spesiaal gebraaide vlees te eet. Met hierdie doel is 'n jong kuiken uiteindelik vir die hondjie gereed gemaak - alles tevergeefs. Hy wou sy bek aan niks sit nie.
Die brakkie het die lykstasie na die ‘ou kraal’ gevolg met 'n voorkoms van sulke smartlike droefheid dat die meeste toeskouers hul trane nie kon weerhou nie. Hy het op die rand van die graf gestaan en afkyk totdat dit opgevul was, en toe het hy in die middel van die hoop grond gaan lê. Weer het hy hom verset teen al die pogings van tant Maria om hom huis toe te dra. Hy is op sy eensame wagpos gelaat. Lede van die huisgesin het dag en nag probeer om hom tot ete oor te haal, en melk en kos is by hom op die graf gelaat. Maar hy het nooit weer voedsel oor sy lippe gelaat nie.
Op die derde dag is besluit om hom met geweld van die graf weg te neem; maar by die huis het hy so te kere gegaan dat hulle hom in vryheid moes stel. Hy is onmiddellik terug na sy lêplekkie op die graf. En hier is hy ná 'n paar dae dood gevind.
Waarlik, hier het ons 'n geval van liefde en trou ‘tot die dood toe’ - en met geen skyn van selfsug.
Hier is nog 'n geval van trou in 'n hond, van 'n meer aktiewe aard, waarvan ek getuie was. Terwyl ek spesiale vrederegter in Waterberg was, had ek onder my beheer, onder andere, 'n sekere blanke konstabel met die naam van Van Lennep. Hy het 'n swart apporteur (retriever) gehad wat deur ons wyk bekend was om sy buitengewone intelligensie. Van Lennep had die hond 'n menigte toertjies geleer, waarvan die uitvoering 'n uitsonderlike graad van rede in 'n dier vertoon het. Ook was hy uitermate getrou aan sy baas. By een geleentheid het Van Lennep te perd op besoek na vriende van hom in ons wyk gegaan. Op weg het hy by my aangedoen. Hy was in uniform, maar ongewapen, en had sy hond by hom. Op sy terugreis kom hy op 'n bakleiery af waarin drie swartes 'n vierde bewusteloos geslaan het en besig was om hom met kieries af te maak. Twee van hulle had assegaaie. Van Lennep het dadelik van sy perd gespring en tussenbei gekom om die gedreigde manslag te verhinder. Die drie aanranders was ou misdadigers wat dikwels reeds weens gewelddadige misdade gestraf is. Hulle was net dronk genoeg om waansinnig woedend te word. Van Lennep het niks in sy hande gehad nie, en met sy eerste toetrede is hy deur een van die swartes met 'n knopkierie platgeslaan. Hy was so bedwelmd van die slag dat hy nie weer op die been kon kom nie, en terwyl hy daar hulpeloos lê, spring een van die ander op hom en trag om sy bors met die assegaai te deurboor. Van Lennep het die assegaai met een hand gepak, maar hy was so swak dat dit slegs 'n saak van sekondes sou wees voordat die geweldenaar sy voorneme tot uitvoer bring. Boonop kom die ander twee hul maat te hulp toe hulle sien dat hy moeite had om die polisieman dadelik af te maak.
Net voordat hy van sy perd gespring het, het Van Lennep opgemerk dat die hond byna 'n halfmyl van hom af was, aan die jag in die veld. Die dier moes eg-