Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1274]
| |
Aantekeninge deur die redakteur:1. Die Woestynvlug van die Herero'sEerste verskyning Die Brandwag, Maart 1921. p. 342a (eerste reëls): Hierdie woorde is in 1921 geskryf, slegs sewentien jaar ná die gebeurtenis wat beskryf word, en 'n paar jaar ná Marais die oorlewendes van die woestynvlug op 'n plaas in die Waterberg ontmoet het. In 'n tyd toe sterfgevalle onder swartes vir die meeste Suid-Afrikaanse blankes onbelangrik was (in mynrampe is bv. net blanke ongevalle beklemtoon), getuig dit van ongewone deernis vir anderskleuriges. p. 343a en b: Marais haal Gustav Frenssen aan: Die veertigduisend Herero's omvat ‘dié wat gesneuwel het in die een klein slaggie wat hulle gelewer het en die veel groter getal wat van dors dood is (in die woestyn)’. Elders sê Marais dat ongeveer 3 600 mense in die woestyn van dors dood is. Die twee stellings is erg teenstrydig, maar die totaal lyk nie oordrewe nie. Die ‘klein slaggie’ was die bloedige slagting van Waterberg. Voor hierdie slag, skryf Doc Immelman in Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne (Rubicon-Pers, 1984), was daar 80 000 Herero's; teen die einde van 1904 was daar 20 000, hoofsaaklik vroue en kinders, van wie 12 000 in konsentrasiekampe geplaas is. p. 343b: Die ‘opperhoof’ of ‘kaptein’ Samuel na wie Marais verwys, was Samuel Maharero (1856-1923). In Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne skryf Doc Immelman oor hom (p. 60): ‘Samuel Maharero het groot stukke Herero-stamgrond verkoop om homself te verryk. Hy het sy vyande, die Duitsers, om hulp gevra teen sy eie mense. Hy het op die jurie gedien wat twee groot Herero-hoofmanne tot die dood veroordeel het. Hy het die tradisionele Hererogeloof aanvaar en 'n Christen geword - maar 'n slegte Christen wat deur sy kerk onder sensuur geplaas is ... en tog, toe sy volk dit van hom vereis, het Samuel Maharero geantwoord op hul roepstem. Hy het 'n waaragtige leier van sy mense geword in elke opsig. Hy was slim en dapper en het die Herero-nasie sterker gemaak as enige ander opperhoof. Maar hy het ook sy volk [deur sy onvergeeflike foute] tot hul tragiese ondergang gelei.’ | |
2. ModjajeEerste verskyning Die Volkstem, 4, 5, 7 en 8 Maart 1921. p. 357c: ‘Hoe durf jy die koning sien?’ Waarom Modjaje hier ‘koning’ genoem word en nie ‘koningin’ nie, is onduidelik. p. 358b: In 1892 streng gesproke nog De Volksstem. | |
3. Die Laaste Mapela-moordEerste verskyning Die Volkstem, 6 en 7 April 1921. | |
[pagina 1275]
| |
4. Twee Dapper AfrikanermeisiesEerste verskyning Die Boerevrou, Maart en April 1921. Sover bekend, is die verhale van Annie Lotrie en Racheltjie de Beer hier vir die eerste keer opgeteken. p. 371b: In een van die verskeie lang onderhoude wat die redakteur met Eugène Charles Marais, Marais se seun, gevoer het, het die seun hom 'n indruk van Marais se houding jeens nie-blankes probeer gee. ‘Hy was miskien eintlik,’ het die woorde aarselend gekom, ‘wat sommige mense 'n Kafferboetie noem.’ Hierdie openhartige stelling, wat die skrywer nog altyd met die nodige eerbied behandel het, gee inderdaad 'n taamlik noukeurige beeld van Marais se houding teenoor anderskleuriges, wat - soos reeds vermeld - heeltemal afgewyk het van dié van sy tydgenote. Nietemin kon ook hy soms in rassisme verval. Die eerste sin in die derde paragraaf op hierdie bladsy het oorspronklik gelui: ‘En toe - op die ou gewone Kaffermanier - oorlê Mokoetsjanie ...’ | |
5. 'n Klein Kerkops en Sy WerkEerste verskyning Die Boerevrou, November 1920. Marais se gewone houding teenoor anderskleuriges, hoewel ook weer met realisme getemper, blyk eweneens uit hierdie artikel. Ek vermoed dat ‘kerkops’ in die mitologie 'n ystersmid was, maar kon dit nie in die beskikbare naslaanwerke bevestig nie. p. 381c: Die verwysing na ‘'n Hebreeuse meneer’ sou vandag as onaanvaarbaar anti-Semities beskou word as dit in druk moes verskyn (net soos die spotprenttekenaar D.C. Boonzaier se glibberige rykaard, Hoggenheimer, as anti-Semities aangeval sou word). Die moderne mode hang in die eerste plek saam met 'n groter verdraagsaamheid, 'n groter versigtigheid, in verband met die manier waarop van ander groepe gepraat word. Daarby het die Duitse uitwissingsbeleid van Wêreldoorlog II - al was hulle geensins die enigste slagoffers nie - ten opsigte van Jode 'n spesiale sensitiwiteit gekweek wat voor die oorlog totaal afwesig was. Marais het in die vorige eeu as redakteur van Land en Volk om politieke redes teen Paul Kruger se begunstiging van die Jode te velde getrek, maar niemand kan uit sy versamelde werke aflei dat hy anti-Semities was nie. Sy verwysings na Jode is meestal meer goedig as kwaadwillig. | |
6. Skaduwee van 'n MisdaadHierdie artikel is blykbaar oorspronklik vir die Star geskryf, waarin dit in Februarie 1927 verskyn het as ‘The Burgher Who Would Not Be Taken Alive’. Vermoedelik was Marais se vriend Paver toe reeds redakteur. In die Versamelde Werke is geskrifte deurgaans in hul oorspronklike taal geplaas. Die hele boek was egter al in bladsye opgemaak toe hierdie uitsondering opgemerk is, en dit was toe te laat om dit nog te verander. Die Afrikaanse vertaling is gelukkig goed. | |
7. Die Brief van NooitgedachtEerste verskyning Die Boerevrou, Desember 1919. Eugène Marais se seun het ‘Die Brief van Nooitgedacht’ en die volgende stuk, ‘Die Mielies van Nooitgedacht’, teenoor my aangehaal as geskrifte wat 'n uitstekende beeld van die lewe in die Waterberg in die vroeë jare van hierdie eeu bied. Oom Hans van Heerden is waarskynlik nader aan oom Gys van Rooyen van Rietfontein as aan Andries van Heerden van Swaershoek, wat blykbaar 'n meer opgevoede man was. p. 398b: Doringhoek/Doornhoek was 'n bekende plaas in die omgewing toe Marais in die Waterberg gewoon het (dit was trouens die toneel van sy vernaamste bobbejaannavorsing); Kromdraai is vermoedelik 'n effense verdoeseling van Kromkloof, 'n aangrensende plaas. | |
8. Die Mielies van NooitgedachtEerste verskyning Die Boerevrou, Mei 1920. p. 402a (voorlaaste reël, eerste paragraaf): Die betekenis van ‘seroete’ in dié sin kon nie nagespoor word nie. | |
[pagina 1276]
| |
9. 'n VoëlparadysEerste verskyning Die Boerevrou, Desember 1920. p. 404c (laaste paragraaf e.v.): Die vraag of hierdie ‘Oom Dirk’ 'n werklike persoon was, word taamlik uitvoerig in Die Groot Verlange bespreek (p. 231 e.v.). In die kortverhaal ‘Diep Rivier’ (p. 700 van hierdie versameling) verskyn 'n vergelykbare ou natuurkenner onder die naam Dirk Brink. Ook hy was ‘woonagtig op 'n eensame en afgeleë plasie diep in die berge’ (p. 712), ook hy het allerlei velddiere mak gemaak. | |
10. Verdwaal!Eerste verskyning Die Brandwag, Junie 1921. p. 413a: ‘Hier volg tans 'n geskiedenis ...’ Hierdie verhaal kom verskeie male in Marais se geskrifte voor. Een van die vertellings, ‘Merkwaardige Verhaal van 'n Verlore Seun’, is derhalwe uit die versameling weggelaat. p. 415a: By die publikasie van hierdie versameling, meer as sestig jaar later, soek die Amerikaners al weer oerdiere in Midde-Afrika! | |
11. Weggeraakte MenseEerste verskyning Die Brandwag, Januarie 1921. | |
12. By die Mond van die SaveDié knap artikel het meermale in tydskrifte verskyn (Die Volkstem, 28 en 30 Mei 1921; Ons Vaderland, 3 en 6 Mei 1927 - toe die eerste verskyning dalk al vergete was! - en weer op 1 en 2 Maart 1929 in Ons Vaderland). Die spelling van die rivier was telkens Sabi of Sabie, wat maklik verwarring met die Transvaalse rivier kon veroorsaak het. Die ekspedisie deur Oos-Afrika waarna die artikel verwys, word volledig in Die Groot Verlange bespreek (p. 139 e.v.), gebaseer op die dagboek van dr. E. Schultz, die ekspedisieleier, en aangevul deur feite uit Marais se artikel. Die deelnemers was 'n Duitser (die dokter); 'n Switser, Zimmermann; en twee Transvalers, Marais en 'n eienaardige karakter, ene Burger. Marais se artikel en dr. Schultz se dagboek weerspreek mekaar in geen belangrike opsig nie. Daar is wel weglatings in Schultz se verslag, soos die pêrelduikekspedisie, waaraan 'n groot deel van Marais se artikel gewy word.
p. 425b: Ek vermoed dat dit Marais was wat al die uitgawes moes betaal. In hierdie stadium het die afvallige lede van die geselskap, Zimmermann en Burger, reeds gedros, vandaar dat Marais slegs na homself en die Duitse dokter verwys. p. 425c: ‘Die twee jong vroue ...’ Nog een van die talle passasies in Marais se geskrifte wat wys hoe onbevooroordeeld hy die swart volke bejeën het. Dr. Schultz, te oordeel na sy dagboek, sou nooit so goedkeurend oor hierdie meisies geskryf het nie. |
|