weer op 'n bevel spring hulle soos een man in die saals; die offisier groet mnr. Du Roubaix beleefd, en 'n oomblik later is hulle op weg met die pad langs die voet van die berge deur Groot-Drakenstein. Later, toe die familie aan tafel sit, vertel mnr. Du Roubaix die nuus omslagtig; want dit is sulke ongewone nuus dat dit die moeite werd is om sorgvuldig te behandel en uit te deel. ‘Hulle is op weg om die rowers aan te keer. Dit blyk dat hulle van spioene berig ontvang het in Kaapstad dat die bende nou so geleë is in die nabyheid van Hemel-en-Aarde dat hulle maklik vasgekeer kan word. Een patrollie is by Hottentots-Holland om, en dié is die tweede en vernaamste wat van bo op hulle verblyfplek sal afkom. Hulle sal die perde moet agterlaat om die berge te voet oor te gaan. Hulle weet dat die bende op die punt staan om die Onderveld met | |
[pagina 454]
| |
'n groot trop gesteelde vee in te trek; en die offisier het bevel van die kommissaris: almal moet aangekeer word, dood of lewend. In enige geval sal almal tog dadelik gehang word, sodat dit seker is dat hulle hul tot die laaste sal teësit.’ ‘Ag,’ sug Margriet, ‘my gevoelens is nie aan die kant van misdaad en opstand nie; maar tog hoop ek dat hulle sonder bloedvergieting uitkom en êrens in Kaffraria 'n beter lewe voer.’ ‘My kind,’ sê die vader, ‘daar sal geen rus of vrede in die Kolonie kom tensy mnr. De Mist in al sy pogings slaag nie; en die eerste is om al die misdadigers uit te roei wat in die afgelope jare die kans gehad het om hulle bedryf voort te sit ten koste van goedgesinde en vreedsame burgers wat alleen 'n vrye land onder ons eie Hollandse regering verlang. Lank lewe Sy Hoogheid, die Prins van Oranje - sy gesondheid kan ek ongelukkig maar met koffie drink!’ Dié dag word op Laastelust van niks anders as van rowers en soldate gepraat nie. Die slawe het allerhande stories dat hulle miskien sou trag om duskant af te kom; dan sou daar in Drakenstein 'n geveg wees! In enige geval sal hulle hier op Laastelust die skote van die groot muskette hoor, al vind die geveg ook naby Hemel-en-Aarde plaas. In die berge trek 'n geluid ver, en sulke dragonderrowers maak 'n geraas soos donderweer. Margriet het Paul vir enige dae nie gesien nie, sodat sy besluit het om hom vandag 'n brief met 'n slaaf te stuur om te verneem of hy Laastelust geheel en al vergeet het. Die voorwendsel aan die ouers was dat sy 'n roman van Paul wou leen en aan hom 'n boek van Hollandse gedigte wou oorstuur - dinge wat oor en weer voorheen belowe was. Dié twee sake het egter maar 'n klein stukkie van die netjies gevoude brief beslaan. Toe sy haar vader se grootseël buite op die rooi lak druk, gee sy tegelyk 'n soen op die warm prent, wat volgens gewoonte haar geliefde sou afneem voor hy die lak breek. Die antwoord wat sy die middag terug ontvang, is erg teleurstellend. Behalwe 'n menigte verbeelsoene en verklarings van oneindige liefde maak Paul bekend dat hy op die punt staan om na hul veepos te vertrek, waar hy enige dae sou vertoef. Hy sou haar dus vir byna 'n week nie sien nie, maar sy kan gerus wees dat hy op sy terugkoms Laastelust dadelik sal besoek. Op Margriet se gemoed rus egter 'n las wat haar gedagtes gedurig besighou. Van die geheimsinnige nagruiter, die spook van die bergpad, het sy aan niemand iets gesê nie; en die rede hiervoor kon sy nog nie aan haarself uitlê nie. Sy het eenkeer vas besluit om Paul alles te vertel en sy raad te vra; maar toe dit op stuk van sake kom, kry sy lewendig voor die gees die beeld van die gedaante soos sy dit in die donker gesien het, en daar was iets in die herinnering wat dit vir haar onmoontlik maak om van die verskyning te praat. Dit was asof iets diep in haar bewussyn haar gedurig die swye oplê. In haar eensaamheid kon sy oor byna niks anders dink nie, en dit was asof die geheimsinnige indruk by haar sterker en meer onweerstaanbaar word. Die | |
[pagina 455]
| |
bergpad het 'n besondere aantrekkingskrag vir haar gekry, vernaamlik wanneer dit in donker gehul is. Die venster van haar slaapkamer was in die gewel aan die kant van die bergpad, sodat sy deur haar ruite by die laan op kon sien. Haar moed het gou weer teruggekeer, sodat sy haar slavin nie langer in haar vertrek laat slaap het nie; maar elke nag na sy uitgeklee is, staan sy vir 'n lang tyd in die donker by die venster, met oë en gedagtes op die bergpad en sy nagdwaler. Soms is dit asof sy diep in die laan 'n roering in die skaduwees sien; en as sy haar verbeelding dan die minste toom gee, kan sy weer 'n skyn van die gedaante sien, wat dan net so gou weer wegsmelt in die omhangende duister van die eikebome. Op die dag toe sy Paul se brief ontvang het, het weer 'n half-gevormde besluit by haar opgekom om hom alles te vertel wanneer hy haar die aand besoek; en toe sy die berig kry dat hy die nag in die veld sou wees en haar vir 'n lang tyd nie weer sou sien nie, het die besluit skielik verander. Sy sou die bergpad weer vannag besoek. In die dag was sy verskeie maal daar, en 'n paar dae gelede het sy weer spore gesien op die plek waar sy die stukkie beskuit en die swawelhoutjie opgetel het. Sy sou die plek vannag weer besoek, en dié keer sonder die minste vrees - so besluit sy toe dit nog helder dag is! In 'n laai van haar vader se lessenaar is 'n paar ouderwetse duel-pistole in 'n kassie, met alles wat daarby behoort - koeëls, kruit, doppies en so meer; en hiermee het Margriet voor haar reis geleer skiet. Sy het dikwels met haar vader en die twee Du Plessis-seuns teiken geskiet en het geleer hoe om te laai. Ongemerk haal sy die ouderwetse met silwer beslane kassie uit die laai, en in die veiligheid van haar eie kamer laai sy sorgvuldig die twee lope van een van die klein pistole (hulle is dubbelloop-voorlaaiers) en pas dit in die sak van haar rok, waar dit ongemerk kan lê. Met die pistool byderhand sal sy darem veiliger voel, want sy twyfel nou nie meer dat die gedaante van vlees en bloed is nie. Weer is dit 'n helder nag, met 'n bytende gevoel van ryp in die lug; en toe sy ná ete by die slawehuis staan, moet sy haar mantel dig om haar trek om die nypende koue uit te sluit. Bo haar blink die spierwit spitse van Drakenstein wat in die sterlig die sinsbegogeling wek dat die hoogtes te midde van die skitterende hemelrant verhewe is. Weer is alles stil soos die dood om haar, behalwe die gebrom van die val en 'n skaars hoorbare gemurmel uit die slawehuis. Sy loop stadig, voet vir voet, langs die kant van die laan, sodat sy so min moontlik sigbaar sou wees vir iemand wat miskien verder op in die bergpad op loer staan. Een hand is vasgeklem om die handvatsel van die pistool in haar sak, met die ander tas sy aan die stam van die eike, soos sy elkeen verbygaan. Uiteindelik kom sy by die boom van waar sy vroeër die gedaante gewaar het. Weer buk sy omlaag, om die laan teen die lug bo Langkloof in gesig te kry. Dié keer bly haar moed standvastig. Ná sy lank gekyk en goed geluister het, | |
[pagina 456]
| |
besluit sy om vooruit te gaan tot by die Kreupelbos, waar sy die ontmoetingsplek van die ‘gedaante’ en die ander ruiter uit die spoor afgelei het, en waar sy die stukkie beskuit opgetel het. Van hier af word die bergpad met elke tree donkerder. Nie alleen kronkel dit nou so dat dit geheel deur die berg oorskadu word nie, maar die eike staan hier ver van mekaar en word vervang deur digte dennebosse, wat natuurlik dig van blaar is. By die Kreupelbos self is dit so stikdonker dat sy vir 'n lang tyd nouliks iets vlak voor haar kan uitmaak; maar stadigaan word haar oë meer gewoond aan die donker, en sy begin die boomstamme en selfs die klippe in die pad in gesig te kry. Daar is niks by die Kreupelbos nie! Ná sy noukeurig lank in elke rigting gekyk het, besluit sy om vir 'n tydjie 'n posisie binne die Kreupelbos in te neem. Daar is 'n ou gevalle olienhout waarmee sy as kind kennis gemaak het. Dit was altyd een van haar geliefkoosde speelplekke, en sy ken elke bossie en stam in die nabyheid. Sorgvuldig tas sy rond, totdat sy die ou sitplek op die wortels van die gevalle reus kry. Hier gaan sy sit, met die pistool klaar in haar skoot, om te wag en te luister. Lank kan sy nie bly nie; haar ouers sou onrustig word. Maar sy wis ook dat sodra hulle regtig bang word, sou hulle een van die slawe, wat weens sy magtige stem altyd daarvoor gebruik word, van die stoep na haar laat roep; en as sy taamlik hard skree, sou hulle haar in die stilte maklik by die huis kan hoor. Sodra sy stil sit, hoor sy oral om haar sagte, vinnige bewegings in die dooie blare, rotte en ander nagdiertjies wat in die Kreupelbos 'n woning het en nou op jag uit is, maar nêrens in die nag enige ander geluid wat die nagruiter kon aankondig nie. En tog hoor sy nou en dan iets wat anders is as die skaars hoorbare gekrabbel in die blare; as sy egter haar gehoor vas by die geluid bepaal, is die gedruis van haar eie polsslae so oorheersend dat sy geen ander sagte geluid sou kon hoor nie; dit moet verbeelding gewees het! Maar skaars het sy tot die gevolgtrekking gekom, of sy hoor weer iets, en dié keer duideliker en baie nader. Dit is asof die ding, wat dit ook al mag wees, skielik naby haar in beweging geraak het; en dadelik, sonder die minste twyfel, herken sy die geluid. Dit is perdepote op blare, 'n perd wat so vas aan die toom gehou word dat hy voetjie vir voetjie moet loop! Klaarblyklik 'n ruiter wat alles in sy vermoë doen om geen onnodige geraas te maak nie! Terwyl Margriet daar sit, met elke senu tot die uiterste gespan, bevrees byna om asem te haal, verskyn daar skielik 'n swart skaduwee vlak voor haar net buite die takke van die Kreupelbos, 'n skaduwee swarter selfs as die nag, maar duidelik sigbaar. Dit is 'n man te perd! Dieselfde gedaante wat sy voorheen gesien het, dieselfde groot mantel, dieselfde dof-blink van stang en spore. Sy hoor die ruiter saggies deur sy lippe blaas om die perd tot gerustheid te bring; sy hoor hoe hy die dier saggies op die nek klop en 'n naam fluister wat sy nie kan uitmaak nie. | |
[pagina 457]
| |
En nou, sterker as ooit tevore, kom die snaakse gevoel weer by haar op dat die gedaante iets diep en half verborge in haar geheue raak en in werking bring. Dit is asof sy dwing om iets te onthou wat dadelik die hele geheim sou openbaar, maar wat net buite die mag van haar sielsbeheer lê. Elke beweging, die blaas deur sy lippe, die fluistering van die naam, so onduidelik en skaars hoorbaar soos dit alles was, maak 'n magtige indruk op haar - 'n indruk van iets wat sy voorheen geweet het. Dit voel asof sy dieselfde loop van sake, presies net soos dit nou gaan, eenmaal tevore ondervind het; maar sodra sy met haar volle wilskrag haar gedagte op die gevoel vestig, verdwyn dit weer. Sy hou die pistool in haar hand vas, ofskoon haar vrees byna geheel en al verdwyn het. Wat dit ook al mag wees, het sy die sterkste gevoel dat vir haar nie die minste leed of letsel van die gedaante te wagte is nie. Perd en ruiter is nou so naby dat sy feitlik aan hulle sou kon raak. Sy kry duidelik die reuk van 'n perd wat ver gery is; sy kan sy diep asemhaling hoor; sy sien selfs, so donker as dit is, dat die dier sy kop in haar rigting draai en die ore spits. Hy het haar teenwoordigheid gewaar! Maar die ruiter is salig onbewus; hy draai sy kop ook na alle kante. Dit is asof hy ook luister en loer vir een of ander beweging wat hy te wagte is, of ten minste, wil seker maak dat daar niks onverwags in sy nabyheid is nie. Ná hy homself waarskynlik tevrede gestel het dat daar niks is nie, klim hy stadig van die perd af aan die kant van die Kreupelbos, en so na aan Margriet dat sy sonder moeite aan hom sou kon geraak het. Hy gee 'n diepe sug, soos iemand wat ure agtereen in die saal deurgebring het. Die teuels is oor sy arm gehaak, maar Margriet kan sien dat die perd so vermoeid is dat enige voorsorg van dié aard onnodig is. Met geboë hoof haal hy diep asem, sonder om 'n voet te versit. Die ruiter is intussen met iets besig. Margriet maak uit dat hy langs 'n boomstam staan, en met een hand voel hy stadig in die laagste mikke; hy soek na iets. Sy hoor die geritsel van papier en onmiddellik daarop 'n gedempte geluid van tevredenheid, asof hy vind wat hy soek. Hy ontknoop 'n holster, en sy sien dat hy iets daaruit trek. Dit is die klein handfakkel, destyds algemeen in gebruik sowel in stede as op buiteplase. Daarna hoor sy 'n geluid wat alleen van 'n swawelhoutdosie afkomstig kan wees; dadelik weet sy wat hy van plan is: hy wil die fakkel opsteek om die papier te sien wat hy uit die mik van die boom gehaal het. Saggies druk Margriet die takkies weg sodat haar gesig nie 'n tree van syne verwyder is nie. Sy hoor die stryk van die swawelhoutjie en sien die klein liggie soos van 'n vuurvliegie in die duister, en onmiddellik daarna in 'n rookspiraal gaan die vlammetjie van die houtjie aan die fakkel oor. Die man is so ingenome met sy arbeid dat hy skaars moeite doen om die lig agter die perd weg te steek, 'n doel wat hy klaarblyklik vroeër voor oë gehad het. Die vlam groei stadig. Hy keer die fakkel onderstebo naby die grond om dit | |
[pagina 458]
| |
gouer aan brand te laat raak; en toe hy dit weer omkeer, is sy lyf die middelpunt van die klein maar helder ligsirkel. In een hand hou hy die fakkel, met die teuels in die hoek van die elmboog; in die ander is 'n stukkie papier, wat hy stadig en met groot moeite met die een hand ontvou. Hy dra 'n breërandhoed wat, terwyl hy gebuk staan, sy hele gesig van die meisie verberg. Die kraag van sy rymantel is ook hoog opgeslaan, wat nog meer bydra om sy gelaat onsienbaar te maak. Maar in die sukkel met die stuk papier staan hy uiteindelik orent en met die fakkel-hand druk hy die hoed 'n weinig van sy voorhoof af; dadelik val 'n helder ligstraal op een helfte van sy gesig, aan die kant waar Margriet staan. 'n Snerpende gil bars onweerstaanbaar oor haar lippe, so luid asof die stilte skielik in twee gesny is; op en af langs die donker bergpad weerklink dit, skreeu op skreeu, asof elke slapende ding soos met 'n slag in die eensaamheid moes wakker geruk word: ‘Paul! Paul! Paul!’ Wat op haar eerste geroep van sy naam gevolg het, kon sy haar later nie duidelik herinner nie. Vir een oomblik weet sy was sy gesig, versteen van skrik, na haar gewend, met die volle lig van die fakkel op hom en op haar. Sy sien vir een sekonde sy donker oë in sprakelose verbasing op haar gerig. Die kraag van sy mantel bedek nog een helfte van sy gesig; maar soveel is duidelik, dat daar geen die minste twyfel is dat haar geliefde voor haar staan nie. Buitendien het sy liggaamsbou, sy hande, elke beweging van sy arms Paul aan haar openbaar. Sy sou hom geken het al het sy niks van sy gesig gesien nie ... en dit was die geheim van die gevoel wat haar so lastig geval het. Vir een sekonde staan hy roerloos na haar en kyk, met die fakkel omhoog sodat haar wegkruipplek in die Kreupelbos helder verlig is - vir een sekonde, en toe met 'n enkele beweging word die fakkel op die grond doodgedruk, en sy hoor hoe hy probeer om die stiebeuel met sy voet te vang. Die perd trap verskrik rond. Net twee woorde het Paul geuit; met haar eerste skreeu hoor sy dat hy verskrik die hoogste naam uitroep; by die laaste roep van sy naam hoor sy hom vervaard na die perd roep. Terwyl sy met geweld 'n pad deur die Kreupelbos na hom probeer baan, hoor sy die kletter van sy voete in die stiebeuels, en sy sien dat hy weer in die saal is, terwyl die perd nog verbouereerd rondtrap. Toe sy uitkom, roep sy op 'n sagter stem: ‘Paul! Paul! Dit is ek - Margrieta! Waarom praat jy nie?’ Die enigste antwoord is 'n norse: ‘Verdomp!’ Hy het nou die perd baasgeraak, en onmiddellik daarna hoor sy die dier in volle jaaggalop wegspring asof die ruiter altwee spore tot by die kop in sy lyf gedruk het. Sy roep nog een of twee maal; maar al antwoord wat sy kry, is die snelle hoefslae van die jaende perd deur die blare die bergpad op; en tegelyk, tot haar verbasing, hoor sy 'n tweede perd wegspring en deur die pontakwingerd links van haar jaag. Dof soos 'n drywende skaduwee kan sy die tweede | |
[pagina 459]
| |
perderuiter op weg na die rivier sien. Dit dan was die tweede ruiter wat Paul vroeër by die Kreupelbos ontmoet het, soos sy van die spore kon aflei. Hy was nou weer net op pad na so 'n byeenkoms en het net op hulle afgekom toe sy Paul herken en sy naam uitroep. Margrieta luister tot alles weer doodstil is, totdat die klank van die perdehoewe in die verte verdwyn, en nog staan sy soos 'n marmerbeeld, haar oë in die nag starend, een hand teen haar bors vasgedruk, in die ander hang die nuttelose pistool; dit is asof haar gedagtes stilstaan. Voet vir voet loop sy terug huis toe. Alle vrees het nou verdwyn, maar in plaas van haar vorige angs is daar 'n swart afgryse in haar siel, vormloos, sonder gedaante of standvastigheid, en juis daarom nog vreesliker. Wat kon dit alles beteken? Vanmiddag nog het Paul vir haar geskryf dat hy onderweg is na die veepos in Dal-Josafat. Dit is in die ander rigting, 'n dagreis van Laastelust. En wat beteken sy nagtelike ontmoetings op die bergpad? Van waar kom hy uit die berge? En bo alles, waarom die blinde vlug, weg van haar, asof sy hom met doodsgevaar bedreig het? En Paul, wat haar so lief het, wat haar so dikwels omhels en gesoen het en haar verseker het dat hulle een is in elke gedagte, elke wens, elke hoop. Toe sy by die slawehuis verbygaan, is alles nog stil en rustig; van binne kom nog die sagte gemurmel van slaperige stemme, en nou en dan 'n paar note van 'n viool. Hulle dus het niks gehoor nie, sodat sy met veiligheid kan aanneem dat nòg vader nòg moeder iets van haar ontmoeting weet. En by intree in die eetsaal blyk dit so te wees. Altwee die ou mense sit by die vuur in hul leunstoele te knikkebol. Byna dadelik is Margrieta na haar kamer, op voorwendsel dat sy met 'n boeiende roman besig is.
Rus was daar maar min dié nag vir Margrieta. Soos 'n opgeslote dier maal haar verbysterde gedagtes al in die rondte sonder om êrens 'n opening te vind in die ystertralies wat haar verstand toesluit. Toe die daglig dof en bleek deur haar venster skyn, is sy op, met 'n aangesig so bleek soos die eerste winterlig. Toe sy op die misbedekte bergpad uitkyk, skiet die trane vir die eerste maal in haar oë. Sy voel diep in haar siel dat, wat ook al die ware uitleg van die dinge mag wees, Paul vir haar vir altyd verlore is. Nooit sal hy haar weer omhels nie; nooit weer sal sy die helder lig van liefde in sy oë sien nie; nooit weer sy sagte stem in haar oor hoor fluister nie. Sy onthou met 'n diepe gevoel van ongeluksaligheid die skielike en onverwagte terugtrekking van sy liefdesverklaring die dag langs die meulhuis, op voorwendsel dat Etienne se skande 'n huwelik met haar onmoontlik gemaak het. Natuurlik was dit nie die oorsaak van die terugtrekking nie! Haar teenswoordige gemoedsgesteldheid gee heeltemal 'n ander uitleg aan sy gedrag. Hy het haar 'n leuen vertel; die werklike oorsaak was op een of ander wyse aan die nagtelike ryery verbonde; en dat dit iets vreesliks en onoorkome- | |
[pagina 460]
| |
lik is, weet sy vir seker; sy hele gedrag op die bergpad het dit ten duidelikste bewys. Toe die slavin met haar koffie inkom, is sy reeds geklee, sodat Elisabeth niks verder te doen het nie as om haar hare te kam en op te maak. Sy merk dadelik dat daar iets verkeerd is. ‘Die nonna is bleek vanoggend; moet ek die seur of die nooi vertel? Dit is miskien goed om medisyne te neem voor die koffie.’ Maar dadelik en met die meeste nadruk word sy verbied om 'n woord aan seur of nooi te sê wat hulle onrustig kan maak. Dit is maar net dat sy sleg geslaap het; ná koffie sal sy beter voel. Maar toe sy vir ontbyt aan tafel kom, merk albei haar ouers gelyktydig op dat sy bleek en ongesteld lyk; en dadelik begin haar moeder van die apteekkassie praat. Maar daar was 'n medisyne onderweg wat 'n spoediger en groter verandering in haar teweeg sou bring as enige skat uit die Hollandse apteekkassie. Terwyl hulle nog aan tafel sit, kom daar 'n geklop aan die voordeur, wat tegelyk deur die besoeker self oopgemaak word, sonder om op die bediende te wag. Dit moes dus 'n intieme bekende wees. Hulle hoor die voetstappe oor die voorsaal; die middeldeur gaan stadig oop; en voor hulle staan Paul in sy rydrag, kalm en bedaard, met sy oë vol van blydskap wat haar liefde lankal geleer het om te verwag! ‘Dag, meneer; dag, mevrou; dag, Margriet!’ groet hy ewe bedaard, ofskoon 'n weinig treurig; maar seker nie of iets gebeur het om sy gemoed diep te steur nie. ‘Ek het net vir 'n minuut aangekom. Vader het gister 'n boodskap ontvang van Spitskloof, 'n aanvraag om hulp. Dit skyn dat hulle sommige van die rowers in hande het; ook is daar 'n paar gewondes. Ek is nou op weg met al ons slawe te perd, en die perdewa kom agterna. Met ons terugkoms vannag sal ek sonder verwyl hier aankom om julle die nuus te bring;’ en daarmee maak hy hom gereed om weer te vertrek. ‘Paul!’ roep mnr. Du Roubaix hom agterna, ‘as verdere hulp nodig is, of herberg vir die gewondes, hetsy rower of soldaat, sê dan aan die offisier dat hy reguit na Laastelust kan stuur. Ons sal in elk geval alles gereed hou.’ En so is hy voort, sonder 'n woord of teken aan Margrieta wat enige lig op die vorige nag se gebeurtenisse kan werp. Dié treurige, donker dag sou Margrieta lank onthou. Nêrens op Laastelust kon sy rus vind nie; en die diepe verlange om haar verbystering aan iemand mee te deel, kon sy onmoontlik bevredig. Vroeg die middag is sy die bergpad op, en weer kon sy die spore van haar ontmoeting noukeurig nagaan. 'n Paar tree van waar hy die brief in die eikeboom gekry het, lê die gebluste fakkel in die stof vertrap; met die haastige opklim van die verskrikte perd het die ruiter dit laat val, en vandag kon sy die diep jaagspore tot naby die ingang van Langkloof volg. Toe sy terugkom, is sy na die pontakwingerd, waar die pad van die | |
[pagina 461]
| |
tweede ruiter van ver af sigbaar was in 'n reeks verbryselde en gebreekte wingerdstokke; hy het duidelik in die rigting van die rivier gejaag. Maar sonder hulp van een of ander, help die spore se nagaan haar maar min. Sy kon hulle onmoontlik volg tot waar hulle miskien tot 'n oplossing sou lei, en om hulp in te roep voordat sy van Paul self 'n uitleg het - dit wou en kon sy nie. Laat die middag is sy met haar swaarbelaaide hart na die meulhuis - 'n plek wat sy gedink het altyd vol van die heiligste herinneringe sou wees. En vandag? Weer is alles in 'n missluier bedek, wat stadig digter word soos die nag daal. Sy staan by die meulwiel, diep ingedagte. Dit is of haar lewe daar tot 'n einde raak; want hoe sy ook al trag om al die gebeurtenisse te verklaar, een feit bly altyd vas en onwankelbaar staan: dat dit die einde van die liefde tussen haar en Paul is. Sy hele gedrag het duidelik getoon dat daar iets so vreesliks agter was dat hulle nooit weer op dieselfde voet as voorheen kon geraak nie. Uit haar treurige drome word sy wakker geskud deur 'n groot geraas van die kant van die huis ver onder haar. So diep ingedagte was sy dat sy nie opgelet het dat die nag reeds die aarde ingeneem het nie; en toe sy na die huis kyk, is dit al so donker dat sy niks duidelik kan uitmaak nie. Maar veraf hoor sy die gekletter van perderuiters, en onder in die eikelaan sien sy 'n lang streep liggies in die rigting van die huis opkom; van die slawehuis sien sy ook ligte - deur die mis tot groot bolle opgeblaas - na die voordeur gaan. Dit was natuurlik die slawe met brandende fakkels, wat gereed maak om die patrollie soldate in te wag. Die ligte in die laan was die dragonders - van wie party fakkels het - op weg na Laastelust. Margriet haas haar ondertoe. Paul sal miskien saam met hulle terugkom; en wat ook al gebeur, oor een ding is sy vasbeslote: sy sal hom nie weer van Laastelust laat vertrek sonder dat hy haar 'n uitleg van sy gedrag gee nie. Sy is by die agterdeur in en loop vinnig deur na die stoep, waar haar moeder en vader reeds staan om die patrollie in te wag. 'n Wonderlike vertoning maak die fakkels deur die donker en mis. Alles is onduidelik en neem onverwags onaardse gedaantes aan. Die slawe vorm in 'n lang ry aan elke kant van die trappies toe die veerwa en ses perde van Onverwacht skielik uit die nag te voorskyn kom, 'n lang draai maak en voor die onderste trappie stilhou. Onmiddellik langs en agter die wa ry die dragonders; en nouliks het hulle tot stilstand gekom, of die offisier klim die trappe af om mnr. Du Roubaix en die dames te groet. ‘'t Spijt me van harte uedele weer lastig te vallen. Maar ik heb uw boodschap ontvangen, en ge zult toegeven dat het best was hem niet naar Onverwacht te nemen. 't Is 'n zware wond; hij zal niet lang leven. We hebben alles gereed om hem in te dragen.’ Mnr. Du Roubaix, 'n weinig ontsteld, draai na Margrieta. ‘Kyk dat die spaarkamer gereed is, kind. Jou moeder het gister aan die slawe bevele gegee ...’ en daarmee gaan hy met die offisier af na die veerwa, waar die man- | |
[pagina 462]
| |
skappe besig is om 'n gewonde op 'n baar uit te dra. Margriet hardloop vinnig na die spaarkamer en roep die huisbediendes om warm water en 'n koolpan te bring. Met vlugge hande maak sy die bed gereed; maar gou soos sy werk, was sy net betyds klaar. Toe sy die kamer uitstap, kom vier soldate, met die baar van die gewonde tussen hulle, reeds by die eetsaal in. Die gewonde lê bedek met komberse en 'n groot rymantel, wat net sy donker hoof sigbaar laat. Agter in die deur sien Margrieta onduidelik die gesigte van haar vader en moeder en andere, wat wag tot die baar veilig deur die skeideure is. In die middel van die eetsaal wag Margrieta, klaar om haar hulp aan te bied sodra dit nodig word. Toe die soldate met hul swaar ryskoene en kletterende spore stadig en lomp by die helder verligte vertrek ingekom het, bedui sy hulle met die hand na die oop deur van die spaarkamer. Hulle moet digby haar verbykom met die baar, en sy kan nie nalaat om haar oë vir 'n oomblik op die sterwende rower se bleek gesig te vestig nie. Hy lê doodstil, met geslote oë en een kant van sy gesig so met bloed bevlek dat selfs sy donker, deurmekaar hare met rooi beklad is. En skielik is dit asof 'n slag, 'n dodelike swakheid, haar hele gestel inneem. Die vier draers stuit onwillekeurig met hul las; hulle sien dat sy met wydgerekte oë, met 'n gelaat so bleek as van die gewonde self, die baar aanstaar; haar hande strek sy voor haar gesig uit asof sy iets van haar wil afweer wat te vreeslik en skrikwekkend is om te aanskou; haar lyf gaan geweldig aan bewe; en toe sy 'n stap vorentoe neem, is dit met 'n beweging asof sy dodelik inmekaar gaan stort. In 'n floue fluistering roep sy: ‘Paul! Paul!’ Die gewonde maak sy oë langsaam oop, en sonder 'n enkele lyfbeweging staar hy haar lank en verbysterd aan, asof hy moeite het om haar te herken. Daar is verwondering in sy stem toe hy eindelik praat. ‘Margrieta!’ fluister hy byna onhoorbaar. ‘Margrieta, is dit jy? Ek het jou laat skrik!’ Dit is Paul; met bloed beklad en klaarblyklik in 'n sterwende toestand - maar Paul! En toe is dit of 'n swart sluier skielik op Margrieta neersak. Sy sou op die baar neergestort het as een van die soldate haar nie met sy vrye arm gevang en opsy gehou het nie. Van alle kante storm die ander toe om te help. Toe sy weer stadig bykom uit die donker wolk waarin sy weggesak het, vind sy haarself op die rusbank in die eetsaal, met 'n kring bleek en angstige gesigte om haar. Sy herken haar vader en moeder, laasgenoemde besig om haar gesig met asyn en water te lawe; die dragonderoffisier sien sy ook op die agtergrond; en terwyl sy streef en sukkel om die laaste duister van haar verstand uit te vee, is dit asof een persoon, een gesig, stadig soos 'n steeds vormende gedaante sigbaar en tasbaar word. Dit is iemand wat by haar op die rusbank sit, wat haar hand vashou, wat haar stip in die oë kyk. Sy kan dit nie verstaan nie. Dit moet | |
[pagina 463]
| |
'n droom wees waaruit sy straks sal ontwaak. Weer fluister sy saggies sy naam: ‘Paul, is dit jy?’ En toe sonder 'n woord buk hy vooroor en soen haar op die mond. Dit is Paul, gesond en wel! Toe die ander hulle ná 'n tydjie alleen gelaat het, het dit geen aandrang van haar kant nodig gehad om 'n volledige uitleg van die geheim van Paul te kry nie. ‘Dit was Etienne,’ sê hy, ‘my tweeling en jou speelmaat. Ná hy hier in die ongeluk geraak het - daarvan sal ons nou niks meer sê nie - het my vader hom vir ewig die huis belet. Hy is toe die Onderveld in, waar ek nou en dan berig van hom gehad het. Hy was maar altyd in die moeilikheid, en dit was vir ons werklik 'n verligting toe my vader eindelik berig van sy dood ontvang. Ons het almal vas geglo dat die berig waar is. En toe bring een van ons slawe my op 'n dag onverwags 'n briefie van hom uit Drakenstein. Hy was met die rowers, in die gesig gewond, en so vasgekeer dat hy gevang sou word as ek hom nie te hulp kom nie. Om die laaste skande van my ou vader af te keer, het ek met hom afgespreek om hom op die bergpad te ontmoet. By die eerste ontmoeting het ek gesê ek sou vir hom 'n brief laat in 'n mikboom in die Kreupelbos, 'n plek wat ons altwee ken, as iets my miskien sou verhinder om self te kom. Daar was toe reeds groot gevaar, want die soldate was oral gestasioneer, en spioene is die berg ingestuur om hul verblyfplekke op te soek. Die laaste maal toe ek hom sou ontmoet, was ek ongelukkig te laat. Toe ek deur jul pontakwingerd na die Kreupelbos aankom, was dit net om hom te hoor wegjaag ...’ Met 'n vreugdevolle glimlag trek Margrieta sy kop na onder tot dit op haar skouer rus, en in sy oor fluister sy: ‘My geliefde, ek kan die res van die storie self vertel.’ Dit was toe sy beurt om verbaas te wees, want van haar avontuur in die Kreupelbos wis hy natuurlik niks. Dit het egter nie lank geduur om die twee dele van die storie inmekaar te pas nie; en nieteenstaande die treurspel waarin hulle betrokke geraak het, was daar groot vrede en vreugde in hul harte voor die aand uit was. Etienne is die nag op Laastelust oorlede, sonder dat hy ooit weer bygekom het. Hy wis selfs nie dat sy trotse ou vader met sy hand in syne gesit het tot hy sy laaste asem sou uitblaas nie. |
|