| |
4 Salas y Gomez
Verbrand deur loodreg sonnegloed,
rys bar en bloot van uit die stille vloed
Salas y Gomez; 'n rotsgestalt' in eensaamheid verlore,
slegs deur gevleugeltes as broeiplaas uitverkore.
Geen voetspoor ooit van dier of mens
oorkruis sy rotsbeskanste grens.
(Oorsetting uit SALAS Y GOMEZ van die Duitse volksdigter Von Chamisso.1.
Ek dink nie dat ek ooit in my lewe 'n mens ontmoet en geken het wat so 'n diep indruk op my gemaak en my só beïnvloed het as die Voortrekker Hendrik du Preez nie. Hy was in sy nege-en-tagtigste jaar toe ek hom die eerste maal ontmoet het en is tien jaar later, op die drumpel van sy honderdste jaar, oorlede.
| |
| |
Hy en sy gade, Rachel van Heerden, het 'n huwelikslewe van tagtig jaar deurgemaak en 'n voorbeeldiger, liefdevoller egpaar het ek ook nooit ontmoet nie. Tant Rachel was in ons distrik algemeen as ‘Ouma’ bekend en selfs in haar hoogste ouderdom het nog van haar 'n verbasende atmosfeer en invloed op haar omgewing uitgestraal - 'n waardige gade van die gevierde ou held.
Oom Hendrik du Preez was byna sy hele lewe lank 'n ouderling van die Doppergemeente in ons distrik en as godsdiens ooit 'n man ten goede gestaan het, dan was dit in die geval van hierdie stoere ou Voortrekker. Hy was 'n suiwer volgeling van Calvyn, met sonderlinge wendings van sy eie, wat sy godsdienstige geloof 'n boord van skone frisheid gemaak het. Net in een opsig was hy nougeset en dit was in sy verfoeiing van alle godsdienstige onverdraagsaamheid.
Vyf-en-twintig jaar gelede was daar nog 'n aansienlike aantal Voortrekkers in die noorde wat met Hendrik du Preez saam opgegroei en saam met hom al die grootse gebeurtenisse van die Voortrekkergeskiedenis deurgegaan het. Onder al sy ou makkers was hy geëer as 'n skitterende held en dit is van sy makkers, en nie van hom nie, dat die meeste verhale omtrent sy vroeër lewe afkomstig is.
As 'n jong man was hy beroemd as een van die sterkste mense wat ons volk ooit voortgebring het - en dit is voorwaar veel gesê - en van sy jongste dae af het die sonderlinghede van sy karakter uitgeblink. Nooit was daar 'n standvastiger, 'n dapperder jongkêrel as Hendrik du Preez in al die wedervaringe wat die Voortrekkers in hul avontuurlike lewe moes deurmaak nie. Een van sy sonderlinghede was dat hy stelselmatig geweier het om ooit enige amp of erepos in die burgerlike of krygslewe te aanvaar. Hy kon verskeie male veldkornet, kommandant, kommandant-generaal, Volksraadslid gewees het, as hy wou. Maar met sy gewone, kalme beslistheid het hy alle versoeke in hierdie rigting afgeslaan. Dit was in die kerk alleen dat hy oorgehaal is om 'n amp te beklee en dié het hy gedurende sy hele lewe behou.
As daar ooit 'n ware filosoof was, dan was dit oom Hendrik. Hy het van nature 'n verstand gehad so skerp soos 'n geslypte dolk en sy mensekennis was 'n gedurige bron van wysheid en humor. Sy grappe is oor en weer vertel, totdat hulle onder ons volk spreekwoordelik geword het. Hy kon die swakhede van die mens in enkele, bytende sinsnedes skitterend voorstel. Maar sy humor was nooit bitter of kwetsend nie. As hy in sy beskouings oor menslike swakhede ooit 'n weinig genadeloos was, dan was dit oor sy eie.
Tesame met sy verbasende liggaamskrag was hy beroemd om 'n taaiheid wat in sommige verhale die grense van geloof oorskry het. Maar ek weet uit eie ondervinding dat hy verbasend taai was. Hy wou hom nooit chloroform laat toedien nie en het in my bysyn groot operasies ondergaan nie alleen sonder om flou te word nie, maar sonder 'n enkele kreet van pyn.
| |
| |
Een van sy sonderlinghede was 'n gedurige bron van ontevredenheid onder sy jonger bewonderaars: hy wou nooit ‘stories vertel’ nie. Af en toe het hy iets uit sy verlede verhaal, maar dit was meestal een waarin 'n ander persoon die hoofrol gespeel het, of om die een of ander van sy filosofiese leerstellings te bevestig. Om te vertel, net om te vertel - daartoe kon jy hom selde of ooit oorhaal.
Hy en sy ou gade was altwee oorlewendes van die Bloukransmoord. Oom Hendrik was 'n klein seuntjie en het in die bos langs die rivier beeste gekeer, toe hy van die kant van hul laertjie die oorlogskrete van die Zoeloes gewaar. Hy het verskrik teruggehardloop, want hy was nog maar baie klein. Toe hy nader kom, hoor hy die hartverskeurende gekerm wat soos 'n gedurige uitroep tot God onafgebroke van die waens opstyg. Die waens van sy familie was reeds in ligte laaie en tussen die rook en vlamme sien hy die swart gedaantes van Tsjaka se soldate in volle oorlogstooi met skitterende asgaaie. Op die rand van die bos het hy in 'n ruie doringboom geklim en daarvandaan het hy sy jong moeder van die brandende waens met sy klein boetie ('n baba) aan haar bors sien vlug. Sy hardloop in sy rigting. Drie Zoeloes spring haar agterna en deurboor haar en die kind van agter met hul steek-asgaaie. Só naby was sy dat hy die wroeging van pyn op haar gesig kon sien, voordat een van die Zoeloes haar die genadeslag toedien.
Hy is later deur perderuiters van een van die veilige laers gered en uitgebring. 'n Oom - 'n jonger broer van sy vader - het hom grootgemaak, want van sy naasbestaandes het geen enkele uitgekom nie.
As kind moes hy 'n harde lewe deurmaak. Sy oom was 'n olifantsjagter - altyd op die voorposte van die Voortrekkersamelewing - en van sy vyftiende jaar het klein Hendrik olifante geskiet as die vernaamste taak van die daaglikse lewe, 'n bitter swaar arbeid vir 'n seun van vyftien met 'n agtponder-roer. Maar die lewe het hom gehard, totdat sy liggaam deur 'n seningstelsel van staal aaneengegord was. As hy van nature bangerig was, dan het hierdie heldeskool seker gestrek om alle tekens daarvan te vernietig. Alle oorloë het hy van sy kindsdae af met sy oom meegemaak. Die versagtende liefde van 'n moeder het hy nooit geken nie. Die groot les vanaf sy jongste dae op hom ingeprent, was om alles te verdra sonder om te kla. Daar was niemand om by te kla nie! En die tweede les was om vir homself te sorg en om nooit te veel hulp van ander te verwag nie.
Die Du Preez-huis was deur die gehele noorde bekend. Jaar na jaar is stukke aangebou, totdat die gebou 'n klein kommando kon huisves. Dit was hoog teen 'n rant geleë en een hoek van die breë stoep was aan oom Hendrik en ‘Ouma’ gewy. Hier was hul rusbank en leunstoele, 'n klein koffietafel en 'n paar ondergeskikte stoele vir besoekers, en ander lede van die gesin.
Van hierdie hoek was daar 'n pragtige uitsig oor een front van die reus, Roerdomp, wat die uiterste, oostelike spits van die Middelgebergte is.
| |
| |
Eendag toe ons daar in die hoekie sit, gaan ons gesprek oor die groot kransgroep waarvan Roerdomp die vernaamste enkeling is. Na aanleiding hiervan merk oom Hendrik op: ‘Die swartmense het snaakse bygelowe! Volgens hulle besit 'n berg byvoorbeeld 'n persoonlikheid wat liefde en wraak kan betoon. Van Roerdomp vertel hulle dat die berg vreeslik fyngevoelig is en altyd gereed is om vir die kleinste belediging wraak te neem. Soos u weet, is Roerdomp beroemd om sy kransheuning en van ouds af het die swartes die kranse met hul paallere beklim om neste uit te haal. Jy kan nou nog baie van hul paallere teen die kranse sien. Maar voordat hulle trag om die kranse te beklim, moet 'n hele reeks seremonies uitgevoer word. Die vernaamste is om 'n klip opwaarts te gooi met 'n soort gebed aan Ra-di-Nosi - die vader van die heuning - 'n versoek om verontskuldiging vir die roof wat hulle van plan is om uit te voer. As hulle in hierdie opsig nalatig is, dan val een van hulle seker - 'n slagoffer wat die berg onvermydelik eis vir enige affront van hierdie aard.
Op 'n sekere dag het “Ra-di-Nosi”, of “Roerdomp”, soos ons hom noem, my ook beetgepak en byna verpletter en die ou swartes het my verseker dat dit net was omdat ek in die voorafgaande aanbidding nalatig was!’
En toe begin oom Hendrik my die storie vertel - die wonderlikste storie van 'n werklike gebeurtenis wat ek ooit in my lewe gehoor het. Op my aandrang het ons Roerdomp die volgende dag te perd besoek - Hendrik du Preez te perd in sy drie-en-negentigste jaar! Ons het in Dubbele Kranskloof afgesaal en toe te voet gestap na die westelike front van Ra-di-Nosi.
Ek het 'n Zeiss-verkyker by my gehad. Toe ons onder die berg kom, wys oom Hendrik na 'n swart streep hoog teen die krans. ‘Dit is die lys, neef!’ sê hy.
Na voorbereidings wat drie weke geduur het, het Austin en ek die lys bereik. Daar het ek foto's geneem en sekere tekeninge gemaak van merke en inbeitelings wat sewentig jaar tevore gemaak is. En toe het ek die storie weer gehoor, stukkie vir stukkie, van oom Hendrik en sy vrou en van sowat twintig ooggetuies wat toe nog in die lewe was en die hele gebeurtenis van begin tot einde aanskou het.
Die ou Voortrekkers het wonderlike dinge deurleef. Dit was onvermydelik - 'n natuurlike gevolg van die lewe wat hulle gelei het, waar elke dag die deur tot 'n nuwe en onbekende wêreld was. Maar van al die wonderlike dinge waarvan ek ooit gehoor het, is die avontuur wat Hendrik du Preez sewentig jaar tevore deurgemaak het, by uitstek die wonderlikste. En elke woord daarvan is waar - bevestig deur 'n wolk van getuies en ek self het die laaste bewyse in die onverganklike rots met my eie oë gesien en getoets.
Ek sal probeer om dit hier oor te vertel. Hendrik du Preez is lank reeds ter siele, maar sy nagedagtenis leef nog voort soos die geur uit 'n boord van onsterflike blomme.
| |
| |
Ter herinnering aan 'n Held uit ons Volk, wy ek hierdie verhaal van die verbasendste dinge wat ooit 'n mens van 'n vrou gebore, oorval het.
Op sy een-en-twintigste verjaarsdag het Hendrik du Preez tot sy grootste verrassing die plaas Môreson van sy pleegvader as geskenk gekry. Nie alleen het sy pleegouers hom bemin nie, maar hulle was trots op al sy sonderlinge begaafdhede; op sy verbasende liggaamskrag wat hom 'n naam deur die gehele noorde verwerf het; op sy ratsheid; sy fyne verstand en die verbasende skoonheid van sy gesig en liggaam. Die ou Hollandse matroos wat meester op sy oom se plaas was en hom leer lees en skrywe het, het Hendrik altyd ‘de jonge Simson’ genoem. Volgens die mode vroeër in swang onder die sogenaamde ‘Doppers’, was Hendrik du Preez altyd skoon geskeer. Sy vel - gebruin deur son en weer - was glad soos die gesigshuid van 'n jong meisie en sy gelaatstrekke het die beeldagtige skoonheid van 'n suiwer Griekse tipe bevat. Hierdie fyn skoonheid is deur elke liggaamsdeel weergegee. Dit was opmerklik dat niemand ooit sy byna bonatuurlike krag uit sy liggaamlike voorkome sou vermoed nie. Hy was van gemiddelde hoogte en sy bedekte ledemate het niks van sy pragtige spiergestel getoon nie.
Met sy groot bos bruin hare, glad agteroorgekam en gelyk met sy skouers afgeknip, het hy iets van 'n leeu in sy voorkome gehad - totdat die toeskouer die kalm gesig en sagte oë aanskou. Dan was daar iets wat die indruk verskaf van 'n heilige wat die wêreld, die vlees en al sy begeerlikhede vir ewig onder die voete vertrap het.
Dit was asof die hemel al sy aantreklikste gawes aan die voete van die jongeling gelê het. Nie alleen het hy byna volmaakte liggaamlike skoonheid besit nie, maar daarmee het 'n verbasende verstand gepaard gegaan. Daar was net twee boeke wat die ou Hollandse skoolmeester geleentheid gehad het om hom te leer lees: die Bybel en die Psalms. Die ou Hollander moes hom al die moeilike woorde en sinne duidelik maak. Hy het 'n klein sakbybeltjie altyd met hom meegevoer. In die eensame veld was Job sy geliefkoosde boek. Sy geheue was verbasend. Voor sy een-en-twintigste jaar kon hy groot gedeeltes van die Heilige Skrif uit sy hoof woord vir woord opsê. Die Psalms op rym het hy almal geken, toe hy nog 'n kind was en lank voordat hy kon lees. Later het hy 'n Gesangboek in die hande gekry en ofskoon dit deur sy kerk verfoei is, het hy dit gelees. Die pragtige gedigte deur sommige van die grootste Nederlandse digters het 'n lewenslange indruk op hom gemaak en in sy huisgodsdiens het hy altyd die gesange laat sing. Uit dié drie boeke het hy sy woordeskat verbasend verryk en tot sy dood toe het die gees van hierdie letterkundige skatte in sy gewone taal skitterend uitgeblink.
Nouliks twee maande na sy jarigwording het hy Rachel van Heerden by 'n Nagmaal ontmoet. By Hendrik du Preez was alle hartstogte geneig om buitensporig te wees. Die liefde het eenvoudig stormenderhand sy siel verower.
| |
| |
Rachel was in alle opsigte sy teenoorgestelde. Waar hy aan die brunetkant was, was sy 'n egte blondine, met hare van louter goud, violetblou oë en die kleur van die eerste perskebloeisels op haar wange. Liggaamlik was sy fyn en delikaat gebou, met klein voetjies en handjies, en 'n stem en lag wat Hendrik herinner het aan die musiek van 'n bergstroompie ná die eerste somerreëns.
Of Rachel ook so skielik op hom verlief geraak het, is moeilik om te sê. Een ding is egter seker: as dit so was, het sy in die begin hom nie die minste bewys daarvan gegee nie. Al die jonglui in haar buurt het kom kuier, want sy was nie alleen die mooiste meisie in die wyk nie, maar daar was ander en meer stoflike aantreklikhede. Haar vader, Karl van Heerden, was een van die rykste veeboere in die distrik en hy het 'n prinsdom van plase aanmekaar gehad, wat van die berghoogtes gestrek het tot in die rykste weiveld van die houtbosse. Die jongkêrels het kom kuier en weggebly, en weer gekom en aan geen enkele het sy 'n bepaalde voorkeur getoon nie ... en toe verskyn Hendrik op die toneel!
Of dit enkel toe te skrywe was aan sy onwrikbare beslistheid en deurdringendheid van gees, is moeilik om te sê, maar dit is seker dat sy verskyning gepaard gegaan het met 'n aanmerklike verdunning in die geledere van naweekbesoekers aan die Van Heerden-aanleg. Dit het gelyk of die meeste moedeloos geword het toe hulle met Hendrik as mededinger rekenskap moes hou. Desnieteenstaande kon hy van Racheltjie geen besliste antwoord ontvang nie. Soos dit meestal met meisies gesteld is wat talle bewonderaars besit, het niks haar meer genot verskaf as om die hele bende bitter jaloers op mekaar te maak nie.
Die gevaarlikste mededinger wat Hendrik ten laaste besit het, was Willem Prinsloo, of so het Hendrik altans stellig gedink. Slap-Willem, soos hy bekend was onder die bure, was nie juis 'n beeld van skoonheid nie. Hy was lank en maer met 'n perdegesig (het Hendrik altans beweer). Hy was vooroorgebuig met hande en voete so groot dat hulle die indruk gegee het dat hulle sy gang aanmerklik belemmer! Maar Slap-Willem Prinsloo was ryk - byna net so ryk soos Karl van Heerden self. Sy ouers was albei dood, sodat hy reeds in besit was van die groot Prinsloo-woonhuis en al die uitgestrekte veeposte.
Willem kon sy bruid 'n baie gemaklike lewe aanbied: sy hoef nooit haar hande in koue water te sit nie - en dit kon Hendrik du Preez op hierdie tydstip seker nie doen nie.
Dit het alles bygedra om die blote bestaan van Slap-Willem 'n bron van oneindige lastigheid vir Hendrik te maak. Hy was vir hom net so ergerlik as 'n stukkie houtskool in sy oog!
En hoe meer Rachel sy jaloersheid merk, hoe gretiger was sy om gunste aan Slap-Willem te betoon. Hy was die laaste vryer wat sy kon gebruik om Hendrik se nagte slaaploos te maak en sy dae 'n wrewel.
En Slap-Willem het al hoe meer in sy skik geraak, nieteenstaande die feit dat
| |
| |
Rachel nooit op sy aandrang ‘ja’ wou sê nie! Hy het gereeld elke naweek begin kuier asof hy reeds die aangenome minnaar van Rachel van Heerden is.
En toe, op 'n sekere Saterdagaand, toe hy op pad na die Van Heerdens is, gewaar hy op die laaste bult, voordat hy die huis bereik, 'n perderuiter dwars in die pad en helder teen die aandlig gesilhoeëtteer. Een blik was genoeg om hom van die identiteit van die ruiter te verseker: dit is Hendrik du Preez! En Willem het 'n aaklige rilling deur sy lomp lyf voel gaan toe hy by die nadering van die bulttop merk dat Hendrik 'n enorme agterossambok van fyn, gebreide seekoeivel in sy hand hou!
Maar die begroeting was so beleef as wat hy ooit op die wêreld kon verlang.
‘Naand, neef Willem,’ word hom vriendelik toegeroep, terwyl Hendrik voor ry en hom die hand aanbied. ‘Ek wil graag 'n paar woorde met jou praat ... Ek sal jou nie lank ophou nie.’
Die toon van vriendelikheid het Willem nuwe moed ingeboesem.
‘Met genoeë, Hendrik! Dit kan seker nie iets danig belangrik wees nie, anders sou jy my tuis besoek het!’
‘Dit hang af van wat jy as belangrik of onbelangrik beskou. Vir my is dit nie van die grootste belang nie, maar jy mag dit anders beoordeel. Ek sien jy is op weg om Rachel van Heerden te besoek en ek wou jou net sê dat Rachel my nooi is. Ek gaan binnekort met haar trou en dit betaam derhalwe geen jongkêrel om haar op hierdie wyse te besoek nie.’
‘Maar, Hendrik, ek het daar niks tevore van gehoor nie en ek dink dat Rachel dit my seker verlede naweek sou vertel het ... Moet ek dan verstaan dat Rachel op jou vraag “ja” geantwoord het?’
‘Nee, Willem, ek kan nie sê dat sy tot nog toe juis “ja” gesê het nie, maar dit maak g'n saak nie. Ek sê jou ek gaan met haar trou.’
‘Maar magtig, Hendrik, jy is tog nie van plan om die meisie gevange te neem nie en dit sal maar swaar gaan om haar met geweld teen haar sin te trou. Elke meisie het tog 'n vrye keuse!’
‘Wat jy sê, Willem, bevat 'n sekere mate van waarheid, maar in ander opsigte is dit vals. Ek is glad nie van plan om geweld te gebruik nie. Ons is tog nie barbare nie! En al kon ek haar met geweld neem, wil ek tog nie 'n vrou hê wat ek by die hare huis toe moet aansleep nie. Nee, Willem, soos jy sê, het sy 'n vrye keuse. Maar, Willem, as ek die enigste appel aan die boom is, dan sou ek met taamlike sekerheid kon voorspel watter appel sy sal kies wanneer sy haar vrye keuse moet uitoefen. Daarom betaam dit my om alle ander appels vroegtydig van die boom te skud! Jy draai natuurlik hier om huis toe, Willem. Ek sal jou groete aan oom Karl en tant Anna self oordra, en ek sal aan Racheltjie jou spyt te kenne gee dat ongesteldheid jou verhinder het om aan te kom en tegelyk sal ek haar die berig gee dat jy nie van plan is om weer te kom kuier nie.’
‘Maar, Hendrik, luister bietjie ...’
| |
| |
‘Willem, dit spyt my dat ek nie langer tyd het nie. Daar is jou pad!’ en hy wys met die reuse-sambok in die teenoorgestelde rigting as dié waarin Willem wou gaan. Hy het hom 'n paar minute lank vas in die oë gekyk en toe keer Willem sy perd om en ry weemoedig terug sonder 'n enkele verdere protes.
Toe Hendrik du Preez dié nag die voordeur van die Van Heerden-woonhuis oopmaak, was die oumense al in bed en hy vind Racheltjie in die voorhuis waar sy klaarblyklik op Slap-Willem wag. Sy was so mooi soos 'n doubestrooide roos in die gloed van die daeraad en toe sy opkyk, sien sy Hendrik in die deur. Sy gebruinde vel was met 'n vloed van kleur opgeluister en sy oë vonkel soos sterre. Hy het haar geen kans gegee om te praat nie.
‘Ramagali Morêna! Borali sje - Morêna! Ramagali! Ramagali! Morêna!’ Dit was die melodieuse koor van begroeting wat Hendrik du Preez hoor net toe hy die hoogste punt bereik van die nek agter die nuwe woonhuis van Môreson. Dit was afkomstig van die kraalvolk van Môreson wat voor die huis vergader was - van die kleinste tot die grootste - om hul nuwe baas en nooi te verwelkom.
Dit was Hendrik se eerste tuiskoms ná die bruilof. Hy was in sy nuwe voltentwa met 'n span van agtien pragtige osse - so eenders dat dit moeilik was om die een van die ander te onderskei. Dit was die huweliksgeskenk van sy pleegvader. Op die voorkis langs hom was Racheltjie, sy bruid, nog in haar wit troutabberd, met 'n versiering van blou aan hals en romp.
Bo-op die nek het hy 'n paar minute lank laat stilhou om die span te laat blaas en om Rachel en hom die kans te gee om op hul gemak hul nuwe woonstede te bekyk. Hier van die nekkie af kry die reisiger die eerste gesig van die plaas. Dit was asof 'n gordyn skielik opgaan om 'n skitterende, asemstelpende skouspel te openbaar.
Links onder die nek, maar hoog teen dieselfde rant, was die woonhuis van ‘blou, geslane’ klip wat oom Karl laat bou het. So vars en glad was die geelbruin grasbedekking van huis en veranda wat in onafgebroke helling ineenloop dat dit 'n mens herinner aan die vag van 'n klipbokkie onder die strale van die opgaande son.
Tant Anna het alles vooraf laat gereed maak vir die bruidspaar, ‘sodat hulle tuis sou kom en nie bloot huis toe nie’ - soos sy self verklaar het. Die meubels was reeds in die huis en aan kant gemaak, en die huisbediendes was klaarblyklik net besig om die aandete te berei. Uit die skoorsteen walm 'n spiraal rook opwaarts in die stil aandlug. Op die werf, om die huis, was daar 'n gewoel van hoenders en ander pluimvee en uit die groot watervoor wat by die huis land toe verbyloop, kom die gekwaak en hees geskreeu van eende en ganse onder 'n diamantreën van waterdruppels. Die aansienlike trop beeste wat vooruit aangeja is, was op weg na die hoë klipkraal, wat skuins agter die huis in die kliprantjie gestapel is.
| |
| |
Links van die huis is onafgebroke houtbosse - donker soos 'n skaduweevlek onder die tanende lig - 'n skaduwee wat tot aan die voet van die Middelberge strek, aan die oorkant van die groot gelykte. In die stil aandlug lyk die reuseketting veel nader as dit in werklikheid is. Die een magtige spits na die ander rys in reuse-gelid, saffierblou onder die vleklose hemel, die hoogste punte nog bestraal deur die reeds onsigbare son en reg van voor is die grootste en laaste van die reuse, Roerdomp, wat onder die westelike verligting so naby skyn te wees dat die eienaardig gestapelde lyste waaruit sy magtige kranse gevorm is, duidelik soos ewewydige strepe oor die front van die reus sigbaar is. In werklikheid is Roerdomp (die oostelike uiteinde van die ketting) nie veel minder as twee uur te perd van die woonhuis van Môreson af nie.
Hendrik voel 'n warm gloed van onuitspreeklike vreugde siel en liggaam oorstelp! Kan dit alles waar wees? Kan sy drome so verwesenlik word? Dit alles syne - sy huis, sy vee, sy liewe, goeie aarde, en rus en vrede! Hy sien hoe hy in die winter saans uit die lande huis toe kom waar Racheltjie hom op die stoep inwag; hy sien die gloed van 'n vlammende vuur op die es, die twee leunstoele teen mekaar ... en die rus en vrede. Geen rustelose, gevaarvolle nagte in die woeste noorde meer nie - honger, dors, gedurige gevaar en onophoudelike aanstrenging wat selfs sy sterk gestel tot die uiterste kon uitput. Dit was teen sy Calvinisme om God om enigiets te smeek of vir die gebeurde te bedank. ‘God is nie 'n Sotho-kaptein nie,’ was sy geliefkoosde uitdrukking: ‘Wat gebeur, is onveranderlik en watter genoegdoening kan Hy wat alles geskape het, in ons lamlendige gesmeek en geprys vind?’ Maar die eerste aand op die nek bo Môreson het Hendrik 'n sterk versoeking gewaar om iemand te bedank vir al die skatte wat hom te voete gelê is, om sy vreugde op die een of ander wyse luidrugtig bekend te maak.
En toe hy na Rachel op die voorkis langs hom kyk, word die versoeking byna onweerstaanbaar.
Sy het haar kappie afgeneem om die koel aandluggie beter te kan geniet. Die fyner, ligter hare wat om die louter goud van die digter massa uitslaan, het die skyn van 'n lewendige stralekrans, haar donkerviolet oë vonkel soos sterre en daar is 'n kerende stroom van kleur oor haar aangesig. Haar handjies lê op haar skoot vas gevou in die diep aandoening wat ook haar woordeloos hou. Toe Hendrik sy arm om haar sit en haar sagte liggaam vas teen syne druk, was dit met 'n sug van die diepste vrede en vreugde dat sy die omarming beantwoord.
Dit is 'n droom waar daar geen ontwaking of ontnugtering is nie. Die wesenlikheid gaan al sy verwagtings ver te bo. Die maak van sy plaas was in die begin 'n gedurige wonder. Hy het nooit gedink dat die lewe in werklikheid soveel genot en vreugde kon bevat nie. Hy moes elke dag hard werk. Hy moes 'n dam skrop, moes lande vir sy wintergesaaides braak, moes honderde vrugteboompies ent en plant, moes Rachel help met die aanlê van haar groente- en blomtui- | |
| |
ne, moes die vee versorg en tussenin was honderde onvoorsiene werkies wat elke dag onverwags opgeduik het en dadelik verrig moes word. Maar geen stuk van die werk het hom ooit as arbeid voorgekom nie. Wanneer hy die omdolwe van 'n nuwe stuk aarde in sy gedagte vergelyk met die agtervolging van 'n gekweste olifant dae agtereen deur die genadelose woesteny, dan moes hy lag om hiervan as werk te praat. Sy reuse-krag en onuitputbare taaiheid het hom ook ten goede gekom in hierdie aanlêwerk wat 'n gewone mens as ‘swaar’ sou bestempel het. Na 'n hele dag agter die ploeg oor nuwe grond het hy saans net so fris huis toe gekom as toe hy voordag die volk gewek het.
Dit was ongetwyfeld gedurende hierdie eerste dae van sy werk op Môreson dat by hom ontstaan het die diep liefde vir die vrugbare aarde wat as 'n sielkundige gewaarwording sy hele lewe deurtrek het. Hy het in die ‘goeie aarde’ iets gevoeligs, iets lewends gesien wat dikwels die bron van merkwaardige poëtiese gedagtes geword het.
En Racheltjie? Racheltjie was 'n blywende wonder! Nou het hy werklik eers gesien hoe verbasend mooi sy is. Nooit het hy gedroom dat 'n menslike liggaam so volmaak kon wees nie! En wie sou ooit kon dink dat 'n meisie so diep verstandig kon wees? 'n Ingewikkelde saak so gou en so grondig deursien, so ernstig en bedagsaam oor die toekoms kon wees, en tegelyk so vrolik en opgeruimd soos 'n kind? Hulle het dikwels soos kinders deur die huis baljaar. Sy was lief om vir hom weg te kruip as hy saans huis toe kom en dikwels het hy begin benoud word as hy haar nie spoedig kon kry nie en dan, watter gejaag om en oor meubels was daar nie, totdat hy haar vang en met 'n omhelsing wat haar uitasem laat, uitbetaal. Hy het dikwels vergeet hoe sterk hy is, daarom het sy hom ‘my ou erdvark’ genoem en dikwels moes sy uitroep: ‘Moenie jou inboolingnaam, Ramagali (die Sterke), vergeet nie!’
Dit was vir hom pynlik om die paar uur elke dag van haar geskei te wees. Dikwels het hy ekskuse gemaak om onverwags weer huis toe te kom: hy het sy mes, of 'n voorslag vergeet, of het skielik onuithoudbaar lus geword vir 'n koppie koffie. Rachel het sy fyn politiek gou deursien en het hom uitgelag, en gesoen asof hy 'n klein kind is wat gepaai moet word.
En sy vroeëre droom, hoe sy hom saans by die voordeur sou inwag, het 'n wesenlikheid geword van veel meer genot en liefdevolle vreugde as sy droom ooit was.
Dikwels het 'n gevoel by hom opgekom dat dit alles slegs 'n droom is, dat hy wakker sou skrik en al sy vreugde soos 'n mis voor die oggendson sou verdwyn. Dikwels het hy in die nag wakker geskrik, dan het hy haar saggies aangeraak, totdat hy die roering van haar hart gewaar en haar sagte asemhaling hoor. Hy moes hom op dié wyse verseker dat alles waar is en dat Racheltjie regtig daar langs hom slaap.
Hul gesprekke het oor alle onderwerpe gegaan: meestal oor die plaas en hul
| |
| |
rooskleurige toekoms. Ook het hulle dikwels Sondae oor godsdiens en geloof gepraat, en Hendrik het haar van sy eie geloof vertel. Hulle het saam die verbode gesange gelees en gesing, en hy het moeite gedoen om die skone gedigte aan haar uit te lê en oor te tolk soos die ou Hollandse matroos dit aan hom gedoen het.
Uiteindelik het hy in die gevoel berus dat dit die aanvang van 'n nuwe lewe is en dat hy hom nie oor die problematiese end langer hoef te bemoei nie. Die betowering van hierdie dae sou natuurlik voortduur, totdat die Dood (nou, vir die eerste maal in sy lewe, het dié woord hom verskrik!) in die gewone loop die lewensdrade van een of albei knip. Maar dit sou natuurlik in die ryp ouderdom gebeur, wanneer hulle die lewe sat is!
Op Vrydag, 2 Desember, is die klein huisgesin in groot opgewondenheid gedompel. Dit was die onverwagte aankoms van sy oom se swart boodskapper met 'n brief. Hendrik het lekker gelag - tog met die klank van trots in sy vrolikheid! - toe die boodskapper hom met groot formaliteit eers sy oom se bewyskierie oorhandig, soos altyd gedoen is in die geval van belangrike briewe aan hooggeplaaste persone. Die ou heer wou natuurlik op hierdie wyse sy erkenning te kenne gee van die hoë en onafhanklike status wat Hendrik deur sy huwelik en deur die toekenning en bewoning van 'n burgerregplaas verkry het.
‘Sien jy nou!’ sê hy aan sy Racheltjie. ‘Nou kan jy nie meer twyfel dat jou bruidegom 'n man is nie!’ en hy druk sy bors uit en stap om haar met die spoggang waarmee die inboorlinge trots en hoogmoed te kenne gee.
‘Vergeet dit, my ou Erdvark! Jy sal nooit 'n man word nie. As ek jou nou en hier die minste aanleiding gee, sal jy gereed wees om wegkruipertjie te speel! En so sal dit wees, wanneer hierdie bos maanhaar wit is in plaas van donkerbruin!’ en met 'n handveeg frommel sy die lang hare oor sy gesig, 'n gebaar wat hom altyd vererg het - so altans het hy aan haar verklaar.
Die brief bevat die bekendmaking dat sy pleegouers Nuwejaar by hulle sou deurbring. As die Here dit so bestier, sou hulle op Saterdag, 24 Desember, op Môreson aankom.
‘Dit laat ons twee-en-twintig dae om klaar te maak,’ reken Hendrik uit. ‘Ons moet dadelik die groot vark begin skoon voer en daar moet 'n bees geslag word, ofskoon dit 'n groot verkwisting sal wees om nou in die somer te slag. Maar ons sal die volk ook laat feesvier.’
Dadelik is alles op tou gesit asof die fees môre sou begin in plaas van oor 'n maand. Hulle is saam na die kraal om die slagbees uit te soek; daar en dan moes die hoenders, eende, ganse en kalkoene wat deur Rachel as slagoffers aangedui is, gevang en op hok gesit word. Die groot vark word ook besoek en op skoonhok gesit, en die voer van al die diere word bespreek en gereël. Dit was die eerste maal dat hulle gaste op Môreson sou onthaal en hulle was net so opgewonde soos kinders; aan die plegtigheid moes niks te kort skiet nie.
| |
| |
Rachel het dieselfde dag reeds begin om die groot vrykamer nogmaals aan die kant te maak en elke meubelstuk te plaas net soos die oumense dit waarskynlik sou verlang!
Die besoek was natuurlik tussen hulle die enigste onderwerp van gesprek dié nag en die volgende dag. Sowel Hendrik as sy het hulle af en toe aan honderde kleinighede herinner wat bereken was om aan die pleegouers genot te verskaf en wat derhalwe dadelik uitgevoer moes word.
Onder andere het Hendrik onthou dat sy tante baie gek is na heuning en toutjiesbiltong van kleinwild. Dit was juis die regte tyd vir kransheuning en daar en dan is besluit dat Hendrik die volgende dag na die poort, Aasvoëlgang, in die Middelgebergte, sou gaan om 'n paar neste witheuning uit te haal en tegelyk die een of ander klein bokkie te skiet, sodat die toutjies tydens die groot besoek gereed sou wees.
Maandagoggend, 5 Desember, net voor sonop, het Hendrik gereedgemaak om na die Berg te vertrek.
Daar hy in enige geval slegs 'n betreklik geringe afstand sou kon ry, het hy besluit om te voet te gaan. Hy was 'n beroemde loper van sy kindsdae af en het daar niks van gedink om van sonop tot donker, op 'n onafgebroke drafstap 'n olifantspoor te volg nie, die nag sonder dekking van enige aard op die blote grond te slaap, die volgende dag die agtervolging weer voort te sit en so drie of vier dae lank aan te hou - altyd met die groot agtponder op sy rug. Die loop na die Berg sou vir hom derhalwe slegs 'n aangename uitstappie wees. En nog minder sou die vervoer van die heuning en die bokkie wees vir 'n man wat drie sakke mielies tegelyk op sy rug kon dra!
Soos die heldinne van ouds hul ridders bewapen het, het Racheltjie om en om hom gedraai om sekerheid te hê dat hy niks vergeet het nie: sy kruithoring en koeëlsak, 'n handbyltjie in sy lyfband in geval van boomheuning, sy groot jagmes in die leerskede; met pyp en tabak was hy gelukkig onbelemmerd, want Hendrik het nooit gerook nie. (Hy was gewoond om te spog: ‘Ek was 'n Nasireër van my geboorte af: Wacht u toch en drink geen wijn noch sterken drank en eet niets onreins, soos aan Simson se moeder verbode - so het ek ook grootgeword. Tabak val seker onder die onreine dinge en ek het ook Simson se hare behou,’ en hy wys na die massa op sy hoof.)
Die laaste deel van sy uitrusting was twee gelooide rooibokleersakke - heel afgeslag - een om elke skouer, in een waarvan sy padkos was en altwee sou later dien om die heuning in te vervoer.
Die eerste strale van die son was net sigbaar op die hoogste spitse van die Middelberg toe Racheltjie en Hendrik by die agterdeur staan, klaar vir die laaste omhelsing voordat hy vertrek. Dit was die eerste keer dat hy so lank van haar geskei sou wees en daar was 'n gevoel van treurigheid in die harte van albei.
‘Dit sal in elk geval taamlik laat vanaand wees voordat ek terug kan wees,’
| |
| |
het hy aan Rachel gesê, ‘en as daar onverwagte oponthoud is, sal ek miskien verplig wees om in die berg te slaap. Maar jy kan glo dat ek alles in my vermoë sal doen om dit te vermy. Maar as dit teen wil en dank gebeur, Racheltjie, sal ek net onder daardie krans vuur maak en dan kan jy seker wees dat niks verkeerd geloop het nie.’
Hy dui 'n hoë krans aan wat bo Aasvoëlgang onder die spits uitsteek.
Racheltjie gryp hom skielik vas met 'n gil van angs: ‘Ag, Dirkie, jy moet die nag nie uitbly nie, wát ook al gebeur. Gaan liewer 'n tweede maal. Dit sal verskriklik wees om hier alleen te slaap, al laat ek die bediendes in die kombuis slaap.’
En diep in haar donkerblou oë sien hy 'n skaduwee van vrees, terwyl sy hom stip en byna smekend aankyk. Hy stel haar gerus met haastige beloftes en 'n soen wat haar byna van alle asem beroof, en toe stap hy haastig en beslis voort asof hy vrees dat haar oorreding hom miskien van plan sal laat verander.
Aasvoëlpoort, die doelwit van sy reis, is 'n groot skeur wat die Middelberge feitlik in twee verdeel. Soos die hele Middelgebergte het Aasvoëlgang en die aangrensende spitse ook bestaan uit krans op krans van geleërde lyste, só gereeld parallel dat dit op 'n afstand sterk die indruk van mensearbeid gee. Die meeste van die kranse het oorgehang, met die gevolg dat daar gedurig stukke afgebreek het om met donderslae in die diepte te val. In die dae toe dit nog baie gereën het, het die meeste rotse in die somer geval. Oral onder die kranse het water uitgesyfer, met kristalhelder rotskomme en stroompies dig met varings en ander water- en berggewasse begroei, en dit was by sulke syferkolle waar die krans die meeste geneig was om te val. Daar was klowe waar die val van rotsstukke byna onophoudelik was en gedurende sommige somermaande die geluid van 'n bombardement met grofgeskut weergegee het.
Onder die ‘valberge’ was Roerdomp die beroemdste. So vér het die oostelike kranse - dit is die oostelike front van die hele reeks - oorgehang dat enorme stukke gedurig van die hoogste kranse losgebreek het om op die voethelling te val en dan deur die groot houtbos oor 'n afstand van twee of drie myl af te rol. As jy by een van dié reuse-blokke staan, kon jy die pad sien wat dit deur die houtbos skoongevee het en jou oog kon die verplettering volg tot die plek waar dit uit die kranse van die spits losgebreek het. Die uitgestrektheid van die kranse was só enorm dat hierdie val van rotse baie gevaarliker geklink het as wat dit in werklikheid was. Dit was waarskynlik hierdie omstandigheid wat aan Roerdomp sy eienaardige naam verskaf het.
‘Gelukkig,’ dag Hendrik, toe hy dié oggend van Racheltjie by die agterdeur wegstap, ‘gelukkig dat sy nog nooit die klipval in Aasvoëlgang gehoor het nie, anders sou sy nog banger wees.’
Toe hy van haar wegstap, begin die treurige gevoel van afskeid swaarder en swaarder op sy gemoed druk. Hy kon die versoeking om om te kyk nie die hoof
| |
| |
bied nie ... Daar staan Racheltjie nog by die agterdeur met 'n baie treurige glimlaggie op haar gesig. Hy was te vér om te sien, maar hy het seker gevoel dat daar trane in haar helder oë is.
Toe het hy besluit om nie weer om te kyk nie. Dit is tog kinderagtig! Hy sou sy manlikheid nie só prysgee nie!
'n Paar honderd tree van die huis was 'n klein rotsbekroonde rantjie wat tussen die bome opduik en wat sy weg na die berge oorkruis. Net toe hy die rotse op die kruin nader, gebeur daar 'n aaklige ding met hom. Hy hoor skielik 'n stem, of liewer hy gewaar iets wat hy geruime tyd as 'n uitwendige stem aangeneem het - 'n stem wat op treurige, lang-talmende toon dié woorde uit: ‘Hendrik, jy sal haar nooit weer sien nie ... nooit weer sien nie.’
Dit was of 'n vlaag yskoue water oor hom neerstort! Hy vlieg op sy spore om en was op die punt om luid na Racheltjie te roep, toe hy gewaar dat sy nie langer sigbaar is nie. Sy het weer by die huis ingegaan. Enige minute lank is hy so verslae dat hy byna onwetend 'n paar tree terugloop voordat hy sy selfbeheer weer kon beetpak. Toe staan hy om na te dink. Hy kan helder die toon en woorde in sy geheue terugvoer: ‘Jy sal haar nooit weer sien nie ... nooit weer sien nie.’ En toe hy helder oor die saak nadink, toe gewaar hy dat dit niks anders as sy eie gedagte was nie - 'n gedagte wat skielik en onverwags in die stroom van sy bewustheid opgeduik het. Maar hy kon nie onthou dat so iets hom ooit tevore oorgekom het nie. Sou dit miskien 'n voorbode wees? As daar een ding is wat Hendrik du Preez verfoei, dan is dit kinderagtige bygeloof. Hy het op 'n klip in die skaduwee van 'n groot sering gaan sit, sy hoed afgehaal en die sweet van sy aangesig gevee. Die worsteling was kort maar beslissend. Na 'n paar minute was hy weer orent en het vasberade die kruin van die rantjie gekruis en in die houtbos afgedwaal van waar Môreson onsigbaar sou wees, totdat hy die berg self aan die oorkant beklim.
Hy was nouliks 'n myl binne die bome, toe hy die gekletter van die eerste heuningvoëltjies regs van hom gewaar. Hy beantwoord die sonderlinge klein mensevriend met die gewone fluit wat onder alle heuningjagters in die noorde in gebruik is. Toe die klein, vaal voëltjie hom naby hom vertoon, was dit slegs om op die kruin van die hoogste sering in die omgewing te gaan sit. Dit was 'n bewys dat die nes verafgeleë is. Hy dwing sy klein gids tot nog 'n vlug wat steeds oor die toppe van die hoogste bome voortgaan. En toe sien hy dadelik dat die voëltjie regstreeks na Roerdomp pyl, waarvan die kransomsingelde spits helder bo die bome uitstaan. Roerdomp was in 'n regte lyn baie nader as Aasvoëlgang, maar die Gang is altyd vir heuningsoek uitgekies enkel omdat die grootpad deur die gebergte die poort volg.
Toe hy die saak begin oorweeg, toe sien hy in hoe dwaas hy was om Aasvoëlgang te kies in plaas van Roerdomp. As hy na Roerdomp gaan, sou hy sonder enige twyfel dieselfde aand terug kon wees. Bowendien was Roerdomp be- | |
| |
roemder om sy tallose kransheuningneste as enige ander gedeelte van die Middelberge. Hy onthou ook dat die mindere swart kaptein binne wie se gebied Roerdomp glo val, op advies van verskeie groot toordokters al sy onderdane ten strengste verbied het om die berg gedurende 'n tydperk van vier jaar te nader; die minste ongehoorsaamheid in hierdie opsig sou die grootste rampe ten gevolge hê, beide wat die oortreder self en die hele inboorlingvolk van die buurt betref. Die verbod was toe reeds twee jaar in werking, sodat daar 'n oorvloed van heuning in die kranse sou wees. En dan was daar nog 'n ander aantreklikheid: net onder die spits self was daar drie of vier breë lyste wat maklik van die oostelike kant van die berg bereikbaar was. Elkeen van dié lyste omsingel die berg in een onafgebroke gelykte. Dit was die geliefkoosde pad van aansienlike troppe ribbokke. Só maklik was dit om hulle op dié paaie voor te staan en dood te skiet dat 'n jagter in die meeste gevalle tyd gehad het om twee of drie plat te trek - selfs met 'n voorlaaier - voordat hulle omspring om die spits in die teenoorgestelde rigting te omsingel en weer by die jagter uit te kom. As hy na Roerdomp gaan, sou hy die westelike hang van die berg vóór middag kon bereik en dit sou 'n wonder wees as hy nie binne twee uur sy heuningsakke vol en sy ribbok geskiet het nie; en lank voor Racheltjie begin uitkyk, sou hy terug wees.
Natuurlik moet hy na Roerdomp gaan.
Hy begroet die heuningvoëltjie nogmaals met 'n vrolike gefluit en sonder om verder ag op die klein gids te slaan - wat nou onnodig is - pyl hy reg op die spits van Roerdomp af wat hy bo die boomtoppe gedurig in die oog hou.
Met die suiwer swaaiende gang van 'n sterk, geoefende loper het Hendrik die myle afgelê en die son het nog nie sy hoogtepunt bereik nie, toe hy voor die westelike front van Roerdomp staan om die berg te bekyk en sy verdere koers te bepaal. Om die berg om te loop na die oostelike kant en daarvandaan die hoogste lyste te bereik - daar was geen sprake van nie. Dit sou hom minstens twee uur kos om die berg onder op die gelykte om te loop en dan was dit twyfelagtig of hy enige groot voordeel daardeur sou behaal. Dit is waar dat die westelike front waar hy sy aanslag wil doen, vir hom heeltemal onbekend is, maar die kranse is hier baie ruier en meer opgebroke as aan die oostekant, en daar is alle waarskynlikheid dat hy ribbokke sowel as heuningneste in die laagste kranse sou vind wat sy taak natuurlik baie sou bespoedig.
Om die werklike voet van die berg aan hierdie kant te bereik, moes hy 'n lae rotsnekkie oorgaan wat die enigste werklike verbinding tussen Roerdomp en die orige gedeelte van die ketting is. As jy die kruin van hierdie nekkie bereik, dan gewaar jy die eerste maal dat Roerdomp geen vaste deel van die Middelgebergte is nie, maar dat dit in werklikheid heeltemal deur 'n ruie, nou kloof afgesny is. Die genoemde rotsnekkie sluit hierdie kloof aan die suidelike kant af, sodat, as die berg van hierdie kant genader word, dit nog lyk asof dit deel uit- | |
| |
maak van die groot reeks, totdat die kruin van die nekkie bereik word en die kloof skielik voor die voete van die besoeker gaap.
Hierdie ruig-begroeide kloof is aan weerskante deur ontsettende kranse begrens en onder op die bodem vloei die stroom wat Roerdomp dreineer.
Toe Hendrik op die vloer van die kloof op die wal van die bruisende bergstroom staan, het hy lank getwyfel of hy ooit van hierdie kant die laagste lyste sou kon bereik. Toe hy egter die krans noukeuriger gadeslaan, val sy oog skielik op 'n lang paal, binne 'n vertikale geut aan die linkeruithoek van die berg; dit wil sê links van waar hy staan. Hier is die helling baie skuinser boontoe en gevolglik makliker te beklim.
Toe hy die voet van die skeur bereik, sien hy dat dit 'n reeks gekeepte pale bevat, die een bo die ander, die hoogste waarvan die top van die tweede krans bereik. Dit is 'n ou leer deur inboorling-heuningsoekers aaneengeskakel wat reën en storm en die woede van Roerdomp tot dusver getrotseer het. Hoe wyd die lys is wat die leer bereik, is van onder nie sigbaar nie. Onmiddellik bokant die lys hang die krans só ver oor dat verdere styging van genoemde lys af klaarblyklik onmoontlik sou wees. Maar op hierdie lys moet daar seker een of meer kransneste wees, anders sou die swartes nooit al die moeite gedoen het om dit te bereik nie. En sy vermoede in hierdie opsig word versterk deur die gelyktydige verskyning van twee of drie opgewonde heuningvoëltjies wat almal die skeur aandui as die weg na die gewenste heuning.
Nadat hy al sy gereedskap weer goed aan sy lyf vasgebind het, begin hy die duiselige klim in die skeur op.
Was dit nie vir sy natuurlike onbevreesdheid en sy buitengewone liggaamlike krag nie, sou die taak vir 'n ongeoefende kransklimmer - soos hy - nie van alle gevaar ontbloot gewees het nie. Hierdie aspek van die onderneming het egter nooit by hom opgekom nie, sodat hy binne 'n halfuur die top bereik het sonder die minste senuweeagtige aanstrenging.
Hy was bitter teleurgestel met die resultaat van sy moeilike klim. Dit het hom slegs 'n paar minute gekos om hom te oortuig dat hy geen tree verder as die lys self kon voortgaan nie. Hy kon van onder af sien dat daar geen kans is om van hier af hoër te klim nie, want die krans hang so ver oor die lys dat 'n gedeelte daarvan van onder na 'n veranda lyk. Aan die regterkant eindig die lys in die takke van 'n reuse-wildevyeboom, waarvan die wortels soos enorme, wit slange oor die steilte van die krans kronkel. Maar Hendrik het die verwagting gekoester dat die lys na die linkerkant by die inboorlingleer verby óm Roerdomp voortgaan. Hy het alle rede om dit te vermoed, omdat hy weet dat die hoogste lyste, net onder die spits, almal onafgebroke om die berg soos gemaakte paaie loop. Hy weet ook dat al die lyste aan die oostekant (selfs die laeres) minstens die helfte van die kop beslaan. Dit is derhalwe 'n snaakse uitsondering om hier 'n lys te kry van slegs enige tree in lengte.
| |
| |
Dit is van belang vir die feite wat volg om 'n juiste begrip te hê van die grootte van hierdie kranslys wat later in die noorde so beroemd geword het. In later jare is twee afsonderlike afmetings gemaak wat 'n verskil toon van twee voet in die lengte en drie voet in die wydte. Die laaste verskil is onverstaanbaar; 'n mens sou natuurlik 'n groter onderskeid tussen die langer afstande as tussen die korteres verwag, as een van die twee opmetings foutief is. Die jongste van die twee opmetings (wat dr. De Roubaix as juis aangeneem het) is as volg: een-en-twintig voet lank tot waar die lys aan weerskante in die krans doodloop. Die wydste plek is nie in die middel nie, maar is baie nader aan die suidelike end waar die wildevyeboom en ander gewasse groei. Hier is die lys presies elf voet op die wydste plek gemeet. Die ander opmetings van wydte is verskillend. Daar was plekke van nege en plekke van ses voet. Hierdie syfers het natuurlik alleen betrekking op die afstand waarop 'n mens kan loop. Net waar die lys doodloop aan weerskante was dit natuurlik slegs 'n paar duim wyd.
'n Verdere teleurstelling wat Hendrik du Preez moes ondervind, was dat daar geen bynes op die lys self is nie. Twee heuningvoëltjies was reeds by die wildevyeboom verby en van êrens op die krans, buite sy gesig, kon hy hul dringende aanlokking hoor.
‘Boeties, ek het nie vlerke nie!’ roep hy hulle toe.
Die krans net bo die lys het oor die helfte van die afstand so ver uitgestaan dat dit op die wydste plek, naby die vyeboom, 'n soort dakkie van twee of drie voet wyd gevorm het. By die ander end - dit wil sê naby die paalleer - het die krans ook oorgehang, maar hier was daar niks in die aard van 'n dak nie. Omtrent twintig voet bo die wildevyeboom kon Hendrik 'n eienaardige klip sien wat so ver van die krans uitsteek dat dit verby die oorhangende deel sigbaar was.
Oral teen die voet van die krans het water uitgesyfer en naby die wildevyeboom was 'n taamlike groot kom vol helder water. Hier was 'n groot massa droë hout van alle soorte wat in die loop van die eeue van die hoër lyste afgestort en deur die takke van die vyeboom opgevang is, totdat dit nou 'n enorme stapel vorm. Hier was ook 'n aansienlike laag swart grond op die lys waar sowat twintig of dertig bergbrandnetels weelderig groei. Om die stam van die wildevy het ook verskeie ander bergboompies en gewasse 'n herberg gevind.
Die nouste gedeelte van die lys was om 'n ander rede ook die gevaarlikste; daar was oor 'n kort distansie 'n taamlike steil helling na die buitekant.
Hendrik het net klaargemaak om sy reis na onder te aanvaar, toe die stilte van die berge skielik versteur word deur 'n harde gefluit wat van krans tot krans weergalm.
Hendrik du Preez het geen oomblik in twyfel omtrent die oorsprong van die gefluit verkeer nie. Dit is die alarmgeskal van 'n vaalribbok, êrens in die krans, wat sy reuk gekry het - maar so verwarrend helder was die weerklank van krans tot krans dat hy 'n tyd lank tevergeefs na die skuilplek van die bok gesoek
| |
| |
het. En toe stap hy uit na die nouste plek van die lys, naby die inboorlingleer, om hom in staat te stel om die hoër lyste binne sy gesig te kry, want van die breë end van die lys (naby die wildevyeboom) het die oorhang van die krans dit verhinder.
Hendrik du Preez was beroemd weens sy buitengewone vreesloosheid, maar selfs hy het teen die krans geskuur toe hy na die noute uitstap. Hy het intussen sy geweer van sy rug afgeslinger, 'n doppie opgesit en was klaar om te skiet. Dadelik sien hy die bok toe hy kon opkyk. Op die punt van 'n eienaardige klip wat teen die krans reg bo die wildevyeboom uitsteek, staan die sierlike dier - bokant die ontsettende afgrond.
Hendrik het al die omstandighede goed oorweeg voordat hy skiet. Hy het hom hier oortuig van 'n feit wat hy dikwels van ou jagters verneem het: dat daar geen wildsbok is wat na onder kan sien nie; die bok het hom gewaar en was uiters onrustig, maar hoewel hy hom sonder die minste beskutting minder as vyftig voet onder die dier beweeg het, kon die ribbokooi hom nie sien nie.
Van die bok kon hy slegs die kop, die nek en gedeelte van die regterblad sien.
Nou het die vraag ontstaan of hy onder die omstandighede 'n skoot sou waag. Kruit en lood was te waardevol om op 'n slegte kans 'n skoot te waag. As hy die bok so 'n skoot kon gee dat sy op haar spore ineensak, dan sou sy sonder twyfel van die klip aftuimel en langs die skuins krans tot in die takke van die wildevy afgly. As hy haar egter só raak dat sy nog 'n beweging kon maak, dan het daar twee moontlikhede bestaan: òf sy sou agteruit spring en op die lys val, òf vorentoe spring en op die bodem van die ontsettende afgrond neerstort. In albei hierdie gevalle sou sy vir hom verlore wees. As sy op die hoë lys bly lê, sou dit hom 'n volle dag kos om haar van die ander kant van Roerdomp te bereik en as sy na onder val, sou sy so verpletter wees dat die vleis onbruikbaar sou wees.
Nietemin het hy uiteindelik besluit om die skoot te waag. Hy was 'n baie fyn skut en het besluit om op die holte van die onderste kaak te mik. As die koeël die kaak nie raak nie, sou dit deur die middel van die brein trek en so geweldig was die gewig en grootte van die koeëls van sy geliefde agtponder dat die bok in dié geval sonder die minste twyfel op haar staanspoor ineen sou sak en stadig langs die uitstaande klip afgly.
Sy berekening van die skoot en die uitvoering was albei juis. Net toe die skoot val, sien hy selfs deur die digte rookdamp van die agtponder die ooi neersak met haar lyf oor die kant van die uitstaande klip. Haar swaartepunt was reeds oor die rand en sy het net langs die skuinste van die krans begin afgly, toe daar iets gebeur wat Hendrik se aandag dadelik en vir goed van die bok getrek het. Die einde van haar val het hy nooit gesien nie. So nou en so skuins was die gedeelte van die lys van waar hy moes skiet en so geweldig was die skop van die magtige vuurwapen, waarvoor hy gereed moes wees, dat hy die linkerkant van sy lyf so vas teen die krans gedruk het as hy moontlik kon.
| |
| |
Hy het hom net oortuig dat hy die bok goed geraak het en dat sy saggies êrens op sy lys te lande sou kom, toe hy in sy linkerskouer en in sy linkerbeen af 'n eienaardige trilling, gepaard met geweldige skokke, gewaarword. Wat die oorsaak was, kon hy nie dink nie, maar so geweldig het die roering spoedig geword dat hy die gevoel gekry het dat een van die skokke hom van die lys sal afskud as hy nie dadelik 'n ankerplek kry nie. Sonder om 'n oomblik te aarsel, laat hy die geweer uit sy regterhand op die lys val, terwyl hy sy bors na die krans toe keer en probeer om met altwee hande 'n houvas aan die rots bo sy hoof te kry.
Hierin het hy dadelik geslaag: omtrent ses voet bo die vloer van die lys was drie ewewydige skeure in die rots wat hy tevore nie opgemerk het nie. In een van die skeure kon hy met sy vingers so vasgryp dat hy dadelik veiliger gevoel het. En toe merk hy dat die skeure die broeiplek van duisende bosduiwe is. Sy skoot het die broeiende wyfies van hul neste gejaag en om hom was spoedig die gedruis van tallose warrelende vleuels.
Nouliks het die trilling en skokke in die rots weer tot bedaring gekom - dit het slegs 'n paar sekondes geduur - toe hy verdoof word deur 'n gedonder so geweldig dat hy wel kon vermoed dat al die berge uit hul fondamente geruk en na die vier winde verstrooi word. Hy het geweet dat dit 'n rotsval is. Hy het dit vroeër verskeie male aan die oostelike front van Roerdomp - waar dit onafgebroke voortduur - gehoor. Maar sy ondervinding was beperk tot die aanhoudende afstorting van betreklike klein stukkies klip. So 'n wêreldslag soos nou plaasvind, was in sy ondervinding ongeëwenaard.
Hoe ver of hoe na dit was, kon hy nie skat nie, want van elke krans van Roerdomp en die teenoorgestelde berge kom die weerklanke so onverdoof en helder dat elkeen vir 'n nuwe slag aangeneem kon word.
Met krampagtige geweld het hy steeds aan sy reddende skeur vasgeklou, totdat al die roering en gedonder deur 'n diep stilte gevolg is. Die bosduiwe het spoedig die middelpunt van oproer verlaat; nêrens was daar 'n enkele stem van dier of voël nie. Dit was asof die gehele wêreld van alles wat lewe of roer, skielik geledig was - so stil was dit. En toe gewaar hy dat hy in 'n wolk fyn, wit stof staan, nes die blom van meel wat die meulenaar by sy werk onderskei.
Nadat hy die wêreld om hom goed oor sy skouers bekyk het sonder om enige verandering te bespeur, los hy met sy verkrampte arms en hande. Die eerste ding wat hy sien, is die ribbok wat op die lys langs die wildevyeboom lê. Hy voel 'n gloed van tevredenheid dat hy sy skoot so goed bereken het. En toe merk hy dat die wolk stof opkom uit die skeur waar hy nouliks 'n uur tevore uitgeklim het. Hy stap 'n tree nader, totdat hy oor die rand van die lys kon afkyk en dit was met 'n uitroep van verskrikking dat hy die eerste maal die ontsettende verwoesting wat die rotsval so naby hom aangerig het, in gesig kry. Van die skeur en die paalleer was daar geen teken meer nie. In plaas daarvan sien hy 'n gapende swart spelonk wat die hele kant van die berg inbegryp tot by
| |
| |
die verste uithoek van hom af. Die hele voorkoms van Roerdomp, soos hy dit die oggend gesien het, is verander. En op die vloer van die nou kloof lê 'n magtige hoop bergpuin. Die helder stroom van waar hy die krans bekyk het, het onder die rotsbedekking 'n honderd voet diep verdwyn. Al die reusagtige geelhoutbome wat die stroom 'n uur gelede nog beskadu het, is verpletter en ewig onder 'n berg kransklippe begrawe.
Lank het hy die verskriklike skouspel aangestaar, voordat die omstandigheid wat hom meer bepaald geraak het in sy bewussyn opkom; stadig het dinge net soos die gewaarwording in 'n aaklige droom vir hom klaar geword; sy weg van die lys na onder is heeltemal afgesny! Net so onmoontlik was dit vir hom om die bodem van die kloof te bereik as om die spits van Roerdomp te bestyg.
Wat sy gevoelens sou gewees het, wat hy sou gedoen het, as hy dan en daar die toekoms kon insien, is moeilik om te veronderstel. Watter donker gedagtes sou by hom ontstaan het as hy toe kon geweet het dat hierdie klein stukkie rotsvloer tussen hemel en aarde - 'n vloer so klein dat dit moeilik was om sonder 'n sekere mate van gevaar die minste beweging te maak - dat die stukkies rots vyf maande lank sy enigste tehuis sou wees? Dat vyf maande loodswaar sou verbygaan, voordat 'n enkele mens sou weet dat hy lewe? Voorwaar, dit sou 'n gemoed van staal vereis om 'n mens te verhinder om onder sulke omstandighede dadelik in die diepte af te duik! Gelukkig dat die toekoms gesluier was; gelukkig dat die Lampie van Hoop dag na dag 'n klein ligstraal deur sy donker gemoed kon werp en hom deur so 'n worsteling en pyniging as wat weinig skepsels op aarde ooit te beurt geval het, laat volhard het.
Dit is interessant om te verneem watter gedagtes die eerste deur sy hoof gegaan het: Hy het die gewoonte gehad - vandat hy kon lees - om 'n sakbybel (die geskenk van sy ou Hollandse skoolmeester) saam veld toe te neem en sy geliefkoosde boek te midde van die woeste eensaamheid van die noorde was die pessimisme van Job. Hy kon die hele boek uit sy hoof opsê - sonder dat hy ooit die minste moeite gedoen het om dit van buite te leer. Dié keer het hy sy sakbybel nie by hom gehad nie, maar toe hy in die diepte afkyk, was dit sekere verse uit Job wat hom te binne skiet. Hy het altyd die gevoel gehad dat Job hier sinnebeeldig 'n man voorstel wat op 'n krans vasgekeer word. Dit was die volgende verse wat hy byna ontwetend geresiteer het toe hy eers besef dat sy weg na die huis en veiligheid afgesny is:
‘Weet nu dat God mij heeft omgekeerd, en mij met Zijn net heeft omsingeld.
Hij heeft mïjnen weg toegemuurd dat ik niet doorgaan kan, en over mijne paden heeft Hij duisternis gesteld.
Hij heeft mij rondom afgebroken.
Mijne broeders heeft Hij verre van mij gedaan; en die mij kennen, zekerlijk zij zijn van mij vervreemd.
| |
| |
Mijne bekenden vergeten mij en mijne dienstmaagden achten mij voor een vreemde. Ik riep mijnen knecht en hij antwoordde niet.
Mijne adem is mijne huisvrouw vreemd geworden.’
En sy tweede gedagte was aan Racheltjie - sy geliefde Racheltjie. 'n Gevoel van die diepste verlange het 'n paar oomblikke sy standvastigheid verswak, toe haar beeld helder voor hom opstyg: haar goue hare, haar laggende gesig met die violetblou oë waarin skaduwees altyd skyn rond te sweef - die aanduidings van haar gemoedstemming.
Vandag sal sy hom verwag en wanneer hy nie kom nie, sal sy ure lank na sy vuur op Aasvoëlgang uitkyk. Wat 'n dwaas was hy om sonder haar medewete die doel van sy reis te verander! Hy kon haar sien in die donker ure langs die gewel van die huis slaaploos wagstaan om sy vuurteken te sien en daar sou g'n vuurteken kom nie! Môre teen die middag sal sy onrustig begin word. Nooit sal sy die gewel verlaat nie. En dan word dit weer nag! Wat 'n nag van onrus en angs sal dit nie wees nie! Eers op die tweede dag in die oggend sal sy hulp inroep. Sommige van die volk met sy ou Boesman-agterryer, Jefta, sal dadelik uitgestuur word na Aasvoëlgang om te soek en die een boodskapper sal na sy oom Karl du Preez gestuur word. Dit sal 'n volle week duur voordat die volk daarvan oortuig is dat hy nie in die nabyheid van Aasvoëlgang is nie. ‘Liewe Heer! ... 'n week? Sewe dae moet hy op die rots deurbring? ... Sewe dae en nagte? ... Dit kan nie wees nie!’
En toe, vir die eerste maal, word hy verwilderd, vervaard. Hy spring orent sonder dat hy weet wat hy wil doen. En toe gebeur die eerste van 'n reeks rampe wat die skyn gee asof sy verblyf op die rots deur 'n bose gees te baat geneem word om sy foltering te vererg.
Toe hy sy geweer en kruithoring uit sy linkerhand laat val het, het albei op die kant van die afdraande lys beland. Met sy orentspring raak sy voet die geweer wat slegs 'n aanraking nodig gehad het om oor te stort. Hy hoor dit teen die krans een of twee maal kletter en daarna ... stilte.
Toe hy weer plat lê om oor te kyk, sien hy die geweer en kruithoring in die takke van 'n stamvrugteboom dertig voet onder hom.
Le Suika le le Tsosang - die Rots van Verskrikking - was die naam van die krans waarop Hendrik du Preez op so 'n verskriklike wyse vasgesluit is. Hierdie naam het natuurlik betrekking op die gevaar daarvan wat altyd aan die beklimming verbonde was. Dit kan natuurlik nie aangeneem word as 'n voorspelling van die ramp wat Hendrik oorval het nie, maar die eerste dag te midde van 'n gemoedstorm waarin sy verstand soos 'n roerlose skip op 'n grenslose see gedurig heen en weer geruk is, het hy die ou inboorlingnaam van die krans onthou. Daar was nouliks 'n enkele deel van Roerdomp wat by die inboorlinge nie onder 'n besondere naam bekend gestaan het nie - só groot was die rol wat die
| |
| |
berg in hul legende en bygeloof gespeel het. Hendrik het die naam sidderend onthou: le Suika le le Tsosang - Rots van Verskrikking - en dit het moeite gekos om die kinderagtige geloof dat die naam profeties betrekking op sy toestand het, te verdryf. Ook het hy hom herinner dat die swartes 'n bose persoonlikheid aan die berg toeken en dit was vir hom maklik om die werking van 'n boosaardige wese te sien in die gebeurtenis wat tot sy opsluiting aanleiding gegee het.
Dit was egter net borrels wat nou en dan in die stroom van sy gedagtes storend opduik en wegdryf. Sy werklike, subjektiewe lewe hierdie eerste middag - die gemoedslewe wat betekenis en invloed op sy toekomstige lewe op die rots gehad het - kon onder drie gedagtegroepe gerangskik word - drie strome gedagtes wat mekaar met die gereeldheid van die kamratwerk van 'n masjien afwissel. Daar is geen twyfel nie dat elkeen van sy gemoedstorms die middag 'n stryd beteken het - 'n sielstryd so geweldig as wat 'n mens ooit geroep is om te volvoer en sy hele toekoms het afgehang van die standvastigheid waarmee hy sy wapenrusting aangegord en die moed waarmee hy die wreedste aanvalle weerstaan het.
Sy veldkennis het hom spoedig oortuig van die feit dat daar - sonder hulp van buite - nie die geringste kans vir ontvlugting is nie. Selfs met hulp van buite sou dit ontsettend moeite en veel tyd verg om 'n plan vir vrykoming te beraam en uit te voer. Derhalwe het hy spoedig alle planmakery aan sy kant opsygesit. Hy wis ook seker dat sodra sy teenwoordigheid op die lys ontdek word - vanaf dié moment - sou sy eventuele redding 'n sekerheid wees, al moes die hele volk opgeroep word om aan die poging deel te neem. Waaroor hy hom derhalwe die meeste bekommer het, was sy berekening van hoe lank dit sou duur voordat hy op die krans ontdek word. Oor en weer het hy al die moontlike bewegings van al die waarskynlike deelnemers aan die soektog in sy verbeelding nagegaan - met wyd uiteenlopende uitslae. In een geval was hy optimisties; was alles rooskleurig; het alles tot sy voordeel saamgeloop; en dan het dit uiters drie dae geduur, voordat hy hom weer op Môreson in sy verbeelding sien en met 'n vrolike laggie beraam hy woorde en sinne waarmee hy sou probeer om aan Racheltjie sy gevoelens op die krans duidelik te maak.
Kort van duur was hierdie skone vooruitsig! Weer kom hy terug na die uitgangspunt van sy berekening - dié keer was hy pessimisties; alles loop verkeerd; hulle sou die kranse van Aasvoëlgang deursoek en jare lank aanhou; lank nadat hulle van sy dood seker was; hulle sou sy bene op die lyste soek. Niemand sou ooit van Roerdomp droom nie; hier sou hy bly totdat hy van honger doodgaan of kranksinnig word en self 'n einde aan sy lyding maak.
Dit was een groot gedagtesirkel wat af en toe sy bewussyn in beslag geneem het.
Die tweede sirkel het om die beeld van Racheltjie beweeg. Gepaard met 'n
| |
| |
diepe Sehnsucht en onder 'n stroom van die teerste gevoelens het haar lieflike beeld gedurig in sy verbeelding opgekom. Oor en weer het hy elke moment van haar gewaarwording dat hy verlore is, deurleef. Haar onrus in die begin wat stadig tot vertwyfeling verdiep; haar lyding en ellende onder die pogings van familie en vriende om haar te troos ... Racheltjie en Môreson - wat reeds deel van sy lewe geword het! Hy kon eenvoudig 'n ewige afskeid nie besef nie! Daarom was dit dat sy droom somtyds in blydskap geëindig het: 'n vreugdevolle hereniging wat al sy gedagtes in 'n warm gloed verswelg.
Maar sy gedagtes het onveranderlik in een middelpunt geëindig wat werklik die middelpunt van die derde sirkel was: 'n gemoedstoestand wat al die ander oorskadu het en wat hom telkens die gevoel gegee het dat hy hier handgemeen raak met 'n bose en wrede vyand wat met genadelose wreedheid sy verplettering probeer veroorsaak. Dit was iets met die geaardheid van 'n wilde roofdier wat in die duister plekke van sy siel op die loer lê, klaar om sy beter, sy manmoediger self te bespring sodra die geleentheid hom voordoen. Dit was in verband met hierdie gevoel dat hy die eerste tekens van vrees, van bangheid, gewaargeword het. En dit was vrees vir niks uitwendigs nie. Hy het self nie geweet waarvoor hy bang word nie en van die donker gevoel self kon hy geen duidelike uitleg in woorde gee nie.
Dit het altyd begin met die betwyfeling van die werklikheid van wat gebeur het; selfs sy teenswoordige omgewing het 'n onuitlegbare skyn van onwesenlikheid aangeneem. Dit was asof hy in 'n droom beweeg - 'n aaklige droom wat hy tevergeefs probeer afskud. En dan saam met die angsgevoel ontstaan 'n onregeerbare rusteloosheid. Hy voel dat hy opgesluit is. Hy kan dit nie besef nie. Hoe dit moontlik kan wees dat die aarde wat altyd vir hom bestaan het as onmeetbare wydte en grenselose vryheid - dat van die hele aarde hy nou beperk is tot 'n stukkie rots só klein dat hy nouliks daarop kan beweeg - dit kan hy nie begryp nie. Die rusteloosheid neem toe; hy kan dit nie regeer nie; met die uiterste spierspanning stap hy op en neer oor 'n afstand van vyf tree; af en toe is hy op die kant van die afgrond; daaroor voel hy nie die minste vrees nie. Hy wil net vry wees ... vry ... teen alle koste. Die opsluiting voer hom tot waansin. 'n Paar minute lank bekyk hy die krans met 'n byna onregeerbare drang om met sy naels teen die rots op te klouter. Hy kan nie langer redeneer nie. Hy is 'n dier, 'n wilde dier wat sy eerste opsluiting in 'n kou gewäarword. Dit was die dierlike siel - die verskrikte, dierlike siel wat hom gedurende hierdie aanvalle van afstorting bewaar het.
Dit was sy omgewing - die eerste foltering deur sy stoflike omgewing teweeggebring, wat hom weer tot bedaring gevoer het.
Vier reuse hou die wag oor die diep kloof wat Roerdomp van die groot ketting afsny. Aan die oostelike kant is Roerdomp self en aan die oorkant Mamatola en twee naamlose koppe - almal kransbegrens en so na aan mekaar dat die
| |
| |
kloof vir die grootste gedeelte van die dag in die diepste skaduwee verkeer. Dit is ná twaalfuur dat die son (gedurende die somermaande) bo die spits van Roerdomp uitkom en die kloof verlig. Binne 'n paar minute straal van elke krans so 'n gloed van hitte dat alles wat lewe 'n uitweg moet soek. Van die klam bodem styg 'n paar minute lank 'n wit wasem van verdamping opwaarts wat spoedig in die warm lug verdwyn, waarna die strale van die son op rots en bodem met ongehinderde woede neerslaan. Dit was hierdie skielike vloed van hitte wat Hendrik - tam en uitgeput - tot selfbeheersing gevoer het.
Nooit tevore in sy lewe het hy sulke hitte gevoel nie. Met moedelose oë het hy die pad bekyk wat die son moet reis, voordat die genadige skaduwee van die westelike koppe sy lys sal bereik. Daar was 'n afstand van minstens drie uur! Dit was toe dat hy hom die kom helder kranswater naby die wildevyeboom herinner het. Spoedig het hy sy bolyf ontbloot en die heerlike water met altwee hande oor kop en skouers gegiet. Van die wildevyeboom kon hy geen stukkie skaduwee geniet nie, daar al die groot takke weg van die lys buig; maar hy was spoedig met 'n plan besig wat hom 'n sekere mate van beskerming sou verskaf. Langs hom, teen die vyeboom, was 'n groot massa droë hout opgestapel. Hiervan kon hy 'n soort hut skuins teen die krans oprig wat die grootste gedeelte van sy liggaam minstens 'n paar uur lank sou beskadu. Dit sal hy in die nag moet doen. Niemand kan in hierdie hitte onbeskut werk nie.
Terwyl hy met hierdie begieting van sy liggaam besig was, merk hy twee dinge op. Die eerste is dat die kom en die hele bodem van die krans met 'n digte gewas van die pragtigste bronkors omsoom is. Hy was uitgehonger en terwyl hy handevol van die vars, groen blare eet, onthou hy 'n storie wat sy ou Hollandse matroos-skoolmeester hom vertel het, hoe die bemanning van sy skip eenmaal op die weskus van Afrika van 'n gewisse dood deur bronkors gered is. Dit was hierdie bronkors en die herinnering aan die storie wat ook hom van 'n vreeslike dood gered het.
Die tweede ding wat hy opgemerk het, nadat hy tot bedaring gekom het, was die ribbok wat op die rand van die lys lê, waar sy die oggend na sy noodlottige skoot geval het. Byna onwetend - met die ingewortelde jagtersgewoonte - het hy die bok ingesleep, afgeslag en opgehang. Al die vleis het hy in fyn biltonge opgekerf en toe met droë hout so bedek dat die direkte hitte van die son ten minste afgekeer word. Hy het geen korrel sout gehad nie en het geweet dat hy besonder sorg sou moet dra om die vleis van bederwing te vrywaar. Hy sou dit alleen in die nag kon uithang en solank die lys in skaduwee verkeer. Vir die bloedige hitte van die middeldag sou hy 'n skuiling van droë hout maak.
Oor die behandeling van die vel het hy lank nagedink om uiteindelik tot die besluit te kom dat dit hom tydkorting sou verskaf om dit te brei en voorslae daarvan te sny. Om die hare af te kry, het hy die vel vereers in die syferwater langs die kransvoet met bedorwe blare toegepak.
| |
| |
Terwyl hy met hierdie werk besig was, was sy naakte liggaam gedurig aan die vreeslike hittegloed blootgestel. Sy volharding in die arbeid is alleen moontlik gemaak deur hom aanhoudelik met die koue kranswater te begiet. Hy het toe ook ontdek dat die water aan die kransvoet net so vinnig uitsyfer as wat hy die kom ledig.
Dit was vervelende werk om sy lyf gedurig nat te hou, terwyl die son sy koers weswaarts oor die kloof volg - so stadig dat dit hom voorgekom het asof die verskriklike stroom hitte nooit tot 'n einde sou raak nie.
Hoe meer regstreeks die strale op die krans val, des te warmer het die lys geword. Lank voordat die son die koppe aan die westekant bereik het, was die rots self só warm dat hy dit skaars kon uithou wanneer hy met sy hand daaraan vat. Maar een genadige uitwerking het al die gewerskaf gehad: dit het sy aandag so volkome aan dié noodlottigheid van sy toestand onttrek dat hy die wegsak van die son agter die eerste kop met 'n juigkreet begroet het.
Een groot feit het aan Hendrik hierdie eerste middag, nadat die geseënde skaduwee hom bereik het, helder geword - 'n feit wat later van die uiterste waarde geblyk het. Dit was later vir hom die reddingsband van 'n drenkeling in die branding.
Terwyl hy ná die verskriklike vuurbad wat hy ondergaan het, met verslapte spiere weer tot verhaal kom, kon hy kalm die loop van die gebeurtenisse oorweeg en toe herinner hy hom dat vanaf die moment dat hy die worsteling teen die ontsettende hitte aanvaar het, die gevaarlike sielstorms bedaar het; en daar was geen die minste twyfel by hom nie dat van al die gevare wat hom op die krans bedreig, geen enkele groter was as die gevaar wat van binne kom nie: die dieragtige verwildering en verlies van selfbeheer waarvan hy reeds 'n verbysterende proef deurgemaak het.
Hendrik du Preez het geestelik dieselfde uitsonderlike krag besit as waarmee hy liggaamlik bedeeld was. Hy het die vrye, vreeslose aard van siel gehad wat deur geen menslike gebruik, gewoonte of geloof bedwing kon word nie; en hierdie geestelike onafhanklikheid was ongetwyfeld een bron van die persoonlike dapperheid wat hom van sy jongelingsdae af onderskei het - net soveel onderskei het as sy verbasende spierkrag. Maar hy had hier te kampe met omstandighede só ongewoon en tegelyk só verskriklik dat in die bekamping daarvan gewone menslike moed 'n gebroke riet was en vir mense wat van hul kinderdae af die lewenswyse gevoer het waarin Hendrik du Preez opgegroei het, was hierdie afsluiting ongewoner en verskrikliker as dit in ander gevalle sou gewees het. Dit is algemeen bekend dat die meeste mense nog soveel van die dierlike siel oorhou dat opsluiting van enige aard 'n ontroering veroorsaak wat tot geweldige hoogtes kan styg. By alle wilde diere is dit 'n normale sielstoestand; by sommige mense is dit 'n abnormale, aangebore eienaardigheid wat in die sielkunde as kloustrofobie - vrees vir geslote plekke - bekend is. By sulke mense
| |
| |
veroorsaak die geringste opsluiting 'n geweldige angstoestand. Hoewel Hendrik du Preez geen abnormale afsluitingsvrees besit het nie, het sy lewenswyse meegebring dat afsluiting vir hom 'n besondere verskrikking moes inhou. Van sy kindsdae af het hy in 'n wêreld gelewe waar opsluiting 'n fisiese onmoontlikheid was. Vir hom het die wêreld altyd grenslose wydtes en onbeperkte vryheid beteken. Selfs opsluiting as 'n straf vir kinders wat in stede gebruiklik is, was in sy omgewing iets ongehoords, eenvoudig omdat deurslotte in die ‘voorwêreld’ destyds 'n onbekende toestel was! Daarom was opsluiting vir Hendrik du Preez iets afgrysliks wat al die dierlike onredelikheid uit die duister geweste van sy siel woedend te voorskyn geroep het.
Die loop van hierdie geskiedenis sou waarskynlik in baie opsigte anders gewees het, as hierdie sonderlinge jong man sy toevlug tot gebed kon geneem het, maar hierdie groot sielkundige reddingsoord was buite sy bereik. Met die eenvoudige logika van 'n veldkind het hy tot sy eie bevrediging lank reeds party van die diepste teologiese vraagstukke opgelos. Om alwetendheid aan die Opperwese toe te skryf, het vir hom die bewys gevoer dat alles in die heelal voorbestem en onveranderlik in die kennis van God is. Om vir 'n verandering in die loop van gebeurtenisse te smeek, was dwaas en lasterlik, want selfs 'n verandering (as dit kon gebeur) het reeds van ewigheid in die kennis van God bestaan. Daarom was dit dat hy gedurende sy hele lewe geweier het om vir enige verandering in die ewige ketting van oorsake en gevolge deur gebede te smeek. ‘Wat gebeur, moet gebeur,’ was een van sy geliefkoosde beginsels, ‘en dit betaam elke mens om al sy lotgevalle manmoedig en sonder lamentasies en klaagliedere die hoof te bied.’ Daarom was dit dat op geestelike gebied een deur vir hom gesluit was wat lig moontlik 'n bron van krag kon verskaf en sy weerstandsvermoë sielkundig kon verhoog het.
Maar die ontdekking wat hy gemaak het dat solank hy met sy onmiddellike omgewing druk besig is, hy in staat is om die verskriklikheid van sy toestand byna heeltemal van sy gewaarwording uit te sluit, het hom ook van 'n skild voorsien waarmee hy minstens party van die gevaarlikste vuurpyle van die bose kon uitblus. Elke oomblik van sy verblyf op die rots het hy duideliker ingesien dat sy groot stryd nie teen iets stofliks sou wees nie, maar teen ‘die Owerhede en Magte der Duisternis’, teen ‘Geestelike Booshede’, en dit was vir so 'n stryd dat hy die eerste namiddag reeds die wapenrusting aangedoen het.
Voordat hy begin het met die bou van 'n beskutting teen die vreeslike vuurbad van twee-en-'n-half uur wat hy elke dag van sy verblyf op die rots sou moes verduur, het hy besluit om 'n deeglike opname van sy omgewing en besittings te maak.
Net onder die groot stam van die wildevy waar dit van sy lys teen die krans wegbuig, was daar 'n aansienlike koel holte wat hy dadelik besluit het om as pakkamer te gebruik.
| |
| |
Toe hy hom ontklee het om sy lyf nat te hou, het hy alles wat hy aan gehad het, haastig op een hoop gegooi en hierdie hoop het hy nou, stuk vir stuk, ondersoek.
In die sakke van sy klere is 'n knipmes met twee lemme, 'n kopertonteldoos en vuurslag, 'n rol voorslag - alles saam ongeveer tien voet in lengte, 'n els en knyptang (in een stuk) om hande en voete van dorings te bevry. Om sy lyf het hy 'n leerband gehad waaraan sy koeëlsak en 'n groot herneutermes in 'n leerskei vas was. Sy kruitbuis was aan die trekkerskild van sy geweer met 'n koperketting vas en het gevolglik saam met die geweer die krans afgetuimel. In een van die twee rooibokheuningsakke wat hy om sy skouers gehad het, vind hy netjies weggepak die kos wat Racheltjie vir sy reis gereedgemaak het. Daar was twee groot beesbiltonge, 'n halwe brood, 'n paar stukkies wildsbiltong, 'n houtkissie vol vars botter en ses groot beskuite - maar geen korreltjie sout nie. In die ander sak was twee lang osrieme met koperringe wat deur heuningjagters gebruik is om halfgekapte heuningbome mee om te trek, as die bye baie kwaai word. Boonop het hy natuurlik sy klein handbyltjie gehad wat later die belangrikste stuk gereedskap in sy besit geblyk het. Sy klere het bestaan uit hoed, baadjie, hemp, broek en velskoene. Buiten die skoene was alles van die oudste en mees geslyte klerestukke in sy besit.
Dit was nadat ongeveer twee uur skaduwee die gloeiende kranse en kloof weer verkoel het dat Hendrik die eerste tekens van lewe gewaar het. Hy hoor teen die kranse aan die oorkant die hol geroep van ape en dadelik sien hy die trop waar hulle die krans uitklim in 'n digte met bosse begroeide skeur. Vir die eerste maal in sy lewe het Hendrik die klein vabonde met belangstelling gadegeslaan en hulle hul ratsheid diep beny. Onder die trop was 'n aansienlike aantal wyfies met kleintjies op die rug en op die voorpunt was die groot mannetjies wat met aanhoudende basgeroep die trop aanmoedig of kommandeer. Skielik hoor Hendrik die gekletter van die ape-alarm en onmiddellik was die streep in geweldige roering. Die wyfies probeer om tussen blare en binne skeure weg te kruip en oral langs die streep kon Hendrik die klein, swart gesiggies sien uitloer, terwyl die gekletter geweldiger en stuipagtiger word. Een gedeelte van die trop was net op die gevaarlikste afstand van hul kranspad. Hier moes hulle 'n oorhangende, blote rots kruis waar geen stukkie skuiling te vind was nie en net toe die alarm kletter, was 'n trop wyfies met kleintjies op die gevaarlike rots blootgestel.
Hendrik du Preez was beroemd om sy uitmuntende gesig - in die jagveld ontwikkel en geoefen - maar nieteenstaande hy die krans van end tot end noukeurig ondersoek het, kon hy die oorsaak van die skrik nie raaksien nie. Hy wis natuurlik dat die ape (net soos die verwante bobbejane) sintuie besit wat dié van die mens oneindig ver oortref, vernaamlik in die gewaarwording van dreigende gevaar, maar in hierdie geval was die terrein van so 'n aard dat 'n gevaar
| |
| |
vir hom - waar hy staan - net so sigbaar behoort te wees as vir die ape. Die vernaamste vyande van die ape is al die groter katsoorte, bergtier, luiperd, rooikat, tierboskat en soortgelykes; maar die ratsste kat op aarde kon die kranse nooit beklim nie en kon seker nooit daar sy prooi bemagtig nie, as die prooi die ratsste kransklimmer in die wêreld is. Hendrik het net tot die gevolgtrekking geraak dat dit sy teenwoordigheid op die teenoorgestelde krans is wat die ape ontdek het, toe hy iets gewaar wat hom die skrik van die ape byna deelagtig gemaak het: êrens in die groot doolhof van kranse hoor hy skielik van ver af die gedruis van 'n magtige stormwind. Momenteel neem dit toe in woede. Om hom was daar geen bespeurbare roering in die lug nie, maar so luid was die geraas van die wind en so ontsettend die gedreun en weergalm in die kloof dat die alarmkrete van die ape selfs verdoof is.
Die hoogste spitse was nog helder deur die dalende son verlig en terwyl Hendrik met gerekte oë na die oorsprong van hierdie nuwe, skrikwekkende natuurverskynsel soek, gewaar hy bo hom êrens 'n enorme skaduwee wat met blitssnelheid beweeg. Nouliks het hy vas teen die krans beskerming gesoek en sy hande verdedigend bo sy hoof uitgestrek, toe 'n enorme lammergier uit die hoogte van Roerdomp skuins by hom verby na benede skiet met die snelheid van 'n koeël. So naby hom was een reuse-vleuel dat hy die geweldige lugruk gevoel het nadat die groot voël verby was. Dat die roerlose vleuels so 'n ontsettende gedruis kon veroorsaak, het hom lank laat wonder. Nooit tevore het hy die geleentheid gehad om hierdie grootste van die Suid-Afrikaanse arende so naby hom in die lug te gewaar nie. Die batteleur-arend - kouvoël in Afrikaans - is baie ratser op die vleuels, baie dapperder en wreder as die lammergier - of as enige ander arend - maar die lammergier oortref hom baie ver in krag.
Op 'n magtige boog sak die reuse-voël af, af, af in die diepte totdat sy donker glans byna in die skaduwees van die kloof onsigbaar word en toe sien Hendrik hom weer stadig uit die diepte opkom. Nog op roerlose wieke voltooi hy die magtige halfsirkel van sy val. As die ongenaakbare noodlot self nader hy die verwilderde ape ... Geen oomblik was daar die minste stuiting in sy vaart nie; nooit was daar 'n sigbare beweging van sy magtige vleuels nie en nooit het Hendrik hom 'n aap sien gryp nie, maar toe hy sy boogvlug bo die krans voleindig, was daar 'n aap in sy kloue. Op die takke van 'n boom teen die naaste spits het hy met sy prooi bedaard tot rus gekom en dit spoedig verslind.
Hieruit het Hendrik afgelei dat die arende 'n nes het êrens bo hom en dat die wyfie nog broei. As daar kleintjies was, sou die mannetjie die aap na die nes gedra het.
Met die belangstelling van 'n nuweling in die veld het hy die arend in die oog gehou, totdat hy weer in wye sirkels opstyg om uiteindelik in die onsigbare kranse bo sy hoof te verdwyn.
'n Paar minute later was daar weer 'n gedruis van vlerke om hom. Dit was die
| |
| |
bosduiwe wat ná die verskrikking van die rotsval terugkom. Hy was verbaas om te sien dat duisende duiwe in die drie barste bokant sy lys neste het. Al drie skeure was binne bereik van sy uitgestrekte hande en toe reeds het die gedagte deur sy hoof gegaan dat hier 'n onuitputbare bron van voedsel is, as hy sorgvuldig te werk gaan en die voëls nie verwilder nie. Sy teenwoordigheid op die lys het hulle nie die minste gesteur nie, nieteenstaande die bosduif in gewone omstandighede een van ons wildste voëls is. Dit is opmerklik dat voëls dikwels hierdie vreesloosheid teenoor mense toon wat 'n ongewone verskyning in die nabyheid van gesamentlike broeiplekke maak.
Die eerste middag van sy verblyf op die rotslys was Hendrik byna opgeruimd. Hy het hard gewerk aan sy sonskuiling en toe die eerste laag klaar was, sien hy dat dit sy ruimte op die lys baie kleiner sou maak. Sy plan was om 'n soort tonnel of oond te bou wat teen die krans rus, sodat daar net ruimte sou wees om in te kruip en uitgestrek te lê. Altwee eindes was oop, want van een einde alleen kon hy die droë hout bereik en van die ander moes hy inkruip.
Toe die son begin sak en die treurige skaduwees van Mamatola langer en langer oor die kranse en berge uitrek, het Hendrik weer diep neerslagtig geword. Sy beweegbare ruimte was toe ingekrimp tot die oppervlakte van 'n groot eetkamertafel: ses by elf voet. Weer het die verskrikking hom as 'n Bose Wese uit die toenemende duister bekruip en dit het al sy standvastigheid en manmoedigheid vereis om die dierlike vrees die hoof te bied. Hy moet klaarmaak vir sy eerste nag op die lys; op die harde rots moet hy met die leersakke as kopkussing slaap. Een van die osrieme het hy om sy polsgewrig gebind en aan 'n tak van die wildevy vasgemaak, want die gedagte het by hom opgekom dat as hy gedurende sy slaap roer ... dan sou daar 'n spoedige einde aan sy avontuur wees! Hy was bang om vuur te maak, want dit mag miskien die duiwe verdryf.
En so het hy die eerste nag teen die krans op sy rug gelê en oor die band van uitspansel wat alleen vir hom sigbaar was, het hy die een na die ander die pragtige sterrebeelde sien verbygaan om een vir een agter Mamatola te verdwyn.
Deur sy hoof het die treurigste en donkerste beelde gesweef en vorms aanvaar. Al sy berekenings het uitgeloop op die sekerheid dat hy na sewe dae op die uiterste ontdek sou word ...
Die tweede dag van sy gevangenisstraf het hy sy oond voltooi en hy het die twee of drie uur sonbad met heelwat minder foltering deurgemaak. Sodra die strale hom bereik, het hy sy liggaam ontbloot en binne die oond uitgestrek gelê. Hy het sy hemp gebruik om in die water te doop en sy bolyf gedurig daarmee te verkoel.
Nieteenstaande die feit dat hy op hierdie wyse beskadu was, was die hitte ontsettend. Die hele tyd wat die kloof aan die gekonsentreerde sonstrale blootgestel was, het hy in 'n stomende sweetbad verkeer wat hom vreeslik uitgeput het. Van sy tweede sonbad af het hy nooit weer gedurende die dag - dit wil sê
| |
| |
terwyl die krans onder skaduwee was - sy bolyf beklee nie. Hy het dit baie makliker gevind om vir die geringe liggaamlike bewegings wat hy kon uitvoer sy bolyf bloot te hou.
Een liggaamlike eienaardigheid van hierdie jong Afrikaner-Simson waarvan melding gemaak moet word, is dat hy 'n besonder fyn, gladde vel gehad het - die vel van 'n jong meisie - en tot sy dood toe het hy op sy liggaam geen teken van die gewone manlike haargewas gehad nie. Die ontbloting van sy lyf het in die begin groot lyding veroorsaak en selfs in die skaduwee moes hy verskeie male vervel, voordat hy so gehard was dat hy hierdie blootstelling sonder ongemak kon verdra.
Daar is geen beter bewys van sy liggaamlike gesondheid en weerstandsvermoë nie as dat hy die tweede nag op die rots diep en ongestoord geslaap het en nooit weer aan slapeloosheid gely het nie, nieteenstaande die vreeslike ongemak waaronder sy slaap moes plaasvind.
Toe hy sy tonnel van droë hout opgerig het, is dit onder die vaste indruk gedoen dat hy dit net enige dae nodig sou hê en alleen vir beskutting teen die regstreekse sonstrale.
Daar was een omstandigheid waaraan hy nooit gedink het nie en in verband waarmee hy 'n onaangename ontnugtering tegemoet moes gaan. Die tweede nag, ongeveer twee of drie uur voor dagbreek, word hy uit 'n diep slaap deur 'n hol dreuning en 'n voelbare geskud van die vaste rots onder hom gewek. Hy het natuurlik nooit in die tonnel geslaap nie. Sy gewone bedstede was 'n gelyk stuk van die lys, vas teen die krans, sodat sy kopkussing op die kant van die waterkom was; en altyd het hy die voorsorg getref om homself aan die wildevyeboom met 'n osriem om sy linkerpols vas te bind.
Sy veldondervinding het hom geleer om ‘maklik’ wakker te skrik en dadelik by sy positiewe te wees. Die dreuning en roering dié nag het ongetwyfeld 'n geweldige skrik veroorsaak. Sy eerste indruk was dat dit die gevolg van 'n tweede rotsval is. Dadelik het hy opgespring, sy arm van die riem bevry en skuiling teen die stam van die wildevy gesoek, want die takke kon moontlik 'n gedeelte van die gevaar van 'n klipstorting van hom afweer.
Maar nouliks het hy in die pikdonker van die kloof 'n staanplek teen die stam gevind of die hele wêreld word deur 'n stroom vuur opgeluister wat uit 'n sterrelose hemel tussen die spitse van Mamatola neerstort. 'n Paar sekondes was al die hoogste spitse teen 'n bank van swart wolke in helder silhoeët afgeteken en onmiddellik volg 'n donderslag so geweldig dat dit die berge uit hul fondamente skyn te ruk. En toe volg die reën! Dit was geen fyn gedrup nie. Dit was die gereelde somerreën in 'n tydperk toe dit in Transvaal nog werklik gereën het! Hier in die gebergte was dit asof ‘alle fonteinen des groten afgronds opengebroken en de sluizen des hemels geopend waren’. Gepaard met slag op slag van verblindende weerligstrale en die weergalmende gedreun van donder wat krans aan
| |
| |
krans beantwoord, kom die reën in 'n onafgebroke stortvloed neer. Op sy klein stukkie rots was daar geen skuiling vir 'n mossie nie. Hy het die beskutting van sy ‘oond’ beproef, maar het spoedig ondervind dat behalwe die ongemak van die houding wat hy verplig was om in te neem, hy hier met strale water begiet is in plaas van die draagliker druppels buite. Hy het gou weer uitgekruip en nooit weer gedurende sy hele verblyf op Roerdomp probeer om sy liggaam teen reën te beskerm nie.
Alles was in 'n paar minute nat en langs die krans het toenemende strome na benede gestort. Spoedig kom van alle kante die gedruis en gedreun van roerende waters. Die druppels was yskoud en Hendrik was spoedig so verkluim dat sy tande kletter. Toe het hy die eerste keer probeer om 'n vuur aan brand te kry; maar dié taak het spoedig hopeloos geblyk. As daar êrens op die lys 'n stukkie droë gras en hout te vind was, dan sou hy dit seker nooit in hierdie pikdonker kry nie.
Uiteindelik het hy besluit om maar uit te hou. Met sy nat baadjie oor sy kop en sy rug teen die krans het het lang, swaar ure vir die dag gewag.
Een ding het hy ingesien en dit was dat hy sy geweer en kruithoring moet terugkry, as dit enigsins binne sy vermoë is. Met die geweer alleen sou hy in staat wees om onder sulke omstandighede 'n vuur aan die brand te kry - deur 'n lappluisie teen die krans aan brand te skiet. Ook sou hy die geweer nodig hê om sy teenwoordigheid op die lys aan die soekers bekend te maak, sodra hulle Roerdomp nader - na 'n paar dae!
En gedurende die donker ure het hy 'n plan uitgedink waarmee hy met die eerste ligverskyning begin het. Dit het dae geduur en oneindige proefnemings en nog oneindiger geduld geverg, voordat hy sy toestel gereed gehad het.
Hy het twee hake uit geskikte stukke droë hout gekap. Onder aan elke haak het hy 'n swaar koeël (agt op 'n pond) gebind en die twee so aan mekaar met 'n houtpen bevestig dat wanneer hulle die loop van die geweer raak, die gewig van die koeëls hulle sou ooptrek en sodra hulle verby was, sou hulle weer sluit. Hy het eers op die krans noukeurige proefnemings gedoen, want daar was een groot gevaar. As hy die loop buite die punt van balanseerde ewewig vang, sou die geweer uit die hake val sodra hy dit lig en in die kloof afstort. Daar was slegs een kans: hy moes die loop binne die trekkerskild vang.
Hy het 'n tou van dertig voet nodig gehad. Gelukkig het hy dit in die twee osrieme en die rol voorslae byderhand gehad.
Nadat sy toestel gereed was, het hy plat gaan lê en die groot poging begin. Die geweer was vas in die takke van 'n stamvrugboom en dit het ure geduur om sy hake in die gewenste posisie by storende blare en takke verby te kry, en weer ure om sy hake reg bo die trekker te dwing. Uiteindelik, toe hy reeds uitgeput en moedeloos was, gebeur die gewenste. Hy vang die loop reg, trek die geweer los uit die takke en begin dit stadig langs die krans ophys.
| |
| |
Maar hy het vergeet dat die koperketting van sy kruithoring slegs met twee los slae om die skild van die trekker vas was. Hy het nouliks die geweer 'n voet opgetrek toe die ketting losraak en die kruithoring terug in die takke van die stamvrugboom val. Om een van die onderste takke slaan die ketting vas, en hy sien dadelik dat die kruithoring vir ewig buite sy bereik was.
Hy het sy geweer terug, maar van net soveel waarde is dit vir hom op die krans as 'n bamboesstok sou gewees het.
Die groot reën wat gedurende sy tweede nag op die rots met 'n geweldige donderstorm ingetree het, het drie nagte onafgebroke aangehou. Hy het toe ontdek dat die agterste gedeelte van die lys, naaste aan die krans, 'n lang holte was. Aan die voorkant was daar 'n afdraande na die kant van die afgrond. Die gevolg van hierdie bodemvorm was dat die enigste bruikbare gedeelte van sy klein stukkie rots spoedig in 'n waterpoel ongeveer vier duim diep verander is. Drie dae en drie nagte moes hy in die water staan, loop, sit en slaap. Hy het probeer om 'n ‘matras’ van stukkies droë hout so in te rig dat sy liggaam tydens slaap ten minste bo water is, maar hy het die toestel so ongemaklik gevind dat hy gou weer tot sy rotsbedstede moes terugkeer. Hy moes nag na nag in die haelkoue water lê solank hy die foltering van een houding kon verdra. Dan het hy die houding afgewissel deur ure lank in die water te sit met sy rug teen die stromende krans geleun. Gedurende die grootste deel van die nag het hy in die stortreën op en neer die poel geloop - ses tree soontoe en ses tree terug!
Hy het gedurig - en altyd tevergeefs - pogings aangewend om 'n vuur aan die brand te kry. Alles brandbaar op die krans was so deurweek dat hy geen stukkie pluishout met sy tontel aan die vlam kon kry nie. Later het hy alle pogings in hierdie rigting laat vaar, totdat die son eendag weer sou skyn!
Aan sulke toestande, aan so 'n omgewing, is vlees en bloed nooit aanpasbaar nie! Om vandag op die rots te staan en te probeer om in die verbeelding op te roep wat hierdie man vyf maande lank moes verduur, is genoeg om die hart van die stoutste besoeker aan Roerdomp met skrik te vervul. Ons is so gewoond aan skuiling teen elke ongesteldheid van weer of omgewing dat dit byna onmoontlik is om 'n omgewing in te dink waar die geringste reddingsoord totaal afwesig is. Selfs die geleentheid om vinnig in een rigting te loop, selfs die kans om skuiling te soek, die gedurige aanwesigheid van hoop wat die menslike hart gedurende die donkerste ure met 'n gloed van lewendige warmte beskerm - selfs hierdie toestande wat binne bereik van elke skepsel is te midde van die ongunstigste omgewing, is genoegsaam om die uithouvermoë van die swakste mensesiel so te verhoog dat die bitterste omgewingstoestande maklik verduur kan word.
Tussen hemel en aarde staan Hendrik du Preez op 'n stukkie rots waarvan die bruikbare gedeelte baie kleiner as die buikplanke van 'n gewone ossewa is. Eenkant is die ongenaakbare rots, aan die ander 'n duiselige afgrond en nêrens
| |
| |
die geringste kans van vrykoming deur eie kragsinspanning nie. Geen troos, geen hulp, geen hoop onder die uitspansel des Hemels nie ... onafgebroke, vreeslike eensaamheid wat in sigself spoedig 'n voortdurende verskrikking word. En agter in sy bewustheid is altyd die herinnering aan wat hy verloor het ... Alles wat 'n mensehart kon begeer, is hom voor die voete gelê, en nouliks het hy die vreugdevolle gawe in besit geneem of alles word weer van hom weggeruk onder omstandighede só wreed dat geen mens van 'n vrou gebore ooit op aarde 'n erger straf kon ondergaan nie.
Dit was vir Hendrik asof al die klowe en berge van sy wêreld 'n dankpsalm aanhef toe, op die vierde dag, die eerste sonlig in 'n onbewolkte, blou hemel sigbaar word. Uit die kloof onder hom styg 'n walmende mis omhoog en van alle kante kom die vrolike gedruis van waters. Uit elke kloof, van elke skeur, langs elke krans stort die berge hul opgegaarde waters uit om uiteindelik die noordelike riviere maande lank walhoog te vul. Van alle kante klink die blye gesang van voëls, die gejubel van tallose dassies, ape en honderde klein gediertes - burgers van die hooggebergte. Aan die koppe en kranse oorkant word honderde klein watervalle en strome sigbaar - elkeen, buite die skaduwee van Roerdomp, 'n snoer van skitterende pêrels in die eerste strale van die son.
Dit is ongetwyfeld veranderinge van hierdie aard en die gevolglike reaksie wat alleen die lewe en verstand van Hendrik du Preez bewaar het. Sy eerste werk was om 'n vuur aan brand te kry - sodra hy genoeg hout kon droogmaak. So diep het sy verlange na 'n vuur geword dat hy hom nie langer oor die moontlike uitwerking op die bosduiwe besorg gemaak het nie. Na aan die kant van die lys het hy spoedig 'n groot vuur aan brand gehad, en nooit tevore in sy lewe het hy so diep die kameraadskap van 'n vuur gevoel nie. Daarna het hy nooit weer sy vuur heeltemal laat doodgaan nie - behalwe gedurende groot stortreëns. Die droë houtstapels langs die wildevy was só groot en só dig ineengepers dat hy nooit oor sy houtvoorraad bekommerd hoef te wees nie.
Van die vleis van die ribbok was die meeste reeds bederwe. Sonder sout was dit onmoontlik om vleis in reëntyd te bewaar, of selfs die dunste toutjies te droog. Daar was egter nog voldoende stukkies om 'n maaltyd te berei. In die leerheuningsak was daar nog genoeg brood - wat hy in die holte onder die wildevy droog gehou het - vir minstens twee of drie dae. Daarna sou hy sonder brood van enige aard wees. By die vuur dié dag het hy die voedselkwessie noukeurig oorweeg. Dit was seker nie van alle gevaar vry nie, maar die bosduiwe het ten minste 'n bron verskaf wat sou afhang van die kans om hulle nie te verskrik en tot verlating van die krans te dwing nie.
Wat hom die meeste kommer veroorsaak het, was die afwesigheid van sout. Hy wis nie hoe lank 'n mens sonder sout kon lewe nie en buitendien was sy gebraaide vleis die oggend vreeslik smaakloos.
Terwyl hy langs sy vuur diep in gedagte sit, het hy 'n tweede besoek van die
| |
| |
lammergier gehad wat 'n groot verandering in sy lewenswyse op die krans teweeggebring het. Skielik hoor hy die stormwindgeluid en toe hy opkyk, sien hy die wyfiegier bo hom teen die krans nes 'n reuse-skoenlapper met wyd uitgestrekte vleuels. Daar was 'n geweldige geskreeu van dassies en nouliks het hy die groot voël aan haar wit kruis herken, toe sy met 'n enkele vlerkbeweging by hom verby die diepte inskiet met 'n groot das in haar kloue. Waar kon sy die das gevang het? Terwyl hy die oënskynlik gladde krans verwonderd bekyk, sien hy 'n reeks skaduwees bokant hom teen die rots verbytrek. Dit was dassies wat langs 'n onsigbare lysie, net bo die hoogste bosduifskeur, na die regterkant vlug waar die krans baie meer opgebreek is en klaarblyklik 'n woonplek vir die dassies verskaf. Op die lys was hulle nie alleen onsigbaar nie, maar sover buite sy bereik dat hy vir die oomblik geen plan kon uitdink om hulle te vang nie. Later het die nood hom tot 'n nader oorweging van die vraagstuk gedwing.
Die eerste paar dae na die reën was miskien die aangenaamste wat Hendrik du Preez op die lys deurgebring het. Maar die vreeslikheid van sy toestand het spoedig weer alle ander gevoelens uitgesluit. Elke uur het die verskrikking van die vreeslike eensaamheid groter geword. Stadigaan het die hoop, nieteenstaande manmoedige teenstand, verminder en daar is niks wat hom met groter vrees vervul het nie as die gedagte - wat hom elke nou en dan baasgeraak het - dat daar 'n tyd sou kom wanneer die hoop hom heeltemal en vir altyd sou verlaat. Wat sou dan gebeur? Dié gedagte het hy van sy bewussyn uitgesluit.
Daar was geen uur wat hy nie die berge oorkant van end tot end vir die eerste tekens van die soekers deursoek het nie en elke uur van die dag het 'n hernude teleurstelling meegebring.
Dit was toe sy rotskalender hom oortuig het dat sy gestelde sewe dae (van die begin af noukeurig uitgereken) lankal verby is dat daar onbetwyfelbare tekens voorgekom het van die geestelike vernieling wat sy vreeslike toestand onvermydelik in die loop van tyd moes veroorsaak.
Dat hy stadig die uiteinde van menslike verdraagsaamheid en uithouvermoë genader het, is bespeurbaar uit 'n reeks subjektiewe toestande wat hom gedurende een periode van sy gevangenisskap aangetas het. Daar was ongetwyfeld simptome van geestelike verwoesting en wat 'n mens die meeste verwonder, is dat dit nooit in algehele omwenteling oorgegaan het nie.
Een van die aakligste, en tegelyk van die grootste betekenis, was die storing van sy slaap deur drome só vreeslik dat die nadering van die nag - wat vroeër vir hom 'n gebenedyde deurwading van die stroom van Lethe was - vir hom verskrikking geword het.
Daar was kerende visioene waarvan die natuurtonele altyd dieselfde was en waarvan die intreding, selfs in die slaap, hom met huiwering en angs vervul het.
In een van die nagtelike tonele staan hy voor 'n donker rytuig met ses swart
| |
| |
hingste bespan wat sy koms ongeduldig, met stampende hoewe en die glans van wilde oë afwag. Met bibberende weersin bestyg hy die rytuig en neem die leisels in hande. Dit was die teken vir die span om in wilde vaart weg te spring en met so 'n geweld dat sy magtige spiere week was soos die arms van 'n pasgebore kind. In pikdonker, deur oneindige spelonke, gaan die donderende vaart. Nou merk hy wapperende swart pluime aan die koppe van die span en al die ander tekens van rou en dood. Met die teenstrydigheid wat alleen in drome moontlik is, word hy gewaar dat dit 'n doodswa is waarin hy sit en dat dit sy eie teraardebestelling is waaraan hy op hierdie wyse meedoen. Veraf in die donker sien hy die skemerlig van vure. Die een na die ander vlieg verby, 'n afwisseling van ligvlekke met die sterlose donker van die spelonk. In party gevalle is die bron van lig 'n kring van vlammende pluisrietfakkels. En dan sien hy gesigte in die ligvlekke - gesigte van bekendes en geliefdes van wie sommige lank reeds die ewigheid ingegaan het; gesigte en oë wat hom met soveel treurige meelye en smart aanstaar dat hy probeer om sy gesig met een hand te bedek en luid uitroep: ‘In Gods naam, wend julle oë van my af; kyk my nie aan nie, ek smeek julle!’
Maar hy is verplig om elke ligvlek te sien. En dan kom daar stemme gepaard met die gesigte - stemme so droewig, so vol geweeklaag dat dit klink asof al die smart en ellende van die aarde enkele stem gevind het. In verskriklike koor word hom toegeroep: ‘Vaarwel! Vaarwel! Vaarwel!’
Die laaste skrikbeeld van hierdie vreeslike toneel wag hy in doodsangs af. Weer is daar rokende rietfakkels in die spelonkduister. Sy span nader die laaste ligvlek in donderende vaart. Net een gesig is deur die fakkelskemer verlig. Dit is die gesig van Racheltjie - van sy geliefde. Vir een verskriklike moment sien hy die beminde gesig - doodsbleek met geslote oë in 'n stralekrans van dowwe lig. Hy weet dat sy dood is ... dit is haar lyk wat hy aanskou ...
En dan sluit die donker hom weer in. Die wilde vaart gaan voort tot waar 'n oneindige afgrond die ontembare span dwars in die weg lê ...
In die eerste skemer van die daglumier skrik hy wakker, klam van angssweet en met 'n luide smeekgeroep: ‘God! Laat my nooit weer slaap nie!’
Hendrik du Preez het bosduiwe begin vang voordat al die voedsel wat hy in die heuningsak saamgebring het, op was. Die vang het altyd in die donkerste van die nag plaasgevind en was in die begin tot die laagste skeur beperk om so min storing moontlik onder die slapende voëls te veroorsaak. Hy het spoedig so geoefen geword dat hy 'n duif met sy vingers so saggies kon aanraak en met een gryp kon dooddruk dat die slagoffer selde of ooit 'n kans gehad het om 'n geluid te maak. Maar dit was nie altyd so nie. Party nagte was daar 'n gefladder van vlerke en 'n kwaai geknor van die duiwe wat hy aanraak. Die alarm sprei dan spoedig na alle kante uit en dan vlieg duisende duiwe die nag in uiterste verwarring in.
| |
| |
Daar was 'n tyd wat die noodlot dit so bewerkstellig het dat daar byna elke nag 'n geruime tyd 'n alarm van hierdie aard was. En toe merk Hendrik dat hierdie vlug van die duiwe in die donker ander vyande op hulle afbring wat die verwoesting onder hulle honderd maal vererger. Groot gehoringde uile het spoedig die nagtelike vlug ontdek en elke nag êrens in die nabyheid op die loer gesit om die duiwe te pak sodra hulle vlieg. Hendrik het verskeie male aanvalle van hierdie aard gesien, terwyl hy met die vang besig was, maar een nag is hy uit sy slaap deur 'n groot alarm onder die duiwe gewek. Toe hy opspring, sien hy verskeie van die swart naggedaantes op geluidlose vleuels besig om duiwe uit die skeure te vang. Hy self het hulle geleer. Hy het dadelik 'n stok gegryp en die uile verdryf. Maar die aanvalle het daarna byna nagteliks plaasgevind en spoedig het hy tot sy grootste ontsteltenis opgemerk dat die duiwe besig is om die skeure te verlaat!
Om van honger op die rots om te kom, was 'n skrikgedagte wat dae en nagte lank die wag vir hom gehou het. En toe herinner hy hom die dassies waarvan hy nog daagliks die skaduwees bo teen die krans sien verbygaan. Die dassies was egter heeltemal buite sy bereik en daar was op die lys geen hout om 'n leer van te maak nie. Daar was egter verskeie dun latte waarmee hy die onsigbare lysie kon bykom. Sy ingebore vernuf het hom spoedig 'n plan aan die hand gegee. Hy het twee tienvoet-brandnetels gekap en spoedig van die bas lyne gedraai. Dit is algemeen bekend dat bergbrandnetels die sterkste vesels verskaf van alle plante in ons land. Aan die punt van 'n agtvoet-lat het hy 'n gewone skuifknoop gebind en op dié wyse 'n klein vangstok gemaak presies soos die vangstokke wat hy duisende male self gebruik het om jong osse en perde te tem. Sy dassievangstok het aan die punt natuurlik 'n haak gehad waaraan die skuifknoop gehang het, want die dassielys was nie alleen buite sy bereik nie, maar ook buite sy gesig.
Dit was met groot twyfel dat hy vir die eerste maal sy toestel beproef het - laat een middag, toe die skaduwees van die diertjies op hulle beste teen die krans sigbaar was. Voor 'n lopende skaduwee het hy die skuifknoop vinnig laat sak en byna onmiddellik voel hy aan die lyn trek. Toe hy sy toestel ondertoe ruk, kon 'n groot, vet das saam.
Hendrik het nooit tevore in sy lewe dassievleis geëet nie en nadat hy die diertjie opgesny en van die vleis gebraai het, kon hy dit nie eet nie! Al sy wilskrag was nutteloos! Nieteenstaande sy honger was dit 'n liggaamlike onmoontlikheid om die vleis oor sy lippe te kry! Hy het egter ingesien dat dit iets is waarvan sy lewe afhang en het toe op die enigste wyse te werk gegaan wat die oormeestering van sy weersin kon bewerkstellig. Drie dae lank het hy niks hoegenaamd geëet nie en dit was alleen toe hy in die uiterste stadium van honger verkeer het dat hy in staat was om die dassie te eet en daarna kon hy dassievleis sonder die minste weersin geniet.
| |
| |
Die vang van die dassies was so maklik en daar was so 'n onuitputbare menigte dat hy die duiwe 'n lang tyd in rus kon laat, en al sy kragte inspan om hulle teen die uile te beskerm. Nadat hy vier of vyf van die nagtelike rowers met die kolf van sy roer verpletter het, het die besoeke skielik opgehou en nooit weer gedurende sy verblyf op die rots het hy 'n uil by die bosduiwe gewaar nie. Stadigaan het duiwe weer teruggekom en later het hy sy spysvoorraad vermeerder met duiwe-eiers wat hy gedurende die dag uit die neste gehaal het. Dié moes hy natuurlik rou eet.
Byna gelyktydig met die vang van sy eerste dassie het hy 'n ontdekking gedoen wat sy voedsel baie smaakliker gemaak het. In holtes teen die krans was daar dik lae ‘klipsweet’. Hy het natuurlik as veldseun die bron van hierdie eienaardige stof geweet. Hy het opgemerk dat wanneer die klipsweet met water in aanraking was, daar 'n wit afskeiding om die rand van die laag gevorm word. Sorgvuldige proefnemings het hom oortuig dat die wit afskeiding sout is en hy het spoedig 'n wyse ontdek om die afskeiding in aansienlike hoeveelhede te maak deur die klipsweet in 'n holte van sy leersak in water op te los en nadat die donker bestanddele afgesak het, die skoon water af te skep en in die rotsholtes te laat verdamp. Die uitslag was 'n laag ‘sout’ wat hy gereeld daarna versamel en gebruik het ...
Dit was natuurlik nie sout nie. Die grootste bestanddeel was suiwer salpeter, maar daar was waarskynlik genoeg sout teenwoordig om die salpetersmaak te vermom. In enige geval kon hy met behulp van sy ‘sout’ dassie- en duifbiltong maak waarvan hy in die loop van tyd 'n groot voorraad gehad het. Hy het toe in die salige geloof verkeer dat sy voedselvraagstuk opgelos is. Maar daar was 'n skielike ontnugtering.
Op 'n sekere oggend word hy met 'n swaar hoofpyn wakker. Nooit tevore in sy lewe het hy hoofpyn gehad nie, nooit pyn van enige aard anders as die gevolge van liggaamlike verwondings nie. Nooit in sy hele lewe het hy 'n siekte van enige aard gehad nie. Hy het selfs in die noorde groot koorsepidemies ongeraak deurgemaak. Dit is merkwaardig dat na sy bevryding tot sy dood toe, hy weer 'n siektelose en absoluut pynlose lewe gehad het. Selfs tandpyn het hy nooit geken nie!
Die hoofpyn hierdie oggend het hom diep ontroer. Hy het eers nie geweet wat dit is nie, maar later in die dag het hy opgemerk dat daar ander simptome is wat hom tot die byna ongelooflike oortuiging gevoer het dat hy siek is. Sy byna bonatuurlike spierkrag was nog daar; dit het hy op verskeie maniere getoets, want in sy onkunde het hy vas geglo dat swakheid en siekte onskeidbaar is. Hy was gedurig loom en tam, ongeneig om die geringste beweging te maak; sy eetlus het dadelik verdwyn en altyd was daar die dowwe en aaklige pyn in sy kop. En spoedig volg 'n reeks ander pynvolle toestande; sy mond is seer van binne; die tandvleis is opgeswel en die minste aanraking het bloeding veroorsaak. El- | |
| |
ke dag het die simptome toegeneem en hy het hom reeds vir die dood gereed gemaak (sonder die minste vrees of teensin, in werklikheid met 'n sekere mate van verwelkoming!) toe daar een dag skielik 'n herinnering uit die donker geweste van sy kinderlike geheue opkom. Dit was 'n storie van sy ou Hollanderskoolmeester - klaarblyklik 'n opgevoede man wat vroeër stuurman op 'n oorlogskip was en deur 'n soort land-wanderlust so ver van die see gedryf is. Hy het in alle waarskynlikheid die besondere dinkvermoë van die Voortrekkerwees gewaargeword en het altyd die grootste belang in sy opvoeding en ontwikkeling gestel.
Hendrik herinner hom dat hy vertel het van 'n sekere dodelike siekte wat die bemanning van skepe aantas - die naam het hom ontgaan, maar dit is die beskrewe simptome. By een geleentheid is daar so baie van die bemanning dood en siek dat sy skip onregeerbaar op die weskus van Afrika geloop het. Hier het hulle in die monding van die rivier voor anker gelê. Op bevel van die kaptein is hy - die stuurman - en 'n bemanning van nog onaangetaste matrose die rivier op om na 'n ‘negerdorp’ te soek en, indien moontlik, ‘sitroene’ en groente terug te bring. Die walle van die rivier was onbewoon sover hulle stroomop gegaan het. Hulle het egter 'n klein sytakkie opgevaar wat met bronkors toegegroei was. Die matrose het gretig die blare geëet en later 'n bootlading na die skip teruggevoer wat die kaptein in 'n balie water bewaar en aan die siekes as medisyne uitgedeel het. Die gevolg was onmiddellike genesing van byna alle siekes en die eventuele redding van die skip en oorlewende bemanning van 'n anders gewisse ondergang.
Hendrik het dadelik begin bronkors eet, waarvan daar 'n onuitputlike voorraad was. Waarom hy dit tot dusver nagelaat het, is onverstaanbaar. Die gevolg, in enige geval, was spoedige genesing en nooit weer gedurende sy verblyf op die rots het hy die minste teken van liggaamlike ongesteldheid ondervind nie.
Die gebeurtenisse op die rots is natuurlik nie chronologies gevolg nie. Van die sewende of agtste dag van sy gevangenisskap het hy met sy handbyl 'n kalender op die gelykte van die krans gekap. Sy oom het 'n ‘ewigdurende’ plankkalender besit met die gebruik waarvan hy vertroud was en dit was 'n kalender min of meer van dieselfde aard wat hy op Roerdomp gehou het. Die kalender bestaan nog en is nog leesbaar, maar ongelukkig is daar geen aantekeninge in verband met datums nie.
Die holte onder die stam van die wildevy wat Hendrik as 'n pakkamer gebruik het, is gevorm deur 'n byna rondgeslypte los klip, ongeveer vyf voet in omvang, wat in die loop van eeue onder die stam vasgegroei het. Dit was die enigste los klip van enige aansienlike grootte wat op die lys teenwoordig was. Mettertyd het Hendrik opgemerk dat indien hy die rots meer na die kant van die lys kon verskuif, hy sy pakkamer aansienlik sou vergroot. Daar was 'n en- | |
| |
kele tak van die wildevy wat hy as 'n ligterhout kon gebruik. Dié het hy afgekap en nadat hy die klip van onder die groot stam losgekap het, het hy die reuse-arbeid aanvaar om die rots met behulp van sy ligterhout te verskuiwe. Dit het die inspanning van al sy enorme krag vereis en selfs voordat hy die klip tot die bestemde plek verroer het, het die ligterhout met 'n geweldige kraak versplinter en in twee gebreek.
Hierdie los rots het 'n weinig later 'n eienaardige rol in die geskiedenis van sy gevangenis op Roerdomp gespeel. Later afmetings het getoon dat die klip byna koeëlrond en ongeveer vyf voet in omvang was. Die gewig is geskat op drie en 'n halfmud koring - ongeveer sewehonderd pond.
Afwisseling van lig en donker, van aanhoudende reëns en dae van helder mooi weer, van geweldige storms met die dreun van donder en die diepe stilte en vrede van die berge, maanverligte nagte, só het vir Hendrik du Preez dae en weke en uiteindelik maande verbygegaan. Dat die vervelendheid 'n verskriklike sielkundige uitwerking op hom moes gehad het, is lig begryplik. Behalwe die aangeduide veranderinge van weer en natuurlike omgewing moes hy dag na dag dieselfde reeks gebeurtenisse deurgaan: opstaan, vuur maak en kos braai; twee uur skuiling in die oond, terwyl die kloof aan die direkte sonstrale blootgestel is; bosduif- en dassievangs, en toue draai van enige voorwerp waarvan 'n tou gedraai kon word. Laasgenoemde werk het hy as voorbereiding van sy verlossing vroegtydig aanvaar! Hy het lank reeds ingesien dat sy vrysetting na onder toe sal moet geskied en die enigste wyse sou wees om met sy helpers onder die krans deur 'n tou in aanraking te kom. Daarom het hy baie sorgvuldig met hierdie werk voortgegaan. Sy twee osrieme en voorslae, al die dassievelle en elke brandnetel wat ryp word, is in die maak van die lyn gebruik. So haastig was hy in die begin dat hy selfs een van sy leersakke in riempies gesny en in stroppe gedraai het om die tou te verleng! Later het die Rots van Verskrikking hom geduld geleer.
By die vreeslike eensaamheid het hy hom nooit aangepas nie. Teenoor die bosduiwe en dassies - ofskoon hulle meesal buite sy bereik en gesig was - het hy mettertyd 'n gevoel van kameraadskap gekoester.
By een geleentheid het twee suikerbekkies die lys besoek. Dit was die kleinste soort suikerbekkie in die noorde bekend - die sogenaamde ‘sewekleurtjie’, waarvan die mannetjie nie veel groter as 'n vingerhoed is nie. Maar waar hy liggaamlik tekortskiet, vergoed hy verdubbeld in prag. Van alle lewende diere is daar geen skitterender juweel as die sewekleurtjie op wie se klein liggaampie al die kleure van die reënboog uitgestort is nie.
Hendrik se blydskap was buitensporig toe hy sien dat die twee voëltjies besig is om 'n nessie in die wildevy, 'n paar voet bokant die vloer, te bou. Hy het elke beweging, die neerlê van elke veertjie en donsie, met die noukeurigste aandag
| |
| |
gadegeslaan. Die nessie was in die vorm van 'n klein, oop koppie waarin die klein wyfie net pas en die plek wat die voëltjies na lang beraadslaging uitgesoek het, was onder 'n digte dak van die breë vyeblare. Later het Hendrik gesien dat die geweldigste stortreëns wat hy nakend en onbeskut moes verduur die voëltjies droog gelaat het, want die mannetjie het vir hom 'n slaapplek teenaan die nes onder 'n ander blaar uitgekies waar geen reëndruppel hom kon bereik nie.
Die suikerbekkies was van die begin af verbasend mak en deur sorgvuldige nadering het Hendrik dit sover gebring dat hy die voëltjies met sy vinger kon aanraak en streel. Sy harde lewe in die jagveld het hom geen groot gevoel of liefde jeens lewende diere ingeboesem nie. Hier op Roerdomp sou hy sy twee suikerbekkies met sy lewe beskerm het. Hy het die nessie sien voltooi; die drie eienaardige langwerpige eiertjies as die ontvangs van 'n skat verwelkom en uiteindelik die voltooiing van die wonderwerking: die uitkom van die bolle dons met hul duimlange bekkies, met bewondering gadegeslaan. Op 'n sekere dagnadat die drie kleintjies leer vlieg het - het die hele gesin die krans verlaat en Hendrik het dae lank die verlies van sy makkertjies betreur. Hulle het nooit weer teruggekom nie. Dit was die enigste lewende besoekers wat hy ooit op die lys gehad het.
Waar hy die meeste aan gely het, was 'n donker neerslagtigheid wat hom elke aand met sonsondergang oorrompel het. Van sy lys kon hy natuurlik die werklike ondergang van die son nie sien nie, maar die rekking van die skaduwees op die aan hom sigbare stukkie vlakte en die verkleuring van die lug, het die moment soos 'n uurwerk aangedui. Die kloof en lys was spoedig in 'n somber duister gehul en die skaduwees van die koppe oorkant het gedurig op hom die indruk van 'n lykstasie gemaak. Dit was gedurende hierdie uur dat die herinnering van sy drome swart en dreigend sy gemoed in beslag geneem het. Die doodswa het nog byna nagteliks 'n verskyning op die toneel van sy drome gemaak. By een geleentheid het hy sy droom in verband gebring met die treurige ‘stem’ wat hy gehoor het dié oggend toe hy Racheltjie verlaat het: ‘Jy sal haar nooit weer sien nie - nooit weer sien nie!’ Onmiddellik nadat hy die ‘stem’ gehoor het, het hy die gebeurtenis ontleed en duidelik ingesien dat dit geen uitwendige stemme nie, maar sy eie gedagtes was wat vir een moment die indruk van 'n uitwendige stem op hom gemaak het. Dit het hom heeltemal tevrede gestel en hy het die voorval nooit 'n gedagte weer geskenk nie. Maar nou, hier op Roerdomp, het die byna vergete gebeurtenis weer as 'n skrikbeeld opgeduik om sy moed te versmelt en hom 'n dieper toestand van verbystering in te voer. En dan herinner hy hom ook die vreeslike stemme wat hom nagteliks in sy drome in traanvolle geweeklaag toeroep: ‘Vaarwel! Vaarwel! Vaarwel!’ Is dit ook nie miskien 'n voorspelling nie? Altwee is voorspellings! Racheltjie is al dood en hier op die barre rots sou hy ook uiteindelik - in verskriklike eensaamheid - sterwe. Daar is wesens om hom wat die spot met hom drywe. As sy moed tot
| |
| |
die laagste sak, word hoop hom weer ingefluister, maar kort daarna sak die oortuiging weer toe dat sy beendere hier op Roerdomp sal verbleik sonder dat mens of maagd ooit sy sterfplek ontdek.
Dit was gedurende hierdie donker uur dat sy gedagtes al die duister wendings van geloof en ongeloof beproef het en minstens een maal aanleiding gegee het tot 'n geweldige sielstorm wat hy later as 'n ingewing van die Bose, of liewer wat vir sodanige ‘ingewing’ deurgaan, beskou het, want Hendrik du Preez was dit in alle waarskynlikheid nooit heeltemal eens met hierdie uitleg van 'n bepaalde sielkundige toestand nie.
Die oorsprong van sy grootste ‘stryd’ op le Suika le Tsosang was die indruk wat die drie reuse-koppe aan die oorkant van die kloof saans somtyds op hom gemaak en die gedagteloop wat hulle verwek het. Nooit het die kalme majesteit, die onbereikbaarheid van Mamatola en sy twee reuse-geselle so helder vertoon as wanneer die magtige massief in die aand sy gekroonde spits deur donker skaduwees in die opgeluisterde lug omhoog hou nie. Dit was dan dat Hendrik iets ‘persoonliks’ in die berge gewaar het. Om hul voet word die lewe gebore en verskyn daagliks die tragedie van pyn en dood; riviere word gevorm en verdwyn; magtige houtbosse groei en vergaan; die mens kom om 'n tydjie onder hul skaduwees sy wonings te bou. Hy bemin en haat en dood; en ook hy gaan verby en sy spore verdwyn vir ewig. Op hul breë front stort die son sy kleurvolste verligting. Storm na storm dreun oor die magtige hellings van hul uitlopers en, soos die geslypte lanse van 'n leër, val die blits op hul hoogtes neer. Maar niks raak hulle nie, niks roer hulle nie. Dié serene majesteit kan geen tydelike gebeurtenis ooit steur nie. Nòg liefde, nòg haat, nòg meelye, nòg wraak kan die magtige siele ooit gewaar. Die mensegeskiedenis van 'n duisend jaar gaan by hulle ongeag verby, soos die skaduwee van 'n wolk oor hul spitse.
Hendrik kon verstaan waarom die inboorlinge 'n gevreesde persoonlikheid aan Roerdomp toeken en (soos die ou stuurman hom dikwels vertel het) daar nasies in die Ooste is wat sekere berge as gode aanbid.
Stadigaan het die gedagte by hom ontwikkel dat die Wese wat die heelal in stand hou, in sekere opsigte die eienskappe van die hooggebergtes deelagtig is. Ook Hy bestaan in ongenaakbare majesteit, bo alle menslike hartstogte en gevoelens verhewe. Die sigbare heelal is net die soom van sy gewaad wat voor die menslike nadering vir ewig die baken stel. Ook Hy kan geen haat of liefde voel nie, en nooit kan Sy almag deur meelye of wraaksug beïnvloed word nie ... Hiervandaan was dit net 'n tree tot die maalstroom van predestinasie. So het Hendrik geredeneer: Al bemoei die Alwetende Hom nooit met die gebeurtenisse van die heelal nie, al bly alles vir ewig voorbestem en onverander, nietemin het alles van ewigheid in Sy kennis bestaan. ‘Wetende wat sou gebeur’ (so was die loop van sy gedagtes) ‘het Hy my die lewe ingevoer. Ek ten minste dra g'n verantwoordelikheid nie. Ek het nooit daarna gevra nie. As ek die kans ge- | |
| |
had het, sou ek die geskenk van lewe stellig geweier het. Die verantwoordelikheid berus by God - deur Sy alwetendheid. Wat het ek gedoen meer as duisende ander op aarde? Is ek die lewe ingeroep alleen om die spot met my te drywe? Alleen om my die wreedheid te laat ondergaan? Dit is nie reg nie! ... Dit is nie reg nie! Ek verklaar voor God, dit is nie reg nie!’
Met gebalde vuiste spring hy orent. ‘Onregverdig! Onregverdig! Julle kan my tot die diepste hel verdoem en nog sal ek uitroep, totdat dit in die Hoogste Hemel gehoor word: onregverdig! Onregverdig! Selfs die mens kan julle beskaam. Selfs hy sal hom nooit aan sulke wreedheid skuldig maak nie!’
Wild en vervaard slaan hy met sy vuiste teen die krans, totdat die rots met bloed bevlek is en dan kom uit die onstuimige warrelpoel van sy gedagtes 'n nog vreesliker gedaante te voorskyn. Hy begin lag - 'n krampagtige gelag ... ‘Oor een ding bly ek baas; God kan my die lewe opdwing; maar selfs Hy kan die dood van my nie weerhou nie. Ek sal dit beëindig! Ek sal dit beëindig! Niemand sal langer met my die spot dryf nie!’
Hy storm na die kant waar die krans die hoogste is, sy hande is reeds uitgestrek om in die diepte af te duik, toe sy voet aan die stomp wat hy as 'n ligterhout gebruik het, haak en hy met sy volle lengte op die rotsbodem neerstort. Sy voorhoof kom in geweldige aanraking met die klipvoer en 'n paar momente raak sy bewustheid in 'n swart kolk weg. Hy kom weer by om te vind dat hy ween; sy hele liggaam word deur herhaalde snikke geskud; sy aangesig is van bloed en trane nat. Die storm bedaar. Hy neem sy gewone sitplek op die kant van die krans in, terwyl sy voete afhang. Hy huil nog gedurig, sonder om te weet waarom. Dit het nag geword en hy sien bo hom die kalm, onveranderlike sterre. Te midde van sy ellende merk hy op dat die groot suidelike sterrebeeld hoog aan die oostelike halfsirkel van sy loopbaan weer sigbaar is. Die jaar is aan die keer. Hy is byna 'n halfjaar op die rots. Tesame met sy trane verdamp die laaste roering van die storm. Hy kry 'n ander denkbeeld van God. Die ondenkbare grootheid van die heelal val hom as 'n pynlike gewaarwording te binne. Die skitterende uitspansel met sy tallose wêrelde en sonne is die kleinste soom aan sy gewaad. Wat is hy - 'n spiksel stof - dat die Almagtige hom sou gedenk? Hy lag homself spottend uit. Hy, om sy vuis teen God op te lig! Die skewe pot wat die vierskaar vir die pottebakker span! Hy herinner hom een van die verbode gesange wat hy altyd beskou het as die skoonste gedig in die versameling. Daar in die stille eensaamheid van die nag met die majestueuse berge om hom, resiteer hy saggies reëls en versies en is sy stem deur trane verdoof:
Gij alleen zijt alles waardig,
wij, die stof zijn, niet met al;
alles zij ten dienst U vaardig,
of het sta, dan of het vall';
| |
| |
zoo uw luister maar mag blinken,
doe dan vrij al wat Gij doet;
of wij drijven, of wij zinken,
wat Gij doet is even goed.
Zou de ootmoed ons niet voegen?
Wij zijn niet, dan voor den Heer;
in uw' wil is ons genoegen,
en ons heil is in uw eer,
en uw eer in al uw werken,
zelfs als Gij ons zinken doet:
kunnen wij uw' lof maar sterken,
wat Gij doet is even goed.
Diepe wijsheid zijn uw paden,
wijsheid zonder eind of paal
zijn, o hooge God! uw daden,
zijn ze zuurheid, zijn ze zoetheid,
wij aanbidden, zwijgen stil:
want de wezenlijke Goedheid
maakt het goed met dat Zij't wil.
Die vierde Mei! Hy het die vorige dag noukeurig sy kalender nagegaan; hy is vandag presies vyf maande op die rots. Onwetend het hy egter een dag te min in Februarie geplaas. Dit is skrikkeljaar en Februarie het nege-en-twintig dae. Vyf maande!
Gister het hy opgemerk dat daar gevaar bestaan dat een groot stapel van sy droë hout, wat langs die stam van die wildevy rus, die krans sal aftuimel. Sonder om veel ag aan die toestand van die stapel te skenk, het hy gedurig hout vir gebruik op die lys weggetrek. Nou sien hy skielik dat dit in werklikheid die fondament van die stapel was wat hy gedurig verswak het en dat daar nou groot gevaar dreig dat hy enige minuut twee-derdes van sy houtvoorraad mag verloor. Hy besluit dadelik om die bedreigde stapel van bo af te pak en die drag hout op die lys te pak nieteenstaande dit sy bruikbare ruimte op die rots tot 'n paar tree in die vierkant sal inkrimp. Hy pak die taak dadelik aan en so dreigend skyn die gevaar vir hom dat hy selfs gedurende die twee uur van direkte sonskyn met die werk voortgaan in plaas van in sy houtoond skuiling te neem. Hy kan aanhou alleen deur sy hoof en naakte romp af en toe nat te maak. Hy werk tot in die nag. Dit is gelukkig helder maanlig, sodat hy met die werk kan voortgaan sonder dat hy 'n vuur vir verligting van die lys aan brand hoef te hou.
| |
| |
Net vóór die verskyning van die eerste daglig is hy met die werk klaar - die laaste stukkies hout is hoog teen die krans gestapel in die nabyheid van waar die paalleer oorspronklik was. Hy is so moeg en vaak dat hy aan die slaap is 'n minuut nadat hy homself op die harde rots uitgestrek het.
Toe hy die oggend wakker skrik, is die son reeds hoog op en hy sien dat die oorkantse koppe reeds met die goue strale verlig is.
Dit was toe hy besig was om vuur te maak om 'n paar duiwe vir sy ontbyt te braai dat hy skielik 'n snaakse ding gewaar. Net bo die stam van die wildevyeboom sien hy 'n eienaardige ronde ligkol. Hy ken elke besonderheid van sy klein wêreld so goed dat hy elke verandering dadelik opmerk. Hierdie ligkol het hy nooit tevore gesien nie. Dit is natuurlik op die een of ander wyse deur die vervoer van die houtstapel veroorsaak. Hy nader die plek nuuskierig en dit is met 'n uitroep van verbasing dat hy die werklike oorsaak van die lig ontdek.
Net oorkant die wildevyestam strek die uitloper van die lys waarop hy staan, maar in plaas van die skeur waarin 'n lys op Roerdomp gewoonlik eindig, is daar 'n koeëlronde gat deur die rots en hy kyk daardeur uit in 'n gloed van helder sonlig. Die gat self is buite sy bereik, maar as hy sy ken op 'n tak van die vyeboom vasdruk, kan hy daardeur kyk asof dit 'n verkyker is.
Wat hy deur die gat sien, ontlok 'n tweede uitroep van skrik ... van verwondering wat in 'n gekerm van weemoed en wanhoop eindig! Hy sien voor hom eers die houtbosse aan die voet van die Middelberge - wat hy goed ken; en daarna, toe sy gesig verder gaan, sien hy skielik, hoog teen die oorkantse rante, 'n klein stukkie van die gewel en hoek van 'n huis. Hy sien 'n skoorsteen waaruit rook opwalm in die helder oggendlug. Dit is sy eie huis - Môreson! Hy kan net 'n klein stukkie van die agterste hoek sien en die toppunt van die kombuisskoorsteen. Hy rek sy lyf en skuif sy kop in geweldige pogings om meer te sien, maar hy ontdek spoedig dat dit tevergeefs is. Hoe hy ook al staan, meer as dié stukkie kan hy nie sien nie.
Hy bekyk elke stukkie met honger nuuskierigheid ... Een ding is byna seker: Racheltjie lewe nog! - anders sou die huis verlate wees; daar sou g'n vuur in die kombuis wees nie. En dan roep hy onnadenkend uit: ‘Hoe kan sy nog dink aan vuurmaak en koskook, terwyl ek hier op die rots vergaan!’
Agter die gewel sien hy die agterent van 'n tentwa. Dit is waarskynlik sy oom en tante of miskien Racheltjie se ouers wat haar in haar ellende besoek. Dadelik dink hy daaraan om tekens te maak. Hulle moet hom sien! - Liewe God, hulle moet hom sien!
Koorsagtig gaan hy te werk om latte aanmekaar te bind: hy skeur sy verflenterde hemp aan stukkies en bind 'n klomp lappies aan die punt van sy stok en dan met groot moeite steek hy die toestel deur die gat. Maar hy sien gou genoeg in dat al sy pogings in hierdie rigting nutteloos en kinderagtig is. Wanneer hy sy lappies deur die gat het, kan hy die stok nouliks 'n paar duim beweeg en al
| |
| |
kon hy die lappies waai, sou dit teen die ruwe front van Roerdomp van Môreson heeltemal onsigbaar wees! Hy trek die stok terug en gooi dit wanhopig neer, maar 'n ander plan skiet hom te binne. Vannag as dit donker is, sal hy vuurseine maak - op die een of ander wyse. Hy gaan dadelik vurig te werk. Hy maak 'n klomp pluishoutfakkels wat hy met netellyn aanmekaarbind. Maar hy het g'n stukkie vet en g'n druppel olie om sy fakkels te voltooi nie.
Ure lank dié dag probeer hy tevergeefs om brandende hout deur die gat te skuiwe. Sy vuur word telkens in die noute van die gat doodgesmoor. Ook dit moet hy uiteindelik laat vaar in 'n bitterheid van gees wat nouliks te beskrywe is.
Daarna gebruik hy die rotsverkyker alleen om die stukkie van Môreson ure lank te bekyk. As hy Racheltjie maar net kan sien, net een oomblik! Maar dit gebeur nie. Die hele dag sien hy g'n mens nie. Hy begryp dat dit baie selde sal gebeur dat iemand by die gewelhoek verby sal gaan. Die kombuisdeur is onsigbaar aan die ander end van die ook onsigbare agtermuur van die huis. Die voorkant van die huis is heeltemal buite sy gesig.
Die middag van die derde dag na die ontdekking van die rotsloop sien hy skielik 'n beweging tussen die bome hoog teen die rant. Hy weet dat dit in die pad moet wees wat Môreson van die weste bereik. Hy hou die roerende voorwerp stip in die oog. Party lengtes van die pad lê oop en bloot. Daar moet dit sigbaar word.
Dit is met 'n koue gril dat hy vir die eerste maal gedurende sy gevangenisskap van vyf maande 'n lewende mens sien! 'n Perderuiter kom binne sy gesig op 'n oop lengte van die pad. Dit is iemand op weg na Môreson. Hy herken dadelik die perd: dit is 'n vosbles met vier wit pote. Dit is Willem Prinsloo se ryperd. Slap-Willem, wat vir hom so 'n doring in die vleis was toe hy nog na Racheltjie gevry het. Hy bekyk die ruiter noukeurig. Aan hom is nie te twyfel nie. Selfs op die afstand herken hy die lang, slap gestalte wat soos 'n voëlverskrikker op 'n perd sit. Dit is Willem Prinsloo! Hy is in swart gekleed. Hendrik ken die ‘bêrepak’ baie goed. Aan Willem Prinsloo se doel en oogmerk is langer vir geen oomblik te twyfel nie.
‘Die ellendeling!’ Die ongelukkige gevangene bars los in 'n stroom van geweldige sinne en woorde: ‘Jou lang lummel! Dink jy om my plaas ... MY plaas te kry! en my vroutjie, my Racheltjie!’ En dan keer sy gedagtes in 'n ander rigting: ‘Racheltjie! ... Liewe God! ek is nog nie koud in my graf nie!’ Die ontoepaslikheid van die spreekwoordelike uitdrukking val hom nie op nie. ‘Daarom is dit dat sy besig is om kos te kook!’
Hy kners sy tande en vou sy twee hande so geweldig toe dat die naels die vleis binnedring. In verbeelding het hy Willem Prinsloo reeds aan die keel. Hy roep sinnelose skelwoorde uit: ‘Dief! Moordenaar! Ek sal jou kry. Met my blote hande sal ek jou aan stukke breek!’
| |
| |
Bedaard en ongesteurd nader die voorwerp van al dié woorde die huis van Môreson. Hy verdwyn agter die stukkie sigbare gewel en Hendrik sien hom nie meer nie.
Dié dag en nag het Hendrik du Preez werklik die bitterheid van die dood op die Rots van Verskrikking gevoel. Die hele nag het hy slaaploos op en neer geloop, terwyl die gruwelikste gedagtes deur sy verbeelding sweef. Hy sien Racheltjie, uitgedos, op die rusbank met Slap-Willem langs haar. Miskien het die skobbejak sy arm om haar lyf! En dan stamp hy sy vuiste teen die rots onder 'n storm vloeke waaraan sy tong ongewoond is. Hy herinner hom dat dit Saterdagnag is!
Die volgende oggend sit hy op die kant van die krans in die rotsloop en loer. Dit is asof 'n ketting hom aansleep maar hy sit hom teë met al sy wilskrag: hy sal die dolk nie weer in sy eie hart steek nie!
... Uit die hoek van sy oog sien hy, by blote toeval, iets ver aan die oorkant roer.
Bokant die kranse aan die oorkant strek 'n breë oop vallei by die voet van Mamatola verby en tussen die ander groot koppe tot waar die bergreeks dit afsluit. Aan die bo-ent wat die verste van hom is, staan 'n digte houtbos waaruit 'n bergstroom die vallei afvloei om links te draai en agter die uitloper van Mamatola te verdwyn. Byna in die middel van hierdie vallei sien Hendrik 'n mens loop met 'n geweer oor sy skouers en sy arms oor die geweer geslinger. Die man is besig om die vallei in die breedte te kruis. Dit is die eerste maal gedurende sy gevangenisskap dat Hendrik 'n mens so naby hom sien en dit veroorsaak 'n geweldige skrik - 'n soort verlamming wat hom enige sekondes lank verhinder om op te spring en te roep. Die loper is skaars vierhonderd tree van hom af, maar dit duur 'n taamlike lang tyd voordat hy hom herken ... en dan sien hy dat dit sy agterryer, Jefta, is. 'n Witman sal natuurlik nie op Sondag 'n geweer dra nie - want dit is Sondag, die agtste Mei op sy kalender. Ou Jefta volg die stroom en sal binne 'n paar minute agter die skouer van Mamatola uit die gesig raak en dan sal hy hom nooit weer sien nie. Hy spring orent en maak hom met geweldige aanstrenging gereed om die hardste skreeu te uit wat nog ooit oor sy lippe gegaan het. En toe gebeur 'n verskriklike ding. Dit is asof die noodlot tot op die laaste met hom die spot dryf. In plaas van 'n harde, klinkende geroep, kom uit sy keel 'n hees gefluister, skaars aan sy eie ore hoorbaar. Al sy keelspiere is in 'n geweldige kramp verstyf. Hy probeer weer twee of drie maal - tevergeefs. Die ou Boesman is slegs vyftig tree van die skouer van Mamatola.
Hendrik kyk verwilderd op die lys rond na enigiets waarmee hy die aandag van die Boesman kan trek voordat dit te laat is. En toe, binne 'n paar sekondes, verrig hy die grootste kragsinspanning van sy lewe.
Hendrik du Preez was deur die hele Transvaal om sy byna bonatuurlike krag beroemd, maar dié oggend op Roerdomp het die swaarste taak van sy lewe hom
| |
| |
voorgestaan. Hy het die afstand tussen die ou Boesman en die eerste rots van Mamatola haastig met die oog afgemeet: dit sou minstens dertig tellings duur voordat hy agter Roerdomp uit die gesig en buite gehoor raak. Toe hy verwild rondkyk na enigiets wat hom te hulp kon staan, val sy oog op die ronde rots wat hy vroeër van onder die wildevyeboom losgekap het om sy pakkamer te vergroot. Die klip is vyf voet in omvang in die middel en die gewig is deur verskeie geoefende beoordelaars afsonderlik op sewehonderd pond geskat. Sonder om meer as een sekonde te beraadslaag, gaan hy op sy hurke voor die rots sit; hy vou sy arms om die voet waar die omvang soveel minder is dat sy hande gemaklik kan kruis. Met aanstrenging van elke spier in sy magtige liggaam druk hy die rots vas teen sy bors en met een hys lig hy die klip tot op die stam van die wildevy - 'n hoogte van twee-en-'n-half voet. Vier asemhalings en dan maak hy gereed vir die tweede hys. Gelyk met sy skouers is daar 'n groot ronde holte in die krans, gevul met klipsweet. Nog 'n magtiger aanstrenging en die rots rus binne die holte waar hy dit 'n paar sekondes lank met al sy krag vasdruk. Nou die grootste taak, maar hy gaan daardeur asof hy in 'n droom werksaam is. Hy buk effens en kry sy regterskouer onder die rots; hy skuiwe dit 'n weinig meer na die middellyn en toe kom hy orent met die vreeslike gewig op sy geboë skouers. Hy struikel voet vir voet aan na die kant van die afgrond. Hy is kaalvoet en die gewig is so ontsettend dat die vel rondom altwee voete oopbars van die vreeslike drukking wat die gewig van die rots veroorsaak en sy gang word in bloedspore op die rotsvloer van die lys afgeteken. Die vel van sy skouers en rug is ook oopgebreek, en hy voel die warm bloed oor sy romp afstroom ... Hy kyk na die Boesman. Hy kan slegs op vyf of ses tellings nog reken. Maar dit is voldoende. Een sekonde balanseer hy sy gewig op die rand van die afgrond en dan skuif hy die gewig van sy
regterskouer en die groot rots stort in die diepte af. Die rots self het ongebroke op die vloer van die kloof beland, maar op weg het dit verskeie groot stukke uit die lyste onder hom geslaan, sodat daar onmiddellik 'n groot rotsval in die kloof veroorsaak word. Dit was die geluid van 'n donderslag met 'n navolging van die een kanonskoot op die ander.
Die ou Boesman stuit in sy spore. Hy laat die geweer in sy hande neersak en kyk verwonderd en verskrik in die rigting van Roerdomp. Hendrik gryp intussen die leersak wat nog heel is en begin dit geweldig waai. Ou Jefta sien die teken, maar klaarblyklik kan hy glad nie verstaan wat dit alles beteken nie, die donderslag en die onaardse gedaante bo teen Roerdomp. Hendrik se bolyf is nakend en bruin verbrand. Hy besit geen hoed meer nie en sy groot bos bruin hare hang in 'n golwende massa agteroor tot onder sy skouers; nou het hy 'n donker spits baarddrag wat net sy ken en lippe bedek.
Voetjie vir voetjie nader Jefta die rand van die krans oorkant die kloof. Hy hou sy roer klaar; hy ken sy baas natuurlik nie. Sy mond het oopgeval en hy bekyk die skouspel as iets bonatuurliks en onverstaanbaar.
| |
| |
Hendrik kan intussen nog geen geluid uitbring nie; elke maal wanneer hy probeer om die ou jong aan te roep, kry hy dieselfde keelkramp wat sy stem heeltemal versmoor; maar hy hou aan waai met die leersak.
Uiteindelik, na lang twyfel en angs, begin klaarblyklik 'n vermoede van waarheid by ou Jefta ontkiem. Hy wuif Hendrik met die een hand toe en ten laaste kom sy stem oor die kloof tot Hendrik: ‘Is dit jy, sieur Dirkie?’
Dit kos die Boesman meer as 'n uur om die koppe om te loop, die nekkie te kruis en in die kloof af te kom. En dan is daar nog moeilikheid. Staan hy direk onder die krans, kan hy Hendrik nie sien nie en as hy aan die oorkant staan, dan is hy te ver om te praat. Die gerommel van weerklanke in die kloof maak alle gesprek wat van onder kom, onhoorbaar bo teen Roerdomp, tensy die spreker vas teen die krans van Roerdomp self staan, maar in die middel van die kloof teen die bo-ent is 'n eienaardige lang, spits rots, net soos 'n mensvinger wat hemelwaarts wys. Soos 'n bobbejaan klouter die ou Boesman langs die rots op, totdat hy sy baas behoorlik kan sien en met hom praat. En uit sy mond hoor Hendrik die eerste nuus. Sy vrou en familie het hom maande reeds as dood beskou, en almal is in die rou oor hom. Die hele distrik het langer as twee maande in die omtrek van Aasvoëlgang na hom gesoek. Sy oom en tante, en Racheltjie se ouers het gedurende al die tyd op Môreson by haar gebly en net die dag tevore het hulle huis toe vertrek en Racheltjie met hulle saamgeneem. 'n Perderuiter sou hulle maklik nog in een dag inhaal. Hy - ou Jefta - is agtergelaat om die plaas en vee op te pas, daarom het hy op Sondag gaan skiet.
Stadigaan het Hendrik sy stem weer teruggevind en toe die ou Boesman hom kon hoor, het hy instruksies ontvang om dadelik hulp in te roep, om sy vrou en hul familie te perd agterna te ja, en terug te bring en om die tyding na alle kante met swart boodskappers te versprei.
Dit is die oggend van 10 Mei. Hendrik word deur mensestemme uit sy slaap gewek. Toe hy oorkyk, sien hy teen die voet van die krans oorkant 'n groep van ongeveer dertig of veertig mans bymekaar. Hulle moes te voet die nekkie kruis, want te perd kan niemand van die bo-ent die kloof inkom nie. Hy word met luide gejuig toegeroep en verwelkom as iemand wat uit die dood opgestaan het. Aan hom word vertel dat 'n boodskapper sy oom se waens ingehaal het en reeds met die berig terug is dat hulle kom. Hulle word elke minuut in die laer verwag wat reeds onder die voet van die berge vergader is.
Planne is dadelik beraam. Alle rieme, stroppe en gevlegte trektoue is van die waens gehaal en binne 'n paar uur was 'n riemleer klaar wat van die lys tot op die vloer van die kloof reik. Hendrik het lank reeds 'n tou gedraai wat onder kon bykom. Eers het hy sy geweer en byl laat sak en toe die riemleer opgetrek en aan die stam van die wildevy vasgebind. Langs dié weg het hy self afgeklim om deur 'n gedrang mans - oud en jonk - met snikke, trane en aanhoudende omhelsings ontvang te word.
| |
| |
Toe is hulle te voet oor die nek om die vroue en oumense by die ‘laer’ te ontmoet. Daar was ongeveer dertig waens onder die berge versprei en drie of vier het net aangekom en was besig om uit te span, toe die redders met Hendrik in gesig kom. Racheltjie en sy familie het net aangekom.
Hendrik is besonder stil. Hy groet almal beleef, maar sonder die minste hartstog. Dit lyk of een groot gedagte alles anders in sy gemoed oorskadu. Dit is natuurlik sy mooi vroutjie, Racheltjie, wat hom by die waens, in die diepste rou geklee, inwag. Almal het die gevoel dat dit iets heiligs sal wees om die ontmoeting te aanskou.
Almal bewonder Hendrik se voorkoms: sy groot bos hare wat sy breë skouers bedek. Die fyn baard om ken en lippe het hom so verander dat selfs Racheltjie hom nooit sou herken het nie. Verskeie oumense merk hoe veel hy lyk op die prentjies van Christus wat somtyds in ou Bybels voorkom. Iemand het hom 'n baadjie gegee wat los om sy skouers hang.
Daar is 'n groot gedrang mans en vroue by die waens, en hier ook is hy met luide geween omhels en gesoen. Sy oom en tante - ook in diep rou - wil hom in hul arms vashou. Hom word vertel dat Racheltjie agter die wa staan en huil - so verskrik en vervaard dat sy bang is om vorentoe te kom. Hy moet haar daar gaan groet.
Maar sy gedrag word vir die toeskouers al hoe meer onverklaarbaar. Sommige dink dat sy verstand aangetas is. Daar is 'n waansinnige vonkeling in sy oë, hy vee die aandringende vroue en mans van hom af weg en stap deur die gedrang soos Simson deur die Filistyne. Sy oë is stip op een punt gevestig en in niks anders stel hy langer die minste belang nie. Hy laat die geleende baadjie van sy skouers val ...
Willem Prinsloo - nog in sy deftige swart pak - staan naby die agterstel van sy oom se wa. Dit is Slap-Willem wat Hendrik so stip in die oog hou. Hy loop reg op hom af ... Maar verskeie van die omstaande mans het opgemerk dat daar iets verkeerd is en hulle probeer nou om hom teë te hou, en tot bedaring te bring. Maar dit is alles vergeefs; hy druk hulle van hom af weg, totdat hy voor Willem Prinsloo staan en hom vas in die oë kyk. Hy praat geen woord nie, maar toe Willem altwee sy lang arms uitsteek om hom te begroet, word hy skielik om die lyf gepak en hoog in die lug gehys. Nou sien hulle wat hy wil doen: hy gaan Willem Prinsloo teen die agterwiel van die wa doodgooi!
Dosyne pare hande pak hom en Willem beet om die gewisse manslag te verhinder. Almal soebat en pleit - ook Willem het sy lang arms krampagtig onder Hendrik se regteroksel vasgeslaan om die ‘gooi’ te verhinder ... Hy staan voor die agterwiel van die wa en met een beweging ruk hy Willem los, en was net klaar om hom te verpletter toe daar 'n pouse kom. Met die losruk hoor almal 'n aaklige gekraak en 'n harde skreeu van pyn deur die ongelukkige Willem. Sy skouergewrig is uit lit geruk en tegelyk gewaar die verwoede aanvaller
| |
| |
iets anders wat 'n onmiddellike en magtiger uitwerking op hom het as al die pogings van die mans om hom. Hy voel sagte arms om sy nek en in sy oor fluister 'n traanvolle stemmetjie: ‘O, Dirkie, Dirkie, wat doen jy?’
Hy laat Willem soos 'n sak mielies voor sy voete val om Racheltjie aan sy bors vas te druk en dan vir die tweede keer in sy lewe gaan hy hard aan huil.
Met die gewone fynheid van vroulike deursig was dit Racheltjie wat sy gemoed ontsyfer het en dit was sy wat hom vertel het dat hy verkeerd is. Willem is reeds aan 'n ander meisie verloof en sal binne 'n paar dae met haar trou. |
|