die nag se gewaad - ligter te word, en daar was geen hoekie of heining wat oom Hans se oog nie deursoek nie.
Hy en tant Sannie het self Nooitgedacht aangelê. Elke muur is deur sy hande gebou, elke boom deur hulle saam geplant.
Die huis is hoog teen die rant gebou; onder voor die huis was die boord en lande; links 'n groot piesangbos; dan die lemoenboord met Voortrekkerbome van veertig voet, en dan die vrugteboord: vyelaning, perske, appelkoos, pere - alles baie deurmekaar en uit 'n landboukundige oogpunt baie verkeerd. Nou en dan het 'n japsnoet (in Amerika geleer) die vermetelheid gehad om oom Groot Hans dit te vertel. Maar die geskiedenis meld nie dat een van hulle ooit die moed had om vir 'n tweede maal sy geleerdheid ten koste van Nooitgedacht te lug nie - bepaald nie in die ou Voortrekker se teenwoordigheid nie.
Net voor sonop moes die beeste verbykom. Die kraal was links van die huis; en waar ook die weiveld vir die dag sou wees, moes hulle eers tussen die stoep en die groot maroela verbytrek. En dit sou die dag 'n wonder vir die hele Nooitgedacht wees as een makeer, of siek is of kreupel loop, uit die trop van vierhonderd - en oom Hans dit nie raaksien nie.
Net soos hy Nooitgedacht liefhad, so had hy sy vee lief. Om 'n mooi Afrikanerbees te sien, het hom dieselfde, miskien 'n dieper, genot gegee as wat stadsmense uit 'n skildery of bouwerk skep.
‘'n Mooi perd, 'n mooi Afrikanerbees en 'n mooi vroumens,’ was 'n gewone gesegde by hom.
Ná die beeste verby was, verskyn die beeswagters by die trappies.
‘Môre, Ouseur; môre Ouseur; môre Ouseur,’ een ná die ander.
By oom Hans was dit etiket om elke groet afsonderlik te erken.
‘Môre, Jefta; môre, Klaas; môre, Windvoël.’
En dan word daar kajuitraad gehou oor die weiveld vir die dag - klaarblyklik 'n gewigtige saak wat nie sommerso van die hand kon geskuif word nie.
Kort daarna verskyn tant Sannie in die voordeur - net toe die son opgaan.
‘Kom eet, ou man,’ en dan van die hoekie van die stoep roep sy kraal toe om die melkdraers aan te jaag en almal tafel toe te roep.
Klein Hans - 'n aangenome kleinkind - en sy maat Piet Boesman, sou 'n onsalige tyd neem om die melkemmers van die kraal na die kombuis te dra as dit nie vir Ouma se klinkende stem was nie.
En daarna begin die volle lewe op Nooitgedacht.
Vir oom Hans was die oggendure die belangrikste van die dag. Hy was te oud en swaarlywig om aktief aan die werk op die plaas deel te neem. Later sou hy miskien 'n paar uur in die smidswinkel deurbring, want as 'n lastige band moes gesweis word, dan moes die seuns altyd die oubaas se hulp inroep. Op sy fleur was hy 'n beroemde ysterwerker, sal hy hom nou en dan self veroorloof om te spog, en nie sonder grond nie.