wustelik op te let. Die onbewuste siel vergeet egter nie, en in die droomstaat het hierdie stukkie ‘onbewuste geheue’ sy bewussyn as 'n droom geraak.
Dan is daar die geval van 'n beroemde Duitse rekenkundige wat een skakel in 'n belangrike sterrekundige probleem nie kon regkry nie. Hier ook was daar uitputting in die poging om 'n moeilike stelling uit te werk. En toe een nag droom hy van die ingewikkelde skakel wat uit 'n reeks syfers bestaan. Toe hy wakker skrik, gryp hy papier en potlood en skryf sy droomsyfers op. Later, toe hy dit met sy ander berekening vergelyk, vind hy tot sy verbasing dat dit reg was. In die droomstaat het hy 'n probleem uitgewerk wat hy in die wakende toestand nie kon doen nie. En so is daar honderde historiese voorbeelde van hierdie sonderlinge ‘droom-hulpvaardigheid’. Soos reeds gesê, is die feit self maklik uitlegbaar; die onderbewussyn vergeet niks wat die wakende sintuie raak nie. Maar die geheimsinnigheid sit in die vraag: waarom? Waarom en in welke omstandighede kom die droomsiel die sukkelende bewuste siel tot hulp?
Hier is ten laaste nog 'n voorbeeld, wat in werklikheid die aanleiding tot hierdie artikel verskaf het: 'n Lid van die personeel van Die Vaderland (wat ek S. sal noem), en skrywer was besig om te gesels oor 'n sekere seremoniefees wat die Maleiers in die Kaap hou en waarin dit gewoonte is om mekaar met sabels te kap, penne en messe deur die vlees te steek, ens. Maar geeneen van ons kon die naam van die seremonie onthou nie. S. had enkele jare gelede nog een bygewoon. Ons het almal binne bereik na die naam gevra - tevergeefs. En die woord was net op die kantjie van onser beide geheue. Dit is juis dit wat die vergeet van 'n woord so lastig maak: jy kan dit net net gewaar word, maar nie heeltemal nie. S. en ek het die hele dag tevergeefs met die ellendige woord gesukkel. En dié nag droom ek 'n lang, ingewikkelde droom, die besonderhede waarvan onnodig is om uiteen te sit. Teen die einde van die droom ontmoet ek 'n ou vriend (lank reeds ter siele) wat in sy lewe resiesperde aangehou het. Ek droom dat hy my 'n storie vertel van 'n groot wedloop waarin een van sy perde 'n mededinger was; en toe, op die kritieke moment, vergeet hy die naam van die perd. Hy het rond gestaan en sy kop gekrap - alles tevergeefs. Eindelik sê hy: ‘Ek ken 'n plan om 'n woord wat jy vergeet, weer te onthou,’ en hy begin sy voorkop teen die muur te stamp. Maar nog kon hy die naam van die perd nie onthou nie. Toe kom hy na my terug, en toe hy naby kom, sien ek 'n blye glimlag op sy gesig - hy het die naam onthou, maar net toe hy sy mond oopmaak om my die naam van die perd te vertel, toe skrik ek wakker! ... En nou kom die wonder van die droom. Net toe ek wakker skrik, en terwyl ek nog onder die atmosfeer van die droom verkeer, sê ek hardop, half onbewus: ‘Ek ken die naam van die perd wat jy my wou vertel het: dit is “Khalifa”.’
Khalifa is die naam van die Maleise seremoniefees wat S. en ek die vorige dag so gesukkel het om te onthou. My onbewuste droomsiel het my gehelp om die lastige woord weer in my geheue terug te kry.