Fourie en sy vrou, Oreade, is weer terug op Gannapan - alleen. Die ou vader is in gevangenskap op Ceylon dood en die ou moeder het haar lyding in een van die Engelse vrouekampe geëindig.
Al wat Petrus en Oreade nog op Gannapan staande gevind het, was die twee wit pilare wat hulle nog geken het as ‘Ounooi’ en ‘Isaak Slyk’.
Van die ou volk wat agter- en min of meer getrou gebly het, het hulle die storie van die trommel geld te hore gekom. Hulle het van Coenrad se verraad gehoor en was verseker dat ou Skottelgoed net een boodskap nagelaat het, naamlik dat hy die geld uitgehaal en weer op 'n veilige plek weggesteek het.
Van Coenrad se verraad was daar daadwerklike bewys genoeg. Kort na ou Skottelgoed se dood het hy met 'n ander kolonne na Gannapan teruggekom. Dit het spoedig geblyk dat hy die Engelse van die geld vertel het en aangebied het om die plek te kom aanwys. Die kolonne het weke lank op Gannapan gekampeer en nag en dag was hulle met die verraderlike Coenrad as gids aan soek. Binne 'n omtrek van 'n vierkant myl is al die miershope uitgespit - en tevergeefs, want die beloning wat Coenrad aan die end ontvang het, was vyf-en-twintig slae met die muilstring!
Met al die ontberinge en lyding wat al die teruggekeerde Boere ondervind het, het Petrus sy boerdery weer begin en uiteindelik die woonhuis weer opgebou, met die twee wit pilare as die enigste oorblyfsel van die ou aanleg. Omtrent die trommel geld het hulle alle hoop lank reeds laat vaar, ofskoon dit by dié geleentheid vir hulle 'n onskatbare rykdom sou gewees het. Die skrale huisgesin was daadwerklik hongerlydende, met uiterste gebrek aan klere, meubels en plaasgereedskap.
En so het dit gekom dat Petrus en Oreade op 'n sekere nag in die voorhuis op seepkissies voor 'n misvuur sit. Dit was 'n bitter koue winternag. Hulle was besig om die donker toekoms te bespreek, toe hulle skielik deur die dodelike stilte van die leë huis 'n geluid hoor wat hulle albei 'n verpletterende skrik deur die lyf jaag. Dit was 'n ritmiese geklop: een-twee, een-twee-drie, een-twee.
Oreade kon die uitroep nie weerhou nie: ‘Liewe Here, dit is Moeder!’
Dit was haar bekende geklop op die vloer om die ou Boesman te roep.
Indien daar die minste twyfel was, is dit spoedig in sekerheid omgesit, toe hulle haar stem duidelik hoor uitroep:
‘Skottelgoed, Skottelgoed, kom gou!’
En skielik word aan die deur van die voorhuis 'n harde geklop gehoor.
Enige minute lank sit Petrus en Oreade mekaar doodsbleek en woordeloos en aanstaar.
Dit was Petrus wat die eerste sy moed teruggevind het. ‘As dit Moeder is, watter kwaad of leed sal sy ons aandoen?’ en met dié woorde stap hy na die deur en trek dit wyd oop.
Nòg gees, nòg mens het daar gewag.