skop en worsteling van die slagoffer is tevergeefs. Met die naald word gevoel ... gevoel ... totdat 'n geskikte plek aangetref word en dan word dit stadig ingedruk. Die werking van die gif op die sprinkaan is blitssnel; gelyktydig met die indruk van die naald rek die sprinkaan sy bene in doodsverstywing uit. Die skerpioen sleep hom dan sy woning binne om hom op sy gemak te verslind.
Ook hierdie vieroog-monster van die insektewêreld het min of meer dieselfde draadloossein as die sprinkane. Daarom word berig van hul koms ook aan hom vooruit gesein deur die slagoffers self; en hy gewaar die sein diep onder 'n groot klip of in 'n onderaardse galery, presies soos die reuse-kriek.
Ek spreek van die invloed wat tropinsekte en tropdiere as eenhede bewaar, as die ‘tropsiel’ omdat die werking van hierdie invloed klaarblyklik van psigologiese aard is. Daar is altyd ‘doel’ in die werking van hierdie misterieuse krag en daarom moet dit onder natuurverskynsels as 'n psige gerangskik word.
Twee soorte groepsiele is in die insektewêreld waarneembaar. In die eerste en mees ontwikkelde soort word die psigologiese ‘invloed’ van 'n vaste middelpunt uitgesaai, soos by die termiete en heuningbye. Word die middelpunt vernietig, dan eindig die ‘invloed’ dadelik; die onmiddellike ontbinding van die groep as 'n onafhanklike eenheid vind plaas. Op baie maniere kan proefondervindelik vasgestel word dat hierdie invloed wat van die insektekoningin uitstraal, alle materiële voorwerpe (soos metaalplate, aarde en rots) kan penetreer, net soos die ‘invloed’ van die sprinkaantrop ongetwyfeld aarde en klip kan penetreer.
Die tweede soort groepsiel - en veel minder ontwikkel - is die ‘invloed’ wat van geen vaste middelpunt uitstraal nie, soos in die geval van sprinkane en regte mierkommando's.
Slegs dit kan met enige mate van sekerheid van hierdie tweede groepsiel verklaar word: dit is 'n ‘invloed’ wat oor die gehele swerm of trop verspreid is en ver buite die grense daarvan aan alle kante uitstraal. Die enkeling besit in die meeste geval geen individuele siel nie. Hy is psigologies onderhewig aan die groepsiel alleen, en as die werking verdwyn, dan is hy so hulpeloos dat hy sigself nie kan voed nie, hy kan geen enkele beweging maak nie sodra die uitstraling van die groepsiel gestaak word. Dit altans is die geval waar die groepsiel van 'n middelpunt uitgaan soos by die termiete. Die groepsiel sonder middelpunt (soos by die sprinkane) kan natuurlik nie eksperimenteel vernietig of verwyder word nie, sodat hierdie fenomeen by die sprinkane nooit vasgestel kan word nie.
Ek beweer dat die invloed 'n eteriese trilling is gelyksoortig aan die trillings van die draadloos-telefoon, of die onsigbare strale wat buite die grense van die sigbare spektrum val by die ontleding van lig.
Waarop - sal die leser vra - grond ek hierdie teorie? In die eerste plek is die