Die enigste manier is om die klippe ongeveer 'n uur in seepwater te laat week. Daarna moet hulle in warm water met seep afgeborsel word. Gebruik gerus 'n gewone skropborsel - maar nie een van draad nie. Die gaatjie moet deeglik met 'n bottelborsel geskuur word. Die ondersoeker moet egter sorg dat geen voorwerp gebruik word wat krappe en merkies op die oppervlak kan maak nie.
'n Ondersoek van slegs een of twee - of selfs 'n halfdosyn - eksemplare kan miskien net misleidend wees. Hoe groter die versameling, des te kan deegliker die vergelykende studie wees. Vergelyk die klippe, daarna waar moontlik met dieselfde soort rots, wat gewone veldverwering en ook nuwe oppervlaktes toon. Dit is die enigste moontlike wyse waarop mens 'n benaderde besef van die klippe se ouderdom kan kry. Hier volg nou die feite wat deur werklike proefneming vasgestel is.
(1) Die klippe is nooit op so 'n wyse gebruik dat die klip om 'n as van hout (of wat ook al) moes draai nie.
(2) Hulle is nooit as hamers of knopkieries (aan 'n stok) gebruik nie.
(3) Hulle is nie gemaak om as 'n gewig aan 'n graafstok te dien nie, en die oorgrote meerderheid kan nie so gebruik word nie.
(4) Hulle is nooit as maalklippe gebruik nie, d.w.s. om graan - of wat ook al - op 'n plat klip fyn te maal. (Dit is een van die Engelse teorieë wat met groot beslistheid voorgedra word.)
(5) Byna elke persoon, of elke huisgesin, moet een of meer gehad het. Hulle is met groot moeite en sorg afgewerk, asof dit 'n werktuig was wat lewenslank diens moes doen.
(6) Hulle is nooit gebruik om met geweld teen iets te stamp nie; ook nie aan die end van 'n tou as 'n soort slingerklip nie. Met 'n gewig van twintig pond kan dit nie gedoen word nie en daar is nie die minste teken van stampmerke aan die oppervlak bespeurbaar nie.
(7) Sommige van die klippe is sonder twyfel duisende jare oud. Die meeste is in alle waarskynlikheid vervaardig lank voor die Boesmans of enige van ons bekende naturellevolke hulle verskyning in Suid-Afrika gemaak het.
Nou wat die nuwe feite betref. Van die heer Killian van Belfast het ons enkele merkwaardige eksemplare ontvang wat grootliks bygedra het tot die oplossing van sommige van die geheime wat die maak van die klippe nog omhul. Daar was veral twee opvallende eksemplare. Een was die platste Boesmanklip in ons versameling, wielvormig, en ongeveer twee duim in deursnee. Die ander eksemplaar was die mooiste in ons versameling. Die ewewig en fatsoen was perfek en kon nouliks in 'n draaibank verbeter word. Hierdie een was lemoenvormig, met 'n gewig van sewentien pond.
Uit hierdie twee klippe het sekere feite van groot belang geblyk. Die plat klip was ontsettend oud. Die verwering was van so 'n aard dat die ouderdom in hon-