Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd1. Regte Spoke in die NatuurHierdie gedugte geskrif, wat in twee lang aflewerings in Die Huisgenoot verskyn het (17 en 24 September 1926) is Marais se aanval op J.C. Smuts se konsep van holisme. Die artikel maak dit duidelik dat, wat Marais se politieke oortuiginge ook al was, hy bepaald nie as 'n vriend van die omstrede generaal gereken kon word nie. | |
2. Die LokasieEerste verskyning Die Vaderland, 19 Augustus 1933. Hierdie artikel gee 'n wonderlik kleurige beeld van die ‘lokasie’ van die jare twintig en dertig, toe elke moontlike variasie in een groot konglomeraat saamgegooi is. ‘Oral word gelag en almal lyk “jollie”’, skryf Marais op p. 323 - en as 'n mens die laaste twee paragrawe buite rekening laat, is dit die indruk wat die hele artikel wek. Marais se lokasie was 'n jollie plek - en dis 'n jollie artikel. Dit is kenmerkend van die tydgees dat juis die laaste paragrawe - en ek is glad nie seker dat Marais hulle geskryf het nie - in die tydskrifopskrif uitgebasuin word: ‘Die lokasie: 'n sombere verskynsel in ons samelewing’. p. 321c: ‘'n Gevoel van trots ...’ Hierdie woorde kon net so uit Gustav Preller se mond of pen gekom het, en 'n mens wonder of hulle werklik Marais s'n was en of die een of ander re- | |
[pagina 1273]
| |
dakteur of sub hulle ingeskryf het. 'n Mens moet egter toegee dat Marais nie altyd in sy kleurbeskouing konsekwent was nie. Veral in sy latere jare, toe feitlik niks meer vir hom saak gemaak het behalwe morfine nie, was hy geneig om byna enigiets te sê net om die vrede te bewaar. In 'n berugte saak waarin 'n blanke 'n swartman doodgeslaan het en tot 'n taamlike lang tronkstraf gevonnis is, het Marais - ongelooflik soos dit mag klink - Gustav Preller volmondig gesteun in die lang pennestryd wat hy ná die uitspraak in Die Vaderland daarteen gevoer het. p. 322a (eerste sin, tweede paragraaf): Die eerste ‘Chinees’ in hierdie sin was in die oorspronklike tydskrifartikel ‘Telinies’, wat betekenisloos was. 'n Mens vermoed dat setters en proeflesers Marais dikwels dergelike strepe getrek het deur woorde wat hulle nie kon uitmaak nie, verkeerd te set. Nie naastenby al die spelfoute in Marais se werk kan egter aan setfoute gewyt word nie. Sy spelling was veral onbetroubaar by eiename, want hy het nie oor die naslaanwerke beskik om sulke spellings te kontroleer nie - en tyd om dit in 'n biblioteek te gaan doen, het feitlik altyd ontbreek. | |
3. Geheimenisse van die DroomstaatDie oorspronklike opskrif van hierdie artikel (in Die Vaderland op 9 September 1933) was: ‘Wanneer die onbewuste geheue die bewuste siel genaak - geheimenisse van die droomstaat by die mens’. p. 324b e.v.: Ook hier val Marais Sigmund Freud vreesloos aan. (Vgl. die opmerkings hieroor in die aantekening by p. 33c.) | |
4. Boesmanklippe5. Geheim van die BoesmanklippeMarais het kennelik baie in hierdie tema belang gestel. Die twee artikels het op 10 en 15 Maart 1931 in Ons Vaderland verskyn. Hoewel Boesmanklippe blykens Marais se artikel in die jare dertig redelik volop was, het ek nog nooit in my lewe buite museums een gewaar nie. Hulle het stellig meer in Transvaal voorgekom as in die Kaap. | |
6. Boelala TaylorOp party van die voorvalle in hierdie artikel is die Australiese rolprent Breaker Morant gebaseer. Die meeste resensente het dit baie gunstig ontvang. Die Afrikaners, wat al so dikwels tereg gekritiseer is dat hulle deesdae selfs onverdiende belastering sluk, het die Boerehaat in die prent sonder om te hik of te kik aanvaar. Marais se artikel toon die ander kant van die munt. | |
7. Die Mormone in Suid-AfrikaEerste verskyning Ons Vaderland, 12 Junie 1931. Met hierdie artikel het ek self baie onlangs vir die eerste keer kennis gemaak. Dit was heeltemal 'n verrassing. In die jare ná Wêreldoorlog I is Marais dikwels saam met sy seun en dié se vriende na die dienste van verskillende kerkgenootskappe. Sy kommentaar aan die seun was: ‘They're all looking for a short cut to salvation - and there isn't one.’ Die ‘verskillende groepies ... wat al die reeds ontdekte weë na die hemel klaar en helder aan hul gehore uiteensit’ (p. 335) is fyn spot in dieselfde trant. |
|