| |
12 By die Mond van die Save
Gedurende die laaste jaar van die Engelse Oorlog het 'n klein ekspedisie bestaande uit 'n paar Duitsers en twee Transvalers by die mond van die Save in Portugees-Oos-Afrika te lande gekom.
Die oorspronklike doel van die ekspedisie was om in aanraking met die kommando van genl. Beyers in Soutpansberg te kom. Hier, egter, het hulle berig uit Beira ontvang van die pasgeslote vrede, en die geselskap is toe uitmekaar. Een Transvaler en 'n Duitse dokter het 'n paar maande aangebly in Matjanga, 'n groot inboorlingstat omtrent ses myl van die monding van die rivier.
Die Save - soos die meeste Oos-Afrikaanse riviere - vind 'n uitweg na die see deur vyf of ses verskillende strome, wat almal bedek is met donker wortelboombosse. Net een van die strome is bevaarbaar vir klein seilvaartuie, en dan alleen onder sekere seldsame omstandighede: wanneer stroom en wind altwee gunstig is.
Eb en vloed is ver bokant Matjanga nog waarneembaar - ongeveer sestig myl van die werklike monding af. Binne hierdie afstand van sestig myl is geen enkele krokodil ooit te vind nie. Anders, dus, as meeste swart rivierbewoners in
| |
| |
Oos-Afrika, is al die naturelle in Matjanga uitmuntende swemmers en duikers. Vis is volop, en daarom bring die meeste van die ingesetenes net soveel van hul lewe op die water deur as op die land. Ook is hier waarskynlik meer seekoeie as in enige ander rivier van dieselfde grootte in Afrika. In die dag soek die ontelbare menigte skuiling in die wortelboombosse, om snags in die middel van die stroom rivier op te trek na weivelde en mere ver bokant Matjanga. Dit is ongetwyfeld een van die wonderskouspele van Afrika om op 'n maanlignag vanaf die hoë wal by Matjanga die swart streep in die middel van die rivier te sien optrek met 'n gesnork en geblaas wat onafgebroke aanhou tot ver oor middernag. Begryplik is dit derhalwe dat die Matjangers ook uitmuntende seekoeijagters is; en daar sal miskien later geleentheid wees om hul manier van jag te beskrywe. Hierdie opstel gaan meer bepaald handel oor hul lewenswyse op soutwater - want hierdie intieme omgang met die ‘tweede element’ het ook die gevolg gehad dat die Matjangers vername matrose is.
Oral op die kus is hulle bekend as die beste seemanne verkrygbaar, en die besoeker sal baie ou swartes in Matjanga aantref wat meermale die aardbol in handelskepe omseil het, om op hul oudag weer in die pondok tot rus te kom.
Die grootste ambisie van elke Matjanger is om eendag sy eie handelsboot te besit. Die lengte van die skuite is tussen dertig en veertig tree, met een mas en 'n groot sprietseil. Die boot is natuurlik onder dek, met 'n klein huisie oor die deur van die ruim. Sodra 'n Matjanger in staat is om 'n boot te koop, verhuis hy met sy hele familie na die skuit, en van dan af aan besit hy geen ander woonplek as sy drywende huis nie. Op die skuit word sy kinders gebore, word hulle groot en gaan hulle dood. Op en af langs die kus handel hy, en gaan by riviere in waar geen ander volle seevaartuig dit ooit sou waag nie; en so goed ken hy elke rots en stroom, so 'n aangebore kennis besit hy van weer en wind, dat dit baie selde is dat hy deur 'n storm in die volle see gevang word. En as dit nogal gebeur, dan staan sy uitmuntende seemanskap hom ten goede en weet hy om sy skuit in veiligheid te bring. Net kort voor ons besoek aan Matjanga was daar 'n woedende storm langs die kus. Tien of twaalf handelskuite van blankes en Indiërs het in die omtrek van Beira vergaan, terwyl verskeie klein Matjangers deur die hart van die storm die hawe veilig bereik het.
Die bogemelde Duitse dokter, wat gelukkig (of ongelukkig, uit 'n ander oogpunt) 'n groot voorraad medisyne by hom had, was spoedig een van die populêrste inwoners van Matjanga. Van die hoofkaptein tot 'n menseter uit die binneland was by tye sy pasiënte. Ná een gelukkige operasie was daar so 'n onophoudelike geskreeu en gekerm om ons hut dat ons verplig was om tydelik na 'n eiland in die middel van die stroom te verhuis. En ofskoon die seekoeie en muskiete ons hier snags so lastig geval het dat slaap 'n moeilike saak was, het ons dit tog verkieslik gevind vergeleke met al die onplesierige siektes van Matjanga.
| |
| |
Gedurende hierdie verblyf op die eiland Ma-em-Vu (Moeder van die Seekoeie) word ons eendag deur 'n gewese pasiënt van die dokter besoek. Hy was 'n inwoner van Matjanga, maar het altyd voorgegee dat hy van Spaanse afkoms was, en derhalwe in staat was om van die Portugese met minagting te praat! Hy was eienaar van 'n klein gedekte handelsboot met 'n bemanning van tien, waarvan twee jong swart vroue was. Anders as die meeste Matjangaanse seevaarders, het hy nooit die skuit sy vaste woning gemaak nie - miskien omdat dit van 'n buitengewone fatsoen was. Daar was geen dekhuis nie, sodat dit by die minste onstuimigheid nodig was om die deksel van die ruim dig te maak, en daarna was die enigste staan- of sit- of lêplek die gladde dek, afdraand na alle kante, met hoegenaamd geen reling nie. Die ‘Kapstao’, soos ons hom geleer ken het, het ons kom besoek om sy dankbaarheid aan die dokter vir vroeër geneeskundige bystand te betoon, en sy dankbetuiging het die gedaante aangeneem van 'n yslike karba Portugese rum - 'n donkerbruin vloeistof met die smaak en geur van suikerrietstroop en die gehalte van granaatkartets. Die Kapstao het vernaamlik handel in hierdie produk van Portugese nywerheid gedryf. Met sy gedekte skuit voer hy elke maand 'n vrag rum van die Zambezimond langs die kus af om vir inboorlingbokkies te verruil, wat later weer in Beira in geld omgesit word.
Nadat die karba rum oorhandig is, gee hy te kenne dat hy van plan is om sy dankbaarheid op 'n veel groter skaal te bewys. Met groot geheimsinnigheid neem hy ons uit op 'n sandkaap van Ma-em-Vu, buite gehoor van ons bediendes en sy bemanning, en hier haal hy uit 'n diep bedekte binnesak van sy flenterdrag 'n bruin, gebreide velsakkie omtrent so groot soos 'n lemoen. Hy vra die dokter om sy hand oop te hou, en met 'n dramatiese gebaar word die sakkie op die palm geledig. Ek kon uit sy houding sien dat die man 'n uitbarsting van verbasing onsersyds verwag het. Hy was teleurgesteld. Geen van ons twee wis wat die klein hopie in die hand van die dokter werklik was nie. Al wat ons sien, was klein voorwerpies wat na donkergekleurde perlemoer lyk. En toe met 'n groot gebaar fluister hy die senu-rukkende woord: ‘Pêrels!’ Selfs dit het ons nie laat flou val nie. Ek het nooit tevore 'n hoop pêrels gesien nie; maar ek wis dat hierdie skat van ons Spaanse vriend waarskynlik minder werd was as die karba rum; en met hierdie taksering het hy later self ingestem. Hy gee ons egter toe te kenne dat wat hy werklik voor oë had, was om ons hiermee alleen die bewys te lewer dat pêrels in onskatbare hoeveelhede naby Matjanga verkrygbaar was. Die lelike klompie kom daarvandaan; hy het hulle self met sy skuit gehaal; al die mooies, wat geld werd was, het hy in Beira verkoop - vir meer geld as sy skuit werd was. As 'n mens gelukkig is, kan jy in een dag 'n fortuin op die seebodem optel!
Tot ons ongeluk het ons gehoor van die Portugese pêrelbed wat vir die laaste tien jaar van regeringskant gesluit en opgepas is om die oesters weer 'n kans te
| |
| |
gee om te groei en groter pêrels te lewer. Voorheen is die bed deur Indiese en Arabiese duikers so te sê uitgeput. Nou, egter, verseker ons Spanjaard, is die bed ryk. Dit is maklik om te bereik en is heeltemal onbewaak, omdat die kanonneerboot wat dit moet oppas al 'n jaar hoog en droog op die eiland Chiloaan lê, waar die bemanning 'n dorpie gestig het, elkeen met 'n swartvrou en groot landerye! Hy dag dat die Portugese admiraliteit die kanonneerbootjie glad vergeet het, want hulle wag al meer as 'n jaar op redding! En ons kon met 'n geruste gewete voortgaan, want aangesien die bed meer as drie myl van die kus lê, is die Portugese se aanspraak ongegrond. Van Matjanga kon ons die pêrelbed in een dag bereik; met twee duikers elke dag besig, kon ons binne 'n week 'n taamlike vrag oesters oes. Dan kom ons terug na Ma-em-Vu om ons skatte te verdeel. Die program was op sigself aanloklik genoeg om die verbeelding gaande te maak, heeltemal afgesien van die stories waarmee ons besoeker die gunstige indruk probeer aanhelp - stories van pêrels so groot as 'n klein nartjie, helder as somermaanlig, met 'n glans wat selfs die Spaanse taal gespan het om te beskryf.
Dit was minder aanloklik toe ons ons aandag by die praktiese kant van die onderneming moes bepaal. Toe blyk dat ons al die onkoste moes dra van uitrusting. Dit beteken: huur van die Kapstao, sy skuit en bemanning vir tien dae, kos en drank, huur van twee geoefende duikers met drie kano's - en dan gelyk deel van die opbrengs onder drie. Wat meer aanloklik was as die moontlikheid van pêrels, was die beloofde skilpadjag wat die ‘Spanjaard’ ook op poëtiese wyse beskrywe, en vis so groot dat 'n mens 'n klein kabeltou nodig had om hulle te vang!
Sonder veel nadenke neem ons die voorstel aan; en drie dae later vertrek ons eskader van Ma-em-Vu, bestaande uit die groot, gedekte seilskuit van die Kapstao, met twee kano's op sleeptou, en 'n totale geselskap van twaalf man en twee jong vroue. Van die mans was die dokter en skrywer die enigste blankes. Twee ander was gehuurde duikers; en dit het ons verwagting grootliks laat afkoel toe ons verneem dat die duikers beslis weier om vir 'n deel van die pêrels te werk. Hulle sou tevrede wees met 'n weinig ‘Portugese handegeld’ in plaas van die skatte wat die Kapstao in die vooruitsig stel!
Die twee jong vroue was deel van die Kapstao se bemanning solank hy hom op die water bevind. Aan wal doen hulle diens as die pronkjuwele van sy harem. Ons het gou die ondervinding opgedoen dat hulle verreweg die beste matrose aan boord was. Al die gevaarlikste werk is aan hulle met algemene toestemming opgedra en gewoonlik sonder murmureer en met 'n glimlag uitgevoer.
Deur 'n taamlik digte seenewel trek ons af na die groot wêreld regoor die eiland Chiloaan. Met hierdie weerstoestand gee die Kapstao voor hoogs tevrede te wees, omdat dit die nuuskierigheid van die walbewoners sou demp. Op 'n
| |
| |
ander uitwerking van die newel het hy seker nie gereken nie, want hy was erg woedend toe die groot skuit binne 'n paar honderd tree van die mondsandwal in die takke van 'n wortelboom so vas seil dat dit ons 'n uur gekos het om dit los te kry - en daar was geen tyd te verloor nie, want die water was reeds aan eb. 'n Geweldige kruissee loop op die sandbank, en die wind was van so 'n rigting dat onmiddellik voor die bank gelaveer moes word. Op die hoogte van 'n skuins brander trek ons op, om die volgende minuut 'n geweldige skok te gewaar, met die versekering dat die skuit vas op die sand lê. Die leser verstaan dat hierdie gedekte skuit geen kajuit besit het nie, en die deksel van die ruim is nie opgesit toe ons klaarmaak om die mondbank te kruis nie. Ons enigste staanplek was dus die gladde dek, na alle kante afdraand en hoegenaamd geen reling nie. As 'n brander oorboord kom, moes aan die maste vasgeklem word. Onmiddellik ná die skuit vasslaan, word dit van twee kante tegelyk oorspoel. Alle los goed wat nie in die ruim was nie, is hoog aan die maspaal vasgemaak toe ons vir die kruising klaarmaak. Die bemanning - meisies inkluis - was almal so te sê kaal. Die enigste drag aan boord was 'n stuk wit linne drie of vier maal om die lyf gewoel en wyd genoeg om die knie te raak. Maar die twee ongelukkige Europeane was in gewone klere, en in 'n oogwenk van kop tot tone nat; en hulle moes die stortbad byna 'n uur uitstaan. Elke tien tellings gaan 'n brander dwarsoor alles heen. Die Kapstao en al sy manskappe by die eerste skip het oorboord geduik, en ons sien net hier en daar die swart koppe in die branderskuim opkom, onder groot gelag. Vir hulle was dit net 'n grap! Die enigste wyse om die skuit los te kry was om langs die kant af te duik en die sand met hande onder die boom weg te krap, en daarna op die krag van die stroom te vertrou. En hulle moes vinnig werk, want elke oomblik word die water op die bank vlakker. Die skuit het net weer
begin roer, toe daar 'n onverwagte tussenspel kom. Rondom die skuit wemel dit van vis wat aan aas was of besig was om die rivier op te trek met die sak van die water, en onder hulle was 'n klompie seevarke woedend besig. Ons skuit was vlot en die swemmende manskappe besig om van alle kante aan boord te klouter, toe een van hulle omtrent tien tree van ons af 'n groot gekweste vis in die water sien spartel.
Dit was die prooi van 'n seevark wat ons aanwesigheid gehelp het om los te ruk uit die gevaarlike tande. Dadelik word alles van die skuit vergeet. Oorboord gaan Kapstao en manskappe weer soos paddas, met die grootste opgewondenheid en lawaai. Die jag van die gekweste vis duur ten minste twintig minute - totdat een van die matrose daarin slaag om hom onder sy arm vas te druk en agter die kop dood te byt! Intussen lê ons skuit weer roerloos vas, en moet die dokter en ek die stortbad opnuut uitstaan. Dit was op die laas moontlike minuut dat ons eindelik oor die bank in diep water kom. Dadelik word vol seil gemaak, en met 'n gunstige wind seil ons in 'n noordoostelike rigting om Chiloaan. Nog altyd bly ons tussen groot wortelboombosse. Op elke eiland en
| |
| |
sandwal groei dié reusagtige bome, meestal tot by die takke in seewater bedek. Die Kapstao ken elke wegkruipplekkie, en ons seil in allerhande kronkelpaadjies om buite gesig van die kanonneerbootdorpie op Chiloaan te bly. Om twaalfuur die middag kom ons op die noordelike punt van Chiloaan uit, met die volle see voor ons. Verder kon ons nie voor donker seil sonder dat ons vaart en tegelyk ons doel aan die amptenare op Chiloaan bekend raak nie; en ofskoon hulle oorlogskip tydelik buite diens was, sou dit tog vir hulle maklik wees om uit te vind watter skuit die verbode gebied ingeseil het, en ons met ander seilen roeiskuite te agtervolg en die voorgestelde pêreljag te verydel.
Derhalwe word in taamlike stil water geanker, en ons maak klaar om so geduldig moontlik die nag in te wag. Intussen is die meisies in een van ons slepende kano's aan wal gestuur om hout te haal, en binne 'n kort tydjie word op 'n groot ysterplaat op dek vuur gemaak en kos gekook. Die groot stuk van ons maaltyd het uit die groot vis bestaan van die seevark ontneem. Hier in die stil water word die ruim vir die eerste maal oopgemaak, en het ons die geleentheid om in die binneste van die skuit te gaan. Onder vind ons 'n taamlike groot kamer, waar al ons kosware, geweers, vislyne en vars water in vaatjies weggepak is. Tot ons verbasing kry ons op die voorpunt van die holte twee bokkies - ooie nie groter as kolhase nie. Altwee is kort vas, en langs hulle lê die dragte takke en blare wat hulle vir tien dae aan lewe moes hou. Dit was die vars vleis waarvoor die Kapstao beloof het om te sorg!
Vyf of ses karba's rum langs die watervate vasgepak, was genoeg om die gevoel van onrus wat ons lankal meester geword het, te verdiep. Een word dadelik op dek gebring, en ons wagtyd word spoedig in 'n vrolike orgie verander. Voor sononder lê ons skuit meesterloos, met die Kapstao en al sy manskappe in 'n slaap wat meer na bewusteloosheid lyk as gewone dronkenskap. Die nag sak skielik as 'n swart gordyn neer, met 'n sterk wind uit die suidweste wat die beweging van die geankerde skuit dadelik ondraaglik maak.
Met die uiterste moeite word die Kapstao en sy matrose uit hulle rus wakker geskud. Nooit sou ek kon gedink het dat 'n onbewolkte nag so donker kon word as wat ons tussen die wortelbosse van die Save beleef het nie. Die spreekwoordelike ‘hand voor oë’ beskryf dit letterlik en onvergroot. Van alle kante uit die swart bank om ons skiet klein vuurtjies te voorskyn. Elkeen dui 'n inboorlingwoonplek aan op Chiloaan of op die vasteland. En hierdie vuurtjies om ons en die helder sterre bo ons was die enigste kompas met behulp waarvan die Kapstao van plan was om sy koers te hou. Nooit sal die herinnering van die nagvaart by ons gedoof word nie. Niks minder as 'n nagmerrie was dit. Eers moes gesoek word na 'n gevaarlike rif in die volle see voor ons, van watter punt die verdere koers sou gelê word. Die soek en vind van die rif was 'n soort wegkruipertjiespel: kry ons die rif eerste, dan was alles wel; maar kry die rif ons eerste ... wel, die moontlike gevolge word aan ons verbeelding oorgelaat.
| |
| |
Ons skuit, onder volle seil, skiet soos 'n pyl deur die water, met twee lang, blink waterstrepe aan elke kant. Die Kapstao en sy stuurman staan aan elke kant van die roer, terwyl die orige matrose almal in die boeg vergaar was om na die verwagte branding uit te kyk. Een van die meisies was dit wat eerste die blink water van die rif in die verte gewaarword, en uit die algemene toejuiging kon ons aflei dat ons gevoel van onrustigheid deur die ander gedeel is. Dadelik word van koers verander - weer met een of ander ster as gids - en kort daarna skiet die skuit in stil water, met 'n geweldige branding binne tien tree van ons af. Dit was 'n rif wat myle ver langs die kus oploop en wat nou as breekwater vir ons dien. Al aan die binnekant van die rif seil ons in stil water, met die woedende branding teen ons aan - so naby dat die minste glip van die roer ons verdelging sou teweegbring. En juis so naby moes ons bly, omdat verder uit 'n teëstroom landwaarts spoel wat ons uit die koers sou druk.
Teen middernag gewaar ons skielik branding van drie kante - die gevaarlikste reg in ons koers. Dadelik was daar die grootste lawaai. Met alle geweld word die roer omgeruk en die seil gestryk, en ons draai binne 'n tree van die tande van 'n rots voor ons. Dadelik word die anker oorboord gegooi en die ruim geopen. Die twee meisies gaan onder slaap. Hoedat hulle dit in die benoude holte kon uithou, is 'n raaisel wat alleen 'n swartmens kan beantwoord. Bo op dek was die slaap ver van onaangenaam. Vir die eerste keer in maande had ons die ondervinding om sonder muskiete of die geblaas van seekoeie 'n nag deur te bring.
Met dagbreek word ons wakker, om vir die eerste maal kennis te maak met die beroemde pêreloesterbed. Dit was toe laagwater, en aan drie kante van ons was lelike, swart, spits rotse net bo die oppervlakte sigbaar - wat die branding die vorige nag veroorsaak het. Aan die westekant op die gesigseinder lê 'n swart skaduwee - die kus van Afrika. Die Kapstao deel ons mee dat die water in sommige jaargetye so laag is dat 'n mens op die rif kan land; ons tyd was ongelukkig die verkeerde tyd, sodat ons moes klaarmaak om tien dae op die skuit te woon!
Net ná ontbyt word gereed gemaak om te begin duik. Die gereedskap was eenvoudig genoeg: 'n groot hoop ballasklippe word uit die ruim op dek gebring - elkeen omtrent twintig pond gewig. Een daarvan word aan 'n dun tou gebind en tot op die bodem laat sak, wat moes dien om die duiker op te help met sy drag oesters. Die diepte was ongeveer twintig voet. Die duikers, elkeen met net 'n sak om die lyf en 'n leerband met 'n lang suikerrietmes oor die regterskouer, neem 'n klip in elke hand en duik oorboord, kop ondertoe. Die klippe dien om hom gou op die bodem te bring sonder dat hy hom deur geweldig swem hoef moeg te maak. Sodra hy onder kom, los hy die klip uit sy regterhand en begin oesters in die sak sit. Wanneer hy nie langer kan uithou nie, los hy die ander klip, neem 'n geweldige ruk aan die tou en skiet bo die oppervlakte uit. In die begin kon die duikers maar baie kort onder bly. Stadigaan, egter, het die
| |
| |
tyd langer geword, tot dit eindelik ons hoogste verwagting oortref het. Maar die oesters was vreeslik skaars, en ofskoon ons gedurig ons staanplek verander het, was ons nooit gelukkig genoeg om op 'n ryk plek af te kom nie. Selde het 'n duiker meer as ses oesters gelyk boontoe gebring. Tien was 'n groot vonds gereken, en nie meer as een uit die vyftig het 'n teken van 'n pêrel gegee nie. Van die pêrels self was die groot meerderheid geheel waardeloos - verkeerd wat fatsoen betref en vuil van kleur. Sommige was net 'n puisie in die perlemoer. Of hulle werklik aan groei is, betwyfel ek ten sterkste, nieteenstaande die teenoorgestelde verwagting van die Portugese regering. Ek dink dit hang alles van die plek af. Daar mag hier plekke wees waar mooi pêrels te kry is, maar ons duikers het ten minste nooit een raakgeloop nie. So skaars was die oesters dat ons wat op die dek was, kon voorbly met skoonmaak en pêrels uithaal, sodat dit nie nodig was om 'n groot vrag na Matjanga terug te voer nie.
Die tweede of derde dag had ons die eerste gesig van 'n seeskilpad. Hy het met die seestroom gekom wat soos 'n rivier landwaarts aandrywe, vas aan die slaap op die oppervlakte van die water, met kop en roeiers wyd uitgerek. Dadelik word die geweers uitgehaal, en op 'n afstand van dertig tree gee ons hom tegelyk twee koeëls, terwyl die matrose halsoorkop in een van die kano's spring. Een van ons groot koeëls het gelukkig die ruggraat geraak, waardeur die monsterdier so verlam is dat hy nòg kon duik nòg kon swem. 'n Tou word om 'n roeier vasgebind, en hy word met 'n gewone katrolblok op dek gehys. Dit was die eerste maal dat ek 'n seeskilpad sien, en wat my meeste verbaas het, was die ontsaglike grootte. Ek was altyd onder die indruk gewees dat die dier nie veel groter as 'n gewone landskilpad is nie. Ons monster was ses voet lank en vyf voet breed. Binne was die dier vol eiers, en so vet dat die vleis byna oneetbaar was; nietemin moet ek erken dat ek nooit iets lekkerder in my lewe geproe het nie as 'n skilpadkarmenaadjie op die kole gebraai, met 'n paar gebraaide eiers daarby. |
|