Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 302]
| |
Verspreide Artikelsaant.1 Regte Spoke in die NatuurDaar het onlangs in Suid-Afrika twee geskrifte in druk verskyn wat oor dieselfde onderwerp handel, en wat sulke diepe geheime van die natuur aanraak, dat dit miskien die moeite werd is om altwee aan kritiese beskouing te onderwerp. Die een is 'n enkele paragraaf uit dr. Leipoldt se uiters interessante artikels in Die Huisgenoot, ‘Ons Wilde Voëls’, en die tweede is 'n betoog in Engels deur generaal Smuts, wat verskyn het in 'n Natalse tydskrif, Voorslag, onder die opskrif ‘Beauty in Nature’. Ek behandel hulle in dié volgorde. Die paragraaf van dr. Leipoldt lui soos volg: ‘Die ouderwetse, naïewe veronderstelling dat die wetenskap 'n uitleg moet gee aan wat konvensioneel as “mooi” geag word, is iets wat voëlkenners nie mee gediend is nie. Hulle beskou die kleure van voëls, veral van sulkes soos die merops, waarvan mannetjie en wyfie ewe pragtig uitgedos is, as 'n saak wat iets te doen het met die inwendige klierstelsel van die dier. Dit is nou bewys dat 'n verandering in die kliere van 'n hoender, byvoorbeeld, 'n verandering in die kleur en merke van die vere kan teweegbring. Pragtig gekleurde voëls soos die loerie en die bergswawel maak seker gebruik van die kleur - hoe en op watter manier weet ons nog nie - maar dit is sekerlik nie daar net vir die estetiese “mooiheid” nie.’ Ek dink nie dat dit 'n ware voorstelling van die saak genoem kan word nie. Daar is iets baie meer wonderlik, baie meer geheimsinnig in die bestaan van organiese kleure as wat die geleerde skrywer waarskynlik tyd of geleentheid gehad het om aan te dui. Dit is verkeerd om aan die hand te gee dat die briljante kleure van merops of van die pronkpou waarskynlik te danke is aan die werksaamheid van sekere van die afgeslote kliere. Dit is verkeerd, eenvoudig omdat daar g'n druppel kleursel (behalwe swart en geelbruin) in die gestel van enige voël teenwoordig is nie - behalwe twee in die hele wêreid: een Amerikaanse piesangeter (toerako) en een koekoek (superciliosus). Al die skitterende kleure van die pronkpou, van merops, van ons suikerbekkies, van die loerie, is alles bedrog. Dit is te danke aan 'n slimme klugspel van die natuur - ware spoke wat in werklikheid g'n reg van bestaan in 'n materiële wêreld het nie! Daardie lewende reënboog die Indiese pronkpou is in werklikheid 'n onaan- | |
[pagina 303]
| |
sienlike, dowwe, vaal voël, met te min kleur in sy hele gestel om op die punt van 'n naald te gaan. Dit is belangwekkend om gade te slaan hoe die arme, sukkelende menseverstand deur die eeue heen met dié spook van voëlkleur geworstel het, net soos die tafeldraaiers vandag nog met ander en nog minder tasbare spoke worstel. Ek het eenmaal in my besit gehad 'n Hollandse boek oor natuurwonders wat gedagteken het uit die stormagtige skemering van die vyftiende eeu, toe die kerke alle mag in hande had, siviele sowel as geestelike, en toe die Roomse en Protestantse hiërargieë net op een punt eensgesind was: om wetenskaplike ondersoekers so spoedig moontlik na die brandstapel te rig. My ou wonderboek het gelukkig niks bevat wat die kerke kon gestoor het of die lewe van die skrywer in gevaar kon gebring het nie, eenvoudig omdat dit 'n aaneenskakeling van kinderagtige leuens was. Dit was alleen die waarheid wat lewensgevaarlik was. Die grootste wonder van die wonderboek was dat die skrywer nooit, selfs nie toevallig, 'n enkele waarheid raakgeloop het nie; maar daar was een opstel wat ten minste histories van belang was. Dit het ook op 'n leuen uitgeloop - maar dit was 'n interessante leuen. Die skrywer het vertel hoe die mens altyd na kleure aan soek was - kleure om sy lyf mee te verf, kleure om sy huise mee te versier, kleure om in sy weefstowwe op te neem, en vernaamlik, en veral, kleure vir die kunstenaars om die natuur op die doek weer te gee. En daar was een onuitputbare bron van kleur wat vir duisende jare die vernuf en volharding van die mens getrotseer het: die pragtige, lewende kleure van die gevoëlte - kleure wat in die organiese wêreld geen weerga het nie. Wat sou Tintoretto, Raphael, Rubens, Rembrandt nie gegee het vir die geleentheid om hul kwassies in die kleure van die pronkpou te doop nie? My ou skrywer het vertel hoe alchemiste in al die groot stede van Europa lewenslange arbeid bestee het aan die poging om die kleure van (vernaamlik) die pronkpou vir menslike kuns vaardig te maak. In sy tyd het dit twee alchemiste van Neurenberg geluk. Byna 'n halfeeu het dit hulle geneem voordat hulle al die kleure van die pou afsonderlik in vloeistof opgelos en deur verdamping in steenkleur oorgebring het. Die twee alchemiste (teste my ou skrywer) het onberekenbare skatte uit hul ontdekking verwerf. Maar dit was alles 'n dodelike geheim, en die proses het met die dood van die ontdekkers vir die mens verlore gegaan. Ons lag vandag oor dié storie. Ons weet dat dit ook 'n leuen was. Ons weet dat geen alchemie ooit bestaan het of ooit kan bestaan wat kleur uit 'n pouveer kan vervaardig nie, eenvoudig omdat daar g'n kleur is om mee te begin nie. Maar dié ou storie weerspieël sonder twyfel 'n werklike strewe van die mens deur duisende jare. Die soek na kleur was 'n stryd wat tot in ons tyd voortgeduur het - totdat die alchemie van die Duitse genie uit die donkerste van ons aardstowwe al die tinte van die reënboog, en honderde meer samestellings, vir die kunste diensbaar gemaak het. Voor die ontstaan van die nuwe al- | |
[pagina 304]
| |
chemie was die kleur van voëls 'n spooksel wat die menslike verstand met onvermoeide ywer, en altyd vrugteloos, nagevolg het. Nooit het ondersoekers kennis gemaak met 'n meer ongenaakbare, onaantasbare spook as die kleure van die voëls nie. Soos 'n voetsoekertjie was dit - altyd wenkende, altyd vlugtende. Uiteindelik moes ons ou teologiese alchemis ook moedeloos voor die ondeurgrondelike geheim te staan kom. Sy eindoplossing van die saak was benydenswaardig eenvoudig. Die Here God het Sy ewige gebod daarteen gestel: nooit sal die mens, vir doeleindes van sondige praal en prag, die kleure van sy beroemde skepping besig nie. Die groot Neurenbergse ontdekking was derhalwe 'n ingewing van Satanas waarvoor die twee ontslape alchemiste in die hiernamaals duur sou boet. Ons weet vandag dat watter straf hulle ook al mag verdien het vir die leuen waarvan hulle op aarde gebruik gemaak het, hulle met gerustheid onskuldig sou kon gepleit het op die aanklagte van ‘diefstal van voëlkleure’. Ons kan die wyse waarop die mens van die begin af te werk gegaan het in sy aanhoudende poging om die vlugkleure van die gevoëlte te verower en die tuig aan te doen, vandag rekonstrueer. Die vrugtelose stryd van duisende jare kan ons in die laboratorium in 'n enkele dag deurleef, en met behulp van die opgegaarde ondervinding van al die eeue sal ons in staat wees om uiteindelik die sluier van die geheimnisvolle Isis af te ruk en te ontdek dat agter die sluier daar ... niks is nie! Ons begin soos die mens in sy eerste periode van ontwikkeling sou te werk gegaan het. Toe reeds het die sondige begeerlikhede van die wêreld hom beetgepak. 'n Vurige verlange het in sy donker siel ontstaan om sy harige huid blou te smeer met die nekkleur van die pou. Ons neem die eerste en vernaamste oplossingsmiddel van die natuur, suiwer water. Ons doop enkele van die skitterende blou vere van die pou daarin en ons skud die water. Daar gebeur niks. G'n skyn van kleursel word deur die water opgeneem nie. Die vere bly onveranderd. Ons verseël ons glasbuisie en laat die vere daarin bly vir dae, maande, jare - met dieselfde uitslag. Ons gaan oor tot 'n tweede aanvalstrategie. Ons neem gedistilleerde water en kook die vere daarin. Ons kook vir dae, weke, maande (met gedurige vernuwing van water). Daar gebeur niks. En nou neem ons ons toevlug tot die meer moderne wetenskap. Ons het beter oplossingsmiddels as die primitiewe mens ooit van gedroom het. Ons neem absolute alkohol, eter, suurstowwe, vlugolies; skud en kook die vere daarin - alles tevergeefs. Ons kan op dié wyse g'n druppel kleur uit die vere trek nie. Maar daar is nog een wyse van aanval - en nou moet ons slaag. Ons sal die vere in 'n warm vysel tot die fynste, onvoelbare poeier opmaal - so fyn dat die poeier self in water oplosbaar is. Dan, ten minste, moet ons 'n oplossing van die kleur kry. Met hernieude ywer gaan ons aan maal. En nou begin die ding onruswekkend te word. Met die wording van die poeier | |
[pagina 305]
| |
in die vysel is die kleur aan verdwyn. Uiteindelik, as daar niks as 'n fyn stof onder die stamper lê nie, dan is dit 'n dowwe vaal stof sonder 'n sprankie van al die wonderlike blou. Die kleur het vir ewig verdwyn en niks wat ons chemies of opties doen, kan dit ooit weer terugbring nie. Dit begin werklik lyk asof die ou alchemis reg was: die Here het 'n verbod gestel teen gebruik deur die mens van die kleure van Sy lewende skepping! Wat het van die kleure geword? Ons maak nog een chemiese waarneming voor ons ons toevlug tot ander metodes neem. As ons die hardnekkige kleur nie kan opvang nie, kan ons dit ten minste chemies vernietig, soos ons dit reeds fisies gedoen het. Ons ken 'n element wat alle kleur vernietig; wat alle gekleurde stowwe spierwit verbleik. Ons onderwerp die pouvere aan die werking van pas ontbonde chloorgas. Nou sal ons ten minste 'n spierwit pouveer maak. Maar weer stel die verbysterende spooksel ons verwagting teleur. Ons ontdek dat, solank die vormbou van die veer onveranderd bly, net so lank bly die kleur onveranderd. Wat is dit dan? Ons weet voorwaar dat daar g'n mirakels gebeur nie, en ons moet die geheim ontdek as ons net die regte middels kon besig. Juis op dié punt het die menseverstand vir eeue stilgestaan, waarskynlik tevrede met die ‘verbodsteorie’. Ons besig nou die laaste opgegaarde mensekennis om die spook tot in sy donkerste skuilhoekie na te volg en uiteindelik in die heldere daglig uit te sleep. Ons besig optiese middels. Ons bestudeer die voëlvere mikroskopies; ons besig gepolariseerde lig; en fyn gekonsentreerde witligstrale in 'n donker kamer - en dan skielik word alles so duidelik en helder as die lig self. Ons sien dat al die briljante, skitterende voëlkleure reine oëverblindery en bedrog is. Daar is alles niks van nie. Ons word gewaar dat die dowwe vaal kleur van ons stofpoeier die werklike (en enigste) kleur is van die reënboogpronkpou. Chloorgas kon die kleur nie vernietig nie, eenvoudig omdat daar g'n kleur was om te vernietig nie. Wat is die geheim? In die dierewêreld word deurgaans net twee werklike kleure deur die dierlike liggaam afgesonder (welke afsondering waarskynlik te danke is aan die werking van sekere afgeslote kliere): dierlike swart (soömelanine) en 'n bruingeel olieverf. Uit dié twee kleure word in die gevoëlte al die skakerings van swart, bruin en vaal vervaardig. Al die reënboogkleure van die voëls is spektrale kleure (letterlik spookkleure) - dit wil sê hulle is afhanklik van die vormbou van die veerdons wat wit sonlig in die spektrum, of reënboog, opbreek, met violet aan die een kant en rooi aan die ander. Deur die wenteling van die mikroskopiese dons word net enkele kleure van die spektrum weerkaats. Net soos 'n driekantige stuk glas (of prisma) wit sonlig opbreek in die kleure van die reënboog, net so gaan ons voëlvere te werk; en net so min kleur as daar in die glas is, net so min kleur is daar in die pragtigste en mees skitteren- | |
[pagina 306]
| |
de voëlvere. Die wetenskap noem voëlkleure subjektief. Dié benaming is nie juis of logies nie, want in werklikheid is alle kleur subjektief. As ek generaal Smuts se artikel behandel, sal ons sien dat lig en kleur slegs bestanddele is van die dierlike subjektiewe gewaarwording en g'n uitwendige bestaan het of kan hê nie. Wat egter in die soölogie bedoel word met die woorde ‘subjektiewe kleure’ is juis wat ek in hierdie artikel probeer duidelik maak het: dat voëlkleure geheel iets anders is as wat hulle voorgee om te wees. Dit is eienaardig dat daar net die reeds gemelde twee uitsonderings op hierdie reël in die hele natuur is. Sover bekend, is daar net twee voëls in die hele wêreld wat werklike kleur afsonder en as veerverf besig: die Suid-Amerikaanse toerako en 'n koekoek (superciliosus). Die groenblou kleur wat hulle afsonder, is bekend as turasine. Dit is maklik in koue water oplosbaar. As jy die vere in koue water doop, gaan die kleur alles oor in die water. Reën spoel die kleur van die voëls af. As jy dit in alkaliewater oplos, kan jy met asynsuur 'n presipitaat van metaalkoper kry. Een-tiende van turasine is koper.
In sy artikel in Voorslag, ‘Beauty in Nature’, gee generaal Smuts 'n kort sinopsis van die fundamentele gedagtes weer wat in sy boek Holism breedvoeriger behandel word (die boek verskyn binnekort in Engeland). Op die blote gerugte van die boek is die skrywer gekies tot lid van die British Royal Society. Ek veronderstel dat die eer by wyse van 'n titel in partibus infidelium toegeken is, want die artikel in Voorslag is op so 'n sonderlinge reeks wanbegrippe gebaseer - onkunde van feite wat vandag in die wetenskap as elementêr beskou word - dat dit onmoontlik is om aan te neem dat alle lede van die Royal Society dié elementêre onkunde deelagtig is. Ek weet voorwaar dat dit nie so is nie. Hulle het generaal Smuts se boek nog nie gelees nie - dit is die uitleg. Hoe begerig hulle ook mag wees om die skrywer te vereer, is dit te hope dat hulle Holism nie sal beskou as le dernier cri van Suid-Afrikaanse wetenskap nie. Aan 'n Engelse koerantskrywer het generaal Smuts die geheim meegedeel dat Holism afgelei is van die Griekse woord holos, die geheel, en dat sy werklike doel was om God in die natuur te soek. Hoe en waar hy hoop om God te vind, word in Holism uiteengesit. As ‘Beauty in Nature’ 'n ware weerspieëling is van Holism, dan kom dit my voor dat generaal Smuts voorbariglik aaispaai roep. Hy begin sy artikel deur te kla dat die wetenskap in die natuur al sy aandag aan facts wy en niks aan values and meanings nie. Die teenstelling facts en values and meanings is 'n cliché wat in die laaste tyd gedurig opduik in die Engelse letterkunde. Dit is natuurlik volkome betekenisloos. Wat kan values and meanings beteken as 'n teëstelling van facts? Inspirasie? Maar hy gee dadelik te kenne wat hy bedoel. Values and meanings is Skoonheid in die Natuur - Beauty in Nature. En dit, laat hy volg, is grotendeels terra incognita. Hy is verkeerd. Mooiheid is net so sorgvuldig ontleed en bestudeer as enige | |
[pagina 307]
| |
ander natuur- of sielkundige verskynsel. Generaal Smuts het met die facts nog nie kennis gemaak nie - dit is al. In poëtiese Engels word die punt bearbei dat skoonheid in die natuur nie vir die mens bedoel is nie. Dit was daar miljoene jare voor die mens bestaan het, en sal daar wees miljoene jare ná hy van sy aardbolletjie verdwyn het. In een opsig is dit klaarblyklik. Daar is vandag min opgevoede mense wat nog die sienswyse deel dat ons donker, klein misbolletjie die middelpunt van die heelal is, en dat die magtige son van ons stelsel alleen fungeer vir ons genoegdoening; dat die nebula in Orion, vyftigduisend ligjare van ons verwyder, alleen daargestel is om die nagtelike hemelruim vir ons mooi te maak. Dié onsinnige verwaandheid (wat altyd die sterkste bewys gelewer het van sy aaplike afkoms) het die mens - die beskaafde mens altans - lank reeds prysgegee. Maar die kinderlik-naïewe verklaring dat skoonheid in die natuur vóór die mens bestaan het en ná hom nog sal voortbestaan, is so verbasend dat dit twee maal gelees moet word om tot geloof in die daadwerklikheid van die verklaring te geraak. Wat is skoonheid? Wat kan dit anders wees as 'n gevoel - 'n rein subjektiewe sielstoestand? Ons gewaarwordingstelsel maak sekere dinge in die natuur vir ons mooi en sekere dinge lelik. Die geur van blomme, van seksuele muskus, is vir ons heerlik. Die liefdeslied van die nagtegaal is verruklik. Die stank van die muishond en sy liefdeslied (wat klink na 'n skerp vyl op die stomp tande van 'n saag) vind ons haatlik. Dink generaal Smuts dat dié rangskikking 'n natuurlike rangskikking is? Dat die aantreklikheid en die weersin objektief bestaan? Dink hy dat die soetigheid van suiker daar is sonder dat daar 'n mensetong en -brein is om dit te skep? Ondenkbaar. Dit lyk byna of ek die doolhof van die metafisika wil betree; of ek die bestaan van 'n uitwendige wêreld in twyfel wil trek en weer die vergete leer van die Engelse biskop Berkeley wil verkondig. Dit nie. Die verkeerdheid van hierdie grondbeginsel van generaal Smuts berus op rein fisiese feite - die gewraakte feite! Driekwart van ons skoonheidsgewaarwording bestaan uit kleur en lig. Laat ons nou eers fisies nagaan watter reg ons het om te veronderstel dat lig en kleur ander dinge is as dele van die menslike siel; dat hulle buite die menslike gewaarwordingstelsel enige bestaan het. Kortliks moet ons eers die vraag beantwoord: Wat is kleur en lig? En hoe word ons dié dinge gewaar?
As 'n straal sonlig deur 'n driekantige, kleurlose stuk glas ('n prisma) op 'n kleurlose oppervlak val, dan verskyn daar 'n spektrum, of reënboog. Dit word genoem die ontleding van sonlig. Alle lig bestaan uit die primêre kleure wat in die reënboog, of spektrum, sigbaar is. Al die kleur wat die mense-oog in die heelal gewaar, is niks anders as hierdie verdeling van die strale waaruit wit lig | |
[pagina 308]
| |
bestaan nie. Een liggaam besit die hoedanigheid dat dit die groen straal weerkaats en al die ander strale absorbeer; dan noem ons die liggaam of die stof groen. En so met al die kleure. In die materie self is daar geen kleur nie. Sonlig is die enigste kleur in die heelal, en die verskillende weerkaatsings van strale van verskillende snelheid deur materiële voorwerpe word in die menslike gewaarwordingstelsel in kleur omgesit. As die menslike oog die spektrum bekyk, dan sien hy 'n band kleure met violet aan die een kant en rooi aan die ander. Wat, nou, is die kleur op sigself, en wat is lig waarvan hulle konstituente is? Al die sigbare kleure is trillinge van verskillende snelheid. Dit word veronderstel dat hulle trillinge is in 'n soort elastieke stof bekend as die eter. Aan dié trillinge en hul meetbaarheid bestaan daar geen twyfel nie. Die bestaan van die eter word teoreties van dié trillinge afgelei. Die rooi band in die spektrum gee 392 biljoen trillinge per sekonde. Die branderbeweging word al hoe sneller deur die kleure heen tot ons die laaste sigbare kleur, violet, bereik; en dié het 'n trillingsnelheid van 757 biljoen per sekonde. Waarom 392 die indruk van rooi gee en 757 van violet, kan natuurlik slegs uitgelê word deur te sê dat die menslike oog ontwikkel het om van die verskillende trillinge só gebruik te maak vir die doel van omgewingsonderskeiding. Maar die sigbare kleure van die spektrum is nie al die trillinge wat daar in wit sonlig teenwoordig is nie. Buitekant beide die rooi en violet bande is daar trillinge so stadig en so snel dat die dierlike oog geen gebruik daarvan kan maak nie. Dié is onsigbare ligstrale. (Dit klink na 'n paradoks om te praat van lig of kleur wat onsigbaar is, maar dit is so.) Die strale buitekant die violet band is die wonderlike X-strale deur professor Röntgen ontdek. Hulle is geheel en al buite bereik van al die menslike sintuie. Ons word hulle bestaan en hulle hoedanighede gewaar deur die sigbare uitwerking wat hulle op die materie het. Hulle verdonker die fotografiese plaat net soos al die ander gewone ligstrale; en sommige ander chemiese liggame het die eienaardigheid om te begin gloei wanneer hulle deur die onsigbare strale aangeraak word. So word ons met hulle bekend en kan hulle op verskillende wyses meet - net soos ons doen met magnetisme, wat self ook buite bereik van al ons sintuie is. Ons lei die bestaan af van die sigbare uitwerking op materiële voorwerpe. Buite die stadige rooi band is nog stadiger trillinge wat ook onsigbaar is. Dié, egter, word ons direk gewaar as hitte. Waarom, nou, sien die mens nie trillinge buite die violet en rooi bande nie? Hulle is presies van dieselfde geaardheid as al die sigbare trillinge van die spektrum. As kleur 'n werklike hoedanigheid van sonlig is, dan kan ons teoreties aanneem dat die X-strale ook kleur is - 'n primêre kleur wat geen mense-oog nog ooit gesien het nie en wat vir ons ondenkbaar is omdat dit buite alle menslike ondervinding lê. | |
[pagina 309]
| |
Die mens sien die trillinge nie, omdat die mense-oog ontwikkel het alleen om gebruik te maak van verskynsels wat behulpsaam is in die stryd om die bestaan. Ons sien lig en kleur omdat ons daardeur die materiële omgewing onderskei. Hulle word deur materiële voorwerpe weerkaats; en so word ons die voorwerpe gewaar. Die X-strale word deur geen materiële voorwerp weerkaats nie. Hulle penetreer byna alles in ons natuurlike omgewing, sodat hulle ons nie verder kan help om voorwerpe te onderskei nie. Daarom het die mense-oog nooit in die rigting ontwikkel om ook hulle as lig en kleur te sien nie. Ons het nou kortliks nagegaan wat die mens geleer het omtrent die uitwendige verskynsels wat ons lig en kleur noem. Om 'n nog beter begrip te kry van die verskynsels, moet ons nou die ander kant van die saak in oënskou neem: die dierlike gesigsmeganisme. En daarna sal ons in staat wees om die volgende leerstelling te konstateer: Die menslike wetenskap is vandag so seker van een ding in verband met gesig as dit ooit van enigiets in die uitwendige natuur kan wees; dit is dat lig en kleur, soos die menslike gewaarwordingstelsel dit vertolk, as sodanig hoegenaamd geen uitwendige bestaan het nie; dat lig en kleur reine produkte is van die menslike brein, en wat sonder die brein nooit kan bestaan nie. Lig en kleur is subjektief; kan nooit objektief wees in die vorm waarin ons hulle gewaar word nie. As dit so is (en die leser oordeel self hierna of daar gegronde twyfel kan wees), dan reeds verval genl. Smuts se teorie, want lig en kleur is verantwoordelik vir driekwart van die skoonheidsgevoel van die mens. Om te beweer, soos genl. Smuts doen, dat natural beauty bestaan het voor die mens daar was; dat dit bestaan het toe daar nog geen mense-oog was om dit te aanskou nie; dat wat die mens skoonheid noem, bestaan het voor daar 'n mens was om die pragtige kleure van sonsondergang oor die ‘Siluriese Moddersee’ te geniet - só 'n bewering sou dan louter onsin wees. Net so goed sou ons kon beweer dat daar geen menseverbeelding was om die skone lugkastele van die tweede geologiese epog te geniet nie; net so min kan die pragtige kleure sonder die mensebrein bestaan as die lugkastele sonder die menslike verbeelding. Hoe sien die mens lig en kleur? ‘Met sy oog, natuurlik,’ is ons onmiddellike antwoord. Maar dié antwoord sou onjuis wees. Lig en kleur is absoluut onwaarneembaar deur die mense-oog alleen. Ons weet dat die eteriese trillinge wat ons lig noem, alleen in reguit lyne kan voort beweeg. (Ek sal Einstein vereers maar laat staan.) Om 'n hoek of langs 'n boog kan hulle nooit sonder weerkaatsing gaan nie. Die diepste wat hulle die mens se gesigstoestel in 'n reguit lyn kan binnedring, is ongeveer 'n halfduim: tot by die netvlies agter in die oogholte. Dáár word hulle geheel en al versper deur die beengestel van die oogholte. Daar is een foramen, of opening, waardeur die gesigsenuwee van die brein af deurkom, maar geen lig kom ooit in aanraking met die gesigsenuwee self nie. Die | |
[pagina 310]
| |
senuwee is volkome ongevoelig vir die direkte trilling wat ons lig noem. Die senuwee is in werklikheid verantwoordelik vir die blinde kol in die mense-oog, die bestaan waarvan elke skoolkind weet om te bewys. Op die netvlies agter in die oogholte word deur die weerkaatste trillinge 'n kleurbeeld gewerp - onderstebo; sodat die oog in werklikheid die beeld van die uitwendige wêreld opties onderstebo opvang, net soos die verkyker van die landmeter. Vir eeue was alle ondersoekers daarvan oortuig dat die gesigsgewaarwordingsentrum van die mens die netvlies van die oog was. Dit was 'n natuurlike maar absoluut verkeerde gevolgtrekking. Die mens sien lig en kleur met wat waarskynlik die donkerste plekke in sy hele gestel is. In die skors van die agterbrein lê die twee gesigsentrums. Van bo en van agter is hulle teen alle lig deur die dikste deel van die skedel beskerm, en van voor deur die hele lengte van die brein, waardeur geen ligstraal ooit kan dring nie. Hier is die menslike fabriek van lig en kleur. Die minste bloeding, die minste verwonding van dié sentrums veroorsaak gelykmatige blindheid. (Daar is gewoonlik ook geheue-storing, wat egter vir ons teenswoordige doel onnodig is om aan te roer.) Tevergeefs vir so 'n mens die sonsondergang oor die Siluriese Moddersee! Die oog, die gesigsenuwee, die hele sientoestel is in perfekte orde - maar die mens is blind. Ek het 'n vriend, 'n beroemde Afrikaner; sy geskrifte is aan al sy landgenote, jonk en oud, bekend, en ek dink sy persoonlikheid soos dit in sy geskrifte weerspieël is, word deur sy landgenote alom bekend, bemin. 'n Paar jaar gelede, gedurende 'n skielike hartaanval, is enkele druppels verdikte bloed deur die hart losgelaat. Een van die druppels het in die gesigsentrum in die agterbrein te lande gekom. Dit was te klein om groot skade te doen, maar dit was groot genoeg om een-derde van die gesigsveld te vernietig. Altwee oë is aan die regterkant een-derde blind - só altans sou ons geneig wees om dit te beskrywe. My vriend sien aan sy regterkant altyd 'n pikswart skaduwee, waar g'n ligstraal ooit deurkom nie. Hy sien die skaduwee as uitwendig. Sy oë, sover hulle nog kan sien, is perfek - skerpsiende. Die trilling wat ons lig noem, het waarskynlik 'n sekere chemiese uitwerking op die netvlies. As jy 'n lewende padda in 'n donker kamer neem en deur 'n enkele weerkaatste ligstraal 'n skerp beeld op die netvlies laat werp, en jy haal dan die oog uit in geel lig, dan sien jy die ligbeeld op die netvlies, persagtig gekleur. As jy gewone wit lig op die netvlies laat val, dan verdwyn die persagtige ligbeeld stadig, soos die ongefikseerde beeld op fotografiese papier. En jy kan die beeld op die netvlies van die padda ook fikseer net soos die beeld op fotografiese papier. As jy - onderwyl nog in geel lig - die oog in 'n swak oplossing van aluin doop, dan word die pers beeld gefikseer, en daarna veroorsaak wit lig g'n verandering meer nie. Dit is waarskynlik presies wat in die mense-oog plaasvind. Die trillinge wat | |
[pagina 311]
| |
ons lig en kleur noem, veroorsaak 'n chemiese verandering in die netvlies. Die prikkeling wat die verandering teweegbring, word aan die gesigsenuwee - maar nie as trilling nie - oorgedra, en langs die senuwee word die prikkeling, deur die stikdonker heen, na die agterbrein vervoer. Hier - in die stikdonker - word die prikkeling deur die chemie van die brein in lig- en kleurgewaarwording omgesit. Dit is enkel en alleen die snelheid van een en dieselfde soort trilling wat deur aanraking met die netvlies die gewaarwording van een of ander kleur veroorsaak. Sien die leser in dat lig en kleur 'n skepping is van die mensebrein en uitwendig alleen as trillinge bestaan? Laat ons egter 'n bietjie verder gaan. Wat sal ons sê as ons te wete kom dat ander prikkelinge van die mees verskillende aard, wat glad geen verwantskap met eteriese trillinge het nie, ook in lig en kleur deur die gesigsentrums van die mensebrein omgesit word? Om seker te maak, word hierdie prikkelinge in pikdonker aangewend. Ons ontdek dat gewone ligte druk op die netvlies - die sny van 'n mes, die steek van 'n naald, 'n elektriese stroom - almal as geweldige ligen kleurverskynsels deur die mens se agterbrein waargeneem word. Ons weet voorwaar dat nòg druk, nòg steek, nòg elektriese stroom in enige opsig analoog is met die trilling wat ons lig noem. Nog twyfel? Sal genl. Smuts nog volhou dat die kleure van sy Siluriese Moddersee sou bestaan het vóór daar 'n mensebrein was? Ek dink nie. As hy wil beweer dat die trillinge wat die mensebrein, in sy donkerste hoekie, in lig en kleur omsit, as sodanig 'n werklike, uitwendige bestaan het, dan sal hy ook moet aanneem - en om dieselfde rede - dat die steek van 'n naald, die sny van 'n mes - in pikdonker - ook lig en kleur is. Wat bewys dit alles? Bewys dit nie buite moontlikheid van twyfel dat lig en kleur kinders is van die mensesiel, of, liewer, inherente dele van die mensesiel; dat nòg kleur, nòg lig (soos ons hulle waarneem) sonder die mensebrein ooit bestaan - ooit kan bestaan nie? Sal genl. Smuts nog dink dat wat in die donker gesigsentrum van die agterbrein gesien word, die werklike trillinge is wat ons lig en kleur noem? Laat ons nog een stap verder gaan. As die oog vernietig word, dan is die mens ook blind, want die oog is die nodige toevoermiddel om die trillinge as prikkelinge vir die gesigsenuwee gereed te maak. Dit gebeur dat die gesigsentrum in lewende mense blootgelê word sonder enige skade aan die brein. So 'n mens word geblinddoek en 'n direkte, gekonsentreerde ligstraal word op die sentrum gerig. Die dura mater (in gevalle waar dit onbeskadig bly) laat sterk gekonsentreerde lig deur. Nou, ten minste, as die mens die werklike trilling as lig in die gesigsentrum sien - nou sal hy 'n verbasende vuurwerkvertoning gewaar; want ons laat direkte lig in die donker hoekie waar alleen hy lig en kleur waarneem. Ongelooflik - niks gebeur nie: alles bly donker. | |
[pagina 312]
| |
Sover wat betref genl. Smuts se sienswyse oor nie-organiese skoonheid. Die organiese wêreld stap hy met dieselfde dilettantisme binne. Hy maak beweringe so verbasend; maak gevolgtrekkinge van grondslae so absoluut verkeerd; stel ten toon 'n onkunde van die mees elementêre natuurverskynsels so verreikend, dat dit moeilik is om op streng wetenskaplike wyse al die onsin te weerlê - vernaamlik wanneer genl. Smuts, gewapen met sulke onkunde en wanbegrippe, te velde trek teen die seksuele uitsoekingsleer van Darwin. Ek het sterk agterdog - ek mag verkeerd wees - dat Darwin meer van die natuur geweet het as genl. Smuts. Ons sal sien. Genl. Smuts trek die seksuele uitsoekingsleer van Darwin in twyfel om dié rede: Die onderskeid, sê hy, tussen die lied van een mannetjienagtegaal en dié van 'n ander is so gering dat g'n wyfienagtegaal dit ooit kan gewaar nie. Die onderskeid in kleur tussen een mannetjiefisant en 'n ander (Engelse fisante, natuurlik!) is so min dat g'n wyfie dit ooit kan onderskei nie. Om te veronderstel, sê hy, dat die kleure en vorms in die insektewêreld ontstaan het (natuurlik slegs gedeeltelik) deur die uitsoeking van die insekte self (omdat die meer tipiese vorms en kleure 'n beter kans het om deur die ander geslag gekies te word) - dit alles, sê hy, vereis die verdere veronderstelling dat die voëls en insekte 'n baie beter en baie fyner estetiese (!) gewaarwordingsvermoë besit as die mens; en dit, sê genl. Smuts, kan nooit wees nie. ‘So 'n onderskeidingsvermoë het geen voël of insek ooit besit nie.’ As dit die wydte en diepte is van sy kennis van die sielkunde van die organiese wêreld, dan waarlik behoort genl. Smuts Holism te hersien voor dit in druk verskyn. Ek sal hom 'n paar feite opnoem - feite wat seker en gewis binne die perke van sy eie persoonlike ondervinding val; en as ek klaar is, sal hy die eerste wees om te erken dat die fundamentele begrip van sy leerstelling verkeerd is. Eers wil ek nog dit sê: As genl. Smuts die seksuele uitsoekingsleer van Darwin ontken, op watter grond ook al, dan moet hy nooit dink dat dit die einde van die saak is nie. Daar is 'n leërkorps van feite (nie meanings en values nie, maar hardnekkige, onpoëtiese feite), wat dan dadelik 'n ander uitleg vereis. Ek sal hom enige opnoem; en as ek klaar is, sal hy die eerste wees om te erken dat, as hy die res van sy lewe daaraan wy om uitleggings te prakseer, hy nie daarin sal slaag om dié leërkorps die hoof te bied nie. Eers dan, omtrent die bewering van genl. Smuts dat die voëls en insekte nooit beter en fyner gewaarwordingsvermoë as die mens besit nie - in alle geval dat die gewaarwordingsvermoë nooit so fyn kan wees om geringe verskille van kleur en geluid te onderskei nie. Laat ons eers die voëls neem. Ons sal maar die uitlanders laat vaar en een van ons eie landgenootjies as voorbeeld neem. Ons neem honderd rooibekkies - en dit word veronderstel dat ons hulle op een plek in die natuurstaat kan bewaar. | |
[pagina 313]
| |
Dan gee ons 'n menslike waarnemer twintig jaar tyd om hulle te bestudeer. Hy bring elke dag met hulle deur; hy bekyk hulle van alle kante; hy luister sorgvuldig na hulle getjilp; dit word hom veroorloof om aantekenings te maak, maar hy besig altyd net sy natuurlike, ongeassisteerde sintuie. Aan die einde van die twintig jaar word hy gevra om die rooibekkies te onderskei; om selfs die mannetjies van die wyfies te onderskei; om die stem van een rooibekkie van die stem van die ander te onderskei. Sal hy dit kan doen? Veel makliker sal dit vir hom wees om die logaritmetafels agterstevoor uit sy hoof te leer. Maar luister nou wat die rooibekkies self kan doen: Die wyfie kan haar maat onfeilbaar en seker onderskei - nie uit honderd ander rooibekkies nie, maar uit tienduisend ander. Ons sonder haar af waar sy kan hoor, maar nie kan sien nie. Ná 'n tyd van afwesigheid bring ons haar maat naby haar onder duisend ander rooibekkies. Sy hoor hulle tjilp en sy roep in antwoord. Daar is 'n ontsettende lawaai. Geen mense-oor kan ooit uit die geluidkaskade 'n enkele stem onderskei nie - net so min as wat hy die hemel met sy blote hand kan aanraak. Maar die rooibekkie hoor en ken die stem van haar geliefde onfeilbaar. Laat haar los, en nooit keer die magnetiese naald sekerder na die noorde as sy na haar geliefde nie. Daar is g'n twyfel of aarseling nie. Sy ken die stem van haar maat uit al die duisende eenderse stemme; sy onderskei sy kleur uit al die duisende presies eenders gekleurdes. Sy begaan nooit 'n fout nie. So ken ook die bokmakierie, die tortelduif - al die voëls - die stem van hul maats uit alle gelyksoortige stemme in die wêreld. Hoe verrig die rooibekkie die wonderwerk? Ons verstand laat ons net een uitleg toe: Sy gewaar 'n verskil tussen die stem van haar maat en die stemme van al die ander rooibekkies in die hele wêreld; sy gewaar 'n onderskeid tussen die kleur en vorm van haar geliefde en die vorm en kleur van al die ander. Hier het jy gewaarwordingsvermoë wat ons verstand verbyster, net soos die reukvermoë van 'n hond na 'n ander soort lyk as ons menslike. Nog twyfel? Dink genl. Smuts nog dat die Engelse fisant en nagtegaal nie presies dieselfde kan doen nie? Dat hulle sielkundig anders ingerig is as ons Afrikaanse voëls? Absit omen! Laat ons die gewaarwordingsvermoë van die insekte gadeslaan. Hier tree ons 'n wêreld van wondere binne wat ons verstand tot stilstand bring; wat ons armsalige kennis lig in die war bring. Weet genl. Smuts dat die termietkoning 'n sein van die koningin gewaarword oor ongelooflike afstande - 'n sein wat buite bereik van al ons sintuie en wetenskaplike toestelle is; 'n sein die aard waarvan ons selfs nie kan vermoed nie? Weet hy dat die soldate en werkers áltyd van die koningin se invloed bewus is, deur aarde, rots, en metaalplate? Weet hy dat die mannetjieslang die wyfie oor ongelooflike afstande volg en kry? (As dit nie so was nie, dan was die altyd eensame slang lank reeds uitgeroei.) Van watter gewaarwordingsorgaan hy gebruik maak, kan ons nie vermoed nie. Ons weet net | |
[pagina 314]
| |
dat hy nie kan ruik nie. (En dit alles geld die meeste enkeling-landreptiele.) Weet hy dat die toktokkie trillinge gewaar wat ons met die fynste wetenskaplike instrumente nie kan opvang nie? Het hy al ooit ons Afrikaanse skoenlappers en motte gadegeslaan? Daar is verwante soorte so eenders dat die mens hulle kan onderskei alleen met behulp van optiese vergroting of noukeurige vergelyking. Maar die skoenlapper self begaan nooit 'n fout, verkeer nooit in die minste twyfel nie. Die enkele kleurstrepie, die byna onsigbare kolletjie wat die soort kenmerk, word die skoenlapper self onfeilbaar gewaar oor afstande waar ons g'n enkele kleur kan onderskei nie. Het genl. Smuts ooit waargeneem oor watter afstande die mannetjiemot sy wyfie soos 'n koeël na die skyf kan opspoor en kry? Het hy al ooit ons skoenlappers in 'n ander opsig gadegeslaan? 'n Menigte van hulle is op die boonste deel van die vlerk pragtig seksueel gekleurd, terwyl die onderste deel kleurloos beskerm is. Solank die wyfie haar vlerke toehou, is sy byna onsigbaar; as sy hulle oopmaak, is sy 'n skitterende reënboog van kleure. Probeer nou maar. Onderwyl haar vlerke toe is, sal die mannetjie honderd maal oor haar heen sweef sonder om haar te herken. Sodra die vlerke oopgaan, word hy haar op 'n afstand van honderd tree gewaar. Nog meer: As jy die boonste kleure deur een of ander enkele verfstof (anilienblou, byvoorbeeld) vernietig, kan jy die mannetjie herhaaldelik met haar in direkte aanraking bring sonder dat daar die minste seksuele gewaarwording plaasvind. Daar is verskillende soorte so eenders dat die behoorlike rangskikking (sonder die moontlikheid van noukeurige vergelyking) vir die mens altyd 'n moeilike taak is. Maar die skoenlapper self begaan nooit 'n fout nie. Geen kruising vind ooit plaas - geen poging tot kruising nie. Het genl. Smuts ooit kennis gemaak met die laagste organismes van ons warm seestrome? Laat my nog een voorbeeld noem (en dié kom ons juis te pas omdat die dier so pragtig gekleurd is en g'n enkele sintuiglike orgaan besit nie): In baie warm kusstrome is daar 'n familie deurskynende drilvisse dikwels in tallose menigtes teenwoordig, aurelia aurita genaamd. Bedags kleur hulle somtyds die see melkwit. Snags is elkeen 'n gloeiende ster van sagte, wit maanlig. In direkte sonlig vertoon hulle al die lewendige kleure van die reënboog. Daar is honderde verwante soorte, so eenders dat die fynste optiese waarneming en anatomiese ondersoek vereis word om sommige ondergeskikte soorte te onderskei. Die dier is net 'n swemmende mond en maag: daar is g'n oog, g'n oor, g'n enkele sintuig nie. Maar aurita kan duisend maal fyner sien of hoor (of wat ook al) as die mees geoefende menslike natuurkenner met al sy vergrootglase. Uit al dié ontelbare duisende herken die individue van elke soort mekaar onfeilbaar. Daar is nooit kruising of poging tot kruising nie. Dink genl. Smuts nog dat die geringste verskil van kleur en geluid nooit 'n rol in organiese uitsoeking kan speel nie? Dink hy nog dat die laer diere minder as die mens in sintuiglike gewaarwording is? | |
[pagina 315]
| |
Ek dink hy sal Holism moet hersien. Die teorie van genl. Smuts skyn uit te gaan van die verkeerde fundamentele gedagte dat dit ekonomies moeiliker is vir die natuur om 'n gekleurde skoenlapper te maak as 'n witte. As hy my artikeltjie oor voëlkleure lees, sal hy sien dat so 'n veronderstelling ongegrond is. Hy kan nie verstaan waarom daar so 'n ‘uitsoeking van kleur en skoonheid’ is nie - meer kleur en skoonheid as wat vir die doeleindes van uitverkiesing ooit nodig kan wees. Die antwoord is, ten eerste, dat dit net so veel en net so min ekonomiese inspanning in die natuur vereis om 'n wit pou te maak as om 'n reënboogpou te maak. Dit vereis presies die inspanning wat nodig is om 'n stuk glas regs te draai in plaas van links. En ten tweede is die antwoord dit: Daar is een groot beginsel in biologiese ontwikkeling wat die ou natuurkenners nie raakgesien het nie. Meer as tien jaar gelede het ek dit vir die eerste maal beskrywe onder die naam diathesis ('n woord aan die patologie ontleen). Dit word nou dikwels gebesig, en het ingang gevind in die wetenskap sonder, dink ek, dat die bron bekend is. Dit beteken dit: As 'n sekere rigting van ontwikkeling deur natuurlike uitsoeking op tou gesit word, dan is daar altyd 'n neiging om in dié rigting voort te gaan totdat die eienskap nadelig word. Dit is die bewegende liggaam wat dan alleen tot stilstand kom wanneer 'n doelmatige krag die beweging beëindig. Dan eers beëindig die uitsoeking dit weer wanneer nadeel ontstaan. Maar daar is dikwels 'n wye niemandsland tussen bepaalde voordeel en bepaalde nadeel. Dié beginsel is in die ontwikkeling van alle georganiseerde materie sigbaar. Dit gebeur dus dikwels dat daar oënskynlik ontwikkeling is van 'n eienskap buite die grense van absolute en waarneembare voordeel. Dit was volgens dié beginsel dat die Japanners hul kapokhoendertjies gemaak het: totaal sonder stert; sonder selfs die laaste werwelbeen; en weer met sterte vyftien voet lankaltwee uit een en dieselfde oorspronklike soort. Die nek van die kameel en die buitensporige kleure van die pronkpou is voorbeelde van diathesis. Wanneer genl. Smuts praat van beauty in nature in verband met seksuele uitsoeking, dan pas hy in werklikheid die mensesiel as maatstaf toe. Dit is nie alleen dat hy verkeerd praat nie, soos ons almal doen wanneer ons nog altyd praat van die opkom en ondergaan van die son, maar hy dink verkeerd. Hy sien nie die natuur as 'n holos nie. Hy dink aan die menslike skoonheidsgevoel as die ultima ratio van uitverkiesing en ontwikkeling. 'n Enkele woord sal voldoende wees om hom te oortuig op watter soort dwaalspoor hy aan 't reis is: Die boskraai is lelik gekleurd; sy stem is die afskuwelikheid beliggaam; sy vorm die nagmerrie onder die gevoëlte. Die kropkraan (adjudant) van Midde-Afrika is 'n bespotlike en lasterlike karikatuur van 'n voël met 'n reuk wat die dampkring verpes; die pelikaan lyk soos 'n kwaadwillige grap - almal sonder 'n enkele aantreklike kleur en met stemme wat die Skotse doedelsak verdraaglik | |
[pagina 316]
| |
maak. Dit sou moeilik wees vir genl. Smuts om in dieselfde liriese verrukking te geraak oor die muishond as wat sy woorde kenmerk wanneer hy dit oor die nightingale het. Die pofadder en die bloukopkoggelmander is lelik en afskuwelik. Daar is net so baie lelike diere as mooies in die wêreld - miskien meer. Al die nagdiere en voëls verwek by ons 'n sekere mate van afgryse. Die meeste van ons gril vir goggas. Genl. Smuts sien net die outpouring of beauty; wat omtrent die outpouring of ugliness? Dink hy werklik dat diere en voëls beauty uitsoek soos die mens beauty verstaan? Dit is ongetwyfeld die fundamentele begrip in sy Voorslag-artikel - of ek moet sy Engels heeltemal verkeerd verstaan. Sien hy net values and meanings in skoonheid, en sal ons die God van die Natuur tevergeefs in al die lelikheid soek? Dit kom my sterk voor dat genl. Smuts natuurlike uitsoeking (waarvan seksuele uitsoeking slegs 'n onderdeel is) soos dit vandag in die wetenskap begryp word, glad verkeerd verstaan. Dit sou werklik die moeite werd wees om 'n beter en helderder begrip van hierdie groot natuurwette te erlang voordat hy deur sy Delila, Holism, geskeer en gebind in die hande van die Filistyne val. As ek genl. Smuts se Engels nie verkeerd verstaan nie, dan kom dit my voor asof hy werklik nog dink seksuele uitsoeking beteken dat die voëls en diere mooiheid uitsoek, met die menslike skoonheidsgevoel as maatstaf. Dit is moeilik om te glo dat daar in ons tyd nog natuurliefhebbers kan wees wat dié ouderwetse en hopeloos verkeerde sienswyse toegedaan kan wees. Die vergelykende natuursielkunde (die wetenskaplike sielkunde) het, van die dae van die ou wanbegrippe, ver gereis. As die menslike skoonheidsgevoel die heelal dirigeer, vanwaar waar dan die verskil tussen die kropkraan en die suikerbekkie? Die lied van genl. Smuts se nightingale laat al die ander diere en voëls yskoud, behalwe die uil en die Engelse polecat miskien, vir wie die lied ten minste die moontlikheid van 'n maaltyd in die vooruitsig stel. Ek wou hier 'n reeks feite aanhaal wat die kritikus van Darwin se seksuele uitsoekingsteorie op een of ander wyse sal moet wegsyfer. Ek sien egter nou dat dit my artikel te lank en miskien te vervelend sal maak, sodat ek net 'n paar dinge oppervlakkig sal kan aandui. Ek sal in hierdie verband die beskuldiging van egotisme moet trotseer. Ek wil kortliks uiteensit wat ek self in hierdie verband in die natuur gesien en geleer het. Dit gaan nie meer wees as 'n rangskikking van feite waarvan die meeste aan elke Afrikaner bekend is nie. Al wat makeer, is om die feite in behoorlike verband te bring en die values and meanings te konstateer. Baie van wat ek gaan sê, is nog wetenskaplik onbekend (sover ek weet), en die feit dat ek die eerste is om hulle te herken en te beskrywe, is seker nie te danke aan enige besondere aanleg nie, maar alleen daaraan dat ons Afrikaanse ondersoekers meer en beter kanse het om die dinge in hul natuurlike verband te sien en te begryp; dat baie van ons die geleentheid gehad het om van ons jongste dae af intiem te wees met diere en plante in die natuurstaat. | |
[pagina 317]
| |
Eers dan, om enigsins 'n begrip te kan kry van natuurlike en seksuele uitsoeking, is dit nodig om ons eie menslike gevoel van skoonheid - die hele menslike gewaarwording - opsy te sit. As ons dit nie doen nie, dan is ons verdwaal voor ons die staanplek verlaat. Dit is eienaardig dat genl. Smuts dit ook insien. Hy sê ook dat, om dié dinge te beoordeel, dit nodig is om die menslike element opsy te laat; en dan gaan hy voort om presies die teenoorgestelde te doen! Hy praat en dink deurgaans van mooiheid in die natuur geheel en al uit die menslike oog gesien. Wat mooi is vir ons, is ook mooi vir die voëls en diere. Die seksuele uitverkiesing van die voëls en insekte word gebore uit estetiese gevoel! Maar, sê die skrywer, dit is vals om aan te neem dat die estetiese gevoel van voëls en insekte soveel fyner is as dié van die mens. Ek het reeds uit een gesigspunt die wanbegrippe aangedui wat in dié verklaring opgeslote is. Die gewaarwordingsvermoë van voël en insek is in hierdie verband oneindig fyner as dié van die mens, maar dit is nie estetiese gewaarwording nie. As die voëls mooi vind wat ons mooi vind, en derhalwe net dié soort skoonheid uitsoek, dan sou ons seker net nagtegale en pronkpoue in die wêreld hê. Maar ons weet dat die skorre stem en algemeen liggaamlike lelikheid van die boskraai vir sy maat duisend maal aantrekliker is as al die kleure van die loerie of die soetste lied van die nagtegaal. Dit kan maklik bewys word dat helderkleurige op sigself nie die minste aantreklikheid vir briljant-gekleurde voëls of insekte het nie. Om dié dinge te kan verstaan, moet ons alle menslike norme uitskakel; en verder moet ons eers 'n ander groot en algemene sielkundige faktor sien en begryp. Ek het voorheen kortliks daarop gewys in my artikels oor ‘Die Siel van die Mier’ in Die Huisgenoot. Die beginsel is dit: In die instinktiewe siel moet al die groot gemoedsbewegings trapsgewyse deur sekere stadiums gaan. Elke trappie moet in behoorlike volgorde geskied. As een uitgeskakel word, dan bereik die organisme nooit die finale sielstoestand waarna die trappies lei nie. Maar daar is nog iets: Vir die ontstaan van elke bepaalde sielstoestand is 'n uitwendige sleutel nodig. Sonder dié bepaalde, uitwendige sleutel kan die sielstoestand nooit ontstaan nie. Die sleutel is gewoonlik 'n liggaamlike eienskap deur natuurlike uitsoeking tot stand gebring. Ek sal nou 'n paar voorbeelde noem wat die leser dadelik in staat sal stel om dié groot beginsel te herken en, hoop ek, 'n meer suiwer en 'n ware begrip van die instinktiewe siel te erlang. As die opbou van die verdiepingagtige nessies van ons rooi- en geelvinke noukeurig ontleed word, sal gesien word dat hulle uit drie groot dele bestaan, elk waarvan 'n besondere boustyl van die slim skoonheid, soos ons dit gewaarword, 'n werklike uitwendige bestaan het. Alle diere vind sekere toestande van die omgewing aantreklik, en nie almal dieselfde nie. Die springbokke voel veilig op en bemin die oop vlaktes, haat die bosveld en sterf voordat hulle daarin gedryf kan word. Die bosbokke is net die teenoorgestelde. Ons apies ly aan | |
[pagina 318]
| |
heimwee as jy hulle uit die digste houtbosse wegneem. Die bobbejane het die kaal berge en rante lief. En die helfte van alle lewende diere het die sonlig lief en haat en vrees die nag; die ander helfte haat die lig en roep die donkerste nagte juigend toe. En die mens? Daar is geen enkele gemoedsbeweging, geen skyn van skoonheidsgevoel wat hy nie te danke het aan sy filogenetiese geskiedenis nie. Kleur en geur en geluid bevat vir hom die diepste bekoring omdat dié dinge 'n magtige rol in sy rasgeskiedenis gespeel het. Ons kan sy rasgeskiedenis sielkundig noukeurig opvolg deur bestaande toestande onder die ape en mensape, net soos die anatome die geskiedenis van elkeen van sy liggaamlike eienaardighede geleer ken en verstaan het deur vergelyking met bestaande toestande onder die mensape en ape. Ons weet presies waarom kleur en geur so 'n bekoring vir die mens het. Ons weet dat die laagste ape nog goed kan ruik, en dat hulle muskus afsonder vir seksuele doeleindes. (Dierlike seksuele muskus is nog die basis van byna al ons parfumerie.) Hoe nader ons aan die mensape kom, des te swakker word die reuksintuig. Met dié verswakking verskyn briljante kleur as die seksuele sleutel. Beroep op 'n ander sintuig word gedoen. Ons swartgesigboomapies is die hoogste seksueel gekleurde primaat in Suid-Afrika. Dan begin die brein van individuele oorsaaklike omgewingsherinnering te ontwikkel. Die siel van rasherinneringe word stadigaan uitgeskakel. Seksuele gewaarwording word part en deel van die individuele herinnering, en die dier is daarna in staat om die seksuele sin subjektief gevoelig te maak. Dit is nie langer afhanklik van 'n uitwendige sleutel, van uitwendige prikkeling nie. Die noodsaaklikheid van geur en kleur bestaan nie langer nie. Daarom is dit dat by die bobbejane, die mensape en die mens geur en kleur byna verdwyn het as sleutels tot die seksuele sin - maar nie geheel en al nie. Kan daar enige ander bevredigende uitleg wees waarom die mens sekere geure en kleure mooi en aantreklik vind? En sekere toestande van die omgewing? Waarom vind hy bome en berge en die seekus mooi en aantreklik? Omdat hy miljoene jare lank agtereenvolgens in elkeen van dié natuurlike omgewings 'n toevlugsoord gevind het, wat die stryd om die bestaan vir hom vergemaklik het. Nog, as gevaar dreig, keer hy instinkmatig sy oë na die berge van waar sy hulp kom - net soos ons bobbejaan en die reuse-gorilla van Midde-Afrika. Hy haat die donker en bemin die lig presies om dieselfde rede dat die bobbejaan dit doen. Vir miljoene jare was die nag vir hom onveilig en vol vrees. Dit was in die nag dat hy hulpeloos die prooi was van roofdiere wat beter in die donker kon sien as hy. In die dag was hy veilig. In sy eie subjektiewe sielstoestand vind hy ook sekere dinge mooi en ander dinge lelik. Hy bewonder altruïsme (verloëning van die self); wat hy reg noem, is aantreklik. Selfsugtigheid en onreg is nie so mooi nie. Hy durf nie steel of moor nie. Dié maak egter minder saak solank hy nie betrap word nie. Hy mag nie verlief raak op die vrou van 'n ander nie. | |
[pagina 319]
| |
Die begin van al die sielstoestande is in die bobbejane en mensape sonder enige twyfel waarneembaar. As tropdiere sou hulle nie vir 'n dag kon bestaan as die morele wet nie saam met hulle samestelling ontwikkel het nie. Die gemeenskaplike gedrag van die bobbejane word klaarblyklik deur die morele wet beïnvloed. Sonder wet en sede kon die gemeenskap nie bestaan nie. Hulle begrip van reg en verkeerd is natuurlik nie by dié van die mens te vergelyk nie, maar dit is daar - en gelyksoortig met dié van die mens. Dit is een en dieselfde stroom. Die bobbejaan is by die bron; die mens by die monding. Daar is g'n sielstoestand van die mens waarvan die analoë geval by die ander primate nie sigbaar is nie, net so min as daar 'n spier of 'n senuwee in sy liggaam is wat nie by die mensape te vind is nie. Net een enkele menslike sielstoestand is nog (wat oorsprong betref) onuitlegbaar - die seksuele skaamtegevoel. Wat geluid betref, kom dit my voor dat die bekoring van die sang van voëls dikwels aan suggestie toe te skrywe is. Die lied van die nagtegaal is seker geen musiek nie. In werklikheid is dit niks mooier as die geluid van 'n waterfluitjie nie. Dit is grotendeels die omgewing en die suggestie wat dit vir ons bekoorlik maak. Dit is onder die ape dat werklike musiek vir die eerste maal verskyn en nie by die voëls nie. Die aapsoort hylobates sing 'n lied wat 'n ware musikale oktaaf behels. Geen ander dier of voël in die hele wêreld (behalwe die mens) doen dit nie.
Ten slotte nog een woord oor die soek van genl. Smuts na God in die natuur. Langs dié weg (skoonheidsgevoel van die mens), dink genl. Smuts, is Hy te vinde. Ek het in kort aangetoon wat die skoonheidsgevoel van die mens is, en hoe dit ontstaan het. Om in ons tyd van 'n Grenslose Wese, sonder begin en sonder einde, te dink as onderhewig aan ons gemoedstoestande, is byna g'n ernstige weerlegging waardig nie. Sal so 'n Wese ook die muishond en die slang verfoei en die nagtegaal liefhê? Sal Hy bang wees vir die donker en Hom in die dag verheug? Sal Hy duiselig word as Hy in 'n afgrond afkyk? Tensy Hy presies ons ontwikkeling ondergaan het, in presies die omgewingstoestande van ons aarde, kan Hy ons dierlike gemoedsbewys nooit deelagtig wees nie. Tensy Hy 'n boomdier was wat die donker onveilig en derhalwe haatlik en die dag veilig en derhalwe skoon gevind het; tensy Hy vrou en kinders liefgehad het; tensy Hy 'n kommunale dier geword het en so altruïsme geleer het, reg en verkeerd (net soos die bobbejane dit vandag ken en aanleer); tensy Hy sy mededingers met nael en tand beveg het; tensy Hy gevaar en veiligheid geleer ken het; tensy Hy al die ontwikkelingstadiums deurgemaak het, kan Hy onmoontlik ons dierlike gemoedstoestande deelagtig wees - gemoedstoestande wat reine skeppings van ons ontwikkeling en omgewing is. 'n Grenslose Wese, sonder begin of einde, kan net so min skoonheid of lelikheid; liefde of haat; woede of goedertierenheid; toegeneentheid of afsku; ge- | |
[pagina 320]
| |
regtigheid of ongeregtigheid voel as wat Hy swart hare en blou oë kan hê met aaphande en -voete. Ons dierlike siel kan Hy nie besit nie, net so min as ons dierlike liggaam. Ons skoonheidsgevoel kan alleen bestaan solank as die mensesiel bestaan en op sy omgewing reageer. Lig en duisternis kan vir 'n Grenslose Wese as teëstellings g'n betekenis hê nie, want lig is 'n tydelike en toevallige verskynsel in die heelal. Die voortdurende en ewige toestand van die heelal is uiterste koue en uiterste donker. |
|