| |
10 Verdwaal!
Oral waar mense die wildernis intrek en bewoon - meer bepaald in die Bosveld - kom daar dikwels gevalle voor van die verdwaal en verdwyn van mense, meestal van kinders; en daar is niks in die alledaagse lewe van sulke woestynbewoners wat meer skrik en opskudding veroorsaak as die wegraak van een of ander lid van die gemeenskap nie, sy dit kind of volwassene.
'n Groot ongeluk - selfs die dood - trek mense nie so na mekaar toe en verwag nie sulke gesamentlike en onselfsugtige pogings tot herstel van die gebeur- | |
| |
de nie. Daar is iets onbeskryflik tragies in hierdie opsluk van 'n lewende mens deur die doofstomme veld - 'n gevoel wat iemand wat self verdwaal het, gewoonlik goed kan verstaan; want dit is te betwyfel of enigiets 'n mens in die veld kan oorkom wat aakliger en skrikwekkender is as om te verdwaal, selfs wanneer dit gepaard gaan met die wete dat daar hoegenaamd geen lewensgevaar is nie.
Verdwaal in die veld - in vlaktes, of gelyk boswêreld - waar dit volwasse mense betref, is gewoonlik te wyte aan een van twee sielkundige oorsake:
Die eerste is die ‘omdraai van die wêreld’ - 'n ondervinding wat die meeste jagters en reisigers in ons veld op een of ander tyd gewaarword. Jy staan byvoorbeeld een oggend op en ontdek dat die wêreld dié nag ‘omgedraai’ het. Die waens wys na die suide in plaas van na die noorde; die rivier of rant is regs van jou in plaas van links, waar dit die vorige aand was; die son kom in die weste op en gaan in die ooste onder! Alles is net omgekeerd. Dikwels gebeur die ‘omdraai’ helder oordag onderwyl die jagters of reisigers aan loop of aan ry is. In sulke gevalle word dit veroorsaak deur 'n omstandigheid in die natuurlike omgewing: 'n groot draai in 'n rivier of rant waarvan die reisiger onbewus is. Hy bly onder die indruk dat hy reguit gaan, terwyl hy in werklikheid in 'n halfmaan loop of reis. Wanneer hy uit die sirkel kom, is die wêreld ‘omgedraai’. Dadelik loop hy weg van die kamp in plaas van na die kamp toe; en as hy eindelik weer by die waens kom, dan staan alles verkeerd-om. Gewoonlik duur die toestand maar 'n enkele dag. Ná een nag se slaap vind 'n mens die volgende oggend dat die wêreld weer ‘reggedraai’ het.
Dikwels gebeur die omdraai egter sonder enige bespeurbare oorsaak; òf in die nag, òf gedurende die loop van 'n dag is daar 'n omwenteling wat vreeslik storend en lastig op 'n mens se bewussyn inwerk solank dit duur. Wee die jagter wat alleen uitgaan om te skiet onderwyl hy in dié toestand verkeer! Verdwaal is onvermydelik.
'n Ander sielkundige oorsaak van verdwaal is die sterk neiging wat daar by die mens bestaan om in die veld in 'n sirkel te loop, tensy hy 'n bekende of sigbare doelwit voor hom het. Die oorsaak van hierdie kringlopery is onseker. Anatome verklaar dat dit iets te doen het met 'n klein orgaantjie, die sogenaamde ‘doolhof’, wat elke dier in die ore het, en wat dien om die liggaam regop te hou.
'n Derde oorsaak van verdwaal is miskien die algemeenste en bekendste onder dorpsbewoners: net die skone domheid, soos 'n veldsman dit sou beskrywe. Selfs by sulkes, egter, was die twee eerste oorsake meestal werksaam gewees wanneer hulle verdwaal.
Skrywer wil hier enkele gevalle van verdwyn en verdwaal in die veld verhaal, in sommige waarvan die werking van bostaande sielkundige oorsake duidelik te bespeur was. In ander gevalle is die verdwyning van belang alleen omdat
| |
| |
geen spoor ooit weer van die verdwaalde gevind is nie; of omdat dit gebeur het onder omstandighede wat enige redelike uitleg baie moeilik maak. Daar is bekende gevalle waar dit werklik gelyk het asof die weggeraakte in die lug moes weggesmelt het; en ander gevalle waar selfs die onderstelling van verdwaal uitgesluit word deur die feit dat die betrokke persoon 'n gebore veldsman was en in die veld weggeraak het waarvan elke duim aan hom bekend was.
Die eerste geval wat beskryf word, is belangrik omdat dit waarskynlik 'n moontlike uitleg verskaf van baie ander gevalle van die geheimsinnige verdwyning van kinders.
Vyf-en-dertig jaar gelede was eerw. Peter Davidson predikant van 'n Presbiteriaanse gemeente van Adelaide in die Kaapkolonie - 'n godvresende, alombeminde man, met waarskynlik geen vyand in die wêreld nie. Hy was getroud en had verskeie kinders, van wie een 'n seuntjie van agt jaar oud, ene Abram. Abe (soos hy algemeen bekend was) was 'n skrander knaap, vlug om te leer, vrolik en opgeruimd, gesond en besonder sterk gebou. Onder sy speelmaats was hy uiters populêr en deur volwassenes algemeen bemind, ook buite sy vader se gemeente.
Omtrent die tyd van die gebeurtenis het die heer Davidson op reis gegaan, wat hom enige dae van huis sou hou. Sy vrou besluit toe om 'n besoek te bring aan die familie van eerw. Sharer, 'n ampsbroeder van haar man, woonagtig op die dorpie Magazana, twintig myl van Adelaide af. Sy neem haar kinders mee, en sou enige dae, met 'n Sabbat tussenin, op Magazana deurbring.
Sondagmiddag gaan al die volwassenes na die laaste diens in die kerk, terwyl die kinders, wat pas uit die Sondagskool gekom het, aan speel was op die kweek in die onmiddellike nabyheid van die kerk en pastorie, wat 'n paar tree van mekaar geleë was. Net voor sonsondergang kom die kerk uit, en die kinders van die twee huisgesinne word na die aandete geroep. Abe kom nie. 'n Paar sekondes tevore het die ander kinders hom nog gesien en met hom gepraat. Op die werf rond word na hom geroep, en 'n boodskapper na die huise gestuur om te verneem of hy miskien met een of ander kind saamgeloop het. Daar is nog nie die minste onrustigheid nie; eerw. Sharer is seker dat hy met een of ander kerkganger huis toe is.
Ná ete blyk egter dat nêrens in die buurt iets van Abe Davidson gesien of gehoor is nie.
Naby Magazana is 'n taamlike groot rivier, en rondom is daar digte bosse waarin inboorlingstatte versprei is. Die swart bevolking van Adelaide was groot, en die grens van die Kaapkolonie se groot oostelike naturellegebied was nie ver nie.
Die hele Sondagnag deur word tevergeefs gesoek, en vroeg Maandagoggend word boodskappers na Adelaide gestuur. Daar was nog 'n skraal hoop dat die seun om die een of ander rede gedurende die nag teruggeloop het. Maar ook
| |
| |
dáár was geen taal of tyding van Abe nie, en spoedig was die hele dorp en omgewing in 'n toestand van onrustige beweging. Maandag deur word gesoek; en toe Dinsdag en Woensdag verbygaan sonder spoor of tyding van die verlore knapie, gaan die hele distrik Adelaide met militêre noukeurigheid aan 't soek. Die rivier word met hake uitgesleep, die bosse gefynkam en elke stat sorgvuldig opgeneem. 'n Beloning van £100 word aangebied aan enigeen wat tyding van die kind kon gee, dood of lewend. Later is die som deur publieke bydrae tot £500 verhoog, en onder die swartes is 'n belofte van die ouers bekend gemaak dat, as die kind terugbesorg word, geen vervolging teen enigeen verantwoordelik vir sy wegraak sou ingestel word nie.
Maar niemand het ooit aanspraak op die beloning gemaak nie.
Nutteloos sou dit wees om die toestand van die ongelukkige ouers te probeer beskrywe. Honderd maal beter sou dit gewees het indien hulle vaste nuus van die dood van hul kind kon ontvang het.
Van weke loop die tyd naderhand in maande, en eindelik in jare sonder dat ooit spoor of tyding van Abe Davidson bekend word.
Voor sonsondergang onder die oë van sy speelmaats, in die onmiddellike nabyheid van 'n skaar van mense, voor die huis en kerk het hy weggeraak. Indien 'n vliegmasjien hom opgetel en na 'n ander wêrelddeel vervoer had, kon hy nie meer spoorloos verdwyn het nie.
En nadat hy twee of drie jaar weg was, begin die gewone stories in omloop kom. Uit Port Elizabeth kom 'n gerug dat 'n seun van dieselfde ouderdom en voorkoms as Abe Davidson in die strate gevind en deur 'n familie aangeneem is. Uit Middel-Kôsaland kom iemand wat by 'n stat 'n wit kind gesien het; 'n Boerefamilie in die Vrystaat het 'n siek kind van 'n transportwa ontvang en as hulle eie seun aangeneem. En so was daar nog tallose meer. Die ongelukkige ouers het jare lank al hul vermoë uitgegee in die ondersoek van stories en gerugte wat later vals blyk te wees. Selfs by die vader het alle hoop na sewe of agt jaar verdwyn. Daar word egter vertel dat die moeder altyd 'n gevoel had dat die geheim van haar verlore kind voor haar dood nog sou openbaar word.
Die laaste van al die stories omtrent Abe Davidson had 'n eienaardige oorsprong en loop gehad.
Tien jaar ná sy verdwyning was daar 'n reeks veediefstalle in die omgewing van Adelaide wat ongetwyfeld deur swartes gepleeg is, maar op so 'n slim wyse dat die diewe telkens met hul buit en al vrykom. Eindelik word 'n swart speurder in Adelaide geplaas en belas met die opspoor van diewe. Die eerste kraal waarby hy kom, was dié van ‘ou Wolf’, 'n ryk en algemeen bekende Kôsa.
Daar was die middag by ou Wolf bier; en toe almal taamlik dronk was, begin die speurder, om die ander uit te lok, vertel hoe hy hier en daar van witmense vee gesteel het. Hy wis dat die ander hom dadelik sou napraat en probeer oortref sodra hy begin spog. En dit was ook nie lank nie, of 'n ander van die bier- | |
| |
gaste begin grootpraat van sy misdade teen die witmense. Ou Wolf self was toe al taamlik beskonke en, ofskoon hy gewoonlik besonder diskreet was, begin ook hy 'n storie van sy eie misdadige manhaftigheid te vertel. Hy het nooit vee gesteel nie. Dit was benede sy waardigheid; maar eenmaal, tien jaar gelede, het hy sy wraak teen 'n witman deeglik gekoel. Die betrokke witman, vertel hy, was Sebastiaan Pringle, 'n ryk boer in die nabyheid van Adelaide. Pringle het 'n saak teen hom oor beeste gehad, en ou Wolf het dit verloor. Dit was 'n onregverdige ding, wat hom baie gekos het; en hy het 'n eed geneem dat hy op een of ander manier met ‘Bassie’ Pringle sou gelyk raak. Onverwags het hy die kans gekry. Een middag sien hy Pringle se seun met ander kinders wegkruipertjie speel. Hy was aan die kant van die bosse met 'n knopkierie in sy hand. Onderwyl hy hulle staan en bekyk, kom Pringle se seun reguit na hom toe (sonder om hom te gewaar) om weg te kruip. Hy wag tot die knapie binne die rand van die bos was, en slaan hom toe die kop stukkend met sy knopkierie.
Wat met die liggaam gedaan? Dit was toe sy moeilikheid. As hy dit daar laat, dan was daar gevaar dat die witmense sy spoor sou vat. Hy dra derhalwe die lyk van die kind diep die bos in, en daar probeer hy die nag om dit te verbrand. Maar skaars het hy die plan begin uitvoer of hy sien hier ook groot gevaar in. Hy sou 'n baie groot vuur nodig hê om die liggaam tot as te verbrand, en daar was 'n moontlikheid dat die witmense, wat toe al seker aan soek was, op die vuur sou afkom. En toe herinner hy hom 'n uitmuntende wegsteekplek. Bo in die berge van Magazana op die rand van 'n krans was 'n diep skeur dig met bome en bosse begroei. Hy neem weer die liggaam op sy skouer, en voor daglig die volgende môre het hy die bewys van sy misdaad in die skeur gegooi.
Die volgende dag rapporteer die speurder die stories wat hy by ou Wolf se kraal gehoor het aan die polisie van Adelaide. Meeste daarvan blyk niks as leuenagtige grootpraat te wees nie; dié van ou Wolf self ook, want Pringle het nooit 'n kind verloor nie. Maar toe herinner een van die polisie hom die storie van die wegraak van Abe Davidson tien jaar tevore. Nadat die polisie die saak goed ondersoek het, word drie mans die volgende dag uitgestuur om ou Wolf te arresteer en dorp toe te bring op 'n aanklag van moord.
Dadelik erken die ou man alles. Hy het Pringle se kind vermoor en hy sou hulle die klipskeur gaan wys waar hy die lyk ingegooi het. Die polisie gaan met hom die berg op, en bo-op 'n hoë krans wys hy hulle 'n skeur van twintig of dertig voet diep, toegegroei met bome en bosse. Dáár, verklaar hy, het hy die lyk van Pringle se kind met klere en al ingegooi.
'n Polisie-agent sak met behulp van 'n tou in die skeur af en na 'n lang gesoek kry hy daar 'n paar bene. Uitgebring, blyk die meeste wildsbene te wees, maar een daarvan lyk na 'n mensbeen. Die skeur word toe sorgvuldig skoongemaak, en al die dele van 'n menslike geraamte word een na die ander uitgehaal. Daarna is die stof gesif en die uitgesifte voorwerpe bymekaargemaak. Al wat tot her- | |
| |
kenning kon dien, was 'n stuk van 'n skoen en agt knopies. Toe dit aan haar getoon is, het mev. Davidson dadelik die knopies en stuk skoen as dié van haar kind, Abe, herken; en nadat ou Wolf die besonderhede van sy misdaad beskrywe het, het die laaste twyfel verdwyn.
Tien jaar tevore het hy op gruwelike wyse die seun van eerwaarde heer Davidson vermoor en die liggaam in 'n kransskeur gegooi, onder die verkeerde indruk dat dit die seun was van sy vyand Sebastiaan Pringle!
Ou Wolf is elf jaar ná sy misdaad tot die dood veroordeel in Grahamstad; maar, danksy die bemiddeling van die vermoorde kind se vader, is die straf tot lewenslange gevangenis verander.
Hier volg tans 'n geskiedenis wat tot vandag toe nog 'n verborgenheid is, en dermate meer onuitlegbaar, dewyl dit 'n gesonde volwasse jongman betref wat in daardie wêrelddele gebore is en grootgeword het waarin hy later verdwyn het. Hy het die veld net so goed geken as die leser die kamers van sy woonhuis.
Die familie Venter het jare lank op die plaas van die heer Forssman naby Nylstroom gewoon, om later na Rietfontein no. 3 te trek, en van daar na Pietpotgietersrust, waar hulle vandag nog woonagtig is. Die familie het destyds uit vader, moeder, vier seuns en een dogter bestaan. Die ouers is in Waterberg getroud, en al die kinders is daar gebore en het daar grootgeword. In die winter van 1904 het hulle op die hange van die Middelgebergte van Waterberg gestaan, op grond waar hulle elke jaar van voor die oorlog af na toe getrek het.
Ofskoon taamlik bosagtig, is die veld hier gelyk, sonder groot gebergtes of riviere. Die enigste water naby die staanplek is 'n klein spruitjie, wat in die winter meestal in vlak kuile staan; en die enigste ‘berg’ is 'n kliprantjie met 'n kloof in die nabyheid van die staanplek, aan die bo-ent waarvan daar 'n sogenaamde ‘tiergat’ in die rots is. Die staanplek self was op 'n groot kaalte met bosse omring.
Dit was nou die natuurlike omgewing van die volgende gebeurtenis:
Die familie was ongeveer drie maande in die winterveld toe hulle een middag almal by die kamp vergader was. Onderwyl hulle sit en gesels, merk die oudste seun, Herman Venter, 'n jongman van ses-en-twintig, dat die beeste deur die kaalte aan wei was in die rigting van 'n bekende kol gif. Hy staan op, vat sy geweer en 'n karwats en gee aan die ander te kenne dat hy die beeste gaan terugkeer na veilige veld.
Alles wat daarna gebeur het, tot op 'n sekere tydstip, was binne die gesig van al die ander familielede. Hulle sien Herman die beeste voorkeer en terugja na die rand van die bos wat die verste van die gif af is, en toe die laaste bees in die bosse verdwyn, sien hulle hom agternaloop, met die geweer oor sy skouer.
En dit was die laaste maal dat enige menslike oog Herman Venter of sy geweer of iets van hom gesien het.
| |
| |
Toe hy nie terugkom nie, en die middagete gereed was, word na hom geroep, met die sweep geklap en eindelik geskiet - maar daar kom geen antwoord nie. Dié middag gaan die vader soek. Sy spoor kon maar net vir 'n klein afstandjie gesien word; 'n paar honderd tree binne die rand van die bosse verdwyn dit in beesspore; en ofskoon later in sirkels deur vername jagters gesoek is, is sy spoor nooit weer gekry nie. Die veld is hier sandagtig, waarin spore weke lank in die winter sigbaar bly, en so duidelik dat 'n kind hulle gewoonlik kan volg - 'n feit wat die geheimsinnigheid van die voorval nog groter maak.
Verskeie jagters wat deelgeneem het aan die soektog, was van een ding vas oortuig: dat Herman Venter nooit verder as vyfhonderd tree van die kamp geloop het nie; binne 'n kring van vyfhonderd tree was daar geen ander spoor van mens of rytuig wat hom of sy liggaam kon vervoer het nie.
Die eerste verdenking was dat hy ter wille van sy geweer deur swartes vermoor is. Maar afgesien van alle spore wat op so iets sou dui, is daar nog die feit dat daar gaan swartes in die nabyheid woon nie. Vér verwyder was daar enkele krale ‘mak’ naturelle, wat almal later noukeurig deur die polisie deursoek is. En selfs toegegee dat dit miskien moord was, bly daar altyd die raaisel van wat met sy liggaam gedaan is. In die hele omtrek was daar geen plek waar iets van die grootte van 'n menslike liggaam kon weggesteek word nie. Elke erdvarkgat is natuurlik noukeurig ondersoek.
Een moontlikheid was daar nog: dat Herman in die kloof op 'n tier afgekom het en dat hy deur die tier gevang en in die gat gesleep is. Op sigself was dit egter hoogs onwaarskynlik. In die eerste plek sal 'n ongekweste tier nooit 'n grootmens aanval nie - en Herman het seker die middag geen skoot in die omtrek van die kamp geskiet nie. En dan is daar ook die kwessie van die geweer. Dit sou 'n ondier tog nie ook so weggesleep het nie.
Later is elke twyfel omtrent die ‘tiergat’ opgehef. Dit is geduldig deurgegaan en ondersoek sonder dat daar iets gekry is wat kon strek om lig op die duistere geheim te werp.
Lank daarna het in hierdie geval ook die gewone stories die familie weer uit alle oorde bereik. Meestal was dit verklarings dat die geweer van Herman Venter, of net so een, in verskillende dele van Waterberg in die besit van swartes gesien is - selfs ook in Matabeleland! Jare daarna is elke gerug nog deur die polisie ondersoek, maar geen enkele daarvan het ooit tot 'n opklaring gelei nie.
Skrywer hiervan het 'n hoog gerespekteerde ou Waterbergse Voortrekker geken wat gedurende sy lang lewe in Waterberg vyf of ses gevalle van presies dieselfde aard ondervind het. Hy was vas oortuig dat een en dieselfde oorsaak vir al die gevalle bestaan het. Wat dié oorsaak was, wis hy egter nie. Maar hy dag dat dit iets was wat sover aan die mens onbekend was. My indruk was dat hy so iets as 'n onbekende dier in sy gedagte had.
Daar is baie stories in Waterberg in omloop van wonderlike diere wat nou en
| |
| |
dan deur jagters gesien is. Selfs onlangs nog het 'n jagter so 'n dier aan die Limpopo gesien en daarop gevuur. My geloof is dat die diere ongetwyfeld van dieselfde soort is as die geologiese monsters van Midde-Afrika wat die Amerikaners aan soek is! Dit hoef egter nie juis die skepping van blote leuenagtigheid te wees nie. Die veld neem baiemaal die rol van 'n humoristiese kunstenaar aan wat daarop uit is om die mens te mislei en die spot met hom te dryf. Wie is daar wat enige tyd in die Bosveld gewoon het en nooit onnatuurlike gedaantes gesien het - vernaamlik by tye wanneer iets skrikwekkends verwag word - wat by nader ondersoek geblyk het 'n samestelling te wees van 'n bos, 'n droë stomp, 'n diep kol skaduwee en 'n streep sonlig nie?
Maar sulke diere kan nie 'n mens wegdra en verslind, of 'n geweer insluk nie!
Sewentien jaar lank bewaar die veld al die geheim van Herman Venter.
Dit het gebeur dat mense op plekke verdwyn het waar meer as een waarskynlike uitleg voor die hand lê. Wanneer dit byvoorbeeld geskied het in groot kransgebergtes of in die nabyheid van riviere, dan kan 'n mens verstaan hoe 'n lyk so kan wegraak dat dit nie weer gekry word nie. Maar in bostaande geval was daar niks van dié aard nie. As die liggaam êrens in die rondte was, dan moes die soekers dit gekry het.
Hier is 'n tragiese geval wat die ‘sirkellopery’ van verdwaalde mense aantoon:
Die heer Charles Marais was voor ons Tweede Vryheidsoorlog 'n bekende landmeter in Pretoria. Hy is nou vennoot van die landmetersfirma Marais en De Villiers van Kaapstad. Die meeste van die plase aan die Krokodilrivier is deur hom opgemeet en gekarteer. Sy werk in die onbewoonde noorde het hom soms genoodsaak om ses maande agtereen in die veld te bly sonder om die beskawing ooit te besoek. Hy had 'n gerieflik ingerigte langtentwa en die gewone kamptoerusting vir sy werk en verblyf in die woestyn.
Op 'n reis na Noord-Waterberg wat verskeie maande geduur het, had hy by hom 'n jong assistent-landmeter, ene Barry. Altwee was behalwe landmeters ook groot liefhebbers van jag, en het op die reis alles saamgeneem wat op so 'n jagtog nodig is, soos geweers, honde, skietperde, ens.
Hulle het hul landmeterswerk aan Krokodilrivier sonder enige noemenswaardige voorval verrig, en was op die terugreis na Pretoria toe die eerste ongeluk die geselskap oorkom.
Hulle had vier swartes by hulle in diens. Die reis het oor 'n deel van die Springbokvlakte gegaan, wat toe nog 'n heeltemal onbewoonde streek was. Een middag, êrens tussen Buyskop en Potgietersrust, was hulle op die vlakte uitgespan toe een van hulle 'n duiker 'n paar honderd tree van die wa sien loop. Hulle vat altwee hul geweers en stap saam in die rigting waar die bok gesien is. Charlie Marais het sy haelgeweer geneem en die patroonbande wat daarby behoort, terwyl Barry 'n koeëlgeweer met die patrone vat. Nadat hulle 'n tyd ge- | |
| |
loop het sonder om die bok weer te sien, besluit Marais om terug te gaan; maar Barry wou dit nog nie opgee nie. Hy maak die voorstel dat Marais die koeëlgeweer na die wa toe sou terugneem en hom die haelgeweer gee. Hulle doen dit, sonder om egter hul patroonbande ook om te ruil, met die gevolg dat Barry verder stap met 'n haelgeweer en twee patrone in die lope, en 'n band vol Mauserpatrone om sy skouers.
Dit was asof die noodlot reeds besluit het om die ongelukkige geen kans te gun nie.
Marais kom by die wa terug - dit was maar 'n paar honderd tree van waar hulle van mekaar geskei het; en Barry stap voort om die duiker te soek.
Dié aand toe die son begin ondergaan, merk Marais op dat hy nog geen skoot van Barry gehoor het nie, en dat hy nog nie terug was nie. Hy skiet 'n paar skote, maar kry geen antwoord nie. Die hele nag bly Barry uit. Groot vure word gemaak en aanhoudend geklap en geskiet, sonder gevolg.
Die volgende dag begin die soektog. Ongelukkig het dit oornag gereën sodat daar geen kans was om die spoor naby die kamp te sny nie.
Twee dae hou die soektog aan sonder dat Marais of sy volk die spoor kon kry; en toe besluit hy om die hulp van al die mense van 'n klein inboorlingstatjie in die nabyheid in te roep.
Die vyfde dag nadat Barry weg was, sny die naturelle vir die eerste maal sy spoor vyf uur te perd van die kamp af; en teen die aand van die volgende dag, nadat hulle die spoor twee dae lank gevolg het so vinnig as die perde kon volhou, kry hulle Barry onder 'n bos, in halfbewustelose toestand! Die geweer en nuttelose patroonband had hy nog; maar die twee skote wat op die haelgeweer was, was altwee afgevuur, waarskynlik as seinskote die eerste dag van sy verdwaling.
Barry is so spoedig moontlik na Pretoria na die hospitaal gebring, waar al die moontlike gedaan is om sy lewe te red - maar tevergeefs. Die vreeslike en onweerstaanbare senuskok wat verdwaling altyd teweegbring, gepaard met die gevolge van dors, honger en vermoeienis, was meer as wat selfs sy sterk en gesonde stelsel kon verdra.
Drie dae ná sy aankoms in Pretoria is hy in die hospitaal oorlede.
Twee feite staan uit as merkwaardig in hierdie voorval. Die eerste is dat 'n man met die ondervinding van Barry kon verdwaal in so 'n bekende veld en so naby digbewoonde streke; en 'n tweede merkwaardige feit is dat die ongelukkige drie keer in altyd uitgestrekter, wyerwordende kringe rondom die kamp geloop het, soos die leser kan aflei uit die feit dat die nouste kring vyf uur te perd van die wa af was.
In Venter se geval hierbo beskrywe is die grootste geheimsinnigheid - aangeneem dat hy dood is - die wegraak van die liggaam in veld waar geen wegsteekplek bestaan nie.
| |
| |
Hier is nog 'n geval uit Waterberg waar die veld ná 'n lang tyd die geheim onverwags openbaar het.
'n Jongman, ene Van Zyl, pas getroud, het met sy jong vroutjie agt jaar gelede 'n plaas bewoon in die nabyheid van die Hangklipgebergte, op die hoek waar die groot ketting noordwaarts draai. Dit is die hoogste berge in Waterberg, en in elke opsig die jongste - d.w.s. geologies. Die rotsformasie is van 'n geaardheid wat die afstort van yslike stukke moontlik maak, sodat elke punt mettertyd 'n krans word, met uitstaande elmboë en reusagtige skeure. Van Bastersnek af suidwaarts was die bergketting altyd vol wild, en buitendien berug vir die feit dat daar geen deel in Waterberg is waar die dodelike loodslang (vaal makoppa of mamba) meer dikwels aangetref word en gevaarliker is nie.
Soos van al die bure, was die groot Hangkliphoek net suid van Bastersnek ook Van Zyl se jagveld. Dit was sy gewoonte om elke Saterdagoggend in die berg deur te bring, en dit was selde dat hy nie voor twaalfuur met 'n ribbok of 'n paar klipbokkies terug was nie.
Een Saterdagoggend vroeg groet hy sy vrou, met die belofte dat hy met 'n klipbokkie sou tevrede wees en derhalwe voor elfuur sou terug wees; en so stap hy voort, sonder selfs sy waterkan oor sy skouer te slinger.
Sy het hom nooit weer gesien nie.
Toe hy die volgende dag nog nie opdaag nie, is die hele wyk kennis gegee, en soos dit altyd by 'n verdwalery gaan, was daar geen man wat nie aan die soektog deelgeneem het nie. Die berg is met die grootste noukeurigheid gereeld opgeneem deur mense wat elke duim van die veld ken, sonder dat hulle egter 'n spoor of teken van die jongman kry. Eindelik, ná weke se soek, is dit as hopeloos opgegee. Algemeen is aangeneem dat Van Zyl van 'n krans afgeval en op 'n lys te lande gekom het waar sy liggaam onsigbaar lê. Hy is deur sy jong vrou as dood betreur.
Agt maande ná sy verdwyning kom 'n jagter in die berg op 'n mensegeraamte af. Dit lê onder 'n bos op 'n taamlike oop plek; en die enigste rede dat die soekers dit nooit gekry het nie, is dat hulle die liggaam nooit op 'n oop plek verwag het nie, en altyd net op die moeilikste en mees waarskynlike plekke, soos kranse, skeure en klowe, gesoek het.
Dit was sonder twyfel Van Zyl se geraamte, dadelik aan die klere herkenbaar, wat nog taamlik heel was. Langs hom lê sy geweer.
Die klere moes van die bene weggesny word in die poging om die oorsaak van sy dood te ontdek.
Twee omstandighede het die sleutel verskaf tot die treurspel wat daar in die eensaamheid plaasgevind het. In die gras langs die liggaam lê 'n potloodjie wat aan 'n sakboekie van die oorledene behoort het, en tussen die bene van die een hand, 'n stukkie vergane papier. Die oorledene het 'n poging gemaak om 'n boodskap te skrywe, of het miskien ook so 'n boodskap geskrywe wat lank
| |
| |
reeds onleesbaar geword het - waarskynlik 'n boodskap aan sy jong vrou om haar die oorsaak van sy dood mee te deel.
Om een been van die geraamte, net bokant die knie, was 'n doek gebind en met 'n stok styf gewoel.
As hy nog kon gepraat het, sou die oorledene nie duideliker die gevreesde woord ‘makoppa’ aan die teenwoordiges kon gefluister het nie! Enigeen wat 'n begrip het van die lyding wat altyd in gevalle van makoppa-byt die dood voorafgaan, sal ook die siddering begryp wat die woordelose boodskap by die teenwoordiges veroorsaak het. |
|