Henry Barrett, 'n ou en bekende inwoner van Pretoria, het in sy jeug ook 'n vreeslike ondervinding met 'n erdvarkgat gehad. Hy het destyds transport gery van Natal na Transvaal, en een winteroggend vroeg stap hy van die waens weg om 'n bok te skiet. Dit was op die hoogste en koudste gedeelte van die Hoëveld, en Barrett het 'n groot, swaar jas aangehad. Met hom gaan sy twee baster-windhonde saam.
Op 'n taamlike afstand van die waens kwes hy 'n steenbokkie, wat die twee honde dadelik skraap en wat sy toevlug neem in 'n erdvarkgat. Die honde weier om in te gaan (dit is selde dat 'n opregte Boerboel in 'n erdvarkgat agter wild sal inkruip). Die bokkie is van buite duidelik sigbaar; die grond is hard en die gat groot - so groot dat Barrett, met sy jas aan, 'n entjie inkruip. Maar die bokkie skuif 'n weinig dieper, tog is hy nog só naby dat Barrett die gevaar vergeet en 'n paar duim agterna gaan. Dié paar duim het die onderskeid gemaak tussen veiligheid en doodsgevaar. Hy gryp die bokkie aan die agterbeen, maar toe hy probeer agteruit kruip, word hy dadelik gewaar dat hy hom in 'n groot gevaar begewe het. Met elke beweging na agter skuif die groot, swaar jas om die bolyf vas. Die gat is te nou om sy hande agteruit verby die heupe te kry. En toe gebeur met Barrett wat onder dergelike omstandighede dikwels met die mees ervare veldkenners gebeur: hy verloor sy kop en begin worstel totdat hy só vermoeid en vas was dat verdere beweging onmoontlik was. Hy beskryf die liggaamlike lyding en die sielstoestand wat daarmee gepaard gegaan het as dinge wat sy ondervinding voor en ná dié tyd ver te bowe gaan.
Die hele dag bly hy vas in die gat. Laat in die dag word hy nou en dan 'n dowwe slag gewaar. Dit was sy volk by die waens wat vir hom klap, want dit was reeds lank verby die tyd deur hom vir inspan vasgestel. En toe kom 'n ander vreeslike angs by hom op. Dit was sy gewoonte om die volk te laat inspan en 'n skof te ry, terwyl hy te voet met die geweer deur die veld loop. Dié oggend het hy geen bevele gegee nie, en hy het geweet dat, as hulle inspan en 'n skof ry, dit op sy mins sou beteken dat hy 'n nag in die gat moes deurbring, wat sonder twyfel sy dood ten gevolge sou hê.
Gelukkig het dinge anders verloop: ure lank hoor hy sy getroue honde buite tjank, en naderhand, toe dit stil word, rys die hoop dat hulle terug na die waens sou gaan. En dit was ook wat gebeur het. Net voor sonsondergang kom die twee honde by die wa aan, en dadelik, uit hierdie ongewone feit, gepaard met die lang afwesigheid, merk die swartes onraad. Ofskoon dit reeds te donker was om 'n spoor te vat, gaan twee van sy drywers met die honde voort om te soek; en dit was die honde wat hulle eindelik in die donker reguit na die gat gelei het.
Barrett was in só 'n toestand dat hy moes gedra word, en meer as 'n maand daarna kon hy sy bed nie verlaat nie.
Aan die werk van die polisiebeampte is baie gevare verbonde, en as ons die