op die lyf te ja. Eenmaal in sy lewe het oom Hans met prokureurs, advokate en regters 'n potjie geloop wat hom van een ding vas en seker oortuig het: dié gespuis is 'n groot sameswering, net soos die Vrymesselaars. Hul enigste doel is om die ongelukkige boer uit te suig en te verniel. En die een wat voorgee om aan jou kant te wees, is net so gevaarlik as die een aan die ander kant!
Ek herinner my dat ek oom Hans eenmaal hoor raad gee het aan sy jong buurman Piet van Rensburg. Piet was bedreig met 'n saak oor die besitreg van 'n stukkie grond deur sy neef Andries van Heerden en het oom Hans om raad kom vra. Nadat die saak aan hom duidelik geword het, was dit sy uitspraak:
‘Pieter, jy het naby my grootgeword, Ek ken jou net soos ek een van my eie kinders ken. Jou oorlede vader was veertig jaar my buurman. Ek raai jou aan, Pieter, om die stukkie grond aan Andries te gee. Ek weet hy het geen reg daartoe nie; maar gee hom die stukkie grond voor hy jou in die hof sleep. Jy het baie meer grond as harsings en wilskrag om dit te bewerk; en jy weet self, Pieter, dat toe ons Liewen-Heer besig was om verstand aan die mensdom uit te deel, was nòg jy nòg Andries juis op die voorgestoelte. Dit is vir sulke onnosel skepsels soos julle dat die prokureurs altyd op die loer sit. Uit julle soort word hulle ryk. Gee die stukkie grond aan Andries. Jy kan dit hom met 'n buurmanshart gun. Dié arme drommel het 'n swaar genoeg straf ontvang toe hy sy lelike vrou getrou het.’
Daarom was in oom Hans se woordelys die ‘skoon’ mieliesaaiers ‘Prokureurs’, die ander grondbewerkers ‘Twakboere’, en alleen die veeboere was ‘Mense’ of ‘Boere’.
By ons op Nooitgedacht word die mielies, soos alles anders, op 'n bepaalde datum in die grond gesteek - datums so onveranderlik as die wette van die Mede en Perse. Min mielies het ons gesaai, maar ons was trots in een opsig op ons mielies. (Jy kon daarop trots wees solank jy dit nie as ernstige boerdery beskou nie.)
Ons was trots en het ons nou en dan veroorloof om 'n bietjie te spog oor die broodmielies van Nooitgedacht. Dit was saad wat oom Hans en tant Sannie, toe hulle kort ná hul troue van Magaliesberg hierheen getrek het, saamgebring het - vyftig jaar gelede! En hulle het die soort so suiwer bewaar dat daar nog geen teken van verbastering was nie. Nêrens in die Unie (miskien nie in die wêreld nie) kon jy nou suiwerder Afrikaanse broodmielies kry nie - so het die landboudeskundige ons vertel.
Een besondere akker, eerste links van die dam, was altyd net vir die broodmielies gebruik. Meer aandag en sorg word aan die bereiding van dié stukkie grond bestee as aan enige ander stuk land op Nooitgedacht.
Op die oggend van elke tiende Januarie sit tant Sannie 'n wit linnesak op die stoep. Dit is die broodmieliesaad, sorgvuldig van die vorige oes uitgesoek en