het hy, toe hy sogenaamd op 'n verkenningstog uit was, die kaptein Maloemetsja doodgeskiet, omdat dié 'n vriend van die Boere was. 'n Ander kaptein, Sepoema, het net maar neutraal gebly, maar in Taylor se oë was dit so 'n gruwel dat hy hom ook om die lewe wou bring. Alleen die voorspraak van 'n Duitser teenoor wie Taylor verpligtinge had, het Sepoema gered. Sy verhouding teenoor die Duitser het Taylor egter nie verhinder om een van die man se handelstasies 'n rukkie daarna te verniel en te verbrand nie.
'n Yskoue, gewetenlose beulskarakter soos Taylor het 'n waardige bondgenoot gevind in Mpefoe, die berugte swart opperhoof van Zoutpansberg. Tesame het hulle geroof en gemoor onder die Boere en onder die lede van Mpefoe se eie stam wat hom nie gevolg het toe hy na die Engelse oorgeloop het nie.
Mpefoe was 'n wrede en valse dwingeland, wat die gereelde gewoonte had om al die indoenas en kraalhoofde wat nie meer na sy sin onderdanig genoeg was nie, met behulp van gif of andersins uit die pad te ruim. Hy het hulle na sy bierpartye uitgenooi, maar as een van die genooides geen lus vir sy bier had nie en by wyse van ekskuus laat weet dat hy siek was of so iets, dan het Mpefoe hom 'n tydjie daarna met een of ander boodskap uitgestuur, waarvan die man nooit teruggekeer het nie. Die opperhoof se beuls het hom langs die pad met 'n hou van 'n kierie onskadelik gemaak.
Om tot Mpefoe se blanke metgesel terug te kom, Taylor se skanddade is nog voor die end van die oorlog deur die Boere ter kennis van die Britse Opperbevelhebber gebring. Lord Kitchener kon, ter wille van Engeland se naam, sulke gruwelike skendinge van alle beskaafde krygsgebruike en volkereg nie ongestraf laat nie. Hy het 'n hele paar offisiere voor 'n krygsraad gedaag.
Taylor het party van die moorde wat hom ten laste gelê is, botweg ontken en die res op die skouers van 'n hoër offisier geskuif, wat al gesneuwel was en dus nie ja of nee kon sê nie.
Twee van sy ondergeskiktes, luit. Morant en 'n ander, was minder handig, sodat hulle ter dood veroordeel en kort voor die vredesluiting in Pretoria deur hul eie krygsmakkers gefusileer is.
Boelala Taylor het homself los gelieg, maar die openbare gevoel teen hom was so sterk dat hy maar liewer van die toneel verdwyn het.