het in die saak ses jaar later die spelonk beskrywe in woorde wat hy waarskynlik aan Rider Haggard ontleen het. Om die ingang was 'n krans van kopbene en ander menslike geraamtedele - relikwieë van 'n reeks moorde waartoe die ‘dokter’ Mapela en Masibi reeds vroeër oorgehaal het. Nooit tevore, egter, was 'n witmens die slagoffer gewees nie. Nou vir die eerste maal het hy Hans Masibi oorgehaal dat die sterkste medisyne alleen van sekere dele van die liggaam van 'n blanke kon gemaak word, en aan die hand gegee dat die oorlog 'n goeie kans verskaf om dié dele sonder gevaar te verkry. Sy raad het by alte gewillige ore ingang gevind.
Dadelik gee Masibi bevel aan sy ‘generaal’ Majallo om agtien uitgesogte krygsliedere vir hierdie diens bymekaar te maak. Maerman is as tolk en raadsman saamgestuur, maar in werklikheid was hy later die aanvoerder.
Die agtien moes eers deur Tlaga gedokter word, in teenwoordigheid van die kaptein, en dae lank het hulle saam met Masibi die saak oorweeg en planne gemaak. Hulle wis almal dat klein klompies Boere in die Palalagebergte met hul vee skuiling gesoek het, en dit was die raad van die toordokter dat een van hierdie klein klompies deur verraad moes gedood word, sodat geen enkele getuie sou oorbly nie. Waar dit sy eie nek aangaan, was hy baie versigtig; maar selfs sy dolosse en natuurlike versigtigheid kon hom nie help om die toekoms in te sien nie. Die een getuie waaroor hy so bekommer was, het ontvlug en het hom ses jaar later die doodvonnis besorg - dit was die klein beeswagtertjie wat die swartes die eerste gewaar het.
Toe Janse sien dat daar maar net agtien swartes was, onder leiding van so 'n bekende oorlamse as Maerman, was hy houtgerus. Hy nooi hulle om af te kom, en gaan op die disselboom sit om hulle in te wag. Een of ander agterdog moes egter nog in sy gemoed gebly het, want hy hou sy geweer en patroonband by hom en het waarskynlik aan die twee seuns bevel gegee om dieselfde te doen.
Toe Maerman by hulle kom, groet hy Janse met die grootste beleefdheid, en hy en sy volgelinge gaan by die vuur sit met hul wapens langs hulle op die grond. Hy vertel toe aan Janse dat hy op jag uit was vir die kaptein, en gee hom al die laaste nuus omtrent die bewegings van Britse troepe in die noorde; en eindelik sê hy met 'n vriendelike laggie: ‘Hoe lyk dit of die baas nog dink dat daar oorlog tussen ons is? Waarom hou julle die geweers in die hande? As ons wou geskiet het, kon ons dit van bo gedoen het. Nee, Baas, glo my, daar is niks as vrede in ons harte nie.’
Hierop - so het Maerman self later getuig - sit Janse sy geweer en patroonband op die wakis neer, terwyl die twee seuns hulle s'n op die reling neerlê; al drie kom by die vuur regoor die swartmense sit, en gaan gerus voort met die klaarmaak van hul kos, terwyl Maerman hulle die groete gee van 'n ander klein Boerekommando'tjie wat hy die vorige dag teëgekom het. Die veewagtertjie alleen het die vrede nie vertrou nie. Hy bly tussen die rotse agter die wa staan,