| |
'n Paradys van Weleer
'n Paradys van Weleer (Human & Rousseau, 1965) is deur Leon Rousseau saamgestel. Sy voorwoord tot hierdie bundel lui as volg (met bladsyverwysings by die Versamelde Werke aangepas):
‘By die ter perse gaan van hierdie bundel was ek reeds etlike jare besig met navorsing na feite i.v.m. Eugène Marais se lewe, 'n taak wat deur die welwillende hulp van Shell S.A. (Edms) Bpk. moontlik gemaak is. Hoewel die lewensroman waarvoor ek hierdie werk onderneem het, ongelukkig nog onvoltooid is, wil ek die Shell-maatskappy se naam met dank hier noem omdat dié bundel 'n regstreekse uitvloeisel van my biografiese ondersoek was.
Die bundel is saamgestel uit tydskrifartikels wat nog nie tevore in boekvorm verskyn het nie. Dit bestaan uit die vyf hoofstukke van die reeks “Die Siel van die Aap” - 'n interessante maar slegs fragmentariese weergawe van die groot gelyknamige verhandeling waarmee Marais tot kort voor sy dood in 1936 nog besig was - en twaalf ander geskrifte, ook meestal populêr-wetenskaplik van aard, wat terselfdertyd van aansienlike biografiese belang is. Om dié rede is hierdie groep nie streng volgens datum van verskyning gerangskik nie maar min of meer in die volgorde waarin hulle verwysings na tydperke in Marais se eie lewe bevat.
Die titel-geskrif, “'n Paradys van Weleer”, is tekenend vir baie in die bundel: nostalgies, waarskynlik oordrewe (soos die meeste kinderherinneringe pleeg te wees), maar onderhoudend geskryf en biografies interessant - in hierdie geval omdat dit die belangrikste bron is vir inligting oor Eugène Marais se geboortestreek en ook sy latere reis (ca. 1882, toe hy tien was) per ossewa na die Vrystaat om op Boshof skool te gaan - juis die tydperk waaroor die volgende artikel, “Waar die Wêreld Verkeerd om Wentel” (p. 256), heelwat meedeel.
Hierop volg die twee artikels oor slange, “Gevleuelde Dood” en “Die Wêreld se Mees Gevreesde Slang”, waaruit blyk dat Marais reeds in Europa (1897-1902) proewe i.v.m. slange geneem het en waarin baie lig op sy agtjarige verblyf in die Waterberg gewerp word. Anders as wat die meeste mense meen, was hierdie verblyf nie tot sy bobbejaan-navorsing in die Doringhoekgebergte beperk nie, maar het dit korter en langer tydperke van verblyf op verskillende plase in die streek ingesluit. Ook die volgende twee artikels, “Ou Leeu die Oorlogsmuil” en “Op Troue Perd deur 'n Engelse Oormag Heen” verwys veral na die Waterbergse dae.
Ná “Legendariese Diere van Suid-Afrika” volg “Die Verwoestingsgang van Droogte”, waaruit Marais se intense belangstelling in die proses van uitdroging en verdorring duidelik blyk. Die tema kom in geskrifte dwarsdeur sy
| |
| |
lewe voor - van 'n gedig, “There Shall Be No More Sea”, wat hy as vyftienjarige skoolseun in die Paarl geskryf het, deur sy verslag oor droogte in die South African Agricultural Journal (1914), wat selfs in die V.S.A. opslae gemaak het; deur diverse tydskrifartikels tot in die lang, fantastiese verhaal “Die Ondergang van die Tweede Wêreld”. Kort voor sy dood het Marais nog in 'n onderhoud met sy eerste biograaf, F.G.M. du Toit, beken dat die gedagte van droogte hom altyd opgewonde gemaak het.
“Getrou tot die Dood Toe” (p. 287) en “Kan die Voëls vir Ons Droogte en Reën Voorspel?” (p. 298) belig o.m. Marais se lewenslange liefde vir diere. Ná die populêre dagbladartikel “Die Wêreld se Grootste Bome” (p. 290) volg “Insekte se Draadloosseine” (p. 294), wat verband hou met sy bekende teorie oor die uitstuur van onsigbare en ontasbare seine deur die “brein” van die termietnes. Die gebeurtenis waarna hy hier verwys, is van die heel weinige in sy lewe waarvan die tyd en plek noukeurig bekend is. Dit het omstreeks 10 vm. op 16 Desember 1933 op Pelindaba plaasgevind, die plaas van Marais se troue vriend dr. Gustav Preller. Soos feitlik alle artikels uit hierdie tydperk, is dit verbasend helder geskryf - verbasend as 'n mens bedink dat Marais toe reeds lankal ernstig siek was en skaars twee jaar later in wanhoop die hand aan sy eie lewe sou slaan.’
Leon Rousseau
Bostaande voorwoord is nege jaar voor die verskyning van Die Groot Verlange geskryf, en alle feite i.v.m. Marais se lewe was toe nog nie duidelik nie.
Aan die teks van hierdie bundel het ek feitlik niks verander nie omdat 'n ou en vertroude medewerker, E.P. du Plessis, dit destyds (1965) geredigeer het.
| |
Die Siel van die Aap
Hierdie afdeling van 'n Paradys van Weleer het van Desember 1926 tot Augustus 1928 as sesdelige vervolgreeks in Die Huisgenoot verskyn.
| |
1. Euforiese Vergiftiging
Eerste verskyning Die Huisgenoot, 3 en 10 Desember 1926.
p. 215c: Cesare Lombroso (1835-1909) was 'n beroemde Italiaanse psigiater en kriminoloog, veral bekend om sy bevindinge in verband met die sielkunde van die misdadiger. Volgens hom kon 'n misdadige neiging by 'n groot persentasie misdadigers aangebore wees. Dit is onbekend of Marais vertroud was met latere uitgawes van sy werk, waarin hy sy oorspronklike bevindinge aansienlik getemper het.
p. 216a (laaste sin van die eerste paragraaf): Navorsers op die gebied van alkoholisme beweeg versigtig. Daar is byna soveel soorte alkoholisme as wat daar alkoholiste is, word beweer. Nietemin is in 'n artikel in Time in 1983 nuwe bevindinge bekend gemaak waarvolgens, anders as wat Marais hier sê, die eienskappe wat met alkoholisme gepaard gaan, eerder gevolge as oorsake is.
p. 217c: By die publikasie van hierdie boek was die wette teen dwelms, met inbegrip van dagga, in Suid-Afrika reeds buitengewoon streng, en party mense wou hulle nog kwaaier maak. Dit is interessant dat Marais, wat die uitwerking van brandewyn en dagga in die loop van baie jare met groot belangstelling kon waarneem, eg. as veel skadeliker beskou het.
p. 218a: Dit kan wees dat Marais die skreiende tonele wat hy hier beskryf, self aanskou het, moontlik terwyl hy as tienjarige seun per ossewa van Pretoria na sy broer Charles op Boshof onderweg was om daar skool te gaan, moontlik gedurende sy verblyf op Boshof.
p. 218b en c: Marais se teorie in verband met die onderkaak-gaatjies in plaas van knoppies by die Boesman hou regstreeks verband met sy opgrawings van inboorlinggrafte op die plaas Steenkampskraal naby Heidelberg, waar hy omstreeks 1925 'n onttrekkingsbehandeling ondergaan het. Louis Meyer, een van die jong mans wat op die plaas 'n ogie oor hom moes hou, vertel: ‘Hy wou net Boesmankoppe hê. Dan vat hy 'n kop en kyk daarna en gooi dit weg - “Ag nee, dis 'n Kaffer”.’
| |
| |
p. 219c e.v.: Dit is nie aan my bekend of die navorsing van byna sestig jaar Marais se basiese bevinding, nl. dat die bobbejaan euforiese vergiftiging verwelkom en laer soogdierspesies dit verwerp, weerlê kon word nie. In onlangse navorsing is katte van alkohol afhanklik gemaak, maar eers nadat hulle op allerlei vernuftige (mens wil byna sê diaboliese) maniere geestelik ontwrig is. Dit sou strook met Marais se teorie dat die primate geneig is om hulle tot alkohol en dwelms te wend omdat hulle die ‘bestaanspyn’ meer gekonsentreerd as die laer soogdierspesies ervaar.
| |
2. Hesperiese Neerslagtigheid
Eerste verskyning Die Huisgenoot, 13 Mei 1927.
p. 230a: Hier vind ons as 't ware Marais se hartekreet, sy lewensbeskouing, in enkele paragrawe saamgevat. Die poëtiese teenhanger van hierdie paragrawe is die gedig ‘Die Nag’ op p. 1045 van hierdie versameling.
p. 232a: ‘Deur 'n spieël in'n raaisel,’ lui dit in die Afrikaanse Bybel, wat nog nie verskyn het toe Marais hierdie artikel geskryf het nie.
p. 232: ‘enige foto's’: Die foto-reproduksies wat by die tydskrifartikels verskyn het, was van so 'n swak gehalte dat hulle nie in hierdie uitgawe gereproduseer kon word nie. (Die oorspronklike foto's was lankal verlore.)
p. 235c: As Marais werklik seshonderd aanhalings gehad het wat op die mens se neiging tot hesperiese neerslagtigheid dui, moet hulle van erg ongelyke gehalte gewees het.
| |
3. Die Hipnotiese Toestand
Eerste verskyning Die Huisgenoot, 13 Julie 1928.
p. 237a: Die latere artikel oor ‘menslike kranksinnigheid’ is nooit geskryf nie.
p. 239b: Marais het baie mense geïmponeer met sy vermoë om hoenders, voëls en ander kleiner diere te hipnotiseer, en sy stelling dat ‘enige skoolkind’ dit sonder die inspanning ‘van 'n atoom wilskrag’ kan doen, getuig van heelwat openhartigheid.
p. 240c, laaste reël, sien vorige opmerkings oor foto's.
p. 242b: Hierdie ‘proefnemings met verskeie jong Afrikanermeisies, asook met nieblanke mans en vroue’ word taamlik uitvoerig in Die Groot Verlange behandel.
| |
4. Hipnose by die Mens
Eerste verskyning Die Huisgenoot, 10 Augustus 1928.
p. 246c: In Marais se werk word so dikwels na Jean Martin Charcot (1825-1893) verwys dat 'n mens geneig is om persoonlike beïnvloeding te wil aflei, tot jy besef dat die beroemde neuroloog en psigiater nog voor Marais se aankoms in Europa oorlede is. Die ‘blink en sneldraaiende wiel’ word presies so teruggevind in die ontknoping van Laramie die Wonderwerker (p. 846 e.v. van hierdie uitgawe).
| |
5. Suggestie
Eerste verskyning Die Huisgenoot, 17 Augustus 1928.
| |
Algemeen
6. 'n Paradys van Weleer
Eerste verskyning Die Vaderland, 8 Julie 1933.
Die droogte wat Marais in hierdie artikel beskryf (die volle tydskriftitel was ‘Paradys van weleer verlore in die wreedheid van droogte’), sou byna presies vyftig jaar later (1983) deur 'n nog erger droogte gevolg word.
| |
7. Waar die Wêreld Verkeerd om Wentel
Eerste verskyning Die Vaderland, 1 Desember 1933.
| |
8. Die Wêreld se Mees Gevreesde Slang
Eerste verskyning Die Vaderland, 13 Mei 1933.
| |
9. Gevleuelde Dood
Eerste verskyning Die Vaderland, 5 Augustus 1933.
| |
10. Ou Leeu die Oorlogsmuil
Eerste verskyning Die Vaderland, 12 Augustus 1933.
| |
| |
| |
11. Op Troue Perd
Eerste verskyning, Die Vaderland, 8 Desember 1933.
| |
12. Legendariese Diere van Suid-Afrika
Eerste verskyning, Die Vaderland, 14 Oktober 1933.
| |
13. Die Verwoestingsgang van Droogte
Eerste verskyning Die Vaderland, 25 Februarie 1933.
p. 283c: Reeds in Die Groot Verlange is gewys op die growwe wetenskaplike flater wat Marais hier begaan. Terwyl hy beweer dat Camille Flammarion (1842-1925), wat dus net 'n paar jaar voor die verskyning van die artikel oorlede is, sy voorspelling oor die uitdroog van die aarde op Marais se geskrif gebaseer het, was Flammarion se teorie in werklikheid ouer as 1914 en het Marais reeds in die artikel van 1914 daarna verwys: ‘In Asia and Africa, the two “dry” continents, the disappearance of water annually is so great it seems to justify the prediction of the French astronomer, Flammarion, that within a measurable space of time the human race will find its final eclipse in this course.’
| |
14. Getrou tot die Dood toe
Eerste verskyning Die Vaderland, 23 September 1933.
p. 285a: Ek het die 'Ngami-meer in die jare sestig besoek en kan bevestig dat dit toe weinig meer as 'n groot, half-uitgedroogde pan was; of dit in die afgelope honderd jaar ooit werklik 'n groot meer was, weet ek nie.
| |
15. Die Wêreld se Grootste Bome Staan in S.A.
Eerste verskyning Die Vaderland, 23 Desember 1933.
Die afmetings van bome wat in hierdie artikel genoem word, is erg oordrewe.
| |
16. Insekte se Draadloosseine
Eerste verskyning Die Vaderland, 22 Desember 1933.
| |
17. Kan die Voëls vir Ons Droogte en Reën Voorspel?
Eerste verskyning Die Vaderland, 9 Februarie 1934. |
|