Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 336]
| |
de van die godsdiens verskaf so 'n besoek 'n oefening wat nie geringgeskat moet word nie. Verlede Sondagaand was die eerste besoek ná 'n taamlike lang afwesigheid. Vir 'n tydjie het ek by my ou bekendes die ‘Manchester Brethren’ vertoef. Hulle was nog net soos hulle maande gelede was. Die gemeente bestaan uit sewe (die gelukkige getal!): drie bejaarde dames, een jongerige meisie, twee seuns en die leier en spreker. Laasgenoemde is eweneens 'n taamlik bejaarde man, erg hiperopies, met konvekse lense waaragter sy oë soos die koplampe van 'n motor skitter. Hy is 'n jammerlike swak spreker, met 'n Engelse streekaksent wat weinig Afrikaners en miskien nog minder van sy eie landslui sal verstaan. Niemand luister ooit na hom nie. Die gesigte van die verbygangers draai nooit in sy rigting nie. Al die ou Pleinbesoekers ken hom van ouds. Maar vir hom maak dit geen onderskeid nie. Hy gaan voort met heftige, eentonige gebare en 'n dralende stem wat op die uithoeke van die Plein weerklink. Waarlik 'n stem roepende in die woestyn van ledigheid en inkonsekwensie! Hy ken die enigste weg na die Saligheid, en dit is asof hy jou - desnoods met geweld - wil saamsleep. Maar daar is nooit iemand om beet te pak nie. En moedeloos word? Hy ken die woord eenvoudig nie. Hy gaan aanhou tot hy sterf! En skielik word ek uit die rigting van die spuitfontein 'n stem van ongewone aksent gewaar: ‘I come from the State of Wyoming; my comrade here comes from the State of Idaho.’ En daar vloei 'n lys van name van state in die sagste suidelike Amerikaanse aksent - al die pragtige name met hul sagte klinkers. Dit is asof die man 'n gedig in Italiaans voordra: Nevada, Illinois, Ohio, Arizona, Oklahoma, Alabama! Ek gaan luister - spoedig met gespanne aandag. Die spreker noem 'n verbasende reeks feite wat - vir my altans - alles nuut is. Hy vertel dat hy en sy ‘kameraad’ Mormoonse sendelinge uit Amerika is. Die gemeenskap het sendelinge in elke stad en groterige dorp in Suid-Afrika. Hulle is albei jong mans, hierdie sendelinge, tussen 23 en 25, baie aansienlik, netjies in swart geklee en vreeslik ernstig in wat hulle te vertel het. Dit blyk dat vanaand vir hulle 'n spesiale aand is. Hulle word uit Kaapstad besoek deur die ‘president!’ van die Mormoonse sending in Suid-Afrika, wat reeds teenwoordig is en later die gehoor sal toespreek. Ons word te kenne gegee dat hy 'n beroemde man in die vaderland is - hierdie president. Sy vader is biskop in die Mormoonse kerk en tegelyk president van die vernaamste bank in Salt Lake City. Maar meer bepaald word nadruk gelê - nie op sy godsdiens en sending nie - maar op die feit dat hy 'n intieme vriend en boksmaat was van ... Jack Dempsey! En hy sal ons baie van die wêreldkampioen kan vertel wat ons waarskynlik nog nooit tevore gehoor het nie. Hulle is in een dorpie gebore - hy en Dempsey - het saam opgegroei en saam skoolgegaan, ens. ens. | |
[pagina 337]
| |
Die ander jonge sendeling spreek 'n paar woorde en dan word die president voorgestel. Met 'n grasieuse buiging - die hoed na onder geswaai - en 'n aantreklike glimlag maak hy sy verskyning in die sirkel. Hy besit die soort persoonlikheid wat dadelik die aandag boei. ‘Wat 'n pragtige mansmens,’ fluister 'n dame in my nabyheid; en dit is hy voorwaar. Hy is geklee in 'n ligte grys pak, wat die genie van die snyer onweerspreeklik verkondig. Dié pak klere is nie in Suid-Afrika gemaak nie! Hy is ongeveer ses voet hoog en elke gebaar, elke spierbeweging toon die geoefende atleet en orator. Hy het 'n sterk, tipies Amerikaanse gesig, maar daar is iets opgeruimds, iets skoons in sy voorkoms, wat nie in woorde weergegee kan word nie. 'n Aantrekliker persoonlikheid het ek selde ontmoet ... of selfs gesien. Hy is 'n eersteklas spreker ... met die sagte, skone tongval van die Suidelike state. Hy is ongeveer dertig jaar oud. Hy begin deur 'n verontskuldiging te maak namens die twee jonge sendelinge wat in Pretoria gestasioneer is, en wat hy, volgens die reëls van die genootskap, besoek het om rekenskap te eis van hulle werksaamhede van dag tot dag - ja, van uur tot uur. ‘Julle sal opgemerk het dat hulle nie geleerd is nie. Hulle is boereseuns, weliswaar van ryk ouers, maar hulle het nooit 'n universiteit of kollege besoek nie. Die vader van een is 'n groot skaapboer in Wyoming; die vader van die ander is “veekoning” in Nevada. En nou wil ek julle iets van al ons sendelinge vertel, wat julle nouliks sal glo - tog is dit die reine waarheid. Geeneen van ons ontvang 'n enkele pennie as salaris of as onkoste van die Kerk nie, en ons neem geen pennie van die publiek aan nie. Ons is hier op ons eie onkoste, en elkeen is vir dertig maande ingeboek. Ons doen dit omdat ons 'n boodskap het om oor te dra - 'n evangelie wat ons dit 'n voorreg, 'n eer beskou om aan andere te kan verkondig. Ons ontvang hoegenaamd geen voorbereidende opleiding nie ...’ En dan gaan hy voort om ons alles van die Mormonisme te vertel, alles behalwe dít waaroor almal die nuuskierigste is - die veelwywery! Skielik breek hy af ... ‘Maar ek weet dat julle almal liewer iets van Dempsey sal wil hoor ...’ Hy gaan voort om ons te vertel van sy intimiteit met die wêreldkampioen. Hy en Dempsey was op naburige plase gebore, naby 'n klein dorpie in Colorado. Dempsey het Ierse, Skotse, Joodse en Rooihuid-bloed, en al dié strome - volgens die president - het bygedra tot die skepping van sy kampioenskap. Die Dempsey-familie was eenkeer so verarmd dat spreker se vader hulle elke dag vir 'n geruime tyd van kos moes voorsien. Die Dempseys was natuurlik ook Mormone en die hele gemeenskap was vreeslik trots op die kampioen. In sy noodlottige geveg teen Tunney het spreker Dempsey tot in die kryt vergesel - en hy was ooggetuie van die feit dat Tunney veertien sekondes lank plat op sy rug was! Nietemin erken hy dat die finale uitspraak 'n regverdige was ... dit was maar net ongelukkig, want feitelik het Dempsey gewin. | |
[pagina 338]
| |
As boksmaat van Dempsey moes hy baie geweldige houe van die kampioen verdra. Hy is dikwels uitgeslaan, en het talle kere blou oë opgedoen. En so gaan hy voort. Alles wat hy sê - die eenvoudigste - klink uit sy mond interessant ... Is daar iemand wat 'n vraag wil stel? Hy wil sig in geen godsdienstige argumente wikkel nie, maar as iemand uit werklike belangstelling iets van die Mormonisme wil weet, sal hy trag om die vrae te beantwoord. Ek wag totdat die gehoor uiteen is en dan stel ek my aan die drie Mormone voor. Daar is 'n paar vrae ... Hulle is uiters beleefd en bereidwillig. Die eerste vraag is oor iets wat hulle stelselmatig in hul toesprake verswyg het ... die kwessie van veelwywery. Bestaan dit nog? Is dit 'n leerstelling van die Mormoonse geloof? Ek weet dat dit - sover die publieke bedrywigheid van die kerk aangaan - opgehou het om te bestaan. Maar daar word altyd in Amerika vertel dat dit nog steeds onder 'n dekmantel voortduur. Die president is klaarblyklik huiwerig. Hy kan sien dat hy voor 'n moeilike kwessie te staan gekom het, sê hy met 'n vrolike laggie, maar hy sal alles probeer vertel.’ En dan vertel hy my dinge wat ek weet nie heeltemal waar is nie. So probeer hy te kenne gee dat die veelwywery as noodmiddel aangeneem is nadat die Mormone deur die woestyn getrek het en Utah bereik het. In hul botsings en gevegte met die Rooihuide is so baie mans gedood dat daar 'n oortolligheid van vroue was, waarvoor die kerk verplig was om te sorg. Hulle het die vroue onder die mans verdeel! Brigham Young, die profeet, had sowat twintig - en so het die stelsel posgevat en voortgeduur. ‘Maar in 1890 is veelwyery uit die “tempel” verwerp en enige Mormoon wat hom vandag daaraan skuldig maak, word uit die kerk verban en aan die burgerlike owerheid oorhandig om volgens wet gestraf te word.’ ‘Maar,’ dring ek aan, ‘u moet tog toegee dat julle eerste profeet, Joseph Smith, wat die openbaring en die goue boek van die Engel Meroni in Missouri ontvang het, die veelwywery as 'n grondbeginsel van die nuwe geloof verkondig het? Dat dit dié veelwywery was wat die Mormone so onpopulêr in Missouri gemaak het dat hulle die woestyn moes intrek? Dat ná die Verenigde State sy gesag oor Utah uitgeroep het, die Mormone bittere weerstand teen die afskaffing van veelwywery gebied het? En selfs ná dit van owerheidsweë in die openbaar onderdruk is, het dit nie onder 'n dekmantel voortgeduur nie? Dít alles sal u tog nie wil ontken nie?’ Die sendeling aarsel 'n bietjie. ‘Een van ons geliefde beginsels is om geen leuen te gedoog nie. Ek erken alles wat u gesê het ... maar vandag is die veelwywery, sowel in die openbaar as agteraf, by ons net so dood as by die Presbiteriane! Twee Mormoonse senators is vandag intieme vriende en raadgewers van president Hoover van die Verenigde State.’ | |
[pagina 339]
| |
En dan begin hy Amerikaanse statistieke noem. ‘Die Mormone is die gesondste mense wat vandag op aarde lewe. Ons sterftesyfer is laer as dié van enige ander volk of groep. Ons is hardwerkend en vredeliewend. By die Mormone is werklike armoede so te sê onbekend. Ons maak minder gebruik van publieke liefdadigheidsinrigtings en fondse as enige ander soortgelyke groep in Amerika. Daar is geen groter stadbouers en staatmakers as die Mormone nie. Die stad Salt Lake City en die staat van Utah is onder die rykste stede en state binne die Verenigde State. Growwe misdaad is byna onbekend onder die Mormone. Negentig persent van die Mormone besit wat onder ons bekend is as “die Woord van Wysheid”. Diegene wat daartoe verhewe word, drink geen tee, koffie of sterk drank van enige aard nie, ons rook nie en sit nie speserye in ons kos nie; ons oefen gereeld. Ons word van jongs af geleer dat die vrou vir die man iets heiligs is. Ons bewaar ons liggame rein. Ons berei ons in hierdie lewe vir die opstanding voor. Al ons sendelinge besit “die Woord van Wysheid” en kyk maar na hulle! Hulle is almal mooi kêrels; hulle gee vanself dadelik die indruk van liggaamlike reinheid.’ (Ek stem geredelik toe!) ‘En die evangelie wat ons aan Suid-Afrika oorbring, is net dit: In 1880 het 'n Engel by name Meroni aan 'n boerseun, Joseph Smith, in Missouri verskyn. Hy het hom gelas om op 'n sekere plek te grawe, en daar het Smith 'n goue boek gevind in 'n onleesbare taal geskrywe. Van God het hy op bonatuurlike wyse verstand ontvang om die boek te ontsyfer. Dit is die “Boek van Mormon”, waarin ons glo. Dit is die openbaring van Christus aan die Westelike Halfrond, net soos hy sig voorheen aan die Oostelike geopenbaar het. Ons glo in die Bybel en dat Christus die enigste Saligmaker is, maar ons glo ook aan die Boek van Mormon as 'n beloofde aanvulling tot die Bybel. Die Boek van Mormon is grotendeels 'n geskiedenis van die Israeliete in Noord-Amerika. Dit vertel hoe 'n deel van die tien verlore stamme na Amerika oorgekom het, waar hulle verskeie nasies gestig het. Sommige van hulle het van die ware geloof afvallig geword, en as straf het hulle van gelaatskleur verander. Van hulle kom die Rooihuide. Kyk maar net na 'n Rooihuid as jy van sy Joodse afkoms oortuig wil wees. Dit is die Israeliete wat al die piramides en reuse-geboue in die ontoeganklike woude van Sentraal-Amerika opgerig het. Die ruïnes word nou vir die eerste keer blootgelê en al die geleerdes in Amerika erken vandag dat daar bewys is dat elke woord en tittel van die Boek van Mormon waar is. Joseph Smith was ons eerste profeet; Brigham Young die tweede. En ons weet dat daar binnekort meer sal verskyn ... Het u die Boek van Mormon gelees?’ ‘Ja, nie juis woord vir woord nie, want u sal erken dat dit 'n weinig vervelend is as 'n mens nie daarin glo nie.’ ‘Maar dan sal u tog erken dat geen mens so 'n boek kon geskrywe het nie?’ ‘Wel ... ek is nie op die oomblik bereid om juis so ver te gaan nie ...’ | |
[pagina 340]
| |
Die president keer môre na sy eie arbeidsveld in Kaapstad terug. ‘O ja, ons kry baie bekeerlinge in Suid-Afrika. Daaroor hoef ons nooit te kla nie. God seën ons werk. Een van ons beste sendelinge en prekers is 'n gebore Afrikaner.’ En hy noem die naam. |
|