Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd1. Die Huis van die Vier WindeEerste verskyning Ons Vaderland, 19 Maart 1932. p. 474a: Die versoeking is sterk om te vermoed dat Marais met dr. Paul de Roubaix 'n karakter geskep het met wie hy self kon identifiseer, in wie hy miskien sy ideale self gesien het. In sy fiksie het hy die gewone Afrikaanse vanne (veral dié van Nederlandse oorsprong soos Van der Merwe en Van Heerden, maar in mindere mate ook erg algemene Frans-Afrikaanse vanne soos Marais en Du Toit) probeer vermy en voorkeur gegee aan minder bekende (maar tog outentieke) vanne soos De Roubaix, De Ville, De Ridder e.d.m. Ook die heldin van ‘Margriet van Laastelust’ (p. 430) dra die van De Roubaix. p. 486c: Soos voorheen aangetoon (aantekening by p. 21a), is die destydse teorieë in verband met die bestaan van die eter lankal gediskrediteer. | |
2. Isaak SlykEerste verskyning Die Vaderland, Januarie 1933. p. 488c: Dit is onseker of Marais self van ‘die Engelse oorlog’ gepraat het, maar ek wil dit betwyfel. Dit is moontlik die werk van die een of ander oorywerige persklaarmaker. Nietemin is dit hier gehandhaaf. p. 489b: Marais (of sy sub) het ‘ou Hotnot’ gehad. Dit is om begryplike redes verander, hoewel ek toegee dat ‘ou Boesman’ aanvegbaar kan wees. p. 492b: ‘Die hele Britse leër - Australiërs, Kanadese en Koelies,’ lui dit koel en kalm in die oorspronklike publikasie (sewende ‘hersiene en verbeterde’ druk, 1946). Marais het sedert sy verblyf in Londen en tot by sy dood Indiërs as vriende gehad, en volgens my inligting het hy met dié woord na hulle verwys. ‘Koelies’ was in die jare dertig in Transvaal nietemin die gebruiklike woord, in so 'n mate dat Marais se toehoorders soms nie wis wat hy bedoel wanneer hy van Indiërs praat nie (dit blyk uit 'n onderhoud met sy vriend J.C. Vlok). Dit is dus denkbaar dat 'n persklaarmaker Marais se ‘Indiërs’ in ‘Koelies’ verander het met die gedagte dat dit natuurliker sou klink, maar ewe moontlik dat Marais die woord hier gebruik om die Britse leër so 'n bietjie by te kom. | |
3. Die Spookbul van FarelloneEerste verskyning Ons Vaderland, 11, 15 en 18 Junie 1932. Soos in ander verhale (bv. ‘Diep Rivier’ op p. 700) tree die speurder kol. Francois (‘Sois’) de Ville en sy vriend dr. Paul de Roubaix saam in hierdie verhaal op. Indien - die moontlikheid is reeds vroeër genoem - Marais hom as Paul de Roubaix gesien het, op wie is die karakter van Sois de Ville dan gebaseer? Die kombinasie herinner ewenwel aan Sherlock Holmes en dr. Watson. | |
4. Salas y GomezEerste verskyning Ons Vaderland, 6 Augustus - 3 September 1932. In Die Groot Verlange verskyn die volgende kommentaar op ‘Salas y Gomez’: ‘Naas knap gedeeltes bevat dit ook eienaardige insinkings, 'n weerspieëling van die omstandighede waarin dit geskryf is. “Ons moes hom dikwels eers wakker maak sodat hy 'n aflewering kon voltooi,” sê A.M. van Schoor, en Otto Schwellnus, nog meer eksplisiet: “Toe Eugène Marais “Salas y Gomez” | |
[pagina 1278]
| |
geskryf het, kon hy skaars op sy voete staan” ... Die verhaal “Salas y Gomez”, grotendeels in 'n morfine-beswyming geskryf, bied - passend genoeg - 'n blik op Eugène Marais se eie geestestoestand in hierdie tyd.’ sp. 537b: 'n Literêre kunsie wat Marais meermale gebruik, is om na werklike plekke en selfs persone te verwys ten einde sy verhaal die skyn van werklikheid te gee, in so 'n mate dat die leser soms begin wonder of the verhaal nie dalk waar is nie. Hier noem hy die naam Austin, waarmee hy stellig verwys na Alec Austin - ‘'n Transvaler wat in die veld grootgeword het’, soos Marais hom in Burgers van die Berge noem, die man wat sy bobbejaannavorsing op die plaas Doringhoek meegemaak het. p. 541a en b: In die oorspronklike uitgawe verskyn ‘Môreson’ sonder die kappie. ‘More’ is 'n algemene Transvaalse uitspraak. 'n Mens wonder of Marais die woord só gesê - en ook gespel - het. p. 556a: In Die Groot Verlange is gepostuleer dat gedeeltes van die tweede paragraaf 'n weerspieëling is van Marais se eie gemoedstoestand in hierdie tyd (1932). p. 567c: Die drome wat vanaf die derde laaste paragraaf op hierdie bladsy beskryf word, word in Die Groot Verlange gedeeltelik aangehaal (p. 445 e.v.), met die teorie dat hulle gebaseer is op 'n angsdroom wat Marais self ondervind het. Hierdie droom, lui dit in die boek, kom in die verhaal in verbloemde vorm voor, ‘maar nie erg verbloem nie, want hy (Marais) skryf onder verdowing en hy skryf onder druk, met min tyd vir vermomming of borduring.’ | |
5. Jonkheer van der Made tot ZevensterEerste verskyning Die Vaderland, 4 Februarie 1933. | |
6. Die Vlieënde HollanderEerste verskyning Die Vaderland, Maart en April 1933. Lig op die ontstaan van hierdie lang verhaal is gewerp deur 'n goeie vriend van Marais in die vyf jaar tot 1934, ene G.O. Lunnon, waarskynlik 'n ingenieur. Lunnon skryf as volg: ‘Marais and I were chatting in my laboratory one morning when he asked me whether I had any literature on “The Flying Dutchman”. All I had was the score of Wagner's opera and a book, Great Sea Stories of All Nations - both of which I lent him.’ In die boek kom twee verhale oor die Vlieënde Hollander en ander spookskepe voor. p. 616b: Die gedagte kom by 'n mens op dat Jan de Roode Beest van Buren met sulke strawwe spoedig nie meer baie manskappe kon oorgehad het nie. p. 622b e.v.: By wyse van hoë uitsondering het ek die verantwoordelikheid op my geneem om omslagtige gedeeltes heeltemal te herskryf. Die eerste twee paragrawe van hierdie afdeling (van ‘Agulha de Villiers’ tot by ‘sy sonderlinge gedrag is’) het in die oorspronklike uitgawe as volg gelui: ‘Die gedrag van Agulha de Villiers by die aanhoor van die verhaal van die “verskyning” op die strand van Silwersand het 'n dieper indruk op dr. Ridder gemaak as wat die blote omstandighede skyn te regverdig. Sonder om self in staat te wees om 'n uitleg aan sy gevoelens te gee, het haar ontroering die skyn van geheimsinnigheid van die voorval in sy gemoed aansienlik verdiep. Sy weet iets wat sy met opset verberg; dit altans is 'n veronderstelling wat hy nie kan vermy nie. Hierdie vermoede het net gedien om sy besluit te versterk om dadelik en teen alle koste die geheim te ontsluier, en dadelik uit te vind wie die man was, wat van hom geword het en wat die oorsaak van sy sonderlinge gedrag is.’ |
|