| |
5 'n Klein Kerkops en Sy Werk
Dr. H.G. Breyer, Direkteur van die Transvaalse Museum, het kort gelede 'n aantal afmetinge en portrette geneem van 'n familie Waterbergse ‘Vaalpense’ wat uit volkkundige oogpunt - d.w.s. in verband met die stamverwantskap van rasse - uiters waardevol en belangrik sal wees as hy daarin slaag om die vraagstukke in verband met die Vaalpense op te los. Tot sover was die resultate nog nie baie bevredigend nie. Dr. Breyer vertel dat die Vaalpense wat hy ondersoek het, ongetwyfeld spore van Masarwa-afkoms getoon het. Die afkoms van 'n geel ras was in hulle dadelik merkbaar in kleur, in die geaardheid van die hare, en, merkwaardig genoeg, selfs in die gelaatstrekke. Die dokter het gehoop dat ek hom van hulp kon wees, maar ongelukkig was dit nie so nie, want ek het ook veels te laat in Waterberg gekom. In my tyd het ek net twee van hulle gesien, en hulle was klaarblyklik nie te suiwer van ras nie. In een van die twee, veral, het ek besonder belang gestel, maar om ander as volkkundige redes. Hierdie een het baie ooreengestem met die beskrywing van die ouer bewoners en jagters.
Die Vaalpens word beskrywe as 'n suiwer, swart dwerg met peperkorrels en naturellegelaatstrekke, maar met die maniere en geaardheid van 'n Boesman. Hy het die bosveld van Noord-Transvaal bewoon en het spoedig vir die grootwildjagter kostelike dienste bewys; hy het gewerk vir 'n deel van die afval en oorskietvleis. Geplant of gesaai het hy nie, 'n vaste verblyf het hy nie geken nie, vee het hy nie gehad nie en sy enigste huisdier was die hond. Selde of ooit het hy gifpyle of vergiftigde asgaaie gebruik, maar hy was 'n deurtrapte veedief. Eers het die swartes op hom jag gemaak soos op ongedierte. Maar toe hy byna uitgeroei was - en die skaarsheid van wild het baie daartoe bygedra - het 'n paar
| |
| |
klompies by verskeie swart kapteins skuiling gesoek en gekry. Die opperhoofde het hulle gebruik as opspoorders en jagters, net soos Khama en die Betsjoeana-kapteins die Masarwa-dwerge van die Kalahari gebruik het. 'n Aantal jagters wat nog lewe, het hulle goed geken en selfs hul taal geleer; ek dink dat dit heeltemal moontlik sou wees om uit dié bron 'n woordelys op te stel wat genoegsaam die stamverwantskap van hierdie enige en eienaardige menseras sal kan aantoon.
Die een wat ek gesien het, het in die Waterbergse Middelveld tussen die Magalakwên en die Palala gewoon. Jan Nel, die jagter wat my aan hom voorgestel het, is in Waterberg gebore en het glo selfs die ‘Vaalpense’ se taal leer praat; toe hy nog 'n seun was, kon hy dit baie beter praat. In die gesprek met ‘Ou Klaas’ - want so het ons Vaalpens-eksemplaar geheet - het hy Sesoeto gebesig.
Ons voorstelling was eienaardig en vir die Vaalpens kensketsend. Ons was net die waterskeiding van die Palala oor en het in taamlik digte boswêreld uitgespan. Onderwyl ons by die vuur sit en gesels het Nel my vertel van die Vaalpens en sy maniere. Dit het hom bygeval dat van sy kindsheid af hier in die nabyheid 'n regte Vaalpens woon. ‘Ou Klaas’, soos die jagters van vroeër dae hom genoem het, het die meer beskaafde gewoontes van die naturelle aangeneem: hy het bokke aangehou, selfs 'n paar beeste; hy het 'n klein tuintjie bewerk en nooit sy woonplek verskuif nie.
As hy nog in lewe was, sou hy aan 'n sekere ‘roep’ gehoor gee. Die roep was 'n geweerskoot gevolg deur 'n paar fluite op 'n leë patroondop. Dié teken het die jagters altyd in die dae van die grootwild gebruik om Klaas te roep.
'n Uur later kom Klaas skielik te voorskyn. Hy het tog te bly gelyk om sy ‘Baas’ weer te sien. Hy was verslae om te hoor dat die ‘Ou Seur’, Nel se pa, 'n magtige Nimrod, nie meer daar was nie.
Klaas was omtrent vier-en-'n-half voet lank. Klaarblyklik was hy horingoud: die vel van sy gesig was heeltemal met rimpels oordek; sy gesig was besonder breed en plat en sy neus was seker die breedste en platste wat my ooit onder die oë gekom het. Die mond was yslik groot, met Negeragtige lippe, die hoek van die gesig goed, 'n besonder ‘goeie’ ken en die hare gewone naturellepeperkorrels. Sy kop het besonder groot gelyk, maar dit is dalk omdat sy lyf so klein was. Sy skouers was breed en sy hele voorkoms sterk en fors. Sy kuite was sleg ontwikkel, en dit was des te opvallender deurdat hy sulke tamaai na buitekant gekeerde voete had. Die bene, voete en gelaatstrekke het 'n mens sterk herinner aan die Negers van westelike tropiese Afrika. Behalwe 'n stertriem en 'n klein karossie van agter was hy heeltemal nakend. Van 'n nekband van pragtig gedraaide grootwild-garingvleis het daar op sy bors af 'n ry stukkies gereedskap gehang - o.a. 'n tang soos ek nog nooit tevore gesien het nie, 'n mes, 'n snuiflepel, 'n doringtangetjie en 'n breë stuk blink metaal wat na een kant toe nouer loop en aan die breë kant uitgehol was. Dit was sy paplepel. Die tang het
| |
| |
hy in sy ambag gebruik - wat ek netnou sal beskrywe - en ook om 'n kool mee te vat of dorings mee uit te trek. Dit was 'n fraai afgewerkte en slim ontworpe stuk gereedskap.
Agter sy blaaie had hy 'n velsakkie met sy pyp en tonteldoos en 'n paar klein stukkies gereedskap. Ook 'n fraai afgewerkte asgaai het hy gedra. Toe het ek eers verneem dat hy 'n smid was. Nel het my vertel dat hy nog onthou hoe ou Klaas eenmaal sy grootvader (self 'n knap smid) se roer heelgemaak het nadat die oubaas self dit moes opgee. Die geheime van metaalwerk het Klaas geleer van 'n Mapela wat hom gevang het toe hy nog klein was en toe grootgemaak het. Later het hy deur heel die noorde beroemd geword vir sy metaalwerk. Met hoogmoed het hy my vertel dat geen naturel met hom kon saamwerk nie, hoewel hy die smidsambag van hulle geleer het. Magtige opperhoofde het indoenas gestuur om hom na hul statte uit te nooi, maar toe sy Mapela-baas te sterwe kom, het hy vry geword en dadelik in die wildernis gaan woon, want in die dae van sy ballingskap het die woesteny altyd getokkel aan die snare van sy hart, en om in swart krale en tussen huise opgesluit te wees was vir hom 'n Babiloniese gevangenskap. Die opperhoof Mapela het vir Klaas 'n swart vrou present gegee, en die kaptein het uit sy eie kraal vir haar betaal.
By nadere ondersoek was dit duidelik dat die gereedskap, die lepel, mes, tang en asgaai van egte naturellemaaksel was. Op die lemme was die eienaardige, ingeduikte merke van die kliphamer sigbaar. Die metaal was blykbaar 'n suiwer, wit yster, deur lang gebruik glad geslyt, en in elke stuk kon 'n mens 'n skrander ontwerp sien, deeglik uitgevoer. Die lepel, veral, was deur sy eenvoud eg sierlik. Die handvatsel was aan die end pragtig gekrul, vir versiering sowel as om dit aan op te hang.
Op die asgaai was hy uitermate trots, en hy was blykbaar teleurgesteld dat ek die wonder daarvan nie kon waardeer nie, selfs nadat hy my aandag daarop gevestig het, en dat ek voorkeur aan die lepel gegee het. Die snuiflepel was ook mooi uitgedink, maar die paplepel het nog al my aandag getrek. Teleurgesteld wys hy my toe waarom hy die asgaai as 'n meesterstuk beskou. Dit was die draad waarmee die lem en die steel vasgevleg was. Die draad het hy self gemaak, en niks wat die naturelle ooit gemaak het, nee, nie eens die maaksel van die witman se vernuf, kon sy draad ewenaar nie. Die klein messie was op dieselfde manier in die hef vasgevleg. By ondersoek moes 'n mens twyfel of hy die waarheid praat - so eweredig was die draad getrek. Dit was duidelik dat my twyfel hom plesier gegee en gevlei het. Hy wys toe daarop dat die draad van dieselfde metaal was as die asgaai en die ander werktuie. Die witman maak nie sulke draad nie.
Die volgende dag het Nel en ek sy smidswinkel besoek. Sy pondok en sy tuintjie was tussen reusagtige rotse versteek, wat hier hul grys koppe bo die sand uitsteek. Dit was in 'n digte bos, reg in die middel van 'n lap van die ge- | |
| |
vreesde blouhaak, waar mens nòg dier kon deurkom. Sy werf was 'n oop lap grond van omtrent drie morge om die rotse. Waarom dié plek gekies was, was duidelik te sien: onder een van die olifantklippe was 'n diep, skuins put, van die bokant waarvan 'n klein fonteintjie yskoue water in enkele druppels afsyfer. In droogte was dit al water in daardie hele streek van die Middelveld. Deur 'n hoë heining van boomstamme was sy hutte en bokkraal beskut teen leeus en ander ongedierte.
Toe ons daar kom, was ou Klaas al besig by sy vuurherd, want ons was spesiaal uitgenooi om te sien hoe 'n ‘Kafferpik’ gemaak word. Dit was al soort werk wat hy teenswoordig doen, en hy sou selfs dit laat staan as daar in die nabyheid 'n winkel was, want Klaas het openhartig beken dat die ‘wit’ pik met 'n oog vir die steel baie beter is as die naturellepik met 'n pen wat deur die steel moet gaan. Die ‘hoogoond’ was in ligte laaie. Dit het bestaan uit 'n drie voet hoë skoorsteen teen een van die klippe opgebou. Die erts wat hy gebruik het, was rooiagtige klip gemeng met grond van dieselfde kleur. Dit word eers in 'n hol klip met 'n klipvysel tot gruis gestamp en dan net soos koring uitgewan; die ligte gruis waai dan weg en dié van hoër ertsgehalte bly agter. In sekuur afgemete dele kom daarby dan gepoeierde, glasagtige kwarts. Die brandstof was houtskool van 'n besondere rotsplant. Die dikste takke en stamme word in 'n sandsloot gebrand en ná omtrent 'n uur met sand doodgegooi. Met lang gebruik was die oond al tot erd gebak. Die erts word met houtskool deurmekaargemaak en in die hoogoond op 'n laag droë beesmis uitgegooi. Deur 'n gat omtrent vier duim in die vierkant word die vuur aangesteek, en sodra die vuur vat, begin die blaasbalk. Dié bestaan uit twee goed gebreide bokvelle met seninggare aanmekaar genaai. Die beuel is die knapsak-geslagte bokpoot wat beurtelings met die vingers toegeknyp en dan weer losgelaat word. In dié geval het een van Klaas se seuns, 'n kleinjong van omtrent twaalf jaar, in wie se gesig sy afkoms van die twee rasse sigbaar was, met die blaasbalk gewerk. Hy het wydsbeen oor die velle gaan sit en met die op- en neergaan van sy lyf die blaasbalk laat werk. Uit die blaasbalk het 'n klei-tuit die wind in die oond gevoer.
Intussen het ou Klaas die opening met 'n stuk klei sorgvuldig toegesmeer. Die smeltery was 'n langdradige proses: af en toe moes houtskool, dan weer met gereelde tussenpose erts en kwartsmeel in die skoorsteen gegooi word. Onderwyl het Klaas ons sy gereedskap gewys. Die aambeeld was 'n gladde, swart klip; die hamers was 'n aantal klippe wat onderling verskil in grootte en gewig; party was keilvormig, ander weer rond, en almal was om die middel ingekeep vir 'n handvatsel. Wit slypstene van sandsteen was daar ook, wat van ver moet gekom het en wat ou Klaas as 'n skat beskou het. Die draadtrekmasjien was 'n gesplete stok waarin die draad, nadat dit deur 'n gat in die plaat getrek is, vasgehaak word. Die stok word dan regop in die grond geplant en die plaat daarom gedraai, sodat 'n sterk trek uitgeoefen word op die draad, wat dan om die
| |
| |
stok opdraai. Af en toe word die draad in 'n grasvuur getemper en gedurig word dit met akkedisvet gesmeer - die enigste smeersel, volgens Klaas, wat hiervoor gebruik kan word. As 'n mens olie of enige ander soort vet sou gebruik, sou die draad bros word en breek. Die draadplaat was vir my die interessantste van al Klaas se besittinge, en ek dink dit het hy ook die meeste waardeer. Hy had nie die minste idee wie dit gemaak het of waar dit vandaan kom nie. Hy het dit geërf van sy Mapela-baas, in wie se familie dit 'n erfporsie was vir lang, lang, lange jare (die oë toegeknyp en die woorde lank uitgerek om 'n onberekenbare verloop van tyd uit te druk). Dit was 'n skurfkantige stuk yster van omtrent sewe by vier by een duim. Daarin was met ongelyke tussenruimtes gate gemaak. Deur die grootste kon 'n potlood gaan, en 'n paar van die kleinstes was so dik soos gewone ruwe draad. Die gate was met gebruik al so geslyt dat dit onmoontlik was om te sê of hulle met bore dan wel met deurslae gemaak was. Die werktuig het tekens van hoë ouderdom gewys. Van Europese maaksel was dit klaarblyklik nie, en Klaas het dadelik erken dat geen inboorlingsmid (hyself ingereken) so 'n ding kon maak nie. Al sou hulle so 'n groot stuk metaal aaneen kon smelt en dit in 'n plaat uitsmee - en dit was twyfelagtig - geen naturel kon deur so 'n dik stuk yster gate maak nie, vernaam die kleintjies. Van yster boor het hulle niks geweet nie.
Toe deur die toegesmeerde opening van die fornuis 'n wit lig sigbaar word, met af en toe 'n sproeivonk, neem Klaas self die sake oor. 'n Sakkie kwartsmeel word nou uit die hut te voorskyn gebring. Dit was gemaak van 'n baie skaars soort klip. Daarsonder kon 'n mens nie smelt nie, want as 'n mens nie op die regte tyd van die sand bysit nie, wou die metaal nie ‘soos water vloei’ nie. Die vuurspuwende deur word nou weer sorgvuldig toegesmeer, en kort daarvoor word die sand vasgestamp en daarin met die eetlepel 'n moot uitgehol. Alles word sorgvuldig en noukeurig vereffen en afgemeet. Die maatstok was 'n lang, swart stok vol kepe. Die moot moes van 'n sekere wydte en diepte wees. Aan die end van die moot word die pik nou in die sand afgeteken en met die lepel sorgvuldig uitgehol en gelyk gemaak.
Die kleinjong by die blaasbalk word nou aangespoor om heftiger te blaas. In strome tap die sweet van sy kaal bas en hy hyg uit-asem. Uit die skoorsteen kom 'n ondraaglike stank van swawelwaterstof (net soos vrot eiers). Dit is 'n goeie teken, sê Klaas. Op 'n gegewe oomblik word die toweragtige kwartsmeel bygevoeg. In die een hand neem Klaas nou 'n lang, groen stok met die bas afgestroop en aan die een punt gebrand. Sorgvuldig weeg hy die stok, mik met die skerp punt op die toegepleisterde deur en steek. Die kleinjong spring uit die pad en sleep die kosbare blaasbalk mee. Met 'n dowwe gerammel kom 'n suiwer stroom hitswit metaal deur die opening en vloei in die moot af met 'n gesis en geknetter onderwyl dit 'n gloed van sproeivonke in die rondte sprei.
Klaas se afmetinge was gevaarlik net. Die metaal het net die pikvorm en die
| |
| |
moot volgeloop, en ek glo daar het nie 'n vingerhoedvol oorgeskiet nie.
Nou word eers 'n dun laag klam sand oor die massa gestrooi, en daarna water uit die mond geproes. Dit was om die metaal taai te maak, soos Klaas duidelik maak. Daarna word die pik met hamer en slypsteen verder afgewerk.
Sy hele omgewing, net soos sy gereedskap, het die tekens van deeglike werk gedra. Die hutte en hul deure, die heining en die hekke, die huisraad, die leerwerk in sakkies en klere (wat van laasgenoemde aanwesig was) - alles was stellig beter afgewerk as 'n mens dit gewoonlik by swartmense aantref, en as Klaas met kurio-soekers in aanraking kon gekom het, sou hy seker van hulle 'n goeie skatting gehef het. In 'n wêreld van sy eie het hy gelewe - net een klein voetpaadjie het hom met die buitewêreld verbind.
Aan die natuurvorser is dit bekend dat hierdie lappe blouhaakdorings vir 'n aantal viervoetige diere 'n ware toevlugsoord is. Dit wemel daar van diersoorte wat selde of nooit buitekant die toevlugsoord aangetref word nie. Daar is selfs klein voëlsoorte wat aan die haakdorings eie is. So het ook ou Klaas, miskien die laaste oorblyfsel van sy ras, 'n rusplaas vir die ongeseënde in die diepte van die haak gevind. Toe ons hom laas gesien het, het hy nog nooit opgaaf betaal nie en met die Regering nog nooit in aanraking gekom nie. Hy het al gerugte gehoor omtrent die Verskriklike Ding wat net een ding tot doel had: om jou huis te verniel en jou vee te vat. Maar hy was nie seker of dit die versinsel van een of ander verhaal was nie - 'n storie om die onkundige mee te verskrik. In alle geval, hy was seker dat dit hom nooit daar in die haak sou kom uitsnuffel nie. Buitekant was daar so baie swartes op wie dit die wraak kon koel.
Arme ou Klaas! Erger gevaar het hom onwetend bedreig. Hierdie lusoord wat hy op die woesteny verower het toe dit nog niemandsgoed was, wat hy bewoon het voordat daar ooit 'n witman in daardie wêreld was, waaraan hy gebonde was met die diep gevoelens wat elke dier aan sy lêplek bind, die grond, die bome, sy huis, sy put - alles het behoort aan 'n Hebreeuse meneer in Londen wat die plek nog nooit gesien het nie, wat nog nooit binne sesduisend myl daarvandaan gewees het nie. Eindelik sal sy verteenwoordigers kom, gesteun deur al die magte van die beskawing, om ou Klaas uit die haak te verdryf of swaar huurgeld te eis. Sy laaste dae het ek nie verbitter deur hom hiervan te vertel nie. Ek verkeer nog in die hoop dat hy êrens onder die haak 'n laaste rusplaas gekry het.
Op 'n later keer het ou Klaas ons kamp besoek om vleis, en twee weke daar gebly. Ek het toe die kans gehad om sy kennis van die veld en van wilde diere te beproef, en ek moes erken: ‘De helft was mij niet aangezegd.’ Kennis van die veld en van wild was destyds iets algemeens in die noorde. Die jagter Nel self het die veld soos 'n ope boek gelees, maar die kennis van ou Klaas het alles oortref wat ek ooit ondervind het. Dit was baie meer as eenvoudig 'n kennis van wilde diere en hul gewoontes: hy het hul lewe geleef en hul gedagtes gedink. |
|