karaktertrekke. Daar is niks wat aan die gewone Kaapse Kleurlinge herinner nie; tog kom daar iets ‘Afrikaans’ in die gelaatstrekke, maar wat dit presies is, ontduik die waarnemer. Harry verduidelik: die een is 'n kruis tussen 'n Jood en 'n Kaapse Kleurlingvrou; die ander is 'n kruis tussen Jood en swartvrou. In hierdie gevalle was daar nooit aanhoudende samelewing gewees nie, soos in die meeste ander gevalle. Die Jood is daar te slim voor. Hy vrees - meer dan hy selfs die wet vrees - die veragting van en uitwerping deur sy rasgenote.
Ek het ook kruise gesien tussen Chinees en blank, tussen Chinees en swart, Chinees en Indiër, Indiër en swart, Indiër en blank, en al dieselfde verdiepings as die Chinees. En dit is feitlik die geval met elke ras in die lokasie.
Ek wonder of daar êrens anders op aarde so 'n versameling binne sulke enge grense gevind kan word. Ek weet altans nie van so iets nie. Hier binne die klein gebied - swart lokasie, Indiërbasaar en Kleurlingbuurt - is die wier uit al die sewe seë van die aarde saamgespoel.
Die kinders spartel uit die weg van die motor soos vissies wat skuiling onder die walle van 'n stroom soek. Harry vertel my dat daar nooit ongelukke in die lokasie voorkom nie (altans wat kinders betref), nieteenstaande die feit dat motors met swart bestuurders roekeloos binne hul eie gebied flankeer. Die rede is dat die kinders in die straat lewe vandat hulle kruip - so vertel Harry. Ek moet erken dat hulle ongelooflik rats is.
'n Mens sou verwag dat die taal van die lokasie net so bont as die inwoners sou wees, maar dit is nie die geval nie. Die taal waarin hierdie veelkleurige menigte met mekaar omgaan - die lingua Franca van die lokasie - is Afrikaans. Dit is die enigste gemeenskaplike taal wat hier gepraat word en dit nieteenstaande die feit dat die meeste van die jongere inwoners meestal vier of vyf tale, behalwe hul eie, kan praat. Hier, byvoorbeeld, is Harry se taallys: Engels (taamlik), Zoeloe, Sesoeto (albei goed), Afrikaans (goed), Gutjerati, Hindoestani, en Tamil (goed) en in Chinees kan hy sig goed verstaanbaar maak.
Ons het hier allerhande wonderlike taal-ontmoetings gehad. Een middeljarige Chinees spreek ons toe in die suiwerste Afrikaans wat ek nog ooit oor die lippe van 'n Oosterkleurling gehoor het. Hy praat Afrikaans sonder die minste teken van 'n aksent - daar was niks van die aksent wat die Chinees in alle vreemde tale wat hy verplig is om aan te leer, kenmerk nie. Ek druk my verbasing uit, en Ah Man vertel my dat hy aan die een of ander Amerikaanse universiteit gepromoveer het in tale. Hy het slegs twaalf jaar ondervinding van Afrikaans, maar hy lees Die Vaderland gereeld, en het verbasend veel Afrikaanse boeke gelees. Uit die gedigte van Visser en uit die prosa van Langenhoven siteer hy lang stukke!
Daar is twee groot bioskoopsale in die lokasie waar prente elke aand vertoon word. Al die vernaamste rolprente is te sien, en die jong geslag in die lokasie - van alle kleure en rasse - bespreek geesdriftig die hoedanighede van hul gelief-