geword, sodat hulle dit nie langer as hul eie seksuele sein beskou nie; hulle weet dit beteken voedsel; hulle gedrag bewys dit ten duidelikste; maar hulle onderskep die strale in alle waarskynlikheid deur 'n toestel wat oorspronklik nooit daarvoor bedoel was nie.
Hierdie voorkennis onder die insekte kom baie ooreen met die bepaalde voorkennis van sekere natuurtoestande wat by hoër diersoorte ongetwyfeld voorkom en waarby die ‘straal’-teorie veel moeiliker is om toe te pas. Gedurende dieselfde tyd dat ons die geval van die skerpioene waargeneem het, het ons 'n ander geval van voorkennis by voëls gesien wat merkwaardig genoeg is om te beskrywe.
Ek glo nie dat daar een ding in ons organiese omgewing is wat ons die meer tere, die meer sagte aspek van die natuur laat besef as voëls nie; blomme en voëls, maar meer bepaald voëls, omdat die verband tussen ons en hulle nouer is as tussen ons en die plantewêreld. Daar is dieselfde soort lewe en dieselfde psige. Die verskil is in graad, nie in wese nie. ‘My liewe gevleuelde boeties’ - het die sagmoedige sint Franciscus van Assisi hulle genoem. Daar is baie opvolgers (in hierdie opsig) van sint Franciscus gewees. Selfs in ons tyd en onder ons mense het ek hulle aangetref. Ek het tevore die geval van 'n ou vriend beskrywe wat die wilde voëls op sy plaas so mak gemaak het dat hulle elke oggend in digte dromme op sy stoep vergaar het vir die ontbyt wat hy elke dag vir sy gevleuelde boeties gereed had. Sodra hy verskyn, het die voëltjies hom eenvoudig toegepak. Op sy kop, op sy skouers, in sy baard, aan sy klere - net waar daar 'n sitplek was, was wemelende voëltjies, wat ten minste bewys gelewer het dat hulle makheid en ‘liefde’ nie alleen aan die selfsugtige drang van honger toe te skrywe was nie. Daar moes ook 'n sekere mate van ware onselfsugtige liefde mettertyd ontstaan het.
Ek het ook die geval gehoor van 'n ou Soutpansbergse Voortrekker, uit die Maré-familie, wat ook 'n vermaarde liefhebber van voëls was. Niemand is ooit toegelaat om 'n skoot op sy plaas na 'n voël te skiet nie.
Daar word van hom vertel dat by geleentheid van 'n groot droogte en die daaropvolgende hongersnood onder velddiere 'n menigte voëls toevlug geneem het in 'n groot turksvybos naby sy huis, waar die vrugte net ryp was. Onder die gevleuelde besoekers was 'n menigte kraaie wat die turksvye (anders as die kleiner voëlsoorte) gulsig met pitte en al verslind het. Die gewone gevolg van turksvye op 'n leë maag, wat by die mens so dikwels voorkom, het by die kraaie ook nie uitgebly nie. Binnekort was sy hele werf ingeneem deur lydende kraaie, wat met hangende vlerke en kroes vere hulle nood dag en nag tot die gevoellose hemel uitroep. Die noodkreet van 'n kraai moet iets verskrikliks wees om aan te hoor. In elk geval het die ou heer Maré dit hartverskeurend gevind.
Haastig is 'n bediende te perd dorp toe gestuur om 'n dosyn bottels kasterolie, en weke daarna was die ou heer op die werf te sien met 'n lang kierie in die