Die reuse van Magalakwên oortref ook die Amerikaanse ‘groot bome’ in verskeie opsigte, net soos die geval is met die Pretoriase Soutpan. (Mag ek hier terloops opmerk dat ek elkeen wat hierdie artikel mag aanspoor om die Soutpan te besoek, ten sterkste aanraai om voor hul besoek eers die brosjure van oorlede dr. Percy Wagner oor die wording van die Soutpan te lees? Dit vermenigvuldig die wonder van hierdie natuurverskynsel indien die toeskouer vooraf die kennis opgedoen het dat die ontsettende gat na alle waarskynlikheid veroorsaak is deur 'n sterbom uit die onpeilbare ruimte.)
Kom ons keer terug na die reuse-bome van die Magalakwên. Langs al ons noordwaarts-vloeiende sogenaamde ‘woestynriviere’ word reuse-eksemplare van apiesdorings, boerbone en ander boomsoorte aangetref. Ook is dergelike reuse bekend langs die riviere aan die noordelike en noordwestelike grense van die Kalahari. Waarom die bome so groot word onder die ongunstige omstandighede, is 'n onopgeloste botaniese raaisel. Dieselfde soorte word ook aangetref langs ons permanentstromende riviere, waar droogte - altans worteldroogte - 'n onbekende verskynsel is, en ofskoon hulle hier ook groot word, vind 'n mens nooit sulke Goliats nie as wat op die oewers van die woestynriviere aangetref word.
Ek dink dat die apiesdorings van die Magalakwên in Suid-Afrika ongeëwenaard is. Groepe van hierdie ‘groot bome’ word op verskeie plekke op die walle van die Magalakwên en ander noordwaarts-vloeiende riviere gevind.
Hier is ook 'n onopgeloste raaisel: waarom die reuse so geneig is om in klein groepies te groei, terwyl die eksemplare tussenin van gewone afmeting is. Die oorsaak mag natuurlik onderaards wees en dan kan dit so diep lê dat dit nooit deur die mens blootgelê sal word nie, want die wortels van hierdie reuse strek tot ongelooflike dieptes - soos die leser in staat sal wees om af te lei uit sekere later aan te hale feite.
Die grootste apiesdorings langs die Magalakwên, ongetwyfeld die grootste binne die Unie van Suid-Afrika en waarskynlik onder die grootste bome in die wêreld, groei in 'n klein groepie op die plaas van prof. dr. Bosman.
Wanneer van ‘groot bome’ gewag gemaak word, moet die leser onderskeid maak tussen verskeie soorte. Die ‘groot bome’ van Kalifornië oortref dié van Magalakwên waarskynlik in sommige afmetings, maar uit die oog moet nie verloor word nie dat die Kaliforniese bome van 'n siprestipe is, pilaarvormig, sonder uitgestrekte takke; terwyl ons ‘groot bome’ reuse-takke in (gewoonlik) drie rigtings uitsprei wat 'n enorme oppervlakte beslaan. Die laagste takke van ons apiesdorings is dikker dan die stam van die grootste eik langs die strate van Stellenbosch! In die algemeen genome, derhalwe, sou die toeskouer sonder om 'n oomblik te twyfel die prys aan die Magalakwênbome reik wanneer met dié van Kalifornië vergelyk.
Dit is vyf-en-twintig jaar gelede dat ek vir die eerste maal die ‘groot bome’