druis van die waterval was onhoorbaar deur die gefluit. Dit het gelyk of al die voëls van die hele wêreld op ons stoep vergader het. En toe ons uitgaan, was die gesig wat ons begroet, baie verbasender as die geluid.
Die hele veranda, tralies, vensterbanke, stoele, rusbanke, was eenvoudig volgepak met voëltjies. Op die vloer wemel dit van bont vere in al die kleure van die reënboog. Jy was bang om jou voet neer te sit dat jy op 'n voëltjie sou trap; hulle weier om vir jou pad te gee! Op 'n rusbank, in die middel van al die gewemel en geraas, sit oom Dirk, bedaard en kalm asof dit alles by hom van die gewoonste was. Sy hoed, sy skouers, sy skoot, tot sy velskoene, was vol voëltjies, in gedurige roering, vegtende om 'n sitplekkie. Op die rusbank om hom was 'n aantal skotteltjies en blikkies met allerhande saad en meelwurms wat hy self aanteel. In sy hand was 'n lang, dun stokkie waarmee hy gedurig bloedige vegpartye uitmekaar moes maak, want, jammer om te sê, sy lieflinge was allesbehalwe vredeliewend! Swerms vinke, rooibekkies, blousysies en allerhande saadeters was in bonte menigte besig op die vloer met hul ontbyt. Vir die insekte-eters word so nou en dan 'n paar wurmpies in die lug gegooi, en dié word gepak lank voor hulle die grond bereik. Buite die draadbespande tralies was 'n vergadering kwartels, patryse en fisante - almal veghane van die eerste water.
Nou, van al die wonders wat ons by Geelhoutgrag gesien het, kan ek nie vertel nie. Dit sou meer as een nommer van Die Boerevrou vul. Ek sal net probeer om een of twee dinge te beskryf wat die grootste indruk op my gemaak het.
Dit het minstens twee uur geduur voordat al die menigte versadig was. 'n Tyd lank het hulle nog in die son bly sit om hul toilet te maak, terwyl ons gasheer van die een klompie na die ander gaan en ons alles van hulle vertel. So nou en dan vat hy een in sy hand, met 'n strelende liefkosing, om ons een of ander pragkleur of eienaardigheid te wys. Nooit het ons gesien dat een van die voëltjies probeer om hom te ontvlug nie. Hy kon eenvoudig na een toe loop en stadig sy hand oor hom sluit. Dit het gelyk of die voëltjies selfs daarvan hou om vasgedruk te word.
Toe die son taamlik hoog was, begin een klomp na die ander weg te vlieg, sonder die minste belangstelling meer in die man wat hulle kort gelede met hul liefkosing oorrompel het! Net twee soorte het agtergebly, en van dié twee moet ek nog 'n bietjie breedvoeriger skryf.
Die eerste was die suikerbekkies. Oom Dirk het sy rotstuin beplant met al die blomme wat suikerbekkies aanlok. Toe ons daar was, in die middel van die winter, was al die aalwee in volle blommeprag - geel en koraalkleurig - en oor die rotse en blomme was 'n gedurige straal van kleure soos die suikerbekkies van blom tot blom trek. Ek het nooit geweet dat daar so baie soorte in Suid-Afrika is nie. Oom Dirk vertel ons dat sy alledaagse besoekers uit twaalf verskillende soorte bestaan - elkeen 'n vlieënde edelsteen in die songlans! Oor die dertig soorte plante het hy besonderlik vir hulle gekweek. Die vernaamste was