Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 382]
| |
6 Skaduwee van 'n Misdaad'n Voëlvryverklaarde vir byna 'n halfeeu was Hermanus Lombaard, 'n merkwaardige persoonlikheid uit die troebele Suid-Afrikaanse geskiedenis van 'n vyftig jaar gelede. Die dade waarin hy so prominent opgetree het, is deur latere en meer momentele gebeurtenisse oorskadu. Sy naam is vergeet. In sy eie distrikte, egter, beide in Transvaal en in die Vrystaat, is hy 'n welbekende, en die noem van sy naam word altyd gepaar met die verskriklike gebeurtenis wat soos 'n skaduwee 'n halfeeu lank oor sy lewe gehang het. Toe ná vele teleurstellings, ek daarin geslaag het om 'n kennismaking met hierdie voëlvryverklaarde in Heidelberg te bewerkstellig, het hy vingeralleen van die Vrystaat gery - 'n afstand van oor die vyftig myl. Binne in die kap van sy kar was sy geweer en verskeie swaar kieries vasgemaak. Gedurig swerf hy met hierdie wapens rond. Dit was toevallig sy negentigste verjaardag. In die loop van die gesprek het hy self die wens uitgespreek dat sy eie storie oor die donkere voorvalle wat so 'n magtige rol in sy lewe gespeel het, in 'n Engelse koerant gepubliseer moet word. Hier volg sy verklaring: ‘Ek is vandag negentig jaar oud. Binne 'n kort tyd, 'n baie korte, sal ek verskyn voor die Groot Krygsraad, waar valse verklarings geen mens sal baat nie. Watter nagedagtenis ek van myself nalaat, maak nie veel saak nie; maar ek het oor die saak nagedink, en dit is miskien maar die beste om 'n ware toedrag te gee van alles wat ek weet en gesien het voor ek sterf. Die saak waarvan ek wil vertel, het voorgeval gedurende die Engelse Oorlog van 1880. Ek was op verlof van my kommando op my plaas Koppiesfontein, nou die eiendom van my kleinseun, aan die Transvaalse kant van die rivier. Een môre - dit was in Desember 1880 - het ek 'n kar en twee perde van die kant van die rivier sien aankom. Ek het eers gedink dat dit 'n Vrystaatse kar was wat by Liesdrif deurgekom het. Toe dit by my kom, vind ek dat daar twee Engelse in was - 'n lange (kaptein Lambert) en 'n kortere (kaptein Elliot). Die lange kon so 'n bietjie gebroke Afrikaans praat. Met hom alleen het ek gepraat. Die korter een het nooit met my gepraat nie. Die lang kêrel het my vertel dat hulle twee Engelse offisiere was van die regiment wat deur Frans Joubert op Bronkhorstspruit vernietig is. Hy het my 'n vrygeleide getoon van die Kommandant-generaal om na die Vrystaat deur te gaan oor die naaste drif. Hulle het my vertel dat die drif nie deurgaanbaar was nie, en het my gevra hoe die pad na Standerton gaan. Ek het hulle met die uitspan gehelp en hule kos gegee. Ek het opgemerk dat daar heelwat stukkende plekke aan hul kar was en het dit reggemaak solank hulle geëet het. Ek het hulle toe, so goed ek kon, die pad na Standerton beduie. Ek het op daardie tydstip nie die voorwaardes van hul parool geweet nie. Hulle het in die rigting van Standerton vertrek. | |
[pagina 383]
| |
Drie dae later het ek dieselfde kar van die kant van Heidelberg sien aankom. Dit was geëskorteer deur gewapende manne. Daar was sewe manne; twee van hulle was offisiere: kommandant Roelf Nieuwenhuizen en veldkornet Adriaan van Niekerk. Nieuwenhuizen het aan my gesê dat hierdie twee persone hul parool verbreek het. Hulle het geweier om die rivier te deurkruis en het na Transvaal teruggekeer. Hulle is gevang op die plaas van Gert “Engelsman”, dertig myl van Heidelberg. Hulle (die eskort) het bevele ontvang om die gevangenes te dwing om deur te gaan. As hulle weier, moes hulle as spioene doodgeskiet word. Hy het geen geskrewe bevele gehad nie. Ek het hom sy geskrewe instruksies gevra, en hy het my meegedeel dat Swart Jan Maré hom alleen woordelike bevele gegee het. Hy het my gekommandeer om saam met die eskort te gaan, daar ek die pad goed geken het, asook die drif. Ek kon sien dat die manne almal kwaad en opgewonde was, en ek was bang dat hulle die Engelse sou doodskiet en dan die lyke in erdvarkgate steek. Omtrent sononder het ons vertrek, en toe ons by die drif kom, was dit net aan die donker word. Daar was donker wolke en weerlig. Die rivier was kwaai, maar die drif was nog deurgaanbaar. Roelf Nieuwenhuizen sê toe aan die Engelse: “Daar is die drif, en julle moet dadelik deurgaan.” Die lange het gesoebat dat hulle moet wag tot die volgende môre, maar Nieuwenhuizen het geweier. Die oomblik toe hulle in die water ingaan, het ek gesien dat hulle baie baar was in die hanteer van kar en perde. Ek sê toe aan kommandant Nieuwenhuizen: “Laat ek hulle deurneem. Ek kan terugswem deur die seekoegat. Ek het dit baiemaal gedoen.” Nieuwenhuizen het geweier. Hy sê dat ons geen reg het om deur te gaan na die Vrystaat toe nie. Dit sou net moeilikheid veroorsaak. Ek was jammer vir die Engelse en het gehoop dat hulle teen enige prys oorkant sou kom, want ek het gevrees vir hul lewens as dit nie sou gebeur nie. Nadat hulle 'n paar tree gegaan het, het die perde vasgesteek. Die twee mans het omgekyk, en ek het na die kant van die water gehardloop en hulle met my geweer gedreig. Hulle het 'n paar tree verder gegaan, toe die perde weer vassteek. Die lang offisier (kaptein Lambert) skreeu toe aan die kommandant dat hulle gaan omdraai. Ek hoor toe dat Nieuwenhuizen bevel gee om te skiet. Ek meen dat dit sy plan was om die mense bang te maak. Ek sien toe dat die perde stroom-af draai, en die stroom neem die kar na die seekoegat. Ek het ook geskiet. Ek het my geweer in my regterhand gehou en die skoot sommer in die lug afgetrek sonder om die kolf aan my skouer te bring. Voordat die kar verdwyn het, het ek die lang Engelsman in die water sien duik. Hy was uitgeklee - alleen in sy onderklere. Ek het die korte nooit weer gesien nie. Ek het die wit onderhemp van die lange 'n lang tyd gesien toe hy deur die kabbelings swem. Die volgende dag het 'n klompie Vrystaatse burgers op die rivierwal van Frankfort aangekom op soek na die lyk van die een offisier. Hulle vind dit toe | |
[pagina 384]
| |
uitgespoel op 'n eiland. Ek het verneem dat hy gedood is deur 'n koeël in die rug. Ek het die lyk nie self gesien nie. Ek roep God tot getuie dat ek die Engelsman nie geskiet het nie; en ek het nooit na hulle geskiet nie; dat ek vir hulle jammer was en dat ek graag sou wou sien dat hulle deurkom. Later, ná die vrede, het ek gehoor dat ons, lede van die eskort, verhoor sou word deur 'n Engelse krygsraad. Ek het my geweer gevat en gesê: “nee, ek sal nie deur die Engelse verhoor word nie.” As hulle my sou verseker dat ek verhoor sou word deur 'n krygsraad van my eie mense, sou ek oorgee, maar andersins nie. Ek het verneem dat Nieuwenhuizen en die ander verhoor sou word. Ek het die land verlaat. Ek het na Mafeking vertrek en het 'n grootwildjagter in daardie dele geword. Dit was in Betsjoeanaland dat ek die tyding gekry het dat Nieuwenhuizen en die ander verhoor en vrygespreek is. Toe wis ek dat dit klaarpraat met my sou wees as hulle my ooit in die hande sou kry. Ek sou die sondebok gemaak word. Maar ek het 'n kontrak met myself gemaak: as ek dan oor hierdie saak moes sterf, sou ek met die geweer in my hand sterf soos my vader voor my. Ná 'n tyd het ek teruggekom na my plaas en familie. My naam het 'n spreekwoord onder die mense geword. Maar almal het geweet dat ek nie lewend sou gevang word nie en hulle het my met rus gelaat. Die eerste nag, met my aankoms, het ek 'n kamer in die hotel op Frankfort gehuur. Ek het gehoor dat die eienaar aan 'n Engelsman in die kroeg sê dat ek Hermanus Lombaard is wat 'n Engelse offisier vermoor het. Ek het daardie nag nie geslaap nie. Ek het by die deur wag gehou. Dit was die enigste nag dat ek ooit ongewapen na bed gegaan het. Maar in daardie dae was ek 'n sterk man. Ek was op die Hoëveld bekend vir my krag. Ek sou hulle met my blote hande doodgemaak het as hulle gewaag het om my daardie aand te vang. Die volgende dag het ek 'n klein rewolwertjie gekoop en het nooit weer sonder my geweer gereis nie. Ek het geleer om baie min gedurende die nag en te eniger tyd gedurende die dag te slaap. Ek het geslaap soos 'n voëltjie op 'n tak. Ek het nooit lank op dieselfde plek gebly nie, en hierdie dinge het die gewoonte van my alledaagse lewe geword. Baie van ons offisiere en godsdienstige mense het my kom sien en probeer bewys dat dit my plig was om my oor te gee en my desnoods te laat teregstel. Hulle het my net vererg. Aan hulle almal het ek gesê: “Nee, ek sal my nie soos 'n skaap ter slagting laat lei nie. As ek oor hierdie saak moet sterf, sal ek met my geweer in my hande sterf soos my vader voor my, en soos dit 'n krygsman betaam.” Sien u, my moeder was in die opstand toe Fabre deur die Engelse doodgeskiet en sy vrou gewond is. Sy het my die storie baiemaal vertel, en Fabre en sy vrou en Bezuidenhout aan my voorgehou as voorbeelde van wat 'n dapper krygsman moet wees. Lewend sal hulle my nie kry nie - dis al.’ Hy was een van die eskort wat beskuldig gestaan het van deelname aan die moord op kaptein Elliot en van poging tot moord op kaptein Lambert, beide | |
[pagina 385]
| |
van die 94ste Regiment, teen die end van Desember 1880. Gedurende die vredesonderhandelinge by Laingsnek aan die einde van die Eerste Vryheidsoorlog is 'n spesiale uitsondering op die algemene amnestie deur die Britse Generaal, sir Evelyn Wood, voorgehou: dat die lede van die eskort aan die Republikeinse Regering moet oorhandig word om verhoor te word deur die Hoë Hof in Pretoria. Dit is gedoen. Kommandant Gert Nieuwenhuizen, veldkornet Adriaan van Niekerk en vyf lede van die eskort het hul verhoor deurstaan en is onskuldig bevind.
Hermanus Lombaard, die agtste man van die eskort, het geweier om homself oor te gee. Hy het 'n voorwaarde gemaak dat hy sal oorgee as hy 'n geskrewe belofte ontvang van die Driemanskap dat hy verhoor sal word deur 'n krygsraad van sy eie mense; hy het geweier om deur ‘die Engelse Hof’ verhoor te word.1 Hierdie voorwaarde kon nie deur die Regering aanvaar word nie, en Lombaard het verdwyn. Hy het na Betsjoeanaland en die Kalahari-woestyn gegaan, waar hy bekend geraak het as 'n grootwildjagter en 'n fortuinsoldaat tussen die oorlogvoerende Boere en swartes van daardie tyd en geweste. Ná baie jare het heimwee hom teruggedryf na sy familie en plase aan Vaalrivier. Ook hier het hy die lewe van 'n voëlvryverklaarde volgehou. Nooit het hy ongewapend gegaan nie en nooit het hy op een plek langer as 'n paar dae gebly nie. Die meeste mense was doodbang vir hom. Dit was bekend dat hy 'n eed afgelê het dat hy nooit lewend gevang sou word nie. Ten laaste het hy sy besittings onder sy kinders verdeel. Die gewoontes van 'n halwe leeftyd het so ingewortel geword dat hy selfs vandag nog dieselfde ongelooflike bestaan voer. Hy sê van homself, sprekende oor sy terugkoms na die huis: ‘Ek het vir myself 'n gruwel geword, en ook vir ander. My naam het 'n spreekwoord onder die mense geword.’ Daar bestaan min twyfel dat sy eie gedrag die meeste bygedra het om aan hom die verdenking van die skuld van die misdaad te knoop, en ook om die vergelding van die res van die eskort wat hul verhoor deurstaan het, te versterk. Dit was maklik om verdenking te werp op 'n desperate wat vir die regbank vlug. Die kommandant se verdediging was dat sy bevel om te skiet net was om die perde aan te spoor om deur te gaan; hy het sy mense gesê om te skiet, nie na nie, maar langs hulle, en om versigtig te wees. As hulle lus gehad het om te dood, dan sou nie een van die offisiere ontsnap het nie, want hulle was skaars vyftien tree van hulle af. Die verklaring aangaande die afstand is deur kaptein Lambert bevestig. Dit was seker dat, as al die manne van die eskort deur die tent van die kar geskiet het, nie een van die twee vry sou gekom het nie. Net so seker was dit dat kaptein Elliot net deur 'n enkele koeël getref was deur die rug, en dat, wie ook al die skoot afgevuur het, gemeen het om te dood, en in der waarheid 'n lae moord begaan het. | |
[pagina 386]
| |
Wie sal vandag beslis watter een van die eskort die dodelike skoot gevuur het? Die hof het ongetwyfeld aangeneem dat die man wat uit die lang gevlug en geweier het om verhoor te word, die skuldige was. Hermanus Lombaard is uit die algemene amnestie van 1881 gesluit, en is nog nooit deur enige bevoegde hof verhoor nie.
Die moord op kaptein Elliot het die Engelssprekende wêreld met afsku en verontwaardiging vervul. Onder die Afrikaners het dit konsternasie gewek. Dit het die saak van diegene wat gekant was teen die teruggawe, versterk en het proporsioneel die hande van dié wat gewerk het in die belange van die opstandige Boere, verlam. Van hierdie gesigspunt beskou, kan daar min twyfel bestaan dat die onmiddellike gevolg van die moord verlenging van die stryd was. In geen geringe mate was die ongelukkige voorval verantwoordelik vir die voortsetting van die kryg in die berge en die bloedvergieting wat daarop gevolg het nie. En die bitterheid wat daardeur ontstaan het, is vererger deur die gebeurtenisse wat die moord onmiddellik voorafgegaan het. Dit was die slag by Bronkhorstspruit, waar die Britse oormag onder bevel van kol. Anstruther aan die klein Boerekommando'tjie onder kommandant Frans Joubert moes oorgee. Daar was ná die slag net twee ongewonde Engelse offisiere: kapteins Lambert en Elliot; en hierdie twee is as krygsgevangenes na die Boerekamp vervoer. Hier is twee keuse voor hulle geplaas: hulle moes òf as krygsgevangenes bly tot aan die end van die oorlog òf hul parool sou onder die volgende voorwaardes deur die Boerebevelvoerders aangeneem word: (1) Hulle moes die land onder geleide langs die kortste weg verlaat; (2) hulle moes die land nie weer binnekom solank vyandelikhede aan die gang was nie; en (3) hulle moes nooit weer die wapens opneem teen die krygsmagte van die Republiek nie. Die twee offisiere het laasgenoemde keuse aanvaar; of hulle dit gedoen het ná beraadslaging met hul gewonde hoër offisiere in Pretoria, is nie bekend nie. 'n Mens moet aanneem dat hulle dit gedoen het op aandrang, want 'n ondergeskikte offisier kon nouliks op eie verantwoordelikheid sulke vernederende voorwaardes aangeneem het. Dit was hier waar die lewensloop van die twee Engelse offisiere en van Hermanus Lombaard mekaar genader het.
Liesdrif was vir meer as 'n halfeeu die vernaamste deurgang van die wapad tussen Frankfort en Heidelberg. Omtrent twintig jaar gelede is dit vir goed opgegee. Toe ek daar 'n veertien dae gelede was, was die rivier in volle vloed - 'n pragtige toneel. Dit vloei hier oor 'n breë, rotsagtige plaat wat natuurlik die keuse van hierdie plek as 'n drif bepaal het. By die drif, en vir 'n afstand na bo, is die rivier meer as 'n kwartmyl breed. Net onderkant die drif is daar 'n see- | |
[pagina 387]
| |
koegat met 'n pragtige, beboste eilandjie in die middel. Op die eiland konsentreer die krag van die water van beide oewers, sodat alle voorwerpe wat in die seekoegat te lande kom, die neiging het om vroeër of later op die eilandjie uitgespoel te word. Liesdrif het van oudsher 'n slegte naam gehad en het dit behou gedurende al die jare wat dit in gebruik was. 'n Ou inwoner wat die drif meer as sestig jaar lank geken het, het dit aan my vertel: ‘Die oumense het dit die bynaam van die Drif van Trane gegee. Nou ken selfs die kindertjies dit onder die naam van “die Ou Drif waar die Engelsman geskiet is”. Die treurspele wat hier voorgeval het en die slagoffers wat hier deur die groot rivier geëis is, is genoeg om 'n boekdeel te vul. Die vertellings van waens en karre wat oor die klipbank gespoel is, skyn sonder end te wees. Selfs die romantiese ontbreek nie in die verhale nie. Kort voor die einde van sy donkere geskiedenis het Liesdrif 'n aantal slagoffers gelyk geëis. Daar word deur die ou oewerbewoners vertel van 'n jong Vrystaatse bruid wat oorgekom het van oorkant om haar wagtende bruidegom duskant aan die Transvaalse sy te ontmoet. Die trouparty het die drif ingery in 'n veerwaentjie getrek deur ses perde en begelei met musiek en jolyt. Voor die gesig van die bruidegom en die vergaderde huweliksgaste is die voertuig met sy hele mensevrag deur die stroom oor die klipbank geslinger. Dié keer, egter, het die seekoegat sy dooies nooit weer uitgelewer nie.’ Oral in die geil gras lê die grafte, merendeels naamloos, van al die ongelukkiges wat die drif teruggegee het nadat hy met hulle klaar had. Op twee van hierdie grafte het mnr. Beytel, kleinseun van Hermanus Lombaard en eienaar van die grond, ons aandag gevestig. Die een is 'n ou Voortrekkergraf, diep ingeval. met die grafsteen skeef gedruk. Die onhandig uitgebeitelde opskrif is nog met moeite leesbaar - alles behalwe die naam. Dit lees as volg: ‘Hier rus in vrede W.J.W. - in die drif gedood deur 'n gewonde seekoei op 18 November 1837.’ 'n Klein entjie verder is die graf van 'n Engelse spioen wat deur 'n Boerespioen in 'n tweegeveg tromp-op doodgeskiet is. Hulle het mekaar onverwags aangesig tot aangesig ontmoet by 'n bultjie. Die Engelsman is begrawe waar hy geval het. Reeds lank voor die koms van die blankes het die drif sy slagoffers uit die trekkende swart impi's geëis. Ons is 'n plek aangewys waar daar twee groot versoeningshope opgerig is - versoening vir die geeste van die dooie krygsmanne wat die seekoegat oorrompel het. Maar meeste van die klippe is lankal gebuit om die rusplekke van meer moderne slagoffers van 'n ander ras aan te dui. Dit was hierdie ongeluksdrif wat die twee Britse offisiere gedwing is om in te gaan met die skemering van 'n stormagtige nag en met 'n snel stygende rivier.
Die enigste vroeër gepubliseerde verslag van die gebeurtenisse wat gelei het tot die dood van kaptein Elliot, is bevat in die offisiële verslag wat deur kaptein | |
[pagina 388]
| |
Lambert gestuur is op 5 Januarie 1881 aan sir George Pommeroy-Colley, opperbevelhebber van die Britse troepe in Suid-Afrika, wat kort daarna op Majuba gesneuwel het. Dit is die beknopte inhoud van kaptein Lambert se verhaal: Nadat hulle hul parool gegee het, is hulle van die Boerelaer deur Heidelberg geneem - die setel van die Driemanskap en hoofk wartier van die Republikeinse magte - en van daar in die rigting van die Vaal.
‘Ná ons ses of agt myl gegaan het,’ skryf kaptein Lambert, ‘het ek opgemerk dat ons in 'n verkeerde rigting gaan. Ek het die feit aan die eskort meegedeel, maar hulle het beweer dat dit reg is. Daar ek verkenningsoffisier in Transvaal was, het ek die distrik goed geken en was ek seker dat ons in die verkeerde rigting gaan, maar ons moes bevele gehoorsaam.’ Dit sal duidelik wees vir die leser wat die distrik ken, wanneer hy die verslag noukeurig lees, dat vanaf die tyd dat kaptein Lambert en sy mede-offisier Heidelberg verlaat het met die eskort, hy alle besef van lokaliteit en rigting verloor het. Terwyl hulle direk suid gaan na Liesdrif en toe hulle 'n paar myl van die Vaal was, het hy gemeen dat die eskort hulle na Pretoria neem, en dat die hoofstad slegs veertig myl ver was; en nog later was hy onder die indruk dat hy die Vaal stroomaf gaan (op soek na 'n drif of pont) toe hy werklik in die hart van die land ingaan, reguit terug na Heidelberg. Hy is op Molspruit, dertig myl van die dorp, gevang. Ook sal gesien word dat hierdie ongelukkige obsessie van kaptein Lambert dat hy voortdurend in die verkeerde rigting geneem is, geen klein aandeel bygedra het tot die wording van die treurspel nie. Die verslag hervat: Hulle is na 'n drif geneem, maar kaptein Lambert het gesê dat dit onpassabel was en dat hulle na 'n verkeerde drif gebring is. Die eskort het toe voorgestel dat die twee offisiere met behulp van 'n pont daar in die buurte moes oorgaan. Kaptein Lambert het geweier om dit te doen, want dan sou hy sy kar en perde moes agterlaat. (Dié veronderstelling was ook verkeerd - so beweer die ou oewerbewoners.) Hy het volgehou dat die eskort hulle na 'n verkeerde plek gebring het; en nadat hy om hul geskrewe instruksies gevra het (wat alleen in Hollands was), het hy hulle daarop gewys dat die naam van die drif nie in die dokument voorkom nie. Hier het die twee Engelse offisiere en die eskort van mekaar afskeid geneem. Laasgenoemde het na Heidelberg teruggegaan om verslag te doen, terwyl kapteins Lambert en Elliot besluit ‘om die stroom van die Vaal te volg’ ('n besliste onmoontlikheid in hierdie geweste), op soek na 'n drif. (Dit was op hierdie, hul eerste trek weg van die rivier, dat hulle met Hermanus Lombaard op Koppiesfontein kennis gemaak het, soos blyk uit sy verklaring.) Nadat hulle Koppiesfontein verlaat het, waar, volgens Lombaard, hulle die pad na Standerton gevra het, het hulle drie dae rondgedwaal en toe reguit na Transvaal teruggery. Hulle is op Molspruit, die plaas van mnr. C.G. Grobler, | |
[pagina 389]
| |
dertig myl van die dorp Heidelberg, gevang deur twee gewapende burgers wat hulle 'n brief, geteken deur die Sekretaris van die Republikeinse Regering, oorhandig het. Die brief was in Engels; en kaptein Lambert gee daarvan die volgende oorsig: Die Republikeinse Regering was verbaas om uit te vind dat hulle as ‘gentlemen’ en ‘offisiere’ hul parole d'honneur verbreek het deur te weier om die land te verlaat. Hulle moet sulks doen deur die naaste drif of hulle moet terugkeer en hulself oorgee as krygsgevangenes. Die Regering van die Republiek het gewalg van die gedagte dat hulle hul erewoord verbreek het, en was gewillig om te glo dat hul gedrag toe te skrywe was aan een of ander vergissing, die gevolg van hul onbekendheid met Hollands. Kaptein Lambert het versoek dat hy na die hoofkwartier geneem word om duidelik te maak dat daar geen opsetlike voorneme was om hul parool te breek nie. Dit is geweier. Die eskort het bevele gehad om hulle na die naaste drif te neem en om toe te sien dat hulle na die Vrystaat deurgaan. Hulle is daarop na 'n boerewoning geneem, waar hulle moes uitspan en wag op die koms van die kommandant. Hierdie ‘boerewoning’ was weer Koppiesfontein, waar hulle drie dae vantevore was, binne twee myl van die drif. Laat die middag het die kommandant aangekom, vergesel deur vier ander persone. Om sesuur die middag is die offisiere aangesê om hulle gereed te maak om na die drif te vertrek. Kaptein Elliot het kaptein Lambert se aandag daarop gevestig dat die eskort van twee tot agt man aangegroei het. Lambert het opgemerk: ‘Hulle is seker vasbeslote om ons nie te laat ontsnap nie, en daarvoor hoef hulle nie bang te wees nie, want ons is begeriger om oor die grens te kom as wat hulle kan wees.’ Op weg na die drif het Lambert aan Elliot gesê: ‘Hulle wil ons na Pretoria, veertig myl hiervandaan, neem.’ Toe hulle by die drif aankom, het Lambert by die kommandant beswaar gemaak dat dit laat word en dat hulle ten minste tot die volgende môre kon wag om die rivier deur te gaan. Dit is geweier. Hulle is tot by die rivier vervoer, en onderwyl hy met sy hand wys, sê die Kommandant: ‘Daar is die drif - gaan deur!’ Kaptein Lambert vervolg: ‘Ek het die perde die rivier ingedryf, waar hulle gou geval het. Ons het hulle opgetrek en weer vyf of ses tree aangegaan, toe ons in 'n gat val; het hulle met moeite uitgekry en een tree vorentoe gegaan, toe ons teen 'n klip bly steek. Die stroom was nou so sterk en die drif so diep dat my kar op sy sy gegooi is en die water oor die sitplek gespoel het. Ek het uitgeskreeu aan die kommandant dat ons bly staan - sou hy hulp stuur of kon ons omdraai? Sy antwoord was: “As julle dit doen, skiet ons!” Ons het probeer, maar het nie daarin geslaag om die perde te laat loop nie. Ek draai toe na kaptein Elliot, wat langs my sit, en sê: “Ons sal moet swem.” Op my vraag of hy kan swem, antwoord hy “ja”. Ek sê: “As jy nie kan swem nie, sal ek by jou bly, want ek kan.” Onderwyl ons hierdie gesprek voer, word 'n sarsie van die oewer, tien of vyf- | |
[pagina 390]
| |
tien tree daarvandaan, op ons afgevuur. Die koeëls is deur die tent van my kar. Een van die koeëls het arme Elliot dodelik getref. Hy het slegs die enkele woord “O!” geuit en het kop eerste van die kar in die water geval. Ek het onmiddellik agternagespring, maar is onder die stroom enige treë die rivier afgespoel. Toe ek weer bo kom, kon ek niks van Elliot sien nie. Ek het twee maal na hom geroep, maar het geen antwoord ontvang nie. Nog 'n sarsie is op my afgevuur, wat die water om my laat spat het. Ek het nou na die ander oewer geswem, wat ek met baie moeite ná omtrent tien minute bereik het. Ek het in diep, swart modder vasgesit. Eindelik het ek die bokant van die wal bereik en nog omtrent tweehonderd tree onder voortdurende geskiet gehardloop.’ Dit is kapt. Lambert se verhaal van die voorval. Dit mag goed wees om hier te wys op sake wat die Liesdrif-treurspel voorafgegaan het. Kolonel Anstruther, in bevel van 'n afdeling van die 94ste Regiment, wat Lydenburg beset het, het van die Engelse Regering bevel ontvang om na Pretoria op te trek om daar die bedreigde garnisoen te versterk. By Bronkhorstspruit is hulle deur 'n Boerekommando aangeval. Die geveg het twintig minute geduur, en toe is wit vlae oral opgesteek as teken van oorgawe.
‘Sterk Hermanus’, soos hy altyd genoem is, met verwysing na sy kragtige liggaamsbou, is baie blond, met 'n bloesende gelaatskleur, en ofskoon sy digte bos hare grys is, wys dit nog duidelik die skyn van die oorspronklike goudkleur. Hy dra dit nog op die ou wyse deur portrette van pres. Kruger alom bekendgestel, van die voorhoof af reguit na agter gekam en in die nek dan reguit afgesny. Beide sy hare en tande is merkwaardig gesond. Hy loop nou 'n weinig krom, maar in die fleur van sy jare was hy ses voet lank, met breë skouers en verbasend ontwikkelde spiere. Hy skep daar 'n kinderagtige behae in om verhale te vertel van sy liggaamlike krag. ‘Vanaf my sestiende jaar was ek op kommando, en ek het nooit my baas in stoei gekry nie. My veldkornet het gewoonlik die hele laer uitgedaag, maar niemand kon my ooit neersit nie.’ ‘Sterk Hermanus’ se krag is nou nog verbasend. Onderwyl hy praat, bied hy sy vinger aan vir die bekende Boeretoets van ‘vingertrek’. Die heer wat die ou man se uitdaging aangeneem het, was op sy manier nogal 'n atleet, maar hy was soos 'n kind teenoor daardie stale spiere. Sy geheue oor sake en dinge reeds in die gryse verlede bly helder en presies; met name en meer onlangse gebeurtenisse het hy baie moeilikheid. Hy praat langsaam en met 'n gedempte stem, maar dikwels is daar plotselinge opwellings van gloed wanneer sy klinkende tone die daarmee gepaardgaande faktore in sy karakter verraai. Die herinneringe aan sekere name en gebeurtenisse in sy geskiedenis het telkemale hierdie uitbarstinge veroorsaak. Die ou man dra sy hoë ouderdom besonder goed. Dit word afdoende bewys deur die omstandighede van sy lewe. Hy dwaal voortdurend heeltemal alleen | |
[pagina 391]
| |
rond in sy kar tussen Heidelberg en Frankfort, altyd met sy geweer langs hom en sy regterbaadjiesak vol los patrone. Hy deurkruis die rivier in alle vloedstadia, behalwe wanneer beslis onpassabel, wanneer hy van die pont by Villiers gebruik maak. Hy haal dikwels uit die Bybel aan, altyd met merkwaardige gepastheid en nooit dweperig nie. Die uitstaande kenmerke van sy karakter is eerstens ongelooflike hardkoppigheid, selfs in klein sakies; en ten tweede, die wonderbaarlike manier waarop gewoontes so ingewortel het dat hulle oënskynlik normale gedragsuitinge geword het. Een van hulle is ietwat skrikwekkend. Hy het die gewoonte om in die middel van 'n sin, soms van 'n woord, sy hoof op sy bors te laat sak en dan vir 'n paar sekondes vas aan die slaap te raak. Uit die kortstondige slapies skrik hy so geweldig wakker dat 'n stuipagtige ruk sy hele lyf deurtrek. Dan vervat hy kalmpies die afgebroke woord of sin asof niks gebeur het nie. Ek het dit aangesien vir 'n simptoom van naderende kindsheid, maar diegene wat met die ou man intiem bekend is, beweer dat dit 'n lewenslange gewoonte is, veroorsaak deur nagtelike waaksaamheid; dit skyn daarop te wys dat dit nie juis altyd nodig is om 'n moord te begaan om slaap te vermoor nie. Toe ek op sy negentigste verjaardag met die ou man kennis gemaak het, het ek hom twee vrae gestel. Die eerste was of die eskort aangehou skiet het op kaptein Lambert nadat hy in die water ingeduik het. Hy het dit ten stelligste ontken. Hy sê dat slegs een sarsie afgevuur is, en dat nie een skoot op Lambert geskiet is solank hy aan die swem was nie. Ek het 'n deel van kaptein Lambert se verklaring aan hom voorgelees. Hierop het hy beweer dat Lambert verkeerd was. Hy het gedurig in sterk kabbelings geswem en het waarskynlik die geraas van die water aangehoor vir koeëlslae. Die tweede vraag was of hy nie dink dat dit beter sou wees om hom nou oor te gee nie. ‘Jy praat soos 'n kind. Staan dit nie geskrywe nie: Oog om oog, ja, alles wat 'n man besit, sal hy gee vir sy lewe?’Ga naar eind1. |
|