| |
3 Die Spookbul van Farellone
Kolonel Francois de Ville - ‘Sois’ de Ville, soos hy onder sy intieme vriende genoem is - is in 'n yl bewoonde streek op die hang van die Transvaalse Hoëveld en op die grens van die grootste naturellegebied binne die Unie van Suid-Afrika gebore. Hier het hy ‘onder die swartes’ grootgeword.
Die beskaafder kant van sy opvoeding het hy in 'n klein plaasskooltjie, met 'n ou Hollandse matroos as ‘meester’, geniet. Van sy jongste dae af was hy in die omtrek beroemd as 'n perdetemmer, geweerskut en om sy veldkennis oor die algemeen. Met die taal en gewoontes van die swartmense was hy net so vertroud as met dié van sy eie ras.
Hy was nog maar 'n baie jong seun toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek en nieteenstaande ouerlike - meer bepaald ‘moederlike’ - teenstand, het hy met die eerste kommando uit sy wyk saamgery. Dit is natuurlik histories bekend hoe gou hy vir hom in die groot worstelstryd 'n naam as verkenner verwerf het, totdat van hom byna net so dikwels in die Engelse oorlogsberigte melding gemaak is as van die groot Boeregeneraal onder wie hy gedien het.
Ná die oorlog is aan hom 'n offisierskap in die pasgestigte polisiemag aangebied wat hy, na lang aarseling, en met 'n erkende gewetensbeswaar aangeneem het. Hier het sy verkennersgenie, sy veldondervinding en sy kennis van die ka- | |
| |
rakter, gewoontes en tale van ons vernaamste naturellestamme hom goed te pas gekom. Hy het die stigter en later die hoof van 'n afdeling in die destyds georganiseerde geheime polisie-afdeling geword. Hier het hy sy pligte trou en deeglik nagekom, ofskoon hy gedurig, aan privaatvriende altans, verklaar het dat die werk vir hom haatlik is en dat hy na sy aftrede - hoe ver in die toekoms dit destyds ook al was - as 'n verlossing vooruitsien.
Die verlossing het gouer gekom as wat hy miskien gedink het. In 'n skermutseling met opstandige naturelle is hy swaar gewond, so swaar dat sy lewe lank in gevaar was. Voordat hy die hospitaal kon verlaat, is hy deur die geneeshere as ongeskik vir verdere diens verklaar en tot groot en openlik erkende spyt van die hoofde van die departement moes hy sy ontslag neem met 'n pensioen, ‘te klein om van te lewe en te groot om van te sterwe’. Hy het toe nog nie sy dertigste verjaarsdag bereik nie, sodat hy in die tyd van sy ontslag vooruit kon sien na - waarskynlik - die grootste deel van sy lewe met ‘niks om te doen nie’.
Lank voor sy amptelike aftrede het kolonel De Ville 'n ou blokhuis op die kam van die Blouberge gekoop. Hiervandaan had hy 'n pragtige uitsig oor die groot stad aan die een en oor die afgeleë Bosveld aan die ander kant. Solank hy nog in diens was, het hy al sy vakansies in die Blokhuis deurgebring. Die ontginning van 'n verbasende rotstuin - in verband waarmee hy net die natuur in gewenste rigtings moes lei - en die verbetering van die Blokhuis tot 'n skone en gerieflike woning het by hom mettertyd 'n liefhebbery geword wat die grootste deel van sy vrye tyd in beslag geneem het. Hier het hy hom dadelik ná sy ontslag met twee ou bediendes gevestig. Hier kon hy voel asof hy in die vrye veld verkeer, terwyl die dreuning van die magtige stad dikwels hoorbaar was en die glans van die goudduine wat die stad op die gesigseinder afbaken, op helder dae uitblink soos 'n smaldeel haelwit slagskepe in enkele linie na 'n onsigbare hawe oor die verste bult gerigsnoer.
Hier op die bergtop het ek toevallig met kolonel De Ville kennis gemaak gedurende 'n plantkundige bergtog. Deur gemeenskaplike belange het 'n band tussen ons ontstaan wat aangegroei het, totdat ek my intrek in die Blokhuis geneem het. Ek het vroeër plantkunde op een van ons hoërskole doseer en was toe op onbepaalde verlof om enkele van ons plantsoorte te rangskik en die rangskikking te boek te stel.
Dit was ongeveer ses maande na die aanvaarding van ons kommunistiese huishouding dat ons 'n voorval deurleef het wat ek beskou as die sonderlingste avontuurlike gebeurtenis wat ek gedurende my hele lewe deurgemaak het.
Dit was op 'n sekere middag, taamlik laat, 'n uur of twee voor sononder; De Ville en ek, loom in die strelende bergluggie, was op die veranda in gemakstoele, verdiep in die aanskouing van die kaskenades van die menigte mak dassies wat ons bergtuin tot hul baljaarplek uitgekies en so vreesloos geword het dat hulle gewoond was om by die veranda op te spring en aangebode stukkies
| |
| |
brood en koek uit ons hande te neem. Ek dink dat ons albei af en toe ingesluimer het, toe ons skielik helder wakker geskud word deur die gedruis en kerende geklop van 'n kragtige motor wat op ons kronkelpad na die Blokhuis aankom. Die Engelse militêre ingenieurs het die pad op so 'n wyse aangelê en in die bergrand uitgekap dat 'n rytuig onsigbaar was totdat dit die hoogte bereik en feitlik voor ons deur stilhou.
Ek herinner my dat ons op lui-lomerige wyse begin raai het wie dit kan wees wat ons op dié uur van die dag kom besoek.
Ons besoekers kon destyds onder slegs drie hoofde gerangskik word. Aan kolonel De Ville is nog af en toe deur goudmynmaatskappye en somtyds deur die Regering privaatwerk aangebied, wanneer die een of ander belangrike ondersoek aangaande die planne en gevoelens van die een of ander inboorlingstam ingestel moes word. Dit kon dus 'n boodskapper in verband met werk van hierdie aard wees. En dit was wat ons albei in ons gissinge vermoed het.
Ons het ook taamlik dikwels besoek gekry van ‘sightseers’ wat van ons bergtuin en woning gehoor het as 'n skouspel wat die moeite werd is om te sien en hierdie soort was besoekers wat - vrees ek - ons selde met gepaste gasvryheid ontvang het. En dan was daar persoonlike vriende wat, dikwels sonder uitnodiging, die naweek by ons deurgebring het.
Maar soos ek sê, ons gissinge was op die eerste soort verenig, toe 'n groot, blink motor om die hoek van die huis sigbaar word en voor die trappies van die veranda stilhou. Ons spring altwee uit ons stoele op, toe ons merk dat 'n dame aan die stuurwiel sit en dat sy die enigste persoon in die motor is.
Terwyl ons die lengte van die veranda afstap na die trappies - en De Ville loop stadig weens die hinderlike mankheid wat hy van sy wonde oorgehou het - het die dame ons ingewag sonder om uit te stap of selfs die deur van die motor te open. Ek herinner my dat die gedagte my te binne geskiet het: dit is 'n jong dame - deur slawebediening verwen - wat onmiddellike onderdanigheid van elke man te wagte is. Ek fluister sag tot De Ville: ‘'n Kliënt wat jou hulp kom soebat om haar man met die oog op 'n egskeiding te beloer!’
Sy enigste antwoord was die toewerping van 'n nydige blik toe ons die trappies afgaan. Ek wis dat daar vir hom niks meer haatliks was nie as die nogal taamlik dikwels gedane versoeke dat hy sy dienste beskikbaar moet stel as privaatspeurder om die een of ander geval van ongeoorloofde liefde spoor te sny. Hy was gewoonlik die beleefdheid self, maar ek het dikwels gesien dat 'n versoek van hierdie aard hom so woedend maak dat hy - selfs teenoor 'n dame - dit allesbehalwe hoflik van die hand wys.
Ek was voor hom om die deur van die motor oop te maak en die jong dame te nooi om uit te klim. Sy het 'n paar minute stil gesit, terwyl haar oë belangstellend oor die bergtuin, die dassies en ons woning swerwe. Klaarblyklik was sy dit alles nouliks te wagte en het dit haar verwondering gewek.
| |
| |
‘Verontskuldig my onbeleefdheid,’ sê sy eindelik met 'n aanvallige glimlag, ‘maar jul kasteel is 'n weinig asemberowend. Ek verwag elke oomblik om 'n optog van kaboutertjies te voorskyn te sien kom. U is natuurlik dr. De Roubaix,’ sê sy, terwyl sy my die hand reik: ‘en u’ (met 'n nog vriendeliker en aanvalliger glimlaggie teenoor De Ville) ‘herken ek van u nuusbladfoto's - kolonel De Ville?’
Ons mompel die gewone beleefdhede en begelei die jong dame na die veranda, waar sy grasieus en met die gewone selfsugtigheid van die geslag my private gemakstoel inneem met die nonchalance van 'n vorstin aan wie al die beste dinge vanself en sonder moontlikheid van teenspraak toekom.
Nadat sy gaan sit het, neem sy weer - sonder die minste teken van selfbewustheid - ons dassies, ons omgewing en ons onwaardige persone in stadige oënskou.
Margaret du Plessis - gebore Margaret MacDonald - was bestem om 'n aansienlike rol in die drama waarvan hierdie ontmoeting die eerste bedryf was, te speel en dit is derhalwe miskien wenslik dat ek die destydse voorkoms van hierdie merkwaardige vrou kortliks beskrywe, asook die indruk wat sy op 'n toeskouer gemaak het.
Margaret du Plessis was destyds in haar vier-en-twintigste jaar. Sy was bo die gemiddelde lengte van vroue. Ek sou haar nie juis 'n beeld van fyn skoonheid noem nie, maar sy het iets gehad wat in 'n vrou veel meer as popagtige mooiheid beteken. Uit haar hele persoonlikheid het 'n aantreklikheid gestraal wat haar in enige geselskap dadelik merkbaar sou maak. Die kleurspel van haar gelaat en hoof was buitengewoon, en was die aanvalligste eienaardigheid van haar voorkoms. Met 'n besonder fyn vel het 'n delikate kleur wat deur geen kunsmatige aanbrenging ooit geëwenaar kon word nie, gepaard gegaan. Bokant haar oë en melkwit voorhoof was 'n massa pragtige, gekartelde hare van egte koperrooi - die wonderkleur wat ewig aan die naam van Titiaan verbonde is. Wat hierdie märchenhafte kleurspel meer as buitengewoon gemaak het, was 'n paar pragtige donker oë wat elke skakering van haar gemoed weergee. Iets aanvalliger as haar glimlag het ek nooit in 'n vrou gesien nie. Haar houding was vorstelik en haar liggaam het al die pragtige, vroulike lyne beklemtoon wat gewoonlik aan 'n atletiese ontwikkeling te danke is.
‘Ek het u met my ontydige besoek verras, kolonel De Ville? ... En ek het myself nog nie voorgestel nie; u ken my natuurlik nie?’
‘O, ja, mevrou,’ antwoord De Ville hoflik, ‘daar is min koerant- en tydskriflesers aan wie u gelaatstrekke onbekend is. Die nuusblaaie was ook die wyse van my bekendwording met u. U is natuurlik mevrou Du Plessis van Farellone.’
‘Dit is nogal vleiend, kolonel,’ sê sy met 'n vrolike laggie, ‘maar ek beloof om u tyd nie onnodig in beslag te neem nie. Ek sal u dadelik die rede vir my be- | |
| |
soek vertel. En, o, kolonel, ek smeek u, ek bid u, om my geduldig aan te hoor en om nie kortaf my versoek van die hand te wys nie - want daar is 'n versoek en ek is deur vriende en bekendes van u op die moontlikheid van 'n weiering voorberei. Ek het my moed in albei hande geneem om te kom ... en boonop alleen te kom. Maar kolonel De Ville, ek verkeer in die diepste ellende, 'n voortdurende lyding van angs wat my lewe haas ondraaglik maak. As u my hulp weier, dan weet ek waarlik nie wat my verder te doen staan nie. Om so aan te hou, kan ek nie ... kan ek nie.’
Haar gelaatstrekke het dadelik verander en dit was duidelik dat sy onder die diepste gemoedsaandoening spreek. Daar is 'n skittering van trane in haar oë wat sy met 'n vinnige - byna nydige handbeweging - met haar sakdoek wegvee.
‘Wees nie bang nie, mevrou,’ sê De Ville gerusstellend, ‘en haas u nie. As dit enigsins moontlik is, kan u van my hulp verseker wees. Wil u alleen met my praat?’
‘O, nee, kolonel,’ sê sy haastig, ‘ek weet alles van die vriendskap tussen u en dr. De Roubaix. En hy is 'n geleerde man, 'n wetenskaplike en miskien ... miskien ... sal hy ook gewillig wees, wanneer hy alles hoor, om my te help ... saam met u.’
Sy het 'n smekende, radelose blik na my gerig wat 'n gevoel van diep medelye gewek het voordat ek selfs die oorsaak van haar angs geweet het.
‘Ek sal u dadelik alles vertel en u kan nooit dink hoe moeilik dit is ... hoe uiters moeilik ... om alles in woorde te stel, sodat u dit sal glo nie. Ek kan myself maklik in u plek stel en weet wat ek sou dink ... Ek sou dadelik sê: “Dit is 'n histeriese vrou wat aan waansinnige illusies ly”. Ek bid u, kolonel en dr. De Roubaix - as die vermoede van kranksinnigheid gedurende die loop van my verhaal ooit by u opkom om dadelik en sonder die minste aarseling dit aan my bekend te maak. U sal my nie seermaak nie; ek verseker u dit ... en dit sal ons al drie tyd en moeite en - aan my meer bepaald - geweldige pyniging bespaar, want ek verseker u dat dit vir my 'n foltering is om my storie te verhaal en dit sou duisend maal pynliker wees as ek moet agterkom dat ek dit aan ongelowige ore vertel wat uit 'n verkeerde beleefsheidsin voorgee om te hoor en te glo.’
‘Stel u gerus, mevrou, ons weet dat u nie kranksinnig is nie. Ons het albei genoeg ondervinding om 'n fout in hierdie rigting uit te sluit. Gaan maar gerus voort.’
‘Goed, kolonel. Ek moet u vooraf sê dat die saak my man betref ... Francois du Plessis ...’
‘Verskoon my dat ek u in die rede val, mevrou. Laat my toe - om teleurstelling te voorkom - om aan u duidelik te maak dat ek geen speurderswerk aanneem nie. Ek is onbekwaam om my in 'n egskeidingsaak te bemoei. U sal honderd privaatspeurders vind wat duisend maal bekwamer sal wees as ek om u te help, indien daar enige misverstand is tussen u en u man ...’
| |
| |
Mev. Du Plessis kyk hom verbysterd aan. ‘Ek verstaan u nie, kolonel De Ville. Misverstand ... egskeiding ... O, nou sien ek! U is heeltemal van die spoor af. Daar is geen sprake van misverstand of egskeiding nie. Dit is net die teenoorgestelde. Ek soek u raad en bystand omdat ek weet dat my man se lewe elke oomblik van die dag in die grootste gevaar is ... dat selfs nou, terwyl ek hier met u sit en praat ...’
En hier oormeester haar gemoedsaandoening haar weer. Haar stem sak in 'n hees, skaars hoorbare fluistering weg en sy moet verskeie male sluk voordat sy weer 'n woord uitkry.
‘Ek vra u om verskoning, mevrou,’ sê De Ville dadelik, klaarblyklik verleë en diep aangedaan. ‘Gaan asseblief voort. Ek sal u nie weer hinder deur dom aanmerkings te maak nie.’
Met 'n statige hoofbuiging in stilte erken sy die verontskuldiging.
‘Kolonel De Ville, glo u in die bewering wat so dikwels gedoen word dat 'n vrou somtyds oor onderbewustelike gewaarwordings beskik? Het u enige ondervinding van sulke gevalle?’
‘Ja, mevrou, ek glo dit en het verskeie male dergelike gevalle beleef. Natuurlik is daar 'n beperking tot sulke gewaarwordings wat in die wandel onder ons mense voorgevoelens genoem word. Maar ek glo stellig dat die natuurlike uitsoeking by die vrou as beskermingsmiddel 'n veel hoër mate van voorgevoel vir gevaar ontwikkel het as by die man wat dit nie so nodig het nie.’
‘Dankie, kolonel, nou sal ek met meer gerustheid voortgaan. Want ek moet u vooraf waarsku dat die beste getuienis wat ek voor u kan lê uit voorgevoelens bestaan en ek gaan u vra om dit sonder enige twyfel aan te neem, en te glo ... want dit is die heilige waarheid.
Ek weet nie of u bekend is met al die ingewikkeldhede van die Du Plessisfamilie van Farellone nie. In enige geval sal ek u alles van Farellone kortliks vertel, anders sal u my storie moeilik begryp.
U het natuurlik dikwels gehoor van die generaal Herkules du Plessis van Farellone en hom waarskynlik dikwels gedurende sy lewe gesien.’
Ons knik altwee bevestigend.
‘Nieteenstaande sy hoë ouderdom het hy in die oorlog die naam gewin van 'n bekwame en onverskrokke krygsman. Wat u miskien nie weet nie, is hoe diep die saak van die Republikeinse onafhanklikheid hom geraak het. Hy het tot die bitter einde uitgebly en was tot die laaste vuur en vlam teen aanname van die Engelse vredesvoorwaardes. Sy voorstel was dat al die kommando's wat nog in die veld was, 'n eed moes aflê om nie oor te gee nie - dat elke man sy lewe in die saak moes opoffer, dat hulle moes aanhou veg, totdat geen enkele Boer meer op die been is nie. Vir 'n ouman soos hy was 'n voorstel van hierdie aard nie te skrikwekkend nie, maar die seuns en jong mans in sy kommando het natuurlik anders daaroor gedink. Vir hulle was die lewe nog te aanloklik. Nietemin be- | |
| |
staan daar geen twyfel nie dat die ou generaal ten laaste, in die bitterheid van sy siel, werklik probeer het om sy lewe op te offer. In die laaste aanval wat op die Engelse gedoen is, is hy so swaar gewond dat hy die laaste paar weke van die oorlog vanuit 'n Engelse hospitaal moes gadeslaan en dit het maande geduur voordat hy weer gesond was.
Van Farellone het u ook ongetwyfeld dikwels gehoor. Die prag en weelde van die ou plaas is te danke aan die feit dat dit vyf geslagte lank reeds in die Du Plessis-familie gebly het en dit weer is te danke aan klein gesinne. Dit was nooit nodig om Farellone op te sny en onder 'n skaar kinders te verdeel nie. Soos u weet, het die ou generaal self slegs twee kinders gehad - twee seuns van wie die oudste, Charles, nog lewe. Die noodlot het dit gelukkig so bestier dat Farellone nie deur die Engelse verniel is nie. Daar was 'n permanente Engelse kamp in die nabyheid en die offisiere het die woonhuis van Farellone tot hoofkwartier gemaak. So het Farellone onbeskadig gebly. Selfs die meubels - die waardevolste altans - het die generaal gered deur dit in spelonke weg te steek en ander stukke aan sy plaasvolk toe te vertrou. Die volk van Farellone het verbasend getrou gebly, sodat die gesin Farellone na die oorlog teruggevind het in byna dieselfde toestand as wat dit was toe hulle dit verlaat het. Ek sê gesin, maar daar was slegs die ou man en sy twee seuns, Charles en Armand, wat terug sou kom. Hulle het tot die laaste onder die ou generaal geveg, maar die moeder van die gesin is in 'n Engelse kamp oorlede. Armand is kort ná die oorlog getroud en binne enkele maande na sy troue is hy dood. Charles, die oudste seun, het nooit getrou nie en is nou nog ongetroud. Die gesin het dus uiteindelik uit slegs drie persone bestaan: die ou generaal, sy seun Charles en Armand se vrou. Maar dit lyk asof die bewoners van Farellone tot 'n periode van ramp gedoem was. Armand se vrou is oorlede met die geboorte van haar kind - 'n seun wat vyf maande na die dood van haar man gebore is. Die gesin is dus nog verder ingekrimp tot slegs die ou vader, die oudste seun Charles en die babatjie wat Armand se vrou nagelaat het.
Menere, ek vertel u dit alles omslagtig om die gebeurtenisse duidelik te maak.
Hierdie opeenvolging van rampe het die ou generaal diep geraak. Hy het 'n al hoe meer teruggetrokke lewe gelei. Sy bure het hy nie meer besoek nie en nooit iemand na Farellone uitgenooi nie. Hierdie eensame lewe in die enorme ou huis het natuurlik bygedra tot die ongunstige wending wat in sy karakter bespeurbaar was. Van Charles het hy maar min gesien en met sy privaatsake het hy hom maar min bemoei. Charles het geen begeerte om in Farellone opgesluit te lewe nie. Die grootste gedeelte van sy tyd het hy in die groot stede deurgebring. Hy het renperde op Farellone aangehou en was nooit van 'n baan afwesig nie. Hy het spoedig in die stede 'n naam verwerf as 'n bemiddelde man, 'n gunsteling van die fortuin en 'n getroue volgeling van die joie de vivre. Die
| |
| |
generaal het Charles se bedrywighede egter uit 'n ander oogpunt beskou. Die skatkis van Farellone moes af en toe uitgeput word om die nodige middels vir Charles se vrolike lewe te verskaf. Die ou generaal was nooit suinig nie, maar Charles het ongetwyfeld sy vrygewigheid tot brekens toe getoets.
Intussen het die ouman al hoe meer aandag aan sy kleinkind begin skenk. Vandat die kind kon loop, het die generaal hom gedurig by hom gehou. Hy was ongelukkig wanneer klein Armand 'n paar minute lank afwesig moes wees. Sy lewe - so word deur die ou bediendes vertel - was 'n marteling toe Armand skool toe moes gaan. Sy enigste vooruitsig in die lewe was die vakansies. Hy het al lank besluit gehad dat Armand 'n boer moet word en in besit van Farellone moet bly. Ek dink daar was net twee dinge in die wêreld wat hy werklik gedurende sy laaste jare bemin het: Armand en Farellone.
En toe het die noodlot dit so bestier dat ek die laaste ramp was wat die ouman voor sy dood moes tref. Armand en ek het mekaar op die landboukollege ontmoet waar hy 'n kursus moes deurmaak om hom vir die landboukundige bestuur van Farellone te bekwaam.
Ek dink dat ons vir mekaar voorbestem was. Ons het verlief geraak en Armand het met sy gewone voortvarendheid besluit dat ons moet trou sodra hy met die kursus klaar is. Ek het 'n bietjie teenstand gebied en langer uitstel aangeraai. Maar Armand wou van geen uitstel hoor nie en uiteindelik het ek maar toegegee.
En toe kom die groot saak van “ouers vra” - soos dit onder die oumense genoem word. Van my kant was daar niks te vrees nie, maar Armand het van die begin af twyfel gekoester. U weet waarskynlik dat die generaal uit die oorlog een ding oorgehou het en dit was 'n bitter, onwrikbare, vlammende haat teenoor die Engelse as 'n volk. So iets as vergeet en vergewe, het hy nie alleen verfoei nie - hy kon dit eenvoudig nooit verstaan nie. Dat die jonger geslag Afrikaners sy gevoelens nie langer deelagtig was nie, kon hy ewe min verstaan. 'n “Engelsgesinde” Afrikaner was by hom eenvoudig “verraaier” - en daarmee basta!
Armand en ek was dus moeilikheid te wagte, maar ons was skaars bereid vir wat werklik gebeur het. Die ouman het in 'n storm van byna spraaklose woede geraak. Armand met 'n Engelse meisie trou! Liewer, veel liewer sou hy hom dood in sy graf sien.
Dit is onnodig om die hele loop van die stryd te verhaal. Toe die generaal werklik besef dat Armand net so beslis as hy is - dat hy gereed was om alles op te offer voordat hy my laat vaar - nie alleen Farellone nie, maar ook die liefde van sy oupa, toe het dit Armand voorgekom asof die teenstand van die heer skielik verslap. Sover het hy toegegee: dat hy met my sou kennis maak. En toe was alles halsoorkop. Onmiddellik word ek uitgenooi om die volgende naweek op Farellone deur te bring.
| |
| |
Onthou dat ek niks van hierdie loop van sake geweet het nie. U sal lig begryp met hoeveel blydskap ek die telegram ontvang het en hoe opgewonde ek na die besoek uitgesien het ... En die ontnugtering het laat gekom.
Die ouman het my met die grootste hoflikheid ontvang. Uiterlik was daar geen spoor van die bitterheid in sy hart nie - dit het my voorgekom asof hy dit werklik geniet om my al die prag en praal van Farellone te toon, en my af en toe die geskiedenis van die gebied en die familie te vertel.
U weet dat generaal Du Plessis een van die uitsonderings uit sy geslag was, deurdat hy 'n opgevoede - ek mag byna sê, 'n geleerde man was. Hy was drie Europese tale magtig en 'n belese man in al drie. In hierdie omgewing was hy 'n besonder aangename gesel. Selfs sy familietrots was iets interessants. Hy het my ingenome die geskiedenis van die ras vertel; sy herkoms uit een van die oudste en hoogste graaflike families in Europa, naamlik die burggraafskap van Richelieu en Fonsac. Hy het my van die familieplaas in Groot-Drakenstein vertel en hoe Napoleon, na die Vrede van Amiens, die graafskap aan sy oorgrootvader aangebied het en hoe die ou Afrikaner die aanbod geweier en sy plaas langs Bergrivier verkies het bo al die glorie van die keiserlike hof van Frankryk. Ek was met alles diep ingenome ... met die pragtige ou huis, die kosbare ou meubels, die heerlike tuin, boorde, wingerde, landerye ... alles was sprokiesagtig.
En toe - op die tweede dag van my besoek - toe val die bom! Die ouman het my alleen na die lemoenboord begelei en daar het hy my te kenne gegee - altyd baie sag en hoflik - dat hy nooit sy toestemming tot ons huwelik sou gee nie. Armand sou moes kies tussen die besit van Farellone en alles wat hy na te laat het, en arme my! En dit is alles deur my. Hy sou my as 'n dogter kon verwelkom, maar hy het te veel van sulke huwelike gesien. Ek sou nooit gelukkig wees nie en ek sou spoedig die dag vermaledy waarop hy sy toestemming tot die huwelik gegee het. Met Armand was dit anders gesteld ... 'n man kan nogal regkom, maar 'n vrou ... Nee, dit was nie aan te dink nie! En die kinders ... wat moet van die kinders word? Hoe moet aan hulle vertel word van die onreg - die moorde wat hul moeder se landgenote teenoor hul vader se ouers gepleeg het?
Tevergeefs het ek gepleit dat ek van Skotse afkoms is, dat ek in alle opsigte 'n Afrikaner is, dat ek Afrikaans net so goed soos Engels praat, dat my hele simpatie met die Boere in hul groot stryd was en dat my nasionaliteit in dié van my man opgeneem sou word en verdwyn. Ek het spoedig ingesien dat daar geen salf aan te smeer is nie en ek het besluit om Armand se hele toekoms nie te vernietig nie. Ek sou weier om sonder sy oupa se verlof met hom te trou.
Dit is onnodig om te beskrywe wat dié aand plaasgevind het. Genoeg is dit vir die doel wat ek beoog om te vertel dat ek Armand eindelik tot my sienswyse oorgehaal het. Die volgende oggend het ek Farellone en Armand - soos ek ge- | |
| |
dink het - vir ewig vaarwel gesê. Ek moet verklaar dat daar by nie een van ons twee die minste terughouding was wat ons belofte aan die generaal betref nie. Ons het verklaar dat ons verlowing op 'n end is en dat ons in geen huwelik sou tree solank hy dit verbied nie. Ons was vas onder die indruk dat hy die nakoming van ons belofte deur sy testament sou verseker, sodat ons na sy dood ook gebonde sou bly.
Kort na hierdie affêre moes die ou heer die laaste en miskien vir hom die ergste ramp van sy lewe ondergaan.
Charles het hom reeds veel hoofbrekens gekos en ten laaste moes hy iets oneerliks doen wat sy vryheid in gevaar gestel het. Wat dit presies was, weet ek nie, maar ek weet dat hy in die nag na Farellone aangevlieg gekom het met die polisie op sy spoor. Die generaal het hom sy eie motor gegee om mee te vlug, nadat hy 'n akkoord met hom gemaak het dat hy gereeld 'n maandelikse toelae sou ontvang, solank hy buite die grense van die Unie bly.
Hierdie vlek op die eer en die naam van die familie het seker meer gedoen as enige ander ramp wat hy beleef het om sy dood te verhaas. Hoe dit ook al mag wees, 'n maand na Charles se eskapade het die ouman aan beroerte beswyk.
Twee maande na sy dood is Armand en ek getroud. Daar was niks in die testament wat die huwelik verhinder het nie. Ons het natuurlik vooraf regsgeleerdes daaroor geraadpleeg en ons het geen gewetensbesware gehad nie. Daar was bewyse dat die ou heer van plan was om Armand in hierdie opsig na sy dood vry te laat.
Die testament was in ander opsigte 'n baie eienaardige dokument en is die onmiddellike oorsaak van my besoek aan u. Daar is 'n bepaling dat die vruggebruik van Farellone in gelyke dele aan Charles en Armand behoort, maar indien Armand trou en sodra 'n kind van hom gebore word, word Farellone die uitsluitende eiendom van Armand en Charles kry niks meer nie as 'n toelae waarvoor die generaal reeds voor sy dood voorsiening gemaak het. Albei het reg op die gelyke gebruik van die woonhuis gekry.
Charles het gou weer verskyn. Dit lyk of die generaal voor sy dood die moeilikheidjie uit die weg geruim het - sover as geld dit kon doen. Hy is direk na die stad en ons het later verneem dat sy eerste werk was om regsgeleerdes te raadpleeg om te verneem of ons huwelik nie feitlik 'n skending van die testament was nie. Hy het natuurlik van sy vader se teenstand geweet. 'n Week daarna maak hy sy verskyning op Farellone en ek kan u verseker dat niemand aangenamer en liefdevoller kon gewees het nie. As Armand sy eie seun was, kon hy hom nie met tekens van groter blydskap ontmoet het nie. En ofskoon oom Charles toe vir die eerste maal met sy nuwe niggie kennis maak, het ek moeite gehad om sy emosionele omhelsing effens af te weer!
En met sy koms het daar 'n swart skaduwee oor Farellone neergesak wat, soos dit lyk, elke dag in gevaarlikheid toeneem.
| |
| |
Nou, kolonel, ek het my man belowe om alles wat gebeur het sonder oordrywing en sonder afwyking te vertel. Ek het die grootste moeite ondervind om hom oor te haal om my toe te laat om u te raadpleeg. Hy het uiteindelik, traag en onwillig, sy toestemming gegee, maar hy het sekere beloftes van my geëis wat ek noukeurig sal probeer nakom. Hy het die voorwaardes gestel dat hy niks met die saak te doen sou hê nie. Hy sou my na die stad bring, maar ek moes u alleen sien. Dan moes ek vertel dat hy persoonlik vas daarvan oortuig is dat die agterdog wat by my ontstaan het net uit my lewendige verbeelding gebore is ... Wat homself betref, sou hy net so maklik sy eie regterhand in die saak verdink as sy oom, Charles du Plessis. Van sy kindsdae is daar tussen hulle dieselfde diep liefdesgevoel as tussen vader en seun. Oom Charles is in baie opsigte 'n sorgelose “jolly” kêrel wat sonder om na te dink dinge mag doen wat uit die wetlike oogpunt laakbaar is - maar dat by hom die gedagte aan moord kan ontstaan en dit teenoor die een persoon in die wêreld wat hy bo alle ander bemin, is eenvoudig vir Armand ondenkbaar. Ek moet ook vertel en nadruk lê op die feit (dit het hy herhaaldelik van my geëis) dat hy die volste vertroue in sy oom het en dat - buiten sy grootvader - daar nooit 'n bloedverwant was wat hy meer as oom Charles bemin het nie en daar het tot dusver niks gebeur wat sy liefde en vertroue in die minste geskok het nie.
Nou ja,’ gaan mev. du Plessis na 'n kort afbreking voort, ‘ek hoop dat ek my belofte aan Armand getrou nagekom het.
Het ek u nou die versekering gegee, kolonel, dat daar by my man nie die minste verdenking teenoor sy oom bestaan nie en dat hy alles net aan my senuweeagtigheid en verbeelding toeskrywe?’
‘Ek besef dit goed, mevrou, en sal dit gedurig in gedagte hou,’ antwoord De Ville. ‘Ek veronderstel dat ons nou by die middelpunt van u verhaal kom en ek kan u verseker dat dit my diep interesseer.’
‘Dankie, kolonel! U gee my nuwe moed! ... Ek sal probeer om gebeurtenisse wat hierop volg, in die volgorde soos dit gebeur het, te vertel sonder byvoeging of weglating van die geringste feit wat - op my altans - 'n indruk gemaak het.
Ons woon dus in Farellone as 'n gesamentlike huisgesin van drie.
Oom Charles volg maar nog sy ou lewenswyse. Hy is dikwels 'n week of twee afwesig in die stad. En hy bly nooit van 'n perdewedren, boks- of stoeiwedstryd weg nie, waar dit ook al mag plaasvind.
Ek wil u die atmosfeer van Farellone - soos dit nou bestaan - graag goed laat verstaan.
Wanneer hy tuis is, stel hy by rukke en stote groot belang in die boerdery ...
En dan is daar een feit aangaande oom Charles wat ek bo alles begeer om aan u duidelik te maak.
| |
| |
Daar is op Farellone - sowat drie myl van die woonhuis - 'n taamlike groot stat waar die plaas se volk al geslagte lank woon. Hulle is aan die Du Plessis-familie net so vas verbonde as die bome op die plaas.
Dit word van oom Charles vertel dat hy van sy kindsdae 'n groot gunsteling by die swart volk was. As klein seuntjie het hy dikwels van die huis na die stat weggeloop, waar hy altyd deur die inwoners, oud en jonk, verwelkom is. Toe hy ouer geword het, was die klonkies van die stat sy uitverkore speelmaats en die generaal het sy neiging in hierdie rigting oogluikend aanskou. En vandag is hy nog net so 'n groot gunsteling by hulle. Die state het sy terugkoms ná sy lang verdwyning met die grootste blydskap begroet. Die ou volk het in die middel van die nag na die huis gekom, toe hulle van sy terugkoms verneem en met trane sy voete omhels. Dit is nou nog sy gewoonte om elke week die stat te besoek en ure agtereen met die ou volk te gesels.
Sy inboorlingnaam is Pire i bona bosiga - die wolf wat in die donker sien.
En nou, kolonel, wil ek u vertel van twee voorvalle wat die werklike oorsaak is van al die angs en ellende wat ek moet verduur.
Daar is 'n ou wingerd op Farellone en byna honderd jaar al word daar elke jaar wyn gemaak en brandewyn gestook. Die generaal het 'n klein ondergrondse kelder laat maak en hier is onder andere 'n ankertjie wyn wat oor die tagtig jaar oud is. Armand is 'n baie klein drinker, maar een dag ná die ou man se dood het hy besluit om die ou wyn te proe. Hy het 'n kraf volgetap en ons het elkeen 'n glas daarvan gedrink. Hy het dit so aangenaam bevind dat dit 'n gewoonte by hom geword het om elke dag 'n glas van die ou wyn by sy ete te gebruik.
Toe oom Charles sy verskyning maak, het Armand die wyn by hom aanbeveel, maar dit was na sy smaak te soet. Tog het hy af en toe saans met ons daarvan 'n glas gebruik.
Omtrent vier maande gelede het oom Charles ons twee weke lank verlaat om wedrenne erens aan die kus by te woon.
'n Paar dae na sy vertrek het een van die plaasvolk skielik een aand siek geword. Dit was 'n Boesman-beeswagter, Windvoël by naam. Hy slaap in een van die buitevertrekke naby die huis, kry sy kos in die kombuis en is die enigste van die volk - buiten meide in diens - wat toegang tot die huis het.
Die jong het al hoe erger geword en teen die oggend was dit so ernstig met hom gesteld dat Armand in die motor dorp toe gejaag het om 'n dokter te haal. Die dokter het onmiddellik tot die gevolgtrekking gekom dat die jong die een of ander gevaarlike gif ingekry het en het ons duidelik gemaak dat sy lewe in die uiterste gevaar verkeer. Die enigste hoop was om hom so gou moontlik in die dorp te kry waar die nodige middels toegepas kon word. Armand het Windvoël saam met die dokter in sy motor ingeneem. Tot op daardie oomblik het hulle die Boesman tevergeefs ondervra na die moontlike bron van die vergiftiging.
| |
| |
Hy wou eenvoudig nie verklap nie, maar op pad het die dokter hom bang gepraat deur te verklaar dat hy alleen sy lewe kan red as hy gou kan uitvind watter gif dit is wat hy ingekry het. En toe vertel hy: dit is die ou wyn in die kelder. Die middag tevore, toe Armand en ek op 'n wandeltoggie na die lemoenboord was, het hy die sleutel in hande gekry en 'n kalbas wyn getap. Kort nadat hy die wyn gedrink het, het hy begin siek word.
In die dorp is spoedig vasgestel dat die gif arseen is en die dokters het verklaar dat sy ontkoming van die nouste was. In enige geval, hy het deurgekom en lewe vandag nog.
Merk op, kolonel, hoe naelskraap Armand ontkom het. Ek glo vas dat ons liewe Heer dit so bestier het dat die ongelukkige skepsel die wyn die middag moes gesteel het. Deur sy wandaad het hy Armand se lewe stellig - en waarskynlik myne ook - gered. Sien u, kolonel, hoe nou, hoe vreeslik nou Armand se ontkoming was?’
De Ville knik instemmend.
‘Ek begryp, mevrou.’
‘Vir die eerste maal het by my 'n gevoel van onrus, van onverklaarbare angs ontstaan. Armand het dadelik tot die gevolgtrekking geraak dat die Boesman 'n dipbottel in hande gekry het waarin daar nog dip was. Maar ek was met die uitleg nie tevrede nie. Ek het die kelder toegesluit en die sleutel in my besit gehou. Intussen het ek self 'n bottel van die wyn getap en in die stad laat ontleed. Die verslag van die skeikundige was dat die bottel 'n dodelike hoeveelheid arseen in die vorm van dip bevat.
Daar word 'n groot hoeveelheid dip op Farellone aangehou en, soos op die meeste plase, word daar baie onverskillig mee gewerk. Dit word in 'n buitekamer gepak wat nooit gesluit word nie en dit word vir 'n menigte doeleindes, behalwe die dip van vee, gebruik.
'n Paar dae later het oom Charles teruggekom ... U kan nooit begryp, kolonel, hoe ontroerd hy was, toe hom alles vertel is nie. Hy was eenvoudig verslae ... verbouereerd. Hy het Armand aanhoudend by die hand geskud met uitroepe van dankbaarheid dat hy nie van die vergiftigde wyn gedrink het nie. En by een geleentheid het hy uitgeroep asof dit hom toe skielik te binne val: “Magtig, Margaret, en jy ook - jy kon ook dood gewees het; ons kon al drie dood gewees het!” En daar was trane in sy oë, kolonel.
Dit was hy wat die eerste die groot vraagstuk geopper het: hoe het die dip in die wyn gekom? Niemand kon natuurlik 'n uitleg daarvan gee nie. En toe kon oom Charles nie rus voordat alles weer veilig gemaak is nie. Hy het self die kelder ondersoek en die halfaam na buite laat dra. Hy het toe ontdek dat die spon - 'n besonder grote - op die een of ander wyse uit die spongat geraak het. Buite het hy 'n gat laat grawe en die wyn daarin laat leegloop. Daarmee was hy nog nie tevrede nie. Die halfaam moes ook verbrand word. Hy het self die boom
| |
| |
met 'n hamer ingeslaan en toe kom daar binne die vat 'n groot dooie rot te voorskyn! U moet weet dat dip dikwels op Farellone gebruik word om rotte te vergewe en ons het verskeie male dooie rotte in die buitekamers gevind.
Oom Charles was vreeslik opgewonde oor die ontdekking van die rot. Hy het dit sorgvuldig bewaar en die volgende dag het hy Armand oorgehaal om met hom saam dorp toe te gaan om die rot te laat ondersoek. Die uitslag was verrassend - ek dink selfs vir oom Charles. Die skeikundige het verklaar dat die maag van die rot vol skoon arseen was - so vol dat dit gelyk het asof dit na die dood met geweld ingepomp is.
Onthou, kolonel, dit was die werklike woorde van die skeikundige aan Armand, voordat hulle hom al die omstandighede vertel het.
Oom Charles was werklik verheug oor sy ontdekking. Hy het dadelik aangeneem dat die hele saak nou klaar en helder is. Die rot het die dip ingekry, het toe water gesoek, soos hulle altyd doen, het deur die oop spon in die vat geval en die wyn vergiftig.
Maar, kolonel, dit het my nie tevrede gestel nie, en hoe meer ek daaroor nagedink het, des te meer het my twyfel toegeneem. Geen rot sou ooit skoon dip drink nie. En selfs as ek dit aanneem, dan was daar nog nie genoeg gif in sy liggaam om die hele vat te vergiftig nie. En bo alles was al die dip nog binne-in sy liggaam.
Nee, dit was nie die rot wat die wyn vergiftig het nie! Kan u dit insien, kolonel?’
‘Ek sien ten minste wat in u gemoed skuil, mevrou. U het tot die gevolgtrekking gekom dat die wyn met opset vergiftig is en dat die rot gebruik is om die spoor dood te maak.’
Mevrou Du Plessis haal met 'n sug haar skouers op. ‘Watter redelike mens sou tot 'n ander gevolgtrekking kom?
Let nog op een feit, kolonel. As Armand gesterf het, as hy in plaas van die Boesman die gif ingekry het, sou dit gebeur het gedurende die afwesigheid van oom Charles. Dae voor die ongeluk (as dit sou gebeur het) was hy myle ver van Farellone en eers dae na alles verby was, sou hy weer op Farellone verskyn.’
‘Ons gaan 'n bietjie te vinnig,’ antwoord De Ville met 'n glimlaggie.
‘Goed, kolonel,’ sê die dame ewe ernstig. ‘Ek sal voortaan my voet van die versneller afhou!
Maar luister nou aandagtig na die tweede voorval en by die einde sal u miskien geneig wees om meer petrol te gee ... Wees van een ding verseker: ek probeer om niks te vergroot nie; ek probeer waarlik om my eie gevoelens op die agtergrond te hou - maar dit is nie altyd moontlik nie.
Die herinnering aan die gebeurde het knaend op my gemoed gewerk ... en tog kan ek met beslistheid beweer dat ek geen lolpot geword het nie. Maar Armand kon sien dat iets my hinder en dit is hy wat 'n vakansie by die see voor- | |
| |
gestel het. Ek het die voorstel gretig aangeneem. En weet u waarom? Dit was nie omdat ek juis so graag wou gaan nie, maar daar het 'n woekerende verlange by my ontstaan om Armand van Farellone weg te kry. Ek wou hom tot elke prys weg hê, maak nie saak waarheen nie, solank hy weg is van Farellone.
Ons was drie weke by die see en ek sou dit volkome geniet het, het die gedagte aan terugkeer na Farellone nie by my 'n skrikbeeld geword nie. En tog het ek ou Farellone innig lief.
Teen die einde van die derde week ontvang Armand 'n brief van oom Charles waarin hy op ons onmiddellike terugkeer aandring. Die skiettyd sou binne 'n paar dae begin en Armand sou die beste van die wilde-eendejag kwyt wees as hy nie vroegtydig kom nie. Al die Du Plessis's is lief vir skiet en Armand het nooit die skiettyd op Farellone misgeloop nie. Ek kan net meld dat die generaal die wild, vernaamlik voëls, op wetenskaplike wyse aangekweek het. Oom Charles het bygevoeg dat hy self binne 'n paar dae op 'n sakereis moet vertrek en die plaas kan nie alleen gelaat word nie.
Ek het ingesien dat uitstel dinge niks sou verbeter nie en toe maar ingestem om terug te gaan. Maar ek het al die tyd 'n gevoel gehad asof ons na 'n begrafnis terugreis.
Dit was 'n paar dae na ons terugkoms - en oom Charles sou drie of vier dae daarna vertrek - toe die verskriklike ding gebeur. Ons was een oggend al drie in 'n stoepkamer bymekaar waar die geweers en ammunisie bewaar word. Die twee mans het natuurlik die skiettyd bespreek. Oom Charles het Armand vertel dat hy vanjaar besonder baie eende op die lang kuil agter die populierbos verwag en hy het reeds al die volk verbied om deur die voetpaadjies in die bos te loop, sodat die eende nie gesteur en verwilder sou word nie. Hy sou self nie daar wees nie, maar het Armand aangeraai om elke oggend vroeg die lang kuil deur die populierbos te nader, dan sou hy maklik twintig skote kry, terwyl die eende op en neer oor die kuil vlieg - solank hy hom goed skuilhou in die kant van die populiere. En toe gesels hulle oor geweers en patrone, en dit herinner oom Charles aan 'n pistool wat hy onlangs aangeskaf het. Hy haal dit uit 'n laai met die woorde: “Ek dink nie jy het dit tevore gesien nie”. Dit was 'n besonder groot outomatiese pistool wat sowat tien skote skiet. Saam met die pistool bring hy 'n handvol patrone te voorskyn uit die laai wat hy voor Armand op die tafel plaas ... Luister nou mooi, kolonel! ... Nadat Armand die pistool bekyk en die gewig beproef het, sê oom Charles aan hom: “Vul die magasyn en kyk hoe vernuftig is dit ingerig - die uitgooi van die patroon.”’
En toe sit mevrou Du Plessis 'n paar minute doodstil
‘Ek het van voorgevoel by die vrou gepraat, kolonel, maar ek moet erken dat dit my op stuk van sake nie die minste gebaat het nie, want nou, toe die dodelike gevaar my byna aanraak, het ek die minste voorgevoel van enige kwaad gehad ...
| |
| |
Armand het die magasyn vol gelaai en toe op instruksies van oom Charles werk hy die slot heen en weer sodat die patrone die een na die ander op die tafel voor hom uitval.
Die posisie was toe so’ - en sy beduie met haar hande asof sy weer in die stoepkamer sit: ‘Hier staan die tafel, hier staan oom Charles aan die end en daar sit Armand aan die ander kant van die tafel. Ek het in die hoekie naby die deur gesit. Toe Armand die patrone almal uit het, vra oom Charles: “Is hulle almal uit?” “Ja,” antwoord Armand en hy werk die slot nog 'n paar keer heen en weer om te wys dat die pistool leeg is. En toe reik oom Charles sy hand uit en neem die pistool van Armand. Hy stap 'n paar tree agteruit, totdat hy ongeveer in die middel van die kamer staan - wat taamlik lank is. Hy was toe ongeveer tien tree van Armand verwyder en staan vlak voor my. Hy lê met die pistool aan deur die venster, onderwyl hy nog vertel van die eienaardighede van die wapen; hoe goed dit gebalanseer en hoe fyn die straal is, ensovoort, en met die gesels draai hy, sodat hy weer reguit na Armand kyk en toe swaai hy die pistool op en neer asof hy die gewig en balans beproef.’
Mev. Du Plessis het met die vertel doodsbleek en haar stem stamelend geword. Sy sit met gerekte oë asof sy die gebeurtenis weer voor haar sien.
‘Daar was skielik 'n verdowende ontploffing en oom Charles gooi die pistool met 'n vloek op die vloer neer. Hy het geweldig geskrik. Armand was die koelste van ons al drie. “Dit was amper,” sê hy met 'n laggie en hy wys 'n duim bo sy kop waar die koeël by die muur in is.
Oom Charles het vreeslik te kere gegaan. Hy het Armand met allerlei uitroepe en vloeke om die lyf gegryp. Gedurig het hy uitgeroep: “Ek wat byna met 'n geweer in die hande gebore is; dat so iets met my moet gebeur!” En dan roep hy weer uit: “Ek het jou gevra, Armand, of die ding leeg is - jy herinner jou dat ek jou gevra het?” En dan roep hy my ook tot getuie dat hy Armand gevra het.
Merk op, kolonel, hoe onskuldig oom Charles sou gewees het as die koeël 'n duim laer getref het! Hy sou my - die vrou van die oorledene - as getuie kon noem dat dit alles die skuld was van die verongelukte man self. En merk, kolonel, hoe naelskraap die ontkoming was. Ek het geleer om met 'n pistool te skiet; ek weet!
As 'n mens die pistool op en neer swaai, dan kan jy nie mik nie; jy moet dit waag. Maar jy moet hoog hou om seker van 'n kopskoot te wees. As hy enigsins laag skiet, was daar gevaar van 'n wond wat nie dodelik sou wees nie en dan sou oom Charles baie volharding moet hê om nog 'n maal te probeer.’
‘Ons gaan weer te vinnig, mevrou!’ val De Ville haar in die rede. ‘Verlaag die versnelling 'n bietjie. Laat ons voorlopig maar aanneem dat dit 'n ongeluk was. Is dit al wat u ons wil vertel, mevrou?’
‘Ja, dit is al van die twee voorvalle, maar ek wil u net dit sê: na die rewolwerongeluk het ek 'n tyd lank gerus gevoel. Maar nou in die afgelope paar weke het
| |
| |
die skaduwee van die dood weer oor Farellone neergedaal. Oom Charles is van plan om oormôre weer te vertrek en ek weet dat iets aan 't broeie is. Ek voel dit in die lug ... met elke asemhaling. Weer bedreig 'n dodelike gevaar ons dag en nag. Ek het die gevoel dat dit agter elke deur, in elke donker hoekie, mag skuil, om op die gepaste oomblik soos 'n leeu op ons uit te spring. Dit mag in die middel van die nag kom, wanneer ons slaap en só onwetend en weerloos die ewigheid moet ingaan. Elke skielike beweging laat my skrik en ek vrees oom Charles ... ek vrees hom meer as wat ek die Prins van die Duisternis sou vrees. Ek kan in sy gedrag - in sy houding - sien dat hy weer gaan probeer. En dié keer sal daar geen mislukking wees nie. Drie maal, sê die oumense, is skeepsreg. En die ergste van alles is dat Armand houtgerus is; hy wil niks glo nie. Hy lag my uit ... En die toestand is onhoudbaar. Ek kan dit nie langer uithou nie. My lewe het 'n nagmerrie geword. As my kindjie in sulke omstandighede gebore moet word ...’ En vir die eerste keer bars sy in trane uit.
De Ville stap diep ontroer voor haar op en neer. Hy het geen poging aangewend om haar te troos nie, maar toe sy vanself 'n weinig tot bedaring kom, spreek hy haar vinnig en beslis toe.
‘Laat ek die voorwaardes van die testament goed verstaan ...’
Deur haar trane heen antwoord mevrou Du Plessis: ‘Al die regsgeleerdes is dit daarmee eens dat die testament uiters defektief is; maar een ding is seker: as Armand te sterwe kom voordat 'n kind uit sy huwelik gebore is, dan behoort alles aan oom Charles. Indien 'n kind na sy dood gebore word, maak dit geen onderskeid nie. Die kind sal niks erwe nie en ek is natuurlik uitgesluit. Sodra 'n kind gebore word - in Armand se leeftyd - dan behoort alles aan Armand, uitgesonder die toelaag aan oom Charles.’
‘Goed,’ sê De Ville, ‘ons het nou die motief vasgestel van 'n misdaad wat nog nie gepleeg is nie! Waarlik, hulle sou ons in die howe uitlag dat ons die wetsprosedure so omkeer!’
Nadat hy 'n tydjie in gedagte verdiep was, sê hy aan mevrou Du Plessis: ‘Ek sal u nie nou vertel wat ek dink of glo nie, maar een ding is duidelik: as daar gevaar is, dan is dit dringend. Daar is geen minuut te verlore nie. Gaan terug na Farellone so gou as wat u kan reis. Ek kan u nie alle voorsorgsmaatreëls aanraai nie, want ek weet nie waarvandaan die slag kan kom nie. Maar weet u wat ek sou doen, as ek u man wou vermoor sonder om die minste agterdog op my te laat val? Ek sou een van sy geweerpatrone met dinamiet laai! Daar sou 'n gebarste geweer wees - wat dikwels gebeur - en alle bewys teen my sou in die lug geblaas wees. Ek sou u dus een ding stellig aanraai: lê beslag op al u man se patrone en laat hom onder geen omstandighede 'n geweer in hande neem nie. Dr. De Roubaix en ek sal môreaand by u op Farellone wees.’
Indien daar ooit dankbaarheid uit 'n menslike aangesig gestraal het, dan was dit op die gelaat van Margaret du Plessis.
| |
| |
Dit was net voor sononder toe ons die poort deurgaan, en voor ons lê die wonderskone panorama van Farellone in die laaste lig van die son.
Regs, hoog teen die bergrant, kon ons af en toe deur 'n beskermende mantel van groot eike die wit gewels van die huis sien uitblink. Voor die huis is die donkergroen van 'n ou lemoenboord met meer moderne vrugtebome in lang gelid aan weerskante. Dan verder na onder is die landerye soos 'n reuse-skaakbord uitgestal: die groen van koring, afgesit deur die swart van gebraakte grond. Links langs die lande is 'n enorme populierbos, deur die rivier aan die anderkant begrens en oorkant die rivier, teen die rant, is 'n stat van waar die rook in lang spirale in die stil aandlug opwalm.
Toe ons die huis nader, sien ons mevrou Du Plessis en haar man - waarskynlik - gearm ons tegemoet kom. De Ville het die motor tot stilstand gebring en nadat ons Mevrou gegroet het, stel sy Armand du Plessis aan ons voor.
Hy het veel jonger gelyk as wat ek verwag het - 'n slank geboude, aanvallige, jong kêrel, met iets in sy opgeruimde blik wat aan die ou generaal herinner.
Hy het ons half skamerig gegroet. ‘Kolonel De Ville, ek heet u en dr. De Roubaix welkom. Dit is vir my regtig aangenaam om u te ontmoet, want ek het natuurlik baie van u altwee gehoor. Ek hoop net dat my vrou aan u duidelik gemaak het dat ek haar sienswyse glad nie deel nie. Sy het maar altyd 'n lewendige verbeelding gehad’ - en hy plaas sy arm liefkosend om haar lyf - ‘en ongelukkig het 'n paar toevallige gebeurtenisse dit in die laaste tyd gaande gemaak. As u haar gerus kan stel, sal u my 'n groot diens betoon.’
Ons het albei met die gewone beleefdheid geantwoord sonder dat De Ville juis sy gevoelens oor die saak bekend gemaak het.
Hulle is toe saam met ons in die motor na die huis. Die motor is in 'n groot waenhuis versorg waar twee ander groot motors reeds staan en toe is ons vier na die huis. Op die stoep het 'n persoon ons klaarblyklik staan en inwag. Hy was buitengewoon lank, goed ses voet, met dieselfde slanke bou van Armand. Sy skoongeskeerde, hooggekleurde gesig was lank, met fyn, aristokratiese gelaatstrekke. Die gesig was rimpelloos, maar sy blote hoof was bedek met 'n bos spierwit hare wat direk teenstrydig was met die jeugdige trekke van sy aangesig. Hy is deur Mevrou aan ons voorgestel: ‘Dit is my oom, Charles du Plessis.’
Sy begroeting kon nie vriendeliker en hartliker gewees het nie.
‘Welkom op Farellone. Ek hoop van harte dat u die besoek sal geniet. Maar ek is seker dat my niggie en neef alles sal doen om u die tyd nie te laat verveel nie. Ongelukkig moet ek môre vroeg vertrek, anders sou ek ou Farellone graag aan u formeel voorgestel het. Ons familie is so aan die ou plek vasgewortel dat dit byna deel van ons genoem kan word. Ek dink my oorlede vader het Farellone net so lief gehad soos sy eie kinders ... Maar Armand sal u alles toon. Hy is 'n ware Du Plessis, wat sy gehegtheid aan Farellone betref.’
| |
| |
Ek herinner my dat, toe ons ons gasheer volg om ons die slaapvertrekke aan te wys daar een gedagte by my posgevat het: ‘'n Moordenaar? Onmoontlik, ondenkbaar!’
Ons was verbaas oor die grootte van die huis. Iets so ruim het ek seker nie verwag nie. Charles het later aan ons verduidelik dat die een geslag na die ander stukke aangebou en veranderings aangebring het; dit is waarom die huis die indruk van onreëlmatigheid wek.
Die maaltyd was uiters aangenaam. Charles was 'n raconteur van die eerste rang en hy het avonture in alle dele van Suid-Afrika beleef en in alle omstandighede meegemaak. Sy stories van grootwild, van oorlog en sport was almal interessant, en altyd op boeiende wyse verhaal. Teenoor sy neef en niggie was hy minsaam en hoflik-beleef. Op ernstige toon het hy ons van die twee noue ontkomings vertel, maar hy het homself altyd inbegryp, asof hy ook aan die gevaar blootgestel was.
Met betrekking tot die skietvoorval het hy 'n eienaardige uitdrukking gebesig, waarskynlik om sy houding te verduidelik. ‘My lewe sou 'n hel gewees het,’ het hy gesê, ‘as die koeël hom geraak het, hoewel dit sy eie skuld was.’
Charles was reeds in sy motor weg toe ons die volgende dag opstaan. Op die stoep is ons deur Mevrou begroet. Armand was land toe, maar sou spoedig terug wees. Hier in die heerlike oggendlug het sy ons op 'n klein stoeptafeltjie met koffie bedien.
‘Ek het gedoen wat u verlang het,’ sê sy aan De Ville. ‘Al die patrone is in my besit. En ek wil u 'n eienaardige ding vertel. Ek het die pistool in hande gekry en na 'n geweersmid in die stad gestuur wat 'n persoonlike vriend van Armand is. Toe ons terugkom van die besoek aan u, was daar 'n brief van hom waarin hy meld dat iemand met die slot van die pistool “gepeuter” het. Daar was 'n stukkie weggevyl, met die gevolg dat die laaste patroon altyd in die loop agterbly. U moet weet dat oom Charles alles van gewere en wapens weet. Hy herstel altyd self sy gewere, as daar iets verkeerd mee is, en dit is 'n liefhebbery by hom om die slotte van wapens uitmekaar te haal en die werking te ondersoek. Hy het 'n geweermakerswinkel in een van die buitegeboue.’
Ek kon sien dat hierdie berig 'n dieper indruk op De Ville maak as enigiets wat hy tot dusver in verband met oom Charles gehoor het. Dit was asof hy skrik; so groot was sy aandoening dat hy vergeet het om sy koffie te drink. Hy loop na die rand van die breë stoep en laat sy oë diep ingedagte op die verskiet sweef.
Toe hy weer kom sit, spreek hy met 'n stem wat hoorbaar uit 'n diep bewoë gemoedstoestand voortvloei.
‘Waar is daar 'n plek in hierdie reine skoonheid waar sluipende moord, met die dolk van verraad in die hande, 'n skuilplek kan vind? En Charles du Plessis? ... Ek kan my in sy gemoed eenvoudig nie indink nie. Kan hy so 'n ge- | |
| |
drag volhou? Kan hy lag en gesels en handgee, en werklike liefde toon, terwyl hy in sy hart reeds sy naaste bloedverwant - wat hom liefhet en vertrou - tot 'n gruwelike dood veroordeel het? Dit is waar, daar is in baie mensesiele onpeilbare afgronde waarvan die mens self onbewus is, totdat dit eendag skielik voor hom gaap ...’
En toe gaan hy met groot nadruk voort: ‘Ons sal aanneem dat Charles du Plessis aan die swartste verraad skuldig is. Ons mag hom die grofste onreg aandoen - daarvoor sou dan die verbasende sameloop van toevalle aanspreeklik wees - maar as ons sy skuld veronderstel, dan is dit hoogs waarskynlik dat hy op die een of ander wyse die dood van u man so sou bewerkstellig dat dit in sy afwesigheid sou plaasvind - soos die geval was met die gif in die wyn. Ek het dadelik aan die patrone gedink, omdat Charles al die voorbereidings vir sy neef vir die skiettyd getref het. 'n Enkele patroon met 'n sterk skoot geligniet gelaai, sou sy doel bereik sonder dat iemand op aarde ooit die oorsaak van die bars van die geweer sal kan ontdek. Ons sal die gewere en patrone later ondersoek ... Maar dit mag iets geheel anders wees. Hy mag iemand gehuur het om die moord in sy afwesigheid te pleeg. Maar, as oom Charles skuldig is, dan is hy veels te slim om 'n derde persoon in sy vertroue te neem. Daar is slegs een beperking tot die moontlikhede ... waar of hoe dit ook al gebeur, dit moet op 'n plaas en gedurende 'n tyd wees waar Armand teenwoordig moet wees. Vereers dus, mevrou, sou ek graag die hele huis wil deurgaan. Ek wil elke kamer sien; al oom Charles se private vertrekke: sy slaapkamer, sy biblioteek, waarvan hy my gisteraand vertel het en, bo alles, sy smids- en geweermakerswinkel.’
‘Laat ons dadelik gaan,’ sê Mevrou en ons volg haar die lang gang op wat die twee vleuels van die groot huis aan mekaar verbind. Die eerste vertrek waarin sy ons neem, was 'n groot kamer wat deur twee dubbele glasdeure toegang tot die stoep verskaf.
‘Dit,’ sê sy, ‘was die generaal se slaapkamer. Armand het besluit om dit onveranderd te laat. Alles is net soos dit op die dag van sy dood was.’
Ons het die vertrek met die diepste aandag en belangstelling gadegeslaan. Ons was bekend met die uitsonderlike karakter van die generaal en ons het verwag dat daar in sy intieme vertrek 'n weergawe van sou wees - 'n verwagting wat seker nie teleurgestel is nie.
Die kamer was ongeveer twee maal so groot soos 'n gewone groot slaapvertrek. Die meubilering was uiters eenvoudig en tegelyk diep indrukwekkend. Die plafon was van onder swaar gebalk met swaar tamboetie. Daar was verskeie stoele, leunstoele en rusbanke, en drie groot kiste met rooikoper-beslag. Alles was van die donkerste en die kosbaarste Afrikaanse houtsoorte en elke meubelstuk was 'n juweel. Daar was leunstoele van driedoring-mahonie - miskien die skaarsste en kosbaarste hout in die wêreld. Die stoele was almal op ou Afrikaanse model met riempies gemat. Daar was 'n groot lessenaar voor een
| |
| |
van die glasdeure en een muur was heeltemal deur 'n boekrak van gevlekte rooihout in beslag geneem. Mevrou het ons vertel dat al die meubels op Farellone gemaak is. Die boeke was almal in leerband van basgelooide wildsvel en dit het my verwonder om die meeste klassieke skrywers in Nederlands, Duits en Engels in die rakke te vind.
Die eienaardigste meubelstuk was egter die bed. In plaas van die groot, deftige ledekant wat iemand in so 'n kamer sou te wagte wees, was daar in een hoekie 'n klein voubare kampbedjie van sterk halfgelooide koeivel. Daar was geen verebed, selfs geen matras op die bed nie.
‘Van die Vrede af,’ verduidelik Mevrou, ‘het die generaal nooit weer op 'n ander bed as hierdie veldbed geslaap nie. Sy enigste matras, soos u sien, was 'n karos en twee wolkomberse.’
Dit was asof ek die gedagteloop en gevoelens van die stoere krygsman hierin kon lees. Gedurig was voor sy gees die menigte wat in naamlose grafte lê en die nog groter menigte wat ten gevolge van die oorlog in die uiterste ellende en armoede verkeer, met die naakte grond in baie gevalle as bedstede. En sou hy in gemak en weelde slaap? Daar, voor die bed skiet my die woorde te binne:
‘Maar Uria het gaan slaap by die ingang van die paleis, by al die dienaars van sy heer, en nie na sy huis afgegaan nie ... En Uria sê vir Dawid: My heer Joab en die dienaars van my heer is gelaer in die oop veld; sou ek dan in my huis ingaan om te eet en te drink?’
Aan die hoof van die bed teen die muur was die familiewapen, die Mauser, veldhoed en baadjie en patroonbande wat sy oorlede seun Armand (vader van ons gasheer) deur die oorlog gedra het, en 'n ere-swaard deur die volk van Nederland ná die oorlog aan die generaal geskenk. Bo alles was 'n ou, verskeurde Vierkleur van growwe doek - die laaste vlag van sy kommando en teen die muur onder hierdie versameling voorwerpe was in dik swart letters die woorde: ‘My kom die wraak toe en die vergelding ... want die dag van hulle ondergang is naby.’ (Deut. 32:35.)
En terwyl ons, diep ontroer, as 't ware die hart van die krygsman voor ons ontbloot sien, val daar skielik op ons ore 'n geluid so eienaardig, so deurdringend dat ons al drie uit ons gepeins wakker geruk word. Aan die aard van die geluid was nie te twyfel nie. Dit was 'n gejammer, 'n weeklag waarin alle menslike smart en verdriet opgesluit is. Daar was 'n menigte stemme hoorbaar en klaarblyklik was die bron van die geluid op 'n taamlike groot afstand van die huis verwyder.
Mev. Du Plessis het so geskrik dat sy onmiddellik verbleek het.
‘Wat is dit? ... Wat is dit?’ roep sy stamelend uit, terwyl sy De Ville aan die arm gryp.
Sy naturellekennis het hom dadelik die antwoord verskaf. ‘Dit is vroue,’ antwoord hy, ‘swart vroue wat oor 'n sterfgeval huil.’
| |
| |
Mevrou Du Plessis het met 'n luide gil die kamer struikelend uitgeloop. ‘O God ... Armand!’ roep sy herhaaldelik.
En toe ons in die gang kom, hardloop haar man ons van die ander einde tegemoet: ‘Wat is dit? Wat is dit?’ vra hy, ook klaarblyklik net so verbysterd as ons. Sy vrou sak in sy arms snikkend en halfflou neer. Dit het 'n rukkie geduur voordat hy haar tot bedaring kon bring.
Toe ons eindelik op die stoep uitkom, sien ons om die boonste punt van die populierbos 'n lang stoet swart mans en vroue klaarblyklik op pad van die stat na die huis. Af en toe uiter die vroue die aaklige gekerm waarin by geleentheid van 'n sterfgeval op formele wyse smart te kenne gegee word. Tussen elke gesamentlike paar krete hoor ons die skel stemme in luidrugtige en ongevoelige stryery verhef oor die geval wat aan hulle hierdie momentele bejammering ontlok - 'n gestry waaraan mans en vroue opgewonde deelneem.
Toe hulle die stoep nader, word almal doodstil en hulle groet ons op die gewone inboorlingwyse. Daar was sowat twintig mans en vroue. Vooraan was 'n baie ou swartman in 'n vuil hemp geklee, met 'n onderskeidingsring om die kop.
Nadat die formele gegroet beëindig was, vra Armand haastig en driftig: ‘Wat makeer? Waarom maak julle die lawaai by die huis, ou April? Kyk hoe het julle die nonna laat skrik ... Waarom het julle, as daar iets verkeerd is, nie by die stat gebly en my laat roep nie? Is iemand dood?’
Ou April antwoord bedaard: ‘Kleinbaas, dit is die klein klonkie, Mawane, dié een se kind,’ en hy wys na 'n jong vrou met betraande wange. ‘Hy is dood.’
‘Mawane?’ roep Mevrou ontroerd uit. ‘Dit is die klonkie wat elke oggend die afgeroomde melk kom haal. Ek het opgemerk dat hy vanoggend nie gekom het nie. Die emmer melk staan nog in die melkkamer. Vra hom, Armand, of die klonkie siek was.’
Maar ou April verstaan en antwoord dadelik in gebroke Afrikaans.
‘Nee, Nonna, hy nie siek nie. Dit was Ra-di-Nari.’
‘Ra-di-Nari? Wat is dit? Wat bedoel hy, Armand?’
‘Ag, dis sommer onsin,’ sê Armand driftig; ‘dit is een van hul bygelofies. Ek weet self nie wie of wat Ra-di-Nari is nie, maar ek het hulle van hom hoor praat, vandat ek 'n kind is. Ek weet net hulle is vreeslik bang vir Ra-di-Nari. As oom Charles hier was, sou hy alles kon vertel.’
‘Kleinbaas,’ gaan die ou man voort, ‘ons het jou kom roep. Jy moet kom kyk. Ons het nie aan hom geraak nie.’
‘Goed,’ sê Armand, ‘ons sal kom, maar daar moet 'n einde aan die lawaai wees. Wil u saamgaan?’ vra hy aan ons.
De Ville het dadelik ingestem en onder angstige waarskuwings van mevrou Du Plessis aan haar man, is ons drie vort met sowat tien swartes as geleide.
| |
| |
Op weg het ons Armand weer ondervra omtrent die ‘Ra-di-Nari’, maar hy kon niks meer vertel behalwe dat dit die een of ander belaglike bygeloof van die volk is nie.
‘Julle kan ou April later vra; laat ons eers sien wat gebeur het. Die naam beteken “Vader van die Buffel,” soos u weet, kolonel, maar daar was gedurende my leeftyd nooit 'n swarte op Farellone met die naam nie. Hulle praat gedurig van Ra-di-Nari as iets of iemand wat baie gevaarlik is. Die moeders maak hul kinders met Ra-di-Nari bang ...’
Ou April het ons om die populierbos gelei en 'n ent langs die seekoeigat wat die bos aan die ander kant begrens.
Die bos was baie oud en ruig toegegroei. Tussenin het dorings en ander boomsoorte nog seëvierend 'n bestaan gehandhaaf. Een van die wilde bome was merkwaardig deurdat dit die aard van groei van die populiere aangeneem het. De Ville het my hierop as 'n interessante natuurverskynsel attent gemaak. Die boom was onder die swartes as setlare-moetsoe bekend - die boogboom, omdat die hout so buigbaar en sterk is. In die outyd is hul boë daarvan gemaak. Gewoonlik is die vorm kort, met uitgespreide takke, maar wanneer die boom in klowe of tussen ander bome groei, ontwikkel dit pylregop, totdat die kruin die lug en lig bo die toppe van alle mededingers bereik.
Ons het opgemerk dat daar van die wal van die seekoeigat verskeie voetpaadjies deur die bos gaan.
‘Dit is almal paadjies wat die volk gewoonlik van die stat na die huis volg, omdat dit 'n groot draai is om om te loop soos ons nou net gedoen het,’ vertel Armand ons. ‘Maar oom Charles het 'n week gelede almal verbied om deur die bos te loop, omdat hulle die wilde eende hier op die lang kuil steur en dit kom my voor of die ongelukkige klonkie nieteenstaande die verbod, een van die voetpaadjies gevolg het. Maar wat hom oorgekom het, kan ek nie dink nie.’
‘Ja, Kleinbaas,’ bevestig ou April, ‘so is dit. Hy het met die voetpaadjie geloop en sy maats hier by die rivier op hom laat wag - en toe vang Ra-di-Nari hom. Dit was nog skemerdonker, net met die kom van die rooidag.’
'n Paar tree verder kom ons by die ingang van 'n taamlike oopgetrapte voetpad.
‘Daar is hy,’ fluister ou April, asof hy bevrees is dat iets binne die bos hom hoor.
Dit is moeilik om ons bloedstelpende verbasing te beskrywe, toe ons besef waar die lyk van die ongelukkige skepseltjie is.
Hier by die ingang tot die groot voetpad was daar, behalwe die moetsoe-bome, ook verskeie haakdoring, wat as 't ware met geweld 'n plek tussen die populiere vir hul wye takke geforseer het.
In die middel van een van hierdie haakdoringbome, langs die voetpad, goed tien voet bo die grond, hang die klonkie se lyk met die kop na onder.
| |
| |
Ons het dadelik saamgestem dat die knaap in die boom geklim het om gom of 'n voëlnessie of so iets af te haal, dat hy geval en in die wrede dorings met die kop na benede vasgeraak het en aan blote uitputting dood is. Ons kon bloed deur die takke sien aftap, maar die vreeslike haak-en-steekdorings was genoeg om dit te veroorsaak.
Baie vreesagtig en huiwerig het die naturelle Armand se bevel gehoorsaam om die lyk af te haal. 'n Opening moes eers deur die ruie takke oopgekap word, waarna een van die dapperste, jong swartes ingeklim en die lyk aan 'n riem na onder laat sak het.
As daar enige twyfel by ons was of die seun werklik dood is, dan is dit dadelik opgeklaar toe hy voor ons op die grond lê.
Die liggaam was verskriklik vermink. Behalwe die krappe en steke deur die dorings veroorsaak, was daar 'n vreeslike sny vanaf die regterheup, oor die bors tot onder die linkerarm. Op die rug was 'n tweede diep wond net onder die regterskouerband, omtrent ses duim lank en twee tot drie duim diep. Die lang sny oor die bors was van dieselfde diepte. Van albei snye was die kante ongelyk en geskeur. Dit was duidelik dat die wonde toegebring is deur 'n dik, stomp voorwerp, seker nie deur 'n mens, of asgaai, of deur enigiets met 'n skerp snykant nie. Dit was ook duidelik dat verskriklike geweld gebruik is.
Volgens verklarings van die naturelle het Mawane en drie ander kleintjies die oggend die stat verlaat toe dit nog skemerdonker was, net voor die rooidag sigbaar geword het. Hy gaan elke dag 'n emmer afgeroomde melk haal wat onder al die ingesetenes van die stat uitgedeel word.
Ons het die drie ander kleintjies laat haal. Kolonel De Ville het hulle ondervra en deur baie geduld en moeite het hy die volgende verhaal van hulle gekry:
Hulle het met Mawane tot op die wal van die seekoeigat saamgeloop, maar toe hy te kenne gee dat hy met die groot voetpad deur die populierbos wou loop, word hulle bang, omdat dit nog donker was en omdat hulle geweet het dat oubaas Piri (Charles) al die volk verbied het om deur die bos te loop. Hulle het toe met Mawane ooreengekom dat hulle hom op die wal van die seekoeigat sou inwag en Mawane is alleen die bos in. Net toe hy uit hul gesig raak, hoor hulle 'n geweldige gekraak en gebreek van takke. Dit was 'n groot dier wat deur die bos stormloop. Toe hoor hulle 'n luide skreeu van Mawane en net toe hulle begin weghol, sien hulle hom bo in die doringboom val waar die dier hom gegooi het. Hulle het toe huis toe gehardloop en aan die groot volk vertel dat Ra-di-Nari Mawane doodgemaak het.
Armand het bevel gegee dat die lyk net so gelaat moet word, totdat die distriksgeneesheer dit kon ondersoek en het enkele van die naturelle aangesê om daar wag te hou.
Dit is onnodig om te sê dat ons al drie toe reeds daarvan oortuig was dat Mawane deur die toepassing van die uiterste geweld gedood is.
| |
| |
Toe ons klaar was om huis toe te gaan, was dit Armand wat met 'n bepaalde toon van onsekerheid vra: ‘Sal ons met hierdie voetpad deur die bos loop?’ Die vraag is klaarblyklik meer gestel met die doel om ons gevoelens te verneem as om 'n voorstel te maak.
‘Bepaald nie,’ antwoord De Ville dadelik en beslis. ‘Ek glo nie dat ek lafhartiger as die gemiddelde mens is nie, maar ek is seker nie bereid om hierdie bos nou op die daad deur te loop sonder dat ek die minste besef het wat die dood van die klonkie veroorsaak het nie ... en seker nie sonder 'n goeie geweer in my hande nie. Ons sal ongetwyfeld die bos moet deursoek, maar dit moet op wetenskaplike wyse gebeur en met wapens in ons hande. Ek sou voorstel dat ou April en 'n paar van die ouer naturelle met ons saamgaan. Ek sou hulle graag wil ondervra as hulle kalmer en bedaarder is.’
En so is ons met die ompad terug huis toe en ek is daarvan oortuig dat drie meer verbysterde mense as ons nooit die ou pad bewandel het nie. Wat myself betref, ek was in so 'n draaikolk van gissing en teenstrydige gedagtes gedompel dat ek geen tien woorde onderweg gepraat het nie. Ek kan my net herinner dat ek De Ville herhaalde male hoor sê het: ‘Ek weet nie; ek weet nie.’ Wat Armand se gevoelens was, kan ek nie meer onthou nie.
Die uitwerking wat ons verhaal op mevrou Du Plessis gehad het, is lig te begryp. Dit was asof 'n skaduwee in haar donker oë stadig toeneem. Toe alles aan haar vertel is, sê sy aan De Ville: ‘Is dit 'n bewys, kolonel, van die werklikheid van die vroulike voorgevoel?’
Ek kon sien dat hy groot moeilikheid ondervind om te antwoord.
‘Mevrou,’ sê hy uiteindelik, ‘u moet my tyd gee. Ek kan u nou geen antwoord gee nie. Miskien môre ... Ek is op die oomblik 'n bietjie dronkgeslaan.’
Ná die middagete het ons op die stoep vergader: ons vier blankes op stoele en voor ons neergehurk, was vier of vyf van die oudste volk met ou April as woordvoerder. Ons het stilswyend ooreengekom om die kruisverhoor aan De Ville oor te laat, wat hy in Sesoetoe gedoen het, terwyl Armand as tolk optree vir Mevrou en my, wat geen Sesoetoe verstaan nie.
‘Ek wil van jou hoor, Magalape ... jy moet my mooi vertel ... alles van Ra-di-Nari. Wie is hy, waarvandaan kom hy en waarom sê julle dat dit Ra-di-Nari is wat klein Mawane doodgemaak het?’
Dit was De Ville se eerste vraag, wat die ou man min of meer in die volgende sin beantwoord het. (Ek het van die onderhoud 'n aantekening gehou.)
‘Baas, lank, lank gelede het hier in die omtrek 'n groot nasie gewoon. Bo teen die berg en in elke kloof kan jy nou nog die mure van die krale sien. Toe ek 'n klein kind was, het die ou, ou volk ons vertel. Die groot kaptein van die nasie was 'n baie sterk man. Hy was 'n reus. Die lem van sy asgaai was so lank soos my been en sy skildvel was so swaar dat twee gewone mense dit skaars kon dra.
| |
| |
Hy was 'n groot krygsman. Geeneen kon hom weerstand bied nie. Hy het al die nasies in die omtrek uitgeroei, totdat daar van die hoogste spits van die berge die rook van geen stat meer sigbaar was nie. Toe was hy tevrede. En hy was 'n groot jagter. Hy het die buffels langs die voetpaadjies voorgestaan en met een stoot van sy asgaai het hy die grootste bul deur die hart gesteek, sodat hy op sy spore neersak. Eendag het die lem van sy asgaai teen die skouerbeen van 'n buffel gebreek en voordat hy sy skildvel kon voorstoot, het die buffel hom met een slag van sy horing doodgeslaan. Dit was hier naby die lang seekoeigat waar daar toe digte bos was en baie buffels. En sy volk het hom begrawe en bo in die poort het hulle 'n klipstapel tot sy eer gepak wat nou nog daar is, en as ons verbygaan, gooi ons nog 'n klip op die stapel en ons roep sy naam uit om sy toorn van ons af te keer. En snags kom hy af van die berge waar sy groot beeskraal was. Hy kom in die gedaante van 'n groot, swart buffel ... Ra-di-Nari. Hy kom baiemaal in die nag. Ons hoor hom by ons strooise verbyloop. Ons hoor hom saggies bulk. En almal moet wegkruip en hul gesig bedek wanneer hy kom. Wee die een wat sy pad in die donker kruis! Baie van ons volk het hy in die nag doodgeslaan - in die ou tyd - en baie het hom gesien en gehardloop, en in die stroois veiligheid gevind voordat hy hulle kon vang. En die plek waar hy die meeste gesien word, is by die lang seekoeigat en in die populierbos waar sy groot huis gestaan het toe hy gelewe het en kaptein was lank voordat die populiere daar was. Toe ek 'n kind was, Baas, en toe die generaal ook nog 'n kind was, toe, een nag, het twee jong swart vroue van die huis gekom en die ounooi het hulle 'n lantern gegee, omdat hulle vir Ra-di-Nari bang was. Hulle het met die voetpad deur die bos geloop en toe kom hulle op Ra-di-Nari af, en hy het die voorste een gevang en met sy horing hoog in die lug gegooi, en die ander een het weggehol en weer by die huis
gekom. En die volgende dag kry hulle die eerste vrou. Sy was net so stukkend soos Mawane. En die lantern was ook stukkend. Ek het haar self gesien toe ek 'n kind was. Ek en die generaal het saam kom kyk, stilletjies, want ons was speelmaats.
Dit is al wat ek weet van Ra-di-Nari, Baas. En dit is die waarheid en al die volk sal jou net so vertel.’
Die ou ringkop het sy storie op baie dramatiese wyse met indrukwekkende gebare vertel. Nietemin het ons almal hardop gelag toe hy klaar was. Sy verklaring was te kinderagtig, wanneer 'n mens dit met die werklikheid vergelyk wat ons die oggend self beleef het om ons anders as belaglik voor te kom.
‘Een ding is seker, as 'n spook in staat is om 'n mens so te verniel, dan moet hy ook vir die uitwerking van 'n Mauser-koeël vatbaar wees,’ was De Ville se opmerking. ‘Ons sal môre vroeg probeer om met Ra-di-Nari in sy bos kennis te maak.’
Die middag het ons op voorstel van De Ville langs die populierbos in die lande afgeloop om spore te soek. Maar behalwe die mensspore wat daar te wag- | |
| |
te was, het ons niks ontdek wat 'n aanduiding kon verskaf van die ongedierte wat die bos ingeneem het nie. Van buffels was daar natuurlik geen sprake nie.
Aan die kant van die lande was taamlik baie populierbome afgekap, en die wortelknoetse met 'n baie vernuftige werktuig uit die grond getrek. Die masjien het langs die land gelê en De Ville en ek het hierdie voortbrengsel van Amerikaanse genie met groot belangstelling bestudeer. Dit het bestaan uit drie groot staalhake wat onder die knoets ingedruk word. Dan word die masjien met kettings om 'n ander groeiende boom bevestig en met 'n ligterhout word die hake na die groeiende boom aangetrek. 'n Enkele man kan met hierdie werktuig in 'n kort tyd 'n wortelknoets verwyder wat 'n span werksmense met graaf en pik 'n hele dag sou kos.
Armand het aan ons verduidelik dat hy en oom Charles besluit het om die lande in hierdie rigting uit te brei deur die helfte van die ou populierbos te verwyder.
Die aand het die distriksgeneesheer aangekom en dadelik sy ondersoek gedoen. Sy rapport het in kort hierop neergekom: dat die seun se dood veroorsaak is deur 'n voorwerp soos die horings van 'n groot, sterk dier!
Die volgende oggend was ons drie klaar vir die groot avontuur. Ons het elkeen 'n koeëlgeweer in ons hande gehad en op voorstel van Armand het ons een van sy jaghonde, 'n pragtige, rooi setter, saamgeneem. Armand en ek het stilswyend die reëling en bevel aan De Ville oorgelaat. Hy het reeds besluit gehad dat ons die bos van die lande se kant sou deurgaan met 'n voetpad langs dié waarin die ongelukkige Mawane sy dood ontmoet het; dan sou ons met die groot voetpad terugkom en op dié wyse die bos stuksgewyse deurgaan.
Armand het die hond aan 'n ketting vasgehou, totdat ons die bos ingaan en hom toe gelos. Hy het natuurlik dadelik aan soek gegaan, maar is deur woord en fluit altyd in ons nabyheid gehou.
De Ville het voor geloop, dan Armand en ek laaste. Die voetpad wat ons gevolg het, was so met populiertakke oorkruis dat dit baie moeite gekos het om deur te kom. Ons het natuurlik baie stadig geloop, met die geweers altyd gereed. Af en toe het De Ville halt gehou om te luister en die hond terug te roep. Alles was egter doodstil in die bos, behalwe die skor geskreeu van fisante en die gekekkel van tarentale wat net van hul slaapbome begin afvlieg.
Sonder die minste gewaarwording het ons die bos byna deurkruis. Ons kon al die end van die populierbome sien en die glans van water deur die gekruiste takke waar die voetpad op die wal van die seekoeigat uitkom. Om ons was die bome nog te ruig om meer as 'n tree of twee aan weerskante in te sien. Die hond was nie meer as vyf tree voor De Ville in die voetpad nie, toe hy 'n paar minute lank in 'n ruigte van varings uit die gesig raak. En toe gebeur wat geeneen van ons meer te wagte was nie. Daar was 'n skielike gekraak van takke, 'n gedruis van blare en ons hoor die hond net een maal tjank - 'n benoude, aaklige geluid,
| |
| |
vol skrik en pyn; en toe sien ons iets wat die bloed in ons are stelp en ons in ons spore verlam. Dit was iets so ongelooflik, so skrikwekkend dat dit 'n paar sekondes geduur het voordat ek die gebeurde self kon besef. Ons sien die hond voor ons, net langs die voetpad, soos 'n koeël deur die takke opskiet, met wydgerekte bene en oop bek waaruit egter geen geluid meer hoorbaar is nie. Ons sien hom deur die takke trek, totdat hy agter 'n skerm blare verdwyn. En onmiddellik daarna hoor ons 'n gedempte slag waar hy op die wal van die seekoeigat neerslaan.
‘God bewaar ons!’ hoor ek De Ville uitroep en bukkend loer hy - die geweer klaar in sy hande - in die rigting waarvandaan die geraas gekom het.
Ons staan met gespanne spiere, die hand op die slot van ons geweers ... maar alles is weer doodstil.
Ons was só gevoelig dat die beweging van 'n enkele takkie genoeg was om 'n ruk deur die lyf te veroorsaak.
De Ville het gou sy gewone kalmte herwin. Vinnig fluisterend, maar baie beslis, sonder om om te draai, of sy oë af te wend van die vermoede gevaarpunt, beveel hy ons twee: ‘Trap elkeen 'n paar tree agteruit, sodat daar minstens vier tree tussen elke twee van ons is ... volg my stadig en kyk na alle kante ... hou jul geweers klaar en pas op dat ons mekaar nie doodskiet nie. As hy storm, spring dadelik uit die voetpad agter 'n boomstam en mik vir 'n kopskoot of op die knoppe deur, as hy dwars verbykom. Daar is niks om voor bang te wees nie, noudat ons op ons hoede is en hy ons nie kan verras nie. Onthou, 'n boomstam is die beste beskerming. Dit kan niks anders as 'n kwaai beesbul wees nie, of 'n koei met 'n weggesteekte kalf ... daarom het die hond haar so verwoed. In alle waarskynlikheid sal die dier 'n witmens nie aanval nie; wees nietemin op jul hoede. Volg my nou ...’
Ons volg hom voet vir voet ... Armand drie tree agter De Ville en ek drie tree agter Armand. Wat my betref - ek herinner my dat ek 'n aaklige gekriewel in my rug gewaar het. 'n Sterk voorgevoel het by my aangegroei dat die ondier my van agter bekruip en ek durf nie my kop omdraai om seker te maak nie!
Toe ons op die plek kom waar die hond gevang is, staan ons langs mekaar op 'n groot kol waar varings plat getrap en verbreek is. Sonder 'n woord gee De Ville my sy geweer en sak op sy knieë om die spore te ondersoek.
Dit was duidelik te sien dat 'n groot, swaar dier daar baie rondgetrap het. De Ville toon ons dat hy dae gelede daar moes gewees het, want baie van die varings is reeds verwelk. Daar was een groot kol waar hy moet geslaap het: op hierdie plek was die varings en graspolle in 'n sirkel geheel plat gedruk en verlep. Daar was ook gebreekte takkies wat afhang en oor die varings, gestrooide populier- en ander boomblare wat die ongelukkige hond in sy vaart deur die lug neergestrooi het. Geen enkele spoor is daar uit te maak nie, omdat die bodem uitsluitend uit graspolle en wortelknoetse van varings bestaan.
| |
| |
Ons ondersoek was egter haastig en oppervlakkig. Maar wat het intussen van die dier geword? Ons moes minstens sy vlugspoor deur die bos maklik deur varsgestoorde varings en die skoongeveegde dou kon volg. Maar hier was geen teken van nie! Dit het gelyk asof die wrede dier die hond op die een of ander onsigbare wyse deur die lug gevolg het!
Toe De Ville sy ondersoek klaar het, staan hy orent en ons kyk mekaar woordeloos aan, met vraende en verbysterde blikke.
Nie een van ons kon die minste verklaring van die ongelooflike misterie aan die hand doen nie.
Ek weet verseker dat die gedagte aan iets bonatuurliks nooit 'n enkele oomblik by my opgekom het nie en ek is net so seker dat by De Ville en Armand du Plessis die spookbul, Ra-di-Nari, hom nooit as 'n moontlike uitleg voorgedra het nie. Wie sou ook aan spoke dink in die helder oggendlug, met die dou in skitterende diamante oor die struikgewas versprei en die geroep van rooivlerkpatryse en fisante - 'n koor van vrolike blydskap wat die oggend uit alle rigtings begroet?
Nee, aan spoke het ons nie gedink nie, maar ons was onder 'n gevoel verpletter, veel aakliger, veel vreesliker as wat geloof in die buitenatuurlike ooit by ons sou kon verwek. Ons het geweet dat ons in die onmiddellike nabyheid van iets onuitspreeklik boos is, 'n onheiligheid wat die hele omgewing verpes; 'n wreedheid wat ons lewe bedreig en wat in die helder daglig net so onsigbaar, net so ongenaakbaar is, asof die donkerste nag sy boosaardigheid van ons gesig verheel. En bo alles is die gevoel van ontsettende krag, genadeloos soos die wreedheid van 'n werpeling uit die ewige duisternis. En die donkerste nag kon ons gevoel van onsigbare bedreiging nooit dringender gemaak het nie. As die gedrog 'n jaghond, met al sy verskerpte sintuie so volkome kan verras, watter voorbehoedmiddel kon ons, arme skepsels met ons stomp gewaarwordingsvermoë teen sy geweld aanwend?
‘Kom, ons moet deurgaan,’ beveel De Ville uiteindelik en ek weet voorwaar dat dit 'n magtige aanstrenging van wilskrag vereis het om voort te gaan.
Maar daar was niks nie. Ons het tot by die einde van die voetpad voortgestap, nog altyd op ons hoede asof ons elke oomblik 'n aanval te wagte kon wees.
In die buitenste kreupelhout van die bos kry ons die setter dood. Hy was klaarblyklik dood voordat hy weer die grond bereik het. Die ongelukkige hond het dieselfde verskriklike soort verwonding getoon wat die dood van die swart seun veroorsaak het. Daar was 'n vreeslike sny van die middel van die bors, agter om die linkerblad tot op die kruis, so diep dat die linkervoorbeen byna met blad en al van die liggaam afgeskeur was. Daar was nie aan te twyfel nie dat dit deur die geweldige slag van 'n horing gedoen is. Ook in hierdie geval was die kante van die wond oneffe en geskeur. Daar was geen teken van sny deur die een of ander werktuig nie.
| |
| |
Ons het om die verminkte en bloeiende liggaam gekniel, terwyl De Ville dit sorgvuldig ondersoek.
‘Arme Ponto,’ fluister Armand, ‘dit was die beste jaghond op Farellone. Hy behoort aan oom Charles en hy was besonder aan die dier geheg. Hy sal baie jammer wees om hiervan te hoor.’
Soos 'n lykstoet is ons 'n paar minute daarna om die bos met die grootpad na die huis. Mev. Du Plessis was reeds op weg om ons te ontmoet. Sy was klaarblyklik beangs en het met groot ongeduld ons terugkeer ingewag. Ons voorkoms was egter van so 'n aard dat die stroom vrae op haar lippe gestuit is.
Stilswyend het sy die arm van haar man geneem, terwyl hy in ernstige toon haar baie kortliks van ons ondervinding vertel. ‘En ons is net waar ons was. Wat die oorsaak is, weet geeneen van ons nie; kol. De Ville en dr. De Roubaix, dink ek, verkeer in dieselfde duister as ek.’
‘Ja, mevrou,’ bevestig De Ville dit, asof 'n vraag tot hom gerig is. ‘Ek weet nie wat die klonkie en die hond se dood veroorsaak het nie. Een ding is seker, dit is niks bonatuurliks nie. Ons sal die bos vandag stelselmatig deursoek. Dit moes ons al vroeër gedoen het. Ons sal nie weer 'n fout maak nie en ek is seker dat ons sal ontdek dat daar geen gees uit die onsigbare hier werksaam is nie, maar dat die bron van alles gewone menslike kwaadwilligheid is. Om watter rede weet ek nie.’
‘Rede?’ vra Mevrou skielik ... ‘Rede, kolonel? Laat ek u op een feit attent maak: net soos in die geval van die vergiftigde wyn het my man weer die nouste ontkoming gehad. Sy lewe is deur die ongelukkige Mawane gered, net soos die Boesman tevore sy lewe gered het. Kan u nie sien wat sou gebeur het nie? As Mawane nie in die bos verongeluk het nie, sou Armand binne 'n paar dae vroeg in die oggend een van die voetpaadjies gevolg het en dit is hy wat daar sou verongeluk het.’
Nòg Armand, nòg De Ville het iets hierop gesê. Ek dink dat dié gedagte reeds by al drie van ons opgekom het. En na 'n lang swye sê Mevrou nadruklik: ‘Oom Charles du Plessis het alles vir Armand voorberei. As die volk sy bevel gehoorsaam het, sou Armand vandag in sy graf gelê het.’
Weer het ons niks gesê nie. Ek het opgelet dat Mevrou se fyn vel besonder bleek was, maar daar was 'n vonkelende skynsel in haar donker oë wat 'n indruk van vreeslose beslistheid weergegee het. Haar koperrooi hare het soos 'n oureool die glans van die helder môreson weerkaats. Met haar statige houding het sy my herinner aan 'n Valkyrie wat op die slagveld oor haar dappere die wag hou. Slagloos sou Margaret du Plessis haar geliefde nie oorgee nie!
Net voordat ons die huis bereik, onthou De Ville iets wat hom waarskynlik tydelik ontgaan het. Hy sê aan Armand: ‘Ek het vergeet ... ek wou u van die swart vrou gevra het van wie ou April ons vertel het. Weet u iets van die voorval? Het u ooit daarvan gehoor?’
| |
| |
‘Ag, ou April se storie is onsin. My oupa en ook oom Charles het my dikwels daarvan vertel. Dit was eenvoudig moord ... 'n inboorlingliefdesgeval. Dit was 'n jong swarte wat haar vervolg het. Hy was vreeslik jaloers op haar en die nag van haar dood het sy juis my grootoupa om hulp en beskerming kom vra. Die jong het haar in die bos voorgestaan en met 'n asgaai doodgesteek. Hy is van die misdaad beskuldig, maar weens gebrek aan voldoende getuienis het hy vrygekom. Ra-di-Nari het met die geval niks te doen gehad nie!’
Mevrou Du Plessis gee 'n spottende lag. ‘Ra-di-Nari! ... Ra-di-Nari het hier ook niks mee te maak nie. Julle sal ontdek dat Ra-di-Nari die gedaante voer van 'n lewende swarte van vlees en bloed wat gehuur is om moord te pleeg.’
De Ville kyk haar stip aan. ‘Mevrou,’ sê hy, ‘as dit 'n swarte van vlees en bloed is wat gehuur is om moord te pleeg, dan volg twee dinge seker en onvermydelik: hy is met horings gewapen en hy besit die krag van 'n Goliat - groter krag as enige mens van vlees en bloed op aarde ooit tevore gehad het. En dit lyk asof hy die mag besit om in helder dag onsigbaar te word, wanneer dit hom pas!’
Ons het almal 'n bietjie gelag oor die verklaring.
Dié middag het ons 'n krygsraad gehou waar De Ville 'n plan ontwerp het waarvan ons dadelik die redelikheid ingesien het. In die eerste instansie - het hy beweer - was drie blankes te min om die bos behoorlik te deursoek. Ons moet dus dadelik hulp kry, genoeg om die hele bos te omsingel en tegelyk te fynkam. As dit nie anders kon nie, moes ons die hulp van die polisie inroep. Die moeilikheid met die polisie was egter dat slegs drie manskappe in die nabyheid van Farellone beskikbaar was, sodat ons in enige geval bure ook sou moes versoek om ons te help.
En toe stel De Ville voor dat ons voortgaan met die verdere ondersoek van die huis. Sy verdenking teen die patrone het hy intussen laat vaar, of hierdie ondersoek, altans, tot later uitgestel.
Die eerste kamer waarheen Armand en sy vrou ons gebring het, was die smidswinkel van oom Charles. Dit was in 'n buitegebou en het niks te maak gehad met die groot smidswinkel waar die gewone, growwe smids- en ysterwerk van die plaas verrig is nie.
Die winkel was netjies ingerig. In een hoek was daar 'n klein blaasbalk, aambeeld en skroef. Voor die venster was 'n werksbank met rye blink gereedskap teen die muur gerangskik. Op die bank was allerlei stukkies masjinerie wat ons nuuskierig deursnuffel het. Daar was verskeie slotte van geweers waaraan Charles klaarblyklik nog besig was. Behalwe die gereedskap was daar in die kamer 'n eienaardige stuk meubelment wat spoedig die aandag van De Ville in beslag geneem het. Dwarsdeur een van die agterste hoeke het 'n skuins tafel of bank gestaan met 'n stygende helling na die muur. Voor die tafel, aan die een
| |
| |
kant, was daar 'n groot leunstoel en reg voor in die middel van hierdie tafel of bank, 'n gekussingde voetbankie van eienaardige vorm; klaarblyklik is dit nie as 'n voetrus gebruik nie, soos die toestand van die kussing dadelik bewys het. Aan die einde van die leesbank was 'n groot Familiebybel en aan die ander twee groot koperboekgewigte wat as 'n rak vir 'n versameling godsdienstige boeke dien. Die gewigte was in die vorm van reisiesperde - natuurlik 'n onbewuste openbaring van Charles se geliefkoosde sport!
De Ville het met een hand om sy ken die hele versameling lank diep ingedagte betrag. Hy het 'n paar van die boeke omgedraai en sorgvuldig teruggeplaas, en toe die voetbankie opgetel en noukeurig van alle kante besigtig.
Mev. Du Plessis het langs hom kom staan en stilswyend sy handelinge gadegeslaan. Sy kon klaarblyklik sien - soos ons almal - dat De Ville voor 'n probleem staan waarvan die uitleg hom momenteel ontwyk.
Toe Mevrou uiteindelik begin praat, het ek dadelik die gewone beslistheid van toon in haar stem gemis. Daar was 'n sekere mate van huiwering - onsekerheid. Sy het my die gevoel gegee dat dit by haar 'n gewetensaak is. Deur haar diep eerlikheidsin bewoë, is sy nieteenstaande 'n half-onbewuste soort teensin gedwing om reg aan oom Charles te laat geskied. Sy moes eenvoudig alles vertel wat tot sy voordeel kon strek ... juis omdat sy so baie reeds vertel het wat alleen daartoe gedien het om die duister kant van sy karakter te beklemtoon.
‘Dit,’ sê sy in sagte, eentonige stem, ‘is oom Charles se gewyde hoekie. Hier lees hy godsdienstige boeke, hier doen hy sy gebede en hier voer hy sy persoonlike godsdiensoefeninge uit - altyd alleen; want u moet weet, kolonel De Ville, dat oom Charles diep en waarlik godsdienstig is. Ek weet van gevalle toe hy hier ure lank alleen in gebed gekniel het.’
‘Dit was waarskynlik slegs wanneer oom Charles 'n hopie geld op die baan kwytgeraak het,’ val haar eggenoot haar in die rede met 'n laggie waarin egter geen die minste kwaadwilligheid skuil nie.
‘Nee, Armand, dit is nie waar nie. Gee die duiwel wat hom toekom. Oom Charles het 'n ware en diep godsdiensgevoel.’
‘Ag, ek het maar 'n grappie gemaak. Ek sal seker nooit 'n verontskuldiging hoef te maak vir enige laster wat ek teen ou oom Charles sou kon uiter nie. Ek dink, Madame, wat ons betref, is die skoen aan die ander voet - aan jou voet, om kort te wees!’
Ons het weer almal 'n weinig oor hierdie wending van die gesprek gelag. Ek dink dat daar 'n bepaalde gevoel van verligting by ons ontstaan het wat oom Charles betref. Dit was asof 'n aaklige wolk aan wegdrywe was, asof 'n moeilike plig van ons skouers weggeneem is.
Ek kon nie, toe ons weer op die stoep uitstap, nalaat om De Ville te nader nie, want tot nou toe het hy geen woord gepraat nie ... nouliks geglimlag oor grappies wat af en toe in ons gesprek opgeduik het.
| |
| |
Ons twee was 'n weinig van die ander twee verwyder, toe ek halfvraend aan hom sê: ‘Dit lyk asof ons na hierdie onthulling oom Charles heeltemal sal moet uitskakel. 'n Godsdienssin van hierdie aard was die laaste karaktertrek wat ek ten minste by hom sou verwag het.’
‘Doktor,’ antwoord hy, ‘as daar een ding is wat my omgang met en ondervinding van die menslike misdadiger my geleer het, is dit die sekerheid dat die mees verhewe en edelste dryfvere, die skoonste ideale, aanstrenging tot dade van die hoogste selfopoffering en dapperheid, uit presies dieselfde springaar as die swartste misdaad voortvloei. Uit dieselfde donker hoekie in die menslike gemoed kom somtyds die diepste godsdienssin tesame met die wreedste moorddadigheid byna gelyktydig te voorskyn. Een van die mees gevoellose moordenaars en verkragters wat ek ooit geken het, was 'n troue lid van die Heilsleër en in hul opwekkingsdienste het geen stem meer ware gemoedsaandoening onder die toehoorders verwek nie as die trillende tone van sy smeekbede en die klinkende versekering van ware geloof in persoonlike redding wat sy toesprake deurstraal het. Geen man het 'n dieper medelyde met mishandelde diere gehad, of het meer gedoen vir verwaarloosde en lydende kinders nie ... En die man was tegelykertyd 'n wrede en gevoellose moordenaar. Sulke gevalle is in alle lande algemeen. Die sentrums van eksultasie in die menslike siel verskaf dikwels aanstrenging tot aksie wat in die teenstrydigste rigtings verwesenlik kan word. Wat my betref, ek probeer om van alle vooroordeel vry te bly, maar ek neem die bidbankie nooit as volslae bewys van onskuld nie.’
En toe val hom skielik iets te binne. ‘Ek sal julle sê wat ons gaan doen,’ spreek hy ons almal toe. ‘Ons drie mans gaan nou op die daad die derde voetpad deur die populierbos gewapen deurloop. Dit is darem te kinderagtig om ons so deur 'n spookstorie te laat afskrik! Ons is tog volwasse mans en nie babas nie, en ons kan eenvoudig sulke barbaarse bygeloof nie aanneem nie ... Is julle klaar om saam te kom?’
Hierdie woorde van De Ville en die daarmee gepaardgaande houding het op ons gemoedere die uitwerking van 'n basuingeskal op 'n verslapte leër gehad. Onmiddellik het Armand en ek dit met geesdrif beaam. Natuurlik sal ons gaan ... dit is net wat nodig is. Waarom sal ons op polisie en hulp wag. Dit sou tog te lafhartig wees. Ons sou gedurende ons hele lewe die verwyt gevoel het dat ons by hierdie aangeleentheid in gewone mannemoed te kort geskiet het. En wat sou die bure ... al ons kennisse ... daarvan dink dat ons helder oordag deur 'n inboorlingspook op loop geja is? Want ek was daarvan oortuig dat ons almal lank reeds ingesien het dat dit die onuitgesproke gevoel van iets bonatuurliks in die gebeurtenis was wat ons gedrag in die eerste instansie gerigsnoer het. Ons was net te skaam om dit te verheel, om dit van ons eie bewustheid selfs weg te steek. Daarom het ons reeds spottend van die spook gepraat en oor die ou swartman se ernstige verhaal gelag. Nietemin het Ra-di-Nari diep
| |
| |
in die gemoed van elkeen van ons toe reeds 'n vae en onduidelike wese aangeneem gehad; en juis omdat dit so vaag en onseker was, so uiters raaiselagtig, het hierdie aspek van die saak ons so diep ontroer.
Tot ons verbasing het mevrou Du Plessis ook dadelik ingestem: ‘Natuurlik is dit die regte weg,’ het sy by ons aller instemming gevoeg. ‘Dit moet opgeklaar word, hoe gouer hoe beter. As daar werklik gevaar is, sal uitstel en beraadslaging dit nie verminder nie en as drie gewapende mans dit nie kan oormeester nie, sal 'n kommando seker nie veel beter vaar nie ... maar een ding wil ek hier en nou verklaar: Ek gaan nie agterbly nie! Ek gaan saam! Die ontmoeting van die wesenlike gevaar in lewende lywe kan nooit erger wees as om hier by die huis in knaende angs die uitslag af te wag nie. Armand, julle gaan, en ek gaan saam.’
Armand maak sy mond oop om beswaar aan te teken, maar voordat hy 'n woord kon uit, sit sy vrou haar hand met 'n vrolike laggie op sy lippe.
‘Geen woord nie, Armand! Ek gaan saam! As julle drie my nie kan beskerm nie, dan is die vooruitsig maar skraal dat julle in staat sal wees om die geheim van Ra-di-Nari op te los. En as julle gaan verpletter word, dan wil ek ten minste nie alleen agterbly nie. Dit help nie om te praat nie. Ek gaan saam!’
Ek kan my nie herinner dat een van ons ernstige beswaar gemaak het nie en mev. Du Plessis het haar sin gekry.
Die enigste aanmerking wat haar man gemaak het, was: ‘As jy gewapen gaan, Margaret, sal ek sorg om net so ver van jou af te bly as van Ra-di-Nari. Julle sal ewe gevaarlik wees.’
‘Ek sal my klein rewolwer neem, maar ek sal dit in my sak dra en ek belowe om dit alleen in geval van uiterste gevaar te voorskyn te bring.’
Ons was almal opgewonde en geesdriftig oor die voorstel en tog - instede van dadelik die onderneming te aanvaar, soos De Ville voorgestel het - het dit ure geduur voordat ons vir avontuur gereed was.
In die eerste plek moes die ondersoek van die huis eers afgehandel word. Ons het hiermee haastig te werk gegaan en tog was dit lank na die middagete, toe ons daarmee klaar was. De Ville was nog onrustig oor die patrone en ons het 'n stuk of vyftig Mauser-patrone ontlaai, voordat hy tevrede was dat altans die koeëlpatrone geen dinamiet bevat nie. Die haelgeweerpatrone het hy vir later ondersoek gelaat, omdat ons teen Ra-di-Nari alleen koeëlgeweers sou gebruik.
Die ondersoek van die huis was net so onvrugbaar as die ondersoek van die patrone. Ons het niks in sy smidswinkel, of slaapkamer, of biblioteek gekry wat enigsins die verdenking teen Charles du Plessis versterk het nie. Net een ding het ek opgemerk en dit was dat terwyl De Ville in die slaapkamer die laai van 'n lessenaar deursoek, hy 'n voorwerp te voorskyn gebring het wat hy 'n paar minute lank noukeurig bekyk en toe met 'n haastige beweging in sy baadjiesak geplaas het. Ek kon sien dat hy geneig was om die aandag van ons ander
| |
| |
van hierdie voorwerp af te trek. Ek twyfel of Armand of sy vrou dit gesien het. In enige geval het nie een van die twee enige opmerking daaromtrent gemaak nie en ek het ook stilgebly, omdat ek kon sien dat dit die wens van De Ville was. Wat dit was, wis ek nie, want ek het dit slegs vlugtig gesien. Dit het vir my soos 'n klein rol van die een of ander soort lyn of tou gelyk. Ek kon egter dadelik aan De Ville se houding merk dat dit iets is waaraan hy aansienlike waarde heg.
Toe ons uiteindelik klaar was, was elkeen van ons drie mans met 'n Mauser met gevulde magasyn gewapen, terwyl mev. Du Plessis 'n leerband om haar skouer het wat 'n rewolwertassie op haar heup gevestig hou. Die klap van die sakkie was oop, sodat die rewolwer met 'n enkele handbeweging te voorskyn gebring kon word.
Ons was almal oënskynlik vrolik en opgeruimd toe ons op die stoep vergader, gereed vir die onderneming wat, soos ons almal gevoel het, die laaste is wat die geheim van Ra-di-Nari op die een of ander wyse moet opklaar. En tog was dit duidelik in ons dampkring voelbaar dat daar diep in almal se harte 'n aansienlike mate van angs - of liewer gesê, senuweeagtigheid - met ons ligsinnigheid gepaard gegaan het en dit was hierdie laaste gevoel wat ons gemoed oormeester het lank voor ons dié dag met Ra-di-Nari klaar was.
Die namiddagson het net die bergtoppe agter die huis bereik, toe ons die hoë stoeptrappe afstap. Vinnig het die skaduwees van die spitse voor ons oor die landerye uitgereik en voor ons die populierbos bereik, het die laaste sonstraal reeds verdwyn. Die stilte van 'n rustige aand het oor Farellone neergedaal. Oor die toppe van die populiere kon ons die rookwalms van die stat in lang spirale hemelwaarts sien styg. Vér in die berge êrens was die skaars hoorbare geblaf van 'n hond wat in 'n somber getjank oorgaan; afgesien daarvan heers daar oor Farellone 'n doodse stilte wat waarskynlik in ander omstandighede geen diep indruk op ons sou gemaak het nie. Maar nou - met die populierbos voor ons - het dit op my altans die indruk gemaak van 'n verskriklike voorbode. En nooit in my lewe tevore het 'n populierbos vir my so afskrikwekkend gelyk nie. Die verkleurde blare hang roerloos in die beweginglose lug en saam met die digte kreupelhout onder, was dit reeds 'n donker, ondeurdringbare vlek skaduwee. Die bos het op my die indruk gemaak van 'n lewende gedrog - 'n magtige roofdier wat ons met gespanne spiere inwag; of van 'n verhelende gewaad, waardig om die dood in een van sy afgryslikste vorms te bedek. Dat daar iets onuitspreeklik boos in die bos loer en wag, was by elkeen van ons - so het ek gedink - 'n reeds ingewortelde geloof.
Armand du Plessis het tot op die laaste nog grappies gemaak, maar ek dink sy vrolikheid was van dieselfde aard as die opgeruimdheid van die reisiger wat luidrugtig 'n psalm fluit wanneer hy snags die ou begraafplaas nader!
Op die rand van die bos het Armand aan sy vrou gesê: ‘Margaret, as 'n onweerstaanbare drang om te skiet jou oormeester, mik dan in hemelsnaam nie
| |
| |
op Ra-di-Nari nie, maar liewer reg op my ruggraat. Dit is die enigste kans wat ek het om te oorleef.’
En ek herinner my dat hy aan De Ville gesê het: ‘Kolonel, jy het seker nog nooit spookbiltong geproe nie. As ons Ra-di-Nari kry, sal ons die biltong gelykop verdeel!’
De Ville het by die ingang van die derde voetpad 'n ernstige toespraak gelewer. ‘Hoe groot die gevaar is, weet ek nie, maar dit betaam ons om vir enige verrassing gereed te wees. Ek sal voor loop en daar moet twee tree tussen elke twee wees. Mev. Du Plessis sal laaste in die linie wees. Ek sou voorstel dat dr. De Roubaix my volg. En moenie blind skiet nie. Dit sal net onsself in gevaar bring. As 'n alarm kom, moet elkeen - soos tevore - agter die naaste boomstam skuil, en moenie skiet voor julle duidelik sien waarna julle skiet nie.’
En sonder 'n woord meer is ons die derde voetpaadjie in.
Elkeen had sy geweer klaar, met die tromp vorentoe gerig.
Die derde voetpad was ruier toegegroei as die ander twee waarvan ons reeds ondervinding gehad het en so stadig het De Ville geloop dat ek dikwels op sy hakke was. By elke plek waar die struikgewas dig oor die voetpad toegegroei was, het hy halt gehou en met die tromp van sy geweer die takkies opsy gedruk.
Ek skat dat ons omtrent halfpad was - 'n paar populiertakke van weerskante het die verdere loop van die voetpad buite ons gesig gestel en De Ville was besig om hulle met sy geweer opsy te druk - toe die onverwagte gebeur. Ek sê ‘onverwagte’, want ons was almal toe reeds min of meer gerusgestel. Ek was teen De Ville, toe daar skielik 'n krakende uitbarsting in die bosse voor hom was. Hy het in my arms agteruit gedeins met 'n luide uitroep: ‘Here! Pas op!’ Ek sien sy geweer met die uiterste geweld uit sy hande opwaarts ruk en onmiddellik daarna staan ons mekaar verbysterd en aankyk. Armand het sy vrou gegryp en agter 'n boomstam ingedruk, en toe ons omkyk, sien ons alleen die tromp van sy geweer gereed gehou. Daar was 'n paar minute stilte en toe begin De Ville lag ... al hoe harder, totdat sy vrolike uitbarsting seker tot by die huis hoorbaar was. Ons kon hoor dat daar niks histeries in sy lag is nie; dit was die gelag van iemand wat 'n blye ontnugtering na lang spanning ondervind. Armand en sy vrou het hulle by ons gevoeg en toe, terwyl hy nog lag, wys De Ville met sy vinger na bo. Daar sien ons sy geweer aan die end van 'n tou waarvan die ander end aan die punt van 'n boogboom gevestig is.
En terwyl ons daar verwonderd staan, haal hy die voorwerp uit sy sak wat hy uit die laai in die biblioteek gehaal het.
‘Dit,’ sê hy, ‘het ek in oom Charles se kamer gekry.’
‘Wat is dit?’ vra almal tegelyk, want uit sy gedrag was dit vir ons duidelik dat hy 'n ontdekking gedoen het wat op die saak betrekking het. Sonder 'n woord oorhandig hy die rol aan Armand en nadat Mevrou en ek dit ook beurtelings in hande gehad het, staan ons hom vraend en aanstaar ...
| |
| |
‘Weet jy wat dit is?’ vra hy aan Armand.
‘Ja,’ antwoord Du Plessis twyfelend, ‘dit is 'n tou en ek het natuurlik dikwels tou en lyn van hierdie aard gesien wat deur naturelle gevleg word. Gewoonlik is dit van vesels alleen, maar dit lyk of hier iets bygevoeg is.’
De Ville neem die rol en maak 'n gedeelte los wat ons op 'n ry in die hande neem. Dit is 'n fyngevlegte lyn, ongeveer twee maal so dik soos 'n menseduim.
‘Hier lê die sleutel van die geheim van Ra-di-Nari,’ sê De Ville. ‘Wonderlik hoe die menslike geheue werk! Net toe ek die tou in die hande gekry het, kom daar in my herinnering 'n gebeurtenis uit my kindsdae, toe ek 'n dergelike tou in gebruik gesien het en dadelik skiet my 'n uitleg te binne wat geen twyfel by my oorgelaat het nie. Kom, ek sal u aan Ra-di-Nari voorstel en dié keer is dit onnodig om wapens te dra! So veilig is dit dat Mevrou gerus kan saamgaan.’
Ons vier het hom gevolg, terug na die tweede voetpad waar die hond verongeluk het.
Daar was 'n groot onderskeid tussen die gedrag nou en by die vorige geleentheid. Hy het vinnig en met die grootste vrymoedigheid die bos ingegaan tot waar ons die verbasende gebeurtenis met die hond gesien het.
‘Wat my die meeste mislei het,’ sê De Ville, ‘was die afwesigheid van herkenbare spore en hierdie lêplek in die varings wat genoeg was om enige mens te mislei.’
En toe wys hy na die top van 'n boogboom langs die voetpad. ‘Daar is Ra-di-Nari!’
Bo aan die boom is 'n lang stuk tou, klaarblyklik van dieselfde soort as wat hy ons reeds getoon het.
‘Die tou is die sterkste wat deur naturelle gedraai word en ek twyfel of daar sterker vesels, selfs in die beskaafde handel, bekend is. Dit word gemaak gedeeltelik van vesels uit die binnebas van die berg-brandnetel en gedeeltelik van sening uit die garingvleis van grootwild. Dit word deur die hele Afrika gebruik om wild mee te vang. Die gebeurtenis wat ek uit my kindsdae onthou het, was dat ek 'n koedoekoei in een van dié dodelike wippe gesien het. Vir wippe om grootwild mee te vang, word natuurlik sterk bome gebruik, vir die buiging waarvan somtyds die krag van verskeie mans vereis word. Gewoonlik word die dier òf aan die agterbene gevang en so geruk dat die helfte van die lyf deur die veerkrag van die boom in die lug gehou word. Die buigbaarheid van die gekose boom maak die krag van die sterkste bok nutteloos; sy aanhoudende gespartel dien alleen om hom des te gouer uit te put. Dit is makliker om te begryp wat gebeur wanneer 'n kleiner dier deur 'n magtige wip van hierdie aard gevang word. Hy sou in die lug met groot geweld opgeslinger word en vreeslik deur die tou geskeur word. Dit is maklik om die knoop te maak dat dit met die tweede ruk los raak ... dit wil sê, wanneer die gevange dier die hele lengte van die tou opgeskiet word. Dit is wat met die klonkie sowel as die hond gebeur het ...
| |
| |
Die enigste vraag wat 'n tyd lank by my onopgelos gebly het, was hoe die persoon wat hierdie wippe gestel het, dit kon gedoen het sonder groot voorbereidings en die hulp van verskeie sterk assistente.
Die antwoord sal by julle dadelik opkom. Honderd tree hiervandaan in die lande lê die vernuftige masjientjie om wortels mee uit te trek. Een man kan dit maklik vervoer; met 'n sweepstok kan hy die tou om die top van 'n geskikte boom vasmaak; hy kan dan met behulp van die masjien, sonder dat enige verdere menslike hulp nodig is, die “boogboom” so ver omtrek as wat vir die stel van die wip nodig is. Ra-di-Nari se lêplek is waar die masjien om die stam van hierdie groot populier vas was.’
Dit is onnodig om die verdere verloop van sake in verband met die spookbul van Farellone te verhaal. Bykomende getuienis het dit buite alle twyfel geplaas dat hier, met voorbedagte rade, 'n poging tot moord gedoen is en net so min was daar aan die skuld van Charles du Plessis te twyfel. Daar was egter geen hofsaak of openbare skandaal in verband met die saak nie. De Ville en Armand het 'n private onderhoud met oom Charles gehad, waarna hy spoedig weer in die donker gedeelte van die Vasteland verdwyn het. Daar is hy enige maande later aan koors oorlede.
Ek onthou De Ville se laaste woorde aan Margaret Du Plessis: ‘Mevrou, indien daar ooit by my die minste twyfel was dat 'n vrou in sekere omstandighede 'n duidelike voorgevoel van dreigende gevaar kan gewaar, dan het die geval van Ra-di-Nari dit vir ewig vernietig.’ |
|