4 Boesmanklippe
In die uitgawe van Ons Vaderland van 6 Maart gee mnr. Oliver Harts (Pk. Lagersdrift) 'n oplossing van die geheim van ons alombekende Boesmanklippe - ronde klippe met 'n geboorde gat deur die middel.
Ek erken dat mnr. Harts ongetwyfeld reg is. Die klippe is deur swartmense in verskeie dele van Suid-Afrika ook in ystersmederye as hamers gebesig. Ek het self in Waterberg, jare gelede, 'n swart smid Boesmanklippe in sy bedryf sien gebruik. Hy had 'n reeks van hulle van verskillende groottes en gewigte. Ek het destyds ook gedink dat dit die oplossing van die geheim was; en vir jare daarna het ek, by elke geleentheid as die saak ter sprake kom, hierdie uitleg met die beslistheid van 'n ooggetuie verkondig.
Nadere ondersoek het egter in die loop van jare my opinie verander.
Ek het in Waterberg 'n versameling van die klippe gemaak, waaronder ek twee of drie gehad het so groot as 'n vingerhoed en 'n nartjie onderskeidelik, en andere weer van twintig pond gewig. Die redakteur van Ons Vaderland, dr. Preller, het ook 'n versameling van sowat dertig van die klippe, wat ek geleentheid had om taamlik noukeurig te bestudeer.
Ek is vandag van één ding oortuig: dat geen enkele aanneemlike verklaring vir die doel van die klippe nog aan die hand gedoen is nie. Mej. Bleek en ander Boesmanlandse ondersoekers het die klippe as gewigte vir graafstokke sien gebruik, en het dadelik tot die gevolgtrekking gekom dat dit die enigste doel was waarvoor hulle gemaak is. Dan gebruik die Swazi's hulle as 'n gewig aan die end van 'n tou, sodat hulle maklik dragte gras, riet, ens., kan dra sonder om 'n knoop in die bindtou te maak ... En so is daar nog ses of sewe ander doeleindes waarvoor die klippe deur swart stamme gebruik word. Maar die minste ondersoek is voldoende om enigeen te oortuig dat geeneen van die gebruikswyses die oorspronklike doel van die klippe kan wees nie.
Wat hamers en graafklippe betref - mnr. Harts sal dadelik moet erken, dat (in dr. Preller se versameling byvoorbeeld) daar geen enkele eksemplaar is wat ooit as 'n hamer gebruik is nie. Houmerke sou hierdie gebruik dadelik verraai. 'n Menigte van die klippe is so glad soos glas gepoleer. In ons Staatsmuseum is daar verskeie sulke eksemplare; en ons Staatsbibliotekaris, mnr. Heaton, het een van 'n eienaardige soort klip, so blink soos 'n spieël. En dan die gewig! In die Kaapse Museum is daar eksemplare so groot soos 'n fietswiel en aan die ander kant kleintjies van 'n paar onse! Wat die graafstok-teorie betref, ek het dr. Preller oortuig dat dit onaanneembaar en ontoepaslik was op die eksemplare in sy besit. Daar is verskeie met 'n gewig van negentien pond, terwyl die gaatjie so klein is dat 'n pinkie nie daardeur kan gaan nie. Probeer nou om in harde grond te grawe met 'n gewig van negentien pond aan 'n stokkie dunner as 'n mens se