Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd4 Twee Dapper AfrikanermeisiesDapperheid is van verskillende aard. Die krygsman, hoe verkeerd en onreg sy saak al ook mag wees, word deur geskiedskrywers en digters bekrans wanneer hy deur sy gedrag bewys dat hy geen lewensgevaar op die slagveld ontsien nie. Een van Napoleon se maarskalke, bevelvoerder oor sommige van sy roofleërs, is spreekwoordelik bekend as die ‘Dapperste der dapperen’. Maar daar is 'n soort dapperheid wat die mensdom altyd hoër sal skat as die dapperheid van selfs 'n maarskalk Ney - die dapperheid, naamlik, van die mens wat uit suiwere liefde sy lewe vir sy naaste opoffer sonder die besieling, die trompetgeskal, die dronkenskap van 'n veldslag, sonder die toejuiging en aansporing van duisende aanbiddende volgelinge, sonder selfs dat hy kans het om te dink oor die latere lof en eerbewyse wat miskien aan sy nagedagtenis betoon sal word. En wanneer so iemand nog van nature bangerig is; wanneer so iemand 'n aangebore vreesagtigheid moet oorwin; wanneer so iemand 'n jong meisie is op die drempel van haar lewe, dan, waarlik, is sulke mensemoed die pronkjuweel van alles wat in die mensesiel gebore word. Wanneer 'n jong meisie die mannemoed van 'n Woltemade ten toon sprei, dan is daar alleen plek in ons harte vir dankbare bewondering. In die geskiedenis van ons ras het duisende dapper vroue en meisies te voorskyn gekom. In die Trek-dae; in die groot grensinvalle in die Kolonie; gedurende die inname van die noorde deur ons volk, moes die vroue dikwels plaasneem langs haar man om huis en kroos in die uiterste gevaar te beskerm. En daar is talle wat op dié wyse hul lewe prysgegee het. | |
[pagina 370]
| |
In dié roerende dae was daar waarskynlik ook ontelbare gevalle van wat ek die hoër dapperheid noem: opoffering van die lewe sonder enige dwang van selfbeskerming, alleen uit liefde vir die naaste gebore. Baie van dié gevalle leef nog in familietradisies alleen; baie is vergeet. Ek wil 'n paar gevalle gee van hoogste dapperheid deur Afrikanermeisies van ons teenswoordige geslag betoon, wat myns insiens gelyk staan in reine skoonheid en aandoenlikheid met enigiets dergeliks wat die geskiedenis van die wêreld kan oplewer. Die groot onderskeid tussen ons gevalle en die gevalle onder ander volke, is dat ons heldinne meestal vergeet is, terwyl 'n Grace Darling, byvoorbeeld, deur haar volk verheerlik en deur digter en kunstenaar onsterflik gemaak is. Die eerste geval is dié van | |
Annie LotrieOp Sondag, 8 Julie 1888, was vyf waens aan trek deur die dorsland ten suide van Sjasjie, in Matabeleland, op weg na Transvaal. Die trek is beman deur ses Transvaalse burgers, onder bevel van P.J. Grobler, Gesant van die Suid-Afrikaanse Republiek aan Lobengoela, Koning van die Matabeles. Die enigste vroumense by die waens was die vrou en twee dogters van Frans Bernardus Lotrie, jr. Die oudste van die twee dogters, Annie, was agtien jaar, 'n meisie van besondere skoonheid en minlikheid. Die waens was op pad na Waterberg om die vrou van mnr. P.J. Grobler na die hoofstat van Lobengoela terug te neem, waar hy as Transvaalse gesant aangestel was. Daar moes vinnig en aanhoudend getrek word, want vier-en-twintig uur lank sou die osse in die dorslandstreek sonder water wees - vandaar dat selfs op Sondag gery is. Skielik, omtrent middag, verskyn 'n trop gewapende swartes in die pad voor die eerste wa, dié van mnr. Grobler self, en beveel dit om tot stilstand te kom. Grobler sien dadelik dat dit Khama se volk is, 'n kaptein wat hom geen goeie hart toedra nie. Hy gee onmiddellik bevel aan sy ses manskappe om die geweers te gryp, en begin toe van die voorste wa met die inboorlinge in hul eie taal 'n gesprek te voer. In die naam van kaptein Khama stel die swart aanvoerder die volgende eis: Grobler moet as gevangene aan hom oorhandig word en al die waens moet met hom saamgaan na Khama se hoofstat. Hy eis dit omdat die trek sonder verlof deur 'n stuk van Khama se gebied aan reis was. Daar is later bewys dat die stuk grond aan Lobengoela behoort en nie aan Khama nie (soos konsul Grobler destyds al beweer het). Die konsul weier dadelik om aan die swartman se eis te voldoen. Skielik word van die swartes se kant die eerste skoot gelos, en onmiddellik breek 'n skermutselinkie los. Een sarsie (onder bevel om nie raak te skiet nie) van die Boere was genoeg. | |
[pagina 371]
| |
Die manhaftige kapteintjie en sy volgelinge gaan op loop, en om die indruk deeglik in te vrywe, spring die Boere op hul perde en sit die swartes 'n ent agterna. Die terugtog word weldra 'n vlug, en so haastig is sommige dat hul geweers in die slag bly. Met 'n taamlike buit van Martini-Henri's het die klein kommando'tjie na die waens teruggegaan, en die trek word voortgesit. Dit was ongelukkig nie die einde van die saak nie. 'n Paar uur later verskyn weer voor in die wapad 'n bende van omtrent driehonderd gewapende swartes onder bevel van Khama se generaal, Mokoetsjanie. Dié keer was die swartes uiters beleef; 'n wit vlag word gehys, en Grobler en Mokoetsjanie ontmoet mekaar halfpad tussen die voorste wa en die klein impi. Mokoetsjanie gee voor dat hy vreeslik verstoord was oor wat plaasgevind het, en dat hy vir homself onaangename gevolge vrees by sy terugkeer na Khama.Ga naar eind1. Grobler, aan die ander kant, begin toe eise te stel. Hy sou die buitgemaakte geweers teruggee op voorwaarde dat Mokoetsjanie 'n dokument teken waarin hy namens Khama beloof om tweehonderd stuks vee aan die Transvaalse gesant te betaal ter genoegdoening vir die belediging hom aangedaan, en nog vyftig aan Frans Lotrie, sr. (vader van die bogenoemde Lotrie), wat gedurende die skermutseling beseer is. Mokoetsjanie stem hierin toe, en dit is toe afgespreek dat die dokument sou opgestel word en dat Grobler en sy ses manskappe Mokoetsjanie en sy volk 'n paar uur later sou ontmoet seshonderd tree van die waens om die dokumente te onderteken. Altwee kante moes ‘sonder geweers’ na die aangewese plek kom. En toe oorlê Mokoetsjanie wat hy dag 'n slim verraad te wees.Ga naar eind2. Hy sou met honderd-en-vyftig ongewapende manskappe Grobler en sy ses man ontmoet. Maar tweehonderd tree van die ontmoetingsplek stel hy 'n hinderlaag van tweehonderd gewapende swartes op. Hy gee vooraf bevel dat, onderwyl Grobler die dokument voorlees, 'n ander onderkaptein, ene Modisa, 'n harde skreeu sou gee. Dit sou die teken wees vir die aanwesige swartes om die Boere te gryp, terwyl die gewapende tweehonderd dadelik moes toestorm en Grobler onskadelik maak, desnoods deur te skiet. Hy had bevel van Khama ontvang om Grobler dood of lewend te vang. Van die swartes se kant het alles tot op 'n sekere punt goed afgeloop. Met Modisa se kreet begin die drama waarin Annie Lotrie bestem was om so 'n skitterende rol te speel. Een Engelsman, Cameron, wat by Grobler was, en een van die Boere was so seker dat Mokoetsjanie van plan was om verraad te pleeg, dat hulle die voorsorg geneem het om elk 'n rewolwer in die sak te steek (die ooreenkoms was alleen ‘sonder geweers’: dit was hul verontskuldiging). Al die ander Boere had jagmesse by hulle. Grobler self was 'n man van buitengewone liggaamskrag, en Mokoetsjanie het gesorg dat van sy sterkste manskappe in Grobler se onmiddellike nabyheid sou staan om hom te gryp. Modisa gee die teken; ses of sewe swartes spring op Grobler toe, maar met 'n paar vuisslae ontset hy hom. Hy trek sy jagmes en roep sy mense toe: ‘Bly by- | |
[pagina 372]
| |
mekaar en loop agteruit waens toe!’ Dadelik was daar 'n hewige handgemeen. Wie messe had, verdedig hulself daarmee, en Cameron en sy maat skiet met die rewolwers. Weer het moed by die swartes te kort geskiet. Binne 'n paar minute is die Boere van hul aanvallers los, en hulle begin waens toe te hardloop om geweers in die hande te kry. Mev. Lotrie en haar twee dogters het die gebeurtenisse van die voorste waens aanskou, en toe hulle die verraad gewaar, begin hulle geweers uit die agterste waens losruk en na die voorste aan te dra. (So gerus was Grobler dat al die geweers in die waens vas was!) Toe die retirerende Boere omtrent vierhonderd tree van die eerste wa was en omtrent tweehonderd van Mokoetsjanie, word laasgenoemde deur sy gewapende hinderlaag versterk, sommige van hulle te perd. 'n Hewige vuur is dadelik op die vlugtende Boere gelos. Met die eerste sarsie val Frans Lotrie. 'n Loodkoeël het sy regterbeen in die knielid verbrysel. Daar was geen tyd vir redding nie. Om die lewens van die origes en dié van die vroue te beskerm, moes die oorblywende vyf so gou moontlik geweers in die hande kry. Lotrie is op die grond agtergelaat. Annie Lotrie staan by die eerste wa met haar pa se geweer en patroonband in die hand toe sy hom sien val. ‘My pa is gekwes!’ skreeu sy, en sonder om te wag, begin sy na hom hardloop. Die swartes is toe ook vinnig aan kom van die ander kant, onder 'n geweldige gevuur. Toe die Boere omtrent vyftig tree geretireer het, val Grobler, sy been bo die enkel stukkend geskiet. Daar bly dus vier weerbare manne oor om die trek te red as hulle daarin sou slaag om die waens te bereik. Grobler skreeu: ‘Laat my staan. Hardloop waens toe!’ en onmiddellik daarna sien hy Annie verbykom met die swaar ‘poena’ in die hand. Hy roep haar toe: ‘Draai om, kind: jy gaan die dood tegemoet!’ Maar in die hart van die edele meisie klink 'n hoër, luider roepstem; die dood is geen verskrikking meer nie. Sy hardloop tot by haar vader en spring voor om hom met haar eie lyf te beskerm. Sonder om skuiling te soek, sonder die minste teken van vrees of verwarring, begin sy op die stormlopende swartes te vuur, net so vinnig as wat sy die ‘poena’ (Martini-Henri-agterlaaier) kon laai. Die swartes se hele vuur is vir enige oomblikke op die dapper meisie alleen gerig. Sy is waarlik en letterlik onder stof geskiet. Wie weet watter indruk hierdie bewys van dapperheid op die inboorlinge gehad het? Seker 'n groter verbasing as wat 'n man ooit sou veroorsaak het. Hulle stuit, en al Mokoetsjanie se aanmoediging is nutteloos om hulle voorwaarts te dryf solank die wit meisie staande bly. Ja, instede van vooruit begin hulle uitmekaar te loop en skuiling te soek. Maar die vuur op Annie word al hoe hewiger. Drie maal word sy deur die rok geskiet, en sommige van die groot koeëls is so naby haar kop dat sy die ruk | |
[pagina 373]
| |
daarvan gewaarword. Van die waens word haar toegeroep: ‘Lê plat! Lê plat!’ Maar onder die gedreun van die geweers hoor sy niks. Eindelik (vir die moeder het dit seker ure gelyk) bereik die vier nog weerbare mans die waens en hul geweers. Ongetwyfeld was die voorbeeld van Annie Lotrie vir hulle ook 'n inspirasie. Met hul eerste skote (en hulle was almal geoefende jagters) begin Mokoetsjanie en sy volk tekens te gee van nog groter verwarring. Intussen het Annie se moeder en suster die perde opgesaal, en toe die vier mans hul verskyning te perd maak, begin die swartes bosse toe hardloop. Maar Annie Lotrie het reeds die slag gewen. Hoe doeltreffend haar verdediging (of sal ons dit ‘aanval’ noem?) was, blyk daaruit dat dertig geweers en ses perde in die Boere se hande geval het.Ga naar eind3. Haar groot doel was natuurlik om haar vader te red, maar die gevolg van haar heldedaad was baie groter. Die lede van die trek kan hieroor beste oordeel, en die eenparige verklaring is dat sy almal se lewe gered het. Was Annie nie daar nie, sou die swartes ongetwyfeld die gewonde Grobler bereik en hom daar en dan om die lewe gebring het. En met dié aanmoediging, en die ontmoediging van die vier oorblywende Boere, is dit moeilik om vandag tot enige ander gevolgtrekking te kom as dat die hele klein trekkie deur die bloeddronke aanvallers oorrompel sou gewees het. En so dra die eensame woestyn vir elke Afrikaner 'n gedagtenis suiwer en skoon as 'n edelgesteente. Mnr. Grobler het twee weke later in Waterberg aan sy wond beswyk. Deur tussenkoms van die Britse Regering is Khama skuldig bevind en moes hy 'n pensioen van £250 per jaar aan die weduwee Grobler betaal en £250 in een bedrag aan Annie Lotrie se vader. Maar dit was ná lang gesukkel. Sir Sidney Shippard, Goewerneur van Betsjoeanaland, wat eerste die saak ondersoek het vir die Britse Regering, had al die feite voor hom. Sy merkwaardige verslag was: ‘Die Boere het dit alles verdien: Khama had geen skuld nie.’Ga naar eind4.
Die tweede geval wat ek wil vertel, is dié van | |
Rachel de BeerWat sy gedaan het, sal deur baie beoordeel word as 'n heldedaad nog meer edel en wonderwekkend as selfs dié van Annie Lotrie namate sy veel jonger was (sy was maar twaalf) en omdat sy ure lank die dood moes afwag onder omstandighede van die uiterste lyding, terwyl sy altyd in staat was om te enigertyd haarself te red. Maar tot die dood toe het sy getrou gebly. Luister dan: 'n Ou Vrystater, ene Herman de Beer (hy was geen familiebetrekking van Rachel nie), het voor die eerste Engelse Anneksasie 'n plaas gekoop op die Drakensberge tussen Transvaal en Natal. Dit is miskien die koudste deel van die | |
[pagina 374]
| |
hele bewoonbare Suid-Afrika. Die koue was die grootste en nadeligste gevaar waar die enkele inwoners teen te kampe had. Elke winter val daar kapok, en sneeustorms met orkaanwinde gepaard kom so skielik op dat dit die dood blaas op al wat leef. In so 'n storm kan geen onbeskutte dier of mens 'n nag deurlewe nie. Selfs in die middel van die dag verkluim diere op die oop vlakte. Een winter het by mnr. Herman de Beer 'n jong van-genoot uit die Vrystaat met sy familie aangekom. Hy was aan grond soek in Transvaal en had by hom 'n klompie aanteelbeeste en 'n paar skape en bokke. Sy familie bestaan uit sy vrou en twee kinders - 'n seuntjie, vyf of ses, en 'n dogter, Rachel, van twaalf jaar. Daar was 'n leë hartbeeshuisie op mnr. Herman de Beer se werf, en hy gee die nuwe inkomeling verlof om sy intrek daarin te neem totdat hy 'n kans had om grond te soek. Dit was nie meer as 'n paar weke na sy aankoms nie dat 'n vreeslike ramp die ongelukkige familie tref. Die middag vroeg het daar 'n vreeslike storm uit die suidooste opgekom. Swaar, swart wolke maal oor die bergspitse, en die wind, skerp soos geslypte staal, sny deur alle klere heen. Die vee moet dadelik versorg word, en almal op die werf, sowel oom Herman as sy jong genant, was spoedig besig om lammers die huise in te dra en die beeste by dik klompe die krale in te ja. Die jonger De Beer was maar arm. Sy klompie aanteelbeeste was in die twintig en die klompie skape ook maar klein. 'n Mens kan begryp dat hy en sy vrou die nag met groot onrus tegemoet gesien het. Op elke dier van sy klein besittinkie moes gelet word. Toe hy sy klompie beeste die kraal inja, merk hy dat 'n jong koei in die veld gekalwe het en dat sy sonder haar kalfie huis toe gekom het. Die beeste was die hele dag in gesig en nie ver van die huis nie; maar hulle het in 'n groot kring gewei, en om die kalfie te kry, sou 'n mens hul spoor moes omloop. Daar was geen tyd voor nie. Die nag was op hande. Almal moes gaan soek wat kon gaan. Rachel - of Raggie, soos sy genoem is - was 'n flukse klein meisie en was reeds haar vader baie behulpsaam in die boerdery. Sy het met beeste grootgeword, kon drywe, inspan en melk, en dikwels moes sy beeswagter ook wees. Daar is toe besluit dat die vader en 'n klein Korannatjie in sy diens die verste gedeelte van die weiveld sou opneem, terwyl Raggie 'n laagte naby die huis sou deursoek. Net voor sy vertrek, dwing die klein broertjie om met haar saam te gaan. Dit was toe al bitter koud, maar die kinders het in 'n swaar skool geleer, en selfs die moeder het daar niks verkeerds in gesien om die broertjie met Raggie saam te laat gaan nie. Dit was maar naby; hulle sou nie lank weg wees nie, en dit was buitendien swaar vir Raggie om alleen te loop. Sy bind die seuntjie 'n klein skaapvelkarossie om die hals, en so gaan hy en sy sussie voort. Dit is onnodig om die treurige storie uit te rek. Dit was al donker toe die vader en die Boesmantjie tuiskom, en Raggie en Boetie was nog uit. Die storm brom soos 'n gekweste leeu; dit was byna onmoontlik om teen die wind koers te | |
[pagina 375]
| |
hou, en uit die swart van die hemel skiet die sneeuvlokkies soos ysnaalde neer. Dadelik word alarm gemaak. 'n Groot misvuur word buite deur die moeder aangesteek, en alles wat hout is, opgelê. Die vader, oom Herman en al die volk op die werf (ek dink daar was maar twee buiten die Koranna), toegewoel in komberse en karosse, is met lanterns uit om te soek. Die hele bitter nag deur is gesoek, geskreeu en geskiet, maar van die kinders geen spoor of teken nie. Met rooidag die volgende môre begin die storm bedaar. Die wind sak en die sneeu val nie meer nie. Toe gaan die ongelukkige moeder ook uit om te soek. Min hoop in die harte van almal! Watter skuiling is daar op die kaal hoogtes? Die enigste kans - en dié is maar skraal - is dat die kinders in 'n erdvarkgat gekruip het. Net na sonop kry een van die nie-blankes die spoor, en kort daarna maak hy tekens dat hy die kinders self gekry het. Hulle had deur die eerste en 'n tweede laagte geloop en in die toenemende donker verdwaal. Binne enige minute is al die soekers by die plek vergaar; en dit is wat hulle sien: 'n Taamlike groot miershoop is vars met 'n skerp klip uitgehol, soos 'n bakoond in die veld of op trek gemaak word. Die miershoop was miskien al 'n weinig uitgehol toe Raggie dit gekry het, sodat sy alleen nodig had om die holte ruimer te maak. Raggie het dikwels sulke bakoonde vir haar moeder moes maak. Voor die mond van die oond lê Raggie. Sy lê met haar rug na die bak, sodat haar lyfie die oond so te sê dig maak. En sy is geheel en al nakend. Net haar velskoentjies is nog aan die voete. Kouse het sy nie aangehad nie. Sy was natuurlik dood, die lyfie byna so wit as die kapok self. En binne die oond lê Boetie opgekrul. Hy is styf verkluim, maar leef nog. Hy het al Raggie se klere aan. Oor sy kleertjies is Raggie se rokkie, haar onderrokkie en haar klein wolonderhempie. Om sy bene is die skaapvelkarossie vasgewoel. Het die leser al ooit koue hier in Suid-Afrika gevoel - bitter, snydende koue? Het die leser ooit sulke koue gevoel, nie onder dak of by die vuur nie, of in komberse dik toegewoel nie, maar buite op die kaal vlakte, sonder herberg of skuiling? Wie ooit die gruwelike foltering deurstaan het, die stadige verlamming van kakebene en lede, die druk van die hand van die dood self, laat so iemand dan 'n oomblik sy gedagte laat gaan oor die klein, tengerige meisietjie in die brullende sneeustorm ... Dit is alreeds donker. Vyftig tree ver moes sy haar klein boetie dra tot by die miershoop. Die spoor wys dit. Hy kon nie meer loop nie. En stuk vir stuk trek sy haar kleertjies uit om dit vir hom aan te trek: eers die borokkie, toe die onderrokkie; haar kappie word styf om sy oortjies onder sy hoed vasgebind. Waarskynlik hou sy nog die wolonderhempie aan om eers die oond te grawe. Haar hande en armpies is lam, maar sy werk sonder ophou, al stadiger, al stadiger ... Eindelik is die gat groot genoeg. Dit is al pikdonker nag. Boetie kerm | |
[pagina 376]
| |
seker aanhoudend, en dit skeur haar hartjie om dit te hoor; haar liefling moet gered word. Die wolhempie word met moeite uitgetrek en met nog groter moeite oor Boetie se klere aangetrek. Hy word in die gat vasgedruk, en nog verlaas word die skaapvelletjie om sy beentjies en voetjies gewoel, en dan gaan sy voor die mond lê; en ure en ure lank gaan sy so 'n pynlike dood tegemoet as wat vlees en bloed kan ly. Wie weet? Miskien was daar 'n genade wat die bitterheid versag het. Wat kan 'n mens meer doen as sy lewe vir sy broer gee? Wie sal ooit met dieselfde tong praat van die dapperheid van generaals en maarskalke? Waarlik, dit is alleen súlke dapperheid wat die Woord bewaarheid: ‘Dra my soos 'n seëlring op u hart, soos 'n seëlring op u arm, want liefde is sterk soos die dood.’ |
|