Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 341]
| |
Die Mielies van Nooitgedachtaant.1 Die Woestynvlug van die Herero'sIn die Doolhof van die Dood aan die noordekant van Grootrivier is al meer as een gebeurtenis gebore wat die bladsye van ons geskiedenis vir altyd sal verduister. 'n Swart bladsy sal vir ewig gewy wees aan die lyding van die Mosamedes-trekkers. En hoeveel stories is daar nie van eensame reisigers wat op die uiterste oomblik van gevaar die smorende arms van die groot Dorsland ontsnap het nie? Oral op sy gloeiende sandvlaktes lê die verroeste yster van verlate waens, trekkettings, jukke, rieme en bokseile; die verbleekte geraamtes van vee; mensebeendere en grafte, elkeen waarvan vir jare 'n bewys sal lewer dat die mens hier handgemeen was met die dood in sy afgryslikste gedaante. Vir die Afrikanertrekker was daar nooit 'n woord wat groter vrees verwek het as ‘Dors’ nie, waarmee mettertyd 'n landstreek self beduie is sowel as 'n eienskap. Wie wat ooit ondervinding gehad het van een of ander klein ‘Dors’ in die noorde van ons land, kan die gebeurtenis ooit vergeet? Die aanhoudende kreun van die osse - hartroerendste geluid wat van 'n spraaklose dier kan kom; die gloeiende sonnehitte; die oneindige sand, met 'n verstikkende stofwolk wat alles omhang, asof dáárin die Dors 'n gedaante aanneem en reeds die bewys gee dat die uiterste menslike inspanning vrugteloos sal wees; die smagtende uitkyk na tekens van water - en die hoop gedurig verydel! 'n Tweedaagse ondervinding van dié aard strek in die geheue tot 'n ewigheid hom uit. En wat moet dit wees wanneer so 'n ondervinding dag na dag herhaal word, weke agtereen; wanneer die diere vrek, en die waens moet verlaat word; wanneer die mens as 't ware die laaste skans tussen hom en sy ongenaakbare vyand opgee? Die verbeelding deins van die blote gedagte terug! Daar is ten minste een groot Dorslandtrek wat maar min die openbare aandag in Suid-Afrika getrek het, en wat, sover ek weet, nog nooit volledig beskrywe is nie. Dit is die vlug van die Herero's uit Suidwes deur die Kalahari na die gebied van die Bamangwato, en eindelik na Palala in Waterberg. Daar is baie in hierdie groot vlug wat aan die Mosamedes-trek herinner, behalwe dat alles hier op veel groter skaal gebeur het. So is meer as sewehonderd waens in die woestyn agtergelaat en meer as drieduisend mense het aan die dors | |
[pagina 342]
| |
beswyk.Ga naar eind1. Die feit dat hierdie groot ramp geen indruk op die publiek van Suid-Afrika gemaak het nie, is ongetwyfeld daaraan te wyte dat dit 'n swart volk was wat dit ondergaan het. Die Ova-Herero, of, soos ons mense hulle noem, die Damaras, was die enigste suiwer swart naturellenasie wat Suidwes bewoon het. Deur Duitse ondersoekers word beweer dat hulle êrens uit Midde-Afrika afkomstig was. Een merkwaardige eienskap wat hulle van ons swartmense onderskei, is die buitengewone liggaamslengte - dit is selde dat 'n mens 'n man vind wat onder die ses voet lank is. Vroeg reeds in hul geskiedenis is die nasie deur Duitse sendelinge 'n trappie uit die donkerste barbaarsheid verhef, en ten tyde van die groot vlug het hulle reeds 'n hoër graad van beskawing bereik as enige ander swart nasie in Suid-Afrika. Die meeste kon lees en skrywe - Hoog-Hollands was die gewone ‘skooltaal’ en 'n vorm van Afrikaans die ‘geleerde’ spreektaal. Almal het Europese klere gedra; baie het in geboude huise gewoon en op Afrikanerwyse geboer. Daar was seker geen nasie in Suid-Afrika wat ryker aan vee was as die Herero's nie. Oorspronklik het hulle 'n eienaardige veeras besit, wat mettertyd deur die hele noorde van Suid-Afrika bekend geword het. Wat karakter betref, word algemeen erken (selfs deur die Duitsers) dat hulle 'n vredeliewende volk was, totdat hulle hul deur hul geel bure laat oorhaal het om gemene saak teen die Duitsers te maak. Toe het sommige hulle skuldig gemaak aan wrede moorde op blanke mans, vroue en kinders. Dit moet egter onthou word dat, nieteenstaande hul hoë mate van beskawing, maar een helfte van die volk die Christelike geloof aangeneem het. Die ander helfte, onder wie die opperhoofde, het by hul ou heidense geloof en gewoontes gebly. In enige geval is dit moeilik om te glo dat dié gedeelte van die stam wat aan die Palala in Waterberg gewoon het, hulle aan sulke dade kon skuldig gemaak het. Die oorlog tussen die Duitsers en hul geel en swart onderdane in Suidwes (1903-04) is geheel en al deur latere gebeurtenisse in Suid-Afrika en in die wêreld oorskadu. Die leser sal hom egter herinner dat die Herero's so te sê geen weerstand gebied het nie. Net een slag het hulle gelewer; en nadat hulle verneem het hoe dit met hul geel bondgenote gevaar het, was die skrik onder hulle só groot dat hulle geen beter plan as vlug kon uitdink nie. Daar was ou raadsmanne wat sterk aangeraai het om hulle oor te gee aan die genade van die Duitse krygsmag; maar die groot meerderheid van die volk het op een woord bly staan: ‘Liewer die Kalahari as die Duitsers!’ En so het 'n gedeelte hulle vir die vlug gereed gemaak lank voor die Duitse kolonnes hul grense kon bereik. Dat sommige lank aan die plan gedink het van 'n vlug deur die woestyn na die ‘Engelse lyn’ blyk daaruit dat hulle die voorsorg geneem het om woestynkenners uit te stuur om die toestand van die veld en die waters te verneem en om te sien of die karkoere volop was en of hulle bekwaam was vir gebruik. | |
[pagina 343]
| |
Van Duitse kant is die vlug van die nasie in vreeslike kleure afgeskilder - d.w.s. die begin van die vlug tot so ver as die Duitse agtervolging na die ooste geduur het, en dit was tot by die laaste waterputte. Tot daar het die Duitse patrollies reeds oor 'n pad van dooies getrek. Elke waterput was vol dooie beeste, die water tot modder vertrap. Geskat word dat veertigduisend Herero's dood is voordat hulle werklik die groot Dors bereik het. Daar is miskien geen beter beskrywing van die begin van die Herero-vlug nie as dié in die laaste stukke van Peter Moor, 'n roman deur die bekende Duitse skrywer Gustav Frenssen. Hy skryf met die gevoelens van iemand wat die nieblankes diep bejammer en wat die veroweringskryg uit die diepte van sy siel haat. Dit is eenvoudig onmoontlik om te glo dat die agtervolging in die woestyn presies so deur die Duitsers gevoer is as hy beskrywe; en dit wyk ook geheel en al af van die offisiële verslae. Sy syfers - wat ek in hierdie artikel aanneem, asook die algemene loop van gebeurtenisse op die rand van die woestyn, is waar. Die skrywer van Peter Moor, wanneer hy van veertigduisend gesneuweldes praat, skat tesame dié wat gesneuwel het in die een klein slaggie wat hulle gelewer het en die veel groter getal wat van dors dood is voordat hulle die laaste waterputte verby was. Die ‘Vlug’ onder die opperhoof Samuel was aan die voorpunt, en kon ten minste die rand van die woestyn met veiligheid deurgetrek het; maar net soos met die Mosamedes-trekkers, was paniek die groot oorsaak van die ramp wat hulle tegemoet geja het. Volgens die syfers deur kaptein Samuel en die prediker-skoolmeester Julius in Waterberg aan skrywer opgegee, het hul deel van die ‘Vlug’ bestaan uit sewehonderd waens en vierduisend siele. Die vee was ‘ontelbaar’ en ‘onskatbaar’.Ga naar eind2. In Waterberg het ongeveer vierhonderd siele aangekom sonder 'n enkele viervoetige dier, behalwe een perd van die kaptein. Die vee wat hulle op die plaas Nagwag had, is hulle deur Gam (Khama) geskenk toe hulle in sy land aangekom het. In die woestyn is ongeveer 3600 mense van dors dood. Geen enkele oumens het deurgekom nie, en baie weinig kinders. Al wat behoue gebly het, was jong, sterk manne en vroue so tussen die agtien en veertig jaar. Nooit het die Natuur haar uitsoekkrag op 'n ras duideliker getoon nie. Hul ellende het byna van die wegtrek af begin. In teenstelling met die gunstige rapporte het dit geblyk dat daar geen gras was nie; so te sê geen water nie, en die karkoere skaars, groen en bitter. Van die derde dag dat hulle die woestyn ingegaan het, het die vee begin vrek; en om dinge nog erger te maak, was daar onder hulle gedurige gerugte dat die Duitsers agternakom.Ga naar eind3. Al die naaste bekende waters is deur duisende vee tegelyk toegestorm en tot modder vertrap voordat 'n enkele een sy dors kon les. Binne veertien dae het | |
[pagina 344]
| |
hulle die laaste waens verlaat - sewehonderd in getal. Alles wat vervoerbaar was, is in dra-bondels opgemaak, en almal - van die grootste tot die kleinste - moes help dra. By dié geleentheid is 'n ernstige poging deur Samuel gemaak om orde en reëling op die trek te stel. 'n Voorhoede is 'n paar uur vooruitgestuur om die rigting aan te gee. Die kaptein was natuurlik op die voorpunt. 'n Agterhoede is ook gevorm onder die skoolmeester Julius om toe te sien dat geen swakkes agtergelaat word nie. Op die vleuels het elke dag patrollies uitgegaan om karkoere te soek, wat as 'n gemene skat onder almal moes verdeel word. Vyf koeie en een perd van die kaptein is saamgeneem om miskien in die uiterste nood te voorsien. Dit het natuurlik baie karkoere gekos om die diere aan lewe te hou, maar dit was met toestemming van die gehele trek dat daartoe besluit is. Soveel vleis as kon gedra word, is in biltong gemaak en verdeel. Maar ongelukkig het dit spoedig onmoontlik gelyk om die goeie orde aanhoudend te handhaaf. Binne 'n week of twee was die trek so uitgerek dat die agterhoede eers drie dae later aankom by die wegtrekplek van die voorhoede. En daarmee was natuurlik ook alle sprake van gelyke verdeling van karkoere en vleis op 'n end. Van uiterste selfsug het daar in die begin weinig voorbeelde voorgekom, so beweer Julius - inteendeel, daar was honderde gevalle van die grootste selfopoffering en onselfsugtigheid. Die eerste wat uitgeval het, was die oumense. Byna elke dag is die agterhoede by klompies van hulle verby, wat gewoonlik onder die koelte van 'n doringboom bly lê en besluit het om daar saam te sterwe. As daar kans was, het Julius in die begin dit 'n reël gemaak om by sulkes aan te gaan, 'n gebed te doen en hul laaste groete aan familie en bekendes te ontvang. Waar een of ander oumens in die son flou geval het, is dié tot by die nek in die sand begrawe. Daar is naamlik vasgestel dat dit die ergste lyding van die laaste ure versag. Later, by 'n verergering van hul algemene toestand, het dit 'n gewoonte geword vir moeders om hul klein kinders op dié wyse onder die skaduwee van 'n boom in die sand te begrawe gedurende die grootste hitte van die dag. ‘Die moeders met suigelinge het die swaarste gely toe ons die diepste van die Dors ingaan. Baie, baie min moeders wat babas in die woestyn had, het deurgekom, en die babas kan 'n mens vandag op die vingers tel,’ sê Julius. En die ongelukkige moeders met meer as een klein kindjie had 'n nog swaarder las. Dikwels het hy moeders 'n reis drie maal heen en weer sien doen om haar drie klein kindertjies beurtelings aan te dra! En vroeër of later het al dié ongelukkiges tot die sekerheid geraak dat een of twee moes opgeoffer word om ten minste een te red. Baie moeders het die moed gehad om hulle kinders dood te maak en te begrawe in plaas van hulle aan 'n vreeslike lyding bloot te stel. Sowel Samuel as Julius het dié handelwyse goedgekeur. Ongelukkig is dit in die | |
[pagina 345]
| |
meeste gevalle te lank uitgestel, sodat die moeders gewoonlik kort daarop self ook beswyk het. Een jong vrou is my as 'n heldin voorgestel - Maria. Haar eerste kind is in die begin van die Vlug in die woestyn gebore. Later het sy 'n groot badskottel in 'n slee verander deur 'n stuk rou beesvel oor die boom te span. Daarin het sy haar kind tot by Gam gesleep! Altwee - die badskottel en die kind, 'n vet, vrolike dogtertjie - is my deur die moeder met groot trots getoon. Haar geval het die verteller toe herinner aan nog 'n ander bewys van die opoffering binne bereik van hierdie heidense moederliefde. Dit is begryplik dat natuurlike voedsel vir die suigelinge ook eindelik makeer het. Gedurig hongerlydende en tot die mins moontlike vogtigheid beperk, het die liggaam van die sterkste vroue eindelik in so 'n toestand geraak dat die borste nie langer genoeg melk afgeskei het om 'n kind aan die lewe te hou nie. Die meeste suigelinge is dus aan die honger dood voordat die moeders self beswyk het. Maar daar was moeders wat op die denkbeeld gekom het om nou en dan 'n wond in die bors te maak en op dié wyse hul babatjies te drinke te gee. Maria was een van hulle; en 'n dame van ons geselskap aan wie die borste getoon is, het ons die versekering gegee dat altwee borste van die jong swart vrou met die littekens van wonde gemerk is. Op dié wyse het Maria haar eersgeborene gered. ‘Ek het baiemaal die een grootmens die ander sien abba,’ vertel Julius verder. ‘'n Dogter haar ou vader; 'n man sy siek of swak vrou; en baiemaal het 'n vreemde self een of ander sieke jammer gekry toe hy agtergelaat is, en hom dae lank geabba.’ In die middel van die ‘Groot Dors’ is deur die voorhoede halt gehou totdat die hele trek weer vir die eerste maal op een klomp bymekaar was. Oorsaak hiervan was die ontmoeting met drie woestyn-Boesmans (Masarwa) met eierdoppe water. Hulle het aan Samuel voorgestel om die waterbron aan te wys teen betaling van die drie koeie wat nog aan die lewe was. Hierin is deur die hele trek toegestem; en die Boesmans is toe voort om hul ‘familie’ bymekaar te roep. Teen die aand was daar 'n stuk of vyftien van hulle bymekaar, en een van die koeie is dadelik geslag - dit was hul voorwaarde. Die hele nag is feesgevier deur die ‘ongedierte’, soos Samuel hulle noem. Die volgende dag het almal verdwyn, nieteenstaande die wag wat oor hulle gestel is.Ga naar eind4. Al wat die ongelukkige Damaras van hulle waterhandel had, was die oorblyfsels van die geslagte koei en die twee lewendiges, wat die Masarwa agtergelaat het. Daar is toe besluit om dié twee ook maar te slag en die vleis te verdeel. Die honger het reeds net so hoog as die dors gestyg. Maar die Masarwa het hulle ten minste een twyfelagtige diens bewys. Hulle het met waarheid die toestand van die woestyn wat nog voorlê, beskrywe, die beste en naaste pad na die ‘Engelse lyn’ en die eerste groot water aangedui. Twyfelagtig was die diens, omdat die invloed daarvan op die trekkers as 'n ge- | |
[pagina 346]
| |
menebes allesbehalwe heilsaam was. Meer as ooit tevore het sauve qui peut - elkeen vir homself - die leuse geword! Onder byna elke boom of klompie los geboomte was daar mense wat ingegee en besluit het om saam die dood in te wag. Daar was geen spore van gesamentlike afskeid meer nie. Elkeen voer sy eie stryd; en elkeen skyn tot die oortuiging te gekom het dat pogings om ander te red, tog nutteloos was. Almal het lank reeds die tekens van die uiterste wanhoop leer ken. As 'n man neersak onder 'n boom, was niemand meer gereed om hom te probeer aanhelp met dade of aan te moedig met woorde nie. En selfs in hierdie diepste foltering was daar tog nog gevalle van onselfsugtigheid en mensliewendheid van 'n hoë graad. By een geleentheid hoor Julius sy naam roep onderwyl hy verby 'n bossie deur die sand aansukkel. Dit was 'n ou getroude paar wat hy tuis geken het. Hulle het besluit om hier saam te sterwe. Die man was nog sterk en het 'n goeie kans gehad om deur te kom. ‘Maar hy was 'n Christen; het maar een vrou gehad en het besluit om haar in die dood nie te verlaat nie.’ Deur Julius doen hulle die laaste groete aan hul kinders voor in die trek en verdeel selfs hul bondeltjies onder hulle - soveel as Julius kon saamdra. Dae lank was daar 'n blou rand in die verte voor hulle sigbaar, soms deur 'n stofsluier bedek; dan weer helder en skitterend en so naby dat hulle die klippe amper kon sien; dan weer pragtig in 'n skynwater gespieël - maar altyd bly dit ewe ver! Vir die wanhopige siele het die blou rand eindelik 'n spookagtigheid geword wat die spot dryf met hul uiterste worsteling. Dit was 'n daaglikse en grimmige uitdaging, en die sielkundige uitwerking op die gees van die ongelukkige trekkers was uiters ongunstig. Niks het agterweë gebly om die vreeslikheid van hul toestand te voltooi nie. Die mare van die groot buit het tot die uiterste dele van die woestyn uitgegaan en van heinde en ver het weldra elke metgesel van die dood op hul spoor vergaar. Bo in die meedoënlose hemel draai die aasvoëls van smôrens vroeg tot saans laat oor hulle heen, om snags op die bosse om hul slaapplek in groot geboggelde gedaantes die wag te hou, versadig van hul afgryslike voedsel van die dag en wagtende op die sekere skatpligtigheid van die môre. En wanneer die nag genadiglik op die koorsagtige aarde neersak, is die stilte ontheilig deur die waansinnige gejubel en gelag van wolwe en jakkalse wat in staat was om in die mees waterlose streke agter hulle aan te trek. En om hul ellende nog te vererger, was daar gedurig gerugte só vreeslik dat hulle net gefluister is van die een aan die ander, dat daar gevalle was waar die mens self sy honger versadig het met 'n spys wat deur moord verskaf is en die lewenswyse van die wolwe en aasvoëls aangeneem het! Eindelik moes Julius self ook ondervind wat dit beteken om in die woestyn die dood in die oë te staar. | |
[pagina 347]
| |
Een bittere dag, met die blou rand nog op die gesigseinder, voel hy skielik hoe al sy liggaamskragte hom begewe. Dadelik draai hy uit en gaan onder die yl koelte van 'n bossie lê. Aan een of twee van sy maats het hy 'n boodskap en sy laaste groete aan die kaptein toevertrou. In verband met hierdie voorval is weer 'n bewys gelewer dat daar tog iets besonders in hierdie volk steek. Julius was 'n voorman van die Christene in Damaraland; die kaptein was nie alleen 'n ongelowige nie, maar selfs 'n aktiewe teenstander van die sendelinge en die nuwe leer. Hy had rede om Julius as 'n politieke teenstander en vyand te beskou. Maar nou, in die groot nood, toe die berig hom die volgende dag bereik dat die skoolmeester ingegee het, stuur hy dadelik een van sy bediendes terug met die perd, wat nog altyd met karkoere aan die lewe gehou is, en sy laaste botteltjie water. Hy het geweier om een tree verder te gaan voordat Julius bygekom het, en van dié tyd is hulle nooit weer van mekaar geskei nie. Die hoop leef lank en sterf swaar in die mens, maar Julius en Samuel betuig altwee dat daar 'n dag aangebreek het toe die hoop by hulle heeltemal doodgegaan het. Julius kon nie meer loop nie: hy moes op die perd ry. Hulle sleep nog aan deur die sand eenvoudig omdat dit 'n gewoonte geword het. Hulle was nou in 'n streek waar karkoere min was, en elke oomblik verwag hulle dat die perd sou neersak. Die laaste dag het hulle van sonop tot sonsondergang skaars duisend tree gereis! Die voete en bene van almal was dik opgeswel, sonder vel, en bloeiende; die lippe en tonge so gebars en geswel dat dit 'n foltering was om 'n stukkie karkoer in te kry. Meer as twee maande lank het hulle geen water gesien nie. Voor hulle lê 'n wyd uitgestrekte skynwater waarin die spitse van die blou rand helder gespieël het; die son is reg bo, en sy strale skiet soos vuurpyle op hulle neer. Daar is 'n doodse stilte om hulle heen, verbreek alleen deur 'n sagte, eentonige gekerm wat onophoudelik opstyg van die geteisterde trekkers: almal bid God gedurig om 'n spoedige dood. Julius, bo-op die perd, sien eerste 'n swart beweging in die lugspieëling voor hom. Wat is dit? Wild? Nee; selfs die wild vermy die vuurkolk in die Middel-Dors! Almal staan stil. Skielik hoor hulle stemme - mensestemme wat hulle toeroep! Tevergeefs trag hulle om te antwoord. Die verbrande lippe en gebarste tonge kan geen ander geluid as 'n hese fluistering maak nie. En dan, vlak voor hulle, verskyn mense - volk te voet en op pakosse, belaai met kanne water en sakkies graan; volk wat hulle medelydend toeroep en met verwondering aanskou, die reuse uit die ander hoek van die vasteland. En watter skouspel moet dit gewees het! Slepende geraamtes in flenters geklee, alreeds binne die skaduwee van die dood! | |
[pagina 348]
| |
Dit is Bamangwato's, volk van die opperhoof Gam (Khama), deur hul kaptein uitgestuur om die trekkers tegemoet te gaan. Lank reeds het hy deur die draadlose telegrafie van die woestyn van hul vlug gehoor. Sy Masarwas het hom op die hoogte gehou van die koers, en maande lank al was hy hulle te wagte gewees. By die naaste water het hy slagvee en graan vir hulle gereed gehou, en die klein patrollie is uitgestuur om hulle reg te lei. Die Herero's vergaar om hulle met uitgestrekte hande en smeekgebede; moeders toon die kindergeraamtes in hul arms. Maar hierdie mense ken die woestyn! Die water word in halfbekersvol aan die swakstes eers uitgedeel. In gevalle waar die dood naby is, word dit drupsgewyse toegedien. Die voorman gee aan Samuel te kenne dat hy gekom het om hulle na die water te lei. Laat dié middag het hulle by die water aangekom. Dit was die gewone putkuile met doringtakke toegeslaan. En hier moes die ongelukkige Herero's 'n laaste ellende deurgaan. Die Bamangwato's het vroegtydig 'n sterk wag oor die water gestel; en aan die trekkers is dit op die gewone wyse in klein bietjies uitgedeel. Lang ondervinding het hulle geleer dat om gou en baie water aan 'n dorslydende te gee, uiters gevaarlik was; gewoonlik het dit die dood as gevolg. Laat die aand kom die ongelukkige Herero's nog op 'n streep aan, en dikwels moes hulle met geweld teëgehou word. En toe breek dit skielik af: dit lyk of daar nie meer dié nag sou aankom nie; en die Bamangwato's maak klaar om vroeg die volgende môre groot reddingspatrollies die woestyn in te stuur. Almal gaan by die vure slaap. Later het geblyk dat die agterhoede, onder wie die swakstes was, aangespoor deur die byna ongelooflike lyding en die berig van die water, die hele nag deur aangesukkel het. Voordag het hulle byna gelyk in een klomp by die kuile aangekom. Die wag was aan die slaap; die vure dood. Almal storm ongehinderd na die water; en toe die Bamangwato's dit gewaarword, was dit reeds te laat. Toe die son opkom, lê by die tweehonderd om en in die kuile dood. Maar dit was die laaste skatting deur die woestyn op die ongelukkiges gelê. Die lyding van die oorlewendes was gou verby. Van die milddadigheid van die arme Gam kon hulle nie genoeg vertel nie. Nie alleen het hy hulle onmiddellik van kos en klere voorsien nie, maar hy het selfs aanteelvee onder hulle uitgedeel; en daarmee is later 'n begin in Waterberg gemaak. Indien hulle met opset 'n plek gesoek had wat elke herinnering aan die woestyn uit die geheue sou laat verdwyn, dan kon hulle seker nooit 'n beter een vir dié doel gekry het as die plaas aan Palala nie. Vlak voor die stat lê die pragtige seekoegat van Nagwag, blou soos 'n saffier, met die bome en opgestapelde rotse helder in die stil dieptes gespieël - 'n simbool van die eensame vrede wat die | |
[pagina 349]
| |
wêreld hier regeer; elke boom, elke gewas is 'n teken en bewys van weelderige vrugbaarheid. Hier het die Damaras weer hul eienaardige hutte gebou en spoedig weer 'n taamlike trop vee bymekaargemaak. Hulle had eers groot moeite met die gesaaide; kafferkoring en manna is die gesaaide wat hier die beste aard; en van hierdie graansoorte het die Herero's geen vorige ondervinding gehad nie. Maar hulle het gou van hul swart bure geleer. 'n Ander bron van teëspoed in die begin was die feit dat daar 'n aantreklike suipplek naby die stat in die seekoegat was. En hier vergaar in die winter al die krokodille wat die Palala in die somer van oog tot mond gevaarlik maak. Dit is byna onmoontlik om die kleinvee en kalwers van die ongeluksgat weg te hou; en 'n groot getal het op dié wyse verlore gegaan.Ga naar eind5. Onderwyl hulle nog in die stat aan Palala gewoon het, was 'n besoek 'n aangename verrassing vir die blanke reisiger. Hulle is 'n volk wat dadelik 'n baie gunstiger indruk maak op 'n mens as ons eie swartmense. Om bv. na die skoolmeester Julius te luister onderwyl hy op sy kalm en bedaarde manier die storie van die groot ramp verhaal, was 'n ondervinding wat die besoeker nie sou te wagte wees nie. Vandat hulle by Gam aangekom het, is deur Julius ‘behoorlik boekgehou’ van die stam - in 'n sakboekie met potlood! Ongelukkig was dit onmoontlik om 'n dagboek deur die woestyn self te hou. Hy sê: ‘Wie kan aan boek skrywe dink solank mens so ly?’ Intussen word ons die wonderlikste stories vertel en dinge gewys wat gered en deur die woestyn gedra is. So bv. is die Damaravroue baie gesteld op hul gestyfde en gestrykte tabberds en voorskote. In hul eie land had elkeen 'n naaimasjien en gewone strykysters, en ongelooflik as dit mag klink, het meer as een haar masjien op die kop deur die woestyn gedra, met 'n strykyster op elke heup vasgebind! In hul gedrag is hulle merkwaardig anders as ons swartmense. 'n Sekere statige hoflikheid is miskien 'n aangebore eienskap wat goed pas by hul hoë statuur, en die snaakse Afrikaans-Hooghollands wat die meeste praat; daar is ook 'n kalmheid, 'n filosofiese terughoudendheid wat 'n mens miskien te wagte sou wees by 'n volk wat nog binne die skaduwee staan van so 'n vreeslike ondervinding. Die stat is in twee verdeel; een kraal is bewoon deur die Christene, die ander deur kaptein Samuel en sy ‘heidense’ volgelinge. Almal het hom egter as kaptein erken. In hul eie land had hulle die gewoonte om 'n ‘heilige vuur’ aan brand te hou wat nooit toegelaat is om dood te gaan nie. Ek meen dat elke opperhoof so 'n vuur had, en dat daar ook 'n sentrale vuur vir die hele volk was. Op Nagwag het Samuel sy koningsvuur ten tyde van ons besoek aan die brand gehad. | |
[pagina 350]
| |
Hul kleredrag was ook eienaardig. Die mans was in gewone hedendaagse Boereklere, gewoonlik dik aaneengelap - dikwels só opmekaar dat die oorspronklike stof onherkenbaar was, maar netjies en skoon. Die vroue dra 'n rok en lyfie presies nes die ouderwetse drag van ons eie mense. Die kopdoeke, egter, is heeltemal anders as enigiets van dié aard in Suid-Afrika. Soos 'n Asiatiese tulband word dit in stapels opgerol tot 'n hoogte van ses of sewe duim bo op die kop. Ook by die vroue is die klere uiters skoon en netjies. 'n Ander eienaardigheid wat dadelik die aandag trek, is dat die vroue alleen met die melkery en derhalwe met die koeie omgaan. Geen koei word ooit aan 'n paal vasgemaak of gespan nie. Met 'n klein hokstokkie in die hand word die koei en kalf tegelyk deur 'n jong vrou geregeer. Om 'n vrou op dié manier 'n wys Afrikanerkoei met haar eerste kalf te sien tem, is iets wat elke beeskenner sal bewonder. ‘Om te melk is vrouewerk en benede die waardigheid van 'n man - dit was altyd so onder ons nasie gewees,’ vertel die kaptein ons. |
|